Watter van die twee is die wydste, die breedste, het die grootste moontlikhede – teologiese wetenskap of geloof? Die studente frons. As hulle halfhartig hand opsteek, is die meeste ten gunste van die wetenskap. Die wetenskap is tog wyd en breed. Dit is die wetenskap wat die grense van bestaande denke oorsteek en nuwe moontlikhede oopmaak. Tog?

Maar alle akademiese wetenskappe word bedryf volgens die reëls van daardie wetenskap. Historiese vakke het reëls. Die literatuurwetenskappe het reëls. Tale het reëls. Dit beteken dat wanneer daar in die teologiese wetenskap omgegaan word met die Christelike geskiedenis en die Bybel as literatuur, geskryf in die antieke tale Hebreeus, Aramees en Grieks, die reëls van daardie vakwetenskappe geld.

Die resultate van die akademiese werk van die Jesus Seminar in die VSA het byvoorbeeld opskudding veroorsaak. Maar hulle is ’n historiese groep, gebonde aan die reëls van die historiese wetenskappe. Hulle kan nie uitsprake maak sonder historiese “bewyse” nie. Dit is hul beperking.

Geloof, aan die ander kant, is vry, oop en ruim. Geloof is aan geen menslike denke of akademiese vakreëls ondergeskik nie. Geloof gaan oor insig wat verder strek as verstandelike kennis. As ’n mens die Kategismus-antwoord as vertrekpunt neem, gaan die “kennis”-deel wel ook oor denke en verstandelike insig, maar die “vertroue”-deel is ’n saak van verhouding en die geestelike, spirituele sy van menswees.

Verhoudings is dinamies – hulle volg hul eie unieke koers. Hulle kan nie met reëls en grense ingeperk word nie. Die gees is ruim en oop in dinamiese interaksie met God se Gees. Die gees van die mens en die Gees van God vlieg met vlerke wat nie geknip kan word nie. Niemand kan vir jou sê: Jy kan nie so glo nie. Of: God kan nie vir jou wees wat jy in verhouding tot God beleef nie.

Maar nou is die Christelike geloof nie net ’n persoonlike saak tussen die mens en God nie. Dit is ook ’n saak van gemeenskap, ’n netwerk van verhoudings, mense in interaksie met mekaar. Wanneer mense in groepe saam funksioneer, kan elkeen nie maar net vry hul eie gang gaan nie, want dan sal die groep uitmekaar spat.

Die groot vraag is: Wat sou nodig wees vir mense se persoonlike geloof om vry te kan vlieg én vir die geloofsgemeenskap om so as ’n eenheid in die wêreld te funksioneer dat die kern van waaroor hul saak gaan, duidelik is en ’n positiewe bydrae maak in die wêreld?

Die belydenisse en belydenisskrifte was pogings om duidelik te sê hoe die saak van Christen-gelowiges lyk. Maar juis daardie belydenisse en belydenisskrifte het dikwels in die geskiedenis die rede geword vir konflik, aanklagte, vervolging, skeuring, oorlog en moord. ’n Onverkwiklike geskiedenis wat reëlreg in stryd is met die saak waaroor die Christelike geloof veronderstel is om te gaan.

Lank gelede besoek ek Namibië en woon Sondag die diens in die klein wit Hervormde kerkie in Outjo by. Met die uitstap uit die kerkgebou hoor ek hoe ’n voorste ouderling, geklee in swart pak en wit strikdas, uitvaar oor sy broer en aankondig dat hy die broer gaan skiet. Het hierdie man dan niks gehoor, beleef of ingeneem van wat hy so pas in die erediens meegemaak het nie? Hy en sy broer, verneem ek later, was in twee verskillende politieke partye, vervreem van mekaar. Die politiek in Namibië was warm net voor onafhanklikheid.

Hetsy in die groot wêreldgeskiedenis of in die klein persoonlike geskiedenisse – hoe kan Christen-gelowiges as individue en as geloofsgemeenskappe só lewe dat hulle die saak van hul geloof nie skade doen nie, maar dien?

Dan sal dit moet gaan oor die saak. Want so dikwels gaan dit oor alles behalwe die saak – wanneer die teologie misbruik en gemanipuleer word vir eie gewin, posisie, seggenskap, om die eie denke en maniere van doen op ander af te dwing, mag en die eie gesag te laat geld. Die metode is meesal ’n bakleiery óór teologie en belydenis.

In die proses van lang en indringende teologiese debatte voer, klagtes aanhangig maak, klagteprosedures volg, mede- gelowige teoloë suspendeer, mense uitsluit en ostraseer, word soveel stof opgeskop dat die werklike saak verdoesel word.

Kom ons praat teologie, sê hierdie rubriek. Maar watter soort teologie? Akademiese teologie volgens die reëls van die verskillende wetenskaplike dissiplines? Bakleiteologie om mag te laat geld in kerklike instellings? Of wil ons as gelowiges fokus op die saak van Jesus wanneer ons teologie nie net op ’n opbouende manier wil práát nie maar ook wil léwe in ons kerk- en gelowige wees.

Sentraal tot ons geloofslewe is Jesus, sy lewe en manier van doen. Historiese of Nuwe Testamentiese bronne kon Hom nie vasvang nie. Hulle kon net óór Hom getuig, soms eers baie lank na sy lewe op aarde. Hulle kon net getuig van hul eie verstaan van Hom. Hulle het geskryf vir die mense van hul tyd in die taal en binne die kultuur van hul tyd. Soms bots hul getuienisse. Soms vul dit mekaar aan.

Gewone gelowiges vandag ontmoet en ervaar Jesus deur hierdie getuienisse van lank gelede. Die uitdaging is om vir jouself uit te maak wie Jesus vir jou is en hoe Jesus in jou lewe sal funksioneer, sê Albert Schweitzer, die teoloog, Nuwe Testamentikus en mediese dokter wat in Afrika gewerk het. Die soeke na Jesus kan baie beteken in die lewe van ’n gelowige. Elkeen ontdek vir hulself wie Jesus is in hul lewe van hier en nou. Schweitzer sê verder: Hoe mense hulle besig hou met Jesus, sê meer oor hulself as oor die historiese Jesus.

Die geskiedenis is volgens die filosoof Hans-Georg Gadamer vir elke era soos ’n fragment wat in die donker afgebreek is. Ons “het” nie die geskiedenis helder en duidelik voor oë nie. Al die wetenskappe wat hulle besig hou met Jesus, al die teologie wat al oor Hom geskryf is, vul baie boeke. Maar ons “het” Jesus en sy geskiedenis nie. Dit maak egter nie die saak van Jesus vir ons onbereikbaar, onverstaanbaar of onduidelik nie.

Ons verstaan die kern: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en kragte, en jou naaste soos jouself. Met die getuienisse wat ons oor Jesus het, weet ons wie Hy almal as sy “naaste” beskou het en hoe Hy met hulle omgegaan het. Sy lewe en manier van doen het duidelik gewys wat liefhê soos jouself beteken. Dit is glad nie dat ons nie die saak van Jesus verstaan nie.

Die ouderling van Outjo het die Sondagoggend die Groot Gebod gehoor. Maar wat het hy daarmee gemaak?

Ons hoor en verstaan wat die Groot Gebod beteken, want Jesus se lewe het ons dit gewys. Wat maak ons nou daarmee? En wat sê dit oor ons?

(Prof Yolanda Dreyer is emerituspredikant en leraar by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap