Ds Etienne Fourie

Na aanleiding van die onlangse kontroversie oor ’n profeet wat hier in Suid-Afrika kwansuis iemand uit die dood opgewek het, is dit seker nie onbillik nie dat mense begin vra: Wat is nou eintlik die ware kerk? Hoe weet ’n mens of iemand ’n dwaalleraar is of nie?

’n Dominee van Wes-Transvaal plaas die volgende op ’n Facebook-groepie vir predikante: “Ken iemand dalk ’n dr Des Sinclair van Life Evangelism International? Hy het blykbaar ’n meestersgraad van Therapon-universiteit en twee doktorsgrade van Trinity-universiteit (albei inrigtings nie geakkrediteer so ver ek kan bepaal nie). Hy het ’n boek geskryf: Life on the line. Hy doen ’n praatjie binnekort in ons omgewing en ek wil net ’n idee kry wat om te verwag. Die bietjie wat ek kan uitvind, is dat hy getuig oor ’n paar wonderbaarlike dinge wat hy beleef het, wat op sigself nie ’n slegte ding is nie. Hy voer egter aan dat hy mense uit die dood laat opstaan. Op een geleentheid in ’n YouTube-video voer hy aan dat hy ’n baba uit die dood opgewek het, en in die ander een, ’n onderhoud, voer hy aan dat hy in Ghana onder reusedruk van ongelowiges en in lewensgevaar ’n man uit die dood opgewek het wat 8½ dae dood was (hy voeg ten minste by dat dit nie hy was nie, maar die teenwoordigheid van Jesus wat die persoon uit die dood opgewek het).”

Na aanleiding van die onlangse kontroversie oor ’n profeet wat hier in Suid-Afrika ook kwansuis iemand uit die dood opgewek het, is dit seker nie onbillik nie dat mense begin vra: Wat is nou eintlik die ware kerk? Hoe weet ’n mens of iemand ’n dwaalleraar is of nie?

Die Bybel

In plaas daarvan om op ’n uitgebreide ketterjag te gaan, kan ’n mens eerder op ’n ander manier na ’n antwoord soek. Ons kan eerder die kollig op ons eie Kerk (en soortgelyke kerke) laat val en vra na sake wat lidmate kan gerusstel dat hul kerk nie op ’n dwaalspoor is nie.

Die heel eerste saak wat ons dan kan noem, is die sentrale rol wat die Bybel speel in ons kerkwees en ons verstaan van die Bybel. Baie kortliks kom dit daarop neer dat ons glo dat die Bybel God se Woord in mensetaal is, soos dit te vind is in die 66 boeke van die Bybel. Ons glo ook dat die Bybelboeke gelees moet word as boeke wat in ’n bepaalde tyd en in ’n bepaalde konteks ontstaan het. Die Bybel is baie meer as net ’n versameling van losstaande versies wat na willekeur aangehaal kan word om iemand se eie verstaan van dinge te probeer staaf.

Die belydenisskrifte

Hierdie verstaan van die Bybel loop hand aan hand met ons binding aan die Drie Formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls), asook aan die Ekumeniese Belydenisse (die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicéa en die Geloofsbelydenis van Athanasius). Hierdie belydenisskrifte, wat honderde jare oud is en derhalwe die toets van die tyd deurstaan het, verwoord nie alleen hoe ons ons geloof verstaan nie, maar bied ook vir ons die bane waarbinne ons ons kerkwees en teologie bedryf.

Ons deel hierdie binding aan die belydenisskrifte met baie ander kerke, en daar is vasgestelde prosedures wat gevolg moet word sou ’n mens begin verskil oor iets in die belydenisskrifte. Party mense sou redeneer dat dit alles wys op ’n stuk verstoktheid, maar die teenpool is dat ’n mens die gerustheid het dat die Kerk nie sommer net op loop kan gaan met ’n stuk valse leer nie.

Hierdie binding aan die belydenisskrifte word verder uitgebou deurdat die Kerk deelneem aan die ekumene. Internasionaal is ons ’n lid van die Wêreldgenootskap van Gereformeerde Kerke (WGGK). Dit is ’n liggaam waartoe 233 kerke in 105 lande behoort. Hierdie lidkerke verteenwoordig 100 miljoen lidmate wat almal tot die Protestantse tradisie behoort. Alhoewel ’n ekumeniese liggaam nie kan inmeng in die huishoudelike sake van lidkerke nie, sal so ’n liggaam ’n lidkerk se lidmaatskap opskort indien daar bevind word dat dié kerk ’n leer aanhang wat strydig is met die Bybel of Protestantse tradisies. Om lid te wees van ’n internasionale ekumeniese liggaam soos die WGGK, of plaaslik soos die Tussenkerklike Raad (TKR), gee ’n mens die gerusstelling dat jou kerk nog beweeg binne die bane waarbinne die kerkfamilie waartoe jy behoort, ook beweeg.

Die Kerkorde

Ons leef in ’n samelewing waarin dit baie keer voel of daar ’n groter wordende afkeer aan strukture, reëls en regulasies is. Hierdie dinge word as beperkend beleef, en mense wil eerder vry wees om hul eie ding te doen soos en wanneer hulle wil. Op sigself is dit nie noodwendig ’n negatiewe tendens nie. Op gemeentelike terrein is dit bevrydend om te weet dat elke gemeente tot ’n baie groot mate self kan besluit hoe hulle hul bediening gaan inrig, veral omdat elke gemeente se omstandighede uniek is. Gemeentes se bediening gaan daarom noodwendig verskil van mekaar, maar daar is tog baie sake van belang waaroor ons met mekaar saamstem. Hierdie sake vind neerslag in die besluite wat Ringsvergaderings en die Algemene Kerkvergadering neem, en ook in ons Kerkorde. As my geheue my nie in die steek laat nie, het prof Bart Oberholzer op ’n keer gesê dat die Kerkorde ’n staf is om ons te begelei, nie ’n stok om mee te slaan nie. As ’n mens al die uitwasse sien wat in die naam van die Christelike geloof gebeur by kerke wat meestal as totaal onafhanklike kerke funksioneer, maak dit ’n mens tog dankbaar dat ons iets soos ’n Kerkorde het wat die volle spektrum van ons kerkwees wil orden en toesien dat dit op ’n ordelike wyse geskied.

As dinge goed gaan in ’n gemeente, dan is die Kerkorde baie keer ’n boek wat maar net op die boekrak staan, maar boeta, begin dinge skeefloop, dan maak dit darem die lewe baie makliker as daar ’n dokument is wat uitspel wat die nodige en die regte prosedures is!

’n Groot bate van die Kerkorde is dat dit reël dat sake, veral in ’n gemeente, deursigtig moet wees, byvoorbeeld: Die finansiële state van ’n gemeente moet jaarliks geoudit word en die resultate van die oudit moet aan ’n gemeentevergadering voorgelê word. Dit is die gemeentevergadering wat kerkraadslede verkies, toestemming gee tot die skep of ontbinding van ’n werkruimte vir ’n predikant, en besluit oor die aankoop of verkoop van eiendomme. Hierdie, en nog baie Ordinansies, wil nie net verseker dat gemeentelede op die hoogte bly van wat in ’n gemeente aangaan nie, maar, indien konsekwent toegepas, voorkom dit ook dat ’n gemeente die slagoffer word van magsmisbruik deur een persoon.

Die dienswerk van predikante in gemeentes word gereël, en die Kerkorde spel die stappe uit wat gevolg moet word sou daar ’n klagte oor ’n predikant se leer en lewe ontstaan. Al die gemeentes is verder geregistreer by die belastingowerhede en moet jaarliks belastingopgawes voltooi en inhandig.

Hierdie en nog baie ander gebruike, reëlings en ordinansies bepaal die bane waarbinne ons kan werk as dienende kerk van Jesus Christus. Ek dink dat, al frustreer die rompslomp ’n mens soms, ons tog dankbaar moet wees vir hierdie wigte en teëwigte wat in plek is om ons op die spoor van die ware kerk te hou.

(Ds Etienne Fourie is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Kempten)

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap