Ek sit in my spreekkamer en wonder oor die laaste paar jaar. Wat was die dinge wat mense se lewens oor die algemeen beïnvloed het? Die een ding wat baie probleme in mense se lewens veroorsaak, is onsekerheid. Of dit nou huweliksprobleme, werksprobleme, trauma of verlies is, dit kom grootliks neer op die ervaring van onsekerheid.

Hoe gaan my lewe môre lyk? My besigheid – gaan ek nog geld inkry? Gaan my kinders in ons land universiteit toe kan gaan? Die antwoorde bly onseker. Daar is meer vrae as wat ek kan opnoem, maar die antwoord op die meeste daarvan sal onseker wees. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek wil glad nie oor die negatiewe dinge skryf nie. Ek glo dat daar twee dinge is wat absoluut teenoor mekaar staan. Dit is ook die twee dinge wat ek daagliks vir mense sê: Alhoewel ons onsekerheid het, het ons ook hoop. Onsekerheid teenoor hoop is die boodskap van die kerk aan die wêreld. Wanneer ek onseker is, weet ek nie wat gaan gebeur nie. Maar met hoop glo ons dat wat ook al gebeur, ons dit sal kan hanteer.

Tydens terapie, in my prediking en in my persoonlike lewe bly hoop vir my die kern van alles. As ek nie drome en verwagtinge vir môre het nie, is ek sonder twyfel hopeloos. Ek dink hopeloosheid is seker die grootste pandemie van vandag. Ons algemene daaglikse ervaring van onsekerheid beantwoord soveel vrae: Waarom is so baie mense depressief? Hoekom skryf ek meer anti-angs-medikasie voor as enigiets anders? Want ons sukkel om die onsekerheid te verwerk. So baie mense sê, ek kan nie meer nie, en ek verstaan dit ook. Ons kan, logies gesproke, net die dag van môre probeer voorspel as ons kyk wat nou rondom ons gebeur, en die prentjie is lelik. As die lewe vir ons min tot geen betekenis het nie, wat sal ons dan help?

Hoop word gedefinieer as ’n verwagting of vooruitsig dat iets goeds gaan gebeur of dat ek iets goeds verwag (HAT). Maar dit is natuurlik moeilik om positief oor die toekoms te wees as dit nou amper ondraaglik onseker is. Of is dit? In hul boek A Psychology of Hope skryf Kalman J Kaplan en Matthew B Schwartz dat God in elke aspek van sy kinders se lewens betrokke is. Al sou dit kon wees dat ons geen ondersteuning in die wêreld het nie, sal daar steeds hoop wees. God beskerm steeds sy kinders. Hy help ons steeds om te groei binne ’n onsekere wêreld. Hy sal ons steeds heel maak, al is die onsekerheid besig om ons in ons wese weg te vreet.

Maar hoe werk die Here met ons onsekerheid, veral as ons nie nou God se werk in die wêreld kan sien nie? Ek glo dat God agter die skerms aan die werk is. Ons sien dit nie, maar tog werk Hy elke dag vir ons verlossing en tot sy eer.

’n Bybelse verhaal wat ons iets van God se werking met mense se onsekerheid vertel, is die verhaal van Jona. Aan die begin van die verhaal roep God vir Jona om na Nineve toe te gaan en daar vir die mense te sê dat hulle hulself moet bekeer. Maar Jona hardloop weg omdat hy die onsekerheid van wat kan gebeur, nie wou trotseer nie. Nineve was ’n stad vol wrede en onvoorspelbare mense. Hy vlug op ’n boot na Joppe, net om weer die onsekerheid van sy lewe in die storm op die see te ervaar. Hy word oorboord gegooi, maar God wys sy genade deur hom te red.

Ek glo dat God baie empatie met Jona gehad het. Natuurlik sou Jona onseker gewees het. As mense hou ons glad nie van onsekerheid nie. Tog is die eindresultaat hoop wat groei uit onsekerheid. Uiteindelik is dit God wat altyd op die een of ander wyse, soms bo ons menslike verstand, ’n positiewe resultaat bewerkstellig.

Die rol van die kerk

Wat is die rol van die kerk in die onsekere tyd waarin ons leef? Een van die eerste dinge wat ek gewoonlik van my pasiënte wil weet, is: Wie is jou ondersteuningstelsel? Die hartseer is dat só baie mense nie ’n enkele persoon het om hulle by te staan nie. As dit by onsekerheid kom, is eensaamheid soos petrol op die vuur. As ons in so ’n situasie beland, kan ons onmoontlik staande bly. Die kerk is per definisie ’n samekoms van mense met ’n gemeenskaplike doel. Dit is mense wat redding in die Here wil vind. Dit maak elke gelowige ’n draer van hoop. Dalk het iemand die hoop wat ek nie sien nie. Dalk sien iemand die werk van die Here raak wat ek nie raaksien nie.

Belangrikste nog, ek is nie die enigste persoon wat die onsekerheid in die wêreld moet trotseer nie. Ons help mekaar om ons hoop op die Here te vestig. Onthou dat God, anders as ons, weet wat die toekoms inhou. Die Here is in werklikheid ons sekerheid in ’n onsekere wêreld. Dit weet ek: Die Here sal nooit sy kerk verlaat nie.

As kerk moet ons wegbeweeg van individualisme en effektief kerk wees. Ja, natuurlik is ons individuele spiritualiteit lewensbelangrik. Maar die uitlewing van gemeenskaplikheid is ’n imperatief. Meer en meer moet ons besef dat saamwees en egte verhoudings inderdaad raar en uiters kosbaar is. Dit is die gedagte dat ek ook mens is deur my spirituele kontak met ander mense.

Soos in die woorde van Paulus in Romeine 15: 13: Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

(Dr Gerhard Niemann, beroepafwagtend, is ’n pastorale en sielkundige berader in privaatpraktyk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap