Psigiaters word gereeld gevra hoekom ons sukkel, en wat die faktore is wat ’n impak op ons het. Ten spyte van die feit dat ons Christene is, word ’n mens in geheel beïnvloed deur verandering. Tans is daar verskeie prominente veranderinge wat ’n impak op ons het en waarna ons in hierdie artikel kyk.

Tegnologie en hiperkonnektiwiteit

Die wêreld het baie verander en dit voel asof alles meer kompleks is as tevore. Die vierde industriële revolusie weens tegnologiese ontwikkeling het bygedra tot die kompleksiteit en die wêreld hipergekonnekteerd gemaak. Deesdae is ons bewus van wat aangaan in die Oekraïne tydens die oorlog. Ons kan oombliklik gesels met mense in Amerika. Toegang tot allerhande inligting het ons wêreld geweldig vergroot. Ons sien daagliks video’s van ontstellende gebeure waaraan ons niks kan doen nie. Dis nie meer fiksie nie. Dis eg en dis realisties en almal het toegang tot dieselfde informasie.

Vantevore is die stories van oorloë, swaarkry, seer en hulpversoeke dikwels deur ons kerkleiers gekommunikeer en bestuur. Nou kry elkeen van ons versoeke vir hulp en sien ons die nood oral. Elkeen van ons word nou direk gekonfronteer met vrae oor wie moet ek help, met wat, met hoeveel en vir hoe lank? Hoe sê ek nee vir die mense wat ek nie kan help nie? Die nuwe probleme verg emosionele bestuur en nuwe denke, en raak die geestelike deel van ons lewens.

Die veranderde rol van die dominee in die gemeente

Die dominee, dokter, prokureur, ensovoorts, het voorheen oor unieke en bewese kennis beskik, wat aan hulle mag en status gegee het. Nou is kennis algemeen beskikbaar op die internet. Die rol van predikante het sodanig verander dat hulle nou saam met hul lidmate deur inligting sif en soek na die toepaslike inligting. Hierdie is ’n nuwe rol vir alle partye en hou op sigself baie uitdagings in. ’n Gemeentelid gaan soek byvoorbeeld informasie op die internet en gaan dan na die dominee met dieselfde vraag. Hulle deel nie noodwendig die inligting wat hulle het nie en toets dan of die dominee die “regte” antwoord het. Hierdie nuwe rolle en veranderende verwagtings skep konflik en wantroue in die dominee-gemeente-verhouding wat tradisioneel op vertroue en sekerheid gebou was.

Die vrou as dominee en leier

Voorheen was daar een senior manlike leier wat inligting moes versamel, interpreteer en deel, besluite maak en die res van die organisasie “beskerm” teen die buitewêreld. Hy het aansien gehad, mense gerusgestel en hulle veilig laat voel. Soos die wêreld begin verander het, het vroue in die domineerolle en kerkleierposisies inbeweeg. Vroue benader die gespesialiseerde rol van dominee en leier anders as hul manlike kollegas. Dit veroorsaak moontlik konflik by gemeentelede én kerkleiers oor die rol van man en vrou in sowel die kerk as die huis.

Die veranderende rolle en hoe ons daarop reageer, verg meer energie en deurdagte denke. Die uitspraak van dis hoe ons dit altyd gedoen het, word nie meer so maklik aanvaar nie.

Die ekonomie

Die ekonomie het ook ’n groot impak. ’n Swak ekonomie veroorsaak baie pyn en lyding, en met elke 1%-vermindering in die ekonomie is daar dikwels ’n 1%-verhoging in die selfdoodsyfer. Organisasies, ook die kerk, moet kyk na volhoubaarheid. Baie mense het hul werk verloor en sukkel ook om finansieel ’n bydrae by die kerk te maak. Die ontbinding en samesmelting van gemeentes is ’n realiteit en lei tot verliese en hartseer.

Kompleksiteit van menswees

Die mens is ’n komplekse wese aangesien ons na die beeld van God gemaak is. Die brein het amper soveel konneksies tussen neurone as wat daar sterre in die hemel is. Ons probeer kunsmatig ons liggaam, siel en gees uitmekaar trek om te verstaan hoe elke deel apart werk sodat ons sin kan maak van ons optrede.

Prof Dave Snowden verduidelik dat ons respek moet hê vir die feit dat menslike gedrag nie altyd verduidelikbaar is deur na die individuele komponente (liggaam, siel, gees) te kyk nie, en ook nie deur van buite na ’n mens se gedrag te kyk nie. Met al die toegang tot inligting is ons deesdae baie ongemaklik oor die onvermoë om iets te verduidelik.

Ons is ’n samevoeging van dele wat nie totaal goed, sleg, selfsugtig, selfloos, gelowig of ongelowig is nie. Alice Wu het dit mooi gestel: Niemand is 100% goed of sleg nie. Dit beteken dat ons behoefte om gou of eenvoudige redes te gee vir ons of ander mense se optrede, ons nie altyd gaan help om iets te verstaan of sin daarvan te maak nie.

Dit bring ons by die vraag oor selfdood – hoekom doen mense dit?

Selfdood is meer algemeen in lande met baie geweld en waar daar ’n swak ekonomie is. Depressie wat nie behandel word nie en chroniese siektes is van die grootste redes vir selfdoodpogings. Partykeer neem iemand ’n besluit om nie aan te gaan met die lewe nie en deel hy of sy die redes met mense voor of na die dood, byvoorbeeld in ’n brief. Ons weet dus hoekom hulle so ’n besluit geneem het, al stem ons nie saam nie. Die daad wat nie sin maak nie, is moeilik vir ons om te verstaan en te verwerk. Dis waar die onverduidelikbaarheid van ons menswees en optrede ’n groot rol speel.

Hoe affekteer dit alles ons gedrag, energie en hoop?

Die ou gesegde sê: Elke huis het sy kruis. Dus sukkel elkeen van ons op die een of ander manier met die veranderinge in ons samelewing of die kerk, met die pandemie en die herstelproses ná die pandemie. Die voorafgaande wys dat ons nie altyd ons of die mense rondom ons se gedrag gaan verstaan nie.

Wêreldwyd gebeur daar tans die tweede grootste werksmigrasie en vlaag van bedankings in die geskiedenis. Huwelike eindig en mense verhuis na ander plekke in reaksie op al die druk. Ons as Afrikaners sit ook nog met die aanpassing van ’n etniese minderheidsgroep wat in beheer van die land was, en gehoor het ons bou en beskerm die land. Nou hoor ons gereeld dat ons mense te na gekom het, en word ons geblameer vir die meeste van die foute in die land. Ons hoor dat ons van ons eiendom moet weggee. Dit tap energie en vreugde.

Die verliese van vriende, familie, werk en gemeentes veroorsaak dat elkeen van ons ’n rouproses deurgaan, en daarna hopelik ’n herstelproses. Ons realiteit van ’n veranderde Suid-Afrika voor en na die pandemie het ’n groot impak op ons rouproses. Ons het minder energie weens die pandemie, die rouprosesse en nou die herstel. Ons sal dus versigtig met onsself en die mense rondom ons moet omgaan, vir ’n redelike tyd.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Rou: Daar is genadiglik geen regte manier of tyd om te rou of te herstel nie. Elke persoon kan dus die prosesse op sy of haar eie manier deurwerk. Ons kan ’n pad saam met mekaar loop in die wete dat ons nie van alles sin hoef te maak of alles van mekaar hoef te verstaan nie.

Hoop: Die Bybel sê dat ons ten dele sien en verstaan, maar dat ons in God se hande is. Hoop is iets wat van God kom en wat deur gereelde kontak met God en in ’n verhouding met Hom leef en groei. Ons as mense kan mekaar nie hoop gee nie, maar ons kan mekaar herinner aan die Bron van hoop en mekaar ondersteun in ons verhouding met God.

Denke oor my geloof en kerk: Die kompleksiteit van die wêreld en van menswees skep onsekerheid by ons. Ons dink makliker as ons veilig voel. ’n Erf en huis wat omhein is en vyande uithou, skep veiligheid vir die inwoners. Ons kan kies wanneer ons die hekke oopmaak vir ander, of self in- en uitgaan. Dieselfde geld vir ons denke. Om raamwerke (heinings) te hê waarbinne ons kan dink oor geestelike dinge, skep veiligheid en laat ons toe om oor die onsekerheid van die wêreld en dit waarin ons glo, na te dink. Ons kan ook na iemand anders se geestelike denke luister. Wanneer ons dan bang of onveilig voel, kan ons terugbeweeg na ons bekende raamwerk waar ons veilig voel.

Herstelproses: Loop jou paadjie met jou spesifieke kruis en gee ruimte op die pad langs jou dat ander met hul eie kruis op dieselfde pad van herstel kan loop, met die wete dat hulle nie alleen is nie.

Ek vertrou dat ek, deur hierdie faktore uit te lig, jou kon help om jouself, jou vriende en jou gemeente se onverstaanbare gedrag beter te aanvaar en ruimte daarvoor te gee. Mag dit ook help dat ons mekaar ruimte gee om met God se genade en hoop deur een van die moeilikste tye in ons geskiedenis te kom en sterker ander kant uit te kom.

(Dr Jerrie Bezuidenhout is ’n psigiater by die Vista-kliniek in Centurion)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap