Dit was eintlik al jare lank ’n gegewe dat die SA Reserwebank die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika Gemeente Pretoria se ou 1904-kerkgebou in Du Toitstraat sou insluk. Die kerkperseel het prominent ingesny in die moderne graniettoring se daarwees.
Die feit dat die kerkgebou wetlik beskerm word, het die bewaring van die struktuur vergemaklik. Die feit dat die kerkgebou as museum bewaar word, is ’n pluimpie, want daar kon kantore in en om die kerk gekonstrueer word. Hierdie prominente ligging van die Christendom in die hoofstad sal hopelik nog vir dekades (eeue) voortgaan.
Op 3 Mei 2022 het ’n argiteksvoorlegging plaasgevind van die nuwe Suid-Afrikaanse Reserwebankmuseum waarby die historiese Du Toitstraat-kerkgebou geïnkorporeer word. Die voorlegging by die Pretoria Instituut van Argitekte (PIA) in Tramstraat, Nieu Muckleneuk, was professioneel en puik! Verskeie verteenwoordigers van twee argiteksfirmas, ’n erfenisagentskap, NHKA Pretoriagemeente, SP Engelbrecht-museum, NHKA-argief, Tshwane Metro, eiendomsontwikkelaars in die middestad, en meer was teenwoordig.
Die werk het al ver gevorder. Die projek sal voltooi wees teen einde 2024. Dit gaan beslis ’n museum wees wat ons almal móét besoek: kunsgalery, bankmuseum en gerestoureerde 1904-kerkgebou met gerestoureerde orrel. Begeleide toere sal per afspraak geskied.
Die ou konsistorie word (ongelukkig) afgebreek. Dis mos aan die agterkant van die kansel, en daar word nou ’n glasmuur opgerig. Moontlik sal ’n venster en ’n stuk mat aan die SP Engelbrecht-museum geskenk word – die versoek word aan die erfeniskonsultant gerig. Twee nuwe deure gee toegang (met ’n hysbak) tot die galerye vanaf die bankmuseum en kunsgalery. Oral sal alles ook vir rolstoele toeganklik wees. Sonlig deur ’n glas dakvenster sal agter die kansel treffende beligting vir die kerkruimte gee.
Weerskante van en veral voor die kerkgebou aan Du Toitstraat se kant word ’n pragtige tuin beplan. Ongeveer waar die ou Begemann-saal was, kom ’n koffiewinkel wat met glasmure sal uitkyk op die kerkgebou se wesaansig en sal uitloop in die tuin. Daar sal geen toegang vanaf Du Toitstraat wees nie en ook nie van enige van die ou kerkdeure nie. Binnekant sal temperatuurbeheer toegepas word. Die hoofingang na die museum is vanuit Kerkstraat / Helen Joseph.
Die ou NHG-woonstelblok op die hoek (later bekend as Ken’s Court) se straataansig is behou as dop, maar die woonstelle is afgebreek. Daar kom ’n heel nuwe gebou wat deel is van die bankmuseum en kunsgalery. Ook die laaste kerksaaltjie agter die konsistorie is reeds afgebreek.
Die bate van ’n kultuurskat word ten beste bewaar onder streng sekuriteit. Die kerkgebou word in besonderhede mooi gerestoureer. Beter vir die Ou Moeder van ons kon ons nie gevra het nie!
(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)
