Oorlog was nog nooit ’n mooi ervaring nie. Die oorlog tussen Israel en Hamas in die Gasastreek is ook nie ’n uitsondering nie. Sonder om op die politieke agtergrond van die oorlog in te gaan, kan daarmee volstaan word dat tussen 7 Oktober 2023 en die begin van 2024 in die media berig is dat reeds 300 000 huise en 70% van die infrastruktuur van Gasa onherstelbaar verwoes is, en daar meer as 24 000 mense tussen Israel en in Gasa dood is. Hierdie inligting net ter agtergrond.
Vanuit ’n argeologiese oogpunt is die hartseer dat ook 104 argeologiese terreine onherstelbaar verwoes is.
Historiese oorsig
Gasa is nie ’n groot gebied nie. Die gebied is maar 365 vierkante kilometer groot. Oppervlakgewys is Gasa 41 kilometer lank en 13 kilometer breed op sy wydste punt en 5 kilometer op sy smalste punt. Realisties gesien, is die gebied slegs ’n kwart van Londen se grootte, óf in ’n Suid-Afrikaanse konteks gemeet, ’n tiende van die grootte van Kaapstad.
In die Bybel word 23 keer na Gasa verwys: in die Ou Testament 22 keer en in die Nuwe Testament slegs een keer. Die enkele keer dat in die Nuwe Testament na Gasa verwys word, word vertel hoe ’n engel vir Filippus na Gasa gestuur het (Hand 8: 26).
In die Ou Testament word die gebied beskryf as die omgewing waar Simson opgetree het en uiteindelik dood is (Rig 16: 1-2, 21). Die Filistyne het daar gewoon. Hulle was van die seevolkere wat kulturele bande met die Aegeïese nasies gehad het en groot probleme aan die ooste- en noordoostelike kant van die Middellandse See veroorsaak het.
Die vyf bekendste stede wat in die Bybel as Filistynse nedersettings beskryf word, is Askelon, Asdod, Gasa, Gat en Ekron. Die profete Amos en Sefanja het in hul profetiese redes aangekondig dat Gasa ’n verlate plek sal word (Am 1: 6-7; Sef 2: 4). Gasa het ’n lang geskiedenis wat tot so ver as 2 000 jaar voor Christus nagespeur kan word. Vóór die Filistynse bestting van die gebied, het die Kanaäniete daar gewoon.
Die Egiptiese farao Ramesses III, wat van 26 Maart 1186 tot 15 April 1155 vC regeer het, moes by geleentheid radikale militêre stappe neem om teen die Filistyne in Gasa op te tree om hul voortdurende strooptogte te stuit. Daarna het Egipte ongeveer 350 jaar lank beheer oor die gebied uitgeoefen. Gedurende die regeringstyd van koning Dawid, het Israel beheer oor die gebied verkry. In 730 vC het Assirië daaroor regeer. Die Babiloniërs het daaroor regeer, asook die Perse.
In 332 vC het Alexander die Grote die land ingeneem en ’n groot aantal inwoners tydens die besetting doodgemaak. Daarna het die gebied ’n Hellenistiese kolonie geword. Ná die dood van Alexander die Grote het die beheer van Gasa voortdurend gewissel tussen die Seleuciede regering in Sirië en die Ptolemeuse dinastie wat in beheer van Egipte was, totdat die Hasmoniese dinastie in 96 vC die gebied beset het. Gedurende die Romeinse tyd is Gasa deur die Romeinse generaal Pompei Magnus opgebou; hy het die gebied later aan Herodes die Grote oorhandig.
Die Kerk van Sint Porfirius
Die 104 argeologiese terreine wat ongelukkig onherstelbaar met die bombardement in die oorlog verwoes is, sluit ook ’n aantal Bybelse plekke in, ou Bisantynse kerke en historiese Islamitiese moskees, soos die groot Omari-moskee.
Een van die kerke uit die Bisantynse era wat feitlik verwoes is, is die kerk van Sint Porfirius, ’n kerk in die Grieks-Ortodokse Patriargale-tradisie van Jerusalem. Dié kerk, wat uit die vyfde eeu dateer en beskou word as die derde oudste kerk in die wêreld, was steeds in gebruik. Baie Christene en inwoners van Gasa het in die kerk gaan skuil toe die bombardement in die gebied begin het. 20 Christene en sowat 70 Palestyne van die stad is tydens die bombardement daar oorlede. (Sien foto, © Ali Jadallah/Anadolu, 2024)
Vanweë die gedurige spanning in die gebied is reeds so vroeg as in 1954 met die Den Haag Konvensie ’n ooreenkoms tussen die Palestyne en Israel gesluit dat hierdie historiese artefakte beskerm en bewaar sal bly. Die ooreenkoms is in 2021 herbevestig, en ter wille van die beskerming en bewaring van die historiese nalatenskap is die argeologiese terreine as wêrelderfenis geregistreer deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (afgekort bekend as UNESCO vir The United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization).
Oor oorlog is daar nie altyd beheer nie, wat ’n mens in ’n sekere sin kan verstaan. Die nadraai van die oorlog is ongelukkig dat hierdie ooreenkoms ook getref is en daar nou 104 argeologiese terreine in die proses vernietig is. Die blaam vir die vernietiging van die artefakte kan nie net voor een deur gelê word nie. Ingevolge internasionale wetgewing word dit as ’n oortreding beskou om erfenisterreine vir militêre gebruik aan te wend, óf as teikens te merk.
Die kerk van Sint Porfirius is in 425 nC gestig. Die eerste gebou is later tussen 1150 en 1160 deur die kruisvaarders herbou en die naam van die kerk is gewy aan Porfirius, wat die eerste biskop van die kerk was. ’n Gedeelte van die gebou is later ook aan die Maagd Maria gewy. In 1856 is die gebou gerestoureer en selfs met nuwe geboue daaraan vernuwe.
Die gebou wat deur die kruisvaarders gebou is, is bo-oor die struktuur van die eerste en oorspronklike gebou opgerig. Die kerk het ’n langwerpige formasie vertoon met ’n halfkoepelvormige dak. Oorspronklik het die kerk se vloer aan die suidelike kant 1,8 meter onder die grondoppervlak gelê, terwyl die noordelike kant 3,0 meter onder die grondoppervlak was.
Die gebou wat die kruisvaarders oor die oorspronklike struktuur gebou het en wat nou verwoes is, was 22,9 meter lank en 8,9 meter breed. Die kerk het drie ingange gehad. Die hoofingang was aan die westekant geleë en het oor ’n portaal beskik met drie marmerpilare wat twee boë ondersteun het.
Die oorlog het sekerlik ’n lang en uiters ingewikkelde politieke aanloop. ’n Mens kan maar net hoop dat die skade en verlies in die voortslepende oorlog nie te ver sal uitkring en nóg erfenisterreine sal vernietig nie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)