In Maart 2020, toe die regering grendeltyd aangekondig het, moes almal, ook die Kerk, nuut en anders begin dink: hoe om voort te gaan met ons roeping, positief te bly, en eenvoudig die moeilike tyd deur te sien.

Onlangs het ons gevra dat gemeentes met ons moet deel hoe hulle te midde van dié vreemde omstandighede gefunksioneer het. Die foto’s vertel ’n eie verhaal.

SWELLENDAM

Ds Thomas Joubert vertel: “Die gemeente is klein, en dan hou ons elke Sondag op twee plekke erediens. Ons het sommer ’n gemeentelys vir Swellendam en vir Bredasdorp uitgedruk en die kerkgangers se name afgemerk. Die kerkraad het voor die diens in die saal in plaas van die konsistorie byeengekom, omdat die saal groter is. En ons Opelug Lentemark het met maskers plaasgevind – die publiek kon darem hul maskers afhaal as hulle van die heerlike koek eet!”

BENORYN

Ds Marlise Gasson se foto’s vertel hul verhaal. So het die kerkraadslede saam met die katkisante Bybelstudie gehou – gemasker en op ’n veilige afstand van mekaar. Die belydenisgroep en hul gesinne moes ook op hierdie vreemde manier hul eerste Nagmaal meemaak.

Huisbesoek het ook ’n nuwe gesig gekry!

Intussen het die gemeente se projekte (Klippe van Hoop en Kospakkies van Hoop) voortgegaan.

ALBERTON

Dr Daan Grobler sê hy het meer as ’n duisend foto’s geneem! “Foto 1 is geneem tydens die eerste diens nadat die inperkingsmaatreëls sodanig opgehef is dat ons weer eredienste kon hou. Daar was maar min gemeentelede. Let op die afskortings ter wille van sosiale afstand. Waar mense bymekaar sit, is dit lede van dieselfde gesin. Foto 2 is van ’n latere erediens. Weer eens, waar lidmate nie ’n sosiale afstand handhaaf nie, is dit lede van dieselfde gesin. Ook die dominee moes masker dra!

Gemeentelede moes voor die tyd laat weet as hulle ’n erediens gaan bywoon. Hul name is aangeteken en met hul aankoms by die kerkgebou is gekontroleer of hulle wel laat weet het. Indien nie, moes hulle maar huis toe gaan of in die saal gaan sit. Voor hulle in die kerkgebou ingaan, moes lidmate aanmeld sodat hul name weer eens gekontroleer en hul koors aangeteken kon word, asook enige komorbiditeite. Elke lidmaat se hande is ook gesaniteer voordat hy/sy die kerkgebou kon binnegaan.

Pleks van sakkies by die deure, moes lidmate hul offergawe in ’n spesiale houer plaas onder toesig van die diakens.

Na elke erediens of ander byeenkoms in die kerkgebou, is die hele gebou indringend gesaniteer en ’n sertifikaat is uitgereik voordat ’n volgende erediens of byeenkoms plaasgevind het.

Elke erediens, begrafnisdiens en doopgeleentheid is direk uitgesend sodat mense die gebeure tuis kon sien, hoor en volg. Die persoon by die rekenaar moes sorg dat toepaslike skyfies en die liedere op ’n bord geprojekteer word.

Ook met kerkraads- en ander vergaderings het almal, ook die dominee en die sekretariële beampte, ’n goeie afstand gehandhaaf. Dié vergaderings was maar dungesaai!

Die jeug (kategesegroepe) het later hul werksaamhede voortgesit, ook gemasker en met die handhawing van ’n gesonde afstand.

Die Najaarsrose (bejaardes) het aan die einde van 2021 ’n “gewaagde” Kersafsluiting gehou en probeer om so ver moontlik van mekaar af te bly. Natuurlik eet hulle graag, en dan moes die maskers af… Tydens hul byeenkomste in die saal was hulle nie soos gewoonlik almal bymekaar aan die gesels nie. Elke paartjie het hul eie aparte tafeltjie gehad, met verversings reeds daarop geplaas. Dieselfde is met Nagmaal gedoen.

Ook die maandelikse koeksisterbakkery het ’n aanvang geneem, hierdie keer gemasker en met al die ander maatreëls in plek. Die sekretaresse van die NHSV het geskenkpakkies vir die personeel by die plaaslike hospitale afgelewer om dankie te sê vir hul werk in die Covid-tyd.

Mense kon darem wraggies nie wag tot die pandemie verby is om te trou nie, maar dit was maar moeilik om die bruid te soen as ’n masker so ’n stok in die wiel is! En natuurlik kon doop nie agterweë bly nie. Lyk dit nie maar vreemd met die gemaskerde dominee, ouderling en ouers nie? Die kleinding sou sekerlik nie ’n masker duld nie.

Om fondse te in, is ’n deurrypadkafee geskep. Mense het vooraf bestel en betaal, ’n klompie lidmate het die kos berei en die mense wat bestel het, het in hul motors bly sit terwyl hul bestelling by hulle in die motor afgelewer is. Ons het selfs ’n minibasaar gehad met al die voorgeskrewe maatreëls in plek.

Aan die begin van 2022 is die nuwe kategete aan die gemeente bekendgestel. Nie almal is agter hul masker bekend nie.”

SWELLENDAM

BENORYN

ALBERTON

Share via
Copy link
Powered by Social Snap