Vrydag 2 Oktober – RELASIONELE gelowigwees/kerkwees
Matteus 22: 39; 1 Korintiërs 13: 13 en 1 Johannes 4: 16
So baie mense vra en smag na die sin en betekenis van die lewe. Antwoorde op hierdie soeke is te veel om op te noem. Mense gaan soek byvoorbeeld na sin en betekenis in geestelike en fisieke gesondheid. Ander weer, soek na sin en betekenis in meer geld, status of selfs mag. Die Bybel leer ons dat ware sin en betekenis in kerngesonde verhoudings lê. Verhoudings bring nie net sin en betekenis in ’n mens se lewe nie, kerngesonde verhoudings bring boonop die ware vreugde en geluk waarna die mens so dikwels smag.
Die relasionele van gelowigwees of kerkwees vereis ’n holistiese benadering tot verhoudings. Kerngesonde verhoudings begin met die besef dat God my eerste liefgehad het. God se verhouding met my sondaar menswees is die fondasie van alle ander verhoudings. God drie-enig is in ’n verhouding met my. As Vader versorg Hy my, as Jesus het Hy vir my sonde gesterf en die dood oorwin en as Heilige Gees is Hy Emmanuel God (God met my). Vanuit hierdie verhouding van God met my, werk ek aan ’n gesonde verhouding met God. Hierdie verhouding kom uit dankbaarheid van my kant af. My verhouding met God bepaal alle ander verhoudings waarin ek mag leef. Dit is ook belangrik om hard te werk aan ’n gesonde verhouding met jouself, want wanneer jy ’n gesonde verhouding met jouself het sal jou verhouding met ander mense groei en gesond raak. Die holistiese benadering tot verhoudings veronderstel dat alle verhoudings op die ander verhoudings inspeel.
Uit ervaring weet ons alle verhoudings is ’n uitdaging en verg harde werk. Verhoudings het aandag en tyd nodig om te gedy. Daarom is dit van kritieke belang dat ek sal tyd maak vir elke vlak van verhouding waarin ek leef. Gemeentes waar daar hard gewerk word aan verhoudings, waar doelgerigte aandag en tyd aan alle verhoudings geskenk word, is kerngesonde, geroepe gemeentes van God. In al drie ons teksgedeeltes het ons gelees en geleer hoe belangrik liefde vir enige verhouding is: God se liefde vir ons, ons liefde vir God en ons liefde vir ons naaste.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding
Donderdag 1 Oktober – MISSIONALE gelowigwees/kerkwees
Markus 14: 43-52; 16: 1-8 Hoe word ’n gelowige missionaal? en Hoe word die kerk missionaal? Michael Gorman gee in sy boek Becoming the Gospel ’n praktiese antwoord op dié vraag. Sy antwoord, kortweg opgesom, is die volgende: ’n Gemeente is missionaal wanneer dit...
Woensdag 30 September – INKARNEREND gelowigwees/kerkwees
2 Korintiërs 3: 12-18Reeds in 2007 verskyn daar ’n boek onder redakteurskap van Stephan Joubert met die titel: Die perfekte storm. Die boek bespreek al die omstandighede wat bydra tot die perfekte storm wat besig is om gelowiges afsonderlik, en die kerk as geheel te...
Dinsdag 29 September – Paulus hanteer die storms in sy lewe
2 Korintiërs 11: 16-33Ons het gister geleer dat storms deel van ’n mens se bestaan op hierdie gebroke en sondige aarde is. Paulus het storms geken en sy hantering daarvan is navolgenswaardig. As jongman kon Paulus droom van sukses en ’n goeie lewe, maar op pad na...
Maandag 28 September – Die storms van die lewe
Matteus 8: 23-27Die storm op die see kan ook simbolies wees van die onstuimighede in ons lewe. Elkeen van ons kan getuig van die een of ander storm wat ons al in die lewe moes trotseer en daar wag ongetwyfeld nog verdere stormweer in die toekoms op ons. Besluite of...
Sondag 27 September – Here, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?
Matteus 8: 23-27Laat jouself toe om ongeveer 2000 jaar in die geskiedenis terug te gaan. Plaas jouself binne-in daardie klein, dobberende skuitjie. Hoor in jou ore die gehuil van die yskoue wind, voel hoe dit tot in jou murg sny. Hoor die gerammel van die donker...
Saterdag 26 September – Vry om te dien
Galasiërs 5: 1-13Ons word nie gered deur diens nie, maar tot diens. Die bekende antropoloog Margaret Mead het gesê dat die eerste teken van beskawing nie gereedskap of potte was nie, maar ’n gebreekte heupbeen wat aangegroei het, Dit was ’n teken dat iemand by die...