Die afskuwelike geweld teen vroue, kinders en vreemdelinge wat die afgelope maand weer geskok het, roep om ’n oomblik se stilte en besinning.

Die boosheid wat manifesteer in sinnelose geweld wat geen waarde aan die lewe van ’n mens heg nie, herinner my aan NP van Wyk Louw se meesterlike personifikasie van boosheid in Raka:

Die swart dier sal nie van julle wyk;

hy kruip na julle vure toe in die nag,

en waar julle kinders speel, hou hy die wag

tot niemand meer wild is vir sy bot hand;

maar dan sal jul hek se rieme en bande

op ’n vreemde nag slap word en los,

en Raka sal uit die bose bos

kom en tussen ons vure sit en bly.

Boosheid gedy. Boosheid het die veilige ruimtes van ons huise waar ons kinders speel, binnegedring. Boosheid het soos ’n ontembare, brullende leeu tussen ons geword. Die groter gevaar is egter dat ons hierdie boosheid, lank voordat dit gemanifesteer het, vertroetel het. Ons is lankal reeds so meegesleur, soms selfs beïndruk, dat ons boosheid eers as boosaardig erken wanneer die rieme van ons hekke lankal te slap is om dit uit te hou. Ons het ons vermoë verloor om die vermomming, waaronder hierdie boosheid skuil, te kan peil. Eers wanneer die afgryse van brutale geweld teen die weerloses ons tot stilstand ruk, wonder ons hoe ons op hierdie punt beland het.

Tot ons skandelike verleentheid moet ons erken dat ons eie onkunde en gebrek aan kritiese denke daartoe bygedra het dat hierdie boosheid nou buite beheer is. Was daar nie ’n manier waarop ons dit vroeër kon stuit nie?

Die boosheid in ons midde is ’n ideologie, wat soos ’n giftige kanker so deel geword het van ons sosiale weefsel dat dit ons verstektoestand is waarvanuit ons dink, redeneer en handel. Ons is so blind hiervoor dat ons nie die verbande raaksien tussen hierdie gruwelike geweld en ons oënskynlik “onskuldige“ grappies rondom die braaivleisvuur waardeur vroue geobjektiveer word of die sogenaamde cloakroom talk ná die rugbywedstryd wanneer bespreek word watter dapper held by ’n sogenaamde “maklike meisie” ge-score het nie. Dis vreeslik edel dat meisies gesosialiseer word om onderdanig te wees en die eise van die hoof van die huis sonder weerstand te gehoorsaam, maar dan kan ons nie verstaan waarom sy nie kon opstaan vir haarself in ’n mishandelende verhouding nie.

Die saak is nie so eenvoudig soos die demonisering van mans en die verheerliking van vroue nie. Ons kan nie oppervlakkig wil kategoriseer tussen goeie vroue en slegte mans nie. Ons durf ook nie in oorvereenvoudigde kategorieë van oortreder en slagoffer dink nie. Kritiese nadenke in die lig van die ongemak wat elkeen van ons met die selfverloënende eise van die evangelie van Jesus Christus ervaar, is wat nodig is om te verhoed dat ekself, ongeag of ek ’n man of ’n vrou is, alweer besig is om die giftige kanker te voed.

Die Christelike kerk leef vanaf sy ontstaan in onhoudbare spanning met die norme en waardes van hul dag. Skielik kon ’n slavin, wat gister nog die objek van haar meester se seksuele bevrediging was, langs daardie selfde meester by die Nagmaaltafel aansit, want in Christus is daar nie Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou nie. Besef ons nog die radikaliteit hiervan? Maak dit ons nog ongemaklik?

In die NHKA word daar geroem op ons kritiese Skrifbeskouing. Ons beweer dat ons nie fundamentaliste is nie, want ons erken die skade van absolute uitsprake oor God en die magsmisbruik daarvan. Tog is daar min van hierdie kritiese Skrifbeskouing in die praktyk te bespeur. Ons verval in ’n Biblisistiese aaneenryg van soetklinkende Bybelversies. My pleidooi is kritiese denke wat juis die gevaar hiervan sal raaksien. Taal is gevaarlik. Taal word denke, denke word handelinge, en handelinge word gewoontes wat uiteindelik die norme van die samelewing vorm.

’n Fundamentalistiese interpretasie van die Bybel handhaaf die giftige ideologie oor geslagsrolle. Die Bybel word kritiekloos geweld aangedoen om hierdie onreg as Bybelse norm te regverdig.Vanweë die patriargale waardesisteem van die antieke Mediterreense wêreld waarin die Bybeltekste ontstaan het, word ’n hermeneutiek van suspisie noodsaaklik. Dit beteken ’n kritiese ingesteldheid ten opsigte van kontekste.

Eerstens die patriargale, antieke Mediterreense konteks waarbinne die Bybeltekste ontstaan het, maar ook kritiek teen ons eie konteks, agtergrond en vooronderstellings. In die wisselwerking tussen die Bybelse teks en die hedendaagse konteks ontstaan ’n kreatiewe spasie wat die voorlopigheid van geloofsuitsprake erken.

Hierdie voorlopigheid bied die ervaring van ’n lewende God wat altyd weer in nuwe kontekste tot openbaring kom. Bybeltekste bind ons nie op ’n rigiede wyse nie, maar bevry ons vir die ervaring van God se helende genade in elke nuwe konteks. Ons word uitgenooi om verby die stereotiepe beskouings van die mensheid te breek sodat ons ander deur die oë van Christus kan sien.

Maar toe die stemme in die smoor nog hyg,

toe Koki weer: “En ek sal gaan,”

en toe die vuil geskreeu tussen die roke rys,

het hy begryp dat hy altyd eensaam met sy vrees

om kosbare dinge tussen hulle sou wees.

Van Wyk Louw se Koki sou altyd eensaam met sy vrees om kosbare dinge tussen hulle wees. In die lig van die evangelie van Jesus Christus is kosbare dinge tog juis die liefde, deernis en menswaardigheid wat Jesus Christus aan alle mense bewys het. Jesus Christus het onteenseglik beliggaam dat mense vir God kosbaar is – so kosbaar dat Hy sy lewe vir hulle afgelê het.

My pleidooi is dat die kerk van die Here Jesus Christus, wat hoop en lig in hierdie duistere wêreld moet indra, weer ons vrees oor die kosbare sal opneem voordat dit deur Raka vertrap word.

(Dr Elritia le Roux is leraar in Gemeente Middelburg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap