God se eerste woorde in die Bybel is woorde van hoop: Laat daar lig wees! Honderde jare later eggo dit in die goeie nuus volgens Johannes: In die begin was die Woord … In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En nou in 2020 hoor ons hierdie kosbare Woord weer eens in Afrikaans: Die Bybel 2020-vertaling.

Die verantwoordelikheid van die vertaler

God se Woord in mensetaal. Dit is hoe ons dikwels die Bybel beskryf. Maar ’n mens sidder eintlik voor die gedagte dat jy deur ’n vertaling van die Bybel besig is met ’n poging om iets van God se boodskap aan die mensdom oor te dra. Vir prof Andries Breytenbach, as ondervoorsitter, was die samewerking in die Begeleidingskomitee ’n hoogtepunt. Afgesien van die redaksionele werk, was hy self ook verantwoordelik vir die vertaling van sekere Bybelboeke.

Die hele vertaalproses was vir hom ’n positiewe en vervullende ervaring. Prof Jan Barkhuizen het ook meegewerk aan die vertaling en was ’n lid van twee redaksionele komitees. Met sy kennis van Grieks het hy ’n groot bydrae gelewer wanneer dit gekom het by verskillende nuanses in die vertaling.

Die betekenis van die Bybel 2020-vertaling

Volgens prof Bernard Combrink, projekleier van die vertaalspan, lê die besondere betekenis en waarde van die Bybel 2020-vertaling daarin dat dit die Woord van God aan gelowiges in kerke probeer beskikbaar stel so eerlik en so konsekwent moontlik. Die vertaling is die resultaat van ’n lang en inklusiewe proses waarby 24 kerke en 179 medewerkers betrokke was. Dit berus op deeglike navorsing en getuig van besondere spanwerk.

Uiteindelik sal dit altyd ’n groot uitdaging bly om ’n teks wat in ’n antieke taal geskryf is, oor te sit in ’n hedendaagse taal sodat daar iets van die andersheid van die antieke taal behoue bly. Dit is wat die Bybel 2020-vertaling anders maak as die 1933/1953-vertaling wat ’n woord-vir-woord-vertaling is, sowel as die 1983-vertaling waarin die klem sterk val op die weergawe van die betekenis van die bronteks.

Die groot aantal voetnotas en kruisverwysings asook die uitgebreide inleiding tot elke boek en die woordelys in die Bybel 2020-vertaling, gaan van onskatbare waarde wees vir elke ernstige leser van die Bybel. Volgens dr Jan Vorster bied dit die geleentheid aan elke eksegeet om die Bybel met sy of haar kennis en vaardigheid te interpreteer.

’n Afsonderlike uitgawe met die deuterokanonieke boeke daarby

In 1965 reeds publiseer die Bybelgenootskap Die Bybel met Deuterokanonieke Boeke, wat die teks van die 1933/1953-vertaling bevat, asook die deuterokanonieke boeke, wat deur die Anglikaanse Kerk, Katolieke Kerk en Lutherse Kerk gebruik word. Die vertaling van die deuterokanonieke boeke in daardie uitgawe is nie deur die Bybelgenootskap onderneem nie. Die deuterokanonieke boeke is egter ingesluit in die Nederlandse Statevertaling, wat in Suid-Afrika gebruik is tot voor die verskyning van die 1933/1953-vertaling. Dr Sanrie de Beer is van mening dat hierdie uitgawe wat nou deur die Bybelgenootskap beskikbaar gestel is, dus ’n leemte vul en veral van waarde gaan wees vir navorsing en as toeligting by die bestudering van die Bybel.

Waarde van die Bybel 2020-vertaling vir die Kerk

Dr André Ungerer, voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, is opgewonde oor die Bybel 2020-vertaling. Volgens hom kan die Kerk met reg trots en dankbaar wees dat daar 12 medewerkers vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aan die vertaling kon deelneem. Wyle prof Bart Oberholzer was aanvanklik ook betrokke by die vertaalproses. Die Bybel 2020-vertaling is ’n positiewe ontwikkeling. Dit bou brûe en bring ’n goeie balans tussen die ander reeds bestaande Afrikaanse vertalings van die Bybel.

Uiteindelik is dit belangrik om die vermaning van ds Rudi Botha ter harte te neem dat ons nie net die Bybel moet vertaal nie, maar dit ook moet leef. Dr Johan Bester is verstom oor die feit dat ons nou reeds vier Afrikaanse vertalings van die Bybel beskikbaar het, terwyl daar in meer as die helfte van die tale wat wêreldwyd gepraat word, nog geen vertaling van die Bybel bestaan nie.

Bekendstelling op 29 November 2020

Die jaar 2020 staan in die Kerk bekend as die Jaar van die Bybel. Min het ons geweet watter uitdagings hierdie jaar vir ons almal sou inhou! Die bekendstelling van die Bybel 2020-vertaling bied aan ons egter die geleentheid om die jaar op ’n hoogtepunt af te sluit. Ons het iets om te vier!

Die amptelike bekendstelling vind op Sondag 29 November 2020 in Bloemfontein plaas. Maar elke gemeente van die Kerk word versoek om, soos besluit by die AKV, dié betrokke Sondag in te rig as ’n dank- en feesdag rondom die Bybel in Afrikaans. Gemeentes sal binnekort meer inligting ontvang met voorstelle vir hoe so ’n dankfees moontlik ingerig kan word. Voorlesings uit die verskillende Afrikaanse vertalings van die Bybel behoort uiteraard ’n prominente plek in te neem. Lidmate kan ook gevra word om hul Bybels die dag saam te bring en dalk ’n uitstalling te hou.

Bestellings vir die Bybel 2020-vertaling kan nou reeds geplaas word sodat die Bybels betyds by gemeentes kan wees vir die amptelike bekendstelling op 29 November.

Die bekendstelling van die Bybel 2020-vertaling val saam met vanjaar se  eerste Adventsondag wat uitloop op Kersfees. Dit is die begin van ’n nuwe liturgiese jaar. Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon! Ons kan 2020 afsluit met ’n boodskap van hoop.

(Dr Gerhard Lindeque is organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika)

 

Groepfoto

Begeleidingskomitee: Voor van links na regs: Dr ME Baloyi (Hoof: Vertaling, BSA); prof HJB Combrink (Projekleier); ds DT Gevers (Uitvoerende Hoof: BSA); prof K de Wet. Agter van links na regs: Proff GD Cloete; CHJ van der Merwe; EF Kotzé; APB Breytenbach; GCJ Jordaan; past J Theron; proff DJ Human; JA Naudé; HF van Rooy. Inlas: Prof M Nel

Share via
Copy link
Powered by Social Snap