Die een wat die Britse kroon dra, so staan dit konstitusioneel vas, is “die beskermheer van die geloof”. Met die kroning van Charles en Camilla is dit die rol waartoe hulle hulle tegnies gesproke moet verbind.

Die laaste lidwoord is belangrik: Die monarg is nie beskermheer van “geloof” nie, maar van “die geloof”. Dié geloof is die Christelike geloof. Sonder daardie lidwoord val die boom uit die bestaan van die Anglikaanse Kerk as ’n selfstandige denominasie naas en teenoor die Roomse Kerk. Henry VIII het hom mos bloedig vir die pous vererg oor dié nie sy egskeidings wou goedpraat nie, en hy die tannies noodgedwonge ’n kortkoppie kleiner moes maak om van hulle ontslae te raak. Hy sou self die kerk in stand hou, besluit Harry toe (die Britse bynaam vir “Henry”), en basta met die pous.

Nie dat hy of die pous dit kon regkry nie, maar die beginsel is darem edel. Hy het besluit ’n Aartsbiskop van Kantelberg sal die pouslike rol in die Engelse Kerk vertolk, solank dié knaap nie meer in sy slaai kom krap nie. Daarom woon Kantelberg nie in Kantelberg nie, maar in Lambeth, net oorkant die Teems, waar konings ’n ogie oor hom en die Kerk kon hou. Gelowiges is mos maar lastige mense as dit kom by jou eie sin te wil hê, iets wat magtige mense hulle graag toeëien. En nou nog is Anglikane nie seker of hulle meer Rooms of dalk half-Protestants is nie.

Met die kroondraer die kerk se baas, oftewel “defender”, was ons Voortrekkers nooit gediend nie. Maar dat die monarg destyds Skotse Presbiteriane hierheen gestuur het pleks van Anglikaanse priesters, getuig darem van ’n effense aanvoeling vir kulturele verskille, die nouliks verbloemde pogings tot verengelsing van die kerk vir eers tersyde.

Charles is glo ook vreeslik kultureel sensitief. Hy is beslis koning van ’n baie kosmopolitaanse Brittanje, én van ’n veelvolkige gemenebes van nasies, met ’n veelgodedom op sleeptou. En met dié voel die nuwe koning hy moet die verouderde monargie by sy kroning ’n bietjie op datum bring.

Met sy ma was dié gode en godsdienste nie ’n probleem nie. Sy het lank genoeg die kroon op die kop gehad dat almal, heiden, Jood en Mohammedaan, al besef het sy haat hulle nie, sy dien almal. Dit was geen geheim nie dat Elizabeth II ’n gelowige Christen was. Nie net het sy die eredienste van die Anglikaanse Kerk waar sy lidmaat was getrou bygewoon nie, sy het die kroon op haar kop as roeping van die Drie-Enige God beskou, haar lewe as diensplig aan haar Koning, Jesus, die Christus van God. Dit het nie ’n foutlose heerskappy of ’n gesonde gesinslewe gewaarborg nie, maar die tannie was nederig genoeg om dit ook te erken, hoewel nie alle Engelse sondes al bely is nie.

Charles moet nou naam maak. Dit is meer byderwets om insluitend van ander gelowe ook te wees, het hy besluit. Hy wil die “die” uit “beskermer van die geloof” laat uithaal uit die voorgeskrewe Anglikaanse liturgie vir die kroningserediens. En daarmee saam stel hy voor “defender” moet liefs “protector” word. Jy verdedig (“defend”) iets wat joune is, jy beskerm (“protect”) iemand anders se goed waaraan jy persoonlik nie juis kleef nie. Daarmee hou hy plotseling op om die beskermheer van beide die Anglikaanse Kerk en die Christelike geloof te wees. Beskerming van die geloof en van die kerk wat danksy juis dié geloof bestaan, is ten nouste verbind.

Hierin is die man beslis meer hedendaags. Hy sluit hom aan by die huidige kulturele verval van oënskynlike insluiting en gewaande diversiteit wat in praktyk uitloop op gruwelike onverdraagsaamheid jeens mense en veragting en verloëning van die geloof in God.

Kom ons onthou dat die Christelike geloof die oorsprong en grootliks ook die inhoud van die Westerse beskawing se waardes is, juis dié wat Charles so passievol probeer verdedig. Die praktyk van ontvanklikheid jeens die vreemde en die akkommodering van andersheid is Christelike waarhede. Danksy ons geloof, glo mense wat onder ons woon, vreesloos en vrymoedig ook anders.

Talle sal die skouspel van die kroning aanskou. Die gemis aan ’n lidwoord en die fyn semantiek in die woordspel sal ongesiens verbygaan, en die idee daaragter seker ook.

Intussen het Sky News berig dat die koning se getorring aan die Anglikaanse liturgie en bewoording van die formulier vir sy kroning, uit huis uit verwerp is. Dit bestaan sedert 1066, is besluit, en so sal dit ook hierdie keer bly. Al verandering wat wel daaraan aangebring sal word, is dat die lys lande van die gemenebes wat met Elizabeth II gelys is, nou bloot met die versamelnaam “Commonwealth” vervang sal word.

Byderwets is nie altyd beter nie. Moenie dat die gevierde swier van ’n Britse koning se kroning jou so betower dat jy nie oplet nie na die skuiwe wat ons samelewing maak.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap