Vrydag 21 Maart – Vandag nog die keuse…
Matteus 27: 15-26
Lank gelede is die skare voor die keuse gestel: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word. Wie moet losgelaat word? Klink tog dieselfde: Albei se naam is Jesus. Barabbas beteken seun van die Vader. Hy is ’n gesiene vryheidsvegter wat as volksheld beskou word; hy is ’n voorloper in die stryd teen die Romeinse owerheid en gevange geneem tydens ’n oproer in die stad. Christus beteken die Gesalfde. Hy is gevange geneem in die tuin van Getsemane waar Hy besig was om te bid. Hy bring bevryding van die mag van die sonde.
Pilatus stel die keuse, want hy weet dit is uit afguns dat die priesterhoofde Jesus oorgelewer het. Sy vrou waarsku hom oor die droom wat sy gehad het oor die onskuld van Jesus wat aangekla is. Dadelik kom die skare se keuse: Barabbas moet vrygelaat word, en hul uitroep op Pilatus se vraag oor wat hy met Jesus moet doen, is heftig: Kruisig hom! Hulle antwoord nie die vraag oor wat die kwaad was wat Jesus gedoen het nie. Nog harder die uitroep: Kruisig hom!
Vandag nog word u en ek ook in en deur die wêreld voor die keuse gestel: ’n lewe met Jesus, die Christus, of ’n lewe sonder die gekruisigde Here. Sommige wil daarmee selfs niks te doen hê nie en voer nie eens ’n keuse uit nie. Byna ’n houding van Sê liewer niks, dan is daar niks. Die Christengelowige kan nie anders nie as om met oorgawe te sê dat sy lewe aan die Here behoort. Want dít is my enigste troos. In lewe en in sterwe behoort ek aan Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, Hy wat weer sal kom!
Gebed
Ons wy onsself aan Christus toe, aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang, die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien, met blydskap vir Hom werk.
(VONKK 158: 1)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Donderdag 20 Maart – Wat jy sê, is belangrik
Matteus 26: 69-75
Gedurende Jesus se aardse optrede is Petrus die uitgesproke een. Hy onderneem om altyd by die Here te bly. Hy is die een wat die daad by die woord voeg en Malgus se oor afkap en by ’n ander geleentheid op die water na Jesus toe loop. Petrus praat namens die dissipels wanneer hy sê dat Jesus die Christus is. Petrus voel heftig daaroor dat Jesus nie gekruisig sal word nie: Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie (Matt 16: 22). Petrus is die een wat grootmoedig verklaar dat hy bereid is om iemand sewe keer te vergewe. Onmiddellik wys Jesus hom tereg dat hy sewentig maal sewe keer moet vergewe. Aan die tafel tydens die instelling van die Nagmaal is Petrus die een wat sê al doen al die ander dit, sal hy wat Petrus is, Jesus nie verraai nie. Jesus wys Petrus op die gevaar: Wat jy sê, gaan verkeerd bewys word! Jy gaan My drie maal verloën. Daardie nag, terwyl die verhoor van Jesus aan die gang is, gebeur dit. Drie maal verloën Petrus vir Jesus met sy heftige ontkenning: Ek ken die man nie!
In ons belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van God, moet ons ook baie versigtig wees met wat ons sê. Ons belydenis is ’n oorweldigende saak wat nie anders kan nie as uitloop op die uitleef van ons belydenis. Belydenis word as’t ware ’n aktiewe daad. Elkeen wat sê dat Jesus die Christus is, moet sy en haar belydenis bevestig met ’n lewe wat daarvan getuig.
Hier is waar ons versigtig moet wees met ons woorde. Verloëning volg op belydenis. Dit beteken nie dat dit beter is om eerder nie te bely nie. Jesus het gewaarsku: Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt 7: 21).
Sê wat jy glo, en glo wat jy sê!
Gebed
Ek glo, Here! Help my in my ongeloof.
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Woensdag 19 Maart – Die Joodse Raad is haastig
Matteus 26: 57-68
Die Joodse Raad, die Sanhedrin, is baie haastig! Jesus moet dood, Hy saai baie onrus onder die mense! Hy, wat die orde kom omkeer deur siekes gesond te maak en selfs dooies lewend gemaak het, keer die gewone gang van die Joodse godsdienstige lewe om. Hierdie Jesus moet verhoor word sodat Hy aan die Romeinse owerheid uitgelewer kan word om Hom te veroordeel.
Die verhoor begin met die volle Sanhedrin teenwoordig. Die hoëpriester, priesterhoofde, familiehoofde en skrifgeleerdes is almal byeen. Hulle oortree hul eie reël! Hulle wag nie tot die volgende oggend om die verhoor te laat plaasvind nie. Daardie nag nog kom hulle in Kajafas se huis bymekaar om Jesus te verhoor. Hulle het nie die bevoegdheid om Jesus ter dood te veroordeel nie, maar as hulle Hom skuldig bevind, kan die Romeinse goewerneur nie anders nie as om die doodstraf op te lê. Verskeie getuies word geroep, maar niks word gevind wat die doodstraf regverdig nie. Eindelik, lees ons in vers 60, kom twee getuies na vore en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel afbreek en in drie dae weer opbou. Hulle verstaan Jesus se woorde verkeerd, maar dit is die rede waarom hierdie klag teen Jesus gerig word. Op die vraag Is jy die Christus, die Seun van God? volg Jesus se bevestiging: Dit is soos u sê. Die bevinding is dat geen verdere getuienis nodig is nie. Hy verdien die dood! Onmiddellik begin die bespotting van Jesus deur die omstanders.
Dit wat u en ek te sê het oor Jesus Christus, het verreikende gevolge. Petrus het bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Kort daarna sê hy drie keer dat hy nie hierdie man ken nie! Die hoëpriester sê-vra: Is jy die Christus, die Seun van God? Ons moet versigtig wees om te gou te praat. Ons moet oortuig wees van wat ons sê én daarby hou!
Gebed
Breek deur elke donker poort met die ligglans van u Woord.
Maak dit lig, verdryf die nag; bring die dag waarop ons wag.
Ontferm U, Heer.
(Gesang 270: 4)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Dinsdag 18 Maart – Jesus Christus in Getsemane
Matteus 26: 36-46
In die tuin van Eden het Adam en Eva die geleentheid om in byna volmaaktheid te leef. Alles wat God geskep het, was goed en God gee genoeg te ete met die opdrag om te bewerk, bewoon en bewaar. Net een vermaning: Waak daarteen om prooi te word van die duiwel se versoeking! Die mens swig voor die versoeking en word uit die tuin weggestuur: In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien.
Eeue later, in die tuin van Getsemane, speel die gebeure af waar Jesus sy dissipels oproep tot waaksaamheid. Getsemane, wat letterlik olievat beteken, by die Olyfberg waar dit stil en rustig is. Drie keer kry die dissipels die opdrag om daar te wag terwyl Jesus gaan bid. Beangs en benoud sê Jesus vir hulle: Bly hier en waak saam met My. Na die eerste smeekgebed kom Jesus terug, kry hulle aan die slaap en sê: Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Jesus se smeekgebed bevestig telkens dat Hy te midde van beproewing waaksaam bly en sy vertroue in die Hemelse Vader alleen stel. Bewus van en gereed vir die pad wat Hy moet stap, sê Jesus vir die dissipels: Staan op, kom ons loop.
Daagliks, op elke terrein van ons lewens, word ons ook maklik die prooi van versoekings. U en ek moet ook in óns lewe waaksaam wees: in ons kerklike lewe aan al ons beloftes en ondernemings; in ons gesinslewe in al ons verbintenisse; en in ons daaglikse lewe in elke geleentheid. Aan ons elkeen word die wekroep tot waaksaamheid en die oproep tot diensbaarheid gerig.
In hierdie groot uitdaging is ons troos in Psalm 121: 4: Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.
Gebed
Waak, Christen, staan in die geloof dat niemand jou die kroon ontroof!
Wees, Christen, in jou Heer versterk, want Hy wil altyd in jou werk
om kwaad en sonde te weerstrewe.
Beoefen die godvrugtigheid en wees jou medemens altyd
tot voorbeeld in jou lewenswandel.
(Gesang 489)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Maandag 17 Maart – Jesus Christus ly
Johannes 11: 45-57
Jesus se woorde en optrede hier op aarde het uit die staanspoor uiteenlopende gevolge. Dit is óf ’n bron van aanstoot en teenstand óf dit wek geloof. In byna elke geval is dit ’n geval van misverstaan. Wanneer Jesus sê Ek is die brood wat lewe gee, is die teenvraag Hoe kan ons sy liggaam eet? Jesus se oormag by die opwekking van Lasarus ontbloot die onmag van die Joodse godsdienstige leiers.
Jesus wek Lasarus uit die dood op. Baie van die Jode het tot geloof gekom, terwyl ander bekommerd is oor die gevolge van Jesus se optrede. Hulle is selfs bevrees dat al die mense in Hom glo, en dan maak die Romeine hul heilige plek toe en laat die hele nasie verlore gaan. Kajafas, daardie jaar se hoëpriester, stem nie saam nie, maar vermaan hulle ernstig: Julle verstaan niks! Sy profetiese woorde verwoord die reddende werk van God in en deur Jesus Christus. Jesus se sterwe sou die kinders van God wat oor die hele wêreld versprei is, tot een volk bymekaar bring. Jesus se oormag en Kajafas se woorde om dit te bevestig, dring die teenstanders tot net een gevolgtrekking: Jesus moet doodgemaak word!
Vandag nog het Jesus se woorde een van twee uitkomste: Glo, gehoorsaam en volg; of glo nié en leef sonder die Here. Waar bevind ons ons in hierdie situasie? Ons het die Woord van God waaruit ons leer. Die Heilige Gees skenk die gawe van geloof. Is Jesus Christus die eerste en die meeste in ons lewe, of is ons besig met ons lewe sonder om werklik te verstaan wat Jesus Christus vir ons gedoen het?
Vraag en antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus dring ons tot volle geloofsoorgawe dat God die werk van sy hande nooit laat vaar nie: Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe? Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Gebed
O Heer van nasies, aan u sorg
wil ons ons toevertrou;
ons wil die toekoms op u Woord
en u beloftes bou.
(Gesang 282: 6)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Sondag 16 Maart (Tweede Lydensondag) – Dit hou al tweeduisend jaar aan
Lukas 23: 26-49:
Vir meer as tweeduisend jaar gebeur een van twee dinge: Die kruisiging van Jesus raak mense aan; óf dit gaan by mense verby. Dit is vandag steeds so.
In Lukas 23 sien ons reeds voorbeelde daarvan. Hulle, die soldate, wat net maar hul werk doen, lei Jesus weg om gekruisig te word. Simon van Sirene is vir die Paasfees in die stad en word gegryp om Jesus se kruis te dra. Die groot menigte roubeklaers stap agter Jesus aan, waarskynlik maar net nog ’n kruisiging wat plaasvind. Die vroue huil en treur oor Jesus en die hartseer van die dood aan die kruis. Twee misdadigers wat albei kry wat hulle verdien. Die dissipels, wat ’n nabye pad met die Here gestap het, staan op ’n afstand en kyk. Die Romeinse offisier wat uitroep: Hierdie Man was werklik die Seun van God!
U en ek bevind ons volgens die kerklike jaar in die Lydenstyd, op weg na die hartseer, reddende gebeure van Goeie Vrydag. Hoe word ons geraak deur die kruisiging van Jesus Christus? Waar sou ons ons plaas in die verskillende reaksies van die persone in Lukas 23?
Ons durf nie ongeraak bly deur die kruisgebeure nie. Ewe min mag ons net maar in die verbygaan daarvan kennis neem en sê dat dit lank gelede gebeur het en dit daar laat. Laat ons elkeen biddend in afhanklikheid van die Here smeek om die volle omvang van die kruisiging van Jesus te besef en met afwagting te leef op die heerlike belofte van God: Jesus Christus kom weer.
Gebed
Vervul, o Heer, my hart met stille wyding waar ek herdenk die diepte van u lyding,
hoe U daar aan die kruis vir my gesterf het; my heil verwerf het.
As ek beangs en skuldig voor U bewe, dan laat u kruis, o Heer, my hoop herlewe.
Aan U, o Heiland, Leidsman, Vors van vrede, my dankgebede.
(Gesang 391: 1 en 6)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Saterdag 15 Maart – Golgota, die plek van die drie kruise
Lukas 23: 32-43
Kruisigings was bedoel om absoluut afgryslik te wees. Dit moes potensiële wetsoortreders afskrik. Jesus het nie alleen gesterf nie, daar was drie kruise. Daar was die Kruis van Rebellie; die Kruis van Berou; en die Kruis van Verlossing.
Aan die Kruis van Rebellie was ’n skaamtelose en geharde man. Hy was vloekend en minagtend. Hy het sy laaste kans op vergifnis en redding weggegooi.
Aan die Kruis van Berou het ’n man gehang wie se hart langs Jesus vermurwe het. In plaas van vloeke wat oor Jesus se lippe gekom het toe die soldate die spykers ingeslaan het, het Jesus ’n gebed van vergifnis vir hulle gebid. Miskien was dit juis hierdie uitdrukking van genade wat die tweede misdadiger se hart sag gemaak het.
Wanneer hy Jesus vra om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom, is Jesus se reaksie onmiddellik: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk 23: 43). Die woord paradys is ’n Persiese woord wat verwys na ’n pragtige ommuurde tuin. As ’n Persiese koning een van sy onderdane wou vereer, sou hy hom uitnooi om saam met hom deur die tuin te stap. Jesus het die berouvolle rebel nie alleen onsterflikheid belowe nie, maar ook ’n ereplek as ’n metgesel in God se tuinparadys.
Die Kruis van Berou spreek van hoop, belofte en redding, maar dit is alleenlik moontlik gemaak deur die derde kruis – die Kruis van Verlossing.
Een van Rembrandt se aangrypendste skilderye staan bekend as Die Drie Kruise. Jy sien die verskillende gesigsuitdrukkings van almal betrokke by die kruisiging. Weggesteek in die skadu’s is ’n ander figuur. Kunskritici glo dis ’n voorstelling van Rembrandt self, omdat hy erken het dat sy sonde daartoe bygedra het dat Jesus aan die kruis vasgespyker is.
Watter kruis beskryf jou vandag die beste: rebellie of berou? Kyk na die Kruis van Verlossing. Sien Hom daar met uitgestrekte arms wat wag om vergifnis te gee aan almal wat in berou na Hom toe kom.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Vrydag 14 Maart – My God, my God…
Psalm 22
Mense het toegekyk hoe almal Hom spot en skel. Die skepsels wat die Skepper spot en uittart. Midde-in al hierdie fisiese pyn, was daar ook die geestelike pyn; die gewig van die sonde van die mensdom was op Hom. Daardie verskriklike las het so swaar op Hom gedruk dat Hy uitgeroep het: My God, my God, waarom het U My verlaat (Matt 27: 46)? Toe Jesus uitroep My God, my God… was dit eintlik ’n belydenis.
Jesus was ’n Rabbi. In antieke tye was alles nie op skrif nie. Die mense sou ure bestee om gedeeltes van die Skrif te memoriseer. ’n Rabbi sou dan die eerste reël van ’n teks opsê, en dan sou sy volgelinge weet wat in die res van die teks staan.
In daardie oomblik toe Jesus aan die kruis hang, wys Hy almal wat daar om die kruis staan op ’n profetiese en Messiaanse Psalm, bekend as Psalm 22. Hulle sou Psalm 22 ken. Deur daardie eerste reël van die Psalm op te sê, sou hulle geweet het dat dit wat hulle op daardie oomblik fisies daar beleef het, die voorspelling was wat in daardie Psalm gemaak is, wat waar word.
Wanneer Jesus uitroep My God, my God… is dit nie omdat Jesus God se teenwoordigheid bevraagteken nie, dis eintlik ’n uitdrukking van God se goedheid midde-in beproewing. Toe die donkerste uur van ons hele mensdom op ons was en die Verlosser van die wêreld aan ’n kruis gehang het, en die wêreld toegekyk het met ingehoue asems om te sien wat volgende gaan gebeur, wys God dat geen graf sy Seun sou binne hou nie.
Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood sodat ons midde-in ons pyn kan weet God is steeds daar. Hy is by ons. Dit is wat Opstandingsgeloof beteken – om midde-in ons krisis te kan sê: Dit is wel met my siel; dit is wel met my siel, want my Heiland en Here leef.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Donderdag 13 Maart – Die geskenk van die spykers
Kolossense 2: 14
Ek glo nie een van ons het al ooit spykers as ’n geskenk gekoop of dit as ’n geskenk ontvang nie.
Die skare het gedink die doel van die spykers was om Jesus se hande aan die kruis vas te spyker. Hulle was net half reg. Ons kan hulle nie blameer dat hulle die ander helfte misgekyk het nie. Deur die lens van die Skrif sien ons wat ander gemis het, maar wat Jesus gesien het: Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem (Kol 2: 14).
Tussen Jesus se hand en die kruis was daar ’n lys. Dit was ’n lys van ons foute en ons sondes, sowel as die slegte besluite en keuses wat ons gemaak het. Die lys kan egter nie gelees word nie. Die woorde kan nie ontsyfer word nie. Die foute is toegemaak. Die sondes is versteek. Dié aan die bokant is weggesteek deur sy Hand. Dié verder af is bedek deur sy Bloed. Jou sondes is uitgeblok deur Jesus.
Kolossense 2: 14 sê in Die Boodskap-vertaling: Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.
Jesus het die lys gesien. Hy het geweet dat die prys vir ons sondes die dood was. Romeine 6: 23 sê: Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. Aangesien Jesus dit nie kon verduur om te dink aan die ewigheid sonder jou nie, het Hy die spykers gekies.
Die hande van Jesus het oopgemaak vir die spykers, sodat die deure van die hemel kon oopmaak vir my en vir jou!
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Woensdag 12 Maart – ’n Onweerstaanbare offer
Lukas 23: 34 en 24: 6
Ons almal ken die uitdrukking: Dit klink té goed om waar te wees. Daar is baie dinge vandag wat te goed is om waar te wees, byvoorbeeld beloftes wat voor ’n verkiesing gemaak word, advertensies wat gewigsverlies waarborg, ensovoorts.
Met Paasfees is daar ook wonderlike aanbiedings wat vir baie dalk ook té goed klink om waar te wees. Maar wat maak hierdie aanbiedings so anders? Die antwoord is eenvoudig: Jy kan die Een wat dit maak, vertrou. Hierdie offers wat die Here aan ons maak, kom na ons toe – gratis en verniet – want sy genade het reeds die koste gedek.
Die eerste offer wat Jesus maak, maak Hy vanaf die kruis toe Hy gesê het: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Luk 23: 34). Die offer van vergifnis. Die offer dat jou verlede vergewe kan word.
Die tweede offer is dat ons ook sin en betekenis vir vandag vind. Met die kruis kom sê God onomwonde vir ons hoe kosbaar ons vir Hom is. Hy dink die wêreld van jou. Indien jy daaraan twyfel, oordink dan net vir ’n oomblik wat Hy gedoen het om jou liefde te wen. Dink net hoe ver God gegaan het om jou hart te wen. Ek het onlangs die geleentheid gehad om met die beste gemeente ooit te kon praat. Dit was ’n klomp voorskoolse kleuters by die kleuterskool. Ek het aan hulle die boodskap van die kruisiging probeer oordra. Ek het hulle gevra hoe lief hulle dink die Here hulle het. Hulle het dadelik hul armpies wyd uitgestrek so ver as wat hulle kon. Ek sê toe dat Hy hulle so lief het en om seker te maak ons vergeet dit nie, het Hy sy hande in plek laat vasspyker.
Derdens word aan ons die offer gemaak van hoop vir die toekoms. As gevolg van die leë graf, weet ons dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. Jesus het eens en vir altyd die dood verslaan.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Dinsdag 11 Maart – Gebed
1 Tessalonisense 5: 17
Gebed is baie soos asemhaal. Paulus sê: Bid sonder ophou; bid gedurig.
Beteken dit dat ons die heeltyd moet rondloop met ons koppe gebuig en oë toe? Beslis nie! Net soos ons die meeste van die tyd nie eens bewus is van die feit dat ons asemhaal nie, net so wil God hê moet ons bewus wees van sy teenwoordigheid by ons. Dan is dit vir ons natuurlik om regdeur die dag met Hom te kommunikeer.
Het jy al van alveoli gehoor? Alveoli is klein sakkies op die oppervlak van jou longe wat die suurstof wat jy inasem, absorbeer. Jy het 600 miljoen van hierdie klein sakkies wat suurstof vang op pad na jou bloedsomloop. Maar daar is ’n uitdaging. Alveoli kan net suurstof inbring tot die mate wat hulle loslaat. Dit is ’n uitdaging omdat ons lewenstyle (besige skedules, baie stres, min oefening) beteken dat ons nie diep uitasem nie. Dus sit gister se koolsuurgas (CO2) dikwels in die onderste helfte van ons longe vas. Dit is giftig. Verstaan jy die metafoor? Ons moet leer om uit te asem – elke dag.
Ja, daar sal beslis tye wees wanneer ons bewustelik moet stop en ons geestelike asem moet vang, maar gebed is beslis ook iets wat ons kan doen terwyl ons met ons daaglikse dinge besig is. Ons kan met God vanaf ons ontwaking praat, totdat ons ons koppe op die kussing neerlê, en Hom vra om ons te beskerm en ons te bewaar terwyl ons slaap. Gebed is nie beperk deur ruimte of tyd nie.
Wanneer ons asemhaal, neem ons suurstof in en blaas koolstofdioksied uit. Deur asem te haal, maak ons eintlik ons liggame skoon! Net soos asemhaal ons fisiese liggame kan reinig, kan gebed dit ook vir ons geestelike lewens doen. Wees vandag baie bewus van jou asemhaling en laat dit jou gedurig daaraan herinner dat die Here baie naby aan jou is.
Gebed
Here, dankie vir die wonderlike belofte wat U gemaak het, dat U gekom het om vir ons die lewe te gee. En dít in oorvloed. Amen.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Maandag 10 Maart – Wat beteken dit presies om God te soek?
2 Kronieke 15: 8 (AFR2020)
Toe Asa hierdie woorde en die profesie hoor … het hy … die verfoeilike gode laat verwyder … Hy het die altaar van die Here, wat voor die portaal van die Here se huis was, herstel.
Asa het die opdrag om die Here te soek, op twee maniere verstaan. Eerstens het hy alles wat in sy pad gestaan het wat hom verhoed het om die Here te vind, verwyder. As ons dit deurtrek na ons eie lewe toe, vra dit van ons ook om ontslae te raak van die dinge wat in ons pad staan om die Here te vind. Dis waar selfondersoek inkom.
Wat kan dit wees? Miskien is dit ’n té besige skedule wat veroorsaak dat jy geen tyd vir gebed het nie of ’n hart het wat net gefokus is op materiële dinge. Of ’n loopbaan/studies wat jou so opslurp dat dit jou daarvan weerhou om ander te dien. Miskien is dit ’n verhouding wat allesoorheersend is.
Tradisioneel het mense selfondersoek gedoen deur te vas, deur iets los te laat wat ’n greep op hulle het. Soms is dit kos, ’n besitting of ’n aktiwiteit. Om God te soek, beteken om van die hindernisse in ons lewens ontslae te raak, wat dit ook al mag wees.
’n Tweede ding wat Asa gedoen het, was om ook die altaar voor die tempel te herstel. Deur die altaar te herbou, het Asa ’n belangrike manier om met die Here kontak te maak, weer in plek gestel. Om God te soek, gaan nie net daaroor om dinge uit ons lewens te verwyder nie; dit gaan ook daaroor om dinge in plek te sit wat ons weer in kontak bring met die Een waarna ons soek.
Geestelike dissiplines soos gebed, stilte en afsondering, meditasie oor die Skrif, vas, diens aan ander, gee, gasvryheid en aanbidding help alles in ons soeke na die Here.
Wat is dit wat jy dalk in hierdie tyd in plek wil sit om jou te help om op die Here te fokus?
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Sondag 9 Maart (Eerste Lydensondag) – Lent
2 Kronieke 15: 1-19
Aswoensdag dui die begin van die Lydenstyd aan. Die meeste van ons het nie grootgeword met Lent nie. Lent is egter een van die oudste Christelike praktyke. Die vroeë kerk het Lent gevier, selfs nog voor hulle Kersfees begin vier het. Aswoensdag lei die 40 dae voor Jesus se kruisiging in. Al die dae tussenin word getel behalwe die Sondae.
Die bedoeling van hierdie 40 dae van Lent is dat ons –
’n inventaris van ons lewens sal neem;
selfondersoek sal doen;
die dinge sal uitskakel wat ons aandag mag aflei van ’n intieme verhouding met die Here; en
moeite sal doen om die Here beter te leer ken.
Lent is ’n tyd van voorbereiding om geestelik te groei. Mag hierdie jaar se reis deur Lent vir jou ’n tyd van groei en verandering wees.
Die verhaal in 2 Kronieke 15 begin met ’n profeet met die naam Asarja, wat na die koning kom met ’n boodskap. Sy boodskap is eenvoudig en op die man af. Verse 1-7: Soek die Here en jy sal Hom vind. Hy daag Asa, die koning, uit om opsetlik te wees en die Here te soek, want dit is nie iets wat sommer vanself en sonder inspanning gaan gebeur nie.
In die Nuwe Testament word Jesus se volgelinge dissipels genoem. Die woord dissipel het dieselfde stam as die woord dissipline. Dissipline is altyd opsetlik, nooit toevallig nie. So ook om ’n dissipel van Jesus te wees. Jy moet gefokus wees.
Lent roep ons op om weer intensioneel te wees in ons soeke na die Here, want dit gaan nie toevallig gebeur nie. Maar daar is meer. Asarja sê as jy Hom soek, sal Hy jou vind. Die profeet sê vir ons dat ons ’n God soek wat gevind wil word. Die Here het nie bedoel dat om sy kind te wees ’n onmoontlike, malle soektog na ’n mistieke God moet afgee, wat so goed wegkruip dat ons Hom nooit vind nie. Inteendeel. Ons doel gedurende Lent moet wees om opsetlik dié God op te soek wat passievol na ons soek.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Saterdag 8 Maart – Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor
Markus 8: 34-38
In die Lydenstyd dink ons aan Jesus se laaste reis van Galilea na Jerusalem. Ons is enersyds in die tyd op reis saam met Jesus tot waar Hy eindelik op ’n donkie die stad Jerusalem sal binnery, maar ons is andersyds op reis na die ewige Jerusalem. Markus 8 sê wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor. Dit beteken dat as ons saam met Jesus wil lewe en die ewige Jerusalem wil binnegaan, moet ons ook eers saam met Hom sterwe. Ons moet in onsself sterwe sodat ons daagliks meer soos Jesus kan word. Dit verg dikwels opoffering en selfverloëning.
In 1933 het Hitler die kanselier van Duitsland geword. Verskeie beperkinge is in dié tyd aan predikante en geestelike leiers in Duitsland gestel. Amerikaanse predikante en teoloë het egter daarvan te hore gekom. Een van die predikante wat in Duitsland swaargekry het, was die teoloog Dietrich Bonhoeffer. Daar word ’n werksaanbod vanuit Amerika aan hom gemaak in ’n poging om vir hom ’n veilige hawe te skep. Op 4 Junie 1939 vertrek hy na Amerika – ver weg van die krisis en dreigende gevaar in Europa.
Maar na sy aankoms in Amerika bly Bonhoeffer rusteloos. Hy raak al hoe meer oortuig daarvan dat hy tydens die oorlog by sy mense in Duitsland moet wees en hulle geestelik moet begelei: dat hy saam met hulle moet ly. En op 7 Julie 1939, skaars ’n maand later, doen Bonhoeffer die ondenkbare. Hy klim op die skip terug Duitsland toe. Hy is oortuig daarvan dat as hy nie tydens die oorlog saam met sy mense ly nie, hy hulle ook nie ná die oorlog sou kon begelei nie. Op 9 April 1944 sou Bonhoeffer met sy lewe boet.
Mag hierdie Lydenstyd ’n tyd wees waarin ons diep nadink oor die eise van dissipelskap. Jesus sê in Markus 8: 34: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.
Lees Gesang 391: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers

Vrydag 7 Maart – Van binne af nuut!
Matteus 5: 1-11
Matteus 5 begin met Jesus se bekende bergrede. In hierdie gedeelte word die woorde Geseënd is julle nege keer na mekaar herhaal. Matteus 5: 8 lees: Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Die Boodskap vertaal hierdie vers met Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.
Die Griekse woord vir rein wat in Matteus 5: 8 gebruik word, is katharos. Dit beteken vlekkeloos van skuld, onberispelik skoon, suiwer. Die Deense teoloog Søren Kierkegaard het gesê reinheid van hart beteken om net een ding in die lewe na te jaag, naamlik God. Die enigste manier om rein van hart te word, is om by God te begin. Om diep in jou binneste te kyk en werklik eerlik met God en met onsself te wees oor die dinge waarmee ons in ons harte besig is op ’n daaglikse basis. Reinheid van hart kan nooit van buite af geskep of herstel word nie. ’n Rein hart begin by God en hou voortdurend die fokus op God. Dis ’n daaglikse proses van verootmoediging en belydenis. Die Hollandse teoloog Van Ruler het tereg opgemerk: Die hart word nie onrein deur wat hy in die lewe ervaar nie, maar die hart word van binne af onrein. Dit sluit aan by wat Jesus in Markus 7: 15 gesê het: Die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein.
Die Lydenstyd is ’n tyd waarin ons stil en eerlik voor God en voor onsself kom staan. Is daar dinge in jou hart wat moet verander? Wat is die dinge wat jou weghou van God? Hoe oordeel jy oor ander mense? Hoe neem jy besluite? Watter dinge in jou hart moet verander en vernuwe word? Mag jy in hierdie Lydenstyd jou hart kom oopmaak voor die Here. Mag dit ’n tyd van selfondersoek wees. Mag jy daarna smag om met ’n rein hart te lewe.
Lees Gesang 389: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers

Donderdag 6 Maart – Oordeel ons jou te vinnig, Judas?
Matteus 26: 20-25
Daar is min tonele in die Bybel wat kunstenaars se verbeelding so aangryp soos die toneel van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels. Deur die eeue was daar al verskeie kunstenaars wat die toneel op doek vasgelê het. Die gewildste skildery van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels, bly egter Leonardo da Vinci se weergawe wat in die 15de eeu geskilder is. Da Vinci het in 1490 met die skildery begin, en dit eers sewe jaar later voltooi. In dié weergawe hou Judas met sy een hand die sak geld vas waarvoor hy Jesus verraai het; sy ander hand is egter uitgestrek na die brood. Judas hou reeds die sak geld vas, maar met ’n vroom gesig vra hy of hy dalk die verraaier is. Judas, man van twee gesigte.
Dalk wil die skildery van Da Vinci ons vandag ook ’n kykie gee in ons eie harte. Ons is dikwels vinnig om vir Judas te oordeel. Hoe kon hy met homself saamleef? Hoe kon hy homself in die oë kyk? Maar dalk moet ons stadiger wees met ons oordeel. Dalk moet ons ook ons eie harte en motiewe ondersoek. Sit ons nie ook dikwels met die spreekwoordelike sak silwer op ons skoot terwyl ons met die ander hand na die brood reik nie? Reik ons nie ook soms aan die een kant uit na Jesus, die brood van die lewe, maar aan die ander kant klou ons steeds vas aan ons eie lewe, ons eie planne, en ons eie besluite nie? Is die gekruisigde Jesus soms ’n vreemdeling in ons lewe, of leef ons werklik in die voetspore en in die kruisspore van Jesus?
In Johannes 6: 35 sê Jesus: Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie. Mag ons daagliks die brood van die Lewe eet en mag ons daagliks ons harte ondersoek. Watter sakke silwer hou ons steeds op ons skote vas, terwyl ons gelyktydig uitreik na die Brood van die Lewe?
Lees Gesang 393: 2.
Ds Lydia Miller, Villiers

Woensdag 5 Maart – Aswoensdag – die begin van Lydenstyd
Matteus 17: 22-23
Aswoensdag is tradisioneel die begin van die Lydenstyd in die kerkjaar, en is presies 46 dae voor Paasfees. Lydenstyd strek van Aswoensdag tot Stil Saterdag – die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, is dit ’n tydperk van 40 dae. Hierdie tydperk van 40 dae is reeds in die jaar 313 nC as ’n amptelike viering op die Christelike kalender aangedui. Dit is een van ons oudste kerklike tradisies wat jaarliks deur Christene wêreldwyd gevier word.
Die dag het oorspronklik as die Dag van Asse bekendgestaan. In baie tradisies het mense hul klere geskeur. Sommige mense het ook olyfolie geneem, dit met as gemeng om ’n pasta te vorm, en dit dan aan hul voorkoppe gesmeer as ’n simbool van verootmoediging en ’n berouvolle hart.
Met die viering van Aswoensdag wy ons die Lydenstyd in. In hierdie tydperk dink ons spesifiek aan die 40 dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het tydens sy versoeking deur die Satan. Die Lydenstyd staan ook as Lent bekend. Die woord Lent beteken oorspronklik om te rek. Soos die son in die Noordelike Halfrond besig is om elke dag effens langer te begin skyn, so bring Lent ons uit die donker van winter na die ewige Lig. Die Lydenstyd is daarom tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing, suiwering, selfrefleksie – ’n tyd vir prysgee en ook ’n tyd vir agterlaat. Mag elkeen van ons in die volgende 40 dae stil raak en onsself ondersoek. Mag ons in die Lydenstyd opnuut sterf in onsself en leeg word van onsself. Mag ons in dié tyd opnuut ons gesigte na die kruis toe draai, na die ewige Lig, weg van onsself af.
’n Pragtige gedig van Rosa Smit lees: …ek voel uit die bloute wetsgetrou maar onbekwaam. Mag jy God in hierdie Lydenstyd soek en ontmoet.
god van abraham, isak en jakob
is dit voor u wie ek staan?
o here hoe voel ek voel uit die bloute
wetsgetrou en onbekwaam
hy kniel en maak sy stewels los
want God praat braambos
in sy bors
(Rosa Smit, uit “braambos”, in Krone van die narsing, 1987)
Ds Lydia Miller, Villiers

Dinsdag 4 Maart – Jou albasterfles met reukolie
Lukas 7: 36-50
In hierdie gedeelte salf ’n vrou Jesus se voete met nardusolie uit haar albasterfles. Die teks sê vir ons sy was ’n vrou wat ’n sondige lewe gelei het. Ons kan aanneem dat sy dalk ’n prostituut was.
’n Albasterfles was maar ongeveer nege duim (22,9 cm) lank – dus nie baie groot nie. Dit is gemaak uit kalsietsteen wat gewoonlik vanuit ander lande ingevoer is. Dit was baie skaars en waardevol en is gewoonlik gebruik om kosbare olies of parfuum in te berg. Nardusolie is gemaak van die nardusplant, ’n meerjarige krui wat in die Himalajaberge geoes word. Dit was ’n onverdunde, aromatiese olie wat van die wortels van die plant gemaak is. Omdat die olie so duur was, is dit gewoonlik drupsgewys aangewend. So ’n fles met nardusolie was ongeveer 300 silwerstukke werd. In daardie tyd het ’n dagloner gewoonlik omtrent een silwerstuk per dag ontvang. Hierdie olie sou dus meer as ’n volle jaar se verdienste kos en was heel waarskynlik hierdie vrou se kosbaarste besitting.
Hoe ironies dat dié fles met olie die kenteken en belydenis van haar geloof sou word toe sy elke laaste druppel op Jesus se voete uitgiet! Die vrou drup die olie nie versigtig, drupsgewys, op Jesus se voete nie. Nee! Toe hierdie vrou besef hoe nodig sy Jesus het, is daar geen keer aan haar nie… Sy giet die hele fles duur olie op Jesus se voete uit.
Met die breek van die fles, breek sy met haar sondige lewe. In hierdie oomblik gryp sy Jesus aan. Sy sou nie langer die stank van sonde met die soet geur van die nardusolie probeer verdoesel nie. God sien die bedoeling en versugting van hierdie vrou se hart en Jesus sê: Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde (Luk 7: 47).
En Jesus sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede (Luk 7: 50).
Lees Gesang 387: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers

Maandag 3 Maart – Die Pottebakker
Jeremia 18: 1-1
Pottebakkery was ’n bekende aktiwiteit in die Ou Nabye Oosterse wêreld. Die woord waarvan pottebakker oorspronklik afgelei is, is ook dieselfde woord wat vir God se vorming van mense op ander plekke in die Ou Testament gebruik word. In die Hebreeuse teks word die pottebakker se wiel as twee klippe beskryf. Die klei is op die boonste plat klip deur die hande van die behendige pottebakker gevorm. Jeremia hou die pottebakker fyn dop en sien hoe die pottebakker telkens weer die klei in ’n ander vorm druk. Deur so na die pottebakker se werk te kyk, kom die woord van God na Jeremia om hom te laat verstaan dat God van ons verwag om soos klei in sy hande te wees, sodat Hy ons kan vorm.
Die gebeure in Jeremia 18 vind plaas ’n paar jaar voordat die koning van Babel die volk van Israel uit die beloofde land in ballingskap sou wegvoer. Met die ballingskap sou die volk alles op aarde wat vir hulle dierbaar was, verloor. Jeremia was die profeet wat bykans 40 jaar lank God se stem in Jerusalem verteenwoordig het. Hy wys die volk telkens tereg en waarsku hulle dat hulle volgens hul eie gedagtes wandel en dat elkeen volgens die verhardheid van sy eie bose hart optree. Maar die volk luister nie na Jeremia nie en plaas eerder hul hoop op die koning van Egipte. Omdat Israel, die vyand van Babel, die koning van Egipte ondersteun het, sou die koning van Babel eindelik wraak neem en die volk Israel straf deur hulle aan te val, die stad Jerusalem in te neem, en die volk in ballingskap weg te voer.
Van die oersondes van ons mense is eiewilligheid en hardkoppigheid, selfgerigtheid en selffokus. Dit is my reg om my eie pad te kies. Ek besluit self en God is iewers op die agtergrond. Het die volk maar liewers na die woord van Jeremia geluister. Paulus skryf in Romeine 8: 28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Lees Gesang 395: 2.
Ds Lydia Miller, Villiers

Sondag 2 Maart – Stilte – die groot skat
Psalm 37
Die lewe is besig en rumoerig. Stilte is dikwels ’n ongewone luuksheid, veral vir dié van ons wat in die stad bly. Verkeer, fone, rekenaars, televisie… Stilte is definitief een van die skaarsste dinge op aarde. Nie net fisiese stilte nie; ook emosionele stilte. Baie mense raak ongemaklik as daar ’n stil oomblik in ’n gesprek kom. Het ons verleer om stil te wees?
Microsoft het in 2015 ’n kamer in Amerika gebou wat ’n plek in die Guinness World Records behaal het as die stilste plek op aarde. Dit het as die eggolose kamer bekendgestaan. Bitter min mense kon egter langer as ’n uur in die kamer uithou… Té stil!
Fisiese stilte is egter nodig om emosionele stilte en rus te beleef en God se stem te hoor. Hoe kan ons regtig by God rus vind en sy stem hoor as alles rondom ons raas en rumoer? Psalm 37: 7 sê: Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou. Henri Nouwen skryf in een van sy boeke dat dissipline in jou lewe beteken om daarteen te waak dat jou lewe oorvol en te besig is. In ons geestelike lewe beteken stilte om ’n spasie te skep waarin God ons kan ontmoet en ons God se stem kan hoor. Na Elia se magtige oorwinning oor die profete van Baäl, dreig Isebel, die koningin, vir Elia. Hy verval in ’n diep depressie. Maar God praat met hom. In 1 Konings lees ons God praat met Elia in ’n fluistering in die windstilte. Soms help stilte ons om God se stem te kan hoor.
Jesaja 30: 15 gee vir ons die volgende belofte: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. As ons God se stem wil hoor, sal ons soms teen die stroom moet swem, bewustelik moet kies en plan moet maak om werklik stil te word. Mag ons vandag stil raak en God se stem hoor.
Lees Gesang 395: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers

Saterdag 1 Maart – Godgegewe vriendelikheid
Titus 3: 1-7
In Titus se gemeente was daar twee groepe wat onenigheid veroorsaak het deur te sê dat gelowiges iets moet doen om God se liefde en verlossing te verdien. Maar Paulus maak dit baie duidelik dat dit nie waar is nie. Ons kan niks doen om verlossing te verdien nie. Ons het dit verniet by God gekry!
Baie mense in die kerk haak so vas by die wette, dat hulle vergeet van God. Alles van die kerk gaan dan meer oor wette en reëls, sodat hulle nie plek maak vir God se genade nie. Hoor net hoe mooi stel Paulus dit: Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming (Tit 3: 4-5).
Die woord wat hier in Titus 3: 4 gebruik word om God se goedheid aan te dui, vertaal ons met goedheid of vriendelikheid. Dié woord verwys nie na die aangeplakte vriendelikheid soos dié van iemand wat iets aan jou probeer verkoop nie. Dit het ’n dieper betekenis. Dit is ’n tipe vriendelikheid en goedheid wat onvoorwaardelik is, wat vir mense ruimte gee om die potensiaal van ’n Godgegewe vriendelikheid uit te leef. ’n Goedheid en vriendelikheid wat verstaan dat mense foute maak, en ’n vriendelikheid wat bereid is om geduldig te wees en te vergewe. Dit is ’n goedheid en vriendelikheid wat jou aanvaar net soos jy is.
Hierdie goedheid en vriendelikheid bring ’n mens in beweging om ook met hierdie goedheid en vriendelikheid teenoor ander mense op te tree, want dit laat ons en ander geliefd voel. Mag ons in Christus se voetspore volg en ook onvoorwaardelik liefhê, vriendelik wees sonder voorkeur, en God se goedheid uitleef.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Vrydag 28 Februarie – God se liefde, so oneindig
Psalm 117
Het jy ook al kinders gesien wat ’n groot geskenk by hul ouers kry, en dan sê hulle nie eens dankie nie? Dit maak ’n mens sommer vies! Maar dan kry jy kinders wat vir die kleinste gunsbewys of geskenkie van hul ouers af, ongelooflik dankbaar is. Dit maak jou hart sommer bly. So beskryf hierdie Psalm eintlik hoe God se kinders moet reageer op die groot geskenk van redding wat die Here vir ons gegee het. Ons word opnuut opgeroep om die Here te loof en prys!
Psalms 115-118 is tradisioneel in die Joodse erediens gebruik wanneer hulle Pasga gevier het. Pasga is ’n baie belangrike viering in die Joodse godsdiens omdat dit God se redding van die Israeliete uit Egipte vier. Ons vier ook die redding wat God aan ons geskenk het met elke erediens – ons redding deur Jesus Christus! So kry hierdie Psalm vir ons ’n nuwe betekenis. God wat deur Christus vir my en vir jou en vir die wêreld redding gebring het.
Israel was nie die einde van God se reddingsplan nie. God het gekies om deur hulle sy redding te bring. Om hulle as instrument te gebruik. Party Jode het gedink dat net die Jode God se volk is, maar van die begin van die Ou Testament af tot regdeur in die Nuwe Testament sien ons dat God nie net vir die Jode omgee nie. Sy omgee is te groot om dit net vir een volkie te hou. Daarom was Israel eintlik ’n voorbeeld van hoe God se liefde almal bereik, want dit het uitgesprei na al die nasies.
Die woord magtig word in hierdie Psalm gebruik as ’n militêre term om te wys dat God se liefde sterker is as enige aanval daarteen. Met ander woorde, niks kan God se liefde keer nie. Daarom is dit so belangrik dat ons nie net hierdie liefde van God, sy evangelie, vir onsself probeer hou nie, maar dat ons dit gaan verkondig. Ons doen dít uit dankbaarheid vir die liefde en genade wat God oorvloedig in ons lewens uitstort!
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Donderdag 27 Februarie – Verskil in sy lewe
Markus 10: 46-52
In die Ou Testament word daar vertel van die Messias wat gaan kom. Hy sal uit die nageslag van koning Dawid wees. Boonop sal hierdie Messias iemand wees wat kom om die blindes te laat sien, en die dowes te laat hoor. Hy sal iemand wees wat nie met ’n ysterhand oor sy volk regeer nie, maar eerder met deernis. Daarom sal hierdie persoon die goeie herder wees, iets waarvoor koning Dawid eerste bekend was. Met sy geroep na Jesus as die seun van Dawid, beroep Bartimeus hom op Jesus se herderlike sorg en hulp.
Jesus vra dan vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Bartimeus kon vra vir enigiets haalbaar soos ’n geldjie, kos of klere, maar hy vra doelbewus die onmoontlike van Jesus. Hy vertrou dat Jesus ’n werklike verandering aan sy situasie kan bring. Daarom huiwer hy nie om te vra vir die onmoontlike nie – dat ek kan sien. Hy vertrou heeltemal op die Here. Hier gaan dit nie oor ’n wens wat hy vir Jesus sê wat Hy moet doen nie. Nee. Hy vra eerder dat Jesus ’n verskil in sy lewe maak. Jesus maak toe ’n aansienlike verskil! Bartimeus kon weer sien en daarmee saam kon hy deel van die samelewing word.
Na sy genesing kon Bartimeus kies om enigiets te doen, want nou sou die samelewing hom sien as iemand wat kan werk en ’n inkomste verdien. Dit sou iets wees waaroor hy gedroom het, maar hy kies om vir Jesus te volg. Nadat Jesus vir Hom gesê het dat hy maar kan gaan, kies hy vir Christus. Hy kon nie anders nie as om hierdie Jesus van Nasaret, wat sy lewe verander het, te volg. Die groot wonder wat Jesus vir ons aan die kruis verrig het, beweeg ons om dieselfde te doen. Laat ons die Here volg.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Woensdag 26 Februarie – Om te deel
Markus 10: 46-52
Die Jode het die ingesteldheid gehad dat hulle bedelaars help, veral as jy meer as die bedelaar gehad het. Hulle het dit gesien as deel van hul diens van barmhartigheid. In daardie tyd het mense geglo dat daar net ’n beperkte hoeveelheid geld en kos in omloop is. Jy moenie gulsig wees en alles net vir jouself hou nie, want dan weerhou jy dit van iemand wat dit nodig het. Vandag is daar is al studies gedoen wat sê dat daar meer as genoeg kos in die wêreld is om te kan verseker dat niemand honger hoef te gaan slaap nie. Die probleem kom egter by die verspreiding van kos. Ons as mense sukkel om te deel.
Bartimeus se geroep maak die dissipels ongemaklik, en hulle maak hom stil. Hulle het Jesus se tog na Jerusalem gesien as ’n koninklike prosessie. Hulle het geglo Jesus is op pad daarheen om op die troon te gaan klim en te begin regeer. Daarom is daar nie tyd vir onbelangrike mense soos Bartimeus nie, Jesus moet gaan om sy koninkryk te vestig. Blindes, gestremdes, armes en slawe is gesien as minderwaardige mense wat nie ’n sê in die samelewing het nie. Baie van ons dink vandag steeds so.
Die dissipels het ’n belangrike saak misgekyk. Jesus was nie op pad om sy koninkryk te vestig nie, Hy was reeds daarmee besig! Deur vir hierdie arm, blinde man te stop, het Hy nog ’n baksteen van die koninkryk gelê. Hy het stilgestaan en na hierdie man geluister. Ons moet onsself dikwels ook dwing om stil te staan en na ander te luister. Tyd en aanvaarding is van die kosbaarste dinge wat jy vir iemand kan gee. Mense het nie altyd kos, geld of aardse dinge nodig nie – net iemand wat vir ’n slag werklik luister. Deur te luister, wys jy dat daardie persoon saak maak en dat hulle nie alleen is nie. Toe die dissipels besef wat hier besig is om te gebeur, kom daar by hulle ’n hartsverandering. Nou roep hulle vir Bartimeus nader en verwelkom hom by Jesus…
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Dinsdag 25 Februarie – Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou
Jeremia 2: 11-19
Dalk weet jy hoe dit voel wanneer jy baie moeite en tyd in ’n verhouding met iemand belê, maar dan op die ou einde vergeet hulle van jou of erken nie eens dat jy soveel vir hulle gedoen het nie. Dit is wat in Jeremia 2 gebeur. Die Here vra of Israel van Hom vergeet het. Hy het hulle uit slawerny in Egipte gered en teen talle ander aanslae op die pad na en in die beloofde land beskerm. En steeds vergeet Israel van hul God. Soos in die geval van ’n spaarwiel, onthou hulle eers van die Here wanneer hulle diep in die moeilikheid is.
Ons maak ook baie kere so. Ons vergeet heeltemal van die Here wanneer dit goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, dán onthou ons ewe skielik van Hom. Ons vra meer gereeld vir sy bystand as wat ons dankie sê daarvoor.
Israel het só van die Here vergeet dat hul eerste instink was om vir hul vyande, die Egiptenare – wat hulle dekades vantevore as slawe aangehou het – om hulp te vra. Hulle het God se Lewende Water verwerp en eerder die gebarste opgaarputte van onderdrukkers gekies. Daardie tipe hulp kom altyd teen ’n prys: Wees onderdanig en aanbid hul afgode. Dit was die koste waartoe die Israeliete heel tevrede ingestem het. Hierdie plan het vir hulle sleg uitgedraai en die Babiloniërs het hulle in ballingskap gevange geneem. Toe eers besef hulle dat hulle al die tyd vir God nodig gehad het.
God is die Lewende Water wat nooit sy kinders vergeet nie. Dit is hoekom Jesus Christus gekom het om die mensdom van die groot vergeet te red. Dit is waarvan sy liefde getuig. Wat so verbasend is van hierdie groot liefde, is dat dit nie verwag dat ons moet terugbetaal nie. Ons kan in elk geval nie. Jesus Christus is die Lewende Water waarsonder ons nie kan lewe nie. Onthou om Hom altyd te onthou.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Maandag 24 Februarie – Red my van ’n lewelose lewe
Psalm 116
In Psalm 116 sê die Psalmdigter dat doodsgevaar hom omsluit het. Hy besef dat geen mens hom kan red nie, en hy smeek die Here om hulp…
Daar is ’n baie mooi belydenis wat ons telkemale in die Ou Testament aantref: Barmhartig en genadig is die Here, Hy is regverdig. Dít is hoe Israel die Here beleef het. Daarmee saam het die Here ’n sagte plek vir mense wat in nood is, mense wat weerloos is, vir dié wat na Hom roep uit hul magteloosheid. Dit maak sin, want as jy nie besef dat jy weerloos is nie, gaan jy dink dat jy nie die Here nodig het nie. Dan gaan jy die Here nie volkome kan vertrou nie. Ons moet besef dat ons nie uit eie verdienste onsself kan red nie. Die Psalmdigter het geroep na die Here in sy nood, in sy weerloosheid, en die Here het sy oor na hom toe gedraai. Die Here het hom gehoor en gehelp.
Die Here red hom van die dood. Ons sien dat die Psalmdigter doelbewus vaag is oor die doodsgevare wat hy beleef het, sodat enigeen daarmee kan identifiseer. Hierdie dood gaan nie net oor die biologiese dood wat hy vrygespring het nie, dit kan ook na die toestand van ’n lewelose lewe verwys – die toestand waar ’n mens nie meer die lewe leef nie, waar jy maar net is. Maar die Here red die Psalmdigter van só ’n lewe.
Dit is wat Christus vir ons elkeen gedoen het. Hy het ons kom red van die dood wat ons wou skei van die teenwoordigheid van God. Christus het seker gemaak dat ons ’n goeie lewe kan leef omdat God in ons lewens betrokke is. Dit beteken nie dat geen slegte dinge ons gaan tref nie; eerder dat wanneer slegte dinge met ons gebeur, dit ons nie so platslaan dat ons geen uitsig of hoop meer het nie. God bly ons hoop. Hy sal ons altyd weer optel en ons deur enige situasie dra.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Sondag 23 Februarie – Geskenk om te deel
Efesiërs 3: 1-9
Om hierdie rede, is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus, ter wille van julle (Ef 3: 1).
In hierdie gedeelte praat Paulus van sy verkondiging aan die heidennasies. Hy het as gevolg van hierdie verkondiging in die tronk beland. In daardie tyd was dit buitengewoon om buite jou godsdienstige groep aktief na mense te gaan soek om hulle te oortuig om na jou geloof oor te kom. Een godsdienstige groep sou altyd neerkyk op die ander groep. Ander groepe is mos nooit so goed soos joune nie. Maar Paulus het nie in hierdie siening vasgeval nie. Hy het teen die norm ingegaan en Christus aan mense buite die Joodse groep verkondig.
Vandag gebeur dit steeds dat gelowiges dink dat hulle beter as ander is. Soms dink ons selfs dat ons denominasie beter as ander denominasies is. As gelowiges pas dit nie by ons om hoogmoedig teenoor enige ander persoon te wees nie. Die meeste van ons oer-voorouers kom nie uit die Midde-Ooste nie. Daarom kan ons nie daarop roem dat ons direk afstam van die oorspronklike verbondsvolk, Israel, nie. Maar dit maak ons nie vandag mindere gelowiges nie. Ons kan maar net in nederigheid dankbaar wees vir Christus wat vir ons kom wys het dat God ook vir ons lief is en ons in sy koninkryk insluit.
Dit is wat ons met Epifanie vier. Die bekendmaking van Christus se verlossing vir almal – vir alle volke en nasies. Ja, vir die hele wêreld. Dit roep ons op om weer erns te maak met ons verantwoordelikheid om die evangelie uit liefde vir God en medemens te verkondig – in woord en daad, sodat ander Christus in ons kan sien. Ons is nie gelowiges vir roem, geld, aansien of enigiets anders as die groot genade van die Here nie.
Hierdie genade is ’n geskenk wat God aan ons gegee het, en dit het Christus se lewe gekos. Wanneer ons die diepte van hierdie geskenk besef, kan ons nie anders nie as om dit ook verder te gaan uitdeel. Die beste geskenke is dié wat ’n mens met ander deel sonder om daaroor te wil roem.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Saterdag 22 Februarie – Geloof is…
Efesiërs 3: 14-21; Hebreërs 11: 1-2
Dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon (Ef 3: 17).
Daar is mense wat sê dat geloof die wêreld ’n komplekse plek maak en dat geloof net te ingewikkeld is om te verstaan. Dalk lê daar ’n waarheid in hierdie stelling, maar dan moet ons wonder hoekom.
Die werklikheid is dat die kerk as ruimte waar ons ons geloof uitleef, asook die keuse om in God te glo, nie meer deur almal gerespekteer word nie. Mense skroom nie om gelowiges te kritiseer en selfs te verkleineer nie. Hierdie dinge dra daartoe by dat mense nie meer openlik oor hul verhouding met God wil praat nie.
Maar hoe groter die stilte oor God raak, hoe harder skree die wêreld wat Hom nie wil ken en eer nie, vir meer. Hoe meer ek en jy daarvan wegskram om Hom openlik te bely, hoe meer ons toegee aan die eise om nie sy Naam uit te dra nie, hoe meer word dié eise, totdat daar later niks meer oor is nie. Net stilte waar die stemme wat Hom moes prys, weggekwyn het.
Wanneer Christus in ons harte woon en ons seker is van die dinge waarop ons hoop, sal ons met lof daaroor getuig. Ons geloof is geanker in die God wat hemel en aarde gemaak het, in Jesus Christus, die Seun van God wat mens geword het en onder mense kom woon het om sy redding aan hulle te bring. Ons geloof is geanker in die belofte van God se Gees, wat as Waarborg en Voorspraak ons verseker dat Hy by ons sal wees tot in alle ewigheid.
Geloof is om te glo, te hoop, te bid, te wag, te dien en te bely. Dit is om staande te bly te midde van die oorverdowende geraas wat jou stem wil stil maak en jou getuienis wil ontken. Geloof is jy wat geanker bly en kies om te dien in eenvoud. Geloof is wanneer ons die stem wat ons wil stil maak, herinner: Hier’s ’n God om in te glo! (VONKK 404).
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Vrydag 21 Februarie – Aan Hom kom die eer toe
Efesiërs 3: 14-21; Filippense 2: 9-11
Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Hoe kan ons dan anders as om Hom te eer en te erken? God is soveel meer as die grootste oorwinning wat enige mens al ooit kon behaal. Geen maanlanding of Wêreldbekertrofee kan ooit groter eer ontvang as wat God toekom nie. Geen sportster of pop-ikoon behoort meer aandag en toewyding van ons te ontvang as wat God moet ontvang nie.
Ons behoort elke dag met ons hart en gedagtes na God gerig te lewe in die besef dat alles wat ons het, ’n genadegawe van God is. Soveel lewens word vernietig omdat mense die verkeerde dinge in die lewe najaag. Aansien en erkenning in mense se oë het belangriker geword as die erkenning wat ons van God af ontvang. Kinders begin al vroeg in hul lewens bewus raak van die dinge wat aardse erkenning ontvang, maar hulle word nie noodwendig geleer dat hierdie dinge geen ewigheidswaarde dra nie. Die regte adres, die regte motor, klere met ’n duur handelsmerk, die vertoon van welvaart, alles aardse dinge wat ten koste van soveel ander waardevolle dinge in die lewe ’n spoor van vernietiging nalaat. Dit gaan nie oor wat ek het of nie het nie, maar veel eerder oor wat ek doen met dit wat God aan my toevertrou het.
Filippense 2: 5-18 leer ons dat Jesus die voorbeeld is wat ons moet nastreef en dat ons as ligdraers in die wêreld moet optree deur die Woord van die lewe uit te dra. Waar sal ek begin? Deur dieselfde gesindheid op te neem wat daar ook in Christus Jesus was. Hy het mense en die wil van sy Vader eerste gestel. Hy het Homself verneder tot in die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef … en elke tong sou erken: Jesus Christus is Here! (Fil 2: 9-11).
Aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Donderdag 20 Februarie – God se liefde is nie oëverblindery nie
Efesiërs 3: 14-21; Johannes 3: 16
Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan (Ef 3: 19).
Jy weet dit kan tog nie wees nie, maar hoe is dit dan moontlik? Dit speel hier voor jou oë af. Die vaardigheid en geheimsinnigheid waarmee hierdie kulkuns uitgevoer word, fassineer mense al oor eeue heen en laat mense wonder…
Een ding waarvan ek en jy seker kan wees, is dat God in sy liefde vir ons nie met oëverblindery besig is nie. God se liefde, sy genade en sy verlossing vir elkeen wat in Hom glo, is nie ’n illusie nie. Dit probeer nie ’n indruk skep van iets wat skynbaar onmoontlik behoort te wees nie. In God vind ons die Waarheid wat Hy gestuur het, sy enigste Seun. Hierdie Waarheid is nie ’n afgesaagde partytjietruuk of ’n kulkunsvertoning met indrukwekkende musiek en beligting nie. Hy kom in eenvoud, sodat elkeen Hom kan sien en vind.
Dit behoort ons verstand te bowe te gaan. In God se liefde stuur Hy sy Seun, wetende dat Hy ’n prys gaan betaal sodat ons kan lewe. Jesus weet sy dissipels en volgelinge gaan voete van klei hê. Hy weet dat die woorde wat ons spreek en die dade van ons getuienis nie altyd ooreenstem nie. Hy weet dat daar diegene gaan wees wat Hom gaan volg bloot uit nuuskierigheid, en sommige net vir eie gewin. Maar net soos God nie met ons speletjies van oëverblindery speel nie, net so kan ons dit ook nie met Hom doen nie. Nog minder kan ons dink dat ons daarmee kan wegkom.
Wanneer ons God se liefde ken en die omvang daarvan verstaan, antwoord ons dankbaar en nederig en leef ons toegewyd en gehoorsaam aan sy roepstem:
Hoor my antwoord op u liefde,
neem die gawes wat ek gee.
Maak my diensbaar in die wêreld –
’n getuie tot u eer.
Sterk my swakheid deur u almag;
deur u krag, my nietigheid.
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.
(VONKK 205: 3)
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Woensdag 19 Februarie – In my lewe word ek met God se volheid vervul
Efesiërs 3: 14-21; 2 Korintiërs 4: 7-10
En mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Ef 3: 19).
In my lewe is die titel van ’n lied wat deur Mathys Roets gesing word; die lirieke van hierdie lied is deur Nardus du Plooy geskryf. Dit vertel die aangrypende verhaal van die dinge wat ’n persoon al deurgegaan het in die lewe. Die skrywer het tydens ’n onderhoud daarna verwys en gesê dat die lied iets vertel van elke mens se lewe. Ons almal se lewe het ’n bepaalde storielyn en in hierdie verhaal van ons lewe speel daar elke dag baie dinge af.
In my lewe… Wat sal jy hier vertel? In my lewe het ek seergekry, opgestaan, gelag en gehuil, geluk gevind, verlies ervaar. In my lewe het ek trane gestort, trane van dankbaarheid en ook trane van verlies. In my lewe het ek God al ervaar, kragtig en teenwoordig, en in my lewe het ek al gewonder: Here, waarom dan net een ry voetspore?
Die teks in 2 Korintiërs 4 wat handel oor die skat in kleipotte, herinner ons daaraan dat ons in ons besig wees met die lewe, bewus moet wees van ons breekbaarheid. Dit herinner ons dat die krag wat alles oortref van God af kom en nie van onsself nie. Daarom, te midde van die veranderinge in ons lewensverhaal wat ons met tye tot op die kruin van die golf neem, maar ons ook met tye hard laat val, vind ons die vertroosting dat ons nie deur God verlaat is nie. Ons weet dat daar in hierdie lewe sekere dinge is wat ons nie kan vermy nie, en dit sluit die verliese in wat die lewe inhou.
God wil hê dat ons Hom te midde van die storms en die verliese kan vind en Hom kan eer, en kan ervaar dat Hy hierdie kosbare lewensreis saam met ons meemaak. Daarom vind ons ook hoop in die gebed van Efesiërs 3 wanneer ons hoor en ervaar dat ons met die volheid van God vervul word.
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Dinsdag 18 Februarie – Gebed, ’n gesprek tussen my en God
Efesiërs 3: 14-21; Matteus 6: 5-13
Kom ons bid…
Hoe behoort ek te bid? Jy sal verbaas wees waarop jy gaan afkom as jy ’n soektog op die internet gaan doen. Moenie hierdie doen nie, maar doen daardie. Nie sit nie, nie staan nie, nie lê nie. Nie met jou oë oop nie. Sit jou hand op die Bybel, slaan jou oë op na die berge. Daar is letterlik duisende opinies oor wat nou eintlik die regte manier van bid behoort te wees.
Gebed is ’n besondere geleentheid om met God in gesprek te tree. Enige tyd, enige plek. Dit is tog voor die hand liggend dat jy nie agter die stuur van jou motor jou oë gaan sluit om met God te praat terwyl daar oral verkeer op die pad is en jy moet konsentreer om jouself en ander veilig te hou nie. Maar dit beteken nie dat dit nie ’n geleentheid is om met God in gesprek te tree nie. Bid vir jouself, jou medepadgebruikers, die gesin in die voertuig langs jou en die bedelaar op die straathoek.
Ons praat met God kom vanuit verskeie plekke en behoeftes in ons lewe. Soms wil ons net dankbaarheid deel, ander kere het ons ’n saak wat vir ons baie swaar op die hart lê en soek ons na leiding en uitkoms daaroor. Gebed is egter soveel meer as die woorde wat sê: Nood leer bid. Jou tyd saam met God en jou gesprek met Hom, moet nie net plaasvind wanneer die storms woed nie, dit moet juis opklink in jou lewe wanneer jou dankbaarheid ook gehoor en gedeel moet word.
Die krag van gebed lê nie in mooi woorde of perfekte sinne nie. Dit gaan nie oor die wie of die waar nie, maar dit lê in die hand van Hom wat hierdie gebed aanhoor en daartoe in staat is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.
Leer ons bid, Heer, sonder al die vrae –
Vader, wat U wil, is goed.
Help ons net om hierdie dag te dra
met ’n vredevol’ gemoed.
(VONKK 167: 3)
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Maandag 17 Februarie – Innerlike versterking
Efesiërs 3: 14-21; Jesaja 40: 31
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (Ef 3: 16).
Elkeen van ons het ’n letsel of twee wat ons al in die lewe opgedoen het. Fisiese letsels wat sigbaar is op ons liggaam het die geneigdheid om uit te loop op die vraag: Wat het daar gebeur? Ek het self ’n paar letsels wat ’n sigbare getuienis is van my grootwordjare en wat ’n stille herinnering is aan die grense wat ons as kinders oorskry het terwyl ons gespeel het.
Letsels kan egter ook geestelik en emosioneel van aard wees. Verliese, soos wanneer ons ’n geliefde aan die dood afstaan of wanneer ons voel dat ons gebede onbeantwoord bly, kan geestelike letsels in ons lewe veroorsaak. Kinders bevind hulle in die middel van emosionele uitdagings wanneer hulle geboelie, uitgetart en gespot word en later selfs begin glo dat hierdie kwetsende woorde waarheid bevat. Dalk beleef jy hierdie uitdaging vandag in jou werkplek of in jou eie huishouding waar jy emosioneel gedreineer voel. Jou menswaardigheid en vertroue in God en jouself hang dalk aan ’n baie dun draadjie. Daardie welbekende hoekom wat ons vra, wat uit ’n plek van desperaatheid kom en met tye so lank onbeantwoord in ons lewe bly, het al menige keer op twyfel uitgeloop en ’n geestelike letsel gelaat wat ons laat voel dat ons gebede nie verhoor word nie.
Die gebed in Efesiërs 3 en Jesaja 40: 31 wil ons vandag opnuut verseker dat God se lewegewende krag ons hoop en redding is. Mense se woorde en dade, myne en joune ingesluit, kan verwoesting saai, of dit kan opbou en herstel. God roep ons op en herinner ons daaraan dat Hy deur sy Gees aan ons die krag gee om innerlik sterk te word. Mag jy opnuut besef dat daar niks is wat jou van die liefde van Christus kan skei nie en dat Hy jou vervul met sy krag – ’n krag wat alles oortref en wat jou lei tot genesing en innerlike versterking.
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Sondag 16 Februarie – Die volle omvang van God se liefde
Efesiërs 3: 14-21
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3: 18).
Een van die eerste dinge wat ’n mens in jou lewe leer, is dat daar grense gestel word. Klein kindertjies word angstig in hul opgroei en ontwikkeling deur besorgde oueroë en -hande gevolg en begelei om hulle van al die gevare rondom hulle bewus te maak. Wees versigtig! Moenie daaraan vat nie! Dit is woorde wat bekend is in enige huis waar daar klein kinders teenwoordig is. Die besorgdheid en omgee, maar met tye ook die fermheid van ’n ouerstem, volg hierdie lyfies oral waar hulle gaan. Namate ons ouer en meer selfstandig word, besef ons die waarde van grense wat vir ons gestel word.
Hierdie grense het ten doel om ons op ons lewenspad op koers te hou. Dit vorm deel van die rigtingwysers van ons lewe. Uiteraard weet ons dat grense ook getoets word. Motiveringsprekers gebruik grense as voorbeeld om mense aan te moedig om nie tevrede te wees met middelmatigheid of beperking nie. Jaag jou drome na! Verskuif grense en bereik nuwe hoogtes in jou lewe! Grense kan dus baie maklik as ’n beperking beskou word en terselfdertyd as ’n veiligheidsmaatreël vir jou lewe dien.
Die gebed in Efesiërs 3 wil ons bewus maak van die volle omvang van God se liefde vir ons. As kinders van God weet ons dat God deur sy Seun, Jesus Christus, sy liefde ten volle aan ons openbaar maak. Hy stap self die pad enduit en bring die belofte van God se verlossing vir ons. Hy maak ons opnuut bewus van sy liefde vir ons. Hierdie liefde wat geen beperking of grense ken nie, is ’n liefde wat ons lewens onherroeplik verander, en daarom kan en behoort ons elke dag so daarop te reageer:
Ek wil antwoord op u liefde
deur die gawes wat U gee,
deur die aanraak van my naaste,
deur te lewe tot u eer.
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.
(VONKK 205: 2)
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal

Saterdag 15 Februarie – Tyd is die asem wat liefde laat lewe
Prediker 3: 1-13
Mense sê maklik: Ek het nie tyd nie! Kry sommige van ons meer tyd as ander? Nee, almal kry presies dieselfde hoeveelheid tyd in ’n dag. Een van die belangrikste lesse wat elkeen van ons moet leer, is: Tyd is die asem wat liefde laat lewe! Kan ’n mens vir iemand sê dat jy vir hom of haar lief is en dan nooit tyd saam met hulle deurbring nie? Kan ’n mens vir God lief wees en nooit bereid wees om tyd te maak om met sy Woord besig te wees of daadwerklik vir Hom iets te doen nie?
Die dag toe ons Here Jesus gebore is, het God self in ons tyd ingekom. God het besluit dat die tyd reg was vir die wêreld om sy liefde sigbaar en tasbaar te beleef. Vir Jesus was daar ’n tyd om gebore te word, maar daar was ook ’n tyd om te sterwe. Dit alles was deel van God se plan sodat die deur vir elkeen van ons oopgesluit kon word na die onbepaalde tyd – die ewigheid saam met God. Jesus leer ons dat God lief is vir ons en daarom het Hy tyd vir ons.
Hoe antwoord ons die Here? Een van die belangrikste wyses waarop ons God kan antwoord, is om tyd te maak vir Hom. Ja, ook hier is tyd die asem wat liefde laat lewe. Lewe jou liefde vir God? Niemand het een enkele uur meer as ’n ander gekry nie. Ons het almal 24 uur in elke dag. God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. As jy bo alles na die stem van God luister, sal jou tyd ook uitwerk en jou hele lewe, maklike en moeilike tye, sal kosbare tyd saam met God wees.
Gebed
Vader, ek is baie lief vir U. Help my om my tyd so te gebruik dat hierdie liefde vir U sal lewe. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Vrydag 14 Februarie – ’n Lewe wat ontvang… en gee
Kolossense 3: 1-17
Gelowiges kan troos daarin vind dat wanneer ons eendag voor God sal staan, Christus alles in almal sal wees. Dit is die gawe van die evangelie. Vir ’n gelowige is Christus ons lewe. Alles wat ons sê en doen, gebeur in die Naam van ons Here. Kan ’n mens wat deur geloof so aan ons Here Jesus verbind is, voortgaan met ’n lewe wat net op aardse dinge gerig is, en net aardse dinge belangrik ag?
Paulus sê nee! Ware geloof verteenwoordig ’n radikale breek met die ou, sondige mens. Gelowiges word nuwe mense, met nuwe prioriteite. Tog is dit ook waar dat die nuwe mens nie eensklaps ’n volmaakte mens is nie. Onder leiding van die Heilige Gees, leer Paulus ons, word die nuwe mens van dag tot dag al hoe meer vernuwe om die beeld van sy Skepper te weerspieël. Hierdie proses behels dat ’n mens veg teen die aardse begeertes en dit weerstaan. ’n Gelowige mens vertoon nuwe gewoontes. So iemand is meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam, geduldig, vergewensgesind, liefdevol, gevul met vrede, dankbaarheid en wysheid. Hulle sing graag vir die Here. Is dit onrealisties? As God nie bestaan het nie, sou ek saamstem dat dit onrealisties is. Maar juis omdat God bestaan en dag vir dag met ons besig is, weet ek dat die proses van vernuwing in ons elkeen aan die gang is.
Gaan dink weer mooi oor u lewe in Christus. Gaan leef die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God kom. Wat u ook al sê of doen, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Gebed
Vader, stuur u Heilige Gees ook in my hart sodat ek dag vir dag vernuwe kan word. Dankie dat ek u kind kan wees en kan deel in die liefde van u huisgesin op aarde. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Donderdag 13 Februarie – Belange of liefde?
Deuteronomium 11: 8-21
Word ons verhouding met die Here op belange of liefde gebou? Kom ons toets onsself. Waarom dien ons die Here? Waarom maak ons opofferings om sy kerk in stand te hou? Dink ons dalk omdat ons gehoorsaam is en die Here dien, moet dit met ons goed gaan? As ons so redeneer, word ons verhouding met die Here op belange gebou. Ek dien die Here sodat ek iets daaruit kan kry. Die Here stel nie in so ’n verhouding belang nie. Die bestes onder ons se gehoorsaamheid en diens is in elk geval onvolmaak terwyl God volmaak is. As ons voorspoed by God verdien moet word, sal dit nooit weer met ons goed gaan nie.
Ons gehoorsaamheid en diens kan nie verdien dat ons hemel toe gaan nie en dit kan ook nie vir ons die Here se seën verdien nie. In Jesus Christus het ons juis geleer dat ons verhouding met God op liefde gebou is. Liefde wat eerste by Hom begin, maar liefde wat ons ook met hart en siel teenoor Hom moet uitlewe. ’n Ware liefdesverhouding kan nie op belange gebou word nie. Dit is waar vir ons verhoudings met mekaar en ook vir ons verhouding met die Here. Ware liefde gee alles. God het sy alles vir ons gegee. Om God lief te hê, is om Hom ook met alles te dien. Moses stel dit so mooi in Deuteronomium 11. Dit is sigbaar in jou handewerk en in jou dinkwerk. Dit is sigbaar wanneer jy by jou huis is en wanneer jy op pad is. Dit is sigbaar wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan. Dit is sigbaar in die lewe van ’n huisgesin en in die lewe van ’n gemeenskap wat die Here dien. Dit is sigbaar soos ’n merk wat niemand kan miskyk nie.
Gebed
Here, ek het U lief met hart en siel en al my krag. Werk deur u Gees in my sodat my hele lewe altyd van hierdie liefde sal getuig. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Woensdag 12 Februarie – In liefde geplant
Efesiërs 3: 14-21
In die Bybel is daar heelwat gedeeltes wat ’n mens se hartsnare roer wanneer jy dit lees. Paulus se gebed vir die gemeente van Efese is so ’n gedeelte. Dit is nie net ’n gebed vir Efese nie, uiteindelik is dit ’n gebed vir die hele kerk oor die wêreld – ook vir die deel van die kerk wat reeds die ewigheid betree het. In hierdie gebed kry ons die rede vir die bestaan van die kerk. Die Vader is die begin van alles en almal. Deur sy Gees, uit die rykdom van sy heerlikheid, maak Hy ons van binne af sterk. Deur geloof woon sy Seun, Jesus Christus, in ons harte. En hier in die binneste van ons binneste, skep God Drie-enig so die fondament waarop ons ons lewe en die kerk kan bou.
Paulus stel dit so: dat ons in die liefde gewortel en gegrondves is. Dit moet die fondament, die grond, die groeikrag, die bron van ons elkeen se lewe wees. Hierdie liefde is die kragbron wat God in elkeen plaas wat ons innerlik sterk maak. Liefde wat wyd, ver, hoog en diep strek. Liefde wat die verstand te bowe gaan. Liefde wat die volheid van God in ons bring. Het jy al probeer om dit te verstaan? Dalk is dit te wyd, te ver, te hoog en te diep vir ons. Dit gaan ons verstand te bowe!
Dit is deur hierdie liefde as kragbron in elkeen van ons dat God in staat is om oneindig meer te doen as wat ons kan hoop of dink. Ja, God, nie ons nie. Daarom kom al die eer deur al die geslagte heen tot ewigheid aan God toe. Ons is in sy liefde geplant!
Gebed
Here, mag my lewe ook in u liefde geplant wees sodat ek waarlik kan lewe. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Dinsdag 11 Februarie – Wat is die belangrikste in die lewe?
2 Johannes 1
’n Besliste realiteit van hierdie lewe is dat nie een van ons vir altyd hier sal wees nie. Vir elkeen van ons kom daar ’n dag dat ons moet afskeid neem van die aarde en alles en almal hier. Wat of wie sal jy daardie dag om jou bed wil hê? Sal jy die volgende sê? Bring al my grade en sertifikate, al die toekennings en eerbetoon wat ek in my lewe ontvang het. Of: Gaan trek al my geld uit my bankrekening en bring dit hier na my toe. Of: Vat my bed na die motorhuis toe sodat ek by my motors te wees. Of: Bring die goue horlosie wat die werk vir my gegee het en vat my terug na die plek toe waar ek gewerk het.
As jy ’n keuse het, glo ek sal jy eerder die mense wat jou liefhet – jou familie en vriende, jou broers en susters in die geloof – om jou bed wil hê. Dit is ’n groot leuen dat eer en aansien of geld en besittings of die werk wat ons doen, vir ons die belangrikste in ons lewe is. As jy die waarheid wil weet, gaan vra ’n persoon wat sterwend is. Die antwoord is liefde, mense se liefde, maar selfs nog belangriker, God se liefde. Ons hoef nooit daaroor te twyfel nie dat God vir ons lief is. As ons ooit sou vra Here, het U my lief?, sal ons Vader sê: Kyk na die kruis en antwoord self! As ons ons Hemelse Vader sou vra Here, hoe wil U hê moet ons vir U lewe?, is daar geen twyfel in my hart nie dat God ons sal antwoord: As julle vir My wil lewe, gaan lewe in ooreenstemming met die waarheid van die evangelie. Gaan lewe soos Ek bedoel het julle moet lewe. Gaan lewe in die liefde! Kom ons sê dankie vir ons Hemelse Vader deur die belangrikste te doen: die liefde te gaan lewe.
Gebed
Liefdevolle Vader, help my om lief te hê. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Maandag 10 Februarie – Liefde om te deel…
1 Johannes 4: 16b – 5: 5
Waar kom liefde vandaan? Johannes skryf liefde is nie iets wat van ons mense af kom nie. Liefde kom van God af. God is liefde! As ’n mens wil weet wat liefde is, moet jy nie die antwoord op die aarde soek nie. Jy begin by God en sy liefde. Sy liefde vir ons mense was ook geen goedkoop liefde nie. Om vir ons lief te wees, kos ons Vader baie duur. Om ons los te kry uit die regverdige oordeel, was Hy verplig om sy eniggebore Seun, Jesus Christus, Mens te laat word, om in ons plek die lyding, smart en dood te dra.
God leer ons dat ware liefde gee, baie gee, voordat dit vra. Maar let op, ware liefde gee nie net, en gee en gee en gee nie! Nee, uiteindelik vra dit ook. Liefde kan nooit net van een kant af kom nie, ware liefde is ’n band wat meer as een aanraak. God verwag dat die liefde wat Hy vir ons het, ons stewig aan Hom moet vasbind, maar ook aan mekaar. God verwag van sy kinders om mekaar ook lief te hê. Is dit die liefde wat ons ken? Baie van ons is deel van ’n huisgesin – pa, ma en kinders. Ons is ook lidmate van gemeentes – ’n huisgesin van God in ons omgewing. Sien ons mekaar raak en is ons werklik lief vir mekaar soos broers en susters vir mekaar lief moet wees?
Neem vandag ’n besluit om moeite te doen om ook die mense in u gemeente wat u nog nie ken nie, te leer ken. Ons kan vir mekaar onvoorwaardelik lief wees, want God het ons eerste onvoorwaardelik lief gehad. Ons kan vir mekaar lief wees, want liefde kom nie van ons af nie, liefde kom van God af. Hy gee dit vir sy kinders om dit ook met mekaar te deel.
Gebed
Liefdevolle Vader, help ons om lief te hê soos U ons eerste lief gehad het. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Sondag 9 Februarie – Wat op aarde maak ek hier?
Kolossense 1: 15-20
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is ’n fabriek waar gevangenes gedwing is om te werk, in ’n lugaanval vernietig. Om die werkers besig te hou, het die mense in beheer die verskriklike plan bedink dat die werkers die puin van een kant na die ander, heen en weer, moes verskuif. Kort voor lank het heelwat van die werkers totaal moed opgegee. Hulle wou nie meer lewe nie.
Om sinvol te lewe, moet ons weet wat op aarde ons hier maak. In Kolossense 1 staan geskryf: God het alles in die heelal deur sy Seun geskep. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Die Here ons God is die oorsprong van alles. As ons dus die rede vir ons bestaan wil weet, sal ons by God moet gaan leer. Ja, ons is hier om God te verteenwoordig, die aarde te bewerk en te bewaar. Ons is hier om God te loof en te eer. As ons mooi oor al hierdie dinge dink, moet ons verslae erken dat God baie maklik sonder ons kan klaarkom. Die aarde sal ’n natuurparadys wees sonder ons! En die engele sal vir seker God beter kan loof en eer as wat ons kan doen.
Nou wat is die antwoord?
Liefde loop soos ’n goue draad deur die Bybel. God is liefde. God het ons gemaak om ons lief te hê! Liefde loop egter altyd die risiko dat dinge kan skeefloop, en dinge het skeefgeloop met die mens. Omdat God liefde is, kies Hy om die vrede te herstel. Hy stuur sy geliefde Seun om ons straf te dra. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen.
Wat op aarde maak ons hier? Slegs as ons God se liefde leer ken en Hom ook lief het, sal ons die antwoorde weet.
Gebed
Liefdevolle Here, ek erken vandag dat alles deur U en vir U geskep is. Dankie dat U my liefhet en dat ek ook vir U lief kan wees. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Saterdag 8 Februarie – Verstaan ons nou?
Markus 16: 1-8; Openbaring 3: 7-13
Liewe medegelowige:
Die Woord van God het in vervulling gegaan. Verstaan ons dit? Besef ons hoe God, in die vervulling van sy Woord, sy grootheid, sy mag, sy trou en sy ontferming aan ons openbaar? Dit kan nie anders nie as dat ons in verwondering stil sal raak.
Met kommer oor wie die graf sal oopmaak, het die vroue die wonder van die vervulling van die Woord van God aanskou. Die graf, die deur, is oop! Hy het opgestaan en Hy leef! Die graf, die dood, het nou net ’n deur geword vir dié wat in Hom glo.
Net soos wat die Woord as waar en betroubaar getoon is deur die bevestiging dat Jesus die Christus die Koning is, net so seker is die Woord dat dié wat glo, sal lewe al moet hulle ook eendag sterwe.
Hy het die deur oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie!
Ek wil die week se paar gedagtes afsluit met ’n saak wat ek tot nou gelaat het: Jesus is gesalf as Koning. Dit het Hy bevestig deur sy mag en gesag. Hy is gesalf as Profeet. Dit het Hy bevestig deur die Woord te verkondig. Maar Hy is ook as Priester gesalf. As Priester was Hy nie net die Een wat die offer gebring het nie, Hy was self ons offer wat God voorsien het. ’n Offer wat volmaak en sonder gebrek was, wat vir God aanneemlik was en die voorhangsel van die tempel van bo na onder laat skeur het. Nou kan daar danksy hierdie offer teruggekeer word na die Vaderhuis.
In Christus is u en ek medegesalfdes, konings, priesters en profete.
As konings: Aan Kain is gesê: Die sonde (ongehoorsaamheid) wag jou in daar buite. Maar jy moet oor hom heers. Heers en beheers.
As priesters: Bring offers van dankbare gehoorsaamheid aan God.
As profete: Verkondig met woord en daad dat jy is wat Hy gemaak het.
Lees ook Johannes 20: 30-31.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Vrydag 7 Februarie – Verstaan julle nog nie?
Lukas 24: 13-27; Johannes 20: 26-31
My medegelowige: Watter wonderlike voorreg het hierdie twee mense nie gehad nie! Hulle is bedruk, teleurgesteld en in vertwyfeling, op pad terug na hul tuisdorp. Hul hoop lê aan skerwe. Die onderdrukking deur die Romeine sal voortduur. Diep teleurgesteld in die Een op wie hulle hul hoop gevestig het.
Maar dan, juis as hulle so sonder hoop loop, sluit Jesus by hulle aan en ontvang hulle ’n stukkie woordverklaring soos geen ander mens dit ooit ontvang het nie. Jesus lê alles uit wat op Hom betrekking het, en dan word hul harte warm. Nou gaan hul oë oop. Hulle word geleer om verder as hierdie aardse hoop en verwagtinge te kyk. Daar is iets groters wat afgespeel het, wat van groter belang is as die onderdrukkende bestaan en harde juk en swaar las van die Fariseërs.
Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie? Hul oë, hul harte, hul ore was afgestomp deur die omstandighede waarbinne hulle hulle bevind het.
Is dit nie dikwels maar net so met ons nie? Ons laat ook toe dat die omstandighede waarbinne ons ons bevind, ons oë verblind, ons ore en harte afstomp, ons sonder begrip laat en ons met traagheid van gees vervul, sodat ons dan met sleepvoete deur die lewe gaan.
My medegelowige, wees verseker, ook in ons tyd is die Woord van God nog besig om in vervulling te gaan. Elke dag ervaar ons dit in die kleine – Ek weet wat julle nodig het – maar ook in die groter wêreld. Hy het belowe: Kyk, Ek kom weer, en dit moet ons harte warm laat word. Hy bly getrou aan sy woord en ons moet dit met vreugde, ondanks neerdrukkende omstandighede van watter aard ook al, bekend laat word.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Donderdag 6 Februarie – So is die woord vervul – wees bly!
Markus 15: 27-39
My medegelowige: Die priesterhoofde en skrifgeleerdes kon spot, maar in hul eie woorde lê die erkenning van Jesus as die Christus, die Koning van Israel. Daar kan gejuig word. Die woord wat vooruit aangekondig is, het in vervulling gegaan (Mark 8: 31-33). ’n Oorwinning vir Hom en ’n nederlaag vir dié wat gedink het hulle kan so van Hom en die leer wat Hy verkondig, ontslae raak.
Indien ’n mens na die lewe en werk van Jesus kyk en dit as ’n loopbaan moes beskryf, sou ons kon sê dat Hy in alles geslaag het. Sy doel is bereik. Daarom kan Hy in die woorde van Johannes 17: 4 bely: Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Hy het dit duidelik laat word dat Hy as Koning met gesag heerskappy oor lewe en dood voer. Hy het die volk geleer en so die woorde wat God Hom gegee het, verkondig om die volk tot geloof in Hom te laat keer. Hy het die pad van smarte enduit gestap om aan die einde uit te roep: Dit is volbring! Só suksesvol was die boodskap wat Jesus verkondig het, dat dit daartoe gelei het dat daar reg voor die kruis ’n belydenis ontlok is. Dié van die offisier: Hierdie man was werklik die Seun van God!
Dit mag vir die ongelowiges, dié wat hulle met die spreekwoordelike vyeblaar wil bedek, na onsin klink. Maar vir diegene wie se oë geopen is dat God se beloftes wat Hy vooruit al laat aankondig het nou ook daar aan die kruis in vervulling gaan, is dit die bevestiging van God se mag en krag.
Nou word u en ek geroep om toe te laat dat God se woord, sy bedoeling met elkeen van ons, in vervulling gaan. Met blydskap kan ons die toekoms binnegaan. Ons Koning is die gehoorsame Oorwinnaar (Mark 15: 32).
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Woensdag 5 Februarie – Verstaan julle?
Markus 6: 14-15 en 8: 27-30
Sy Naam het bekend geraak. Onthou, ons is besig om so ’n bietjie te kyk na die probleme en sukses wat Jesus gehad het om dit bekend te laat word dat Hy die Christus, die Gesalfde en die Vleesgeworde Woord is wat God beloof het.
Ook sy dissipels word tot ’n antwoord gedwing. Jesus vra dan direk: Maar julle, wie, sê julle, is Ek? Die antwoord is: Die Christus (Mark 8: 29), wat beteken die Gesalfde.
Daar was al pogings om Jesus dood te maak. Lukas 4: 29: … om Hom van die krans af te gooi. Maar ondanks die teenkanting oor die leer wat Hy verkondig, hoor ons al hoe meer van sy sukses. Sy Naam en leer word meer en meer bekend. Dit begin versprei, selfs tot in Herodes se paleis. Die suurdeeg van hierdie NUWE leer het onder die volk en die dissipels begin deurwerk.
Kan ons ons werklik die frustrasie en magtelose woede van die Fariseërs, Joodse Raad, die skrifgeleerdes en wetgeleerdes indink? Hy en die leer wat Hy verkondig, hou ’n bedreiging vir hulle in. Daarom moet daar van Hom, Jesus, ontslae geraak word, want, in hul woorde (Luk 23: 5): Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer.
Planne word beraam om Hom dood te maak. Omkoopgeld word in die geheim betaal om Hom te verraai, maar die saad is gesaai en dit groei. God se koninkryk, die vervulling van sy Woord, is stadig maar seker besig om ’n werklikheid te word en niks en niemand kan dit stuit nie. Vergeefs die hel se woede. Niks kan dit stuit dat Hy as die Profeet en as die Koning erken word nie. In Hom, Jesus Christus, het God se beloftes waar geword. Deur minagting, miskenning en gevaar het Hy volhard. Lees ook Johannes 17: 1-8.
My vraag aan jou, medegelowige, is: Dink mooi na oor wat jy met jou woorde, gedagtes en dade versprei. Jou suurdeeg.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Dinsdag 4 Februarie – Verstaan jy wat Jesus sê?
Lukas 4: 14-22
My medegelowige in Jesus Christus:
Op die Sabbatdag soos sy gewoonte was. ’n Goeie gewoonte. Daar gaan Jesus voort om verder te verkondig dat dit Hy is waarin die Woord van God, soos in die Ou Testament voorspel is, besig is om in vervulling te gaan.
Om die evangelie aan armes te verkondig. Hulle wat bewus is van hul onvermoë en armoede om ten volle, soos God wil, te leef. Hulle sal nie met wat hulle het, vryspraak kan verkry nie.
Vrylating vir gevangenes. Dié wat vasgeknel is deur gebooie van mense wat aan hulle voorgehou word as die weg tot saligheid.
Herstel van gesig vir blindes. Om geestelike blindheid te genees sodat die genade van God, soos van vroeg af aangekondig en gesien kan word. Om te kan sien en te kan verstaan wat God al byvoorbeeld aan die begin van die tien gebooie sê: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, die plek van slawerny bevry het. Om te verstaan wat die woorde van Abraham aan Isak beteken: God sal sy eie Offerlam voorsien.
Om onderdruktes in vryheid uit te stuur. Onderdruk deur die dwaalleer van die Fariseërs, maar nou nie meer onder die wet nie. Nou deur genade: Kom na My toe! My juk is sag en my las is lig. Vry van die las wat op hulle gelê is, maar wat nie deur die Fariseërs self gedra kan word nie.
Om die genadejaar van die Here aan te kondig. Die boodskap van groot blydskap: Die tyd soos deur God bepaal, is immers besig om in vervulling te gaan. Sy koninkryk het nou naby gekom.
Nou kan ook u en ek, diep bewus van ons onvermoë, besef wat die woorde van Romeine 7: 24 beteken: Ek, ellendige mens! Wie sal my…! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Leef vandag en elke dag as vrygelatene, as een wat sien en besef God se beloftes is ook vir jou vervul, en laat dit jou vervul met blye dankbaarheid.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Maandag 3 Februarie – Hy moet as Profeet en Koning bekend word
Markus 1: 21-28
My medegelowige, hou in gedagte dat die Woord van God besig is om in vervulling te gaan. Vervulling wat sal uitloop op die vergewing van sonde en die oorwinning oor die dood. Die beloofde Gesalfde het gekom en Hy moet Hom nou bekend laat word. Die boodskap van vergewing en die ewige lewe deur in Hom te glo as die Seun van God, moet verkondig word in direkte stryd teenoor die leer van die Fariseërs.
In die gelese gedeelte het ons gehoor dat Jesus die mense leer. So maak Hy hom bekend deur die woorde wat Hy as Profeet tot hulle rig. Hy leer nie net soos een met gesag nie, Hy het ook gesag en mag oor die bose!
Hy verrig wonderwerke en Hy toon aan dat Hy die mag en gesagsdraer oor alles en almal is. Die mense is verslae. Opvallend dat selfs die bose nie net weet wie Jesus is nie, maar Hom erken as die Heilige, die Afgesonderde, die Gesalfde van God. Tereg word daar uitgeroep: Dit is ’n nuwe leer en dit kom met gesag! ’n Nuwe leer, maar tog soos van die begin af deur God bepaal.
Dan lees ons in vers 28: En dit was nie lank nie of … oor Hom gepraat. Die suurdeeg het begin werk! Stelselmatig begin die boodskap van hoop en bevryding versprei, en so sal die aanslag nou teen Hom toeneem om van Hom en die nuwe leer ontslae te raak.
Maar my medegelowige, wees waaksaam. Die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes is nog net so sterk aan die werk as tweeduisend jaar gelede. Die kreet Kruisig Hom eggo steeds. Dalk harder as voorheen, en nou ontstaan daar twee vrae. Laat ek my meesleur deur die massa en dryf ek stelselmatig so weg dat ek dalk met my woorde, gedagtes en dade ook uitroep Kruisig Hom!, of laat ek Hom vandag nog bekend word as draer van die evangelie?
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Sondag 2 Februarie – Verstaan ek?
Johannes 1: 1-18
Medegelowige, om die volgende sewe dae se Skrifgedeeltes beter te verstaan, moet ons die politieke omstandighede en godsdienstige oortuigings van Israel tydens Jesus se omwandeling in gedagte hou.
Die politieke omstandighede: Die volk Israel is deur die Romeine oorheers en dit het daartoe aanleiding gegee dat daar gesmag is na die herstel van die glorie van die volk soos in die tyd van koning Dawid. Vir die moontlike vervulling van hierdie aardse verwagting, het baie hul hoop op Jesus as aardse koning gevestig. Die dissipels: Here, is dit nou die tyd… (Hand 1: 6). Die Emmausgangers: Ons het so gehoop… (Luk 24: 21).
Die godsdienstige oortuigings: Die leer wat die Fariseërs verkondig het dat die volk deur die stiptelike onderhouding van die wet en die bring van offers vergifnis en herstel sal ontvang. Hierdie leer het aanleiding gegee tot ’n baie winsgewende besigheid. Markus 11: 15-19: Maar julle het dit ’n rowersnes gemaak. Hierdie godsdienstige tradisie, hierdie vyeboom, moet tot in die wortel verdroog. Dit moet verander.
Dit is tydens hierdie politieke en godsdienstige verwagtinge dat Johannes die Doper as die voorloper, en dan ook Jesus self, moet verkondig dat God se beloftes in vervulling gaan. Sy koninkryk het naby in die lewe en werk van Jesus gekom. Hy moet die evangelie so verkondig (Matt 11: 30: My juk is sag en my las is lig). Nie deur onderhouding van die wet en offers nie, maar uit genade en deur geloof.
Verstaan jy nou waarom daar van Jesus ontslae geraak moes word? Herodes het dit al probeer deur die kindermoord. Jesus hou ’n bedreiging vir ons aansien en winsgewende praktyke in. Daarom weergalm die uitroep: Kruisig Hom! Kruisig Hom!
Het ek vandag dalk deel daaraan?
Wanneer Jesus en Johannes uitroep Bekeer julle! is dit nie soseer van ’n sondige lewe nie. Ja, dit ook, maar eerder ’n wegkeer van die soeke na selfregverdiging en ’n omkeer na Hom by wie daar ware redding te vind is.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)

Saterdag 1 Februarie – Jesus maak van gewone water iets wonderlik
Johannes 2: 1-12
Wat kan nou meer gewoon en alledaags wees as water? In hierdie gedeelte sien ons dat Jesus dit verander in iets wat wonderlik is! Hierdie is die eerste wonderwerk wat Jesus in die Johannes-evangelie doen. Hy het ’n bruilof in Kana bygewoon, maar die wyn het vinnig opgeraak. ’n Troue in daardie dae was baie anders as in ons tyd vandag. Dit was nie net vir een dag nie. Hierdie bruilof het ’n week aangehou. Die hele dorp en die hele gemeenskap is daarby betrek. Elkeen het ’n werk gehad om te doen en elkeen moes sorg vir iets. Dit was die gebruik dat die bruidegom se vriende sou sorg vir die wyn, maar nou is daar nie genoeg nie. Watter ongelooflike verleentheid vir hierdie bruidegom! Wat moes die mense van hom dink? Hy het nie goeie vriende nie. Sy vriende is dalk onbetroubaar. Dan lees ons dat Jesus ingegryp het en hierdie bruidegom se eer gered het. Ons, as lesers, maak nou kennis met Jesus. Ons leer Hom ken en sien hoe Hy regtig is.
Ons vergeet partymaal van die klein en gratis dingetjies, die alledaagse dinge in ons lewens. Ons onthou nie altyd hoe kosbaar my verhoudings met geliefdes en vriende is nie. Ons dink nie altyd aan ons gesondheid nie. Wat van eenvoudige dinge soos vriendelikheid, diensbaarheid en nederigheid? Waardeer ons dit of maak ons dit soms so ’n bietjie af?
Kom ons bring vandag ook ons gewone dinge na Jesus toe, soos hierdie kelners wat gewone water na Jesus toe gebring het. In Jesus se hande kan daar wonderlike dinge gebeur! Dis hoe ons Hom vandag nog leer ken. Kom ons sien vandag vir onsself hoe die Here die gewone en alledaagse kan vat, dit wat vir ons nie na veel lyk nie. Kom ons sien raak hoe dit in Jesus se hande iets van waarde en betekenis kan word. Kom ons skep dan nou van hierdie heerlike wyn uit en deel dit met mekaar.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Vrydag 31 Januarie – Die Woord werk met my
Lukas 9: 10-17
In hierdie gedeelte lees ons van ’n wonderlike ding wat Jesus gedoen het. Hy het uit vyf brode en twee visse vir omtrent vyfduisend gesinne kos gegee. Gaan kyk weer na vers 13: Jesus gee ’n baie ongemaklike opdrag vir sy dissipels. Hy vra van hulle, gewone mense, om vir hierdie groot skare mense kos te gee. Ons lees dat hulle met Jesus redeneer: Ons het nie genoeg om mee te werk nie, ons het ook nie genoeg geld om vir al hierdie mense kos te gaan koop nie! Dan doen Jesus ’n wonder, maar Hy het dit nie alleen gedoen nie, Hy het sy dissipels betrek by hierdie wonder. Hy het hulle daaraan laat deel kry.
Dit voel partymaal of ons groot opofferings moet maak vir ons geloof. Om mekaar te bemoedig; om met selfbeheersing op te tree; om gehoorsaam te wees – dis moeilike dinge om reg te kry! Soms voel dit vir my of alles op my neerkom – alles in die gemeente of in my gemeenskap of in my huis. Of dalk voel dit of ek alleen staan as gelowige in my omgewing. Kyk weer mooi wat gebeur in hierdie gedeelte: Jesus het die wonder gedoen en Hy het sy dissipels daarby betrek. Op dieselfde manier wil Jesus dalk ’n wonder in my lewe doen en Hy wil my daarby betrek. Dan besef ek dat dit nie soseer ek is wat met die Woord werk nie, maar die Woord wat met my werk!
Daarom hou ek aan om saam met Jesus te werk. Waar ek nie verstaan nie, gaan die Woord my nie in verwarring en vertwyfeling los nie, dit gaan lig op my pad gee. Daar waar ek moeg word, is dit my verhouding met God wat my nuwe krag gee. Wanneer ek moedeloos word, is dit my diens aan die Here wat vir my nuwe hoop sal gee.
Gebed
Here, laat ek vandag beleef hoe U in my lewe werk as ek met u werk besig is. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Donderdag 30 Januarie – Die tyd het aangebreek!
Markus 1: 14-15
In hierdie kort gedeelte gee Markus vir ons baie inligting. Dit lyk of hierdie ’n baie deurmekaar tyd was. Johannes is in die tronk opgesluit. Dit was ’n tyd van geweld en onderdrukking; armoede, nood en honger; status en mag. Die Joodse geloofsleiers het reeds begin om te wys dat hulle nie oop was vir die Here se boodskap nie. En in hierdie tyd het Jesus met sy aardse bediening begin. Was daar nie dalk ’n beter tyd wat Jesus kon kies om na die aarde te kom nie? Miskien sou die mense meer ontvanklik vir sy woorde wees as dit ’n tyd van vrede was, of ’n tyd van voorspoed. Maar dis nie die tyd wat Jesus uitgekies het nie, Hy het juis gekies om in hierdie moeilike tyd met sy aardse bediening te begin. Ons sien dit in die Bybel en ons sien dit vandag nog. Die Here het nie gewag tot Hy verwelkom word nie. Hy het nie gewag dat daar geen teenkanting was nie. Hy het nie gewag tot almal nou eers hul samewerking gegee het nie. Jesus het nie gekom toe Hy welkom was nie; Hy het gekom toe Hy nodig was.
Dit maak ’n mens nogal nederig om só daaroor te dink. Dit maak dat ’n mens van vooraf dankbaar is. Al voel dit vir my of ek te min het, of dit nie ’n goeie tyd is nie, of die omstandighede moeilik is – die Here het tog gekom. En al is daar soveel donkerte in die wêreld en soveel dinge wat verkeerd loop, kom ék wees vandag die een wat in Jesus se Naam ’n verskil maak.
Gebed
Jesus, dankie dat U na ons toe gekom het. Dankie dat U vir ons lig en lewe gebring het, al is daar soveel hartseer en donkerte en geweld in die wêreld. Help my om vandag u lig te laat skyn. Ek is hier Here, laat u koninkryk vandag ook deur my nader kom.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Woensdag 29 Januarie – Vrugte van die Gees
Matteus 5: 43-48
Die Here Jesus gee vir ons in hierdie gedeelte ’n baie moeilike opdrag, een van die heel moeilikste opdragte wat ’n Christen kan ontvang. Dinge soos vergifnis, versoening, liefde vir die vyand – dis dinge wat ons nie altyd regkry nie. En juis hierin lê ’n baie kosbare les: Ek kan dit nie uit my eie regkry om ’n gelowige te wees nie. Ek het die Here se hulp nodig.
Dit is maklik om ’n goeie mens te wees as alles gemaklik is. Dit is maklik om geduldig en vriendelik te wees as alles loop soos wat ek dit wil hê. Dit is maklik om vir my vriende lief te wees en om hulle vir wie ek omgee, te groet. Selfs die heidene en tollenaars kry dit reg. Maar dis juis in daardie oomblikke wanneer ek nie geduldig en vriendelik wil wees nie; wanneer ek my donkerste self op ander wil loslaat; wanneer ek nie liefdevol wil wees nie, dat Jesus vra dat ek as ’n kind van God moet optree.
Jesus staan nie ver verwyderd nie en stel nie hoë verwagtinge aan sy kinders nie. Inteendeel, Hy het begrip, want Hy het die wêreld se swaarkry aan sy eie lyf gevoel. Ons lees in Galasiërs 5: 22-25 dat Paulus praat van die vrug van die Gees. Dit sal ons help om Jesus se woorde mooi te verstaan. As ek dit op my eie kan regkry om vriendelik en geduldig en nederig te wees, dan moet ek dit net vrugte noem. Dis nog nie van die Gees nie. Eers wanneer dit baie moeilik raak en nie meer eintlik binne my vermoë is nie en die Gees dit vir my moet gee, omdat ek dit nie kan doen nie, dán raak dit vrugte van die Gees. Nou verstaan ons wat Jesus bedoel. As ek maar net soos die wêreld optree, aan wie behoort ek dan? Jesus wil hê ons moet anders optree.
Waar het ek vandag die Here se hulp nodig?
Kom ek gaan dra vandag vrugte wat wys dat ek aan God behoort.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Dinsdag 28 Januarie – Máák hierdie droom ’n werklikheid
Jesaja 2: 1-5
Hierdie gedig van Jesaja klink amper soos ’n dagdroom, en nie baie realisties nie. En tussen al die dinge wat vreemd in hierdie teks klink, lees ons boonop dat die nasies na die Here se huis sal stroom op ’n hoogte. Maar water kan mos nie opdraande vloei nie! Nou begin ons om vir Jesaja te hoor. Water vloei afdraande. Dis hoe die wêreld werk, maar die Here se werk pas nie altyd in by die manier hoe die wêreld werk nie. Om ’n kind van die Here te wees, vra soms van my om nie maar net te doen soos die wêreld dit wil hê nie, maar om anders op te tree. Amper soos water wat opdraande moet vloei.
Kom ons onthou vandag dat die gebrokenheid van die wêreld nie die enigste werklikheid is nie. Daar is ’n ander realiteit ook – die Here het ons só liefgehad dat Hy sy enigste Seun na die wêreld gestuur het om ons te red. Deur sy kruisdood en opstanding is vryspraak en lewe ook vir ons ’n werklikheid. Nou roep die Here ons om saam met Hom te werk, daardie water gaan nie vanself teen die hoogte op vloei nie! Kom ek streef na vrede daar waar onenigheid en rusie is. Kom ek maak tyd vir die Here daar waar ek nie elke dag genoeg tyd het om alles in te pas nie. Kom ek tree anders op daar waar mense nie eintlik God se wil nastreef nie. Kom ek wees ’n goeie dissipel van Jesus wat Hom help om God se koninkryk nader te bring.
Hierdie droom wat Jesaja beskryf, klink so ’n bietjie onrealisties. In ’n mate is dit so, want hierdie droom gaan nie vanself realiseer nie. Jesus het na ons toe gekom en vir ons kom wys hoe om dit te doen. Kom ons werk vandag saam met die Here om sy liefde en teenwoordigheid meer as net ’n dagdroom te maak. Kom ons werk vandag saam met die Here om dit ’n werklikheid te máák.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Maandag 27 Januarie – Wat doen ek nou met Jesus se mooi woorde?
Esegiël 33: 30-33
Esegiël se woorde het die mense vir ’n oomblik opgewonde gemaak, en toe het dit weer net so verbygegaan. Amper soos wanneer ons vandag ’n radio saggies in die vensterbank sal aanskakel en met ’n halwe oor luister, terwyl jy voortgaan met jou dag. So was dit ook met Jesus. Die mense het nie altyd mooi verstaan waarmee Hy regtig besig was nie en daarom het hulle nie eintlik geweet wat om met sy boodskap te maak nie. Die een dag kon die skares nie genoeg van Hom kry nie en daarna het hulle geskree dat Hy gekruisig moet word. En uiteindelik moes hulle ook erken: Hier was werklik ’n Profeet tussen ons.
Kom ons onthou vandag weer hoeveel Jesus se woorde regtig vir ons beteken. Hy het vir ons kom wys hoe ware geregtigheid lyk. Hy het vir ons God se koninkryk nader gebring. Hy het versoening tussen ons en God gebring, en ook vrede tussen mense. Sjoe, dit klink baie mooi! Ek hou daarvan om dit te hoor, ek sal graag nog ’n bietjie na Jesus wil luister… Maar dit kan nie daar stop nie. Hierdie mooi woorde van Jesus moet my beweeg, dit moet my beïnvloed, dit moet my binnekant roer. Nou gaan ek iets daarmee doen! Ek gaan nou Jesus se woorde gebruik om my lewe aan te pas by God se wil. Ek gaan mooi oplet na Jesus se goeie voorbeeld en dit gebruik om nader aan God te leef. Ek gaan fyn luister na dit wat Jesus vir ons geleer het, sodat ek sal weet hoe om reg op te tree in elke situasie.
Gebed
Here Jesus, help my vandag om nie net u woorde te hoor nie, maar om ook iets daarmee te doen. Laat u woorde nie net soos ’n mooi liedjie op die radio in die vensterbank speel nie, maar help my om met aandag te luister. Laat u woorde my binnekant roer, my beweeg, en my help om nader aan U te leef. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Sondag 26 Januarie – Ek getuig uit persoonlike ondervinding
Psalm 121
Daar is ’n mooi storie agter hierdie bekende Psalm. Die Psalmdigter het (waarskynlik) na Jerusalem gereis vir die Paasfees. Met sy aankoms het hy vir ’n paar dae stil geraak en hom saam met die Here afgesonder. Vandag sou ons daarna verwys as ’n retreat.
Hierdie pelgrim het sy tyd geneem en dankie gesê vir gawes en seëninge, en jammer gesê vir sy oortredinge. Hy het rustig voorbidding vir sy mense gedoen. En toe gebeur daar iets wonderlik. In hierdie stilte het hy weer besef hoe naby die Here aan hom is. Dit is asof sy verhouding met die Here vernuwe is en asof hy van vooraf van die Here se teenwoordigheid bewus geword het.
Kyk nou mooi hoe die Psalm geskryf is. Dit is nie ’n algemene psalm nie, en is baie persoonlik. Hierdie pelgrim getuig uit eie ondervinding. Hy beleef eerstehands dat die God wat hemel en aarde gemaak het, anders is as die ander nasies se gode wat op die berge bly en aan die slaap kan raak. Hy beleef regstreeks dat die Here saam met hom op hierdie gevaarlike pad is en hom sal beskerm waar hy gaan.
Mag ons ook vandag die Here se teenwoordigheid op so ’n konkrete manier ervaar soos hierdie pelgrim, en beleef dat ons God anders as die ander gode en groter as ons probleme is. Mag ons vandag uit eerstehandse ondervinding getuig dat die Here naby is; dat Hy die pad tree vir tree saam met ons loop. Mag ons ook die vrymoedigheid neem om ons harte vir die Here oop te maak en alles met Hom te deel – elke vreugde, opgewondenheid, hartseer, bekommernis en frustrasie.
Gebed
Here God, help my om vandag ook u teenwoordigheid so konkreet soos hierdie pelgrim te ervaar. Maak u handewerk in my lewe sigbaar en laat ek u stem duidelik in my hart hoor. Help my om u hand te neem en die pad tree vir tree saam met U te loop. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust

Saterdag 25 Januarie – Glo en jy sal lewe
Johannes 11: 1-44
Die opwekking van Lasarus is ’n verhaal van onbeskryflike hoop. Ons sien dit in die feit dat Jesus die uitkoms van die verhaal antisipeer en bepaal. Hy was oortuig van God se mag en wou dit tot versterking van die dissipels se geloof tentoonstel. En, selfs al is Lasarus dood, tree Marta in gesprek met Jesus en bely sy haar onverskrokke geloof in Hom. Sy is oortuig dat God alles vir Jesus sal gee wat Hy vra. Ons hoop word verder versterk deur Jesus se ongelooflike deernis met die hele situasie. Hy huil in deernis met hulle, maar ook oor die duisternis wat die dood bring. Die laaste stukkie hoop is die belangrikste. Dit is dat Jesus vir elke situasie ’n antwoord het. Hy is die opstanding en die lewe in alles.
Vir helderheid kyk ons gou terug. Ons het na Jesus se wondertekens gekyk. Die eerste is by ’n bruilof in Kana, die laaste by ’n begrafnis in Betanië. Dit begin by die feestelikheid van ’n bruilof en eindig by die hartseer van die dood wat ons ontstel. Tussenin vind ons genesing – die seun van die regeringsamptenaar, die verlamde man by die bad van Betesda, die blinde man en ’n natuurwonder, Jesus loop op die see en gee brood vir 5 000 mense. Die volle spektrum van die lewe.
Jesus is werklik daar vir elke situasie wat ons kan beleef. Vir vreugde, genesing en verlossing. Maar daar is ’n opbou na hierdie laaste wonder wat gaan oor die uitbanning van die hartseer oor en die vrees vir die dood. En dit kom in die hoop van die evangelie dat Jesus self die opstanding en die lewe is. Dit is die punt wat Johannes maak. Jesus het nie gekom om ’n bietjie salf aan die wonde te smeer nie, maar om vensters van hoop oop te maak. Jesus is die Een wat lewe bring. Hy bring lewe selfs ná die dood. Sy liefde laat ons lewe! Hy is God! God is genoeg.
Wie in Jesus glo, sal leef, al het hy ook gesterf!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Vrydag 24 Januarie – Het Jesus al jou oë aangeraak?
Johannes 9: 1-41
Die genesing van die man wat blind gebore is, het op ’n sabbatdag plaasgevind. Dit het vir die Fariseërs ’n yslike probleem geskep. Volgens die Fariseërs se verstaan van die wet, begaan Jesus ’n oortreding van die wet wanneer Hy klei meng om aan die man se oë te smeer. Hiermee het Jesus die Fariseërs uitgedaag en terselfdertyd hul godslasterlike optrede blootgelê. Jesus is Here van die sabbat. Die punt wat Hy maak, is dat die rus op die sabbat genesing in gedagte het. Die Fariseërs het geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts in en deur Jesus kan doen nie. Daarom gebruik Jesus ook die genesing van hierdie man om sy Goddelikheid en die heerlikheid van God te belig. Jesus kon nie ’n beter dag gekies het om hierdie gebroke man te genees nie. Die sabbat is daar vir die mens – dit is daar om moeë en gebroke mense met God se gawes van heling en genesing te bedien, en daardeur word God verheerlik.
Met die opdrag aan die man om hom in die Siloambad – Siloam beteken die een wat gestuur is – te gaan was, het Jesus moontlik na Homself verwys as die Gestuurde van God en as die lewende water. Indien dit so is, beteken dit nie net reiniging nie, en nie net genesing nie, maar lewe. Indien jy Jesus ontmoet en Hom ontvang vir wie Hy is, word jy gesond, sien jy, en leef jy.
In sy laaste gesprek met die man wat nou kon sien (Joh 9: 35-38), vra Jesus hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” Hy het geantwoord: “Wie is dit, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.
Dit is die punt van dié wonderteken. Jesus doen die werke van God. Jesus is die heerlikheid van God en Jesus moet aanbid word. Dit is hoekom Jesus na die wêreld gekom het, sodat ons Hom sal sien as die Seun van die mens en Hom aanbid.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Donderdag 23 Januarie – Leef jy steeds in verwondering?
Johannes 6: 16-21
Die inligting wat beide Matteus en Markus oor hierdie wonderwerk van Jesus gee, is verhelderend tot ons verstaan van die Johannes-weergawe. In al drie Evangelies volg dié wonderwerk op die wonderbaarlike vermeerdering van die brood. Matteus eindig sy vertelling met: Dié in die boot het voor Hom neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!” (Matt 14: 33, AFR2020). Markus sê dat hulle uitermate verbaas was oor Jesus wat op die water geloop het, maar dat hulle nie die wonders wat hulle so pas beleef het, in verband gebring het met die vermeerdering van die brood nie. Johannes maak nie melding van enige reaksie van die dissipels nie. Het die dissipels so gewoond geraak aan die wondertekens van Jesus dat dit hulle nie meer geraak het nie? Jesus voed ’n geweldige skare met vyf brode en twee visse. Die skare het gesien dat iets buitengewoon gebeur het. Hoe kon die dissipels so onaangeraak gebly het?
Jesus ken sy dissipels. Hy het geweet hoe eiegeregtig, hoe selfversekerd en hoe arrogant hulle kon wees en hoe hulle op hul eie krag en insig staatgemaak het. Hy is in beheer van die ganse skepping en daarom kan Hy op die water loop en bedaar die see en wind in sy teenwoordigheid. Jesus plaas hulle in daardie boot in die storm – daar waar hulle nie wou wees nie – sodat Hy opnuut sy heerskappy oor die natuur aan hulle kon toon en dit wat hulle nie op hul eie kon bereik nie, tot stand kon bring: geloof. Daardie nag red Jesus hulle van hulself. Hy toon aan hulle die impak van sy Goddelike teenwoordigheid.
Beleef ons nie dikwels dieselfde as die dissipels nie? Ons eie pogings bring ons eenvoudig nêrens. Die moeilikhede van die wêreld slaan soos golwe teen ons lewensbootjie en dreig soms om dit te vernietig. Die teenwoordigheid van Jesus maak altyd die verskil. Mag ons nooit gewoond raak aan die grootheid, die genade, die mag en majesteit van Jesus nie. Mag ons elke dag in verwondering uitroep: My Here en my God. U is die Christus!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Woensdag 22 Januarie – Jesus is die brood van die lewe
Johannes 6: 1-15
Die gedeelte oor die vermeerdering van die brood begin op ’n teleurstellende noot. ’n Groot skare volg Jesus omdat hulle die wondertekens gesien het. Ons het dié frase al voorheen gesien. Jesus het self gesê dat Hy nie op mense kan peil trek nie. Hulle is opgewonde oor Jesus se tekens. Hulle glo dat Hy ’n wonderwerker is. Maar iewers is daar fout.
Johannes 6: 14-15 wys die fout uit: Toe die mense sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil koning maak, het Hy verder die berg op gegaan. Hul entoesiasme oor Jesus is misplaas. Hulle is entoesiasties oor ’n Jesus wat nie bestaan nie. In vers 26 sê Hy: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Met ander woorde, om My as koning te hê, beteken vol mae. Dit is nie die evangelie nie. Dit is hoekom Jesus wegstap.
Wat sê Jesus vir ons? Hy maak ’n venster oop sodat ons kan sien wie Hy werklik is. Hy openbaar sy heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. Hy maak hierdie venster op sy heerlikheid oop, nie sodat ons entoesiasties kan raak oor wat Hy ons kan bied nie, maar sodat ons kan sien dat Hy selfs beter is as enigiets wat ons ooit sou wou hê.
Jesus het nie na die wêreld gekom om vir ons brood te gee nie, maar om vir ons brood te wees. Hoe kan ons van hierdie brood kry? Hy sê: Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe (Joh 6: 51). Wanneer Jesus sy liggaam aan die kruis gee, word Hy voedende, genoegsame, reddende brood. Het jy al van hierdie brood geëet?
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Dinsdag 21 Januarie – Ken jy Jesus só?
Johannes 5: 1-18
In dié gedeelte lees ons van die genesing van die siek man by die bad van Betesda. Betesda beteken huis van genade of barmhartigheid, maar, soos wat Johannes dit skets, was hierdie bad eintlik meer ’n bad van genadelose ellende. Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes (Joh 5: 2). Tussen al daardie mense sien Jesus ’n man wat al 38 jaar siek was, en Hy genees hom. Dit alles gebeur op ’n sabbatdag. Ná die genesing maak Jesus Hom uit die voete, net om later met dieselfde man in die tempel ’n gesprek te voer.
Wat wil Johannes hê moet ons sien? Hy wys vir ons iets van Jesus se alwetendheid, sy deernis, sy medelye, sy mag, sy soewereiniteit, sy krag en sy heerlikheid – dat Hy die Seun van God is. Ja, Jesus is Skepper en Heerser van die ganse heelal en as sodanig heel en genees Hy. Die feit dat Jesus die man in die tempel opsoek en vir hom sê Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie (Joh 5: 14), bevestig dat dit vir Jesus om baie meer as bloot liggaamlike genesing gaan. Jesus sê as’t ware: Ek het jou genees sodat jy heilig en onberispelik kan wees, sodat jy kan ophou om kwaad te doen. Sien jy dit? Hou op sondig. Ek genees op meer as een manier. Ek bied nie net genesing vir fisiese siektes nie, maar Ek spesialiseer in geestelike genesing. Deur My te volg, ontvang jy soveel meer as fisiese genesing. Jy ontvang vergifnis, versoening met God, die gawe van die ewige lewe. Jy ontvang My, Jesus, die Christus. Moenie van My af wegdraai na ’n lewe van sonde nie.
Sien jy dit? Ken jy Jesus só? As dié Een wat jou ken, as dié Een wat medelye en deernis met jou het, as dié Een wat oor jou liggaam en siel heers, as dié Een wat sy reddende en genesende krag oorvloedig en onverdiend oor jou uitgestort het, sodat jy heilig en onberispelik voor Hom sal leef?
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Maandag 20 Januarie – Ons het sy heerlikheid gesien!
Johannes 4: 43-54
Johannes doen moeite om aan te toon dat Jesus se eie mense Hom deurgaans verwerp. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie (Joh 1: 11). Dat Jesus gekies het om ’n gebied te besoek waar Hy nie geëer word nie, lyk vir ons vreemd, maar vir Hom was dit van die begin af deel van die plan. Jesus sou ten spyte van die teenstand aanhou om Homself vir sy eie mense aan te bied. Hy word deur die Galileërs verwelkom, maar Hy is nie eintlik welkom nie. Hulle glo skynbaar, maar eintlik glo hulle glad nie. Teen hierdie agtergrond het die regeringsamptenaar by Jesus opgedaag met die versoek om sy kind, wat tot die dood siek was, te genees. Maar was hy nie ook maar soos die Galileërs nie? As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie (Joh 4: 48). Waarskynlik het Jesus hom met hierdie afranseling getoets. Hy het nie eens daarop gereageer nie. Hy het bloot sy versoek herhaal: Here, kom tog voordat my kindjie sterwe (Joh 4: 49). Waarop Jesus hom in vers 50 wegstuur met die woorde: Gaan maar huis toe, jou seun lewe.
Met hierdie wonderteken van Jesus help Johannes ons om die sondige ingesteldheid en blindheid van die Galileërs raak te sien en te vermy. Terselfdertyd beklemtoon hy die heerlikheid van Jesus – sy barmhartigheid en onbeskryflike deernis met mense. In ’n omgewing waar ongeloof en valse geloof aan die orde van die dag was, genees Jesus die seun enkel en alleen omdat Hy ’n genadige God is. Geen sprake van verdienstelikheid of meriete nie. Jesus illustreer nie net sy genade nie, maar ook sy Goddelike mag en krag. Soos God slegs deur te praat die ganse skepping tot stand bring, netso, deur slegs te praat, genees Jesus die seun – oor ’n afstand en onmiddellik.
’n Sterwende seun ontvang die gawe van lewe. Die hele gesin kom tot geloof in Jesus. Dit is wat Jesus in sy heerlikheid gedoen het – die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Het jy al Jesus se heerlikheid gesien?
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Sondag 19 Januarie – Die lewe saam met Christus is asemrowend!
Johannes 2: 1-11
Johannes gebruik onder andere sewe wonderwerke van Jesus om die unieke verhouding tussen Jesus en God die Vader te beklemtoon. Hy noem die wonderwerke tekens. Dit gaan nie soseer oor die wonderwerke nie, maar oor dít waarna die tekens verwys. Die tekens openbaar die heerlikheid en die identiteit van Jesus. Hy is nie net die Christus, die Seun van God nie, maar is self ook volkome God wat mens geword het. Jesus het mag oor alles en almal. Hy verheerlik die Vader in wat Hy sê en doen.
’n Nuwe era breek met Jesus se koms aan – ’n era van genesing, bevryding, vreugde en oorvloed. Johannes self sê die doel van die wondertekens is geloof in Jesus: Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20: 30-31). In die dae wat volg, fokus ons hierop.
Die gebeure in Kana word in verstommende detail beskryf. ’n Bruilof, gaste, reinheidswette wat nagekom is en wyn wat opraak. Niks buitengewoon nie. So ken ons die lewe. Wyn simboliseer vreugde en oorvloed. Rabbi’s het ’n gesegde gehad: Sonder wyn is daar geen vreugde nie. Stil-stil red Jesus die situasie deur water in wyn te verander. By ’n gewone troue, tussen gewone mense – sonder om eintlik iets te doen, behalwe om ’n opdrag te gee om die kruike vol water te maak – demonstreer Jesus sy mag. Asemrowend! Sy dissipels se geloof verdiep.
Die wonderwerk wat gebeur, bly nie net in Kana 2 000 jaar gelede nie. Vandag nog, in ons alledaagse uitdagings, met en tussen gewone mense, gebeur die wonderwerk weer en weer. Stil-stil – soos water in wyn – gebeur die wonderwerk ook in my en jou. Deur die transformerende krag van God beleef ons die lewe in al sy volheid, uitnemendheid en oorvloed.
Hoe alledaags of gekompliseerd jou omstandighede ook al mag wees – doen wat Hy vir jou sê!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Saterdag 18 Januarie – Sal ek nog ’n jaar só aangaan?
Lukas 13: 6-9; Levitikus 19: 23 -25
Die vyeboom is vir ’n hele aantal jare al vrugteloos. Die eienaar se oplossing is: Kap dit uit! Die tuinier is bereid om dit vir nog ’n jaar te versorg. Skielik is daar hoop dat die vyeboom tog die byl vir eers kan vryspring. Dalk, miskien, volgende jaar, of nie?
Wat toe met die vyeboom gebeur het, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat daar tog ’n tikkie hoop in die gelykenis gebore word. Hoe realisties is hierdie hoop? Wat is die kans dat die vyeboom na ses, sewe of selfs nege jaar nou ewe skielik sal begin om vrugte te dra?
Dit is juis die basis van hoop: om pleitend te smeek, al weet jy dat daar menslik geen hoop en uitkoms is nie. Met Christus se koms word die koninkryk van God sigbaar op aarde. In Hom lê daar vir ons die hoop opgesluit dat God met ons is en sal wees – ook in die onbekende van die nuwe jaar. In Hom kry ons ’n sekerheid op die lewe, omdat ons weet waarheen ons op pad is; hoe hierdie weg eindig en wat ons bestemming is.
Sal ek nog ’n jaar só kan aangaan? Ons vra dit vanuit menslike oorwegings aan die begin van ’n kalenderjaar. In die gelykenis tree die tuinier in en antwoord: Gee die vyeboom nog ’n kans tot volgende jaar.
Ons lewe tans in God se genadetyd. Die tyd waar die groot Tuinier, Jesus Christus, tussen die lem van die byl en God se oordeel vir ons intree, sodat ons nog genadetyd het om vrug te dra tot God se eer. Sal jý nog ’n jaar só aangaan? Dit vra die gelykenis ook aan ons. Sal jy nog ’n jaar só selfgesentreerd en vrugteloos aangaan, terwyl die genade nou reeds vir ons deurbreek met die koms van die Koning van alle konings? Die Tuinier wat sy lewe gee en met liefde en geduld self die vyeboom versorg, bemes en omspit in die hoop dat dit tog vanjáár vrugte sal dra.
Ds André Thomas, Oos-Moot

Vrydag 17 Januarie – Om te vaar of nie?
Matteus 8: 23-27 en 28: 16-20 (AFR2020)
Matteus skryf baie pertinent: Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Om hier in die boot te klim, beteken om Jesus te volg. Verskeie vroeg-Christelike leermeesters het die boot as simbool van die kerk gesien.
Die Jode het goed geweet dat God alleen oor storm en see beskik (Ps 65: 8; 89: 9-10; 107: 23-32). Daarom is die wonder van die see en wind wat bedaar nie maar net ’n demonstrasie van Jesus se magswoord as Seun van God nie, dit is openbaring van God. Jesus word aan sy dissipels geopenbaar as hul Redder en daarmee saam as Redder van die boot/die kerk/die wêreld.
Ons maak die ontdekking tydens die fees van Epifanie dat dit God se begeerte is om heidene in sy koninkryk in te sluit en getroue kerklidmate te beskerm tot die einde toe. Die boot/kerk/kerklidmate beland ook in die storms van die lewe. Ons belewe ook kleingeloof, teenspoed, uitsigloosheid, onsekerheid en aanvegting. Die God wat ons wêreld binnetree deur Jesus van Nasaret, bly egter in ons midde deur sy Gees en sy Woord en sakrament. So lei en bewaar Hy kerklidmate deur storms en herstel Hy opnuut ons vertroue om God te glo. So roep Hy ons as kerk telkens weer op om Hom te volg – om in die boot saam met Hom te vaar, ondanks ons geneigdheid om op te gee met mekaar; ons geneigdheid om op te gee met die kerk; en selfs die geloof as veeleisend of ’n randsaak af te maak.
Wie is Jesus van Nasaret wat ons wêreld binnegekom het? Hy is God en het mag oor die natuur (Matt 8: 23-27); mag oor bose geeste (Matt 8: 28-34); mag om sondes te vergewe (Matt 9: 1-8).
Hoekom sal ek die Christus volg? Hy leer ons aangaande die Vader: dat hiérdie God alleen God is wat liefhet; graag met my in ’n verhouding wil tree; bereid is om in my plek te sterwe; en van my vra om Hom lief te hê met alles wat binne my is.
Ds André Thomas, Oos-Moot

Donderdag 16 Januarie – Eerste preek
Matteus 3 en 4: 12-17 (AFR2020)
Met Epifaniefees word daar die belangrike vraag gevra: Wie is hierdie Jesus wat aan ons in Betlehem se stal bekend geword het en wat is sy boodskap aan ons?
Moderne mense is vandag op soek na ’n boodskap van God wat darem ’n bietjie sag op die oor val. Ek soek ’n boodskap van seën op my lewenspad, ’n woord wat my laat goed voel oor myself.
Jesus se eerste preek is verrassend. Hy paai nie mense nie. Sy eerste preek is: Bekeer julle, want die ryk waarvan God die Koning is, het aangebreek! Dit was ook Johannes die Doper se boodskap aan Israel. So daag die kerkmense van daardie tyd by Johannes op – die Fariseërs en die Sadduseërs. Johannes se boodskap was nie met ’n lagie versiersuiker bedek nie. Hy is op die man af en vra: Wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Hy stel dit nog feller: Moenie dink omdat julle afstammelinge van vader Abraham is, dat julle uitverkies is nie. Moenie dink omdat jy aan ’n bepaalde kerkgenootskap of bloedlyn behoort, dat dit jou sal red nie. Bekeer julle, want as God bloot afstammelinge van Abraham soek, is Hy by magte om uit hierdie klippe kinders te wek.
Met Jesus se doop het die hemel bokant Hom oopgegaan. Die Vader se stem uit die hemel bevestig Jesus se identiteit: Die baba Jesus is die Seun van God. Hy is Self God voor wie wyse manne, dissipels en heidene in aanbidding buig. Die hemel wat hier met die doop oopgaan, sal met Jesus se hemelvaart weer oopgaan met die belofte dat ons ook met sy wederkoms vir ewig die hemel sal smaak.
Wie is Jesus Christus? Hy is my enigste troos in lewe en in sterwe. Nie omdat Hy my aardse bestaan verbeter nie, maar omdat Hy as Verlosser in my plek staan voor die hoë God. Sy eerste preek spreek tot vandag toe tot ons, aangesien dit die wil van ons Vader is.
Ds André Thomas, Oos-Moot

Woensdag 15 Januarie – Die man het Jesus se woorde geglo
2 Konings 5: 1-15; Johannes 4: 43-54
In Jesus Christus se openbare optrede word dit algaande duideliker dat Hy God met ons is. Hy het mag oor lewe, siekte en dood.
Ons hoor die pa se egte, menslike nood en smeekgebed in Johannes 4: Here, kom tog voordat my kindjie sterwe. Jesus verrig die wonder oor ’n afstand. Hy spreek bloot ’n woord. Miskien lê die grootste wonder in vers 50 (AFR2020) opgesluit: Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. Hierdie regeringsamptenaar neem Jesus op sy woord! Dit is merkwaardig. Nie eens ’n bottel medisyne word aan hom gegee nie; ook nie ’n enkele geneeskundige aanwysing nie. Al wat hy het, is ’n enkele sin van Jesus. ’n Belofte van dit wat Jesus reeds gedoen het: Gaan maar huis toe, jou seun lewe. En hy lê die sowat 30 kilometer weer af terug huis toe.
Die wonderwerk hou ook nie hier op nie. Die dieptepunt van die verhaal lê verder in vers 53: En hy en sy hele huishouding het tot geloof in Jesus gekom. Hierin lê ’n opvoedkundige beginsel. Wat jy as ouer van harte glo, spring oor op jou kinders en op hulle vir wie jy verantwoordelik is. Geloof is ’n skat vir die hele huishouding.
Die regeringsamptenaar handel uit desperaatheid om ’n geneesheer te vind en vind sodoende die groot Geneesheer. Die Geneesheer van die hele Kapernaum, Galilea en die ganse wêreld! Die Geneesheer wat sonde vergeef en nuwe lewe gee. Net soos Naäman en die regeringsamptenaar, het ons die woorde, die belofte van die lewende God wat sê: Wie in my glo, sal lewe! Die regeringsamptenaar het Jesus op sy woord geneem en Hom vertrou.
Die Galileërs het Jesus aangehang met ’n geloof wat berus op en afhanklik is van wonderwerke. Hiérdie Romeinse pa leer die Jode (en vir ons) dat ware geloof nie ’n wonderwerkgeloof is nie. Dit is ook nie ’n beloningsgeloof waar ek meen dat God met my móét handel op grond van my vroom lewe nie. Ware geloof is blote vertroue in Jesus, die Seun van God.
Ds André Thomas, Oos-Moot

Dinsdag 14 Januarie – Bruidegom en bruid
Eksodus 33: 12-23 (AFR2020); Johannes 2: 1-12
In die Epifanietyd val die klem op die verskyning en aardse optrede van die Seun van God. In hierdie tyd word dit algaande duideliker dat die Jesus van die krip ook die Jesus van die kruis en die leë graf is.
Die wynwonder word nie in opspraakwekkende taal beskryf nie. Al wat voor die oë van Jesus se moeder, waarskynlik sy dissipels en die kelners afspeel, is twee bevele: Maak die kanne vol water; en Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.
Deur hierdie eerste wonder het Jesus sy heerlikheid as Seun van God geopenbaar en op grond daarvan het sy dissipels tot geloof in Hom gekom. Daar lê ook iets dieper in Jesus se optrede as die blote wynwonder. Hy word hier bekend as die een wat tot die redding van die bruidegom en sy familie kom. Die sosiale skande van te min wyn op die bruilof is ’n belediging vir die gaste. Jesus red hulle egter van sosiale skande en isolasie. So word Hy in hierdie dissipelkring bekend as iemand wat tot die redding van sy vriende kom en iemand waarop hulle kan staatmaak.
Wat is u grootste nood voor God? Die evangelie leer ons dat ons grootste nood ons sonde is wat ons van God vervreem. Soos op die bruilof te Kana is Jesus Christus die enigste wat ons uit ons benarde posisie kan red: Hy neem ons sondeskuld op Hom. God het sy heerlikheid kom toon in Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here wat weer kom. Moses pleit in Eksodus 33: 18 (AFR2020) by God: Toon asseblief u heerlikheid aan my. In Johannes 2 staan geskrywe dat Christus sy heerlikheid geopenbaar het en dat sy dissipels in Hom geglo het.
Jesus Christus is die Bruidegom – soos genoem in onder meer Openbaring – en sy kerk is die bruid. Soos ’n bruid op haar bruidegom wag, so is ons oë gerig op die heerlikheid van die Christus en op sy koms. Die bruilof met hierdie Bruidegom bring langdurige, ewige, onberekenbare vreugde tot in ewigheid!
Ds André Thomas, Oos-Moot

Maandag 13 Januarie – Ster van Betlehem
Jesaja 60: 1-6; Matteus 2: 1-12
Die bestudering van die sterre bring die sterrekykers tot in Jerusalem. Hier profeteer hulle dat daar ’n koning gebore is. Die sterrekykers kon nie net met die stervisioen vir Jesus vind nie. Daarvoor was die skrifte nodig. Die leierpriesters en skrifkenners van Jerusalem het weer die skrifte. Hulle haal dit aan (Miga 5) en kan dit vir koning Herodes uitlê. Ook hulle kon nie die Christus vind nie, want hulle soek Hom nie!
Epifaniefees is die verskyning van Jesus Christus in ons wêreld. Volgens Matteus is die ster van Betlehem die eerste sigbare teken dat die Messias teenwoordig is in ons wêreld. Dié verhaal verkondig dat die koms van God na ons wêreld ook vir heidene bedoel is, en dat die lig van Jesus Christus ook aan hulle gebied word. Die verhaal waarsku ons teen geestelike blindheid: God wat ons wêreld binnekom deur die Christus wat gebore is in Betlehem; God wat daagliks na ons kom deur sy Woord en Gees; en weer sal kom om vir ewig by ons te wees; maar ons eer Hom nie. Ons erken Hom nie as die Here van ons lewe nie. Ons lewe vir die hier en die nou en nie met die oog op sy wederkoms nie. Ons praat mekaar ook nie moed in oor Christus wat weer kom nie (1 Tess 5: 11).
Die simboliek van die ster van Betlehem lê veel dieper as die een wat aan die boonste punt van die Kersboom hang. Die ster van Betlehem is vir ons ’n blywende simbool van die duisternis wat aan die verbygaan is en die ware Lig wat reeds skyn.
Johannes beskryf die verlossing wat Christus bring as ’n lig wat in die duisternis skyn. Selfs nie eens die donker van die graf kon hierdie lig uitdoof nie (Joh 1: 4-5). Dit is hierdie Lig wat die sterrekykers vind as hulle die ster tot in Betlehem volg. Dit is ook hierdie Lig wat ons vind wanneer ons die Woord van God lees en die Heilige Gees ons harte met die blye nuus verlig!
Ds André Thomas, Oos-Moot

Sondag 12 Januarie (Eerste Sondag na Epifanie) – Sodat julle kan glo
Johannes 20: 30-31
In hierdie tyd van Epifanie het ons gekyk na die impak wat Jesus se lewe en bediening op die gelowiges van sy tyd gehad het, en so ook op die gelowiges van alle eeue. Ons sien hoe Jesus ons nuut laat dink het oor die wet, die koninkryk en die skepping van God. Die impak van Jesus se lewe, selfs nog voor die kruisiging, het die verhouding tussen God en mens asook die verhouding tussen mense radikaal begin verander.
Die wondertekens van Jesus het die wêreld kom verander. Hierdie teks in Johannes sê dat Jesus ook nog baie meer wonders gedoen het wat nie eens opgeteken is nie. Maar wat wel neergepen is, en waarop ons ook moet let, is die doel van Jesus se wonders.
Op skool het ek, soos baie leerders voor en na my, met ’n onderwyser stry gekry oor die doel van wiskunde in ons daaglikse lewe. My vraag was waar ek spesifiek algebra sou gebruik. Sy help my toe om te verstaan dat ek nie noodwendig weer algebra gaan gebruik nie, maar dat ek die vaardigheid om logies te dink wanneer ek met ’n probleem gekonfronteer word, gereeld gaan gebruik. So gee Johannes ook vir ons die rede waarom Jesus se lewe en die wonders wat Hy gedoen het, neergepen is.
Die kennis oor hierdie wonders help ons om vertroue te bou in die Here van die wonders. So kan ons uiteindelik glo, sodat ons in sy Naam die lewe kan hê. Dit gaan nie oor die algebra nie, maar oor die vaardigheid. So gaan dit ook nie slegs oor kennis van die wonders nie, maar oor die geloof wat dit bewerkstellig.
Mag ons daarom bly lees van al Jesus se wondertekens wat opgeteken is, sodat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Saterdag 11 Januarie – Al sit ek in die donker
Miga 7: 8-10
Miga 7: 8 is werklik opbouende woorde wat ons graag ter harte neem. Ons moet wel net so ’n bietjie loer na hierdie woorde se oorsprong. Daar is nie heeltemal sekerheid oor die datums en die skrywers self nie. Wat ons wel agterkom, is dat hierdie tekste vir ons ’n beeld skets van God se volk vóór en ná die ballingskap, van beide die Noord- en die Suidryk. Verder wil dit voorkom of die struktuur van hierdie boek eers ’n waarskuwing inhou vir wat die gevolge gaan wees as die volk aanhou wegdraai van die Here af, maar dat dit opgevolg word met troos vir wanneer hierdie dreigemente gerealiseer het. Dan kry ons hierdie teks wat amper herhaal word in hoofstuk 7 met troos ná die waarskuwing.
Weereens word dit duidelik dat God se liefde en genade soveel groter is as wat ons besef. Die teks laat ’n mens amper dink aan ’n ouer wat ’n kind waarsku om nie aan die warm plaat te vat nie, want hy of sy gaan brand. Tog sê die ouer ook: Maar selfs wanneer jy brand sal ek jou vashou, en jou brandwond behandel. In die volk se belydenis: Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die Here is vir my ’n lig, sien ons hul geloof dat die Here reg laat geskied, maar nooit sy kinders versaak nie.
In Jesus se bediening hier op aarde sien ons dit ook. Die Here laat reg geskied, maar Hy weerhou nie liefde van sy kinders nie. Daarom kan ons ook vashou aan die geloofsoortuiging dat die Here vir ons lig in die donker sal wees. Mag ons daaraan vashou en daarop vertrou, selfs al sit ons in die donker.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Vrydag 10 Januarie – Moet julle nie bekommer nie
Matteus 6: 31-34
Ermelo in die Hoëveld het die pragtige verskynsel van digte mis in die oggende. Dit is soms so toegetrek dat ’n mens selfs wanneer jy gaan draf, onrustig voel oor wat voor jou lê. Dikwels voel dit of sulke oggende eintlik na jou toe uitskreeu dat jy net moet omdraai en moet slaap totdat die weer môreoggend beter lyk. Tog het die burgers van Ermelo die gesegde dat ’n mistige oggend op ’n meesterlike middag dui. Die tendens is dat elke oggend wat so mistig begin, deur die loop van die oggend in ’n heerlike sonskyndag verander. Nietemin het jy vertroue in die tendens nodig wanneer jy in die oggend aantrek vir skool of werk. As jy warm gaan aantrek vir die mistige oggend, gaan jy swaarkry wanneer die mis opklaar en die son heerlik skyn.
In die bergprediking van Jesus lyk dit of Jesus dieselfde opdrag vir ons geloof gee. Dikwels bevind ons ons ook in die digte mis van die lewe waar ons niks rondom ons kan sien nie. Ons natuurlike reaksie is om ons te bekommer oor wat vir ons voorlê en hoe die dag gaan verloop. Maar Jesus sê vir ons dat ons die dag soos normaal moet aanpak. Ons kan in elk geval nie met bekommernis die mis wegvat nie, en as ons te wild reageer, kry ons later spyt en swaar. Die Here weet wat ons nodig het, ons hoef nie bekommerd te wees nie. Doen wat jy moet en vertrou op die Here. Tog is daar ’n baie belangrike sin wat ons ter harte moet neem in vers 33. Ons word nie geroep om op ons eie stoom maar net te doen wat ons wil en dan te verwag dat die Here al die omstandighede in ons guns sal laat val nie. Ons moet besig wees om in kontak met die Here, in die koninkryk van die Here, te leef. Dan kan ons vertrou op die sorg van die Here.
Mag ons in ons vertroue ook beleef hoe die Here van ’n mistige oggend ’n meesterlike middag maak.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Donderdag 9 Januarie – Jesus het begin huil
Johannes 11: 28-37 (AFR2020)
In Jesus se lewe en bediening op aarde was daar verskeie openbarings wat Hy gebring het oor die koninkryk van God. So het Jesus ook mense se verstaan van die wet en wil van God ’n paar keer oopgebreek en hulle met nuwe oë en ’n nuwe hart daarna laat kyk. In hierdie teks sien ons wel hoe Jesus vir ons iets wys oor die gebruik van God se gawes. Reeds vanaf vers 1 lees ons al hoe Jesus die nuus van Lasarus se dood ontvang en reeds te kenne gee dat Lasarus se dood nie ’n werklikheid gaan bly nie. Tog lees ons in vers 33 hoe Jesus diep bewoë geword het toe Hy sien dat Maria saam met die Jode huil. Jesus het self begin huil toe hulle Hom wys waar Lasarus neergelê was. In daardie oomblik lees ons die Jode se besondere getuienis: Kyk hoe lief het Hy hom gehad! Liefde vorm dikwels die hart van die wyse waarop ons reageer op die lewe rondom ons. Liefde vir ons naaste laat ons reageer op die lot van ons naaste. Liefde vir God laat ons reageer op die lot van die koninkryk van God.
Die wonderlike is dat die Here in al sy mag ook vir ons ’n geskenk gegee het waarmee ons kan reageer in en uit liefde. Hierdie geskenk is emosies. Dit help ons om aan ons liefde uitdrukking te gee en daarom is daar ’n belangrike plek daarvoor, soos ons selfs by Jesus sien. Ons moet wel onthou dat ons uit liefde moet optree eerder as uit emosies. ’n Werkende motorvoertuig laat rook uit, maar dit kan nie ry met rook in die brandstoftenk nie. Mag ons daarom ook by Jesus leer hoe en waar ons die emosies wat God ons geskenk het, kan gebruik om uiting te gee aan liefde vir ons naaste en ons God.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Woensdag 8 Januarie – Sien jy iets?
Markus 8: 22-26 (AFR2020)
Hierdie teks kan nogal oopgekrap word met soveel vrae wat ondersoek kan en behoort te word. Hoekom bring die man se vriende hom en kom hy nie self soos die ander nie? Hoekom moes hulle uit die dorp gaan? Hoekom gebruik Jesus speeksel? Hoekom word die man nie dadelik volledig genees nie? Hoekom stuur Jesus hom huis toe, maar hy mag nie in die dorp ingaan nie? Hoekom moet ons weet die man sien bome wat soos mense beweeg?
Al hierdie vrae gaan ’n mens help om die hart van Markus te verstaan wat met hierdie hele Evangelie vir ons probeer wys wat die implikasie van die lewe en werk van Jesus vir die geloofsgemeenskap is. En hier kan ons duidelik sien dat selfs iemand wat deur vriende na Jesus gebring is, se lewe ná kontak met Jesus nooit weer dieselfde was nie. Maar dit het nie oombliklik gebeur nie. Toe Jesus hom die eerste keer aanraak, moes Jesus hom vra: Sien jy iets? Die arme man moes toe erken dat hy sien, maar dit wat hy sien maak nie sin nie. Eers met Jesus se tweede kontak kon hy duidelik sien en sy sig vertrou.
Wat het Jesus hiermee gewys, en hoekom skryf Markus dit vir ons neer? Die ander Evangelies het nie hierdie gebeurtenis ingesluit nie, so hoekom het Markus? Dalk is dit om te wys dat Jesus die Seun van God is en nie ’n man met ’n bepaalde resep waarmee hy almal op dieselfde wyse genees nie. Miskien wys Jesus die dissipels hier op die proses om van geestelike blindheid na geloofsvertroue te beweeg. Dit is dalk ook moontlik dat die Here selfs vandag vir my en jou wat in verhouding en kontak met God leef, daardie vraag vra: Sien jy iets?
Mag hierdie gedagtes ons elkeen opnuut laat wonder oor wat ons sien, en of die Here ons nie dalk ook uitnooi om eerlik te wees oor die onduidelike beeld wat ons dalk mag hê nie.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Dinsdag 7 Januarie – Laat met julle gebeur soos julle glo
Matteus 9: 27-31 (AFR2020)
Tydens Epifanie kyk ons na die lewe van Jesus en die impak daarvan. Hier in Matteus 9 is ons in die hart van Jesus se bediening onder die mense. Ons lees van preke, gesprekke, genesing en wonderwerke wat alles dui op Jesus as die Messias en die Seun van God.
Die twee blindes sit in ’n unieke situasie bymekaar. Hulle moes gehoor het wat rondom hulle aan die gebeur was, en besef het dat dit Jesus is wat in hul midde is. In daardie oomblik het hulle ’n keuse gehad vir wat hulle moes doen: Gaan hulle volg en roep, of gaan hulle die geleentheid laat verbygaan? Hulle het gekies om die Here nederig te nader en die geleentheid aan te gryp.
Jesus se eerste vraag aan hulle klink baie aardig: Glo julle dat Ek dit kan doen? Op hierdie manier dwing Hy die twee om ’n besluit te neem tussen geloof en twyfel in die Seun van God. Met genade en krag van God het Jesus hulle aangeraak, maar weereens word die klem op geloof geplaas met die woorde: Laat met julle gebeur soos julle glo. Soms is ’n mens nogal skrikkerig oor daardie woorde in jou eie lewe. Wat sou met jou gebeur as die Here dié woorde oor jou uitspreek? Wat glo ek en jy oor die bekwaamheid van Christus in ons lewe? Glo ons werklik dat Christus in staat is om dit waarop ons hoop, in ons lewe te laat gebeur?
Ons ken die uitdrukking goed dat niemand so blind is soos die een wat nie wil sien nie. Mag ons daarom soos die blindes die geleenthede wat die Here ons bied, raaksien en aangryp. Maar mag ons ook geloofsvertroue hê in die vermoë van God om God te wees in ons lewe.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Maandag 6 Januarie (Epifanie – Verskyningsfees) – Instrumente
Lukas 8: 1-3 (AFR2020)
Vir baie kinders is dit soms ’n asemrowende belewenis om naby ’n pa of oom te staan wat besig is om ’n motor se enjin reg te maak. Daar word gegryp na ’n tang, dan ’n skroewedraaier en volgende ’n reeks verskillende groottes moersleutels (spanners) wat om die beurt gebruik word. As kind moet jy net gryp, aangee, en seker maak jy hou die lig waar daar gewerk word. In daardie gereedskapkis het elke item nie dieselfde finansiële waarde nie, maar wanneer dit benodig word, is dit die belangrikste.
Soms is dit die indruk wat ’n mens begin kry van ons as mense in God se koninkryk. Van die kant af, heg ons nie aldag ewe veel waarde aan die instrumente wat God in sy koninkryk gebruik nie, maar vir God is niemand minder werd nie. Elkeen vervul ’n belangrike rol. In hierdie teks van Lukas sien ons dat Maria, iemand wat definitief nie ’n goeie naam kon gehad het nie, se naam op gelyke waarde staan langs Johanna, ’n vrou met ’n groot naam. Maria se identiteit word gegee as die vrou uit wie daar vele demone verdryf is. Johanna word geken as die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes, wat van haar ’n vrou met taamlike status gemaak het. In die koninkryk van mense, is Johanna en Maria ver van mekaar, maar in die koninkryk van God werk hulle nou langs mekaar. Uiteindelik het jou rol as instrument in die hande van God niks te make met wie jy is of waar jy vandaan kom nie, maar of jy jouself in die gereedskapkis van die Here beskikbaar stel.
Mag ons kies om onsself nie deur die oë van mense te sien nie, maar deur die oë van ons Skepper wat ons almal geskep het vir sy gereedskapkis.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

Sondag 5 Januarie – Wees altyd bly!
Filippense 4: 4 en 6
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
Daar is altyd dinge in die lewe wat met ons gebeur en waarvan ons graag wil wegkom. So hanteer ons die een na die ander kwessie. Sodra die een afgehandel is, skuif daar net weer ’n ander bekommernis of frustrasie in sy plek. Iewers is daar altyd ’n verhouding wat skeefloop en wat herstel moet word. Dinge bou gewoonlik op tot op ’n punt waar dit vir ons nodig raak om van alles weg te kom sodat ons emosionele energie kan herstel.
Hierdie teks vertel van ’n lewe wat nie van omstandighede wegvlug nie, maar op betekenisvolle maniere daarbinne kan leef. Meer nog, dit vermaan ons om altyd te midde van hierdie omstandighede bly te wees. Hoe absorbeer ’n mens al die emosies en ervaringe wat die vermoë het om ons en ander mense van stryk te bring? Ons word in die teks aangemoedig tot ’n daaglikse roetine waar ons al ons bekommernisse en uitdagings in gebed na die Here toe bring.
Hoe help dit ons prakties? Elke keer as ons dit doen, word ons deur God herinner aan groter realiteite en maniere waarop Hy ons in staat stel om situasies te hanteer. Wees bly, is dus nie ’n nou-en-dan-ervaring as alles goed verloop nie. Dit is ’n deel van die alledaagse lewe waartoe die Here ons in staat stel. Mag hierdie vrede vandag weer van jou lewe besit neem en jou aanmoedig om oor niks besorg te wees nie, maar in alles jou begeertes deur gebed, danksegging en smeking aan God bekend te maak.
Gebed
Here, dankie dat ek, te midde van die spanning, hartseer, bekommernis en frustrasies in my lewe, by U vrede kan vind. Dankie dat U dieper as my woorde kan sien en van my emosies en denke besit neem. Stuur my denke om my vandag by perspektiewe uit te bring wat my kan help om besluite te neem. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

Saterdag 4 Januarie – Alles in u hande
Filippense 3: 4 en 7-8
Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, … want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.
Wat beteken dit vir ons om vandag te bely dat om Christus te ken, alles in waarde oortref? Soos wat ons ouer word, ontdek ons vaardighede, ons verdiep ons kennis van hoe dinge in die lewe werk, ons bou ’n lewe en vermeerder ons bates, en daar is soveel meer wat ’n mens nog hierby kan voeg. Deur dit alles weerklink die besef dat ons gebonde is aan tyd en dat alles wat ons het, net tydelik is. Dit is ’n skrikwekkende gedagte. Dit laat ons vasklou aan dit wat ons het, en maak die vrees vir verlies in ons wakker.
Hierdie teksgedeelte praat met ons oor die vrede om dit alles in die hande van die Here oor te gee. Alles wat ons in die lewe ontvang, is ’n gawe van God. In elke nuwe lewensfase word ons deur God geseën met nuwe lewenservaringe. Dit het tot gevolg dat ons nie aan uiterlike dinge vasklou nie, maar God vertrou vir die nuwe en onbekende wat nog op ons wag.
Voor watter oorgang in die lewe staan jy? Hoe help jou geloof jou om van die ou bekende afstand te doen en nuwe geleenthede wat op jou wag, aan te gryp?
Gebed
O Gees van God, bly by my, wees vandag die inspirasie vir al my gedagtes. Help my in die veranderinge en oorgange wat ek in die lewe moet maak. Daar is soveel wonderlike oomblikke en herinneringe van die verlede wat ek koester. Ek glo vandag dat die nuwe lewensfase waarvoor ek staan, ook nog soveel van u seën gaan inhou. Ek wil daarom nie net vasklou aan wat ek het en wat bekend is nie, maar U die geleentheid gee om my ’n nuwe stuk lewe te laat ontdek. Om U vandag te ken, Here, oortref alles in waarde. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

Vrydag 3 Januarie – Die belange van ander
Filippense 2: 1-4
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, … maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees … Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
Ons praat dikwels van hoe belangrik dit is om voortdurend geestelik te groei deur ons kennis van God te verdiep. Daar is egter ook ’n belangrike kant van geestelike groei wat te doen het met die wyse waarop ons kies om tussen ander te leef. Die kern daarvan het daarmee te doen dat ons nie net altyd aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Filippense 2 praat met ons oor God wat Hom nie aan sy Goddelikheid vasgeklem het nie, maar bereid was om die gestalte van ’n mens aan te neem en Hom nog verder te verneder deur te ly en te sterf.
Wat is die dinge waaraan ons vasklou wat verwydering tussen ons en mense bring? Dink vir ’n oomblik hoe ons geld, prestasies, status en intellektuele vermoëns die potensiaal het om elke dag hierdie verwydering mee te bring. Uiteindelik kom ons onsself te na wanneer ons verby wonderlike geleenthede kyk waarin ons lewe nuwe waarde kon kry.
Probeer om vandag te fokus op die belange van ander mense en gun jouself die geleentheid om iets besonders te beleef wat jou aanspoor om dit deel van jou lewensritme te maak.
Gebed
Here, begenadig my vandag met die deugde wat net U kan gee: ’n nederige, geduldige en vredeliewende geaardheid. Help my om verby my eie behoeftes te kyk. Bevry my van die angs wat in my leef, omdat ek dink dat ek nie genoeg het nie en my verbeel dat ek meer nodig het. Laat my vind dat die meer van die lewe nie met my eie behoeftes te doen het nie, maar met dié van ander. Dankie dat ek vandag daarin iets nuut kan ontdek wat my menswees inspireer. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

Donderdag 2 Januarie – Leef toegewyd aan God
Filippense 1: 20-21
Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos ook nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
Wat sou dit beteken om toegewyd aan God te leef? Godsdienstige toewyding het altyd die manier om ons skuldig te laat voel omdat ons nie by die kerk, gebed en studie van die Bybel uitkom soos wat ons moet nie. In vandag se teksgedeelte kry ons ’n besondere perspektief op hoe ’n toegewyde lewe lyk.
Dit is nie ’n taak of opdrag nie, maar ’n vrymoedigheid wat die Here in ons kom wakker maak om God deur ons hele lewe te verheerlik. Dit begin met die ontdekking of die besef dat God ons met baie spesifieke gawes en vermoëns geseën het. Toewyding is nie iets waartoe ons gedwing word nie, dit is iets wat die Heilige Gees spontaan in ons na vore bring en wat ons aanspoor om deel van die kerk te wil wees en ons in gebed en studie te wil verdiep.
Hoe is die Heilige Gees besig om in hierdie tyd hierdie vrymoedigheid in jou los te maak? Op watter pad wil die Here jou in hierdie nuwe jaar neem?
Gebed
Here, met vandag se sonsopkoms bid ek dat U my sal seën met die wysheid en krag om u wil te ken en te doen sodat ek saans met sononder vreugdevol kan gaan rus in die wete dat ek op die dag wat verby is ten volle geleef het. Inspireer my vandag om met die vrymoedigheid wat u Gees in my bring te leef, en elke oomblik van hierdie dag as ’n gawe uit u hand te sien. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

Woensdag 1 Januarie – Met begrip en fyn aanvoeling
Filippense 1: 9-10
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.
Wanneer ons belangrike besluite neem, is dit belangrik om die regte inligting byderhand te hê en die nodige advies van mense met kundigheid in te win. In die gemeente in Filippi was daar onderlinge spanning en onenigheid omdat gelowiges se bronne van informasie en hul interpretasie daarvan verskil het. As gevolg daarvan het hul gesprekke dooiepunte bereik en het hul verhoudinge skade gelei.
Hierdie situasie kom vandag nog gereeld onder gelowiges, families en vriende voor wanneer ons met mekaar se verskille te doen kry. Vandag se teks herinner ons aan ’n belangrike waarheid: Ons standpunte en opinies wat op informasie gegrond is, is nie die bepalende faktor wanneer dit by besluitneming kom nie; die liefde van Christus is wel. Dit sluit geen mens uit nie en bring ons op dieselfde plek om nuwe oplossings te verken. Die oproep is nie dat ons kennis oor ’n saak sal verdiep nie, maar dat ons God se liefde kans sal gee om in ons ’n begrip en fyn aanvoeling te kweek vir dit wat werklik saak maak.
Wat staan in jou pad dat die Here jou in hierdie nuwe jaar so van binne kan kom aanraak en verander? Hoe is die Here se liefde besig om in ingewikkelde kwessies in jou lewe deur te breek?
Gebed
Here, laat die geur van u teenwoordigheid versprei oral waar ons gaan. Versadig ons gees met u liefde en lig; deurdring ons lewe so volkome met die glans van u lig dat dié wat met ons in aanraking kom, bewus mag word van die warmte en heil van u teenwoordigheid wat ons na dieper insigte lei. Help ons, Here om te midde van die spanning van soveel opinies en oortuigings vandag te onderskei tussen dinge wat in ons lewe afspeel en waarop dit werklik neerkom. Dankie dat U dinge wat kompleks en moeilik is, op eenvoudige maniere vir ons kom oopbreek. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

31 Desember 2024 – Jesus sê toe vir hulle: Kom saam, dan sal julle sien
Johannes 1: 35-42
In die wêreld waarin ons leef, volg mense mekaar op Facebook of Twitter of Instagram, en op WhatsApp kyk ons na mekaar se profielfoto’s. Op dié manier sien ons iets van ’n ander se lewe, wat hulle dink, wat hulle glo of nie glo nie, sonder dat ons hulle regtig ken of ’n persoonlike verhouding met hulle het. So gebeur dit dat iemand wat ons nog nooit ontmoet het nie en nie regtig ken nie, hoe ons dink oor die lewe en sekere sake kan beïnvloed. Dit waaraan ons ons blootstel elke dag, het ’n invloed op ons.
Dit laat my wonder: Wie of wat gaan ons toelaat om ons lewe in 2025 te beïnvloed? Wie se navolgers (followers) gaan ons wees?
In die Nuwe Testament is om iemand se volgeling te wees baie anders as wat ons doen wanneer ons in vandag se tyd ’n bekende persoon volg of aansluit by die een of ander groep of beweging. Wat is anders? In die Nuwe Testament beteken om iemand se volgeling te wees dat jy daardie persoon persoonlik ken. Die twee volgelinge van Johannes wat besluit om Jesus te volg, wou weet waar Jesus tuisgaan. Waarop Jesus antwoord: Kom saam, dan sal julle sien. Hulle het saam met Jesus gegaan en die hele dag by Hom gebly. Hulle het Jesus leer ken.
Jesus roep ons elkeen ook so, en nooi ons uit: Kom saam, volg My. Ons word geroep om in Jesus se teenwoordigheid te leef. Deur die Heilige Gees leer ons Jesus ken, leer ons om as Jesus se volgelinge God se liefde teenoor ander uit te leef.
Kom ons hoor so aan die einde van 2024 Jesus wat ons uitnooi: Kom saam, dan sal julle sien. Kom ons besluit om elke dag van 2025 langer in gebed, in ons gedagtes en harte by Jesus te bly, sodat ons in die nuwe jaar wat voorlê, ander na Jesus kan bring.
Dr Annelie Botha, Universteit van Pretoria / Kempten

30 Desember 2024 – En daar was lig
Genesis 1: 1-3; Lukas 2: 8-14
Min van ons hou van die donker. Donker beskryf dikwels hoe ons oor sekere ervarings in ons lewe voel. Wanneer ons nie meer die uitkoms of die verandering wat nodig is, kan sien of kan bedink nie, voel ons ons is in die donker. Dit voel of ons in ’n diep, donker put is, met geen teken van lig, uitkoms en hoop nie. Hierdie soort donker maak ons angstig, benoud en desperaat. Wanneer dinge vir ons meer word as wat ons kan hanteer, word ons uitsig donker.
Deur al die eeue heen was en is daar nog altyd by ons mense die vrees dat die donker die lig in ons en om ons sal oorweldig. Daarom begin ons Geloofsboek, die Boek wat ons vertel van God en hoe God teenwoordig is in die wêreld en lewe van mense, deur ons te vertel van die Lig. Ons het nodig om te weet waar die Lig vandaan kom, wie die Lig is, dat die Lig gekom het om by ons te bly, sodat ons kan vertrou, glo en lewe.
Hierdie Lig, God, is op ’n baie besonderse manier betrokke en teenwoordig by en besorg oor ons. Jesus is die Lig wat ons altyd in ons duisternis kom vind, God wat ons red, wat uitkoms gee, krag gee, wysheid, insig, wat mense se harte kan verander. Want die duisternis, ons grootste moedeloosheid, diepste vrees, grootste seer, word verlig waar Jesus in ons harte en lewens woon.
In Jesus kom ontmoet God ons, daar waar ons dalk oorval is deur angs en donkerte, bang is, moedeloos is, kwaad is, oorweldig is deur ’n diep seer en woede in ons. God kom bied in en deur Jesus herhaaldelik die lewe vir ons aan.
Waar ons môre 2024 as hoofstuk van ons lewe gaan afsluit, onthou ons hoe God by ons was, glo ons dat God in 2025 steeds by ons sal wees. Kom ons gaan leef na die voorbeeld van Jesus soos kinders van die Lig. Laat God se lig, liefde en vrede wat harte verander, oor ander skyn.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

29 Desember 2024 – Die lewe is soos ’n kamera
Genesis 16
Onthou jy hoe het ons, voor digitale kameras, foto’s ontwikkel? Vanaf die negatiewe is die mooiste foto’s ontwikkel. So het ons die goeie lewensoomblikke vasgevang. Wat belangrik is by foto’s, is om te fokus. Vandag se gedeelte fokus op Hagar.
Daar is baie negatiewe dinge wat ons opmerk. Sy het weggeloop en bevind haar vrou-alleen in die woestyn. Sy is platgeslaan en sonder hoop vir die toekoms. Miskien nie ’n goeie foto nie. Met haar ontmoeting met die engel verander haar lewe. Die engel stuur haar terug na Sarai toe, maar maak ook die aankondiging dat sy ’n groot nageslag sal hê en ’n toekoms. Uit hierdie negatiewe omstandighede kom iets positief. Daar kom sekerheid en hoop en ons hoor dit by monde van Hagar in vers 13: U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.
God het haar die heeltyd raakgesien en wanneer sy God raaksien, verskuif haar fokus (kamera) van die negatiewe omstandighede na God toe. Sy sien God raak en dit bring goeie lewensoomblikke.
As die kamera vandag op jou fokus? Ons lewe kan dalk op ’n punt wees waar ons reg fokus. Ons besef opnuut God se genade in Christus se koms. Ons besef opnuut dat uit die negatiewe – die sonde – Christus die positiewe – die verlossing – bring. Of dalk is ons lewe by dieselfde punt as Hagar s’n. Ons is soekend. Omring deur al die negatiewe ervarings. Boelies by die skool, werk wat ek verloor, bekommernis oor ouers of kinders. So kan ons nog met die lys aangaan.
Kyk dan in die kamera van Genesis 16. God, die Almagtige, sien jou raak. Hy sien jou swaarkry en jou worsteling. Hy wil ook uit die negatiewe die positiewe skep. God gee hoop en ’n toekoms. Kom ons leer om God ook raak te sien. Kom ons fokus nie op die slegte omstandighede nie, maar op God!
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

28 Desember 2024 – Ek soek iemand
Matteus 1: 22-24
Ek onthou hoe ons kind bang was vir die donker. Sy sou letterlik vries as die nag sy aankoms aankondig. Dan het sy haar pa se hand nodig om te beweeg. Sy wil in tyd van vrees en onsekerheid weet dat daar iemand by haar is. Dan het sy veilig gevoel en het rustigheid haar vel geword.
Met die aankondiging van Christus se geboorte, moet Hy ook Immanuel genoem word – dit beteken God by ons. God neem die gestalte van ’n mens aan om eintlik ook ons hand te kom neem. Hy wat God is, word in vlees gebore sodat die donker ons nie oorweldig nie. Hy kom aarde toe, sodat die bedoeling van die wet gesien kan word, naamlik wat liefde beteken.
Aan die einde van die jaar mag ons dalk onseker en bang voel oor die toekoms. Dit mag wees dat die vrees ons dalk laat vries en ons beweging tot stilstand wil bring. Hoor dan weer die woorde van Matteus 1: 23: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Christus is God by ons. Hy laat ons nie alleen nie. Ons hoef nie te vries vir die vreemde nie. Christus is deur sy Gees steeds elke dag in ons lewens teenwoordig. Hy is so naby aan ons soos ons vel. Ek kan veilig voel en rustigheid kan my oorweldig.
Die jaar 2025 is nie ’n monster wat wag nie. Die toekoms is in God se hande!
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

27 Desember 2024 – Geboorte: Die begin van ’n nuwe reis
Matteus 2: 9-12
Die geboorte van kinders laat ’n mens se lewensweg dikwels ’n ander koers inslaan. Daardie wonderwerk-mensie bepaal nou ons nuwe roetine en optrede. Ons kan vir ure na die pasgebore kinders staar en wonder watter vreugde dan groter is. Dit is kinders wat dikteer waarheen ons die meeste reis, en dit is dikwels na dokters en familie. Dit is ook kinders wat die omvang van die bagasie bepaal. Nie net meer kos en klere nie, maar die agterste sitplekke wemel van speelgoed.
Die sterrekykers se reis stop eers in Betlehem. Dit is hier waar hul bagasie verander. Hulle het die goud, wierook en mirre aan die Koning as geskenke uitgedeel. Nou breek hul terugreis aan, weer deur Jerusalem, om aan Herodes verslag te doen. ’n Engel verskyn aan hulle om te waarsku: Volg ’n ander pad! Hierdie ompad was hul redding, maar dit was die opstand van Herodes wat alle Joodse seuns wat onlangs gebore is, wil doodmaak. Daarom vlug Josef en Maria na Egipte toe.
Met Christus se geboorte word ons reis ook aangepas. Voor Christus was dit ’n pad van sonde met swaar bagasie van ongehoorsaamheid. Dit was ’n verdwaalde en verlore pad. Maar Christus se geboorte bring ’n nuwe pad – die pad van die ewige lewe. Dit is dalk ’n kronkelpad, maar ’n pad wat hoop en redding bring. Ons reis nie meer met oorlaaide skuldgevoelens en ongehoorsaamheid nie. Daardie swaar rugsak van die sonde is nou afgegooi. Die juk is van ons skouers af en ons kan nou die reis met vreugde aanpak. Ons reis nou met ander bagasie – ons reis met die verlossing en genade wat God aan ons geskenk het.
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

26 Desember 2024 – Krip word kruis
Lukas 2: 6-7
Christus is in ’n stal gebore en in ’n krip neergelê. Die rusplek van diere het eintlik die teater geword. Hy is gebore in die tuiste van die diere. Ons lees ook dat nadat Hy in die wêreld gekom het, Hy in ’n krip neergelê is. In die voerplek van diere. Hy kom vind ’n tuiste tussen diere. Diere wat eintlik niks van die evangelie weet nie. Hy kom lê in die hart van diere se lewens – daar waar hul kos is, dit wat hulle laat lewe. Want om uit die krip of voerbak te eet, is die diere se troos, hul lewe.
In die krip is die begin van Hoop in ’n hopeloosheid van sonde en haat. Maar die krip sê juis: Moenie moed verloor nie! Moenie dat die eensaamheid jou oorweldig nie! Hy is hier. Hy het gekom vir my en vir jou!
God laat ons nie in die steek nie, en so tussen en in die hart van diere, leer ken ons God se hart.
Die verdere oorlewering oor ’n krip is dat daar rondom Betlehem baie Levitiese herders was wat lammers grootgemaak het as offers. Die lammers wat geskik was by geboorte is dan onder geskeurde lappe laat lê in ’n krip, weg van wilde diere, sodat hulle later die offer kon wees. Daarmee is daar dus ’n verdere betekenis aan die krip. Christus was gereed om die Offerlam te word en moes aan die kruis sterf vir ons sondes. Krip word kruis!
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

25 Desember 2024 (Kersfees) – Geboorte maak ons opgewonde
Lukas 2: 1-7
Wanneer die aankondiging kom van ’n swangerskap, is daar uitbundige vreugde. Dit is met oorstelpte harte dat die toekomstige ouers hierdie nuus oral wil versprei. Ouma maak gereed om hierdie kind te verwelkom met gebreide klere of dalk gordyne vir die kamer. Oupa sien in sy geestesoog hoe daar saam stories vertel gaan word. Almal is opgewonde en dit voel dikwels dat nege maande te kort is om voor te berei. En dan breek die oomblik aan. Feestelikheid en liefde is op almal se gesigte. Die kind is hier! Gesond, ’n wonderlike geskenk.
Daar was egter min of eerder negatiewe opgewondenheid oor die Kind Jesus se geboorte by sy volksgenote en koning Herodes. Die opgewondenheid vind ons wel by die sterrekykers, vreemdelinge van die Jode. By die skaapwagters, mense van die laagste sosiale stand.
Hoe opgewonde is jy oor Christus se geboorte? Die ware betekenis van Kersfees raak dikwels in die spoed van die seisoen verlore: die inkopies, die partytjies, die gebak en die gesoek na geskenke. Die essensie van die seisoen is die grootste geskenk van alle tye – God het Jesus Christus, sy eie Seun, vir ons gegee.
Christus se geboorte bring nie net die opgewondenheid van ’n kind wat gebore is nie, dit bring baie meer. Ons behoort opgewonde te wees oor die verlossing wat aangebreek het. Vir die genade en liefde wat God aan ons openbaar. Hoop vir my en vir jou is gebore!
Die geboorte van Jesus bring groot vreugde vir almal wat Hom ontvang. Die doel van Kersfees is om hierdie vreugde te deel, sodat die hele wêreld die Verlosser sal ken.
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

