Die Japannese kunsvorm Kintsugi is die kuns om die krake in gebreekte potte en bakke met goud te herstel. Die resultaat is ’n pot en bak wat baie sterker is en meer waardevol is as die oorspronklike kunswerk.
Kintsugi is sedert die laat 1600’s en vroeë 1700’s in Japan te vind en die oorsprong daarvan gaan honderde jare terug na die Muromachi-periode van 1336 tot 1573.
Die derde Sjogoen-leier van daardie era, Ashikaga Yoshimitsu (1358-1408), het glo sy gunstelingteepot gebreek. Die teepot was uniek en kon glad nie vervang word nie. In plaas daarvan om die teepot weg te gooi, is dit China toe gestuur vir ’n vervanging of om reggemaak te word. Die teepot is herstel en die stukke is bymekaar gehou deur metaalkrammetjies, wat in daardie tyd ’n baie algemene vorm van herstel was.
Ashikaga was glad nie tevrede met die eindresultaat nie en het sy eie kunstenaars opdrag gegee om ’n metode te vind om iets mooi te maak van die gebreekte, beskadigde teepot sonder om die skade te probeer verberg.
As ons kyk na ons lewens, weet ons dat die lewe hard kan wees en die terugslae ons drome kan laat verdwyn, wat ons laat met skerwe van onsself, en ons drome waardeloos en nutteloos kan laat lyk. Wanneer ons gekonfronteer word met die druk en teëspoed van ons alledaagse lewens, kan mislukkings hul tol eis, maar dit is hier waar ons moet leer hoe om teleurstellings te hanteer en onvolmaaktheid te omarm.
Ons as Christene weet dat ons in ons sonde, mislukkings en onvolmaaktheid voor God staan. Hy vergewe ons ons oortredinge en skenk ons sy genade en vrede. In Johannes 15: 16 lees ons: Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies… God gee sy genade aan ons uit liefde omdat Hy wil.
Ons geestesgesondheid bly ’n prioriteit te midde van ons daaglikse uitdagings vol hoogte- en laagtepunte. Kintsugi het vir die wêreld kom wys dat skoonheid gevind word in onvolmaaktheid. Die skade word gesien as ’n geleentheid om hierdie filosofie uit te leef en hierdie denkvorm toe te pas wanneer mislukking inkruip in ons lewens.
Kintsugi beteken letterlik om met goud te las – in plaas daarvan dat ’n gebreekte bak weggegooi word, word dit eerder herstel deur ’n tipe boomgom te gebruik om die stukke te las, waarna die gelaste krake met goud geverf word. Daar word dus nie gepoog om die skade toe te verf nie, maar dit uit te lig.
Kintsugi maak iets nuut uit die gebreekte pot en bak, wat ’n nuwe dimensie van skoonheid bevat. Die onvolmaakte bak met die goue krake word mooi, uniek en baie spesiaal.
Ons moet aanvaar dat onvolmaaktheid deel is van ons lewens en dat daar konstante verandering en tydelikheid gaan wees in ons wêreld – dit is die realiteit.
Ons geloof in ’n volmaakte God wat onveranderlik en ewig is, is ook ’n realiteit waaraan ons in ons daaglikse lewe moet vashou.
Wanneer ons gebroke mense om ons raaksien of self gebroke is, besef ons dat Jesus Christus ons ook in ons gebrokenheid raaksien én aanvaar het én liefhet.
Wat sien jy raak elke keer wanneer jy na ’n gelaste en herstelde bak kyk? Sien jy die skade van die ou bak raak, of sien jy die nuwe, unieke en sterker bak?
Ons krag lê daarin om die onvolmaaktheid van mense en dinge te aanvaar, te omarm en te vier. Of jy deur ’n mislukte verhouding is, nie bevordering gekry het by die werk nie, of mislukking deel is van jou lewe, jy kan die stukkies van jou verlies in iets nuut verander.
Ons almal dra geestelike littekens en is nie perfek nie, en ons is dalk nie op ’n plek waar ons gedink het ons gaan wees nie, maar dit sê iets van hoe jy gegroei het as mens, jou wilskrag, deursettingsvermoë en geloof! Die verlede is ’n plek om uit te leer, nie om in te leef nie! Groei deur jou moeilike omstandighede en sien die skoonheid van die onvolmaaktheid raak!
Paasfees het vir ons kom wys dat jy nooit hoef te wonder oor God se liefde vir jou as onvolmaakte mens nie – sien die kruis raak en jy sal nooit weer twyfel nie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)
Voorsitter: NHSV Hoofbestuur