Kerk-wees en barmhartig-wees loop hand aan hand. Die geloof in Christus word prakties uitgeleef in gelowiges se roeping om barmhartig te wees.

Die oproep om na die weerloses in die sosiale gemeenskap om te sien, word reeds in die Ou Testament gemotiveer. Verskeie tekste in die Ou Testament doen ’n beroep dat na die armes, weduwees, wese en vreemdelinge omgesien moet word. Dié beskermingsplig word in die Nuwe Testament uitgebrei in sowel Jesus as Paulus se woorde.

Tydens die afgelope Algemene Diakensvergadering en gepaardgaande simposium is met erns besin oor die rol en betrokkenheid van die NHKA by barmhartigheid.

Beskermingsdienste

Die toename in gebroke huishoudings en familieverbande raak die Suid-Afrikaanse samelewing intens. Op ’n manier leef mense met hierdie werklikheid saam sonder om voldoende konstruktiewe aandag aan stappe te gee om die groeiende krisis teë te werk.

Tydens die simposium is verskeie hartverskeurende verhale aangehoor. Van die vertellings sluit in hoe kinders in motorhuise toegesluit is en hoe kinders in sommige huishoudings beurte moes maak om te eet omdat die armoede in daardie huise te groot is.

Die kerk het ook ’n verantwoordelikheid om kinders wat aan mishandeling blootgestel word, te beskerm. Die sosiale statistieke skets die prentjie duidelik.

Volgens inligting van die staat bly 8,1 miljoen kinders by net een ouer, wat meestal die moeder is. ’n Verdere 1,63 miljoen kinders tussen 12 en 17 jaar oud leef sonder albei ouers. Verder is slegs in Gauteng 4 417 kinders gedurende die verslagjaar van 2017/2018 in pleegsorg geplaas. 80 522 in Gauteng is weeskinders.

Wat gesinsgeweld betref, word soveel as 294 120 vroue geraak. Kerke kan nie sulke kwessies miskyk wanneer meer as ’n kwartmiljoen vroue deur gesinsgeweld geraak word nie.

Tydens die ADV was almal dit eens dat barmhartigheidswerk in die NHKA by die individu begin en die Kerk daarmee saamneem. Artikel 110 van die Kinderwet 38/2005 verplig enige persoon wat geldige gronde het om te glo dat ’n kind sorgbehoewend is om die saak in die beste belang van die kind aan te meld (Art 7 van die Kinderwet 38/2005).

’n Ander kwessie wat groot kommer wek, is die toenemende gevalle van kinders wat slagoffers van misdaad word. In dié verband is vanuit polisiegeledere ’n ernstige beroep op die Kerk en haar lidmate gedoen om jaloers te waak oor die veiligheid van kinders.

Baie probleme duik op via kinders se gebruik van die sosiale media. Daar bestaan talle voorbeelde van kinders wat onskuldig in die web van misdadigers ingetrek word. Kinders het ’n nuuskierige en onskuldige aard om mense te ontmoet. Aanvanklik lyk daardie gesprekke onskuldig. Wanneer misdadigers en pedofiele egter eers ’n houvas op die kinders gekry het, lei dit tot slegte gevolge vir die kinders. Kinders is dikwels te bang om te praat oor die net waarin hulle beland het. Die advies is dat ouers moet weet met wie en waaroor kinders met hul kontakte gesels.

Dit is nie algemeen bekend nie dat die wet bepaal dat kinders 13 jaar en ouer moet wees om wettig oor ’n WhatsApp- of Instagram-rekening te beskik. Verder moet ’n kind ook eers 16 jaar en ouer wees om ’n Facebookblad te mag besit.

Waak teen toepassings wat aangebied word om afgelaai te word. As daar enige vermoede bestaan dat iemand se profiel gekaap (ge-hack) is, kan dit met Google vasgestel word op die webblad haveibeenpwnd.

Dit is ouers se verantwoordelikheid om te weet wat hul kinders op hul fone doen. Die polisiewoordvoerder het ook gewaarsku dat mense moet onthou dat wat op die internet beland, nooit weer verwyder kan word nie. Derhalwe moet ouers hul kinders waarsku om géén onwaardige foto’s hoegenaamd vir enigiemand te stuur nie. As iemand (insluitend kinders) eers sulke goed gestuur het, raak hy/sy ’n slagoffer van afpersing, pedofiele en ander misdadigers.

Die pyn van siekte

’n Ander saak waaraan aandag gegee is, is die kwessie van lewensveranderende siektes. Aan die een kant is daar die invloed van kritieke kwale, soos kanker en ander epidemiese siektes. Min mense verstaan dalk die sosiale en sielkundige impak wat sulke nuus meebring. Nie net vir die pasiënt nie, maar ook vir die hele huis- en familiestruktuur.

Depressie is ’n ander voorbeeld van krisissorg. Mense verstaan nie altyd die geweldige invloed van depressie nie en is derhalwe geneig om ongeduldig te raak met sulke gevalle of die pasiënt te vermy.

Sodanige stigmatisering lei onvermydelik tot ander probleme. Hoe verduidelik iemand aan ander dat hy nie die krag het om op te staan wanneer hy skielik depressief is nie? Mense verstaan dit nie.

Verslawing is ’n ander geval. Onder verslawing word nie slegs chemies-afhanklike betrokkenheid verstaan nie; dit sluit ook werk-, seks-, selfoon-, rekenaar(speletjies)- of enige afhanklikheid in wat verslawend raak. Verslawing is ’n siekte wat gewoontevormend raak en waarvan slagoffers hulle moeilik kan losmaak.

Bejaardes

Die meeste gemeentes is besig om ouerwordende lidmate te bedien. Die meeste mense in kerke is dikwels bejaardes. Op die oomblik is die bejaarde bevolking ook besig om die vinnigste groei in die land te toon. Die verwagting is dat die getal bejaardes binne die volgende 35 jaar selfs kan verdubbel. Tans staan die syfer op 2,4 miljoen. Teen die huidige tendens is die verwagting dat dit in 2050 sal aangroei tot 40 miljoen.

Nie almal maak voldoende voorsiening vir hul oudag nie. Pensioene kompenseer ook nie voldoende sodat bejaardes vir hulself voorsiening kan maak vir ’n kommervrye en sorgelose oudag nie. Die gevolg is dat armoede, eensaamheid en mishandeling toenemend aan die orde van die dag gaan raak. Dié toedrag van sake lei onvermydelik tot ’n toename van depressie.

Uit professionele verslae blyk dit dat 75% van die gevalle van mishandeling deur die kinders van die bejaardes gepleeg word. In baie gevalle lê die kinders ook beslag op die ouers se geld.

Die Kerk staan voor ’n groot uitdaging om ondersteuning aan bejaardes te gee. Die versorging van bejaardes by die NHKA se tehuise beloop ongeveer R16 000 per persoon per maand. Iemand wat afhanklik is van ’n SASSA-pensioen ontvang ongeveer R1 700 per maand.

Die verskil moet dus van êrens verhaal word om waardigheid en versorging aan bejaardes te gee. Die bydraes wat deur gemeentes bewillig kan word, moet daardie verskil kan opmaak. Gemeentes word dus ernstig versoek om bewusmakingsprojekte en insamelingsveldtogte vir die waardige versorging van ons bejaardes te ondersteun.

Die één instansie wat ’n groot verskil aan die lewe en lot van bejaardes kan maak, is die kerk en haar lidmate. Stel belang in die lewe van bejaardes, besoek hulle en probeer voorkom dat hulle uitgesluit voel.

Die realiteit tans is dat 68% van alle gemeentes op die oomblik géén bydraes maak as barmhartigheidsoffer nie, terwyl slegs 32% gemeentes van die Kerk se gemeentes bydraes maak. Die moontlikheid om die Kerk se ondersteuningstrukture te steun, is nie buite perke vir gemeentes nie. Dit vra egter dat gemeentes sensitief vir die behoefte van elke instelling in die Kerk sal wees. Verder verg dit net ’n bietjie motivering om die saak van die kerk te verduidelik en ’n bietjie aanmoediging om mense te motiveer om ’n bedraggie te bewillig.

Kom ons vat hande en steun die NHKA in al haar aktiwiteite.

 

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap