1.   Inleidend

Karl Barth sterf in die nag van 9 en 10 Desember 1968. Die vorige aand het hy nog ’n telefoniese gesprek gehad met sy vriend Eduard Thurneysen (vgl. Stoevesandt 2016:53). Hulle het ook oor die donker wêreldomstandighede gepraat, maar hy was optimisties en het die mening uitgespreek dat daar nooit moed verloor moet word nie, want alhoewel uit Moskou of Washington of Peking regeer word, word daar ook vanuit die hemel regeer, God regeer. Tydens die amptelike Barth-herdenking ʼn dag na sy begrafnis op 14 Desember 1968 het prof Hans Küng verwys na ʼn gesprek waarin Barth gestel het dat hy nie in die hemel kan aankom met sy Dogmatiek op sy rug nie, want die engele sal hom uitlag. Hy sou ook nie kon argumenteer dat hy dit goed bedoel en in goedertrou gehandel het nie, maar alleen maar pleit dat die Here ʼn sondaar genadig sal wees (Kupisch 1972:160-161).

          Die verwysing na die regering van die wêreld deur God, die kerk ingesluit, en die belydenis dat God die laaste woord in dié verband het, is bruikbaar ook in kerkregtelike sin, want Kerkreg en kerkordelike handelinge kan eenvoudig gesproke

beskou word as ʼn menslike poging om die Woord van die Here, die Hoof van die kerk, in die kerk tot sy reg te laat kom. Die opbou van die gemeente dra die getuienis van die versoening van God met die wêreld as die weerstand teen chaos en wanorde (Barth 1964:766). Dit geskied deur orde, om met regte dinge die gemeente op te bou.

  1.   Die Ordnung der Gemeinde volgens Karl Barth (1964:765-824)

Ordening is nie net ʼn protes teen chaos nie, maar regte omgang met die saak ter sprake, naamlik “das ganze menschliche Sein und Tun der christliche Gemeinde als der vorläufige Darstellung der in Jesus Christus geschenen Heiligung des Menschen” [i] (Barth 1964:767). Barth (1964:767-768) stel dat Dogmatiek en Kerkreg nie dieselfde is nie, maar voeg daarby dat daar nie ʼn ander moontlikheid is om Kerkreg te beoefen nie, behalwe in Christologies-ekklesiologiese sin as uitgangspunt. Jesus Christus is die Heer van die menslike gemeenskap van die heiliges, die Hoof van sy liggaam, wat die aardse verskyningsvorm uitmaak van sy liggaam. Dié liggaam leef in verhouding met Christus, die Hoof en primêre subjek van die liggaam, terwyl die menslike en menslik handelende gemeenskap van heilges as sekondêre subjek, in die verlenging daarvan ter sprake kom. Barth lê die verband tussen gemeente en gemeenskap van die heiliges (communio sanctorum), want die saak waaroor dit gaan, is die voorlopige daarstelling van die in Christus geheiligde mensheid. Die verhouding tussen Christus en sy gemeente konstitueer die Christelike gemeente, ʼn verhouding wat hy as die ordende prinsipe bestempel, naamlik Grundrecht. Dit is die basiese uitgangspunt wat in ʼn Christelike gemeente as Kerkreg geld (Barth 1964:770; vgl. Plomp 1992:39). In die lig daarvan kan die vraag na Kerkreg nie nagelaat of as ʼn vraag van mindere belang geag word nie.

          Kerklike reg is inherent anders as enige ander vorm van reg, synde ʼn Christelik-kerklike ordening wat sodoende van alle ander vorme van reg onderskei word (Barth 1964:771), want kerklike reg moet geestelike reg wees. Dit beteken reg wat gestalte vind deur die Heilige Gees in Christus. Dit is onafwendbaar, want kerklike reg wat so die lig sien, ontstaan en bestaan in die inagneming van die Woord van die Here, die Hoof van die kerk, sy liggaam. Want die stem wat gehoor moet word, is dié van Jesus Christus wat in die Skrif betuig word (Barth 1964:773). Barth vervolg met dié mening: In dié sin is die Skrif (self norma normata!) norma normans, maatstaf vir regte Kerkreg wat as belydenis ooreenkomstig die betuigde reg van Jesus Christus genormeer word (Barth 1964:774).

          Barth wys daarop dat die kerk en derhalwe die Kerkreg in die wêreld wat die kerk omgewe, misverstaan sal word. Want wat weet die wêreld van wat hy noem ʼn broederlike Christokrasie, as die geldige Grundrecht wat in die Christelike gemeente beoefen word in die tyd voor Jesus weer op die wolke verskyn? Dit loop vanweë die gebrek aan totale begip daarop uit dat die kerk beskou word as net nog ʼn menslike gemeenskap naas ander. Die kerk sal ongeag sy belydenis as net nog ʼn sosiale vereniging beskou word, met die verwagting om sodanig as ʼn liggaam wat aan die reg onderhewig is, op te tree en te leef as ʼn vereniging, ʼn genootskap wat natuurlik of histories beslag gekry het vir ʼn bepaalde doel (Barth 1964:777).  

In dié verband kom die verhouding tussen die kerk en die staat ter sprake. Die staat is wesenlik ook ʼn werktuig van Goddelike ordening wat as element van die heerskappy van Jesus Christus, as ʼn besondere menslike eksponent van sy heerskap oor die wêreld, as verdediger en dienaar van God (Rom 13:6), behoort te regeer (Barth 1964:778). Ten spyte van die feit dat die meerderheid van die inwoners onder die jurisdiksie van die staat Christene is, word die kerk gesien as ʼn wêreldlike vennoot van die owerheid, maar wat ooreenkomstig sy eie vooronderstellings en denke bestaan (Barth 1964:778). Van die staat kan nie meer verwag word nie as van ʼn instansie met ʼn bepaalde gesagsposisie wat binne sy eie wetgewing funksioneer in verhouding met ander menslike groeperings binne sy jurisdiksie. In dié verband ontstaan wat Barth noem ʼn Staatskirchenrecht wat met betrekking tot die kerk aan die kerk ruimte gun, maar terselfdertyd daarteen waak dat die kerk sy grense oorskry (Barth 1964:779).

          In dié verband funksioneer die kerkregtelike begrippe ius circa sacra (die reg waarbinne die kerk leef, burgerlike wetgewing dus) en ius in sacra (reg in die kerk, Kerkreg), wat as aanduiding gebruik word dat die staat se reg róndom die kerk funksioneer, maar dat die Kerkreg ín die kerk funksioneer. Die verhouding tussen kerk en staat was ʼn ou en lastige probleem waarmee Calvyn in Genève ook te make gehad het, wat beteken het dat die Ordonnances Ecclésiastique wat onder sy leiding opgestel word, deur die burgemeesters, die Klein Raad, asook die Groot Raad van 200, goedgekeur moes word voordat die kerkorde op 20 November 1541 in die St Pierre-kerk voorgelees is (Pont 1981:21). Ook in Nederland het die invloed van die owerheid in kerklike sake bly vassteek in die mate dat die kerkorde wat tydens die Sinode van Dordt van 1618-’19 vasgestel is en wat in sommige kerklike kringe in Suid-Afrika met byna kanonieke waardering beskou word, tog die invloed van die owerheid vertoon in die patronaatsreg as invloed van die owerheid in kerklike sake (vgl. Kersten 1980:177, 184, 187).  

          Barth (1964:779) is redelik stellig gekant teen staatsinmenging in die kerk en in die kerkorde wanneer hy stel dat Staatskirchenrecht, naamlik hoe die owerheid die kerk sien, nie Kerkreg kan word nie, en daarom hoort staatskerkregtelike beskouinge nie in ʼn kerkorde nie. Daarom moet daarteen gewaak word dat ius circa sacra met verloop van tyd tot ius in sacra omvorm word waar die verkondiging, leer en teologie van die kerk, asook die belydende karakter van die kerk, geïnhibeer word (Barth 1964:780).  Wat die staat nodig het, is ʼn kerk wat nie aan die leiband van die owerheid kerk is nie, maar die owerheid wys op sy grense en opdrag as waarskuwing om nie anargie en tirannie toe te laat nie (Barth 1964:781).

Barth stel die algemene vooronderstellings wat bepalend is vir ʼn Christologies-ekklesiologiese kerkbegrip as grondreg, bepalend vir regte Kerkreg, onafhanklik van staatskerkreg en die inwerking van enige invloed van staatsinstansies. Barth (1964:781; vgl. Weber 1963:276) definieer Kerkreg as

diejenige Ordnung, die die Gemeinde von ihrem Grundrecht her sich selbst … im Gehorsam gegen ihren Herrn selber zu finden, aufzurichten und zu handhaben hat [ii]

Barth (1964:781) redeneer dus vanuit die basiese uitgangspunt van Kerkreg wat hy Grundrecht noem en vestig die aandag op hoe die Christelike gemeente uiting gee aan die gestelde vooronderstellings van Kerkreg wat in kerkordelike denke en handelinge tot uiting moet kom. Kerkreg wat op dié basis die lig sien, het ʼn wesenlike gevolg vir die Kerkreg wat in kerke en gemeentes beoefen word. Dié standpunt en Barth se verwysing na Kerkreg gebaseer op Grundrecht oefen ook invloed in die Nederlandse kerkregtelike debat uit in die mate dat Plomp (1992:39-40) ook instemmend daarna verwys (vgl. Strauss 2010:1).

3.1   Kerkreg as Dienstrecht

Gesien vanuit hierdie gestelde uitgangspunt dat Kerkreg gegrond is op wat hy Grundrecht noem, kom hy in die eerste plek daartoe om Kerkreg as “Dienstrecht, Recht im Rahmen einer Dienstordnung” [iii] te tipeer, wat hy grond op die bekende Markus- uitspraak (10:45) dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Hy is in diens van die Vader, verneder aan die kruis, maar verhoog as Heer van die totale wêreld, kosmologies, maar in diens van die Vader. “Er ist König und Herr als der seinem Vater und damit den Seinigen und so allen Menschen Dienende. … Er herrscht, indem er zuerst Gottes und aller Anderen Knecht ist. … Eben als der erniedrigte Gottessohn ist er ja der erhöhte Menschensohn” [iv]  (Barth 1964:782).

          Dit raak die kerk, en die gemeente waar Christene byeenkom, vorm deel van die orde wanneer hulle diensbaar is. Dit skakel alle lede in die gemeente gelyk omdat daar in hierdie diensplig geen regte en voorregte, geen eise en verpligtinge, geen waardigheid en laste is nie. Die gemeente deel in die heerskap van Christus en regeer saam met Hom as ʼn geheel, maar ook as enkeling, maar uiteindelik gaan dit wesenlik oor die geldende reg en om in waarheid te handel (Barth 1964:782). 

Op elkeen rus dus die verpligting om diens te lewer. Dit is die enigste verpligting as ʼn verpligting om aan die gemeenskaplike eis tot diens te voldoen. “Berechtigtes Fordern kann für sie und kann in ihr immer nur das Fordern dessen sein, was dazu nötig ist, um dem gemeinsamen Gefordertsein zum Dienst gerecht zu werden: … nur das Herrschen, das selbst und als solches Dienst und nur Dienst ist” [v] (Barth 1964:783). Die diens waaroor dit gaan, is nie beperk tot sekere gedeeltes van die kerklike en gemeentelike terrein nie, maar wesenlik en omvattend. Die grense en die vooruitsig om te dien, is nie beperk tot willekeur van kerklike betrokkenes al dan nie, maar setel in die Here as Hoof van die kerk, daarom is diens aan die Here omvattend en in totaliteit. Daarom is dit nie korrek om diakonia (diakonaat) en ministerium (bediening) as aparte aktiwiteite te beskou nie, aangesien die omvattende aard van kerklike dienswerk volledig onder ministerium Verbi divini (bediening van die Goddelike Woord) saamgevat kan word (Barth 1964:784; 1964b:143).   

          Die werklike karakter van kerklike meelewing is om diens te lewer wat nie die voorreg van enkelinge is nie, maar almal insluit. Christen wees en deel wees van die gemeenskap van die heilges (communio sanctorum) beteken om in die Christelike gemeente diensbaar te wees. Deelname aan die gemeenskap met Jesus Christus voeg elke lidmaat toe as deel van nederige dienswerk in sy Naam. Dit is onaanvaarbaar indien selfs net een lidmaat onttrek aan die dienswerk wat in die kerk in Jesus Christus ter sprake is. Elkeen is geroepe om sy verantwoordelikheid na te kom, so asof alles net van die besondere lidmaat afhang. Dienswerk bestaan in verskeidenheid, maar ʼn verskeidenheid wat in eenheid tot sy reg kom. Dit gaan nie om die priesterskap van individue nie, maar om die algemene priesterskap van alle gelowiges (Barth 1964:786).   

3.2   Kerkreg as liturgisches Recht

In die tweede plek sien Barth (1964:787) Kerkreg ietwat konkreter as liturgiese reg. “Kirchenrecht hat eine ursprüngliche Beziehung zu dem besonderen Geschehen des christliche Gottesdienstes” [vi] . Kerkreg het ʼn besondere band met die erediens met die oog daarop dat die hele lewe van gelowiges georden word. Dit kan moeilik anders, aangesien die Christologies-ekklesiologiese uitgangspunt van Kerkreg (Grundrecht) daarop neerkom dat die gemeenskap georden word aan die hand van die Hoof van die liggaam, Jesus Christus. Dit geld nie net vir die erediens nie, maar sodoende word die ganse lewe van die gemeente georden. Dit vertoon ʼn historiese dimensie wat daarop neerkom dat Hy as die Hoof van die gemeente die weg van Betlehem na Golgota nie alleen bewandel het nie, maar steeds bewandel en dit weer sal doen. Hy doen dit deur sy Gees, die Heilige Gees, wat die gemeente geskape het, regeer en onderhou. Jesus bestaan en regeer as middelpunt in die geskiedenis van die wêreld. Die lewensgang van elke dag is onskeibaar verknoop aan sy Naam. Daarin kom die ware God en die ware mens, die vernederde Seun van God en die verhoogde Seun van die Mens, die een wat die verbond tussen God en mens effektief maak, die Versoener van die wêreld, met God, die Woord wat in die begin was en altyd sy finale Woord sal bly, byeen. In die hemel is Hy in God verborge, die Hoof van sy gemeente wat in sy eenmalige handeling bestaan (Barth 1964:788).

Die wesenlike reg wat Barth tipeer as Grundrecht is dit wat deur die Heilige Gees geskenk is en funksioneer in die tyd tussen opstanding en wederkoms in heerlikheid, in sy liggaam as die aards-historiese bestaanswyse van die liggaam van Christus. Die gemeente is gebeurtenis, nog inrigting of instituut, maar sprekend van die verborge wese van Christus self, ʼn aards-historiese gebeurtenis en as sodanig die aards-historiese bestaanswyse van Christus (Barth 1964:697). Daarom kan ʼn gemeente nie maar net bestaan nie, maar moet uiting gee aan Christus as Hoof van die kerk, anders sal die gemeente nie as communio sanctorum herkenbaar wees nie. Daarom is erediens belangrik, omdat in die erediens gebeur wat nie altyd daarbuite sigbaar en hoorbaar is nie. In die erediens gebeur wat in ses dae voorafgegaan het en weer in ses dae daarna volg, werksklere word vervang met ʼn feesgewaad. Anders gestel, beleef die gemeente Jesus Christus onderweg tussen opstanding en wederkoms, in die erediens voorlopig maar in realiteit, omdat dit eintlik net daar is dat dit gebeur (Barth 1964:791). “Eben darum wird sich ihr Kirchenrecht von seiner Wurzel her als liturgisches: (1) vom Gottesdienst her ordnendes, (2) in ihm immer wieder zu findendes und (3) ihn seinerseits ordnendes Recht verstehen müssen” [vii] (Barth 1964:791).

          Alle Kerkreg het sy oorsprong in die erediens waar twee of drie in die Naam van die Here byeenkom (Matt 18:20), ongeag menslike onvolkomenheid en menslike gebrokenheid van Christene. Jesus Christus, en derhalwe die communio sanctorum, ís teenwoordig. Wesenlik gaan dit oor die gemeenskaplike belydenis van Hom wat die gemeenskap van gelowiges byeen gebring het om Hom te ken, te glo, lief te hê en in Hom te hoop. “Diese im gemeinsamen Hören des Wortes Gottes gemeinsam gegebene Antwort, das in Erneuerung der gemeinsamen Erkenntnis gemeinsam gesprochene und vernommene Bekentnis ist das erste Element des christlichen Gottesdienst”[viii] (Barth 1964:793). Waar gelowiges so in ’n erediens byeenkom en waar nie net gepraat word nie maar ook bely word, is dit ʼn erediens, bewus of onbewus, waar daaraan uiting gegee word dat sodanige erediens as erediens ervaar kan word.

Wanneer twee of drie in die Naam van die Here byeenkom, herken hulle mekaar as diegene wat deur Jesus Christus byeen gebring is, om mekaar as gevolg daarvan as broeders te aanvaar omdat hulle almal broeders in Christus is. Die gemeenskap is gebaseer op onderlinge vertroue wat deur die Heilige Gees gewek is. Alhoewel die werking van die Gees onsigbaar is, sien gemeentelede mekaar tog as gedooptes in die Naam van die Vader, die Seun en Heilige Gees. Hulle is nie in die naam van die gemeente gedoop nie, maar in die gemeente in die Naam van die Hére. Die Christelike gemeente is ʼn doopgemeenskap wat deur die Doop in die Naam van Jesus byeengebring word om lede te wees (Barth 1964:795).  

Die samekoms van twee of drie in die erediens strek volgens Barth nog verder in die mate dat lede onderling versterk en bewaar word vir die ewige lewe. Die ewige lewe is gelowiges se lewe, maar is as die ware lewe verborge en verheerlik met God. Alle mense is eintlik bestem vir die ewige lewe, daarom is versterking, bewaring en voorbereiding daarvoor ʼn uitdaging wat almal raak. Daarvoor word lidmate toegerus, want Hy gee die voedsel en drank om in die versamelde gemeente, as broeders en susters, aan tafel te sit, saam te eet en te drink waar Hy die Huis- en  Gasheer is sodat elkeen wat aansit welkom mag voel (Barth 1964:796). In die Nagmaal beleef gelowiges gemeenskap met Hom en daarom ook met mekaar en kom die communio sanctorum ter sprake as gemeenskap van hoop op die ewige lewe.

          Waar twee of drie in die Naam van die Here byeenkom, is hulle geroepe om saam te bid. Gelowiges is op God aangewese en het dit met mekaar gemeen. In die stelling dat Kerkreg liturgies van aard is, moet die feit gestel word dat Kerkreg wesenlik in die erediens gesoek en ontdek word. Kerkreg het dit met menslike reg gemeen dat dit gesoek en gevind moet word. Die rigting waarin vir Kerkreg gesoek moet word, is gegewe: naamlik na die Skrif waar oor die Hoof en Heer van die gemeente getuig word, naamlik Jesus Christus (Barth 1964:800). Alleen in Christus kan bepaal word wat reg en goed vir die kerk is, dit gebeur deur sy teenwoordigheid en heerskap wat in die liturgie plaasvind, in belydenis, Doop en Nagmaal. Dit gaan oor Christus waaroor in die Skrif getuig word.

          Die Heerskap van Christus in sy gemeente word beleef wanneer die oproep van Christus in die gemeente deur belydenis beantwoord word. Regte Kerkreg word duidelik in hoeverre die gemeente aan die evangelie en derhalwe aan Jesus getrou is. Regte Kerkreg is belydende Kerkreg wat menslike reg is, maar gevestig en gebaseer op Hom wat bely word en as sodanig gehandhaaf moet word (Barth:1964:801).

          Die hHeerskap van Christus kom tot sy reg wanneer die gemeente wat deur die Doop in sy Naam byeengebring is, in ’n erediens versamel geskoei op die vertroue wat gelowiges tydens hulle Doop ontvang het en wat die basis van kerklike reg vorm. Dieselfde gebeur wanneer die gemeente tydens die Nagmaal byeenkom. Wanneer die Nagmaal reg bedien word en elkeen wat aansit op gelyke basis eet en drink, is daar nie die moontlikheid van die vorming van ʼn ecclesiola in ecclesia (gemeente binne ʼn gemeente) wat bestaan in ʼn ware kleiner kerk binne die kerk nie (Barth 1964:801, 802).

Die vryheid van die Heilige Gees wat die Christokratiese broederskap in dié sin vergestalt en orden, word die opgaaf en bedoeling van regte Kerkreg (Barth 1964:803). In Barth se siening van Kerkreg as liturgiese reg word klem geplaas op die erediens as die sentrum van die gemeentelike lewe. Dit is daar waar gedoop, Nagmaal gevier en saam gebid word, nie as volmaakte mense nie, maar omdat dit deur mense gebeur, nie sonder meer verskans teen misverstand en misbruik nie. Daarom is die genade van die heiliging in Jesus Christus vreemd indien nie voortdurend wal gegooi word teen die dreigende ontheiliging deur menslike toedoen onder die indruk van regskapenheid nie. Dit bevestig die vraag na regte Kerkreg as regte ordening van die erediens. Dit in die belewenis dat die Here teenwoordig is en handel, Hy wat ook die gesag en moontlikheid het om te orden en teen verderf te bewaar. Die gemeente moet daarvan wél bewus wees (Barth 1964:804).

3.3   Kerkreg is lebendiges Recht

Derdens kan dit nie anders nie, want Kerkreg gebaseer op Grundrecht beteken die gemeente is die liggaam van Christus, die Hoof, en dit het tot gevolg dat die reg wat in die gemeente beoefen word, die reg is wat spruit uit Jesus Christus. Wie Hy is, word geken en duidelik uit die Skrif in die krag van die Heilige Gees. Daarom is Kerkreg lewende reg, lewend en dinamies, aangesien voortdurend gepoog word om die lewende Heer as inhoud van die reg voortdurend van toepassing te maak. Dit beteken dat veranderinge in die gemeenskap vanweë politieke omstandighede of die tydgees nie bepalend mag word sodat die Kerkreg daardeur oorwoeker word nie. Kerkreg word nie van onder, vanuit menslike toedoen, bepaal nie, maar van bo in Jesus Christus deur die Heilige Gees, die Here waarvan in die Skrif getuig word, wat beweging moontlik en volhoubaar maak (Barth 1964:805). Dit beteken dat Kerkreg nooit as afgehandel beskou kan word nie, omdat indien Kerkreg lewendige reg is wat van bo bepaal word en nie van onder nie, die gemeente voortdurend op nuwe antwoorde en oplossings bedag sal wees. Die gemeente moet vrae vra maar ook antwoorde vind, terwyl ook uit die antwoorde nuwe vrae spruit wat beantwoord moet word, wat tot verdere vraagstelling lei, waarop antwoorde gevind moet word en stomheid voorkom (Barth 1964:808).

          Barth raak in dié verband ook die vraag aan of kerklike reg ius divinum (Goddelike reg) of ius humanum (menslike reg) is. Sy mening is dat kerklike reg ius humanum is, ongeag hoe ernstig en oortuigend dit geformuleer is. Tog is daar ʼn wesenlike verskil tussen Kerkreg en reg soos in die burgerlike samelewing gevind word, aangesien kerklike reg onderskei word in die feit dat kerklike reg die gevolg is van ʼn Skriftuurlike oorsprong. Die kern van Kerkreg as Grundrecht kan nie vervang word met iets of iemand anders nie, want indien Jesus Christus as Hoof verwyder word, het die kerk en gemeente ook sy identiteit verloor. Dit is die wortel en wese van Kerkreg gebaseer op die Grundrecht van die gemeente, die Heerskap van Jesus Christus oor sy liggaam (Barth 1964:808). Kerkreg kan en moet hierdie basiese uitgangspunt respekteer as die gesag aan die hand waarvan die gemeente georden word. Kerkreg is nie self die resultaat van die wesenlike reg (Grundrecht) nie, kan dit nie vervang of goed maak nie, dit ook nie gesaghebbend interpreteer nie, en dit ook nie met gesag beklee nie. Dit is nie uit die hemel nie, maar op aarde waar gekies, besluit, bepaal, geformuleer, gepraat en bekragtig word. Dit is net soos in die Dogmatiek wat nie direk uit die hemel nie, maar aards, menslike spreke en denke is (Barth 1964:808).

          Op grond daarvan stel Barth dat die ius divinum van die Christokrasie in oorsprong en grens niks meer is nie as ius humanum. Daarom is Kerkreg lewende reg wat nie moet stol in geykte menings nie, aangesien die oorsprong van die kerklike reg voorkom dat Kerkreg verstar. In die lig van ʼn lewe onder die Heerskap van die Hoof van die kerk kan ʼn gemeente nie ecclesia formata (gevormde kerk) wees nie, maar verkeer onder die dwingende appèl om ecclesia semper reformanda (kerk wat steeds moet hervorm) te wees. Dit kan nie anders nie en lei daartoe dat in soverre Kerkreg aan die Hoof Jesus Christus gebonde is, Kerkreg lewendig, wordende reg word wat met elke reformasie nuut geformuleerde reg is, sonder weerga is en derhalwe ius sui generis (reg in eie aard) is (Barth 1964:809).

          Van Ruler (1952:90) het ook oor die kerkorde as ius divinum of ius humanum standpunt ingeneem deur te stel dat ʼn kerkorde menslike reg is wat telkens stuit op die harde kern van die ius divinum. Hy verwys na die vleeswording van Jesus wat vir hom die bewys is dat Goddelike reg tog in menslike gedaante na vore kom. Van Ruler (1972:125) vervolg met: die “kerk deelt in haar orde in het recht Gods. Dat is het moment van het gezag van de kerk. Alles in haar orde … is aangeraakt door de towerstaf van die heiligheid Gods, gelijk Hij in Jezus Christus in het vlees teeenwoordig is”. Ook Haitjema (1951:9-10) is van mening dat alle Kerkreg gewortel is in die Heilige Skrif en dat agter elke kerkorde die Christelike belydenis van ʼn een, heilige en algemene kerk setel, wat daarop neerkom dat daar altyd “een gehalte van ius divinum” ter sprake is. ʼn Kerkorde is dus nie Goddelike reg sonder meer nie, maar bestaan ook nie los daarvan nie.

Albei begrippe funksioneer binne die debat van ʼn sogenaamde Skriftuurlike kerkorde wat ʼn kerkorde nie met Skrifgesag sien nie, maar terselfdertyd ook meer is as bloot die gesag van die meerderheid soos tydens ʼn sosiale byeenkoms van belanghebbende gelykes geformuleer is (vgl. Van Wyk 1991:48).

          Ten opsigte van die reg wat in die verlede geformuleer is, sal dit mutatis mutandis (met die nodige wysiging) toegepas word in die sin dat geen formuleringe uit die verlede as kanoniek beskou word en derhalwe geldig is vir tyd en ewigheid net omdat dit eenmaal so geformuleer is nie. Indien die gemeente bewus is van die Here en ook so leef, sal daar ʼn openheid bestaan vir herformulering en nuwe rigting. Kerkreg kan as ’n waagstuk beskryf word, daarmee word bedoel ʼn noodwendige waagstuk in gehoorsaamheid (Barth 1964:811). Hierdie waagstuk staan in die teken van voorlopigheid (provisorium): Dit sal geld totdat dit deur beter maatreëls vervang word. Die verlede word met respek bejeën, terwyl onder en met Jesus Christus geleef word. Terselfdertyd word na die toekoms gekyk as ʼn bestaan en ʼn lewe wat in Christus gebeur en in hoop seker is (Barth 1964:812).  

          Barth wys tereg daarop dat geen Kerkreg volkome is asof dit uit die hemel geval het nie en dat daar geen rede is waarom meerderwaardig op die ander met ʼn alternatiewe standpunt neergekyk moet word nie. Dalk is dit nodig om die balk in die eie oog te verwyder eerder as om begaan te wees oor die splinter in die oog van die ander (Matt 7:4). Hy meen dat dit veral perfeksionisme is wat Kerkreg steriel maak. In ekumeniese verband kan inderdaad kennis geneem word van die ander, sonder spanning en wat daarmee gepaard gaan, tot nadere onderlinge begrip, tot voordeel van die reg van die gemeente. Dit kan elke kerk aanspoor om met nuwe erns lewendige en regte Kerkreg te beoefen (Barth 1964:815).

          Dit is van besondere betekenis en kom daarop neer dat ʼn bepaalde kerkorde soos vasgestel op ʼn gegewe moment uit die verlede, nie as’t ware gekanoniseer moet word om gevolglik ook resloos en onveranderd vir die toekoms te geld nie. Hier kan verwys word na die betekenis wat in sommige kringe aan die kerkorde van Dordt 1618-’19 geheg word.

3.4   Rechtes Kirchenrecht ist vorbildliches Recht

In die vierde plek wys Barth (1946:815) daarop dat die eie aard van Kerkreg as voorbeeld dien vir die reg wat in ander samelewingsverbande soos die politiek, die  ekonomie of die kultuur gevind word. Barth haal Erik Wolf aan wat die versugting uitspreek dat Kerkreg die getuienis kan wees van die broederlike gemeenskap in Jesus Christus, ʼn belydende Kerkreg as lewendige ordening van die gemeente wat vir alle mense getuig van die kern en Hoof van die gemeenskap: Christus!

           Dit kom daarop neer dat die Christelike gemeente ook ʼn tweesydige verantwoordelikheid het teenoor die wêreld waarin die kerk leef. Dit gebeur in die openbare erediens, maar ook in die ordening van die kerk se openbare Woordverkondiging. Hy beklemtoon opnuut dat die Christelike kerk die liggaam van Christus is en derhalwe as aards-historiese bestaansvorm die voorlopige daarstelling is van die mensheid wat in Hom geheilig is. Dit moet aan die totale mensheid gekommunikeer word in die tyd tussen opstanding en hemelvaart. Aan hierdie opdrag kan die kerk nie ontkom nie, want dit is die opgaaf, die uiteinde, maar ook die opdrag aan die kerk. Daarom is die regsordening, die gestalte waarin die kerk haarself aanbied na buite, in die oë van die wêreld sigbaar maak, belangrik. Sodoende word opnuut bevestig dat Kerkreg ius sui generis (eiesoortige reg) is wat in toto coelo (geheel en al) van die reg van die owerheid of enige ander gemeenskapsvorm verskil en as sodanig ius in sacra is. Die kerk mag nie uit die wêreld onttrek nie, maar moet in gesprek tree op so ʼn wyse dat die eie aard van die kerk in die wêreld duidelik word (Barth 1964:816).

          Dit beteken nie dat die reg van die kerk ook die reg van die wêreld moet word nie, asof regerings van die wêreld verkerklik moet word nie, gewis nie om die staat en gevolglik al die ander gemeenskapsvorme te verkerklik nie (Barth 1964:817). In die lig van die koninkryk van God in Jesus Christus is ook Kerkreg as menslike reg onvolkome en beteken dit dat die wêreld moet sien wat hulle nie sien nie en erken wat hulle nie erken nie, naamlik: die Heerskap van Jesus Christus waardeur die versoening met God voltrek is as majesteit van sy Woord en die mag van die Heilige Gees (Barth 1964:817). Kerkreg is dus nie ʼn reg wat die wêreld opgelê is en opgedwing word nie. Dit wat die kerk aan die wêreld verskuldig is, is nie ʼn ideaal of ʼn omlynde wet nie, maar die evangelie. De facto (prakties gesproke), of die wêreld dit besef of nie, sal hulle onder die indruk gebring moet word dat daar ʼn groter gesag is, wat beteken dat elke wêreldlike gesagsvorm – hoe belangrik ook al – eintlik relatief is en nie onbepaalde gesag verwoord nie. Menslike gesag is relatiewe gesag, ek kan nie sonder ʼn bewuste belewenis van die Een wat die wêreld met Homself versoen het, bestaan nie. Kerklike reg is ʼn poging om te dink en te doen volgens die Woord van God, daarom is dit voorlopig en gebrekkig. In dié opsig het die kerklike reg ʼn voorsprong op die reg wat in die wêreld beoefen word. Die gemeente is maar goed daarvan bewus dat hulle nodig het om die Woord te hoor en weer te hoor (Barth 1964:819).

          Die reg van God kan nie reglynig deur die kerk vergestalt word nie, maar in gebroke vorm as poging om Goddelike reg in die menslike reg herkenbaar te maak. Die kerk moet die wêreld daarop bedag maak dat Jesus Christus (sedens ad dexteram Patris omnipotentis) aan die regterhand van die Vader sit en die mag het om inderdaad van daar af die wêreld te regeer. Dit beteken dat die kerk voortdurend onder die appèl leef van ietwat beter reg tot nog ernstiger ordening (Barth 1964:820). Dit geld nie net vir die versamelde gemeente nie, maar ook vir die wêreld (extra muros ecclesiae), waardeur Jesus Christus as verbetering van die wêreldlike reg geld.

          Die Kerkreg as voorbeeldige reg toon aan die wêreld ʼn dienskarakter wat die dialektiek – tekenend van die reg wat in die wêreld beoefen word en bestaan in verwagting en voldoening, waardigheid en verantwoordelikheid, gee en neem – oorwoeker.

          Kerkreg as voorbeeldige reg toon ook aan die wêreld dat daar inderdaad ʼn gesagsbron is wat groter is as die regering van die dag en die laaste woord oor gesag het. Kerklike reg as voorbeeldige reg word nie deur die een of ander vreemde mag gesteun nie, maar steun op die gesag van Jesus Christus.

          Kerkreg kom na vore en word beoefen vanuit onderlinge vertroue. Sodoende word almal tot eenheid gebind, selfs anderkant die punt waar wêreldlike reg se grense lê. Kerkreg is met niks minder tevrede nie as ʼn onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar, in alle opsigte, en daarom is die gemeenskap wat so ontstaan lewensgemeenskap.

          In kerkregtelike sin is elke lid van die gemeente, elke lid van die kerk gelyk, ongeag begaafdheid, herkoms of welke onderskeiding, in eerste linie as broeder gesien. Dit teenoor die reg in die wêreld wat elke individu in saaklike verband sien. Daarom is regte Kerkreg veral ter sprake daar waar wêreldlike reg ophou. Kerklike reg is lewendige reg wat menslik is teenoor oddelik, maar ernstig en met ʼn gelyke verantwoordelikheid by sowel die verlede as die toekoms hoort (Barth 1964:821).

          Dit moet andermaal beklemtoon word dat Jesus Christus Koning is oor alle mense en alle dinge, derhalwe ook oor diegene buite die kerk (extra muros ecclesiae). Kerklike reg en die reg soos in die burgerlike regering het gemeen dat albei menslike reg is, maar in albei se menslikheid setel hulle gesag in relasie tot Goddelike reg. Die kerklike reg wil nie die burgerlike samelewing oorheers nie, maar daar is geen rede waarom daar nie ʼn resiproke verhouding tussen hulle kan bestaan nie, want die belydenisgrondslag, die Heerskap van Jesus Christus aan die regterhand van die almagtige Vader (ad dexteram Patris omnipotentis), is ook die grondslag van alle wêreldlike reg (Barth 1964:822).

          Barth (1964:824) sluit sy gesprek oor die Kerkreg af met die besondere siening wat hy soos volg verwoord: “Und eben darin wird sich ihr Recht als richtig erweisen: als vom Evangelium her Evangelium verkündigendes Recht” [ix].        

  1.   Beoordeling

Die mening wat Barth uitspreek in die onderhawige gedeelte van sy Kirchliche Dogmatik is besonder bruikbaar vir die Kerkreg. Dit is veral besonder aangesien hy dit doen as dogmatikus waardeur die belang van die Kerkreg in besondere lig gestel word. Hy dui aan dat Dogmatiek en Kerkreg nie aan mekaar gelyk is nie (1964:767). Tenspyte daarvan neem hy tog die kerkregtelike debat ter tafel, aangesien die Kerkreg en Dogmatiek put uit dieselfde bron, wat beteken dat Kerkreg begrond word op ʼn Christologies-ekklesiologiese verstaan van die kerk, en derhalwe ook die gemeente as die plek waar die gemeenskap van die heiliges realiseer. Jesus Christus is die Heer van die menslike gemeenskap wat so bestaan en sigbaar word, sy liggaam waarvan Hy die Hoof en Heer is. Dit beteken dat die gemeenskap wat as kerk en gemeente sigbaar word, op ʼn bepaalde manier sal leef, naamlik georden en reg. Kerk en gemeente is die voorlopige daarstelling van die in Jesus Christus geheiligde gemeenskap. Dit konstitueer die kerk en gemeente en is ook die Grundrecht van die kerk en gemeentelike bestaan (1964:770). Die siening van Barth om Kerkreg in vier gestaltes te sien, is eweneens bruikbaar, naamlik Kerkreg as dienende reg, liturgiese reg, lewende reg en eksemplariese of voorbeeldige reg (vgl. Weber 1963:276-278; Plomp 1992:40; Bender 2013:211-221).

Die mening van Barth het wesenlike gevolge vir die Kerkreg, aangesien die kerk en gemeentelike bestaanswyse omvattend en inklusief daarin en daardeur bepaal word. Die indruk dat Kerkreg hedendaags, ten minste in praktyk, gereduseer is tot die kerkorde en daarby slegs wanneer kerkordelike onvergenoegdheid ontstaan, is ʼn verskraalde siening van Kerkreg en kerkorde wat ver verwyder lê van die siening wat Barth verwoord.

          Wanneer studente navraag doen oor die betekenis van presbiteriaal-sinodaal, dit is, hoe die kerkregtelike stelsel wat in Reformatoriese kerke gevind en beoefen samevattend tipeer word, kan op grond van Barth die bondige maar trefsekere antwoord volg: Jesus Christus is Hoof en Heer van die kerk. Dit is ʼn direkte Skriftuurlike uitspraak (Ef 1:22-23) wat nie net vir die Kerkreg bruikbaar is nie, maar vir die kerk as kerk geld (vgl. Van Wyk 2017). Barth wil nie ʼn kerkorde van algemene belang gee nie, maar slegs die voorwaardes skets waaraan ʼn kerkorde moet voldoen. Dit beteken dat daar inderdaad verskil van mening kan bestaan, maar dat die rigting van bruikbare Kerkreg in die rigting lê wat Barth aangedui het (Plomp 1992:40).

          Die Skriftuurlike uitgangspunt om Kerkreg op Jesus Christus as Hoof en Heer van die kerk en derhalwe Christologies-ekklesiologies te begrond, is van wesenlike belang – wat die luukse selfgenoegsaamheid van die verlede wat dikwels in kerkisme en meerderwaardigheid gebaseer op sogenaamde leersuiwerheid geskoei was, tot onbruikbare kerklike uitwasse rangeer. Dit bly staan, daar is net één kerk en die reg van dié kerk vind gestalte in die Grundrecht van die kerk. Geen kerk bereik dit volledig en vlekkeloos aan die duskant van die graf nie, maar geen kerk word die strewe en lewe daarna sodoende ontneem nie. Hoe raar dit mag wees, dalk is dit juis dié menslik-aardse eindigheid wat die fokus sterker plaas op die Grundrecht van die kerk, nader besien, op die beoefening van die reg van die kerk vanuit dié vertrekpunt.  

Bronkhorst (1953:17) verwys na Barth se opmerking in die inleiding van die eerste deel van sy Dogmatiek:

Als ik op mijn levensweg terug zie, dan kom ik mij zelf voor als iemand, die, in een donkere kerktoren tastend omhoog klimt en daarbij plotseling, zonder er zelf ook maar iets van te vermoeden inplaats van de leuning een touw in handen krijgt, dat het klokketouw blijkt te zijn. Tot zijn schrik hoort hij plotseling hoe de grote klok gaat luiden en werkelijk niet voor hem alleen. Wat kan hij anders doen dan zo voorzichtig mogelijk verder klimmen?

 

Literatuurverwysings

  • Barth, K., 1964, Die Kirchliche Dogmatik, IV/2, EVZ, Zürich.
  • Barth, K., 1964b, Credo, Hodder & Stoughton, London.
  • Barth, K., 1967, Church Dogmatics, IV/2, T&T Clark, Edinburgh.
  • Bender, K.J., 2013, Karl Barth’s Christological Ecclesiology, Cascade, Oregon.
  • Bronkhorst, A.J., 1953, Karl Barth, Boekencentrum, ‘’s-Gravenhage.
  • Haitjema, T.L., 1951, Nederlands Hervormd Kerkrecht, Callenbach, Nijkerk.
  • Kersten, G.H., 1980, Kerkelijk Handboekje, De Banier, Utrecht.
  • Kupisch, K., 1972, Karl Barth, Ten Have, Baarn.
  • Plomp, J., 1992, ‘Kerk en recht’, in W. van ’t Spijker en L.C. van Drimmelen (red.), Inleiding tot de studie van het Kerkrecht,32-42, kok, Kampen.
  • Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, Deel 1, HAUM, Pretoria / Kaapstad.
  • Strauss, P., 2010, Kerk en orde vandag: met die klem op die NG Kerk, SUN MeDIA, Bloemfontein.
  • Stoevesandt, H., 2016, ‘Eduard Thurneysen’, in M. Beintker (Hg.), Barth Handbuch, pp. 49-53, Mohr Siebeck, Tübingen.
  • Van Ruler, A.A., 1952, Bijzonder en algemeen ambt, Callenbach, Nijkerk.
  • Van Ruler, A.A., 1972, ‘De orde der kerk’, Theologisch werk, V, pp.124-136, Calenbach, Nijkerk.
  • Van Wyk, B.J., 1991, Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip, Kital, Pretoria.
  • Van Wyk, B.J., 2017, ‘Efesiërs 1:14 en 1:22, 23 as ’n skriftuurlike maksimum minimum vir die ekklesiologie’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), a4073. https://doi. org/10.4102/hts.v73i1.4073
  • Weber, O., 1963, Karl Barth’s Kirchliche Dogmatik, Neukirchener, Darmstadt.

 

 Eindnotas

[i] “it is nothing more nor less than the whole human being in action of the Christian community as a provisional representation of the sanctification of man as it has taken place in Jesus Christ” (Barth 1967:677).

[ii] “By Church law … we mean the order which on its own basic law and in obedience to its Lord the community has to seek and establish and execute of itself” (Barth 1967:689).

[iii] “a law of service. … law within an order of ministry” (Barth 1967:690).

[iv] “He is the King and Lord as the One who serves His father, and therefore His own and all men. …He is the Lord as He is first the servant of God and all others. … It is as the humiliated Son of God that He is the exalted Son of Man” (Barth 1967:690).

[v] “legitimate demanding can be only the demanding of that which is necessary to fulfil the common requirement of service. … The rule can be only that which in itself and as such is service – and only service” (Barth 1967:691).

[vi] “Church law has an original connection with the particular happening of Christian worship” (Barth 1967:695).

[vii] “Thus from its liturgical root Church law must be understood as a law which (1) is ordered by divine service; (2) is continually to be found again in it; and (3) has itself the task of ordering it” (Barth 1967:698).

[viii] “This common response in the common hearing of the Word of God, the confession commonly spoken and received in the renewal of the common knowledge, is the first element in the public worship of Christians” (Barth 1967:700).

[ix] “In this way it will show that its law is true law; a law which on the basis of the Gospel proclaims the Gospel” (Barth 1967:726).

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap