Waaroor sal ek Sondag preek? Waaraan sal ons in hierdie week of maand aandag gee in ons eredienste?
Ek het al dikwels oor ’n preektema kers opgesteek by prof Natie van Wyk se weeklikse inligtingstukkies oor die liturgiese jaar soos dit ’n paar jaar gelede in ons aanlyn kerklike publikasies gedeel is. In die Hervormde Kerk is in die laaste jare meer gemaak van die liturgiese seisoene, met meegaande kleure van kansellappe en predikante se stolas wat pas by die feesdag of feestyd wat gevier word.
Oor die liturgiese kalender, bepaal die Kerkorde van die NHKA soos volg:
ORDINANSIE 5
5.1 PREDIKING – 5.1.1 Die prediking word ingerig binne die riglyne van die liturgiese kalender.
5.3 LITURGIE – 5.3.1 Eredienste hou rekening met die liturgiese kalender, naamlik, naas elke Sondag, ook die vier Adventsondae, Kersfees, die Epifanietyd, die Lydenstyd, die Heilige Week, die Paastyd, Hemelvaart, Pinkster, Drie-eenheidsondag, die drie Sondae van die eskatologie, Hervormingsondag, herdenkingsgeleenthede van die martelare, dankdag en biddag vir die vrug op die mens se arbeid, en Geloftedag.
Die Diensboek van die NHKA (2008) wou graag sien dat liturgie meer kreatief ingerig word, in aansluiting met die toe nog nuwe Liedboek van die Kerk (2001). Ons orde en handelinge in eredienste moes volgens die Diensboek nie net ons eie vernuwing wees nie, maar aansluit by die oorgelewerde tradisie in kerke met ’n ekumenies-liturgiese bewussyn. Wat ons kerkjaar betref, staan ons volgens die Diensboek binne ons eie reformatoriese tradisie, sowel as liturgiese bewegings wêreldwyd.
Die NHKA se Kerkorde en Diensboek is immers nie die oorsprong van die kerklike jaarindeling nie; dit is algemene ekumeniese deelgoed, en het ook oorspronge in die vier seisoene wat raak aan die natuur en voedselproduksie.
Dus uit die wyer ekumeniese tradisie: In die Rooms-Katolieke (soos ook Anglikaanse en Lutherse) Kerk, is die liturgiese kalender baie belangrik, en word dit dikwels gebruik. Die eerste voorbeeld van ’n Katolieke liturgiese kalender is ’n eenvoudige kalender met net die vier kleure blou, geel, groen en rooi wat verskillende seisoene en belangrike herdenkingsdae aandui. Ek hou van die tweede Katolieke kalender wat nie die kerkjaar aan die bokant van die sirkel begin nie, maar aan die linkerkant – ons lees mos van links na regs!
’n Mens sien deurgaans in uitbeeldings van die kerkjaar simboliese illustrasies en bykomende inligting, en ook dat interpretasie dikwels deel is van liturgiese kalenders. By die eerste kalender word die tyd tussen Pinkster en Advent genoem The Season after Pentecost, en by die tweede word dit genoem Ordinary Time.
Opvallend uit hierdie twee Katolieke uitbeeldings van die kerkjaar is ook die feit dat 1 November, All Saints Day, op die eerste kalender in wit aangedui is, en dan dat die tweede kalender die jaar in twee helftes deel: The Story of Jesus, en The Story of the People of God.
Die Christian Year van die United Methodist Church lyk maar net soos die Katolieke kerklike jaar, met groot stukke groen, dan pers en goud, en ’n bietjie rooi hier en daar. Die tyd tussen Pinkster en Advent word genoem The Time after Pentecost:
Hierdie kerkjaar uit die Lutherse kerk op Duitse bodem is eenvoudig, sonder die aanduiding van maande, met die Erntedank (Dankdag vir die Oes) en die Ewigheidsondag wat die kerkjaar afsluit wat my opval. Dan vind ons ’n Busstag (Boetedag?) net voor die einde van die kerkjaar. By hierdie kalender word die jaar ingedeel in drie “kringe”: Die Kerskring (Weihnachtskreis), Paaskring (Osterkreis) en tussen Pinkster en Advent die Triniteitskring (Trinitatiskreis):
’n Uitbeelding van die liturgiese jaar soos wat dit in ons eie Hervormde Kerk gevind word, is ’n bietjie besiger, met ’n effens anderse kleurindeling, en met ’n paar herdenkingsdae soos Drie-eenheidsondag, Bartolomeusnag, Hervormingsondag en Ewigheidsondag wat ook aangedui is:
Maar hierdie Hervormde liturgiese kalender is nog nie naby so besig nie soos die volgende kalender uit die Lutherse kerk in Amerika:
In die buitenste kring van hierdie kalender vind ons ’n paar liturgiese feesdae soos Epifanie, Goeie Vrydag en Kersdag, maar hoofsaaklik verskyn daar die name van baie Bybelfigure, kerkvaders, sendelinge, Kerkhervormers en ander wat op sekere dae herdenk word.
Opvallend is Ash Wednesday (begin van Lent), The Annunciation of Our Lord op 25 Maart, Reformation Day op 31 Oktober, en All Saints Day op 1 November.
Dan in die veelkleurige tweede kring van buite herken ek ’n paar van die name van die Sondae van die kerkjaar waarvan ek by prof Natie gelees het:
Op twaalfuur bo-aan die kalender begin die kerkjaar met die eerste, tweede, derde en vierde Sondae in (of van) Advent. As 1 Desember van ’n spesifieke jaar nie op ’n Vrydag, Saterdag of Sondag val nie, is die eerste Sondag van Advent reeds die laaste Sondag van November. As 1 Desember wel op ’n Vrydag, Saterdag of Sondag val, is al vier Adventsondae in Desember.
Dan kom Kersdag op 25 Desember, in die middel van die winter in die Noordelike Halfrond, en in die middel van die snikhete somer in die Suidelike.
Nou volg die eerste en tweede Sondae na Kersfees, en dan vier die kerk tradisioneel 12 dae na Kersfees die Epifaniefees op 6 Januarie. (Die Oosterse ortodokse kerke vier Kersfees op 6 Januarie, en Epifanie na 12 dae op 19 Januarie.)
Die Epifaniefees is een van die oudste feeste op die liturgiese kalender. Sedert die vyfde eeu word in die eerste drie weke van Epifanie gekonsentreer op die besoek van die drie wyse manne (Matt 2: 1-12), die doop van Jesus deur Johannes die Doper (Matt 3: 13-17), en die verandering van water in wyn te Kana (Joh 2: 1-12).
Die Sondae voor Lydenstyd begin, het tradisioneel Latynse name wat die dae na die Lydenstyd toe aftel: Septuagesima (= 70 dae), Sexagesima (= 60 dae), en dan Quinquagesima (= 50 dae) of ook genoem Estomihi.
Nou volg Aswoensdag, die begin van 40 dae vastyd na Paasfees toe. In die wyer wêreld word die vastyd voorafgegaan deur Vet Dinsdag (Mardi Gras) waartydens daar vir oulaas karnaval gehou, ryk kos en vleis geëet en feesgevier word. Die karnavalseisoen begin reeds met Epifanie, en is op sy eie ’n interessante stukkie studiemateriaal!
Dan kry ons die Sondae voor Paasfees: Die eerste Sondag voor Paasfees word genoem Invokavit, die tweede Sondag Reminiscere, die derde Sondag Okuli, die vierde Sondag Laetare, die vyfde Sondag Judika, en die sesde Sondag voor Paasfees is Palmsondag, wat die Heilige Week inlei.
Maar voordat ons by die Heilige Week kom, let op iets interessant op hierdie Lutherse kalender: 25 Maart word genoem The Annunciation of our Lord, volgens tradisie die dag toe die engel Gabriël aan Maria verskyn het om aan te kondig dat sy van die Heilige Gees sal swanger word. Die datum val op die tyd van die son-ewening tussen winter en lente in die Noorde, en presies nege maande voor Kersfees! Dit is opmerklik, hoewel nie gevier in ons eie tradisie nie.
Terug by die momentum van die Heilige Week wat opbou na Paasfees: Wit/Groen Donderdag (of Maundy Thursday) met sy donker Nagmaal, Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag.
Na Paasfees kyk die kerk volgens die tradisionele kalender na verskillende aspekte van Jesus se opstanding uit die dood.
Die tweede Sondag van Pase word genoem Quasimodogeniti, die derde Sondag van Pase Misericordia Domini, die vierde Sondag Jubilate, die vyfde Sondag Kantate, die sesde Sondag Rogate, wat gevolg word deur Hemelvaartdag op die Donderdag daarna, presies 40 dae na die Paasgebeure. Die Sondag na Hemelvaart word genoem Exaudi, wat gevolg word deur Pinkstersondag 50 dae na die Paasgebeure.
Die Latynse name van die Sondae voor en na Paasfees word gewoonlik afgelei van Bybeltekste uit die Psalms en ander gedeeltes, waaraan op hierdie Sondae aandag gegee kan word.
Na die herdenkingsdae van die Seun en die Heilige Gees, word op die Sondag na Pinkster weer aandag gegee aan die hele Drie-eenheid met Drie-eenheidsondag of Sondag Trinitatis.
Die Sondae na Pinkster, of dan Drie-eenheidsondag, word beskryf word as die 22 “Sondae na Trinitatis”, wat onderbreek word met Bartolomeusnag 24 Augustus, ’n biddag of dankdag vir ’n goeie oes in Oktober, en Hervormingsdag 31 Oktober.
’n Amper universele herdenking van die gestorwenes vind ons in die All Saints Day, waarvan die Halloween-tradisie ook kom, tussen 31 Oktober en 2 November in die Katolieke, Anglikaanse en ander tradisies. In ons tradisie vind dit ’n maand later gestalte in Ewigheidsondag, waarmee die kerklike jaar afgesluit word.
Die drie laaste Sondae van die kerklike jaar word genoem die drie Sondae van die Eskatologie, omdat op hierdie Sondae aan die eindtyd aandag gegee kan word.
En dan begin ons weer op die eerste Adventsondag met ’n splinternuwe kerkjaar!
Om die besige Lutherse liturgiese kalender af te handel, kan ons in die binneste kringe die volgende raaksien: Die Time of Christmas en Time of Easter word aangedui, en die tyd tussen die twee word genoem die Time of the Church. En dan, in die hart van die kalender, word sowaar die vier seisoene aangedui!
Kom hierdie liturgiese riglyne uit die Bybel? My antwoord is ronduit nee. Dit word nie in die Bybel voorgeskryf of omskryf nie, maar kom bloot van verskeie Christelike en voor-Christelike tradisies. Wat beteken, ons moet nie onkrities daarmee omgaan of dit slaafs navolg nie!
Die enigste voorskrif wat verband hou met hierdie kalender, is die opdrag in Eksodus 12: 18 (AFR2020) oor die instelling van die pasga: In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brood eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Maar dit is ’n gesprek vir ’n volgende keer!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)