Soms lees ’n mens ’n boek wat jou tot stilstand ruk. Dit kan om verskillende redes wees – positief of negatief.
Waarom lees ’n mens fiksie? Om “tyd te verdryf”, vermaak te word, iets te leer?
Ek het pas ’n boek gelees wat my nog lank gaan bybly. Tonele daaruit sal by my opkom wanneer ek my kleinseun in die sand sien speel, rustig en tevrede met sy “eskavator” en “polisiekar”.
Beelde uit dié boek sal by my spook as ek ’n kind in ’n winkelsentrum hoor huil, of ’n kwaai mamma of pappa hoor wat hul kleinding hard aanspreek.
Wanneer ek hoor van oorloë, sal ek aan dié boek dink. Veral as dit oor Oekraïne gaan…
In die boek A boy in winter vertel die skrywer Rachel Seiffert ’n (fiktiewe?) verhaal van menseslagting en wreedheid in die Tweede Wêreldoorlog. Dit speel af van November 1941 tot vroeg in 1942, in Oekraïne. Die Russe het uiteindelik teruggeval nadat die Nazi’s se ooreenkoms met Stalin verbreek is, maar nou is die plaaslike bevolking – Oekraïners en Jode – uitgelewer aan die magsbeheptheid van Hitler se volgelinge.
’n Mens vra jouself af: Hoe is dit moontlik dat mense so wreed teenoor mekaar kan optree? So ongenadig teenoor die weerloses, ou mense, kinders…
In Seiffert se boek vlug twee jong boeties deur die sneeu nadat hul ouers en sussie deur die Duitsers weggeneem en doodgemaak is. Later help ’n jong plaaslike meisie hulle, terwyl sy self desperaat die platteland in vlug.
But the night is far colder than the last, and even before dawn they are awake again, the blankets stiff and frost-rimed. The small one cries then. So there is no more sleeping. They sit and wait for dawn, which comes only slowly, only dimly: the sky low above them and heavy-grey, clouds full of cold rain.
They walk on again as soon as they can see enough. But the young one cries to be carried, he cries to be held; the noise he makes is painful. Even when the older one hoists him onto his shoulders, he doesn’t stop his mewling.
Uiterste omstandighede, dis waar. Tog gebeur wreedheid nie net in oorlogsituasies nie. Van die vroegste tye af is daar afknouery, mishandeling, moord… Kain maak sy broer Abel dood oor die Here eerder Abel se offer aanvaar het. ’n Vrou is bereid dat ’n baba middeldeur gesny word eerder as dat ’n ander vrou – die regte ma – die kind moet kry.
En vandag? Boelies op skool – en dis nie net die leerlinge nie. Mishandeling in die gesin, daar waar jy juis veilig moet voel. In werksituasies, onder ondeurdagte regeringsbesluite, te midde van korrupsie en oneerlike besigheidspraktyke.
Ons loop almal deur. Soms is daar oënskynlik onvermydelike oorsake vir die afknouery: beurtkrag, verhoogde bankkoste, duur polisse, stygende pryse, stukkende paaie…
Ander mishandeling is meer gemeen: diefstal, inbrake, aanrandings, brandstigting, klipgooiery… Aanvalle in ons eie huise en op ons plase. Wrede, wrede menseslagtings.
Moet ons aanvaar dat haat en vergelding altyd die oorhand sal hê? Dat daar van deernis en medelye waarskynlik slegs onder sommige groepe nog sprake sal wees? Dat daar nêrens volkome vrede tussen mense sal heers nie?
En tog…
In A boy in winter, te midde van onmenslike wreedheid, is daar ook iets anders. Onverwags, ongekend, skielik ’n brokkie genade. ’n Klein gebaar, ’n opoffering, uiteindelike uitkoms. Gróót genade.
Want te midde van onbeskryflike lyding en verlies, breek iets goddelik deur.
In die woorde van die teoloog Lewis Benedictus Smedes (1921-2002), in Alles is reg, al is alles verkeerd (Tafelberg, 1983):
Genade is nie ’n towermiddel om die lewe na ons smaak te verander nie. Genade genees nie alle kanker nie, maak nie al ons kinders slim nie en laat ons nie altyd suksesvol wees op alle gebiede nie.
Genade is eerder ’n verrassende krag om die aardse werklikheid te konfronteer, sy treurige en tragiese kant te sien, sy wrede snye in jou te voel, om saam te sing in die bekende koor van hoe verregaande onregverdigheid is en nogtans diep in jou wese te voel dit is goed en reg vir jou om op God se aarde te wees.
Genade is krag om die werklikheid onder oë te sien, om te erken alles is soms verskriklik verkeerd en tog te weet in die wese van jou lewe is alles nogtans reg. Genade is een woord vir alles wat God vir ons is in die gedaante van Jesus Christus.
Rachel Seiffert
Rachel Seiffert, gebore in 1971 in Oxford, haar ma ’n Duitser en haar pa ’n Australiër, se boeke is in tien tale vertaal, en fokus op die individu in die geskiedenis: die impak van politieke en ekonomiese omwentelings op die lewens van gewone mense. Léés dit!
- The dark room (2001)
- Field study (2004; kortverhale)
- Afterwards (2007)
- The walk home (2014)
- A boy in winter (2017)
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
