Meimaand het nogal ’n rol in ds Dirk van der Hoff se lewe gespeel. Vier lewensfases het telkens in Mei aangebreek. Van der Hoff was die eerste predikant in die pioniersjare van die Voortrekkers se vestiging van ’n eie republiek in die noorde van Suid-Afrika.

Fase 1

Op 25 lê hy op 6 Mei 1840 voor die Provinsiaal Kerkbestuur van Suid-Holland, Nederland, sy proponentseksamen af, en daardeur word hy toegelaat tot die evangeliebediening in die Nederlandse Hervormde Kerk. Toentertyd was daar ’n oorgroot aantal proponente. Dirk moes 12 jaar wag vir ’n beroep. Vir lewensonderhoud werk hy intussen in verskillende kantore, reis selfs oorsee vir sy werk, en net voor hy Suid-Afrika toe kom, werk hy in ’n boekwinkel in Amsterdam. Prof Moll beskryf Dirk as een mensch van goede geestesvermogens en met een zeer goed voorkomen.

Fase 2

Op 25 Mei 1845 trou hy in Hillegerberg, Rotterdam, met mej Anna Maria van Otterloo. In 1852 toe die egpaar reeds 37 en 35 was, sluit Dirk ’n kontrak om vir ten minste vyf jaar in die Transvaal te kom werk. Eintlik ’n groot opoffering en kultuurskok om ’n geordende samelewing en beskaafde land te verruil vir ’n woeste wildernis. Hy word in Den Haag georden as bedienaar van Woord en Sakramente. Toe snel die landsverhuising voort: 2 September vertrek hulle per skip suide toe en kom op 5 November in Kaapstad aan. Hul eerste kind, Susanna, word op 24 Februarie 1853 gebore en op 13 Maart deur haar pa in die Groote Kerk gedoop. Met die pap babatjie vertrek hulle op 14 April per skip Natal toe, en reeds op 8 Mei op sy vrou se 36ste verjaardag is die gesin in Pietermaritzburg. Dirk het vertel van die lang en moeisame reis, drie weke met drie ossewaens, gevaarlik met leeus en ander dergelijke aardigheden, steile afgronden, diepe bergkloven en snel stromende riviere.

Fase 3

In die middel van die nag in ysige koue kom hulle op 27 Mei 1853 in Potchefstroom aan – twee dae na hul agtste huweliksherdenking. Dit was ’n gehuggie barstens toe vol van vreugde oor hul eie dominee; soos een ou oom dit raak gesê het: ik wil Eerwaarde nog wat aankijken, want ik heb nog nooit een Leraar gezien! Vir die volgende agt jaar bearbei hy alleen as baanbreker lidmate oor ’n onmeetlike gebied verstrooi. Gereelde posverkeer het nie bestaan nie, paaie was gevaarlik as gevolg van wild, en net die allernoodsaaklikste dinge was bekombaar.

Op een van sy lang reise moes hy op 24 Mei 1855 in ’n gevaarlike oomblik uit die bewegende wa spring, met die gevolg dat sy been gebreek het. Hy moes lank vertoef op die Dreyers se plaas Leeuwpoort waar dit gebeur het, en moes selfs so in die bed kinders doop! Boonop mis hy toe die geboorte van sy eerste seun, Dirk, op 4 Junie. Jaarliks op 8 Mei is die geboortedag van Maria herdenk. Moontlik met spesiale gelukwensingsbriewe uit die vaderland, lidmaatbesoeke met koffie, verversings en blomme op die stoep. Dalk ’n spesiale aandete met nabye vriende as Dominee tuis was.

Fase 4

Op Dinsdag 28 Mei 1878 is sy 25-jaar-ampsjubileum luisterryk gevier met Nagmaal, danksegging, ’n kinderkoor, feesrede deur die jubilaris Van waar komt gij? Ik kom van een lange reis, 25 jaren lang, en hulde aan hom (onder andere ’n geskenk van 100 pond), sy eggenote, sy dogter, Susanna Watermeyer (slegs ’n maand later oorlede), en sy twee seuns, Dirk en Pieter, deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat almal teenwoordig was uit die uithoeke van die land. Shepstone, wat die ZAR op 12 April 1877 vir Brittanje geannekseer het, het ongenooid ’n geskrewe gelukwensing, met ’n goue ring daarby, as geskenk aan hom gestuur. Van der Hoff is drie jaar later op Sondag 9 Oktober 1881 op 67 jaar oorlede, nadat hy, weliswaar verswak, die vorige naweek nog Nagmaal gehou het, 63 katkisante belydenis laat aflê en 50 kinders gedoop het. Maria sterf op 4 November 1897 te Schoonplaats, Christiana, aan huis van haar seun Dirk.

(Ds Carel Johann de Bruin is kuratorvan die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap