Uit onlangse formele en informele gesprekke met predikante en lidmate blyk dit dat die impak van die virus geen onderskeid tussen hulle tref nie. Voor die impak van die virus staan almal as gelykes. Alhoewel predikante en lidmate verskillende rolle aanneem in die Kerk, staan almal in ’n verhouding met God, hulself en ander. Al geld verskeie beroepe en beroepstatus, staan almal in ’n verhouding met werk en/of roepingsuitlewing.

Die punt wat ek hier wil maak, is dat ons almal net mense is, afgesien van ons nering en bepaalde roepingsuitlewing. Tog mag ons die virus se impak verskillend ervaar.

Die oorskakeling na telewerk veroorsaak dat die veilige ruimtes vir baie mense nou ’n verlengstuk geword het van hul werk – spieëlkaste en etenstafels word ingespan as werkruimtes. Die grootste impak is die oorskryding van grense: Die skeiding tussen werk en huis verskraal, die werkdag raak langer, privaatheid verskraal en alombeskikbaarheid word vereis. Die werklewering vanuit die gesinskonteks veroorsaak dat mense al hoe meer rollekonflik en verlaagde produktiwiteit ervaar. Tot onlangs is van ouers verwag om medeverantwoordelik te wees vir tuisonderrig en kinderversorging tydens werkure. Geskeide ouers met gedeelde familieverantwoordelikhede mag hulself in ’n magstryd bevind oor toegang tot kinders en wat die beste is vir hul kinders.

Klagtes oor toenemende probleme en spanning kom voor. Mense wat gewoonlik hul werk kon voltooi, ervaar frustrasie, doelloosheid en rusteloosheid omdat hulle verhoed word om take uit te voer (byvoorbeeld om huis- en hospitaalbesoek te doen) en onder dwang hul maniere van werk moet aanpas (byvoorbeeld met die stroom van dienste). Selfs die nakoming van persoonlike beplanning en skedules blyk te glip; mense voel moontlik asof hulle beheer verloor, en hulle ervaar groter angstigheid.

Verminderde sosiale kontak, eensaamheid, verlaagde selfbeeld en motivering, oningeligtheid en gebrekkige terugvoer (impak van eredienste en inagneming van “houvan”-reaksies op Facebook/YouTube) vererger gevoelens van isolasie en gebrekkige prestasie. Toenemende druk om meer beskikbaar te wees as gevolg van die toeganklikheid van tegnologie plaas druk op verhoudings met gesinslede en kollegas. Beperkte beskikbaarheid tot hulpbronne en tegnologie kan lei tot frustrasie, opstandigheid en isolasie.

Sommige geskeide ouers mag geweldige frustrasie beleef met ontoeganklikheid van sekere wetlike prosesse. Onrealistiese verwagtinge plaas verdere druk op persone en hul vermoë om effektief te bestuur en hul selfbeeld intak te hou.

Daar is ook genoem dat die geleidelike opheffing van die inperking en die vryliker beweging van mense vrees veroorsaak dat ’n mens ander so siek kan maak dat hulle dalk kan sterf. Hierdie vrees gaan moontlik gepaard met ervarings van skaamte en spyt. Sommige beleef ook eksistensiële krisisse, met ’n belewenis van geloofsvertwyfeling, terwyl ander dit beskryf as geloofsversterkend.

Gesinslede word opgeneem in hospitale vir normale prosedures, Covid-19-isolasie en behandeling. Siekes en geliefdes beleef geïntensiveerde afsondering, isolasie en onbereikbaarheid. Alhoewel die meerderheid ontslaan word, sterf sommige gesinslede in isolasie, sonder ’n groet of handdruk. Verliese word intens ervaar en harte voel oorweldig deur die oop-einde-afsterwe. Party gesinne begrawe geliefdes so gou moontlik. Ander stel die roudienste uit vir maande om hul geliefde se lewe te kan vier saam met vriende; gevolglik kan uitgestelde verlies en rou beleef word.

Aan die ander kant van die spektrum word huweliksbevestigings versnel, in eenvoud; groot bly die vreugde, tog dalk met ’n mate van gedemptheid. Predikante en lidmate word gedwing om aan te pas by die verandering en om hul verwagtinge van “hoe die lewe is en moet wees” aan te pas, hoewel moontlik uit protes en met weerstand in reaksie op hul ervaarde verliese.

Kerkrade en ondernemings kan hier gesien word as werkgewers; predikante en lidmate kan dus moontlik gesien word as werknemers binne die konteks van georganiseerde werk. Werkgewers kan toenemend druk toepas op werknemers om die vooruitgang van die organisme/organisasie te verseker. Binne die konteks van die kerk, in gemeentes waar die herder-kudde-model, teenoor die liggaamsmodel, toegepas word, kan verskillende gedrag verwag word. Binne die herder-kudde-werkruimte kan toenemende druk deur predikante ervaar word, want hulle moet self die bediening laat vlot, sonder samewerking met en ondersteuning deur die kerkraad. Binne die liggaamsmodel kan moontlik minder druk ervaar word, want daar is ’n span wat saam dink en saam besluit; dit verlig moontlik die lading van die predikant, mits daar goeie kollegiale verhoudings bestaan.

Oorweldiging binne enkelwerkruimtes teenoor multipredikantwerkruimtes mag verskillend lyk. Die vlak van vertroue binne ringe kan die ondersteuning aan die predikant aanhelp of verminder. Die aard van verhoudinge binne ’n kerkraad kan die predikant ondersteun of verdere druk op hom of haar plaas. In werk buite die kerk kan lidmate se salaris verminder word, party verloor hul werk, herstrukturering vind plaas en produktiwiteit word nagestreef. Predikante sien wat gebeur met gemeentelede, en mag moontlik selfs begin wonder en twyfel oor hul eie finansiële en werkruimteveiligheid. Die deel en oordrag van ervaring en wedersydse onrealistiese doelwitte kan aanleiding gee tot onsekerheid, frustrasie, angstigheid, skaamte, vrees en woede.

Vanuit ’n werkgewer-werknemer-konteks kan die impak van Covid-19 lei tot nuwe en/of voortgesette ervarings van uitbranding, oorlading, angstigheid, spanning en depressie. Mense wat reeds in ’n verhouding met psigologiese probleme staan, mag moontlik meer kwesbaar voel en intenser emosies ervaar. Werkgewers is verantwoordelik om te verseker dat werkomgewings gesond bly. Dit is nie meer goed genoeg om te sê dat werknemers mediese fondse het nie. Die werkgewers moet programme in plek stel om die kultuur gesond en opbouend te hou.

Binne die gemeenskap waarin ons leef, is dit nie vreemd dat mense in stilte swaarkry nie – hoe hartseer is dit nie? Die samelewing se diskoerse van sterk wees, moet presteer, ek is reg, mense manipuleer net oortuig mense moontlik om nie professionele hulp te kry vir emosionele, sosiale en psigologiese probleme nie. Mense vind dit soms draagliker om in stilte swaar te kry as om vir hulp te vra – hoe tragies is dit nie? Die impak van stigmatisering en magteloosheid mag moontlik vir sommige net te veel wees. Onveilige werkruimtes, en gebrekkige vertroue en ondersteuning binne verhoudings (gesins- en/of werkkontekste), kan isolasie vererger, wat tragiese gevolge en verlies aan lewe kan inhou. Beradingsdienste is beskikbaar, mediese fondse in plek, en tog kies mense om nie daarvan gebruik te maak nie. Luister mooi na wat jou gesinslede en kollegas sê en op Facebook plaas – dit kan ’n lewe red!

Indien jy bewus word van individue wat in stilte swaarkry, moedig hulle aan om professionele hulp te kry, byvoorbeeld om ’n berader/sielkundige of mediese dokter/psigiater te besoek vir opname. Of neem die persoon na ’n hospitaal se Ongevalle-afdeling vir opname en verdere verwysing na ’n kliniek. Toegang tot klinieke word makliker verkry met die verwysing van ’n mediese dokter.

Effektiewe bediening en kerkwees verg selfsorg en dan die versorging van ander. Sit eers jou masker op voordat jy ander help geld vir almal. Praat met professionele mense en geliefdes oor jou emosies. Fokus op wat binne jou beheer is en skep aangepaste roetines. Leef bewustelik deur gegrond te bly met asemhalings- en ontspanningsoefeninge.

Kontak my by info@resourcecentre.co.za om jou te verwys na ’n berader. Kyk gerus na die reeks op Glomedia.tv wat handel oor die impak van Covid-19 op die mens se basiese behoeftes.

(Elna Esterhuizen is ’n bedryfsielkundige, pastorale narratiewe berader van Pretoria en lidmaat van Gemeente Swartkop)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap