Mark Twain het eenmaal gesê: Die berigte oor my dood word erg oordryf. Dit kan waarskynlik ook van Afrikaans gesê word – want doodkry is min…
In die afgelope byna 100 jaar sedert dit amptelike status ontvang het in 1925, het die eertydse kombuistaal ver gevorder. In die vorige uitgawe van Die Hervormer bied ds David Barnard ’n historiese uiteensetting van die Bybel in Afrikaans. In hierdie uitgawe herinner ds Johan Bezuidenhout ons aan die 90-jaar-viering vandeesmaand van die ingebruikneming van die eerste Afrikaanse Bybels op 27 Augustus 1933.
Daar word deesdae opnuut groot gewag gemaak van die waarde van moedertaalonderrig – en heeltemal tereg so. Maar die aandrang op moedertaalonderrig kan ook in sommige gevalle nogal beperkend inwerk op Afrikaans. My kinders, 8 en 11 jaar oud, gaan nie skool in hul moedertaal nie. Hul moedertaal, eerste taal en huistaal is Engels; hul kerk- en skooltaal is Afrikaans. En hulle floreer in ’n Afrikaansmediumskool. Is daar sowaar steeds iemand wat wil beweer dat hulle eendag ’n agterstand gaan hê in ’n studie- of werkomgewing? Om die taal as onderrigmedium te laat groei, vereis ’n aandrang op taal van keuse en nie noodwendig moedertaal nie.
Terloops, my kinders is van mening dat Afrikaans veel makliker en lekkerder is om te praat, lees en skryf as Engels – en mooier op die koop toe. ’n Steekproef van twee is natuurlik nie deurslaggewend nie, maar op verskeie gesaghebbende taalranglyste neem Afrikaans die boonste posisie in as maklikste taal vir Engelssprekendes om aan te leer – selfs makliker as ander waardige kandidate soos Noors, Sweeds en Nederlands. Dit is só danksy Afrikaans se eenvoudige sinstruktuur en spraakpatroon, ’n min of meer direkte fonetiese uitspraak, en ’n grammatika wat gestroop is van komplekse reëls soos werkwoordvervoegings en naamwoordnaamvalle en met slegs drie basiese tye: verlede, hede en toekoms.
Dit bly egter die ongeëwenaarde skoonheid van die taal wat nooit ophou bekoor nie. ’n Taal wat vorendag kan kom met juwele soos holderstebolder, pamperlang, poenankies, bromponie, klopdisselboom, koester, kammakastig, karnallie, kwansuis, kreeftegang, roskam, wispelturig, skorriemorrie, skobbejak, skedonk, lanterfanter, pypkan, katswink, fnuik, aitsa en smul, verdien om te groei en vooruit te gaan.
Woorde soos bakkie, braai, kuier, sies, voetstoots en lekker is lankal reeds diep in die plaaslike Engelse taal ingeburger, en vir die subtiele betekenis van sekere modale woorde soos nogal, nè, tog, sommer en mos het Engels nie geskikte eweknieë nie. En hoe vertaal ’n mens Moenie hom kop toe vat nie in enige ander taal? Of: Sy is in haar noppies, op die keper beskou, die poppe gaan dans, hulle kierankies gaan braai, en hond se gedagte kry? En probeer die volgende sinne in Engels vertaal sonder ’n lomp omhaal van woorde: Die kat loop onder die tafel deur; en: So skuins-skuins en dwars-dwars sukkel hulle toe die duin af; of: Ag, kyk net gou ’n bietjie hierso; en ook: Netnou hoor die kinders…
En oor die liefde kan géén ander taal Boerneef nadoen nie:
Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê
Meer melankolies mymer ’n ontnugterde Ingrid Jonker:
Papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry
En Bibi Slippers bieg:
ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met ’n punt
agter jou naam.
finaal.
maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by
…
Koos du Plessis is heeltemal reg: Die liefde is ’n dubbeldoor – iets te wen en iets verloor.
En op ’n ander noot – met sy dogtertjie in sy arms dig DF Malherbe:
Wat is die slaap ’n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
En die vernuf van ’n Philip de Vos is ewe-eens nie te versmaai nie:
Elke kwêvoël, elke sysie,
elke loerie met sy wysie.
Koerkoerduif en pierewiet.
Elkeen sing sy eie lied.
Maar straks kom niks naby die ervaring nie van iemand wat in 1933 ’n kraaknuwe Bybel oopslaan om in die soetste taal daarin te lees: Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop – dat die goedertierenhede van die Here eindeloos is, dat sy barmhartighede geen einde het nie; hulle is elke môre nuut, u trou is groot. (Klaagl 3: 21-23, AFR33); en: Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen. (Op 22: 21, AFR33).