Op 14 Augustus 2019 het die jaarlikse simposium van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) by Gemeente Philadelphia plaasgevind. Vanjaar was die teologie van Karl Barth in fokus.
Die THT-simposiums is ’n voortsetting van die Reformatoriese ideaal dat teologie ad fontes (terug na die bronne) beoefen moet word. Net soos dit in die teologiese opleiding van die NHKA nog altyd kritiek belangrik was dat predikante ten minste Grieks en Hebreeus, die grondtale van die Bybel, tot op tweedejaarsvlak moes bemeester, is die versugting ook dat die oorspronklike tekste van Reformatoriese teoloë wat groot invloed in die denke van die NHKA uitgeoefen het, gelees moet word. Omdat die meeste van hierdie bronwerke in Latyn, Duits en Nederlands geskryf is, word dit ongelukkig gewoon geïgnoreer.
Behalwe vir die feit dat hierdie tekste nie meer gelees word nie, is die volgende gevaar dat sekondêre literatuur oor die betrokke teoloë met groot entoesiasme verslind is en boonop kritiekloos en konteksloos aangehaal is. Gevolglik is daar baie gelees oor wat ander oor invloedryke Reformatoriese teoloë gesê het, maar bloedweinig van wat hulle self geskryf het. Dit het die jammerlike uitwerking gehad dat strooipoppe van sekere figure gemaak is en dat daar lafhartig en onbillik met hulle en oor hul werk gehandel is. Daar was nie die moed van die oortuiging om met die bronteks van die betrokke teoloog self in gesprek te tree nie. Dit het veral duidelik geblyk vanuit die eerste THT-simposium wat in 2014 oor Rudolf Bultmann aangebied is. Felle kritiek het vanuit uiteenlopende oorde opgeklink toe hierdie simposium georganiseer is.
Dit is juis hierdie wanpersepsies en teologiese skeeftrekkinge en verarming wat die THT-simposiums sinvol die hoof probeer bied. In 2015 het Gerhard Ebeling aandag gekry, in 2016 was Jurgen Moltmann aan die beurt, en in 2017 tydens die 500-jarige herdenking van die Kerkhervorming was die fokus op Martin Luther. Die swak bywoning van dié betrokke dag se viering van die Kerkhervorming deur ’n kerk wat in naam en in wese heelhartig met die Kerkhervorming behoort te identifiseer, sal vir ewig wondweefsel in my geheue wees.
Karl Barth (1886-1968) was ’n Switserse Reformatoriese teoloog wat 100 jaar gelede sterk op die voorgrond getree het met die publikasie van sy kommentaar op Paulus se Brief aan die Romeine. Dit is veral vir sy monumentale 4-volume Kirchliche Dogmatik (gepubliseer in 12 dele) waarvoor hy onder teoloë bekend is. Sy invloed het egter veel wyer gestrek as akademiese en kerklike kringe, soos weerspieël deur die voorblad van Time-tydskrif se uitgawe van 20 April 1962.
Die gedagte was dat al die deelnemers aan vanjaar se simposium Barth self aan die woord sou laat kom deur verskillende aspekte van sy teologie te belig. Barth self moes gelees word om ’n greep op sy denke en invloed in die teologie te verkry. Vir my persoonlik was dit ’n verfrissende en uiters leersame ervaring. Die jonger teoloë van ons Kerk spreek dikwels die teleurstelling uit dat die kurrikulum waaraan hulle tydens hul universiteitstudies blootgestel is, nie genoegsaam voorsiening gemaak het vir die lees van die brontekste nie. Dit geld ook ten opsigte van die dogmatiek of sistematiese teologie. In een of twee sinne of paragrawe word melding gemaak van die invloed van ’n persoon soos Augustinus, Luther of Calvyn ten opsigte van ’n bepaalde aspek van die Kerk se leer en verstaan, maar daar word nooit breedvoerig aandag daaraan gegee nie. Die THT-simposiums probeer om in hierdie behoefte te voorsien.
As dit dan so is dat daar vir ’n teoloog niks lekkerder is as om te teologiseer nie, dan is ’n dag se besinning en dialoog oor ’n bepaalde aspek van die Bybels-reformatoriese teologie tog die naaste wat ’n teoloog op hierdie aarde aan die hemel sal kom. Dit was my ervaring van die afgelope THT-simposium oor Karl Barth. Ek is vir die eerste maal sedert my onderneming om teologie te studeer en ’n predikant in die NHKA te word, doelmatig, gefokus en intensief met Karl Barth besig. Ten spyte van die feit dat die Kirchliche Dogmatik trots op my boekrak pryk, sou so ’n onderneming te midde van die alledaagse pastorale en bestuurseise van ’n groot plattelandse gemeente om vir ’n slag met Karl Barth en sy teologie in gesprek te tree, ’n ydele droom gebly het. Maar die simposium het my daartoe genoodsaak. Nou mόés ek dit doen en vir die eerste maal in my lewe, sedert ek in 2005 teologie begin studeer het, voel ek waardig om hoegenaamd iets oor Karl Barth te kan sê. Tot op hede was my kennis en blootstelling bloot te gebrekkig, maar na dese kan ek 100% meer van Karl Barth se nugtere, hervormde, dialektiese teologie in my prediking en pastoraat laat neerslag vind as ooit tevore.
Daarom is hierdie THT-simposiums so vrugbaar vir die Kerk, en so noodsaaklik. Dit is te verstane dat vanweë die druk programme van gemeentes en die hoë eise wat aan voltydse en soveel te meer aan deeltydse leraars gestel word, die bywoning van die simposiums nie altyd haalbaar is nie. Juis daarom word elke jaar se bydraes na afloop van die simposium in die THT gepubliseer. Sodoende word die teologiese besinning en nadenke van die dag toeganklik gemaak vir ’n veel breër gehoor en kan predikante in gemeentes dit ook met groot vrug gebruik. Na my mening sou die materiaal ook kon dien as toerusting vir kerkrade, ringsvergaderings en beslis ook as inhoud van verdere teologiese toerusting.
Na afloop van Augustus se simposium is ’n Bybels-reformatoriese Werkgemeenskap in die lewe geroep, met prof Wim Dreyer, dr Elritia le Roux, ds Leon Geel (jr) en dr Deon du Toit as lede. Die versugting was vir ’n werksgemeenskap waar Bybels-reformatoriese teologie beoefen kan word. Oor hierdie aangeleentheid is ek baie opgewonde. Die gedagte is dat leemtes wat in die teologiese opleiding mag ontstaan, deur hierdie werkgemeenskap gevul kan word, dat verdere toerusting vir predikante en teologiestudente gedoen kan word, dat publikasies die lig kan sien wat verteenwoordigend is van die Bybels-reformatoriese teologiese aksent, en dat die invloed en status van die THT ook daardeur uitgebou kan word. Die moontlikhede is letterlik legio.
Die NHKA betree ’n nuwe tydvak ten opsigte van teologiese opleiding en teologiese toerusting. Die tradisionele univer-siteite se kurrikulums verteenwoordig nie meer uitsluitlik die Europese en spesifiek Reformatoriese teologiese stroming waarmee die vroeëre geslagte van predikante in die NHKA bekend was nie. Dit word derhalwe die verantwoordelikheid van die NHKA self om ons unieke teologiese tradisie lewendig te hou en uit te bou.
(Dr Elritia le Roux is redakteur van die THT en leraar in Gemeente Middelburg)