In Jerusalem is ’n opspraakwekkende vonds gemaak, waarvan die ondersoek, met die verbetering van tegnologie, kort-kort in nuwe onopgeloste vrae vasval.
’n Stootskraper het in die noordelike voorstad van Givhat haMivtar per toeval ’n graf uit die eerste eeu voor Christus oopgestoot, terwyl hulle in 1970 besig was om die grond vir die bou van ’n huis gereed te kry. By nadere ondersoek is in die graf ’n pragtig versierde ossuarium (grafkelder) gevind, met ’n skelet van ’n persoon daarin. Die kop was afgekap, en merke aan die hande wys dat die persoon waarskynlik gekruisig is.
Die Abba-graf
Bokant die nissie waar die ossuarium gevind is, is ’n bronsplaat aangebring met ’n Aramese boodskap daarop, maar waarvan die lettertipe van die skrif in Oudhebreeus geskryf is. Vir die tyd waarin dié graf gebruik is, is die lettertipe nogal vreemd. Die bedoeling daarvan was seker om die inhoud van die kissie met die outyd te verbind.
Die inhoud van hierdie inskripsie, sowel as die inhoud van die ossuarium, het navorsers behoorlik laat regop sit. Die inskripsie wat bo-aan die nissie in die sandsteengrot gevind is, lees soos volg:
Ek is Abba, die seun van priester Eleasar, seun van die ouere Aäron. Ek, Abba, onderdrukte en vervolgde, wat in Jerusalem gebore is en na Babilon weggevoer is, het Mattathias, die seun van Juda, teruggebring en hom in die grot begrawe wat ek per ooreenkoms gekoop het.
Die naam Mattathias het onmiddellik historici se aandag getrek, asook die feit dat die beendere in ’n buitengewoon mooi versierde ossuarium gevind is. Met die traumatiese tekens aan die skelet, het historici die persoon aan wie die skelet behoort met Flavius Josefus se verwysing na Mattathias, die laaste koning van die Hasmoniese dinastie, in verband gebring. Hy was Antigonus II Mattathias, wat koning Herodes die Grote in 37 vC na Markus Antonius gestuur het om in Antiochië tereggestel te word.
Antigonus II Mattathias
Antigonus II Mattathias was eintlik ’n lakei vir die Partiane wat hom op die troon geplaas het. Hy het van 40 tot 37 vC oor Judea as priesterkoning regeer. Antigonus was sy Griekse naam, en Mattathias sy Aramese naam.
Volgens historiese bronne het hy Judea van die Romeinse oorheersing probeer terugwen. Met hulp van die Partiane was hy aanvanklik suksesvol en het hy Herodes die Grote, die Romeine se keuse as koning, se magte teruggedryf. Hy is egter in Jerusalem gevange geneem en vir Markus Antonius gestuur, wat hom eers laat kruisig en daarna onthoof het.
Volgens die eerste ondersoek van die stukkies beendere wat in die kissie gevind is, het die beendere aan ’n persoon van ongeveer 25 jaar behoort. Dit stem ongeveer ooreen met die ouderdom waarop Antigonus II Mattathias tereggestel is.
Saam met die buitengewoon versierde ossuarium, asook drie spykers wat in die kissie gevind is wat blyk deur die hand van die persoon gedryf is, en die kop wat by die tweede werwel afgekap is, was historici daarvan oortuig dat dié beendere aan die laaste Hasmoniese koning behoort het.
Verder is die kissie onder die vloer van die grot gekry, wat die indruk nóg verder versterk het dat die kissie in die geheim daar begrawe is sodat dit nie deur die Romeine, of ander vyande van die Hasmoniese Ryk, gevind kon word nie.
Beendere van ’n bejaarde vrou
In 1982 het ’n nuwe wending gekom met verbeterde tegnologie. Nicu Haas het kort ná die eerste bevindinge op ’n ysbedekte teerpad in Jerusalem geval en sy kop sodanig gestamp dat hy vir 12 jaar in ’n koma was voordat hy oorlede is. Ná sy dood is die stukkies beendere weer ondersoek en het Patricia Smith, ’n antropoloog aan die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem, bevind dat dié stukkies beendere nie dié van ’n man was nie, maar dié van ’n korterige bejaarde vrou.
Hoewel daar geleerdes is wat skepties is oor Smith se bevinding oor die geslag van die beendere, omdat dit redelik ongewoon vir die Romeine was om vroue te kruisig, blyk Smith se waarneming redelik oortuigend te wees. Volgens patologiese ontleding blyk dit dat die kakebeen wat in die kissie gevind is, onteenseglik aan ’n bejaarde vrou moes behoort het. Die merke aan die kakebeen stem ooreen met die soort beserings wat opgedoen kan word tydens ’n onthoofding.
Die vraag waarmee navorsers nou gelaat word, is wié die korterige vrou sou wees wat gekruisig en daarna onthoof is, en wat die rede sou wees dat die Romeine so drasties sou optree om haar so wreed tereg te stel.
Die identiteit van Abba
In 2013 het die ondersoek na die Abba-graf ’n nuwe wending geneem. Die eienaar van die grond wat ’n huis daar wou bou toe die graf ontdek is, ’n Joodse familie genaamd Delarosa, het dieper in die grafkompleks gedelf en onder die vloer nóg ’n kamer ontdek. Daarin is nóg ’n ossuarium ontdek, met die beendere van ’n volwasse man en ’n jong kind daarin. Hierdie ossuarium is ook buitengewoon mooi versier.
Die eerste ossuarium en bronsplaat word tans in die Israelse Museum bewaar, maar die tweede kissie is steeds in die grot. Die vermoede is dat die skelet van die volwasse man in die kissie dié van Abba is, en dié van die klein skelet sy kind.
Sommige navorsers spekuleer dat Abba moontlik ’n baie lojale Joodse priester was wat Mattathias se beendere aan die buitewyke van Jerusalem gaan begrawe het. Dié bespiegeling vind nie groot byval onder kundiges nie, omdat die inskripsie nié pertinent na Mattathias as koning verwys nie, en sy pa as Juda identifiseer.
Antigonus II se biologiese pa se naam was Aristobulus. Die moontlikheid kan seker nie heeltemal uitgesluit word dat Juda die Hebreeuse naam vir Aristobulus kon wees nie, en dat Abba eerder voorkeur aan die Hebreeuse name gegee het. Hierdie argument is egter nie oortuigend nie, omdat daar geen getuienis bestaan dat die Griekse naam Aristobulus in Hebreeus ook as Juda bekend was nie.
Prof Yoel Elitzur, ’n gerekende kundige in Semitiese tale aan die Hebreeuse Universiteit, sê dat die uitdrukking Abba in Hebreeus ’n redelik bekende uitdrukking is waarmee na familiehoofde verwys word. Josefus was soms lief daarvoor om dié uitdrukking in sy geskrifte te gebruik om na die hoofde van families te verwys.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)