Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. (Lukas 2: 9)
Lees Lukas 2: 1-20
Duisternis het oor ons hele aarde gekom. Ons kry swaar. Sosiale afstand en verliese, maskers en sanitasie, niks-is-dieselfde en alles word virtueel. Die nuwe normaal? Hoe raak ons gewoond hieraan?
Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.
Duisternis het oor ons pragtige land gekom. Ons kry swaar. Haat en vyandskap, trauma en geweld, mishandeling en korrupsie. Wie se lewens maak dan saak? Ons sal lewe, ons sal sterwe vir jou?
Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.
Duisternis is ook dikwels die onwelkome teenwoordigheid in ons eie lewens. Ons kry swaar. Siekte en die stap deur die dal van die doodskaduwee, bekommernis en sukkelende verhoudings, uitsigloosheid en ’n swart hond. Hoeveel nog? Wanneer gaan alles dan ophou?
Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.
Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.
Ons vier wat reg is in hierdie lewe. God se Lig in sy Seun, Jesus Christus. Sy Lig het eenkeer kom skyn en die duisternis het verdwyn. Sy Lig skyn elke keer. Geen duisternis kan die Lig uitdoof nie.
Ek sien ’n nuwe hemel kom,
’n aarde nuut en vry.
Die see en al wat skei, verdwyn.
God self kom by ons bly.
Die nuwe stad, Jerusalem,
daal uit die hemel neer;
skoon soos ’n bruid in heerlikheid –
geliefde van die Heer.
Jerusalem is my huis. Red my asseblief. U was nog altyd by my. Moenie my hier los nie, red my, gaan saam met my. Wees my Lig.
Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe (Op 21: 23, 24).
“Kyk, Ek maak alles nuut”, sê God.
“Laat hom wat dors het, kom.
En hy sal vind hy is my kind;
Ek is ’n Gód vir hom!”
(Gesang 602: 1, 2 en 4)
Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.
