Van kleins af het sy geweet dat sy ’n predikant wou word. Toe die Hervormde Kerk begin om vroue as predikante te bevestig, het die droom om in haar eie kerk op so ’n wyse te dien vir dr Annelie Botha ’n realistiese moontlikheid geword.

Ek is gebore in die winter van 1978, een van ’n tweeling, met ’n ouboet vyf jaar ouer. Ons word groot in Kempton Park in die Hervormde Kerk, Gemeente Zuurfontein. My ma het ons van die Here geleer: Van my vroegste herinneringe is ons wat by my ma op die bed sit en saam die Gesange uit die Gesangeboek leer… Jesus roep die kindertjies, moet hul nie verhinder nie… Here Jesus, ek is klein, swak onkundig en onrein… Grote God, aan U die eer…

As klein dogtertjie het ek reeds die aanvoeling gehad, die roeping gehoor, dat ek ’n predikant moet word. Wanneer my sus en ek kerk-kerk speel, is ek die predikant. Ek word groot in ’n tyd in die Hervormde Kerk toe hierdie droom besig is om vir elke klein dogtertjie in ons Kerk ’n moontlikheid te word, met Yolanda Dreyer wat bevestig word as predikant in ons Kerk. Sy word deel van ons huis as een van die aanbieders van die godsdiensprogramme op TV. In my hoërskooljare aanvaar Sonia Kok die beroep na Gemeente Zuurfontein, en die moontlikheid van my droom om waarheid te word, kry ’n nabye voorbeeld.

Ek word groot met ouers wat ons aanmoedig om na skool verder te gaan studeer. Daar is nie vir ons voorgeskryf wat om te gaan studeer nie. Toe ek een Sondag terwyl Sonia die kansel opstap onder die intogslied vir my ma sê Ek wil predikant word, was haar antwoord: Ek weet. My ouers het my nooit probeer oorreed om nie ’n predikant te word nie, maar my in liefde ondersteun.

In 1997 skryf ek in as student van die Kerk by die Universiteit van Pretoria, Fakulteit Teologie, Afdeling A. My studiejare was vir my ’n ontdekkingsreis, wat my help om die teks van die Bybel waarmee ek grootgeword het nuut te verstaan. Dit was bevrydend om die wêreld van die Bybel beter te leer ken. Met elke jaar wat verbygaan, word ek meer en meer seker van my roeping.

Watter groot vreugde was dit vir my om op 3 Augustus 2003 deur Yolanda Dreyer in die eerste gemeente wat my beroep het, Gemeente El-Flora, georden en bevestig te word! Dit was ’n moeilike tyd in die geskiedenis van die gemeente. Kort voor my ontvangs daar het die twee gemeentes Ontdekkers en Florida saamgesmelt. Daar was nog twee kerkgeboue, twee preekpunte, en ek moes die dienste lei wat nog in die ou Florida-kerkgebou gehou is. Die jaar en ’n half van my bedieningstyd daar was goed, maar nie sonder uitdagings nie. In dié tyd is die Florida-kerkgebou verkoop en moes die deel van die gemeente wat Sondae daar gekerk het na hul nuwe tuiste in die Ontdekkers-gebou trek.

Aan die einde van 2004 ontvang en aanvaar ek die beroep na Gemeente Gobabis in Namibië. In Januarie van 2005 land ek op Hosea Kotako-lughawe in Windhoek, met net een groot tas en alles wat ek in my handbagasie kon inkry by my. My trek sou eers maande later kon kom, nadat my werkpermit goedgekeur is. Ek word met liefde en hartlikheid deur die liewe mense van Gobabis ontvang. Dit was ’n tyd van eerstes: die eerste vrou wat na die gemeente beroep word, die eerste vrou wat op die Gereformeerde kansel preek. Dit was ’n tyd van avontuur. Die gemeente verskaf aan my ’n Mazda Drifter langbakbakkie as voertuig. In Namibië het ek geleer dat afstand relatief is. Tot vandag het ek nie respek vir afstand wat gery moet word nie. Ek het geleer dat daar nie so iets is soos gou-gou kuier en net koffie drink nie. ’n Besoek word daar baie vinnig middagete en later middagkoffie daarby.

Met huisbesoek bring ’n mens nie net God se Woord aan mense wat dikwels baie ver van die dorp af bly nie, maar sommer ook dit wat hulle van die dorp af nodig het, en soms was dit die lek vir die beeste. Gobabis is vleiswêreld, beeste en skape. Basaartyd is vleiswerktyd, by geleentheid moes ek en een van die ouderlinge met die vroeër genoemde bakkie uitry na een van die plaasboere, self die bees wat hy geskenk het skiet en oplaai dorp toe. Van vassit in die los sand op die plaaspaaie by een van die baie plaashekke kan ek getuig. Hardloopskoene agter die sitplek, saam met ’n bottel water, het my ’n paar keer by hulp uitgebring.

Ek dink met groot vreugde en dankbaarheid aan my tyd in Gobabis en is dankbaar vir die besondere pad wat ek met die gelowiges daar kon stap. Dit was vir my ’n tyd van groei in die geloof, ontwikkel as predikant binne die liefdevolle ruimte wat hulle vir my gegee het. Dit is tydens my verblyf in Gobabis dat ek my MTh in Praktiese Teologie behaal.

Aan die einde van 2009 keer ek terug na Suid-Afrika. Met my groot boerboel (Wasti) gelaai in my Fiat Panda, pak ek die pad terug deur Botswana aan, om my nuwe tuiste te vind in Mahikeng. Ten spyte daarvan dat die gemeente en kerkraad van Mafeking gewaarsku is dat ’n vrou nie by hulle sou aard nie, vertrou hulle God se roepstem en beroep hulle my na die gemeente. In my bediening het ek by meer as een geleentheid ervaar hoe God my neersit op die plek waar ek moet wees. In God se hand is ek veilig.

In Mafeking was daar ook ’n hele paar eerstes: die eerste vrou wat hierheen beroep word, die eerste vrou wat skriba en later voorsitter van die ring van Zeerust word. Hierdie eerstes maak my meer bewus van die verantwoordelikheid wat die posisies bring.

Aan die begin van November van hierdie jaar is ek reeds tien geseënde jare in Gemeente Mafeking. Saam deel ons in mekaar se vreugde maar ook diepste seer, vind ons in God se teenwoordigheid die krag en inspirasie om gelowiges te wees, om kerk te wees, hier waar God ons geplaas het. Wat Mahikeng uniek maak, is die mense wat hier bly, mense met warm harte.

Ek is dankbaar vir hierdie mense wat my as pastor naby aan hul harte toelaat. En dat hulle my ook die ruimte gegun het om my PhD (Pastorale Teologie) te voltooi.

Na 16 jaar in die bediening is ek steeds dankbaar om God en God se mense op hierdie manier te dien.

(Dr Annelie Botha is leraar in Gemeente Mafeking)

Dankie aan die vrouepredikante wat meegewerk het aan die beplande artikel oor hul ervarings in die NHKA. Daar is besluit om die artikel vir eers nie te finaliseer en te plaas nie, in die lig van gesprekke wat tydens die 72ste AKV sal plaasvind.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap