Die kwessie van transformasie behoort voortdurend in die NHKA aandag te kry. In hierdie lig het die 72ste Algemene Kerkvergadering (2019) gepoog om deur bepaalde besluite transformasie te bewerkstellig na aanleiding van ’n besluit van die 71ste AKV.
Die 71ste AKV het naamlik besluit om homoseksuele mense in die Kerk te “verwelkom”, te “vertroos” en te “ondersteun”. Die besluit was ’n bevestiging van ’n teologiese oortuiging of beginsel oor die aard van die kerk: dat die kerk van Jesus Christus inklusief is.
In die Hervormde Kerk funksioneer ’n besluit van die AKV as uitspraak oor die Kerk se identiteit en werkwyse, wat gemeentes van die Kerk insluit. Wanneer hierdie besluite aan gemeentes oorgedra word, kan die fynere aspekte van die interpretasie van teologiese oortuigings of beginsels moontlik verlore raak. Amptelike besluite wil struktuur verleen aan die daaglikse werksaamhede van die Kerk en gemeentes, en verder ook teologiese koers aandui en die Kerk se opdrag in elke nuwe tydsgewrig verwoord.
Die AKV worstel egter dikwels met die praktiese uitvoering van besluite. Dit geld ook vir besluite met betrekking tot seksualiteit.
’n Besluit behoort op die lang duur verandering en transformasie te verwesenlik. Voortdurende gesprek en nadenke is dus nodig – om voortdurend te bly “hervorm”. Daar moet voortdurend nuwe maniere ontdek word om die Bybelse boodskap (evangelie) in nuwe kontekste te verwoord.
Die afgelope meer as 40 jaar is daar veral twee teologiese aksente (bewegings) wat vir die NHKA van waarde kan wees ten opsigte van die gerigtheid en uiteindelike impak en uitvoering van bepaalde besluite oor die Kerk se wese. Die eerste beweging wat hier ter sprake is, is die oplewing in en toename van teologiese bydraes oor geloof in ’n Trinitariese God en spesifiek die Triniteitsleer. Vir die vorming van die Kerk is die Kerk altyd afhanklik van die Woord van God. Op grond hiervan bely die Kerk geloof in die Trinitariese God, en daarom kan die Kerk kwalik gedy sonder ’n diep gelowige nadenke oor die inhoud en impak van die Kerk se belydenis en leer oor die Triniteit. Hierdie belydenis is diep gewortel in die kerklike tradisie.
Die Triniteitsleer is in verskeie teologiese diskoerse aangewend, soos in die vraag oor hoe die Kerk moontlik kan transformeer, hoe om in ’n diverse samelewing te funksioneer, die belang van sosiale geregtigheid, en ’n teologiese antropologie van menswaardigheid. Hierdie oplewing in Trinitariese teologie fokus veral op die verband tussen belydenis en praktyk (etiek), en die wyse waarop belydenis menslike optrede beïnvloed en transformeer.
Die tweede beweging binne die teologie (en religie) wat ongeveer in dieselfde tydperk ontstaan het, lê klem op spiritualiteit: ’n Toenemende aantal mense beskryf hulself as “spiritueel” – ook buite religie en teologie. Spiritualiteit het meervoudige inhoud, maar die kernaspek wat die verskillende elemente saamvoeg, is dat spiritualiteit na innerlike transformasie verwys – in die woorde van Sandra Schneiders: Spirituality refers to the experience of consciously striving to integrate one’s life in terms not of isolation and self-absorption but of self-transcendence toward the ultimate value one perceives.
Mistieke spiritualiteit vorm ook deel van die gesprek, omdat die mistieke gesien word as ’n dieper en permanente lewenswyse waar die reinigende, verhelderende en transformerende krag van God ervaar word, en wat ’n transformasie van bewussyn tot gevolg het.
Die mistici se denke is deeglik en diepgaande Trinitaries. Hulle verstaan die misterie van die Triniteit as iets wat nie abstrak is nie en fokus meer op hoe hulle die misterie van die Triniteit ervaar. Binne hul ervaring van die Triniteit, ervaar hulle die transformerende krag van God en ondergaan hulle self ’n transformasie van bewussyn. Dit behels ’n diep persoonlike, intieme en voortdurende betrokkenheid by die Triniteit.
God se lewe word met elke skepsel gedeel. Die uitleef van ’n Trinitariese geloof vereis ’n lewe soos Jesus Christus geleef het. Dit behels totale vertroue en aanbidding en om te lewe volgens die krag en teenwoordigheid van die Heilige Gees – om heilig en deugsaam te word en ’n bydrae te lewer tot die eenheid van die Christelike gemeenskap en die harmonie tussen al God se skepsels.
Diegene wat so ’n geloof uitleef, staan bekend as die kerk, wat op haar beurt beskryf word as die gemeenskap van God, die liggaam van Christus, en die tempel van die Heilige Gees. Die kerk se bestaan moet die lewe van God weerspieël, die kerk moet ’n “ikoon” van God se lewe wees. Die kerk moet daarom die aard van God beliggaam in haar besigheidslewe, en in haar strukture en praktyke. Die kerk moet dus bestaan as die misterie van persone wat saam woon in gelykheid, wederkerigheid en wedersydse liefde.
Dit is egter slegs die hoop van die kerk. Dit moet nog ’n werklikheid word. Die kerk word dikwels nie ervaar as die plek waar die Samaritaanse vroue en die melaatse tuis is nie, maar eerder as ’n versameling van individue wat betrokke is by private aanbidding. Vir die kerk om ‘n nuwe basis vir eenheid en harmonie te vind en om die ikoon van die Triniteitsleer te wees, moet die kerk volle erkenning gee aan die uniekheid van haar lidmate en die verskeidenheid wat dit bevorder.
Die Triniteitsleer is die Christelike manier om oor God te praat. Die Triniteitsleer is nie ’n plaasvervanger vir God nie, en ook nie ’n volledige teorie oor God nie, maar ’n gids wat die gedeelde lewe van God aandui. Die Triniteitsleer is uit en uit ’n praktiese leer, waarin God ons deel maak van die lewe van harmonie in Christus en die Heilige Gees. Die verhouding van die menslike siel met die Trinitariese God van liefde lei tot ’n diepgaande transformasie, tot ’n nuwe bewussyn van God, die self en alles – ’n nuwe manier van ken en liefhê. Dit is ’n drie-persoon-liefde wat na die menslike persoon op soek is en elkeen uitnooi tot kommunikasie en gemeenskap.
Sowel die herlewing van die belang van die Trinitariese belydenis as die hedendaagse beklemtoning van spiritualiteit is onontbeerlik vir die transformasie van die NHKA, gegewe die Kerk se huidige konteks. ’n Trinitariese spiritualiteit kan die Kerk help om besluite in praktyk en etiek om te sit, omdat dit gaan oor ’n innerlike transformasie (’n outentieke hartsverandering) wat daadwerklik uitgeleef word. Dit kan ook ’n instrument wees vir die Kerk om verby die impasse te beweeg wat veroorsaak word deur besluite waarvan die omvang nie geredelik duidelik is nie.
*** Hierdie artikel is ’n verwerking van ds Lötter se MDiv-skripsie van 2020.
(Ds Lynette Lötter is leraar in Gemeente Montana)