24 Desember 2024 – Stuur tog ’n engel!
Lukas 2: 8-15
Engele speel ’n groot rol in die Bybel. Die bekendste is sekerlik die engel wat aan Maria verskyn met die nuus dat sy swanger sal word en ’n kind in die wêreld sal bring. Josef se reaksie op hierdie skoknuus is dat hy besluit om die verlowing te verbreek. Daardie aand is daar ook aan hom ’n verskyning van ’n engel. Na die besoek van die engel, het Josef van plan verander.
Lukas 2: 8-15 vertel van ’n engel wat aan die skaapwagters verskyn waar hulle in die veld skape oppas. Hulle het groot geskrik, want dit is dalk die doodsengel wat die einde van hul lewens kom aankondig. Maar dan die gerusstelling dat hulle nie bang hoef te wees nie. Dit is eintlik ’n wonderlike boodskap wat die engel kom oordra. Dit waarna die volk gesmag het, het gebeur en julle het die voorreg om dit eerste te hoor. Die Verlosser is gebore!
En dan die onbeskryflike gebeurtenis. Daar het nog engele aangesluit en God geloof en geprys vir die uitkoms wat aangebreek het. En soos ’n pyl uit ’n boog het hulle alles net so gelos en gehardloop en vir Maria en Josef en die Kindjie gevind.
Ag, hoe wonderlik sou dit nie wees nie as daar aan ons ook ’n engel verskyn? Ons sal die engel glo en die geleentheid wil aangryp, soos die herders, as daar tog net ’n engel dit vertel. Ag, kan daar nie ’n engel kom nie?
Maar die hartseerste is dat ons nie sal luister nie. God stuur sy betroubaarste Boodskapper. Hy stuur sy Seun, maar ons verroer nie ’n vinger nie. Christus se geboorte word ook vir ons aangekondig, maar ons wil nie gaan kyk nie – hierdie skape, die wêreldse, het belangriker geword as die hemelse.
God stuur meer as net ’n engel. Hy stuur sy Seun om te sê: Jy is kosbaar. Ek wil nie dat jy verlore gaan nie. Die Verlosser bring die boodskap van redding. Is ons soos die skaapwagters opgewonde daaroor?
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

23 Desember 2024 – Wie is die pion?
Miga 5: 1
Betlehem was die stad waaraan Josef eintlik behoort het as afstammeling van Dawid. En so was Josef en Maria op pad daarheen om hulle deel van die volkstelling te maak. Die keiser het ’n volkstelling gehou. Sy tellery het om belasting gegaan. Hy wou weet hoeveel mense daar is, sodat hulle belasting kon betaal. Almal moes getel word. Josef en Maria was dus amper soos pionne op ’n skaakbord. Die keiser het hulle en al die ander mense na sy begeerte heen en weer geskuif. So gesien, is Josef en Maria die slagoffers van die keiser se besluit.
Ek voel ook so en sekerlik jy ook. Dat ons as pionne heen en weer geskuif word. Net ’n identiteitsnommer, dit is maar al wat ons is. Ander besluit oor ons lewens en wat ons behoort te doen. Ons brom dikwels oor die manier waarop dinge gebeur. Ons voel magteloos en doen maar net wat ander oor ons besluit.
Maar daar is ook ’n ander hoek waaruit ons daarna kan kyk. Op ’n vreemde manier het keiser Augustus se plan om mense te tel, ’n belofte in vervulling laat gaan wat God al lank tevore gemaak het in Miga 5: 1. Wie is dan eintlik die pion op die skaakbord? God het dié profesie van Jesus se geboorte in Betlehem lank tevore laat opteken. En dit is sy besluit wat hier die deurslag gee, wat ’n mens laat besef dat dit eintlik God se hand is wat ons bespeur in die sensus van die keiser. God stel sy eie besluit in werking. Augustus mag die kitaar slaan, maar dit is God wat die melodie bepaal. Uiteindelik is die “keisers” pionne in God se hand, eerder as andersom.
God is altyd in beheer van jou lewe. Maak nie saak wat jy alles hierdie jaar moes deurmaak nie – dalk ’n geliefde verloor, dalk siekte en lyding. Dalk was dit ’n goeie jaar. In alles wat ons meemaak, is ons nie maar aan die noodlot uitgelewer nie, want God is in beheer.
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

22 Desember 2024 (Vierde Adventsondag) – Die lig kom na die donker wêreld
Johannes 1: 3-9
Toe ek klein was, het ek ’n baie groot vrees vir die donker gehad. Ek kan onthou hoe ek in die middel van die nag na my ouers se kamer hardloop. Dit het altyd baie waagmoed gevra. Van my kamerdeur tot by my ouers was ’n lang gang vol monsters en onsekerheid. Die donker het al my vrees ingekleur met silhoeëtte wat my laat bibber en beef het. Tog, as my ouers die lig aanskakel, sou ek sien dat hierdie groot monsters maar net ’n eenvoudige staanlampie, of selfs my pa se jas was.
Die donker vul die mens met ’n natuurlike versigtigheid. Dit is een van die mens se oerinstinkte. Selfs die vroegste mense op aarde was versigtig en angstig in die donker. Die lig, aan die ander kant, maak alles duidelik. Lig maak alles beter. Dit is amper asof lig vir ’n mens sekuriteit gee.
Dit is sekerlik hoekom Johannes in sy Evangelie Jesus as die lig vir hierdie donker wêreld beskryf. Johannes het besef dat ons in die lewe oorweldig word deur onsekerheid en dat ons op die pad van die lewe maklik in die donker kan verdwaal. Jesus se koms is vir Johannes soos die lig in die donker gang van my ouerhuis. Dit neem al die onsekerheid weg. Al die gevaarlike monsters van hierdie lewe verdwyn met die koms van Jesus.
Ewe skielik, met die koms van Jesus, het ons alles wat ons nodig het om in hierdie lewe te kan leef. Hoor mooi hoe praat Johannes van hierdie lig as hy sê: In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Eenvoudig gestel: Jesus se lewe verlig ons eie lewe. Dit is die lig wat in die donker van ons lewe skyn. Eens was ons onseker en op die verkeerde pad, maar met die lewe van Jesus weet ons presies wat God van ons verwag. Jesus verlig die wil van God. Die Here Jesus het die lig in die gang aangeskakel. Hy het ons vrees daarmee weggeneem, en ons kan in Hom lewe vind wat alles verlig.
Ds Juan de Beer, Parys

21 Desember 2024 – ’n Gesindheid van kenosis
Filippense 2: 5-11
Ons leef in ’n gesofistikeerde en komplekse samelewing. Selfs hier aan die suidpunt van Afrika word ons oorweldig met nuwe tegnologie en inligting. Kennis is nie iets wat moeilik bekom word nie en almal is ’n kenner op elke gebied. Hierdie is nie ’n poging om die waarde van hierdie tegnologie of kennis af te maak nie. Maar dit is belangrik om in ’n samelewing wat volgeprop is met inligting en selfversekerdheid te vra: Hoe behoort gelowiges hulself te gedra in so ’n samelewing?
Ons is duidelik bewus daarvan dat God ’n baie spesifieke verwagting van ons het. Hierdie verwagting vra dat ons mooi moet besin oor die gesindheid wat gelowiges behoort te hê. Paulus gee ons die antwoord hiervoor. Paulus skryf in Filippense ’n pragtige Christus-lied. Hierdie lied vertel dat Jesus, wat in die gestalte van God was, sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou het as iets waaraan Hy moes vasklem nie, maar Homself verneder het. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is kenosis. Dit beteken letterlik om leeg te maak. Amper soos ’n kruik vol water wat uitgegiet word en leeg staan.
Die gedig gaan verder deur te verduidelik dat dit juis hierdie leegmaak was wat die gevolg gehad het dat Jesus die Here is, tot eer van God die Vader. Hierdie stuk poësie verteenwoordig ’n diepgewortelde gesindheid van leegmaking. In ’n samelewing wat geen tekort het nie en met mense wat alles weet, is dit slegs hierdie gesindheid wat gelowiges moet uitstraal. Hierdie gesindheid beteken nie dat jy sonder kennis moet leef nie, maar dit is ’n gesindheid van nederigheid waarin ons besef dat ons ons nie hoogmoedig kan hou nie. Ons moet altyd bereid wees om eers te leer, om eers te luister en om ontvanklik te wees.
As ons die beker van ons selfversekerdheid kan leegmaak, maak God ons vol met sy glorie.
Ds Juan de Beer, Parys

20 Desember 2024 – Deur sy armoede word ons ryk
2 Korintiërs 8: 9
Sou jy die rykdom wat God vir jou gee, opgee vir iemand anders? Sou jy op straat gaan bly en jou huis vir ’n hawelose gee? Sou jy jou motor se skuld kon dra, en in dieselfde asem jou motor vir iemand wat duimgooi, weggee? Sou jy die salaris wat jy verdien vir ’n karwag gee?
Dit is maklik om jou voor te doen as ’n vrygewige mens as jy jou kleingeld by Checkers vir die karwag gee, maar om jou rykdom prys te gee, is amper ondenkbaar. Daar is sekerlik niks moeiliker nie as om arm te raak sodat ander ryk mag wees. As jy vandag hierdie lees, kan jy dadelik gerus voel, want dit word nie van jou verwag nie. Dit is bloot opvallend om te besef dat jou rykdom baie meer vir jou beteken as wat jy besef. Dat die dinge in ons lewens nie sommer opgegee word nie.
Dit is daarom ’n merkwaardige openbaring om te besef dat in al die rykdom wat God gehad het, Hy ter wille van ons arm sou word. Hy gee die glorie van sy troon, die lof van die engelekoor en magdom van die hemel op vir ’n krip in ’n stal wat vir diere gemaak is. Hy gee die rykdom van sy majesteit op vir die kruis by Golgota. Hy gee dit alles op, sodat jy kan leef, sodat jy die rykdom van sy heerlikheid kan vind en die rykdom van die ewige lewe kan beërwe.
Dit is hoe die genade van God lyk. Genade is nie maar net ’n losprys vir jou sonde nie, maar God se gewilligheid om alles prys te gee sodat jy die rykdom van God kan vind. Ons het deur sy armoede ryk geword. Die omvang van hierdie genade vind ons in die koms van Jesus na die aarde. Jesus is gebore in ’n voerbak waaruit die plaasdiere sou eet. Die Koning, gebore in ’n stal. Hy word arm sodat, aan die einde van alle dinge, ons ryk mag wees in sy genade.
Ds Juan de Beer, Parys

19 Desember 2024 – Vrede op aarde vir die skaapwagters
Lukas 2: 8-14
In die antieke wêreld was skaapwagters nie gesiene mense met groot status nie. In ’n wêreld waar konings met God kon praat, profete op berge en heilige priesters in die tempel, sou eenvoudige skaapwagters die laaste mense wees wat jy verwag om ’n boodskap by God te kry. Skaapwagters het maar eenvoudige lewens gehad. Hulle het saam met hul skape geleef, en het maar ’n dag-tot-dag-bestaan gevoer. Hulle het nie regtig ’n groot stem in die samelewing gehad nie en was maar op die rand van die samelewing.
Tog besluit God om aan hierdie eenvoudige skaapwagters te verskyn. Die hemele bars oop vir hulle met die aankondiging: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Ek is seker dit moes vir hulle ’n asemrowende belewenis gewees het, maar diep in hul gemoed sou die vraagteken by hulle opkom: Hoekom sou God nou juis aan ons verskyn?
Die antwoord lê in hierdie einste aankondiging van God. God beklemtoon die woorde: Vir julle is die Verlosser gebore. Dit is ’n hoendervleisoomblik, om te besef dat die aankondiging nie net bedoel was vir die mense wat groot status of aansien gehad het nie. Hy kom na hierdie aarde vir selfs die eenvoudige skaapwagters. Dit sou hulle wees, hierdie eenvoudige mense, wat die Christus in ’n eenvoudige krip sou vind.
As daardie eenvoudige skaapwagters die lofsang van vrede op aarde hoor, dan lê die gedagte ook in hul gemoed: Hierdie vrede is ook vir my. Dit wys ’n mens op die wonderlike genade dat Jesus se koms ook vir jou bedoel is. Elke mens in wie God ’n welbehae het, van sterrekyker tot skaapwagter, ontvang die belofte van vrede op aarde.
Ds Juan de Beer, Parys

18 Desember 2024 – Die Seun wat vrede en voorspoed bring
Jesaja 9: 1-6
In die dolle gejaag van Maandag tot Vrydag, kom die bekende lirieke van Koos Kombuis by my op: Almal wil ’n huisie by die see hê, almal dink die struggle is verby, almal dink die lewe is eers môre, maar môre is te laat vir my.
Ons werk hard in die lewe om net ons plekkie onder die son te hê en om net ’n bietjie vrede en voorspoed te beleef. Ons werk hard vir daardie huisie by die see. Ons stoei deur die werkweek met bebloede uniforms en oorlogskoene. Om net weer teleurgesteld te staan oor die tekort aan vrede en voorspoed. Ons veg so hard en vind so min. Dit maak dat ’n mens tot die besef kom dat ons dalk hierdie lewe verkeerd benader. Ons is so gefokus daarop om ons toekoms te bou, ons laat God nie toe om vir ons ’n toekoms te openbaar nie. Dit is in die koms van Jesus Christus dat ons ’n nuwe benadering vind.
Hy is die Vredevors wat alles in die lewe kom verander. As ons net vir ’n oomblik kon besef dat God ons bebloede uniforms en die oorlogskoene (soos Jes 9 ons leer) verbrand, sou ons besef dat God vir ons in Jesus Christus vrede en voorspoed gee. Dit is soos Psalm 127: 1 ons herinner: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
Ons kan nie net veg en werk vir vrede en voorspoed nie, ons moet dit by God kan vind. Geld, sukses en die huisie by die see belowe baie, maar voorsien so min. Net Jesus Christus kan dit verseker. As ons fokus skuif na die Seun wat vrede en voorspoed bring, sou ons dalk kon sing: Almal wil ’n huisie by God hê, Hy bring verlossing vir my. Almal sê die lewe is eers môre, maar Jesus bring vrede en voorspoed vir my.
Ds Juan de Beer, Parys

17 Desember 2024 – God belowe verandering
Jeremia 33: 10-18
Ek dink terug aan die dae toe ons in die motor deur die middestad van Pretoria gery het. Ek onthou hoe my neus teen die venster vasgeplak was in verwondering oor al die strate en al die groot geboue. My ouers het keer op keer vir my gesê: Kyk net daar, ons het in daardie parkie piekniek gehou en ons het daar deur die strate in die middel van die nag geloop. Hierdie opmerkings was nie daarop uit om kosbare herinneringe te deel nie – dit het ’n mismoedige subteks gehad. Elke opmerking van hierdie herinneringe het geëindig met die gedagte: Vandag is dit alles verwoes.
Dit is iets wat ons by baie ander mense hoor. Die sinnetjie begin gewoonlik met die woorde: In die goeie ou dae…. Ek kom self agter hoe ek my kinders daaraan herinner dat ons in die strate van die dorp gespeel het, maar hulle kan dit nie doen nie.
Daar is iets aan verwoesting wat vrees en angs by ’n mens tuisbring. Dit is iets wat die Israeliete in die tyd van Jeremia goed geken het. Hul hele land was verwoes deur die wreedaardige Babiloniërs. Ek is seker dat hulle ook dieselfde ou staaltjies vertel het met die woorde: In die goeie ou dae… Hulle het nie baie hoop op die toekoms gehad nie. Dit is dan dat God deur die profeet Jeremia aan hierdie volk ’n belofte van verandering maak. Wanneer hulle kyk na die verwoesting, belowe God vir hulle blydskap en vreugde. Dit is hierdie blote belofte wat maak dat hulle weer vir hulle ’n toekoms kon indink.
Dit is ’n soortgelyke belofte wat ons vind in die koms van Jesus Christus. ’n Belofte van God dat Hy verwoesting verander in hoop. Dalk was daar goeie ou dae, maar God bring nuwe dae. Dit is die enigste belofte wat jy nodig het om, in jou omstandighede, ’n toekoms te bou.
Ds Juan de Beer, Parys

16 Desember 2024 – Jou vooruitsigte bepaal jou volharding
Hebreërs 12: 1-3
Daar is ’n storie wat vertel van twee gelowiges wat verlore geraak het in die woestyn. Albei van hulle was omring deur sand en son. Een van die gelowiges val op sy knieë met ’n geroep: Here, waarom het U my in hierdie woestyn gesit, hier gaan ek sterf! Die ander gelowige val ook op sy knieë neer met ’n geroep: Here, wys my die pad om weer die beskawing te vind, sodat ek kan leef. Albei gelowiges roep uit na God, maar net een sou uit die woestyn stap. Albei gelowiges was in gebed, maar net die een met ’n vooruitsig het oorleef.
Daar is altyd die gedagte wat in ’n mens leef om nie te vinnig optimisties te raak nie en om versigtig met jou verwagtinge te wees. Iemand het eens vir my gesê: Keep your hopes high, but your expectations low.
Tog herinner die skrywer van die Hebreërs-brief ons aan Jesus. Dat Hy selfs die skande van die kruis kon verduur, omdat Hy ’n vooruitsig gehad het. Ek is seker as Jesus op die pad na Golgota hierdie vooruitsig met die mense gedeel het, sou hulle lag. Niemand sou Hom glo nie, maar sy verwagting het gemaak dat Hy kon volhard. Vandag sit Hy aan die regterhand van God, omdat Hy die kruis verduur het. Sy vooruitsig het sy volharding bepaal.
Ons het ook baie uitdagings in die lewe en ons bevind ons ook baie keer in die woestyn. Ons almal het al gevoel of ons omring word deur sand en son. As jy nou op jou knieë sou uitroep na die hemele, hoe sou jou gebed tog lyk? God gee aan ons ’n vooruitsig om na uit te sien en dit is ons aansporing om alles in die lewe te verduur en die wedloop te voltooi.
Ds Juan de Beer, Parys

15 Desember 2024 (Derde Advent / Gelofteviering) – Genade nie tevergeefs ontvang
2 Korintiërs 6: 1-2
Ons leef in ’n tyd van korrupsie, moorde, armoede wat toeneem en verval op alle terreine van ons lewe. My gedagtes gaan onwillekeurig terug na die Voortrekkers op die vooraand van die slag van Bloedrivier. Het hulle oor hul werklikhede en wêreld gedink soos ons vandag dink? Dan onthou ek die Gelofte: weldeurdagte en oortuigde gelowiges wat as kinders van God leef.
Ons leef in ’n tyd van onsekerheid en angs, soms met ’n bitterheid oor alles wat ons verloor het en beslis ’n bitterheid wat op alle aspekte van ons lewens kan inspeel. En tog sê Paulus, wie se wêreld in wese nie anders as ons s’n was nie: Nee, ons leef in genadetyd. Dit wat ons in Adventtyd verwag het, het waar geword. Die woord het vlees geword, en telkens kom breek Hy ons kalenders, tyd en geskiedenis binne. God se genade en verlossing, dit wat lig in duisternis bring, is ewig deel van ons lewe. God kom en herstel of restoureer die gebrokenheid van die mens, en elke oomblik in ons tyd is ’n tyd waarin ek aan God kan vasgryp. Nou is die dag van God se redding. Gebruik elke verleentheid as ’n besondere geleentheid om opnuut in gehoorsaamheid en vertroue in God te leef.
Moenie toelaat dat julle die genade van God tevergeefs ontvang het nie. Moenie so veg, vries of vlug, so negatief wees, dat die geleentheid om God se genade in jou wêreld en huis en vriendekring te leef, by jou verbygaan nie. Laat ons elke geleentheid aangryp. Die geestelike leiers van die volk Israel was so gaande met hul mag en gesag dat die geboorte van Jesus, die Messias wat sou kom, ongemerk by hulle verbygegaan het. Dit is tragies dat ons ook so vasgevang word in omstandighede dat ons toelaat dat die tyd vir genade en heling, troos en krag, ook by ons verbygaan.
Mag ons sorg dra dat ons nie die genade van God tevergeefs ontvang het nie.
Ds Hans Britz, Standerton

14 Desember 2024 – ’n Skat in ’n kleipot
2 Korintiërs 4: 7-11
Jesus se menswording is met besondere welkomgroete ontvang. Daar was nie vir Hom plek nie. Tog, met sy menswording ontvang ons die geloof en versoening met God ons Vader en oortuig die Heilige Gees ons van hierdie waarheid. Ons is voorwaar ’n kleipot wat maklik breek met ’n enorme skat van geloof in ons. Hoe bly ’n kleipot heel in hierdie gebroke wêreld met sy uitdagings?
In alles word ons verdruk en bedruk. Niks werk meer nie, die lewe daarbuite is rof, sê lidmate. Onregverdig, stukkend en korrup. Ons sou ook al die treurmares van ons land kon noem. En tog is ons nie terneergedruk nie, want God is ons Skepper en Onderhouer wat steeds alles almagtig en wys bestuur. In ons leef die wete dat God selfs die slegste vir ons ten beste sal laat meewerk. Nie terneergedruk nie, want ons vertrou ons Vader in die hemel van ganser harte.
Ons het raad nodig! Kyk maar na die uitdagings, beproewinge en aanvegtings van my lewe. Tog is ons nie radeloos nie, want Jesus Christus is ten volle en genoegsaam al die raad wat ek nodig het in my lewe. Nie radeloos nie, want Jesus wat as mens sonde gedra het en as God self dit weggedra het, is my ewige raad.
Ons word vervolg en op die grond neergegooi! Ons elkeen sal kan getuig van gebeure en ervaringe in ons lewens waar dit gevoel het asof ons hard neergegooi is en platgeslaan was. Tog is ons nooit deur God verlaat of deur platslaanmomente vernietig nie. Die Heilige Gees woon in ons en troos ons daagliks met die liefde en genade van God ons Vader, staan ons daagliks by met die raad vir alles wat Christus vir ons kom bewerk het, en werk in ons sodat brose kleipotte staande kan bly.
Bo dit alles weet ons dat al dra ons die sterwe van Jesus in ons liggame, ons ook die lewe en ewige lewe van Jesus sal ontvang. Mag ons in God alleen veerkragtig leef.
Ds Hans Britz, Standerton

13 Desember 2024 – Sy lig laat die duisternis verdwyn
Johannes 1: 1-14
Daar is drie groot vrae waarmee ons almal in ons lewens worstel: Sonde? Dood? Hoe cope ek?
Hoe hanteer ’n mens jou eie en ander se sonde wat gedoen word? Sonde wat ek doen of wat ander doen, het skadelike en soms blywende gevolge op my persoon. Gedagtes van vergelding, bitterheid, vreugdeloosheid en vredeloosheid, en die verlies aan ’n veerkragtige lewe en gesonde verhoudings, is die gevolg. Hierdie gevolge sou onder die woord duisternis tuiskom.
Hoe hanteer ek die dood? Die dood van ’n geliefde bring soveel emosie, en trane van rou kom na vore. Na verlies sukkel ek om die lewe te leef. Hoe cope ek, hoe bly ek staande in alles wat persoonlik en in die stukkende wêreld om my gebeur?
God antwoord deur sy Seun te laat mens word. Jesus stap ons duisternis tegemoet, en Hy is die Een wat lig bring. Hy alleen is die antwoord op die vrae. Vir ons sonde sou Hy sterf. Hy lewer die eenmalige, genoegsame, volkome en enigste offer wat ons met God versoen en verwyder ons sonde so ver van ons af as wat die weste van die ooste af is. In Hom wat gekom het, onder ons kom woon het en aan die kruis gesterf het, vind ek vergifnis vir my sonde, die krag en genade om sonde te oorwin. Omdat Hy oorwin het, kan ek met herstellende vergifnis in my lewe leef. Hy oorwin die dood, sy leë graf is die ewige teken dat die dood oorwin is en ons die ewige lewe sal ontvang. Hy het die plek berei, en deur die dood heen kom ons tuis in ons ewige woning, wat nie met mensehande gemaak is nie. Deur Hom alleen cope ek, want uit sy mond staan die belofte vas: Jy sal tot alles in staat wees en meer as oorwinnaar wees deur My wat jou die krag gee.
In alle vrae bly Jesus ons Heer en Meester, ons Here en ons God, die enigste antwoord. Mag ons elke oomblik in elke faset van ons lewe sy lig, wat duisternis laat verdwyn, ervaar.
Ds Hans Britz, Standerton

12 Desember 2024 – Die Woord het vlees geword
Johannes 1: 1-14
Die Woord was by God en die Woord was self God, en Johannes getuig dat alles wat bestaan deur Hom en tot Hom tot stand gekom het. Ons bestaan en tyd en lewe het ook nie sonder Jesus tot stand gekom nie. Die geskiedenis van God se skepping, die geskiedenis van God se besigwees met hierdie wêreld, soos dit gestalte gevind het in die geskiedenis van die kerk en gemeentes, is ook die voorafpad wat ons begrond in hierdie oomblik. Deel van daardie geskiedenis sou wees dat Jesus Christus, die Woord van God, vlees sou word. Die lig wat die duisternis in elke sondeverslaafde mens sou wegneem, breek in die wêreld in, en tog sou sy mense Hom nie aanneem nie. So sien ons dat die geskiedenis van kerk en wêreld sou berus op keuses, en God wat te midde van die duisternis en gebroke wêreld steeds met mense bemoeienis maak.
Groot is God se liefde en genade dat aan almal wat Hom aangeneem het, Hy die reg gegee het om kinders van God te word. Uit die dooie letters van God se Woord, stap Jesus as lewende Verlosser en Saligmaker, as Persoon, ons tegemoet. Ons hoor van God se koninkryk, opdragte en lewensreëls, die blye evangelie wat aan ons as Christene lewensin, hoop, troos en ’n toekoms bring.
Ook ons is besig om ’n stuk wordende geskiedenis te leef. Ons leef in huwelik en gesin, as ouers en kinders, as mense in verhoudings met ander. Hoe ek in Jesus se voetspore loop, los ’n stuk geskiedenis in geliefdes en ander mense se lewens. Sal dit ’n geskiedenis wees wat lig bring, of los ek ’n stuk geskiedenis wat verwond en letsels maak, wat later ’n beletsel is om in die krag en vrede van my Verlosser te leef?
Ons is kinders van God, nie van my eie natuur nie, nie deur die drang of besluit van ’n mens nie: Ons is uit God gebore. As ons geskiedenis en lewe lig wil wees, ontmoet Hom wat gekom het daagliks en besef dat alles wat lig bring, deur Hom alleen gegee word. Ons moet dit in dankbaarheid ontvang en gehoorsaam.
Ds Hans Britz, Standerton

11 Desember 2024 – Hoe vind ons die Verlosser?
Matteus 2: 1-12
Ware en opregte liefde bekoor en trek nader en probeer ons vasbind aan die skenker van daardie liefde. God is liefde en God open ons oë om sy liefde raak te sien om ons ewig aan Hom te bind. Maar hoe kom die wyse manne by God uit? Hulle is ongelowig, vind uit die sterre hul wysheid en lewensvoorskrifte, en tog is hulle op pad na God toe.
Die sterrehemel het met hulle gepraat. Deur die taal van die natuur het God met sy soekende liefde hul lewens geraak, en hulle laat alles staan om die Koning van alle konings te gaan soek. Hulle wil aan Hom, wat die lig is wat alle duisternis laat verdwyn, gaan hulde bewys. Tog was die teleurstellings van hierdie wyse manne groot. Die sterrehemel-aanduiding was nie goed genoeg nie. Vanuit hul wysheid en natuurkennis het daar inligting ontbreek om die Koning van alle konings te vind. Hulle word wel gelei na die stad Jerusalem, die Godstad, die stad van die koningshuis en die profete. En tog is dit nie genoeg om Jesus te vind nie.
Dan word die heilige geskrifte, deur God geïnspireerde profeteboeke, gelees en ontdek hulle wysheid meer as wat sterre ooit kon bekendmaak. Hier, in die woorde van God wat die profete gebring het, hoor hulle die finale bestemming wat alle twyfel verwyder. Hulle sou hoor dat daar voorspel is dat Jesus gebore sou word in die stad Betlehem in Judea. Hulle, wat in hul wysheid sou roem, staan beskaamd en verneder omdat hulle God self hoor spreek het en ook nou ervaar dat daar waar God spreek, dit die einde is van alle soektogte.
In God se Woord vind ons die Verlosser, Hy wat mens geword het, ons sonde kom dra het en as God self ons sonde weggedra het. Hy vernuwe ons gedagtes, laat ons oë rus op die dinge wat by God is. Alleen uit Hom en deur Hom en tot Hom eindig al die soektogte wat ek in huis, verhoudings en die lewe in ’n gebroke wêreld kan ervaar. Ek vind die lewe in Christus alleen.
Ds Hans Britz, Standerton

10 Desember 2024 – Die goeie tyding
Lukas 2: 8-20
In ’n ontwrigte, stukkende wêreld en lewensomstandighede waarin daar maar min is wat ons opgewonde maak, bedink ons in Adventtyd op pad na Kersfees die ewige aankondiging van die engel aan skaapwagters: Ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Christus, die Verlosser, is gebore.
Vir die skuldbelaste sondaar, ek as mens, wat net soos Paulus die goeie wil doen, maar dan staan die kwade ons by, bring hierdie goeie tyding vergifnis. Daar waar ek aan sonde verslaaf is, hoe dit ook al in humeur of rusie of haat of hoe ook al in my lewe gestalte neem, bring hierdie tyding die belofte van bevryding, want in Hom wat gekom het, is ek meer as oorwinnaar en tot alles in staat om deur sy genade die sonde te oorwin. Ja, voorwaar, hierdie tyding bring vir die vermoeide mens rus, vir die soekende sekerheid, vir die bekommerde vertroosting. In ’n wêreld waar korrupsie, algehele verval, die gebrek aan etiek en integriteit, toekomsonsekerheid en ekonomiese oorlewing miljoene se harte oorval met onrus en twyfel, is die aankondiging van die engel van hierdie goeie tyding, ’n tyding wat ons tot groot blydskap moet wek.
Hierdie boodskap of goeie tyding is vir almal bedoel, van die eenvoudigste kindjie tot die grootste geleerde. Niemand is daarvan uitgesluit nie, en tog is dit ook ’n ernstige persoonlike tyding aan ons elkeen. Vir jou sou Jesus kom. Vir jou is Christus gebore. Saam met Paulus kan ons uitroep: Jesus Christus het in ons wêreld gekom om sondaars te red, waarvan ek die grootste is! Met Tomas sou ons dit kon uitroep in hierdie gebroke en stukkende tyd: My Here en my God! Christus bring lewe waar sonde en ’n stukkende wêreld dood bring. Hy gee sin en krag en hoop en ’n toekoms.
Mag ons soos die herders in beweging kom, vurige en ywerige dienaars en verkondigers van God se woord. Mag ons gesindhede in ons huise, verhoudings en lewens bepaal word deur die goeie tyding, nie deur omstandighede nie, en mag ons volhardend in geloof leef.
Ds Hans Britz, Standerton

9 Desember 2024 – Is daar plek vir Jesus?
Lukas 2: 1-7
Met Jesus se geboorte is die welkomsgroet aan ons Verlosser nie ’n warm en gerieflike kamer in ’n herberg nie – Hy moes in ’n stal sy menslike eerste lewenslig aanskou. Sy eerste welkomsgroet is nie van die geestelike leiers en almal wat gereed moes wees vir sy aankoms om Hom as Immanuel, God met ons, te ontvang en te loof en te prys nie. Nee, sy eerste welkomsgroet sou wees: Daar is nie vir jou plek in ’n gerieflike, warm herberg nie, en ons is nie eens van jou bewus nie. Later sou hierdie welkomsgroet uitgebrei word met: Daar is nie vir jou plek in ons land nie. Koning Herodes maak babaseuntjies dood om van Jesus ontslae te raak, en Josef en Maria moes vlug na Egipte. Duidelik geen plek in ons land nie.
Later, wanneer Jesus preek en wonders doen, God se koninkryk en al die kennis wat ons nodig het vir verlossing van sonde en die bose en die dood bekendmaak, is dit die geestelike leiers van die volk wat met Hom twis en redeneer en planne beraam om Hom dood te maak, want: Daar is geen plek vir jou in ons gemeenskap nie. En dan volg die welkomsgroet van: Daar is nie plek vir jou in ons wêreld nie. Tussen die wêreld en die hemele sou Hy hang, gekruisig op Golgota, terwyl spot en haat en hoon die botoon sou voer, en sy mense sou skreeu: Kruisig hom! Kruisig hom!
Waar ons oor ’n paar dae Kersfees vier, en nou ons Verlosser se koms na ons toe bedink en gedenk, is daar plek vir Jesus in my lewe, in my huwelik en gesin waar ons leef en soms verskil? Is daar plek vir Hom in die manier waarop ek konflik hanteer, hoe ek in my verhoudinge leef en werk? Is daar plek vir Hom in die voorbeeld wat ek oral stel? Die toets van geloof bly die vrugte van geloof wat in dankbaarheid vir ons Verlosser in ons lewe na vore kom. Wat is jou welkomsgroet aan Jesus elke dag en oomblik in jou lewe?
Ds Hans Britz, Standerton

8 Desember 2024 (Tweede Adventsondag) – Verstommende genade
Hosea 2: 1-2, 13-22
Terwyl Israel die Here aanbid, loop hulle ook agter ander gode aan om hul brood aan beide kante gebotter te probeer hou. Maar die Here is nie baie gelukkig hiermee nie. Hy wys vir hulle hoe dit Hom laat voel. God vergelyk sy besondere verhouding met Israel met dié van ’n man en vrou wat getroud is. In hierdie verhouding gaan Israel agter ’n klomp ander minnaars aan. Dit, terwyl Israel eintlik trou beloof het aan God. Die Here voel verraai en verpletter.
Dit is dan verstommend om te sien wat die Here doen. Ons sou dink God sou die finale doodsvonnis gee vir Israel. Maar Hy doen dit nie. Hy gee eerder nog ’n kans. Daar waar Israel op die grond is en niks meer het nie, besef en bely hulle dat dit die Here is wat voorsien, nie die ander gode nie. Dat hulle afhanklik is van God. Eers wanneer Israel by hierdie besef en belydenis kom, begin dinge herstel. Hul verhouding met God herstel. Hy gee vir hulle ’n splinternuwe kans, asof daar niks gebeur het nie! God is werklik ’n genadige God! En wanneer die verhouding tussen God en sy volk herstel, begin die herstel uitkring sodat selfs die natuur herstel. God voorsien weer in hul behoeftes, want nou leef hulle afhanklik van die Here.
Hierdie teksgedeelte herinner ons dat ons selfondersoek moet doen. Is ons in ’n diep en opregte verhouding met die Here? Is dit wat ons doen in lyn met iemand wat die Here eerste prioriteit in hul lewe maak?
Israel het na groot vernedering, afgrensing en hongersnood besef en bely dat hulle afhanklik is van God. Wanneer ons bely dat ons in ’n intieme en werklike verhouding met die Here is en dit bevestig met ons lewens, dan kom daar herstel. Die herstel en vernuwing soos wat Christus vir ons gebring het. Dit is vergifnis en genade wat ons verstand te bowe gaan. Met hierdie besef en belydenis kan ons weer opnuut ’n hegte verhouding met die Here hê.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

7 Desember 2024 – Tekens…
Jesaja 7: 7-18
Die volk Israel was in twee geskeur, elk met hul eie koning. Maar gewoonlik bind ’n gemeenskaplike vyand mense weer saam. Dit is wat die Noorde gedink het. Hulle vra vir die Suide of hulle kragte kan saamspan teen die groot vyand van die dag – die Assiriërs.
Maar koning Agas is te bang en trek kop uit. Die Noorde was kwaad en wil wraak neem op die Suide. Daarom vra koning Agas – koning van die Suide – vir die koning van Assirië vir hulp teen die dreigemente van sy broersvolk in die Noorde en Damaskus. Agas het vir daardie koning gesê dat hy sy dienaar is. So het Agas sy ryk ondergeskik gestel aan die wrede Assiriërs. Agas het daardeur vir God verraai omdat hy aangestel was oor die volk van God om as dienaar van God op te tree. Maar hy het gekies om ’n heidense koning te dien. En nie lank daarna nie, het Assirië die Suidryk aangeval en die Israeliete verjaag. God se woorde het waar geword.
Ons leef in ’n land waar daar politieke en ekonomiese onstabiliteit, korrupsie, misdaad en armoede is. Waar al hoe minder mense kerk toe gaan. Waar al hoe meer mense op hul eie planne aangewese is. Waar al hoe minder mense op God vertrou. God het vir ons ook ’n teken gegee. Hy het sy Seun, Jesus Christus, gestuur. Ja, ’n jong vrou het swanger geword. Haar Seun is Immanuel genoem. Hy het ons sonde en die skuld van ons ontrouheid op Hom geneem. Deur sy sterwe en opstanding dra Hy ons sonde weg en word Hy waarlik Immanuel – letterlik God met ons! En dit wys vir ons dat God altyd getrou bly.
Die geboorte van Christus is die teken wat ons herdenk. Die teken dat God met ons is. Dit kan ’n teken van oordeel wees, of dit kan ’n teken van hoop wees. Gaan ons soos koning Agas hierdie teken ignoreer? Of gaan ons glo in Christus, Hy wat werklik Immanuel is?
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

6 Desember 2024 – Wie moet ons verwag?
Lukas 7: 18-23
Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? Watter tipe vraag is dit wat Johannes die Doper hier vra? Hoe kan Johannes, wat gestuur is om die Verlosser se koms aan te kondig, twyfel of Jesus die regte Messias is? Dit maak nie sin nie. Hoe kan só ’n diepgelowige twyfel in die Here wat hy verkondig? Maar Johannes is nie die eerste of selfs die enigste persoon wat getwyfel het in Jesus nie. Christene en kerkmense regdeur die eeue het ook by tye getwyfel in Jesus – ons twyfel self ook soms oor geloofsake. En die groot rede hiervoor is omdat gelowiges soos Johannes en ons verkeerde of misplaaste verwagtings aangaande Jesus het.
Ons word in Kerstyd weer met ons twyfelvrae gekonfronteer. Kersfees is mos die tyd van gesinsvreugde, liefde, oorvloed en vrede. Maar soms word al hierdie mooi waardes deur ons omstandighede en ons omgewing bevraagteken. Soos wanneer daar onrus of twis is onder familielede of ongelukkigheid oor die werk wat jou nie wil tyd afgee op Kersdag nie, of dalk is jy die slagoffer van misdaad wat met Kerstyd verband hou. Mense is steeds ongeduldig en ongeskik op paaie en in die winkels en by die huis. So kan die lys aangaan. Al hierdie dinge laat ons vra of die Kersevangelie die verskil gebring het waarop ons gehoop het? Of het ons ons dalk misgis?
Johannes het verwag dat die Messias kom om die goddelose te vernietig, maar toe kom die Messias om te dien en te genees. Die koninkryk van God kom anders as wat ons as mense sou wou hê, want dit kom nie deur magsvertoon en geweld nie, maar langs die pad van God se liefde en diens. Jesus bring ’n uitnodiging vol liefde en deernis. ’n Uitnodiging tot saligheid, tot geluk, nie wraak of oordeel nie. Ons kan ons vertorue op Christus stel. Al verstaan ons nie alles nie, al kry ons swaar, al sterf Johannes in die gevangenis, kan ons weet en daarby berus dat Jesus ons vryspreek. Dat Jesus Immanuel is – God met ons.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

5 Desember 2024 – Gemoedelikheid of vrede?
Lukas 2: 25-35
Wat is ons idee van vrede? Is dit wanneer ons eintlik kwaad is vir ons lewensmaat, maar ter wille van die kinders die vrede bewaar… vir eers? Of is dit ’n skietstilstand in ’n oorlog op ’n vakansiedag, net om die volgende dag weer oorlog te maak? Of is dit wanneer ons rustig in die kerk kan sit en vir ’n uur vergeet van ons probleme by die huis, die rekeninge wat ophoop, die spanning by die werk en die kinders se prestasie by die skool? As dit ons idee van vrede is, het ons maar ’n wêreldse idee van vrede. Vrede wat ontvlug. Dit lyk of Simeon in ons Skrifgedeelte ook hierdie vrede in gedagte gehad het, maar dit is nie wat die Heilige Gees in gedagte gehad het nie.
Omdat Simeon ’n getroue Jood was wat ’n profesie ontvang het dat hy nie sal sterf voordat hy die Gesalfde van God gesien het nie, het hy gedink die oomblik as hy vir Jesus sien, gaan hy sterf. Hy het daarvoor gehoop – dan kan hy wegkom van hierdie wêreld se probleme. Maar hy moet nog eers profeteer en verkondig oor hierdie Kindjie in sy arms. Hy moet dinge verkondig wat vir mense ongemaklik is om te hoor.
Jesus het vrede en die herstel van verhoudings verkondig, maar mense het met Hom en sy boodskap fout gevind en onrus gestook. Jesus se vrede vra van ons om soms moeilike dinge te doen – om verskoning te vra, om ons eie ego en idees opsy te sit vir God se wil, om ons vyande lief te hê, om te vergewe. Dinge wat verskriklik moeilik is, maar wat werklike vrede bring.
Daarom is Adventtyd nie ’n oproep tot oppervlakkige gemoedelikheid nie. Om maar net die vrede te bewaar deur te probeer wegkom van die onrus in ons en om ons nie. Kerstyd is juis ’n oproep om die betekenis van ware vrede te ontdek – daardie vrede wat aangebreek het met die geboorte van ’n Kind.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

4 Desember 2024 – Soek die Here terwyl Hy te vinde is
Jesaja 55: 6-13
Hierdie oproep tot bekering aan Israel is baie belangrik. Dit is ’n geleentheid om weer terug te keer na God toe. So beleef ’n mens sy onbegryplike genade. God se genade is juis so vreemd en anders, omdat mense mekaar nie sommer vergewe as die een die ander verontreg het nie. Veral ook nie as ’n mens ’n paar keer dieselfde fout herhaal nie. So ’n persoon skryf jou gewoonlik af. Maar nie God nie. Hy vergewe!
Tog beteken dit nie dat ons God se genade moet misbruik nie. Sy genade strek baie verder as mense s’n, maar daar kom ook ’n tyd wanneer dit ophou. ’n Mens kan mos nie vir altyd besluiteloos bly nie. Die Here het Israel vir jare lank gewaarsku, tog het hulle aanhou sonde doen, totdat die waarskuwingstyd verstryk het en die Here sy aangesig weggedraai het van hulle. Dit was gewoonlik dan wanneer Israel nog meer agteruitgegaan het weens hul eie lot en in onmoontlike situasies (soos ballingskappe) beland het. Maar dan keer die Here weer terug en roep hulle op om te bekeer. Dit is hoekom Jesaja hier sê dat hulle die Here moet soek terwyl Hy te vinde is. Dit is ’n wonderlike, versoenende kans om aan te gryp! Wanneer ’n mens daardie kans aangryp, besef jy werklik die ontsaglike groot genade van die Here wat jou vervul met vreugde en vrede.
Ons kan ook hierdie boodskap gerus ter harte neem. Met Christus se geboorte is dit weer eens ’n herinnering aan die groot genade van die Here, wat vir ons ’n ongelooflike geleentheid gebring het om die mens se verhouding met God te herstel. Om God se aangesig altyd naby ons te kan hê. God roep ons om terug te draai na Hom toe. Wanneer ons terugdraai na die Here, en in Hom glo, dan bring dit ook ’n verandering by ons. God is anders as die wêreld, en so verander ons verhouding met die Here ons om ook anders as die wêreld te wees.
Kom ons soek die Here terwyl Hy te vinde is.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

3 Desember 2024 – Wees gereed
Matteus 24: 36-44
Jesus sê dat ons gereed moet wees vir sy wederkoms, want daardie dag sal heeltemal onverwags kom. In daardie tyd was daar ook skelms wat ingebreek en gesteel het. Deur hierdie beeld te gebruik, lê Jesus klem op die onvoorspelbaarheid van die wederkoms. Jy sal nie weet wanneer dit gebeur nie, totdat dit gebeur, soos ’n dief wat by jou inbreek. Daarom moet ons altyd gereed wees.
Daar was nog altyd deur die geskiedenis heen mense wat die einde van die wêreld voorspel het. Net in my leeftyd sou die wêreld al ten minste vyf keer moes vergaan het as ons na doemprofete moes luister. Bybelboeke soos Daniël en Openbaring word dikwels deur mense gebruik om hul antwoorde te bevestig. Deur die geskiedenis heen het groot en ontwrigtende gebeurtenisse mense laat dink dat die einde van die wêreld naby is. Met die Wêreldoorloë het dit sekerlik gelyk na die einde. Met die pandemie ’n paar jaar gelede het ons ook amper al begin wonder of dit nie die einde is nie. Maar keer op keer is die mense verkeerd, want dit gaan nie oor die spesifieke tyd waarop jy ingestel moet wees nie, maar eerder op jou geloof wat altyd gereed moet wees.
Tog is daar tekens dat die wederkoms naby is, want die eindtyd het begin na Jesus se hemelvaart. Maar wanneer Jesus oor die eindtyd praat, lê Hy nie klem op die tyd en besonderhede van die einde nie, maar eerder op ons geloof. Glo ons nog werklik? Ons moet seker maak dat ons gereed lewe, want enige dag kan ons laaste wees op aarde. Moenie uitstel om in God te glo en met Hom in ’n verhouding te leef nie. Maak stukkende verhoudings nou reg, nie later nie. Jesus moedig ons immers aan om gereed te lewe.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

2 Desember 2024 – Advent en wederkoms
Matteus 24: 36-44
Die kerkjaar help gelowiges om op ’n ritmiese manier die groot Bybelse gebeurtenisse in herinnering te roep. Desember is die begin van die kerkjaar wat ons Advent noem. Die woord Advent dui daarop dat ons wag op die koms van die Messias, Jesus Christus. Ons leef ons in die situasie van Jesus se geboorte in. Dink jou in die gelowiges se skoene in voordat Jesus gebore is. Hulle het in die afwagting geleef dat die Messias se koms naby moet wees. Net so leef ons in Adventtyd simbolies in daardie selfde afwagting om die koms van ons Verlosser te vier. Maar meer as dit, leef ons steeds vandag, nadat ons weet dat Jesus Christus gebore is, gesterf het, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, in afwagting op die Here se tweede koms of wederkoms.
Die wederkoms is een van daardie aspekte van ons geloof wat gedeeltelik aan ons geopenbaar is, maar gedeeltelik steeds ’n misterie vir ons bly. Aan die een kant hou die wederkoms van Christus verband met die koninkryk van God wat dán finaal in sy volheid gaan aanbreek. Ons glo en bely dat die koninkryk van God met Christus se eerste koms reeds gedeeltelik aangebreek het. Ons leef byvoorbeeld nou reeds in ’n persoonlike verhouding met God as sy kinders. Ons kan nou al die evangelie aan ander verkondig. Maar wanneer die koninkryk finaal hier is, dan is die tyd op. Dit is nie ’n slegte ding nie, maar iets om na uit te sien. Christus is ons waarborg dat die oordeelsdag vir gelowiges nie ’n dag is om te vrees nie, maar om ons oor te verheug. Sy sterwe, opstanding en hemelvaart verseker dat Hy ons teen die groot oordeel beskerm. Dit is ook dan wanneer alles volledig nuutgemaak word en in ’n volmaakte verhouding met God te staan kom. Dáárna hunker ons!
Soos ons dan hierdie feestyd ingaan, met die afwagting op die herdenking van Christus se geboortedag, glo ons weer opnuut in die wonder van God en sy groot liefde en ontferming.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

1 Desember 2024 (Eerste Advent Sondag) – Om te leef met ’n verwagting
Markus 13: 24-37
Dis vandag die eerste Sondag van Advent, die eerste Sondag van die nuwe kerklike jaar. Daar is vier Adventsondae voor Kersfees en tradisioneel het elkeen ’n tema. Die tema van die eerste Adventsondag is verwagting.
Maar verwagting na wat? Hoeveel slapies nog voor Kersfees? Dis iemand met ’n verwagting wat so vra! Die Kersbome en liggies in winkels sal ons vanjaar weer gereeld en met groot opskrifte herinner: Nog soveel inkopiedae voor Kersfees!
Advent is ’n tyd van verwagting, maar om watter verwagting gaan dit hier? Die verwagting van ’n vakansie by die see, of dalk die verwagting van Jesus se geboorte? Maar dit het tog reeds gebeur? ’n Vrou “verwag” tog nie meer as haar baba klaar gebore is nie?
Advent gaan oor Christus, ja, maar dit gaan om meer as sy geboorte. Dit is ’n verwagting wat te doen het met sy eerste en sy tweede koms. Wanneer ons sy eerste koms vier met sy tweede koms in gedagte, het ons Kersfeesvieringe net soveel meer betekenis! Sy eerste koms was in vernedering (Fil 2: 7). Sy wederkoms sal in heerlikheid wees. Hierdie keer kom Hy om te oordeel – die lewendes en dié wat reeds gesterf het. Was dit nie vir sy eerste koms nie, sou ’n mens glad nie na hierdie dag uitgesien het nie. Al verwagting was dan die verwagting van straf en veroordeling! Nou is dit egter anders vir almal van ons wat glo dat die Here Jesus gekom en vir ons sondes gesterf het, weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel, vanwaar Hy weer sal kom. Die Regter vir wie ons wag, is die Een wat sy lewe vir ons sondes afgelê het!
1 Petrus 1: 3-5 stel hierdie verwagting treffend: In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Ds Willem Sauer, Waterberg

30 November 2024 – Waar is die Koning wat gebore is?
Psalm 72
In ’n wêreld wat nie meer die Koning van Kersfees ken nie, in ’n wêreld waar die vrede wat Hy gebring het, nie elke dag gesien kan word nie, vra ook baie mense: Waar is Hy wat as Koning gebore is? En dan word ons herinner aan Psalm 72.
Ons werklikheid is dié van ’n wêreld vol onreg. Ons leef in ’n wêreld waar daar nie eintlik tyd is vir die randfigure, die minderhede, die mense in nood nie. En dan vra ons, waar is die Koning van Matteus se Evangelie, die koning van Psalm 72 dan? Is hierdie Messiaskoning maar net ’n vroom ideaal?
Psalm 72 sê vir ons wie hierdie koning is, die Koning wat heers met die grasie van God. Hy is die Een wat God se reg laat geskied, wat daar is vir hulle wat sonder hoop en sonder hulp is. Die interessante is dat hierdie koning van Psalm 72 dieselfde adres het as die Koning van die Matteus-evangelie: by die armes, die hulpeloses, by die heidene en sondaars.
Om Hom raak te sien in hierdie wêreld, moet jy Hom soek met die oog van ’n kind, ’n arme, ’n sieke, ’n verstoteling… Lees ons nie juis die treffende woorde in Matteus 5: 3 nie: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is… Want sien, sulke mense weet waar Jesus is en bewys aan Hom hulde.
Hoe bewys jy aan Jesus hulde? Deur plegtig in die kerk te sit en in Kerstyd deur die Kersfeesrituele te gaan? Of deur in totale afhanklikheid van Hom te leef? Dit gebeur eers as ons, soos Paulus in 2 Korintiërs 12: 9, van die Here hoor: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. En wanneer hy dit hoor, bely hy: Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Waar vind jy die Koning hierdie Kerstyd? Daar waar jy die afhanklikste van Hom is.
Ds Willem Sauer, Waterberg

29 November 2024 – Waar is die Koning wat gebore is?
Matteus 2: 2 en 6
Waar is die koning van die Jode? Dit is die deurlopende vraag in die Matteus-evangelie. Dit begin by die vraag van die wyse manne in Matteus 2: 2: Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? En dan kom die antwoord: In Betlehem, een van die onbelangrikste dorpies. Johannes die Doper, wat sy koms moet aankondig, vra self later in Matteus 11: 3: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? En dan kom Jesus se antwoord dat as hulle Hom soek, moet hulle Hom by die blindes, die lammes, die melaatses, die weduwees, die randfigure, die verstote deel van die samelewing soek. Later, in Matteus 27: 11, vra Pilatus: Is jy die koning van die Jode? waarop God en die mense swyg. Dan lees ons dat daar tog ’n opskrif bokant sy doringkroon is waarop staan: Dit is Jesus, die koning van die Jode (Matt 27: 37).
Waar is Jesus wat gebore is met Kersfees, die Jesus aan wie ons ook hier in die Adventtyd dink? Matteus sê vir ons Hy is by die verstotenes, die regloses – half weggesteek tussen hulle op wie in alle samelewings neergesien word, wat nie regtig dieselfde regte het as ander nie. Wanneer ons lees dat Herodes en die skrifkenners nie weet wie Hy is en waar Hy vandaan kom nie, weet die randfigure baie goed wie Hy is.
Ons soek Hom in Kerstyd baie maal op die verkeerde plek. Ons soek Hom in die kerk met die oorbekende Kersliedere, onder die Kersboom of by die etenstafel. En so vra ons ook maar die vraag: Waar is Jesus dan? En dan kom die antwoord: by die siekes, die banges, die hongeres, die twyfelaars, die gebrokenes, die mense op wie ons ook maar alte dikwels neersien.
Want sien, hierdie Koning het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Hierdie Koning, Jesus Christus, ons Heer en Verlosser, het juis gekom om ons die versekering te gee dat Hy, in die woorde van Matteus 28: 20, by ons is tot aan die voleinding van die wêreld.
Ds Willem Sauer, Waterberg

28 November 2024 – Vir ons is ’n Seun gebore
Jesaja 8: 23 – 9: 6
Ons het in hierdie teksgedeelte te doen met ’n profesie oor ’n groot heilskoning van die toekoms. Soort van ’n vervulling van Natan se belofte aan Dawid dat daar weer ’n seun van Dawid op die troon sal sit. Wat Jesaja egter nie doen nie, is om te sê waar en wanneer hierdie koning in die toekoms gaan kom.
Jesaja gee die versekering aan die verdrukte volk dat die duisternis waarin hulle hulle onder die Assiriërs bevind, nie die laaste woord van God aan sy volk is nie. Aan die einde van hierdie donker tonnel sal God weer die lig laat skyn, sal Hy weer nuut met die volk begin. Hoe gaan Hy dit doen? Daar gaan ’n Seun gebore word, ’n Heilskoning wat ’n nuwe era in die geskiedenis van God en sy volk gaan inlei. Jesaja maak hier gebruik van ’n tipiese Assiriese troonbestyging waar daar vier titels aan die nuut gekroonde koning gekoppel word. Ons lees in Jesaja 9: 5 dat Hy genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader en Vredevors.
Wonderbare Raadsman dui op Goddelike teenwoordigheid en werksaamheid. Magtige God kan ook vertaal word met Godheld, iemand wat nie net planne maak nie, maar dit deurvoer. Ewige Vader vir sy volk. Sover as wat jy kan terugkyk of vorentoe kyk, strek sy Vaderlike koningskap. Vredevors, in sy koninkryk is vrede nie maar net ’n groet nie, maar ’n konkrete werklikheid.
Jesaja sing hierdie Messiaanse loflied al het die duisternis nog nie eens werklik oor die volk gekom nie. Maar hy sing met geloofsmoed hierdie toekomslied omdat hy weet God sal die laaste woord hê. God sal sorg vir lig en heil, vir ’n koninkryk van vrede, reg en geregtigheid.
Hoewel hierdie teks nie noodwendig verwys na die koms van Jesus Christus nie, kan ons verstaan dat ons wat na die kruis leef, vir Jesus in hierdie woorde sien. Want Hy het gekom om as Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader en Vredevors vir ons die lig in die duisternis van die sonde te laat skyn. Hy het gekom om God se nuwe volk, ons, van die slawerny van die sonde te verlos.
Ds Willem Sauer, Waterberg

27 November 2024 – Die dag van God se genade het met Jesus Christus gekom
Jesaja 7: 1-17
Hierdie baie bekende gedeelte is deel van die sogenaamde “boek van Immanuel” (Jes 6-12). Dit begin met Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6) en eindig met ’n ontroerende dank- en loflied van die verlostes in Jesaja 12. Tussen hierdie twee pole lees ons van die Here se worsteling oor wat Hy met sy ontroue verbondsvolk moet doen. Aan die een kant lees ons van die profetiese verkondiging wat uitloop op verharding. Aan die ander kant die vreugde van die uiteindelike eskatologiese heil. En hierdie eskatologiese heil is die eindpunt en wonder van God se soewereine genade wat ten spyte van die mens se teenstand triomfeer. Hier in Jesaja 7 begin die oordeel maar ook die heil geleidelik deurskemer. God gaan sy volk straf en daar gaan maar ’n klein groepie oorbly. Hierdie feit word natuurlik in vers 3 bevestig in die naam van Jesaja se seun, Sear-Jasub, wat beteken ’n oorblyfsel keer terug.
En tog is daar hoop. Hoop en heil word hier geskets teen die agtergrond van ten spyte van. Ten spyte van die insigloosheid van die sonde en die aankondiging van oordeel oor die volk, sal êrens in die toekoms ’n nuwe dag, ’n dag van hoop en heil, aanbreek. Vir ons as Christene het daardie dag met die geboorte van Jesus Christus aangebreek. Vir ons word dit mooi verwoord in die woorde van die engel aan Josef in Matteus 1: 21 en 23: “Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” En: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Ons dag van hoop, van heil, het ten spyte van ons sondige aard aangebreek toe Jesus vir ons mens geword en uiteindelik aan die kruis gesterf het. Mag hierdie wete ons ook in hierdie Adventtyd help om met vreugde en blydskap te leef, want ons was, soos die lied dit so mooi stel, verlore, maar gevind. Ons het ten spyte van wie en wat ons is, ’n tweede kans gekry.
Ds Willem Sauer, Waterberg

26 November 2024 – Die harde werklikheid van God se genade
Jesaja 55: 1-13
Daar is al beweer dat Jesaja 55 vir ons ’n harde les oor God se genade wil gee. Daar word dan beweer dat vers 1 se uitnodiging aan selfs dié wat geen geld het nie om te kom koop en eet, sou beteken dat hierdie uitnodiging na alle Jode in die ballingskap sou gaan. ’n Mens kan jou indink dat so ’n uitnodiging die getroue Jode wat die wet elke dag getrou nagekom het, sou ontstel. Hoe kan dit wees dat ook die ontroues en twyfelaars gered kan word? Die agtergrond vir hierdie verduideliking word dan in verse 8 en 9 gesoek waar ons lees dat God se gedagtes en sy optrede nie dieselfde is as dié van die volk nie. Dit sou dan beteken dat God se genade en vergewing veel groter is as wat ons ooit kan dink. Want sien, God se genade is nie net bedoel vir die getroues nie. Ook die ontroues en twyfelaars kan gered word.
Soos met die getroue gelowiges in die tyd van Jesaja, wil ons ook nie hoor dat daar ook vir die ontroues en twyfelaars ’n gelyke kans op verlossing is nie. Hoe kan sondaars en misdadigers ook gered word?
Vir ons hier in die Adventtyd wil Jesaja 55 egter ’n boodskap van hoop bring. In die eerste plek kry ek en jy, wat weet dat ons nie volmaak is nie en God soveel keer teleurstel, die versekering van ’n kans op verlossing. En tweedens verseker dit ons dat God se genade baie groter is as wat ons ooit wil of kan verstaan.
Is dit nie juis wat Jesus kom doen het aan die kruis nie? Vir wie het Hy na hierdie wêreld gekom en aan die kruis gesterf? Vir die getroues? Ja, sekerlik. Maar juis ook vir hulle wat verlossing nodig het. En watter groot stuk troos lê hierin vir my en jou! Kersfees herinner ons juis weer dat Jesus gekom het om ons sondes van ons weg te neem en ons met God te versoen. Dit is die harde werklikheid van God se genade! Gelukkig is sy gedagtes nie soos ons gedagtes nie.
Ds Willem Sauer, Waterberg

25 November 2024 – Wees bly!
Filippense 4: 4-7
Na Paulus die gemeente in verse 1-3 vermaan het, roep hy hulle nou op tot vreugde en vrede. Maar hoekom moet daar by hulle vreugde en vrede wees? Die antwoord lees ons in vers 5b: Die Here is naby. Hierdie feit, dat die Here naby is, is dan ook die middelpunt van hierdie teks. Sonder die feit dat die Here naby is, hang die vreugde en vrede in die lug. Maar wat bedoel hy met die Here is naby? Dit verwys na die Here wat gekom het en weer gaan kom. Sy koms en wederkoms het ’n beslissende invloed op ons totale menswees. Dit beïnvloed as’t ware die gesindheid van ons hart en die glimlag op jou gesig.
Hierdie vreugde, hierdie glimlag, is egter ’n opdrag wat gegrond is in die nabyheid van die Here. Hier in die Adventtyd is ons weer opnuut bewus van die nabyheid van die Here. Van sy koms as mens om aan die kruis ons vry te koop en te verlos. So, wat vra die teks van ons wat hierdie vreugde, hierdie vrede, beleef? Ons lees dat ons inskiklik teenoor alle mense moet wees. Dat ons oor niks besorg moet wees nie, dat ons in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend moet maak.
Maar is dit nie alles maar net ’n mooi droom nie? Ons het ook gelees dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus. Let daarop dat die werkwoord wat met “wag hou” vertaal word, nie op ’n wens dui nie, maar op ’n vaste waarheid. Hierdie vreugde, hierdie vrede, hierdie nuwe manier van lewe, is moontlik omdat Jesus Christus dit vas en seker moontlik maak.
Jy kan hierdie vreugde ervaar, hierdie manier lewe, want die Here maak dit moontlik. Mag hierdie wete jou help om anders te dink, anders te lewe, in hierdie Adventtyd anders teenoor mense op te tree. Ja, wees bly, want die Here is naby.
Ds Willem Sauer, Waterberg

24 November 2024 (Ewigheidsondag) – Getuig oor jou geliefdes se verhouding met God
Genesis 12: 1-20
Ewigheidsondag is die geleentheid in die jaar om stil te staan by die geliefdes wat ons verloor het, die geliefdes wat reeds die tydelike met die ewige verwissel het. In die Bybel lees ons van geloofshelde, die gelowiges wat voor ons hier was en wat met God in ’n verhouding gestaan het. In Genesis 12: 1-20 lees ons oor Abram se verhouding met God en sy getuienis oor sy verhouding met God. God se bemoeienis met Abram begin waar God vir Abram roep en drie beloftes aan Abram maak. Al wat Abram moet doen, is om op God te vertrou. Dit klink heel eenvoudig en maklik om na te kom, maar die beloftes lyk vir Abram hoogs onwaarskynlik om plaas te vind.
Hoewel Abram gestruikel het en soms verkeerde keuses gemaak het, en sy eie planne by tye in die pad van God se beloftes gestaan het, lees ons in die teksgedeelte tog van die karaktereienskappe van Abram se geloof. Abram was gehoorsaam aan God. Hy was baie familievas, geduldig, het konflik probeer vermy; hy staan terug vir ander en sien die groter prentjie raak. Ons weet dat elke daad en optrede gevolge inhou, en so het dit ook in die verhaal van Abram uitgespeel. Abram se keuses laat ons besef dat dit nie net in die oomblik gevolge gehad het nie, maar ook lank na sy dood leef sy geloofskeuses steeds voort. Abram het in verhouding met God geleef, en God se beloftes het waar geword. So word Abram ’n geloofsheld.
Ons kan ons verwonder en aanhou gesels oor die getuienis van Abram se verhouding met God. Daarom nooi ek jou uit om ’n kers aan te steek en te gesels oor jou geliefde – maar die belangrikste, die verhouding wat die persoon met Jesus Christus gehad het. Ons geliefdes het ons hier agtergelaat, maar ons het die voorreg gehad om hul verhouding met Jesus Christus te ervaar. Net soos met Abram, is ons geliefdes se lewe saam met God ook ’n getuienis vir ons.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

23 November 2024 – Laat u koninkryk kom
Matteus 6: 5-15
Die Onse Vader-gebed lê elke gelowige na aan die hart. Hierdie gebed eggo deur kerkgeboue en Christelike huise. Dit is die grootste en die bekendste gebed. Die Onse Vader-gebed vra vir die openbaring en die bekendmaking van hoop vir alle mense.
Die hoop waaraan die meeste Christene vashou, is die koninkryk van God. Laat u koninkryk kom is die smeking na God se geregtigheid en God se regverdigheid, want God is reg en God tree regverdig op teenoor God se kinders. Die wêreld moet verander en transformeer om ’n plek van geregtigheid te word. Nie die geregtigheid van die mens nie, maar die geregtigheid en die regverdigheid van God. Dit sluit nie net die plek of ruimte waar God regeer in nie, maar ook die manier, die styl waarop God regeer. God se kinders ervaar die geregtigheid en die regverdigheid van God, en daarom leef God se kinders die geregtigheid en die regverdigheid van God ook uit in die wêreld. Die koninkryk van God is nie gewelddadig nie, en reageer nie met geweld teenoor die wêreld nie. In die koninkryk van God het God se kinders genoeg en ervaar hulle dat God heers en in beheer is.
Jesus leer vir sy dissipels en vir ons om só te bid tot God en te vra dat die koninkryk van God sal kom. Dat hierdie wêreld sal verander en transformeer weg van die koninkryk van die wêreld, na die koninkryk van God. Dit sluit nie net God se ingrype in nie, maar ook dat ons probeer om saam met God deel te neem en saam met God te werk. Ons aksies help ons om saam te werk en om die koninkryk van God uit te leef. Die bede is ons smeking dat God se koninkryk aan ons geopenbaar sal word en dat ons dit sal uitleef, sodat die hele wêreld sal transformeer en die koninkryk van God sal uitleef.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

22 November 2024 – Die boom van die lewe
Genesis 3: 22; Openbaring 22
Het julle al opgemerk hoe baie die boom van die lewe rondom ons voorkom in ons wêreld? Die boom van die lewe is oral in ons lewens te sien. Ons sien die boom van die lewe wat as kuns teen mure hang, of as hangertjie of oorbelle gedra word, sleutelhouers en nog baie meer. Was hierdie boom van die lewe al ooit vir jou meer as net ’n mooi kunswerk?
Hierdie boom van die lewe is die boom wat lewe vir altyd gee, maar daar is die waarskuwing om nie van hierdie boom te eet nie. Die boom van die lewe verteenwoordig onsterflikheid en word verbind met die eskatologiese belofte, die eindtyd. In die tuin van Eden het die boom van die lewe ’n besondere funksie as simbool van God se lewegewende teenwoordigheid. Vanuit die ou volkere het die mens ’n hunkering gehad na lewe vir ewig omdat hulle gevrees het vir doodgaan. In die Ou Testament is die boom van die lewe die beeld, die simbool, vir dit waaruit lewe vloei.
In Openbaring kom die boom van die lewe ook voor. Die boom van die lewe dien hier as simbool van genesing of heling en onsterflikheid vir die gelowige. Dit is simbool vir die lewe wat die gelowige vir ewig gaan leef deur die kruisiging van Jesus Christus wat juis hierdie lewe vir ewig oopsluit.
Die boom van die lewe herinner ons aan ’n lewe van volheid en ’n lewe vir ewig wat ’n werklikheid is in Jesus Christus. Ons is dankbaar dat ons nie meer hoef te vrees vir die dood nie. Mag die simbool van die boom van die lewe, wat oral rondom ons is, ons herinner dat God lewegewend teenwoordig is in ons lewe en dat ons die ewige lewe ontvang het.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

21 November 2024 – Ons kan leef omdat die Here in beheer is
Esegiël 37: 1-14
Esegiël sien ’n visioen waar bene dood is en verspreid lê. Daar is nie ’n moontlikheid van lewe vir hierdie bene nie, maar dan begin hierdie bene wat dood was, om weer te lewe. In hierdie visioen sien Esegiël dood oral om hom lê, maar dan, na die dood, is daar lewe. Die dood word lewe. Dit is nogal vreemd, want die mens is gewoond aan lewe eerste en dan daarna dood. In hierdie visioen kom dit omgekeerd voor – dood en dan lewe. In die Ou Testament het dit nie algemeen voorgekom om te praat oor lewe na die dood nie. Daarom is hierdie visioen van Esegiël vreemd vir sy tyd.
Maar die visioen wil die boodskap bring dat die Here lewe kan bring waar daar dood is. Die Woord van die Here, die Gees van die Here, het oor die bene gekom en die bene wat dood is, het begin lewe. Die visioen lê ook klem op die vier windrigtings waar God in beheer is. Dit dui op God wat almagtig is, God wat oral is, God wat beheer het oor die lewe en die dood.
Die bevestiging en die belofte wat ons in hierdie visioen hoor, is dat die Here in beheer is. Dit is waaraan ons vashou en dit gee vir ons hoop vir die toekoms en vir die onbekende. Ons hoef nie bekommerd te wees oor die dood of die vreemde wat voorlê nie. Die feit dat die Here in beheer is, gee vir ons hoop vir die lewe wat voorlê, dit gee vir ons hoop vir die lewe na die dood, hoop vir die lewe wat vir ewig duur. Hierdie visioen van Esegiël gee vir ons hoop om aan vas te hou, want die Here is in beheer, en ons sal leef.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

20 November 2024 – Jesus Christus gee ware lewe
1 Johannes 1: 1-4
Almal is op soek na lewe, en soms dink ons dat die lewe of die ware lewe aanbreek wanneer ons iets bereik, of selfs wanneer ons iets bymekaar gemaak het, of in besit is van iets.
Wanneer Jesus Christus mens word en die Woord van God kom uitleef op aarde, word die woorde oor die ware lewe uitgeleef. 1 Johannes is die brief van Johannes wat ooggetuie was van Jesus Christus se lewe. Johannes getuig in hierdie brief dat Jesus vir ander lewe gebring het, dat Jesus die ware lewe uitgeleef het. Hierdie woorde is nie meer net woorde nie, maar ’n lewe met aksies en optrede. Hierdie ware lewe het hulle self ervaar, die lewe is aan hulle, die getuies, geopenbaar en hulle kon dit sien, sodat hulle aangeraak word om die ware lewe uit te leef.
Hierdie ware lewe het Jesus ook aan ons geopenbaar en aan ons gebring met die herstelde verhouding wat tussen God en mens ’n werklikheid word. Die ware lewe is om vir ewig te lewe soos Jesus dit kom gee het en soos ons dit ontvang het. Jesus het die ware lewe vir ons kom wys, sodat ons weet hoe om dit te leef. Die ware lewe is aan ons gegee met die kruisiging en opstanding. Die ware lewe is daardie lewe in verhouding met God, daardie optrede wat getuig van ons verhouding met God.
Jesus Christus het die ware lewe vir ons kom wys om ons bewus te maak van wat dit is en hoe dit geleef moet word. Nou is dit ons geleentheid om die ware lewe te leef. Dié lewe wat reeds aangebreek het, kan ons nou lewe. Ons kan maar ophou om goedere en prestasies bymekaar te maak sodat ons voel dat ons die lewe het, of die ware lewe leef. Want die ware lewe is reeds aan ons gewys en gegee, en nou is dit ons voorreg om dit aan ander te wys en dit te leef.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

19 November 2024 – Huil met hoop
1 Tessalonisense 4: 13-18
Die meeste mense hou in tye van onsekerheid vas aan iets wat vir hulle hoop gee. Wanneer mense moedeloos is, soek hulle na iets wat vir hulle moed en hoop gaan gee. Nie te lank terug nie, in Covid-tyd, het die meeste mense in ’n stadium om verskillende redes gesoek na iets om aan vas te hou, gesoek na hoop vir die dag van môre. As ons kyk na die wêreld en die mense rondom ons, is die meeste op soek na iets wat vir hulle hoop kan gee, of hou hulle vas aan iets wat vir hulle hoop gee. Ons hoop as gelowiges lê in Jesus Christus wat vir elkeen van ons hoop kom gee het. Ja, ons kan dié hoop ervaar en uitleef.
Wanneer dit by tye van onsekerheid en die dood kom, wonder ons baie keer waarin ons hoop sal vind. Ons hoor nogal gereeld die woorde dat ons nie moet treur soos mense wat nie hoop het nie. Ons hoor dit wanneer ons by die graf van ’n geliefde staan. Wat sal dan daardie hoop wees waaraan ons moet vashou? Hoe huil ons met hoop?
Paulus gee aan die verontruste gelowiges versekering oor die wederkoms. Daar word ook vir die gelowiges die versekering gegee dat God troos. Met Jesus Christus se terugkeer, sal alle gelowiges vir altyd saam met die Here wees. Wanneer jy of jou geliefdes treur, is dit by God dat julle vertroosting vind, en in daardie troos is daar vir elke gelowige hoop. Daarom huil ons met hoop. Ons huil, maar ons hou vas aan ons hoop. Ons hoop troos ons.
In hierdie woorde in 1 Tessalonisense 4: 13-18 ervaar ons troos, en hoor ons ook hoe om mekaar te troos, wanneer ons geliefdes treur. Ons deel hierdie hoop wat ons in Jesus Christus het met ander mense. Ons kan in tye van onsekerhede en wanneer ons huil, vashou aan die hoop wat Jesus Christus vir elkeen van ons kom gee het.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

18 November 2024 – Gaan leef jou oorwinningsfees!
Romeine 8: 31-39
Romeine 8 se laaste verse is ’n oorwinningslied van ’n oorwinningsfees. Elke Romeinse generaal en legioen wou graag fees vier, en het vir elke geleentheid fees gevier. Paulus gebruik sy oorwinningslied in Romeine 8 om te bevestig dat God oorwin het en dat niks tussen jou en jou liefde vir of jou verhouding met God kan staan nie. Geen vyand kan tussen jou en God staan nie. Paulus noem in die teksgedeelte ’n klomp dinge wat teen jou kan staan, dinge wat jou wil oorwin, jou lewe wil oorwin. Die belofte in die teksgedeelte is egter dat jou span nie net uit jou bestaan nie. Jy het Christus aan jou kant. God is nie jou vyand nie. Christus het jou reeds vrygespreek, daarom is jy vry om te lewe vir en saam met God.
Christus is Oorwinnaar, Christus het reeds oorwin. Die sonde is oorwin. Die dood is oorwin.
Die dood het voorheen lewe weggeneem, die dood het die gevolg gehad dat jou verhouding met God tot ’n einde gekom het. Jesus Christus het dit kom verander deur vir ons en in ons plek te sterf, sodat ons vir ewig ’n verhouding met God kan hê. Sodat ons vir ewig die oorwinningsfees kan vier.
Saam met Christus is jy oorwinnaar. Saam met Christus het jy ook reeds die sonde oorwin, saam met Christus het jy reeds die dood oorwin. Jy is oorwinnaar in die lewe. Jy lewe vir ewig in verhouding met God. God het reeds vir jou hierdie oorwinning, hierdie lewe en hierdie verhouding moontlik gemaak.
Gaan leef jou oorwinningsfees!
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

17 November 2024 – God se hoop
Openbaring 21: 1-8
Vriend van God:
Dit is met huiwering dat ek jou op hierdie dag, die dag van die Here, so groet. Die voorafgaande ses dae het ek ’n doelbewuste fout gemaak soos wat ons meer dikwels maak as wat ons besef. Ons laat alles net om die mens draai. Wat is in jou beplanning vir die dag en week?
Ses dae was ons fokus net op die mens. Ons hoop. Ons verwagtinge. Wat van God, ons Hemelse Vader? Het Hy nie ook bepaalde verwagtinge gehad wat in vervulling moes gaan nie? Hy maak die mens na sy beeld as sy verteenwoordiger met bepaalde verwagtinge. Hy plant vir Hom ’n wingerd. Hy verwag dat daar vrugte sal wees. Wat kry Hy? Dorings en onkruid wat versorg word. Hy vra gehoorsaamheid. Daar word met ongehoorsaamheid geantwoord.
Begryp ons die droefheid, die seer, die teleurstelling in die Vaderhart? Wie is daarvoor verantwoordelik? Ons kan nie die vinger na ander wys nie. Ons sal ons koppe in skaamte en skande moet laat sak. Wat het ons aangevang? Kan ons ons nog vriend van God noem? Nie dalk eerder vyand van God nie?
Wat kan Ek nog vir my wingerd doen? vra God in Jesaja 5: 4. Sy onbegrensde liefde wat uitloop op selfvernedering. Menswording in Jesus. Versoek, verlaat, gevange geneem. Verloën. Onskuldig bevind, maar tog oorgelewer. Bespot. Verneder. Gekruisig. Begrawe. Opgestaan as Oorwinnaar. Opgevaar.
Hy, God ons Vader, skep vir ons ’n nuwe verwagting. Ons kry danksy die selfopofferende liefde ’n nuwe naam. Nou nie meer Vriend van God nie, maar Kind van God. Vir ons is die woorde van Jesaja 43: 1 waar: Moenie bang wees, Ek het jou lief. Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne!
Kind van God, al het jy Hom bedroef, mag jy ervaar dat jy elke oomblik in sy skadu staan.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

16 November 2024 – Net afwagting bly
Openbaring 3: 7-13
Vriend van God:
Drie vroue is op pad na die graf van Jesus om sy liggaam te gaan balsem. Hulle het ’n probleem. Die klip wat voor die opening van die graf gerol was, was baie groot! Wie sal vir ons die klip wegrol? het hulle gevra (Mark 16: 4). Ons hoop maar dat ons dit dalk sal regkry of dat daar iemand sal wees wat ons kan help. Hul hoop en verwagting. Ons weet dat toe hulle by die graf kom, daardie klip reeds weg was. Die graf oop en leeg! Die dood se bande gebreek. Kyk, Ek het ’n deur (klip) voor julle oopgesluit…
Vriend van God, vir ons wat glo dat Jesus die Christus, die Seun van God is, ons wat op pad is na die graf, sê die Heidelbergse Kategismus in die antwoord op vraag 42: Ons dood is nie ’n betaling vir ons sondes nie, maar slegs ’n afsterwe van die sondes en ’n deurgang tot die ewige lewe. ’n Deurgang! Die voorhangsel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
Ons kan terugkeer na die Vader. Met hierdie sekerheid kan ons elke dag leef. Méér nog, ons leef nie net met verwagting nie, maar blye afwagting dat Hy wat die dood verslaan het en as Koning regeer, weer sal kom. Dat alles nuut gemaak sal word. Wanneer? Die tyd het die Vader in sy eie mag bepaal. Dit kom.
Die vraag is net: Hoe en waarmee is ons in hierdie tyd van afwagting besig? Kan ons die woorde van Jesus in Johannes 17: 4 ons eie maak? Ek het U verheerlik deur die werk te volbring wat U my gegee het om te doen. Terwyl ons in afwagting leef, moet ons weet, die beproewings en versoekings gaan nie minder word nie. Vriend van God, ek vra jou, volhard met blye afwagting.
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing… (Op 3: 10).
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

15 November 2024 – Wanneer word hoop wanhoop?
Lukas 2: 41-52
Vriend van God:
’n Reisgeselskap op pad vanaf Jerusalem terug na hul tuistes toe. Vir ’n dag lank gaan die groep reisigers voort. Josef en Maria, met die gedagte dat Jesus as kind van 12 jaar iewers saam met familie of bekendes loop. Met angstigheid begin ’n soektog. Vorentoe in die geselskap. Agter toe. Nee, hy is nie daar soos wat hulle gehoop het nie, en algaande word die hoop nou wanhoop. Net een uitweg. Terug Jerusalem toe. Met nuwe hoop en verwagting. Waar begin hulle? Geen ander manier as om maar te voet te loop en oral navraag te doen nie. (Geen selfone om boodskappe te stuur nie.) Kan ons die angs, die kommer, die trane van moeder en vader vir ons voorstel? Loop vir vier dae, soms seker gedraf ook, en hoe voel jy? Moeg. Uitgeput. Glo my, dan vat die wanhoop aan jou! Nog een plek oor. Nuwe hoop. Nou tempel toe! Daar roep hulle uit: Kyk, ons het jou met angs gesoek!
Wanneer jou aardse hoop wanhoop word. Wanneer jou lewe nie loop soos jy beplan nie. As jou verwagtinge nie in vervulling gaan nie, en jy verval in wanhoop. Wat dan? Vorentoe, agtertoe? Waar gaan ons rus en vrede van gemoed vind?
Vriend van God, soek Hom. In sy Woord. In sy huis. In jou gebede. In sy liggaam, die gemeenskap van die gelowiges. Soek Hom wat vrede gee wat die aardse begrip en verstand te bowe gaan. Doen dit haastig, met angs. Besef dan met sekerheid dat daar ’n ander hoop as die aardse is. Ons hoop bly op Hom gevestig. Die Begin en Voleinder. Hy is in sy Vaderhuis. Daar as Voorspraak, vandaar sal Hy weer terugkeer. Dit gee nuwe hoop.
Moenie alleen reis en net dink dat God by jou is nie. Maak elke dag seker dat jy by Hom is, anders verval jou hoop in wanhoop en word dit ’n lang en moeisame reis.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

14 November 2024 – Hoop en hemelse verwagting
1 Samuel 9: 1-7
Vriend van God:
Saul, die seun van Kis, kry opdrag om gereed te maak, ’n slaaf te vat en wegloopdonkies van sy pa te gaan soek. Vir nagenoeg drie dae word berg en streek deursoek. Die hoop en die verwagting om die donkies te vind, vervaag. Kom ons gaan terug… (vers 5).
Tuis wag sy pa. Hy het sy seun gestuur met die hoop en verwagting om sy donkies terug te kry. Sy verwagting is vervul, die donkies is terug, maar sy seun nie. ’n Nuwe afwagting breek aan. Wanneer kom my seun?
Dan gebeur daar iets wat hy nooit verwag het nie. Sy seun kom eers later terug. Maar nou as die gesalfde koning van Israel! Die hoop en verwagting om die donkies te kry, word oorskadu deur die nuwe, onverwagte vervulling.
God leer ons in sy Woord van ’n afwagting wat alle aardse verwagtinge in die skadu stel. Sy eie Seun, Jesus Christus, die Gesalfde, as Koning, Priester en Profeet, wat opgevaar het, sal ook weer in sy volle heerlikheid kom. Wanneer, weet ons nie. Maar ons leef met daardie hoop en verwagting dat God getrou aan sy woord bly en op die regte tyd alles weer nuut sal maak.
Daar kom ’n einde aan alles. Dit moet ons nie wanhopig maak nie. Ons aardse verwagting sal verdwyn. Die donkies wat ons hoop om terug te kry, is maar ’n kleinigheid. Onbeduidend teenoor die gesalfde Koning wat terugkeer. Hy maak reeds vir ons plek gereed in die Vaderhuis. Hy pleit: Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

13 November 2024 – Hoop aan skerwe
Genesis 40: 1-23
Vriend van God:
Arme Josef, kan ons sê. As jong seun word hy deur sy eie bloedbroers verkoop en beland hy in Egipte en word daar as slaaf gekoop. Spoedig bewys hy hom as uitstaande en word hy deur Potifar oor sy hele huishouding aangestel. Ons weet hoedat hy vals beskuldig word en in die tronk gegooi word. Ook daar as jongman bewys hy hom as betroubaar en verantwoordelik en word hy oor die ander gevangenes aangestel. Opvallend is dat daar telkens vir ons gesê word dat die Here hom geseën het en by Josef was. Hy is nie aan sy eie lot oorgelaat nie. Maar diep in sy hart was daar die hoop om tog vrygelaat te word. Hy vra die skenker: Jy moet my saak vir hom (die farao) stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom (vers 14). Moet op die mens jou hoop nie bou nie. Die skinker vergeet! Die hoop en verwagting lê aan skerwe. Is dit werklik so?
Twee jaar later gebeur daar iets wat sekerlik die grootste verwagting van Josef oortref het. Sy hoop om vrygelaat te word, word nie net bewaarheid nie, hy word nie net vrygelaat nie, maar word aangestel as tweede in bevel van die hele Egipte.
Vriend van God, hoe lyk my en jou getuigskrif terwyl ons in die aardse tentwoning is? Watter hoop koester ons? Wat is ons verwagting? Hoeveel van dit waarop ons hoop en verwag, lê aan skerwe? Hou ons vol om, ondanks verontregting, onskuldige veroordelings, verwerping en teleurstellings, ander in die seën van die Here te laat deel? Altyd ons beste te gee?
Ons het ’n vaste hemelse hoop en verwagting wat nie in skerwe kan spat nie. Dit dwing ons om in die tyd en omstandighede waarin ons ons mag bevind, altyd ook ander die seën van die Here te laat ervaar. Moeilik? Ja, maar onthou, daar was groter veragting, verwerping, mishandeling, verloëning en verlating as ons s’n. Aan die kruis! God het ons nie aan ons eie lot oorgelaat nie.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

12 November 2024 – Hou moed!
Handelinge 27: 1-26
Vriend van God:
Op pad, nee op see, om voor die keiser te gaan staan. Op ’n bootjie, vir 14 dae waartydens die son en sterre nie gesien is nie, daar is net die gedruis van storm, wind en golwe wat dreig om die bootjie met vrag en passasiers te verdelg!
Moeg en uitgeput, na liggaam en gees, tot in murg en been. Uitgehonger. Smagtend na redding. Wie is daar wat dan nie die een of ander tyd handdoek sal ingooi en soos ’n Elia van ouds onder die bos sal wil gaan lê en uitroep dat dit nou genoeg is nie! Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word (vers 20). Het hulle van God vergeet? Maar dan, daar in die storm na noodmaatreëls getref is, vrag en dryfanker oorboord gegooi is, klink die uitroep van die evangeliedraer: Hou moed! (vers 22).
Vriend van God, ons kan ons maklik vereenselwig met daardie stormgeteisterdes. Tentbewoners, pelgrims op reis om ook voor die Keiser van alle keisers te gaan staan. So dikwels uitgemergel deur gebeure en ervarings, pyn, alleenheid, teleurstellings, kommer, storms in ons eie lewe, dat ons ook wil uitroep: Nou kan daar geen uitkoms wees nie. Dit is net nag. Nou gooi ons handdoek in. Dit is mos juis dan dat ek en jy, die ligdraers, die verteenwoordigers van die Skepper, moet uitroep: Hou moed!
Vriend van God, ons leef mos nie sonder hoop en verwagting nie! Ons hoef nie bang te wees nie. Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Nie hoogte of diepte nie. Niks! God, die Vader van ons Here Jesus Christus, wil vir my en jou vandag ook sê: Hou moed! Moenie die hoop laat vaar nie. Hou aan! Stry die goeie stryd. Volhard. Ek het vir julle die verwagting, nie van vernietiging nie, maar die afwagting van die ewige lewe gegee.
Sing maar gerus Gesang 573: 1 – Ruwe storme breek in woede…
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

11 November 2024 – Hoop en verwagting
Lukas 24: 13-26
Die Evangelie volgens Lukas en die boek Handelinge begin met die gebruik van ’n besondere naam: Teofilus. Met die betekenis: Vriend van God. Laat my toe om jou die volgende sewe dae so aan te spreek.
Twee mense op pad. Sleepvoetend. Hangende skouers. Beswaarde gemoed. Diep teleurgesteld. Moeg. Hul hoop en verwagting lê aan skerwe. Vriend van God – dan is 12 kilometer ’n baie lang pad! As ons na die wêreld kyk, voel en lyk dit soms na ’n hopelose saak. Daar is oorloë, gerugte van oorloë, aardbewings, storms, en ongety. Maar nie net daar ver nie, selfs baie nader as wat ons wil hê. Ja, in my en jou lewe is daar die spreekwoordelike dorings wat ons tot wanhoop en daarmee saam tot verwagtingloosheid dwing.
Nou wil ek jou vra: Hou moed. Bly hoop. Ons moenie toelaat dat die donker om en in ons ons onderkry en ons hooploos laat nie. Wat voorlê, wag met angstigheid om in vervulling te kom. In die vervulling van God se Woord lê ons hoop en verwagting. Dink daaraan: Hy, die Almagtige, het dit wat die kerk herdenk, alles vooraf laat aankondig en in vervulling laat gaan. Hy het ook die donkere gebeure en ervarings en ook dit wat nog moet kom, laat aankondig. Alles is maar geboortepyne vir sy wederkoms. Sy woord gaan in vervulling. Dit gee hoop.
Ja, Vriend van God, ons is mens en die dorings is eie aan ons lewe, maar kom ons lewe met die blye hoop en verwagting dat Hy weer sal kom. Hy bly immers getrou aan sy woord. In die dag, met swaar hart en donker gemoed, op pad weg van Jerusalem af maar met borrelende vreugde, opgewonde in die donker nag, is hulle terug Jerusalem toe met nuwe hoop en verwagting. Sekerlik was die 12 kilometer toe nie lank nie.
Vriend van God, mag jy op jou aardse reis, op pad na die nuwe Jerusalem, elke dag vervul word met blye hoop en verwagting.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)

10 November 2024 – Wat beteken “Goeie Nuus” vir my?
Markus 1: 1-8
Ons kom nou nader aan die einde van die kerkjaar, daarom dink ons weer terug aan dit wat Jesus vir ons gedoen het: Hy het vir my die Blye Boodskap, die Goeie Nuus gebring. Jesus het ons kom leer van God se koninkryk en om ’n nuwe pad saam met Hom te loop. En die wonderlike is: Jesus het nie net die Goeie Nuus gebring nie, Hy was self die Goeie Nuus.
Wat beteken Goeie Nuus vandag as ons omring word deur slegte nuus? Wat is goeie nuus vir ’n sondaar vandag? Ek is vasgevang in die strik van sonde, ek sukkel met ’n versoeking, met slegte gewoontes. Ek wil graag gehoorsaam aan God leef … en Jesus wil my daarmee help! Dis goeie nuus vir ’n sondaar! Wat is goeie nuus vir ’n soeker vandag? Ek is ’n Christen, maar ek voel los van die Here. Dit voel of ek my eie lewe leef en God is op ’n ander plek. Dan vat ek tyd in my vol program en bid weer opreg. Ek bestee goeie tyd saam met die Here en onthou: Die Here klop aan my hart. Dis goeie nuus vir ’n soeker! Wat is goeie nuus vir iemand wat onderdruk en uitgestoot voel? Ek staan alleen in die wêreld, uitgelewer, blootgestel. Niemand wil my help nie, niemand is aan my kant nie. Dan sien ek iemand anders se nood raak en ek help. Skielik verander alles. Ek sien weer dat ek soveel het om voor dankbaar te wees en soveel wat ek kan bydra. Ek het nuwe moed. Dis goeie nuus, want ek onthou daar is mense wat vir my omgee en daar is die Here wat oor my waak.
Jesus het vir ons die Blye Boodskap van verlossing en vryspraak gebring. Dis goeie nuus vir sondaars, soekers en verwerptes. Die boodskap kan nie stop by die gedeelte wat ons gelees het nie, ons moet nou ook boodskappers word wat Jesus se Blye Nuus met die wêreld deel.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

9 November 2024 – Ek is die Here se kind, in álle omstandighede
Handelinge 24: 24-27
Paulus is nou al vir twee jaar in die gevangenis. Die goewerneur wat sy saak moes aanhoor, was korrup. Daarom word Paulus se tyd in die gevangenis verleng, nie omdat hy ’n misdaad gepleeg het nie, maar omdat Feliks gehoop het dat Paulus hom sou probeer omkoop. Paulus het nie vir Feliks enige omkoopgeld aangebied nie. Inteendeel, Paulus het elke geleentheid gebruik om met Feliks te praat oor ’n goeie lewe voor God. Ons kan ons net indink hoe magteloos en gefrustreerd Paulus moes gevoel het. Daar is soveel goeie werk wat hy nou kon doen, soveel plekke wat hy kon besoek om Jesus se Blye Nuus uit te dra. Maar nou sit hy hier in die gevangenis en sy hele bediening het tot stilstand gekom.
Baie van ons voel ook so, so asof my lewe tot stilstand gekom het. So asof ek ook vasgevang is. Die ironie is, ons leef in ’n tyd van ongekende voorspoed en welvaart. Alles gaan eintlik goed, maar ek is kwaad. Daar is nie regtig iets fout nie, maar ek is gefrustreerd. Ek het niks om oor te kla nie, maar ek is ongelukkig. Die uitdaging wat ons vandag het, is om in ’n tyd van oorvloed en gemak steeds dankbaar te wees. Om in ’n tyd van rykdom steeds waardering te hê, in ’n tyd van vervelige roetine steeds dryfkrag te hê. Om in ’n korrupte samelewing anders op te tree, in ’n tyd van verval steeds hoë standaarde na te streef en my bes te doen.
Al was Paulus in die gevangenis en al het sy bediening eintlik tot stilstand gekom, was hy nie minder ’n apostel van die Here nie. Al is daar baie frustrasies in my lewe, al voel dit of ek ook vasgevang is, al is die wêreld so deurmekaar, ek bly steeds ’n kind van die Here. Kom ek gaan leef vandag so.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

15 Desember 2024 (Derde Advent / Gelofteviering) – Genade nie tevergeefs ontvang
2 Korintiërs 6: 1-2
Ons leef in ’n tyd van korrupsie, moorde, armoede wat toeneem en verval op alle terreine van ons lewe. My gedagtes gaan onwillekeurig terug na die Voortrekkers op die vooraand van die slag van Bloedrivier. Het hulle oor hul werklikhede en wêreld gedink soos ons vandag dink? Dan onthou ek die Gelofte: weldeurdagte en oortuigde gelowiges wat as kinders van God leef.
Ons leef in ’n tyd van onsekerheid en angs, soms met ’n bitterheid oor alles wat ons verloor het en beslis ’n bitterheid wat op alle aspekte van ons lewens kan inspeel. En tog sê Paulus, wie se wêreld in wese nie anders as ons s’n was nie: Nee, ons leef in genadetyd. Dit wat ons in Adventtyd verwag het, het waar geword. Die woord het vlees geword, en telkens kom breek Hy ons kalenders, tyd en geskiedenis binne. God se genade en verlossing, dit wat lig in duisternis bring, is ewig deel van ons lewe. God kom en herstel of restoureer die gebrokenheid van die mens, en elke oomblik in ons tyd is ’n tyd waarin ek aan God kan vasgryp. Nou is die dag van God se redding. Gebruik elke verleentheid as ’n besondere geleentheid om opnuut in gehoorsaamheid en vertroue in God te leef.
Moenie toelaat dat julle die genade van God tevergeefs ontvang het nie. Moenie so veg, vries of vlug, so negatief wees, dat die geleentheid om God se genade in jou wêreld en huis en vriendekring te leef, by jou verbygaan nie. Laat ons elke geleentheid aangryp. Die geestelike leiers van die volk Israel was so gaande met hul mag en gesag dat die geboorte van Jesus, die Messias wat sou kom, ongemerk by hulle verbygegaan het. Dit is tragies dat ons ook so vasgevang word in omstandighede dat ons toelaat dat die tyd vir genade en heling, troos en krag, ook by ons verbygaan.
Mag ons sorg dra dat ons nie die genade van God tevergeefs ontvang het nie.
Ds Hans Britz, Standerton
8 November 2024 – Jesus leer my weer om te loop
Matteus 9: 1-8
Partymaal voel ek ook soos hierdie verlamde man. Daar is iets in my lewe wat my lamlê, iets wat maak dat ek ook soos ’n verlamde op ’n slaapmat lê. Ek kan nie opstaan nie. Ek kan nie aangaan nie. Kyk ’n bietjie mooi rondom jou en selfs na jou eie lewe, jy sal sien hoe dit lyk. Luister ’n bietjie en jy sal hoor dat mense sê: Daardie hartseer in my is net te groot. Ek kan nie hierdie finansiële probleem oorkom nie. Ek is verslaaf. Ek was in ’n ongeluk. Ek is siek. Ek is bekommerd en gespanne. Ek is bang. Dit is juis in hierdie omstandighede dat so baie van ons heeltemal alleen voel. As ek soos ’n hulpelose op ’n slaapmat lê, dan raak my familie stil, my vriende is nou baie yl gesaai. Daardie hulp en ondersteuning waarop ek gehoop het, dis net nie daar nie. Die oproep waarvoor ek gewag het, is net stil. Die bemoedigende woorde is daar, maar dit bly leeg, dis ver en koud. Ek is so jammer oor dit wat met jou gebeur het. Baie sterkte. Ons bid vir jou, mag die Here jou seën. Maar dit is alles op ’n afstand.
Ons sien in hierdie gedeelte dat Jesus nie so maak nie. Die Here hou my vas. Hy troos my. Hy vee my trane af. Dan help Hy my op, Hy los my nie dat ek maar net bly lê nie. Hy praat my weer moed in sodat ek dapper kan wees. Jesus leer my weer om te loop. Hy leer my weer om te praat. Hy herstel ook my lewe, selfs al is daar baie dinge wat nooit weer dieselfde sal wees nie.
Gebed
Dankie, Jesus, dat U my ook vandag aan die hand neem en my weer ophelp. Gee my die dapperheid dat ek sal uitreik, die oproep sal maak, die hulp sal aanbied aan my familie en vriende wat net nie meer kan nie. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

7 November 2024 – Hoe lyk my getuigskrif?
Filemon verse 4-7
Filemon was ’n Christen wat deel was van die Kolossense-gemeente. Hy het ’n slaaf gehad met die naam Onesimus, wat weggeloop het. Hierdie slaaf het by Paulus aangekom, en onder Paulus se leiding het hy uiteindelik ook ’n Christen geword. Al was Onesimus vir Paulus baie werd, het hy geweet dat Onesimus so vinnig moontlik moes terugkeer na Filemon. Die Romeine het ’n baie swaar hand op hul slawe gehad en daar is van Filemon verwag om van Onesimus ’n voorbeeld te maak as hy weer sou terugkeer. Daarom skryf Paulus nou ’n brief aan Filemon. In hierdie brief moedig hy Filemon aan om nie vir Onesimus te straf nie, maar om hom eerder terug te ontvang as ’n broer in Christus. Hierdie brief wat Paulus skryf, lyk amper soos ’n getuigskrif, ’n getuigskrif waarin hy Onesimus by Filemon aanbeveel.
Nou wonder ek vandag, wat beteken my lewe vir ’n ander, ook die mense wat dalk iets teen my het? As ek na daardie persoon toe kan gaan vir ’n getuigskrif, wat sal ek wil hê moet daarop staan? Miskien dat my woorde en dade vreugde vir mense gebring het, dat my optrede vir mense nuwe moed en hoop gegee het, dat ek vrede en rustigheid gebring het waar ek gaan. Dat my volharding in moeilike tye maak dat ander ook dapper is, dat my toewyding aan die Here ander se binnekante versterk en verkwik. Ek sal daarvan hou om te lees dat ander kan sien hoe lief ek vir die Here is en dat ek my medemens met billikheid, menswaardigheid en respek behandel. Hoe gaan my getuigskrif lyk as dit aan iemand gestuur moet word wat kwaad is vir my, iemand teenoor wie ek ’n onreg gedoen het, iemand by wie ek in die skuld is? Leef ek my lewe op so ’n manier dat selfs my vyande my sal ontvang as ’n broer of suster in Christus?
Gesang 284
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

6 November 2024 – Die Here laat my vas staan
1 Petrus 5: 8-11
As ons lees van die brullende leeu, sal ons dadelik dink dat Petrus praat van die Romeinse keiser of die heidene in hul samelewing. Dis ’n fout. Dit is nie hulle wat die groot bedreiging was vir hierdie jong Christene nie. Die groot gevaar lê op ’n ander plek en ’n mens skrik as jy hoor dat daardie gevaar eintlik binne jouself is. Dis my eie sondigheid, my eie feilbaarheid, my eie swakhede.
As daar ’n kwaai hond na my toe aangeloop kom, dan weet ek dadelik dat hy gevaarlik is. Hierdie hond wys sy tande vir my en sy oë lyk wild. Ek gaan so vinnig moontlik probeer wegkom. Ek gaan almal rondom my waarsku en ek gaan probeer om hulp te kry. As ek weet iets is gevaarlik of ek verwag die ergste, dan is ek mos ekstra versigtig. Ek let mooi op en ek is altyd gereed. Maar dit is wat hiérdie brullende leeu so gevaarlik maak: Ek weet nie hy is gevaarlik nie. Dink so daaroor: As ek jou nie vertrou nie, gaan jy sukkel om my om die bos te lei. Ongelukkig kan ek myself baie maklik flous. Ek sien jou foute en oortredinge vinnig raak, maar ek dink dat my eie sondes minder verkeerd is. Die volle leuen gaan my nie sommer oortuig nie, dis nie so gevaarlik nie. Dis die halwe waarheid, die eensydige skinderstorie, die verdraaide beginsel waarvoor ek versigtig moet wees. Dis nie die kwaai hond wat op my afstorm wat gevaarlik is nie, dis die duiwel wat saggies in my oor fluister en vir my die dinge vertel wat ek graag wil hoor.
Gebed
Here, help my vandag om die werklike gevaar raak te sien, die dinge binne myself wat my van U kan vervreem. Gee vandag vir my die insig wat ek nodig het. Help my om vas te staan. Help my om wakker en nugter te wees, sodat die brullende leeu my nie sal verskeur en verslind nie. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

5 November 2024 – Klein wonderwerke
Genesis 46: 28-34
In hierdie gedeelte gebeur daar ’n wonderlike ding. Hier gebeur iets wat, menslik gesproke, nie moontlik was nie. ’n Pa en ’n seun ontmoet mekaar weer nadat die een gedink het die ander is reeds dood. Is dit nie ook maar ’n wonderwerk nie? Dis goed om partymaal weer te onthou dat alle wonderwerke nie groot en bo-natuurlik is nie. Wonderwerke het nie net gebeur met die skepping of toe Jesus die storm op die see stilgemaak het nie. Wonderwerke kan ook eenvoudig en alledaags wees, soos ’n pa en seun wat mekaar weer ontmoet.
Daar is dinge in die geloof wat ons nie op ons eie kan regkry nie: Om verdraagsaam te wees teenoor hulle wat anders is, om dié te vergewe wat teen my oortree het, om vrede na te streef. Hierdie dinge is nie altyd binne ons vermoë nie, dis ’n wonder wat die Here laat gebeur. Al voel dit of die lewe my platgeslaan het, die Here help my om weer op te staan. Al is alles so deurmekaar en voel dit of my lewe een groot gemors is, die Here kan my lewe herstel. Al is daardie reus te groot vir my, die Here kan my help om te oorwin. Al is ek in hierdie moeilike omstandighede en dit voel of ek nie ’n kans het nie, die Here kan my help om uit te styg. Al lyk hierdie verhouding stukkend, asof daar geen kans vir versoening is nie, die Here kan mense help om mekaar weer te ontmoet. Hierdie dinge lyk na klein en alledaagse goedjies, maar eintlik is dit wonderwerke wat die Here in ons lewens doen.
Gebed
Here, ons onthou dat U dit wat stukkend is, weer wil heelmaak. Wat leeg is, wil U vol maak. Wat leweloos is, wil U nuwe lewe gee. Ek wil vandag saam met U hierdie pad loop. Ek wil vandag deel wees van u koninkrykswerk. Ek wil deelkry aan die wonder wat U in my lewe wil doen. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

4 November 2024 – Ek trek saam met die Here
Eksodus 40: 34-38
In hierdie verhaal sien ons dat die Here graag tussen sy mense wou kom bly. Toe hulle die tabernakel klaar gebou het, het die Here dadelik ingetrek. Dadelik het Hy sy teenwoordigheid sigbaar gemaak in die vorm van ’n wolkkolom bedags en ’n vuurkolom snags. Dis interessant om te sien hoe die Israeliete se bewegings beïnvloed is deur God se teenwoordigheid. Hulle sou nie sonder God getrek het nie. Jy sou nie vir ’n paar dae sommer net in die woestyn ingetrek het sonder die Here nie, want later kom jy terug en dan is die Here en die hele kamp dalk weg. Jy het elke dag gekyk waar die Here is en jou dag dan aangepas by God se teenwoordigheid.
Dis hoe ons ook moet leef vandag, naby aan die Here. Elke dag moet ek seker maak dat ek in sy teenwoordigheid bly. As Hy gaan, dan gaan ek. As Hy bly, dan bly ek. Hoekom sal ek my lewe sonder God wil leef? Ek gaan vandag, en elke dag van nou af, die Here se teenwoordigheid dophou. Ek gaan kyk na daardie wolk- en vuurkolom en seker maak dat ek ook my roetine, my keuses en my gedrag aanpas by God se teenwoordigheid.
Gebed
As die lewenspad se bloedige son vandag op my neerbrand, is die Here se koelte soos genade vir my. As dit vannag yskoud raak in die woestyn, is dit lekker om nader te skuif na die hitte van God se teenwoordigheid. As dit donker raak, gee die Here vir my lig. As ek verdwaal, is God se teenwoordigheid my baken. Al is ek in ’n woestyn sonder paaie, sonder rigting, sonder tyd. Vandag onthou ek weer dat ek nie verlore nie is, want die Here se teenwoordigheid is ook mos ’n plek. Selfs al voel dit vandag of ek in die wildernis is, ek is nie verlore nie, want ek is by God. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust

3 November 2024 – Die tekens van God
Rigters 6: 33-40
Daar is ’n proteïen met die naam laminin wat die funksie vervul om goed bymekaar te hou. Vir sommige mense het hierdie selletjie ’n vae ooreenkoms met die vorm van ’n kruis. Vir hulle is dit ’n teken dat God waarlik bestaan omdat ons leer dat God die Een is wat alles bymekaar hou. Tog, wanneer ’n mens vir iemand wat nie ’n Christen is nie, vra hoe ’n laminin lyk, sal hulle dalk vir jou sê dat dit in sy tweedimensionele vorm t-agtig lyk en wanneer jy na ’n klomp saam kyk, dit soos ’n blom kan lyk. Wanneer jy in die natuur gaan kyk, sal jy baie vorms sien wat mense sal sê verband hou met nie-Christelike oortuigings. Byvoorbeeld, die DNS-heliks kan vir sommige soos ’n Jin-Jang-simbool lyk.
Daar is natuurlik niks fout daarmee om die wonder van God in die skepping raak te sien nie. God is tog oral rondom ons in die skepping, maar ons moet versigtig wees dat ons nie hierdie lukrake tekens gebruik as basis vir ons geloof nie. Dit sal dan vir enigiemand maklik wees om vir jou die teendeel uit te wys, en waar staan jou geloof dan?
Gideon het vir God gevra vir tekens, en God het die tekens vir hom gegee. Natuurlik kon God kwaad geword het en gevra het: Hoe durf jy? Ek sal iemand anders in jou plek aanstel! Maar selfs in die tyd van die rigters sien ons dat God geduldig met sy skepsels omgaan. Ons sien dat God verstaan dat die mens se begrip swak is en dat hulle Hom nodig het.
Somtyds is dit vir ons moeilik om net geloof te hê – daardie absolute vertroue in God. Dit is vir ons moeilik om absoluut seker te wees van die pad waarop God ons stuur. God weet dat ons sukkel. Ten spyte van ons kleingeloof, is God ons steeds genadig. Daarom kan ons glo dat God rondom ons is, selfs in die kleinste van tekens, soos in ’n laminin.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

2 November 2024 – Transformeer soos popcorn
2 Tessalonisense 1: 11-12
Ek het onlangs geleer wat gebeur met ’n springmieliepit wanneer dit van ’n pit na ’n popcorn verander. Die pit bestaan uit verskillende dele, maar die belangrikste vir die transformasie is die mikroskopiese druppels water wat binne-in die pit is. Wanneer jy die pitte in die mikrogolf plaas, is dit nie die dop wat warm word nie, dit is die water binne-in die pit wat warm word en stoom afgee; dit veroorsaak druk wat meer en meer word tot dit nie meer binne kan bly nie en die pit dan transformeer. Die pit het nie getransformeer omdat die dop warm geword het nie, maar omdat dit wat aan die binnekant is, warm geword het.
As ons altyd net op ons uiterlike fokus en probeer om ons optrede te verander, kry ons iets tydeliks. Wanneer ons slegs dit wat mense kan sien, verander, is dit tydelik. Dit verander nie wie ons is en wat ons dink en voel nie, en dit gaan net vir ’n rukkie so wees. ’n Mens word uitgeput, want dit vat energie om iets aan die buitekant te wees wat jy nie aan die binnekant is nie.
Maar wanneer ons op ons binneste fokus, dit wat die Heilige Gees besig is om met ons te doen, wanneer ons die binnekant warm maak, transformeer ons. Die teenwoordigheid en krag van God leef binne elkeen van ons. Die vraag is of ons dit toelaat om binne ons te werk en ons te transformeer.
God het elkeen van ons gemaak en Hy het ons geroep sodat ons sy Naam bekend kan maak aan mense wat nie fokus op dit wat aan die binnekant leef nie. Wanneer ons op die binnekant fokus, het ons nie nodig om te wonder of dit regtig ons werk is om die verskil in ons omgewing te maak nie. Ons kan dit weet, want ons is nie meer net ’n dop wat die Gees binnehou nie – ons laat toe dat die Gees ons en alles rondom ons transformeer wanneer ons op Hom fokus.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

1 November 2024 – Spring in vir jou vriende
Psalm 139: 1-6
By die wêreldkampioenskappe in Boedapest in Junie 2022 het die VSA se swemmer Anita Alvarez gesink na die onderkant van die swembad. Andrea Fuentes, haar afrigter, het vir Anita geken. Sy het geweet waartoe Anita in staat is, vir hoe lank sy onder die water kan bly, en dit het te lank geword. Sy het daarom in die water gespring, klere en al, sodat sy Anita uit die water kon haal.
Natuurlik is daar ook mense wat ons so goed ken dat hulle weet vir hoe lank ons onder die metaforiese water kan bly. Somtyds is ons toegegooi onder so baie dinge dat dit te veel raak en ons nie self daaruit kan kom nie. Tog vergeet ons wie die Een is wat ons daaruit kan help. God is die Een wat ons so goed ken. Hy weet wat ons kan hanteer en wanneer iets vir ons te veel raak. Dit beteken nie noodwendig dat ons situasie in ’n oogwink sal verdwyn nie. Die Here ken ons, en daarom het ons mense rondom ons wat vir ons omgee. Hulle ondersteun ons wanneer dit te veel raak, en ons kan weet dat wanneer ons dreig om te verdrink, dit God sal wees wat hulle stuur om ons daaruit te red. Dit is hoe groot sy liefde is.
Dit bring ons ook by die vraag of ons daardie persoon sal wees vir die mense rondom ons. Laat ons die Gees van God in ons harte toe en is ons ontvanklik wanneer Hy ons lei na mense toe? So gereeld probeer ons ons uiterste bes om nie betrokke te raak by ander se swaarkry of moeilikheid nie. Tog sê Jesus dat daar geen groter liefde is nie as dié van iemand wat sy lewe vir sy vriend sal aflê.
Ons sin van selfbehoud oorheers ons soms. Solank ons nie verdrink nie, is alles reg. Hoewel dit goed is om na jouself om te sien, kan ons tog weet dat ons nie die enigste mense is wat somtyds ’n bietjie lank onder die water bly nie. Ander sukkel ook en al wat ons kan doen, is inspring en help. Ons hoef nie saam met hulle te gaan verdrink nie, maar ons kan onsself sterk maak en voorberei sodat ons daartoe in staat kan wees om hulle uit die water te trek.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

31 Oktober 2024 – Die sin van dit alles
Prediker 1: 2-11
Daar is ’n kunstenaar met die naam Andres Amador van San Francisco wat “nie-permanente kunswerke” maak. Hy is geïnspireer deur meetkunde en die patrone in die natuur. Hy maak sy patrone wat hy uitwerk op die strand tydens lae gety en dan, wanneer hoë gety kom, word dit weggevee. Nou is die vraag, waarom doen hy dit? Ek kan sy ouers hoor, hoe hulle – baie ongelukkig – vir hom sê dat hy nie ’n lewe daaruit kan maak nie. Hy kan nie een van die kunswerke verkoop nie. Daar is absoluut geen doel daarin nie, en tog doen hy dit. Hy vertel dat die rede waarom hy dit doen, is omdat hy eenvoudig geseënd voel om daartoe in staat te wees om dit enigsins te kan doen. Dit bring vir hom en dalk ook vir iemand anders ’n oomblik van vreugde, al mag dit dalk lyk of dit niks bydra tot die breë samelewing nie.
Ons almal soek sin in die lewe. Gewoonlik vra ons na die sin van die lewe wanneer ons vasgedruk voel, wanneer ons laste te swaar word. Ek weet van ’n persoon wat sal sê dat die lewe in elk geval geen sin het nie, so hulle sal maar see toe trek en kraletjies op die strand gaan verkoop. Tog doen hulle dit nooit. Die vraag sou wees, waarom nie? Dit maak sin, as dit alles niks beteken nie, waarom doen ons dit?
Hierdie kunstenaar van San Francisco, saam met die Prediker, leer ons dat dit vir ’n mens mag voorkom of daar geen sin mag wees nie, want niks is permanent vir my en jou nie. Maar wanneer ons met ons Christelike beginsel van liefde vir God en liefde vir ons naaste lewe, wanneer ons streef na klein oomblikke van geluk, beteken dit alles en word dit ’n patroon wat deur die geskiedenis en in die toekoms oor en oor sal gebeur.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

30 Oktober 2024 – Om God se Naam te misbruik
Eksodus 20: 7
Hierdie gebod word op verskillende maniere verstaan. Die eerste is op ’n wettiese manier. Ons sien meestal in films of televisieprogramme hoe ’n persoon, voordat hulle in die hof getuig, hul hande op ’n Bybel plaas en belowe dat hulle die waarheid sal praat. Die gebod word dan ’n manier om te verseker dat ’n persoon nie sal jok nie deurdat hulle in die Naam van God sê dat hulle die waarheid praat.
’n Tweede manier waarop hierdie gebod algemeen verstaan word, is as verbod op die gebruik van die Naam van God as ’n kragwoord. Ons sien weer eens in films en somtyds rondom ons hoe iemand die Naam van die Here misbruik. Ons word geleer dat jy nie die Here se Naam mag misbruik nie en dat dit die Naam van die Here klein en nietig maak.
In die Eksodus-verhaal is Moses die eerste persoon wat die Naam van God ontvang. Deur te weet wat die Naam van God is, kry Moses ’n bepaalde outoriteit. Wanneer hy praat in die Naam van die Here, praat hy met bepaalde krag, agter sy woorde lê daar iets. Hy getuig van ’n voorheen onbekende God en maak Hom nou bekend aan die mense.
Die kerk, soos ons dit vandag ook ken, het die opdrag om die Naam van God in die wêreld bekend te maak. Wanneer ons getuig dat ons in God glo, word ons geassosieer met die krag en outoriteit van God, en die oomblik wanneer ons optree op ’n manier wat nie die beeld van God uitstraal nie, maak ons die Naam van God klein en kragteloos.
So gereeld word die Naam van die Here, sonder dat ons dit besef, misbruik vir manipulasie, en ja, somtyds uitbuiting. Ek hoor onlangs by ’n funksie hoe iemand sê: Ag man, betaal ’n bietjie meer, dit is mos vir die kerk. Op ’n indirekte wyse word die persoon afgepers met die Naam van God. Onmiddellik is daar ’n negatiewe konnotasie en ’n lewe weg van die geloofsgemeenskap, waar ’n mens ook nader aan God kan leef, word geïmplementeer. Ons moet versigtig wees waaraan ons die Naam van God koppel. Is ons dit waardig om waarlik die Naam van God op ons lippe te hê?
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

29 Oktober 2024 – Konsulteer die Koning
Psalm 55: 1-20
Ons almal ken die verhaal van Hompie Kedompie, die eier wat gebreek het, en al die koning se soldate en dienaars kon vir Hompie Kedompie nie help nie.
In die lewe is ’n krisis iets algemeen. Ons almal beleef dit en soos wat ons ouer word, word ons al hoe beter daarmee om ons eie krisisse te hanteer. In hierdie Psalm verbeel die digter hom dat as hy vlerke gehad het, hy van sy krisis kon wegvlieg en dan op ’n ander plek kon gaan bly.
Ek hoor gereeld hoe iemand vertel dat hulle op ’n eiland sal gaan bly sodat geen van die probleme wat hulle beleef hulle sal kan kry nie. Ja, somtyds voel dit of die probleme te veel op een slag raak en dan is dit swaar om deur hulle te werk, maar op die een of ander manier doen ons dit, en ons doen dit ook self. Na die tyd prys ons onsself dat ons daardeur gekom het, en hoewel dit die volgende keer dalk moeiliker gaan wees, sal ons dit weer doen.
Maar die soldate by Hompie Kedompie staan voor ’n krisis wat hulle nie kan oplos nie, hulle kan hom nie regmaak nie. Tog is daar niemand wat besluit dat hulle dalk die koning moet gaan konsulteer nie. ’n Mens sal natuurlik kan sê dat dit nie die koning se werk is nie, dat hy juis sy diensknegte het om die werk te doen, maar daar is baie goed wat die diensknegte net nie kan oplos nie, dan moet hulle die probleem na die koning vat sodat hy sy leiding kan gee en die probleem opgelos kan word.
Ons het rondom ons soveel hulpbronne om ons te help om ons probleme self op te los, maar somtyds kom ons iets teë wat net te groot is om self op te los, of dit is soms selfs ’n probleem ver buite ons beheer, iets wat ons hulpbronne nie kan regstel nie. In daardie tye, selfs al kan ons dit hanteer, maak ons soos die Psalmdigter en roep ons om hulp. Ons bid en ons vra ons God, ons Koning, om ons by te staan, om ons te lei, omdat ons nie die almag het wat Hy het nie. En God verlos ons.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

28 Oktober 2024 – Habitat in die wese van God
Genesis 1: 11-26
Toe die Here die plante op die aarde gemaak het, het Hy met die aarde gepraat en gesê dat die land plante moet laat uitspruit. Toe die Here die visse in die see gemaak het, het Hy met die see gepraat sodat die visse daarbinne kan lewe.
Toe die Here die mens geskep het wat op die aarde moet leef, het Hy nie met die aarde gepraat nie, Hy het met Homself gepraat. Wanneer ons die Afrikaans lees, mag dit dalk klink of God met iemand buite Homself praat wanneer die woord “Ons” gebruik word. In Hebreeus is die woord wat vir God gebruik word “Elohim”. Hierdie woord is ’n meervoudswoord, maar dit beteken nie dat daar meer as een God is nie. Ons ken God as drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees – maar soos wat ons geleer word, beteken dit ook nie dat God drie wesens is nie. Ons ken God as ’n Vader, Seun en Heilige Gees. God bly een Wese en ons is deur en in hierdie een Wese geskape.
So praat God hier met Homself wanneer Hy sê dat die mens gemaak moet word. Soos wat visse se habitat die see is en plante se habitat die aarde is, word die mens se “natuurlike habitat” dan God. God het ons geskape sodat ons in Hom, met Hom en vir Hom kan bestaan.
Wanneer jy ’n vis uit die see haal, gaan die vis dood. Wanneer jy ’n plant uit die aarde haal, gaan die plant dood. Wanneer ons ’n lewe wil leef sonder God, is daar geen sin nie, dan is ons siel so goed as dood. Ons wese smag na die lewende God. Sonder Hom beteken ons bestaan nie veel nie.
Daarom is ons daaglikse lewe ’n soeke na die Here, sy teenwoordigheid. Ons leef sodat ons die Here kan dien. Nie net by die kerk nie en nie net omdat ons in die hiernamaals die Goeie soek nie, maar omdat ons wese nie anders kan nie.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

27 Oktober 2024 (Hervormingsfees) – ’n Vaste burg is onse God
Psalm 46
Vandag vier ons die gebeure van die Kerkhervorming. Ons het ons totale manier van kerkwees, die wyse waarop ons die Bybel verstaan en oor God nadink, te danke aan die Kerkhervorming. Psalm 46 was een van die Kerkhervormer Martin Luther se gunstelingpsalms. Martin Luther het self gesê dat die bestudering van die Psalms sy liefde vir God aangevuur het. Hy het boonop sy loopbaan as professor begin met ’n reeks lesings oor die Psalms.
Maar Psalm 46 het vir Luther in die besonder uitgestaan omdat hierdie Psalm op ’n spesifieke manier van God en God se verhouding met gelowiges praat. Aan die een kant word God beskryf as ’n Almagtige, groot en sterk Heerser – God is transendent, verhoog bo alles. Aan die ander kant word die Here beskryf as ’n persoonlike God wat teenwoordig is in die lewe van gelowiges. Dié groot, magtige God is, met ander woorde, altyd persoonlik teenwoordig by sy kinders en betrokke by gelowiges se lewens. Dit noem ons die immanensie of nabyheid van God. Martin Luther se ontmoeting met God het juis gekom toe hy God in die Bybel leer ken as ’n genadige, persoonlike God, nie ’n God wat daar ver is nie, maar ’n God wat weliswaar bemoeienis maak met elke mens.
Psalm 46 is ’n geloofsbelydenis wat rekening hou met beide hierdie aspekte van God: sy almag en verhewendheid, maar ook sy nabye teenwoordigheid. Dit word verwoord waar die Psalmdigter God bely as die bron van Israel se krag. Die Here is soos ’n toevlug waar Israel rus vind. Hy is die Beskermer, die skuilplek wat deur sy nabyheid veiligheid bied wanneer sy kinders ’n krisis ervaar. Hierdie versekering dryf die Psalmdigter daartoe om die Here se lof te besing.
Die vyf sola’s wat uit die Kerkhervorming ontwikkel het, is: Christus alleen; Skrif alleen; genade alleen; geloof alleen; en aan God alleen die eer. Psalm 46 omvat al vyf hierdie formules, want dit herinner ons aan die belangrike geloofswaarheid dat God alleen ons skuilplek en beskutting is. Deur die redding in Jesus Christus het God boonop vir ons finale veiligheid gebring.
Gesang 476
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

26 Oktober 2024 – Bou voort
Haggai 1: 1 – 2: 9
Haggai is een van die 12 kleinprofete van die Ou Testament. Hy het opgetree in ’n tyd toe die volk op moedverloor se vlakte was. Hulle het pas teruggekeer uit ballingskap in Babilonië. Maar die ballinge wat teruggekeer het, het voor ’n aantal uitdagings te staan gekom. Die eens magtige en indrukwekkende stad Jerusalem en die Jerusalemtempel was in ruïnes. Die teruggekeerde ballinge sal van voor af moet bou aan hul stad, hul tempel, hul lewe en geloof. Hierdie enorme taak het soos ’n berg voor die ballinge gelê. Tot so ’n mate dat hulle totaal ontmoedig was. Hulle besluit om eerder eers hul eie huise te bou, voordat hulle die Here se huis, die tempel, herbou. Naderhand het die opvatting onder die mense ontstaan dat dit nie nou die tyd is om die tempel te herbou nie. Op hierdie punt roep die Here vir Haggai om met die volk te praat.
Haggai se doel was nie net om die volk moed in te praat nie, hy moes hulle ook wys op die ware betekenis van dit waarmee hulle besig is. Dit gaan nie bloot om die herbou van ’n gebou nie, dit gaan oor die heropbou van ’n geloofsgemeenskap. Dit gaan ook oor prioriteite – om die werk van die Here bo hul eie gemak en belange te stel.
Ons het vandag steeds die voorreg om deel te wees van die kerk van die Here. Maar, soos die volk in Haggai se tyd, val ons ook maar ten prooi aan allerlei versoekings. Ons moet ook daaraan herinner word dat ons gemak en eiebelang nie belangriker moet wees as ons verhouding met die Here en ons dienswerk in sy kerk nie. Daarom bly die opdrag aan die teruggekeerde ballinge ook ons opdrag – ons moet voortbou aan God se kerk. Ons kan hierdie grootse taak aanpak met moed en sekerheid in die wete dat die Here ons in sy hand hou en self sy kerk in stand hou. Daarom – skep moed, moenie bang wees nie. Hou aan met die werk van die Here, tot sy eer.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

25 Oktober 2024 – Lewende stene
1 Petrus 2
Vir Petrus, wat hierdie brief skryf in ’n tyd waarin Christene vervolg en verwerp is deur die samelewing, gaan alles oor identiteit. As gelowiges weet wie hulle is, waar hul herkoms is, waarin hulle gegrondves is en waarheen hulle op pad is, sal geen mens of mag of omstandigheid hulle onderkry nie. Petrus vind die basis van gelowiges se bestaan en identiteit in Christus se opstanding, soos 1 Petrus 1: 3 reeds getuig: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop…
In 1 Petrus 2 gebruik die skrywer bepaalde metafore om ons bestaan en identiteit as Christene uit te beeld. Deur middel van hierdie metafore word ons aangemoedig om tot ’n nuwe selfbesef en visie te kom oor ons menswees en ons kerkwees. Die eerste beeld wat Petrus gebruik, is dié van ’n gebou waarin Christus die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou is. Eers wanneer jy kies om jou lewe op die Lewende Steen te bou, word jy self as lewende steen opgebou om deel te vorm van God se geestelike huis. Die tweede groep metafore is eretitels wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is. Petrus beskryf gelowiges as ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie wat aan God behoort. Dit gaan oor God se genadehandelinge met sy kinders. As geloofsgemeenskap is ons afgesonder vir God, geroep tot sy diens, in lewe en sterwe behoort ons aan God.
Tot vandag toe wil Petrus se woorde ons vermaan om toegewyde Christene te wees, maar ons tog ook verseker dat ons behoort aan God. In hierdie deurmekaar wêreld, waar almal op soek is na betekenis, na ’n sin van identiteit, nooi Petrus ons uit: Kom na die lewende steen… In hierdie deurmekaar wêreld, waar die belangrikheid van geloof en ’n verhouding met God misken word, roep Petrus ons op: Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

24 Oktober 2024 – ’n Brief van Christus
2 Korintiërs 3: 1-6
Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense (1 Kor 3: 3).
Paulus gebruik dikwels metafore wanneer hy met die mense praat vir wie hy skryf. In die brief wat hy aan die mense in Korinte skryf, is dit ook nie anders nie. Paulus gebruik in die gedeelte wat ons saam gelees het, die beeld van ’n aanbevelingsbrief.
’n Aanbevelingsbrief is soos ’n getuigskrif. Paulus sê die mense van Korinte is sy aanbevelingsbrief. Wanneer mense na hul optrede kyk, sien hulle iets raak van die invloed wat die evangelie wat Paulus aan hulle verkondig, op hul lewe het.
In hierdie beeld het ons as gelowiges verskillende rolle. Aan die een kant, sê Paulus, is ons hart die papier waarop ander skryf. Dit vra wie is die mense wat op jou hart geskryf het? Wie is die mense wat ’n invloed gehad het op die mens wat jy vandag is? (Ons ouers, grootouers, onderwysers, noem maar op.) Wat is op jou hart geskryf? Is dit wat op jou hart geskryf is, ’n goeie getuigskrif van hulle wat daarop geskryf het?
Aan die ander kant, sê Paulus, skryf ons ook op die harte van mense. Ons mag net dit skryf wat getrou aan die waardes van God se koninkryk is. Ons pen mag nie gevul wees met die dinge wat volgens ons menslike maatstawwe reg en goed is nie. Ons pen moet gevul wees met God se Gees. Sodat ons op die harte van ander van God se liefde, genade, geregtigheid, vrede en vreugde kan skryf.
Die skryfwerk wat ons op die harte van ander doen, noem Paulus diens. Hierdie diens gaan oor betrokke wees in mekaar se lewens. Wanneer ons luister wat Christus, God, vir ons oor die lewe en die waardes van God se koninkryk sê, kan ons nie anders nie as om ’n boodskap van hoop en lewe op die harte van ander te skryf.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

23 Oktober 2024 – Luister na die wind
Psalm 19
Psalm 19 is deel van die Skeppingspsalms, dit is Psalms waarin vertel word hoe die hele skepping getuig van God se teenwoordigheid en standhoudende, voortdurende versorging vir alles wat leef en bestaan. Die natuur, sê die digter, het taal om van God se liefde te vertel. Wanneer ons luister, sal ons dit hoor. Dit het my laat dink aan die lied wat Christa Steyn geskryf het en wat Anneli van Rooyen sing: Luister na die wind.
As jy alleen deur bosse stap, en die eensaamheid in jou hand kan vat, as die son die stiltes stiller bak, luister na die wind. Soos klipkop en soos doringbos. Die eenlingskap ken jy mos, want daar’s dinge wat die wind vertel, wat mense nooit kan sê.
Luister na die wind wat waai en skuur deur buffelgras. Luister na sy fluister-praat, soos riet silinder blaar, na kantates tussen blare van die bos en kremetart. En sifreën wat ons toevou in die nag.
As ek alleen deur ruigtes stap, en die besies in die soetgras roep … luister na die wind.
Daar’s dinge wat die wind vertel wat mense nooit kan sê, die woorde wat in stiltes … kom lê. Die wind vertel ons stories van oranje kampvuurlig, luister, luister na die wind, luister na die wind…
Dit gaan oor ’n luister wat gegrond is in jou liefde vir God. Dit vertel van luister na God se woord, God se wil, omdat dit vir jou goed is, soeter as heuning, sê die digter. God se woord gee lewe, leer ons om God te vertrou, om ons harte vir die Here oop te maak en saam met die digter te bid: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

22 Oktober 2024 – Alles is genade
Matteus 20: 1-16
Jesus gebruik die gelykenis om die mense van sy tyd, en ons, iets van God se barmhartigheid, liefde en genade vir God se mense te laat verstaan. In die gelykenis verwys die eerste arbeiders wat gehuur is waarskynlik na die Joodse leiers wat ongemaklik en ontevrede was met Jesus wat Hom besig gehou het met die laastes, en die laagste mense in die gemeenskap van daardie tyd. Die koninkryk van barmhartigheid en genade wat Jesus kom aanbied vir die mense, was vir hulle nie aanvaarbaar nie. Dit was vir hulle belangriker om deur die nakom van wette God se vergifnis te verdien. Hulle lewe in ’n wêreld waarin hulle glo jy kan net dit ontvang wat jy verdien.
Die gedagte van “beloning volgens verdienste” is nooit ver uit ons gedagtes nie, ten spyte daarvan dat ons in ons Protestantse tradisie bely dat ons deur genade alleen, deur geloof alleen, gered word. Ook ons dink soms dat ons God se liefde en genade moet verdien, dat ander dit moet verdien.
Die gelykenis leer ons dat God regverdig, goed en barmhartig is. Ons kan nie besluit vir wie God goed mag wees en hoe God genadig moet wees nie.
Kom ons wees bly en dankbaar omdat God regverdig, goed en barmhartig is en dat ook ons deur genade alleen die volheid van God se liefde mag ervaar. Kom ons hou vas aan die woorde van Gesang 244 vers 1: Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen… En vers 2: Christus kom deur u ontferming, deur Hom reik U ons die hand. U neem sondaars in beskerming – liefde ver bo ons verstand. Christus red ons deur sy dade; Hy laat ons u liefde sien – liefde wat ons nooit verdien… En vers 3: Heer, u Gees beseël die waarheid dat ons nou u kinders is – ons verlossing is gewis.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

21 Oktober 2024 – Kom na My toe…
Matteus 11: 28-30
Die meeste van ons weet hoe dit voel om uitgeput en oorlaai te wees. ’n Uitnodiging soos dié van Jesus nooi ons uit om ons lewe te ondersoek, en eerlik te kyk wat die dinge is wat bydra daartoe dat ons uitgeput en oorlaai voel. Wat is die dinge wat soos ’n juk swaar op jou skouers druk?
Die juk wat swaar gedruk het op die skouers van die mense aan wie Jesus die uitnodiging rig, was dit wat hulle geleer is oor hoe hulle in God se teenwoordigheid mag kom. Al die reëls en gebruike wat eers nagekom moes word voordat hulle volgens die samelewing van daardie tyd vir God aanvaarbaar sou wees.
Jesus sê dit wat Hy aanbied, is anders, dit is sag en lig, dit bring rus. Jesus wys ons God se sagmoedige hart. Deur Jesus ontvang ons vrye toegang tot God. Ons leer by Jesus hoe ons en ander ingesluit word in die kring van God se liefde. Ons sien by Jesus God se liefde vir ons mense, hoe genade lyk, hoe ons self soos Jesus vrede en rustigheid kan ervaar in God se teenwoordigheid. Ons leer by Jesus om rustig te wees in hierdie lewe, in die wete dat ons nie in beheer hoef te wees van alles nie, omdat Jesus is. Kom ons word rustig by Jesus en kies, soos Maria wat sit aan Jesus se voete, die beste deel – om te luister na Jesus en te lewe uit sy krag wat in en deur ons vloei.
Gebed
Here, ek wil vandag dit wat my in my lewe uitgeput en oorlaai laat voel, voor u voete neersit. Gee aan my die rus in my gemoed wat ek nodig het om in hierdie lewe toegewy aan U te lewe. Amen.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

20 Oktober 2024 (Dankdag vir die Oes / Biddag vir die Gesaaides) – Onkruid in die koninkryk
Lukas 13: 18-19
In ons tuine en veral ook in die landboubedryf is daar een ding wat tuiniers en boere ’n groot kopseer gee – onkruid! Jy kan maar onkruid bespuit en uitkap soos jy lus kry, maar dit bly altyd op die een of ander manier weer terugkom. So, vertel Jesus vir ’n skare mense, is God se koninkryk ook. Die koninkryk van God is soos onkruid! In die Bybelse tyd was die mosterdplant ’n onkruidplant wat die tuin oorgeneem het as die sade daarvan eers in die tuin beland het.
Duidelik was dit die geval met die evangelie wat Jesus verkondig het, want oral waar Hy dit verkondig het, was dit vir ’n klompie van die Joodse leiers ’n groot probleem. Hul godsdienstige tuin het net sekere gedagtes rondom God geplant, maar nou kom Jesus met sy gedagtes wat soos onkruid in hierdie tuin versprei het. Jesus moedig juis aan dat Christenskap só moet groei – wild, onverwags en oral!
Alhoewel die mosterdplant ’n onkruid was, het dit tog ook goeie waardes gehad. Eerstens, soos ons dit vandag ken, kan dit gebruik word vir ’n smaak- of geurmiddel by kosse. Tweedens kan dit gebruik word as ’n medisyne vir verskeie kwale. Dit kan gebruik word om verskeie maag-, keel-, mond-, inwendige en uitwendige sere en kwale te genees. Dit kan as ’n teenmiddel gebruik word vir slangbyte en skerpioensteke. Dit kan fungusse neutraliseer. Daarom was dit terselfdertyd ’n baie voordelige plant.
Die koninkryk van God is soos ’n mosterdplant. Dit versprei verwoed, tot so ’n mate dat die evangelie al regoor die wêreld versprei het. Daar waar die koninkryk van God is, bring dit genesing vir mense se harte en wonde. Die grootste genesing is die genesing van ons sondetoestand wat Christus vir ons bewerkstellig het. Ons dank daarom die Here vir die saad van geloof wat geplant is en wat steeds vandag nog wild en welig versprei en genesing bring vir die wêreld.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

19 Oktober 2024 – Om te saai ten spyte van…
Markus 4: 1-9
Die saaier het ’n klomp dinge wat sy saaiery in die wiele ry. So is daar ook baie hindernisse en struikelblokke as dit kom by die verkondiging van die evangelie in daardie tyd. Vandag is dit steeds die geval. In die tyd van die vroeë kerk was die Romeinse Ryk, die Joodse Raad, die goddeloses en die bose almal sulke hindernisse wat die verkondiging baie moeilik gemaak het. As ons kyk na die wêreld van vandag, wat al hoe meer propageer dat God nie bestaan of ’n rol speel nie, die Christelike geloof wat al hoe meer op die agtergrond tree en mense in die kerk wat die geloof en die kerk verlaat of verraai, dan besef ons hoe relevant Jesus se boodskap vir ons ook is.
Dan kan ons ook gerus luister na sy goeie nuus: Daar ís nog goeie grond oor wat ’n baie goeie oes lewer! Daar ís nog mense wat luister na God se Woord. Wat dit ter harte neem en in wie se lewens dit ’n baie groot verskil maak – mense in wie se lewens dit ’n groot oes lewer. Dit is die reggeaarde gelowiges wat ’n diep en lewende verhouding het met die Here. Gelowiges wat graag ook hierdie verhouding verkondig met woord en daad. Gelowiges wat op die Here vertrou ten spyte van al die dinge en omstandigede wat teen ons gekant is.
Die Here het gewys dat selfs die dood ons nie kan skei van die liefde van God nie. Dat Hy die bose en die dood oorwin het ter wille van ons. Dat die verhouding tussen God en die mens weer herstel is. Dít is die wonderlike boodskap wat op ons lippe moet wees. ’n Boodskap van hoop. Ons moet daarteen waak om so vas te val in al die negatiewe van die wêreld dat ons selfs diegene wat positief is ook negatief maak. Kom ons fokus eerder op die Hoop wat die evangelie verkondig – Jesus Christus, die lewende Heer!
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

18 Oktober 2024 – Wie is werklik in beheer?
Markus 4: 1-9
In hierdie tyd van die kerkjaar dink ons aan God se werk in die kerk en in die wêreld. Dit gaan in wese oor God se voorsiening vir en sorg van sy kerk en die wêreld.
In Jesus se tyd het die Romeinse Ryk beheer gehad oor die meeste aspekte van hul onderdane se lewens. Land, water, kos en geld. En so het hulle veral die nie-Romeinse burgers onder die duim gehou deur hulle swaar te belas en te onderdruk. Dit is waarna die paaie, swak grond, voëls en dorings in die gelykenis simbolies verwys het. Boonop het die Romeinse Ryk se propaganda vir mense oral gewys en gesê dat die keiser die een is wat die mense voed. Hulle het, met ander woorde, gepropageer dat dit die keiser is wat die oeste voorsien.
Maar Jesus sê hier vir ons dat dit God is! God is die een wat die goeie oes laat opkom! Jesus skuif die mense se denke weg van die keiserkultus af wat gesê het dat die keiser die seun van die gode is. Jesus sê en wys eerder dat Hy self die Seun van God is. Dít is ’n bitter gevaarlike boodskap wat Hy verkondig in so ’n gevaarlike tyd en plek. Maar Jesus het vreesloos die waarheid vir mense kom wys. En sy boodskap het Hy nie op hulle kom afdwing soos die keiser of ’n diktator nie. Hy het dit vir hulle kom verkondig deur nederig te wees. Dit is die God wat ons dien en verkondig. Dit is die boodskap wat vir hierdie klomp onderdrukte bestaansboere weer nuwe hoop gee!
Dat God die Skepper en Onderhouer is wat voorsien in ons daaglikse behoeftes en dat God soos ’n ouer na ons omsien en nie soos ’n diktator nie, het die gelowiges deur hul swaar omstandighede gedra. Dit is die boodskap wat ons ook deur moeilike omstandighede dra. Die Here sorg en voorsien in liefde vir sy kinders.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

17 Oktober 2024 – Herontdek, hervorm, herleef
2 Konings 23: 1-3
In die erediens is die wil of wet van God ’n baie belangrike element waar ons bely dat ons as gelowiges beweeg word deur God se genade om sy wil na te streef en uit te leef.
Josia het belowe om met hart en siel die Here en sy wil te volg. En die volk het raakgesien dat hy opreg is daarin. Hulle het besef dat hulle so iemand kan volg. En hulle het! Josia het ’n totale geloofshervorming in die land in beweging gebring. Hulle het die tempels skoongemaak van enige afgodery, alle afgodsbeelde wat nog uit Salomo en sy heidense vroue se tyd gekom het, het hulle vernietig en verwyder. Hulle het weer volgens die wette van God begin leef. Hulle het op ’n nuwe bladsy begin. ’n Skoon breek gemaak met alles wat hulle verslaaf en van God af weggehou het. En dit alles op grond van die Woord van God wat hulle herontdek het.
Is dit nie weer tyd dat ons die belangrikheid van God se Woord vir ons geloof en lewe herontdek nie? Ons kan so maklik vasval in allerlei aardse dinge wat ons aandag van God aftrek, en dan vergeet ons die ware betekenis en die diepte van ons geloof. Dit is juis in die dieptepunt van ons geloof dat ons hervorm word. Die dieptepunt van God se liefde wat ons elke dag van ons lewe dra. Die dieptepunt van die lyding wat Jesus Christus vir ons moes dra, selfs die dood in. Die dieptepunt van die verlossing van ons sondes en van die ewige dood. Is dít nie genoeg om ons weer in die geloof te hervorm nie?
As ons besef wat die Here vir ons gedoen het, kan ons nie anders nie as om, soos Josia, ’n herlewing in ons geloof in beweging te bring. ’n Herlewing wat aangeblaas word deur ons dankbaarheid vir alles wat ons uit God se hand ontvang. ’n Herlewing waar ons leer om te vertrou, verantwoordelikheid te neem vir ons geloof en gemeente. Kom ons herbevestig aan God dat ons Hom met hart en siel sal volg.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

16 Oktober 2024 – Wedersydse vertroue
2 Konings 22: 1-7
Josia was ’n koning in die Bybel wat, naas Dawid, een van die beste konings was. Hy was so ’n goeie koning omdat hy uitgeleef het wat hy glo.
Hy het as agtjarige seun koning geword toe sy pa doodgemaak is deur mense van die land. Sy pa en oupa was van die vele konings wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Sy oupa en pa het nie op die Here vertrou nie, maar hy het. Josia se vertroue op die Here het ’n hele nuwe dinamika bewerkstellig onder die volk.
Toe Josia ouer geword het, het hy onderneem om die tempel te herstel. Die tempel van Jerusalem en die tempelaanbidding van die Israeliete het met verloop van tyd, met die invloed van slegte konings en oorloë teen Israel, agteruitgegaan. Josia het toe begin om geld in te samel vir hierdie herstelwerk. Hy stel die fondse beskikbaar aan die bouers, messelaars en vakmanne sonder om rekenskap van hulle te vra. Hy het hulle vertrou. Josia se vertroue in die Here het daartoe aanleiding gegee dat hy ook ander kon begin vertrou. So begin Josia die bou- en herstelwerk aan die tempel op die beginsel van wedersydse vertroue.
Die beginsel van wedersydse vertroue is wat ons juis by die kerk moet toepas, tot vandag toe. Mense vertrou mekaar nie meer nie. Mense stel ons teleur, daar is soveel korrupsie en oneerlikheid in die wêreld rondom ons dat ons nie meer weet wie ons kan vertrou nie. Boonop sukkel ons om oor te gee aan ander. Ons wil nie net sommer iets oorgee vir iemand anders om te doen nie, want hulle gaan dit mos nie so goed soos ekself doen nie. Josia se onderneming om die tempel te herstel, leer ons weer dat ons by die kerk juis anders moet leef as die wêreld. As ons op die Here vertrou, kan ons mekaar leer vertrou.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

15 Oktober 2024 – Van uitstel kom afstel
Lukas 14: 15-24
In Jesus se gelykenis word vertel van ’n baie groot geleentheid waar daar baie kos voorberei is en groot moeite gedoen is. Maar tog het die genooide gaste elkeen ’n verskoning. Dit maak die gasheer kwaad, want hulle mis die feesmaal en gee aanstoot aan die gasheer omdat hy reeds al hierdie voorbereidings getref het. Die gasheer besluit dan om al die mense te nooi wat nie eintlik waardig genoeg sou wees om by hierdie hooggeagte gasheer te kan eet nie. Hy nooi al die mense wat die minste status en aansien het in die dorp – die mense wat gebreke het en dié wat arm is.
En dit is hoe die koninkryk van God werk! Jesus verduidelik dat daar ’n klomp mense is wat al lankal weet van die feesmaal, oftewel die koninkryk, wat kom, maar dan word hulle so gewoond aan die idee dat dit eers later sal kom, dat hulle nie die geleentheid aangryp wanneer dit daar is nie! Gelowiges verval in so ’n gemaksone dat hulle nie die Here herken nie en ook nie die koninkryk wanneer dit hier is nie! En wat doen die Here dan? Daardie mense wat deur gelowiges afgeskryf is as mense wat nie soos kerkmense lyk nie, hulle word dié wat genooi word. Hulle is ook dié wat maar te bly is om die geleentheid aan te gryp – want hulle weet hulle verdien die geleentheid nie eintlik nie, maar tog is God se genade ongelooflik groot. Want ons is almal sondaarmense.
Besef ons nog dat die Here vir ons verlossing gebring het van al die slegtheid wat in ons harte inkruip? En dat ons dit nie verdien nie? Die eerste genooides het nie meer die ongelooflikheid van God se genade begryp nie. Die gevaar van mense wat lankal gelowiges is, is dat party van hulle nie meer verwonderd of verslae is oor die uitnodiging nie. Dit word vanselfsprekend. Mag ons altyd verwonderd bly oor God se genade en sy koninkryk. Mag ons, as sondaarmense, altyd die uitnodiging met beide hande aangryp!
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

14 Oktober 2024 – Om kerk te wees
1 Korintiërs 3: 4-17
Wat beteken dit om kerk te wees? Paulus beantwoord hierdie vraag wanneer hy skryf aan ’n gemeente wat nie daad by hul woord laat pas het nie. Hy gebruik dan drie beelde om dit meer verstaanbaar te maak: saailand, gebou en tempel.
Die gemeente as saailand gaan daaroor dat Paulus die saadjie van geloof kom plant het, Apollos het dit natgegooi, maar net die Here kan dit laat groei. As hulle dan stry oor die planter en die natleier, dan is hul fokus op die verkeerde plek.
Tweedens word die gemeente as gebou van die Here uitgebeeld. Die gemeente en hul geloof word op die fondament van Jesus Christus gebou. Die gemeente is die stene. Maar die stene moet goed gebou word en die stene moet saam ’n struktuur wees wat sterk staan. Hierdie bouwerk moet met integriteit gedoen word om die geloofstoets te kan weerstaan. ’n Kerk kan nie op menslike, wêreldse neigings en teorieë gebou word nie, maar alleen op die onverbloemde boodskap van die gekruisigde Christus.
Derdens dien die gemeente self ook as ’n tempel waarin God se Gees woon. Dit is wonderlike nuus, want dit beteken dat God nie net meer teenwoordig is in ’n fisiese tempel nie, maar by die gemeentelede. Daarom moet die gemeente hierdie “tempel” oppas en dit ook nie self vernietig nie. Hulle moenie hulself besig hou met jaloesie, rusie en groepvorming wat afbreuk doen aan die geestelike tempel van God nie. Hulle moet juis die eenheid onder mekaar in die gemeente ten sterkste bevorder en bewaar. Hierdie geestelike tempel, die gemeente, moet ’n “plek” wees waar die grootste gawe van Liefde kans kan kry om te ontwikkel. God het die tempel gekies en daarom moet dit onderskei kan word van die wêreld.
Daarom kan ons sê dat om kerk te wees, gaan daaroor om ’n eenheid te wees in Christus. ’n Eenheid wat saam groei in geloof en liefde. Dit is groei wat net deur God moontlik gemaak kan word. Die kerk en gelowiges mag dalk in die wêreld wees, maar ons is nie van die wêreld nie.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

13 Oktober 2024 – Ja, jy het ’n rol om te speel
Romeine 12: 4-8
Die mensdom darem. Ons het menings oor alles en nog wat. Maar wanneer die kerk ter sprake kom, dan skakel ons oor na die hoogste versnelling. Oor kerk kry jy kategorieë mense en menings. Daar is die kom-ons-sien-hulle-reg-kategorie. Daar is die kom-ons-loop-kategorie. Daar is ook die hierdie-plek-is-nie-vir-my-nie-kategorie. En dan is daar die kerk-is-iets-wat-ons-aan-die-kundiges-moet-oorlaat-kategorie. Dit is hulle wat sê: Dis tog hoekom die kerk ’n predikant en personeel het. Ja, ons moet beslis die kerk aan die kundiges oorlaat!
By wyse van spreke vra ek myself af: Op watter punt het kerkwees ’n toeskouersport geword? Jy weet mos wat hulle sê: Kerk is soos ’n sokkerwedstryd. Vier en twintig duisend mense wat dringend oefening nodig het, sit op die pawiljoen en kyk na die vier en twintig ouens op die veld wat dringend rus nodig het. Is dit regtig hoe dit bedoel is om te wees?
Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid. (Rom 12: 4-8)
Ja, jy het ’n rol om te speel. ’n Rol wat God volgens sy genadige beskikking aan jou gegee het. Kerkwees was nooit bedoel om ’n toeskouersport te wees nie. Watter gawe God jou ook al gegee het, gebruik dit. Tot eer van God en tot opbou van sy kerk.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

12 Oktober 2024 – Die tempel van God
1 Korintiërs 3: 16-17
Net vir ’n oomblik: Verbeel jou jy word genooi om ’n beroemde gebou te besoek, soos die Taj Mahal of die Wit Huis. Hoe sal jy voel? Wat sal jy doen? Hoe sal jy optree? Sal jy die skoonheid, geskiedenis en betekenis van die plek waardeer? Verbeel jou nou jy is nie net ’n besoeker nie, maar dat jy regtig in so ’n gebou woon. Hoe sal dit jou gevoelens en aksies verander? Sal jy dit as vanselfsprekend beskou, of dit koester? Sal jy dit verwaarloos, of dit instandhou? Sal jy dit misbruik, of dit beskerm? Sal jy dit deel, of dit vir jouself hou?
Wel, ek het goeie en slegte nuus vir jou. Die slegte nuus is dat dit nie een van daardie geboue is wat ek aan die begin genoem het nie. Die goeie nuus is dat jy wel in ’n beroemde gebou woon. Dit oortref daardie geboue in alle opsigte. Paulus sê: Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.
So, wat beteken dit vir jou? Jy behoort nie aan jouself nie. Jy behoort aan God, wat jou geskep het en jou losgekoop het deur die bloed van Jesus. Selfs jou liggaam en gedagtes behoort aan God, jy kan nie meer willekeurig daarmee omgaan nie. Jy word geroep om God met jou hele wese te eer, en om jou gawes en talente tot sy eer te gebruik. Dit beteken ook dat jy nou nie meer net op jouself aangewese is nie – jy is nie alleen nie. Jy het die Heilige Gees wat in jou woon, wat jou lei, troos en bemagtig. Jy hoef nie meer die uitdagings en versoekings van die lewe alleen in die gesig te staar nie. Jy het ’n Helper en ’n Vriend wat altyd by jou is. Jy is heilig en spesiaal, omdat God self in jou woon.
Onthou wie jy is: die tempel van God. Koester dit. Beskerm dit. Leef dit. Loof God met alles wat jy is en het, want Hy is die bron van jou lewe en blydskap.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

11 Oktober 2024 – Nee, die kerk is nie volmaak nie
Matteus 13: 24-30
’n Lidmaat aan wie niemand hulle eintlik sou steur nie, vertel vir my haar kerkverhaal. Kort na haar troue het sy en haar man ’n kerk gesoek om by aan te sluit. Sy vertel dat hulle uit ervaring geweet het dat daar nie so iets soos die volmaakte kerk bestaan nie. Maar, sê-vra sy vir my: Raai wat het ons gesoek? Ja, die volmaakte kerk – die plek waar hulle net liedjies gesing het waarvan hulle sou hou, die plek waar die predikant ’n uitstaande prediker en ’n briljante herder was, naby die huis, sagte sitplekke (nie daardie harde ou houtbanke nie) en nie te veel lawaaierige, skreeuende kinders nie.
Sy eindig met: Ons het toe nooit so ’n kerk gekry nie. Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Byna elke kerk het mense gehad wat jy nie na jou huis sou nooi nie, mense saam met wie jy nie aan die Nagmaaltafel wou sit nie. Ons natuurlike reaksie was om reg in eie hande te neem – om daardie “skynheiliges” uit te sorteer. Maar dit was óns wat moes leer: Dit is nie die Jesus-manier nie en ook nie die Jesus-plan nie. In werklikheid was dit nooit.
Hy het nog ’n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. … Hy antwoord hulle (die slawe): ‘Dit is ’n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.” (Matt 13: 24-25; 28-30)
Die kerk is nie volmaak nie. Die kerk bestaan uit koring, onkruid en alles tussenin. Wees geduldig. Vertrou op God se oordeel, eerder as om sake in eie hande te neem. Uiteindelik is dit God wat die goeie van die kwaad sal skei en geregtigheid aan almal sal bring.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

10 Oktober 2024 – Die volmaakte kerk
Johannes 13: 34-35
Kan mense absoluut so keelvol vir iets of iemand wees dat jy alle bande verbreek? Ja, vir seker! Maar dis skreiend wanneer mense vir jou sê dat hulle gewoon so moeg is vir die kerk dat hulle eenvoudig net opgehou het om kerk toe te gaan. Dit is so maklik om die spot te dryf met hierdie ding genaamd “kerk”, bloot omdat ons in ’n wêreld leef waar ons ons laat mislei om te glo dat geld volmaaktheid kan koop. As jy genoeg geld het, kan jy die volmaakte vakansie, die volmaakte huis, die volmaakte motor, die volmaakte koffie-ervaring koop. Dit is natuurlik nie waar nie, want jy ontdek gou dat niks in hierdie wêreld volmaak is nie.
Nietemin, gegewe daardie ingesteldheid, is dit redelik maklik om te sien dat die kerk ver van volmaak is. Ek het onlangs hierdie oulike Engelse gediggie raakgeloop en was veral diep geraak deur die ongekunstelde waarheid daarvan:
The Perfect Church
I think that I shall never see, a church that’s all it’s meant to be;
a church whose members never stray,
beyond the straight and narrow way;
a church that has no empty pews, whose pastor never has the blues;
a church whose elders always speak, and none is proud and all are meek.
Such perfect churches there may be, but none of them are known to me.
But still we’ll work and pray and plan, to make our church the best we can.
Dit lyk vir my asof ons óf op die kantlyn kan staan, en van daar af die spot met die kerk kan dryf en so deel van die probleem bly, óf deel kan word van die spel en deel kan word van die oplossing. Dus, in ’n onvolmaakte kerk vol onvolmaakte mense, wat is die oplossing? Jesus het dit so gestel: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.
Deur mekaar lief te hê, demonstreer ons die liefde van God aan die wêreld en getuig ons van die lewensveranderende krag van die evangelie.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

9 Oktober 2024 – God se familie
Hebreërs 10: 23-25
Kom ons wees eerlik. Die kerk kan soms ’n pyn in die nek wees. Regtig, dit kan. In die kerk is daar moeilike mense, die predikant is nie altyd so goed soos hy of sy moet wees nie en daardie aanbiddingsmusiek wat hulle speel…
Jare gelede het ’n vriend my genooi om saam met hom in die Karoo te gaan jag. Die mense van die omgewing was dit eens dat dit ’n matige winter was; vir my was dit een van die koudste winters wat ek nog beleef het. Na ’n koue dag in die jagveld is ons egter terugverwelkom met ’n groot, brullende kaggel by die plek waar ons oornag het. Daar is ure lank gekuier. Ons het die vuur met steenkool gestook, en elke nou en dan sou ’n rooiwarm stuk steenkool uitval op die groot stuk klip wat in die vloer voor die kaggel ingebou is. Binne net ’n paar minute sou hierdie brandende, warm, gloeiende rooi stuk steenkool swart word. Binne ’n halfuur kon jy dit optel. En binne ’n uur was dit koud. Daar, reg voor my oë, speel die prentjie hom af – van ons as gelowiges wat die voorreg van saamwees verwaarloos én die koudwordgevolge.
Hoe moeilik dit ook al soms kan wees, God se familie gaan oor ondersteuning en aanmoediging en inspirasie. Dit gaan daaroor om seker te maak dat ons nie koud of lou word in ons geloof nie. Dit gaan daaroor om seker te maak dat die vuur wat in ons harte vir Jesus brand, nie ophou brand nie.
Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Heb 10: 23-25).
God se familie sien om na mekaar. God se familie hou nooit op om mekaar aan te spoor en aan te moedig nie. Ja, kerkmense is familie.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

8 Oktober 2024 – Kerklike ontruimingsplanne
Hebreërs 10: 23-25
Baie mense wat in Jesus glo, het hulself uit die kerk ontruim, ja, opgehou om deel van ’n kerk te wees. Die kerk is nie noodwendig meer die tradisionele klipgebou op die hoek nie. Die kerk kan ewe maklik ’n handjievol gelowiges wees wat saam in ’n kafee vergader. Maar baie van God se mense doen nie eens dit nie.
’n Engelse kollega vertel hoe stiptelik hul gemeente wetgewing oor beroepsgesondheid en -veiligheid implementeer. Hulle het ’n groot, moderne kerkkompleks. Oral in die gebou is daar deursigtige plastieksakkies met die gemeente se ontruimingsplan en versamelpunte daarin. Tot sy eie skande vertel die kollega hoe ’n lidmaat hom met die ontruimingsplan in ’n lokval gelei het. Die lidmaat maak so ewe droog ’n opmerking oor die netjiese ontruimingsplan, en toe die kollega dankbaar en tevrede reageer, sê die lidmaat hy is so dankbaar dat hulle as lidmate vir die kerkraad so belangrik is – hulle verskaf selfs ontruimingsplanne vir indien die preke te lank en vervelig raak!
Na alles, beskou mense godsdiens dikwels as op ’n manier vervelig. Ek bedoel, wie wil op ’n Sondag van alle dae opstaan, op ’n harde bank gaan sit en luister na iemand wat vir ’n halfuur of langer aanhou? Hier is wat “kerk” egter bedoel is om te wees, volgens Hebreërs 10: 24 en 25: Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade. En laat ons tog nie, soos party gemeentelede die gewoonte het, versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.
Kerk is ’n plek waar ons mekaar kan aanspoor. Ek weet, ek weet … jou plaaslike kerk is dalk nie so perfek nie. Maar hier is wat dit kan wees: ’n plek waarheen jy kan gaan en ander mense in hul geloof aanspoor, ’n plek waar jy ’n ewige verskil in ander mense se lewens kan maak.
Ons mag nie, soos sommige doen, ophou om saam te vergader nie. Nee, ons moet aanhou om mekaar aan te moedig om tot eer van God te leef.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

30 September 2024 – Verwondering vir God se skepping
Job 38-39 (AFR2020)
Ek wil hierdie week veral stilstaan by ontsag en verwondering vir God. Dit is nie net die fondament vir wysheid nie, maar ook die spil waarrondom geloof wentel. Ons sal elke dag ’n ander aspek van hierdie gelaaide terme bekyk. Op die laaste dag in die kerklike jaar waar ons God se werk in die skepping bedink, wil ek begin by die verwondering vir God se skepping. Die grootsheid van God se skepping word met digkuns in Job 38 tot 41 beskryf.
Die boek Job is vir baie mense ’n gewigtige boek om te lees, juis omdat dit Job se lyding beskryf. Ons almal ken Job se verhaal. Sy vriende probeer hom oortuig dat hy gestraf word vir iets wat hy verkeerd doen. Job en sy vriende voer debat oor God en oor hoe God te werk gaan. In daardie tyd het die mense geglo (soos baie mense vandag nog glo) dat ’n goeie lewe gewaarborg is vir dié mense wat goed lewe. Boeke soos Job en Prediker is juis geskryf om daardie wanpersepsie te ontbloot.
Nadat Job saam met sy vriende God probeer ontrafel het, en Job selfs so ver gaan om te sê dat God hom moet antwoord (Job 31: 35), antwoord God hom wel. Dit is interessant dat God hom nie ’n pertinente antwoord gee nie. God praat met hom uit ’n stormwind en wys hom op die grootsheid van die skepping. Die Skeppergod vra vir Job of hy dink dat hy, wat nie eens die skepping kan beheer nie, opgewasse is om God onder kruisverhoor te neem.
Wanneer Job bewus word van God se grootsheid en almag, vou hy sy hand oor sy mond en erken nederig dat hy uit sy beurt gepraat het. In aanskoue van God se grootheid besef hy sy nietigheid en afhanklikheid, tóg vind hy berusting in die wete dat hierdie Skeppergod ook sy lewe beheer.
Waar daar verwondering vir God se skepping is, is daar spontane ontsag vir God en dankbaarheid vir sy genade.
Gesang 464
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

29 September 2024 – Ons geloofserfenis
2 Timoteus 1: 1-18
In 2 Timoteus skryf Paulus aan Timoteus oor sy erfenis in die geloof. Paulus was in daardie stadium in die tronk in Rome in die middel van sy verhoor. Maar die verhoor het nie goed verloop nie en Paulus is oortuig daarvan dat hy binnekort gaan sterf. Vanuit hierdie situasie skryf Paulus die brief soos ’n testament waarin sy laaste woorde en geloofsbeginsels vervat is. Dit gaan hier oor Paulus se geestelike erfgoed wat hy aan Timoteus oordra.
Paulus dra sy geloofserfenis aan Timoteus oor deur terug te kyk oor sy eie lewe en bediening in diens van God. Paulus se bediening kan in party opsigte soos ’n mislukking lyk – daar was mense wat sy gesag bevraagteken het, valse leraars het sy verkondiging ondermyn, daar was voortdurend vrae en probleme by die gemeentes wat hy gestig het, en boonop het hy in die tronk beland omdat hy die evangelie van Jesus Christus verkondig het. Wanneer Paulus egter terugkyk op sy lewe as gelowige, fokus hy nie op die teleurstellings en swaarkry nie. Hy sien eerder die Here se teenwoordigheid raak. Daarom kan hy, selfs in die aangesig van die dood, vashou aan die belofte van lewe in Christus. Op grond hiervan, roep Paulus vir Timoteus op om sy roeping in diens van God te aanvaar. Timoteus het, soos Paulus, allerlei ontnugterings en teleurstellings beleef in sy bediening. Maar Paulus verseker hom dat die Here self waarborg dat Hy vir Timoteus in staat sal stel om getrou te bly aan sy roeping as verkondiger van die evangelie.
2 Timoteus 1 roep alle gelowiges op tot ’n vreeslose en skaamtelose verkondiging van die evangelie, ons geloofserfenis. Die evangelieboodskap het oor al die eeue heen dieselfde gebly. Oor geslagte heen is hierdie erfenis bewaar en oorgedra. Ons is maar ’n skakel in die ketting. Ook ons is geroep – soos Timoteus – om in ons leeftyd die getuienis van ons Here oor te dra. Mag die Here ons deur sy Gees inspireer om vas te hou aan die suiwer leer, sodat ons die kosbare pand wat aan ons toevertrou is, ons lewe lank kan bewaar.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

28 September 2024 – ’n Lewende verwagting
Romeine 8: 18-30
Romeine 8 vertel van die verhouding tussen God die Skepper en God se skepping. Dit is ’n besondere tema wat ons geloofsnadenke verby onsself rig. Eie aan die mens, is ons geloof maar baie keer antroposentries. Met ander woorde, die mens, die eie ek en mý verhouding met God, staan sentraal in ons geloof. Dan verloor ons egter die groter prent uit die oog, die groter heilsplan waar God nie net met die mens op pad is nie, maar met die ganse wêreld, die ganse skepping. God se verlossing is nie net vir die mens bedoel nie, maar vir alles wat deur God geskep is.
Paulus wil ons gedagtes op hierdie werklikheid rig in Romeine 8 wanneer hy die mens se belewenisse op aarde in universele perspektief plaas. Hy praat spesifiek in hierdie gedeelte oor die belewenis van swaarkry en lyding. Dit is nie net die mens wat aan verganklikheid en lyding onderworpe is nie, alles in die teenswoordige wêreld is daaraan uitgelewer. Maar dit is opvallend dat Paulus die lyding en gebrokenheid van hierdie wêreld nie net in terme van die sondeval plaas nie, maar ook in terme van die kruis en opstanding van Jesus Christus. Juis in Christus word God se oordeel oor skepsel en skepping voltrek en breek God se genade van herstel en heelwording aan. Op grond van Christus se oorwinning is die swaarkry en lyding van hierdie wêreld maar tydelik en gering. Op grond van Christus se oorwinning wag daar ’n toekomstige heerlikheid op die ganse skepping. Die opstanding van Christus uit die dood, bring ’n einde aan dood en verganklikheid, dit bring ’n einde aan ’n sinlose bestaan – vir die mens en die skepping. God se herskeppende aktiwiteit in Christus omvat die hele aarde.
Op grond hiervan leef ons en die skepping saam met ons met ’n hunkering, ’n sug, amper asof skepping en skepsels saam asem ophou vir die aanbreek van God se volheid. In hierdie hunkering, asem ophou, is die lewende verwagting vervat dat Hy wat ons vrygespreek het, ons ook sal verheerlik.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

27 September 2024 – Lentegroei
1 Petrus 2: 1-6
Lente word gewoonlik gesien as ’n tyd van ongekende groei, wanneer die natuur sy prag herstel, ná die koue aanslae wat die winter daarop agtergelaat het. Dit is ’n tyd wanneer die eerste tekens van nuwe lewe weer sigbaar word en die natuur met ’n rykdom van kleure versier word. Groei is egter nie net tot die natuur of spesifieke seisoen beperk nie. Die groeiproses vorm onlosmaaklik deel van ons totale menslike bestaan. Reeds voor geboorte is daar 40 weke se belangrike groei en ontwikkelling wat by ’n baba moet plaasvind, en dan is die regte voeding van onskatbare waarde. Dit stop nie daar nie, want vir baie jare daarna word hierdie groeipatroon voortgesit totdat ’n volwasse vlak uiteindelik bereik word, waarna dit stelselmatig weer begin afneem.
Petrus gebruik hierdie groeiproses van ’n baba as metafoor om die noodsaaklikheid van geestelike groei te verduidelik. Die groei na geloofsvolwassenheid mag nooit onderskat of verwaarloos word nie. Iets wat nie groei nie, stagneer, gaan agteruit en sterf op die ou einde. Daarom beklemtoon hy: Soos ’n pasgebore baba smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle kan opgroei. Die genade in Jesus, die kennis oor Jesus, gedrag soos Jesus en volgehoue betrokkenheid by Jesus, is die geestelike melk wat die gelowige sal help om te groei in die geloof, sterker te word in die vertroue en vrug vol liefde te dra.
Drink jy genoeg geestelike melk om in hierdie uitdagende tye suksesvol in die geloof te bly groei? Doen alles in jou vermoë om ook lentegroei in jou geloof te bring.
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

26 September 2024 – Begin jou dag reg
Psalm 57
Hoeveel dae van die week word ons nie wakker nie met ’n swartgalligheid in ons gemoed sonder dat ons werklik daarvan bewus is? Ons begin so dikwels ons dag, vasgevang tussen gister se foute en môre se bekommernisse, dat die onmiddellike oomblik by ons verbygaan. Ons murmureer en kla reeds vroeg in die oggend oor alles wat verkeerd is of moontlik verkeerd kan gaan, sodat die dag nie anders kan nie as om op hierdie trant vol te hou. Op sulke dae is ons verblind vir ons seëninge en fokus ons slegs op die tekortkominge. Ons verruil innerlike kalmte vir ’n ongesonde onstuimigheid.
Die Psalmdigter lê vele nagte wakker omdat hy bang is vir die dag van môre weens die onsekerheid wat dit inhou. Hy is met tye moedeloos omdat hy vervolg word en angstig omdat hy nie al die antwoorde op die lewensvrae ken nie. Psalm 57 handel egter oor God se liefde en trou wat so eg is dat die mens nie anders kan nie as om sy of haar volle vertroue in die Here te plaas. Dit is ’n Psalm wat gebore is in die tyd toe Dawid vir Saul in die grot weggekruip het en self ook ten diepste angs ervaar het. Skielik kom die digter tot die besef dat solank hy hom gaan bekommer oor dinge waaroor hy nie beheer het nie, gaan elke môre somber en swartgallig begin.
Hy maak dan die keuse om elke oggend eerder by die Skepper te begin en met harp en lier eer aan Hom te bring. Dit verander die digter se denke en verskuif sy fokus na dit wat werklik saak maak. Skielik kyk hy anders na die wêreld rondom hom, omdat ’n God van liefde hom begroet en veilig laat voel. Twyfel, angs en vrees moes ruimte maak vir ’n loflied tot eer van die Here. Wanneer jy toelaat dat die Here die beginpunt van jou dag is, en Hy al die snare van jou bestaan met sy genade aanraak, word jou lewe ’n melodie van hoop.
Wat ook al die donker grot is waarin jy jouself op hierdie oomblik bevind – los die swartgalligheid en soek elke môre na die Here se teenwoordigheid. Sing jou lied en begroet die rooidag so!
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

25 September 2024 – Leer om te luister
Lukas 8: 4-8
Ons ore, anders as ons oë, het nie lede wat hulle kan bedek nie en is daarom altyd veronderstel om oop te wees. Tog hou ons hulle dikwels oop vir die geraas van die lewe, maar toe vir die stem van die Here. Wanneer jy jonk is, hoor jy alles, maar luister na niks. Wanneer jy oud is, hoor jy niks, maar wil jy graag na alles luister. Op verskeie plekke herinner die Bybel ons dat dit nie van waarde is om ore te hê, maar hulle nie te gebruik nie. Dit is daarom nie vreemd nie dat die frase Wie ore het, moet luister agt keer in die Evangelies en agt keer in die Openbaring-boek na vore kom.
In die gelykenis van die saaier vind ons weer eens hierdie woorde. Hier word die wyse waarop die mens luister in verband gebring met die tipe grond waarin die saad beland. Jesus vertel van ’n boer wat die saad saai (simbolies van die woord), wat dan in verskillende tipes grond (simbolies van die mens se ore) te lande kom. Dieselfde saad word deur dieselfde saaier gesaai, maar die plekke waar dit val, bepaal wat met daardie saad gebeur.
Party van ons se ore is dan soos ’n harde pad wat glad nie ontvanklik is vir die woord nie. Ander weer soos ’n klipbank wat die woord hoor, maar nie toelaat dat dit ons binnedring nie. Party se ore luister so na die wêreld se geraas, dat die woord nie ’n kans staan om werklik na geluister te word nie. Gelukkig is daar dan enkele wat wel met hul ore luister na die woord en elke stukkie daarvan ter harte neem. Net jammer dat volgens die gelykenis ’n driekwart nie gereed is om na die stem van die Here te luister nie. As die Skepper praat, moet die skepping in afhanklikheid en in gehoorsaamheid kan luister.
Wat gebeur wanneer die Here se woord op jou ore val? Gee vir ’n slag jou onverdeelde en ononderbroke aandag om na sy stem te luister. Spits jou ore vir die stem van die Roepende, want daarin lê die krag vir jou geloof, die troos vir jou trane en die hoop vir jou twyfel.
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

24 September 2024 – Hou moed, jul God is hier!
Jesaja 35: 1-4
Ons almal beleef soms tye van ontmoediging in die lewe. Dit kan deur verskeie omstandighede veroorsaak word en gebeur maklik hier in Suid-Afrika. Dit bring ’n klomp onsekerheid na vore, ons word ontnugter en dit voel of ons beste pogings nie die moeite werd is nie. ’n Mens kan maklik ontmoedig raak en sukkel om gemotiveerd en hoopvol te bly.
In Jesaja 35 kondig die profeet ’n blye tyd van redding en herstel na die volk se swaarkry en ellende aan. Hy herinner hulle op ’n besondere wyse dat daar waar God in beheer is en hul volle geloof en vertroue in Hom geplaas word, die landskap van hul lewe en omstandighede weer sal verander. Danksy God se kragtige ingrype en volgehoue sorg en betrokkenheid by sy volk, kom daar altyd weer uitkoms vir dié wie se skouers hang en wie se knieë knik. Daarom sê die profeet vir hulle: Hou moed, jul God is hier!
In Hom en deur Hom verander ’n woestyn in ’n blommetuin, skep die moedeloses weer moed en word gebreke opgehef. God word altyd vir die ontmoedige mens ’n kragtige Bron van inspirasie, redding en uitkoms. Hy vra egter ’n lewende verhouding waarin die mens met opregte vertroue en doelgerigte gehoorsaamheid uit Hom as die Bron van lewende water sal put. Sonder hierdie standhoudende Bron kan ’n mens vinnig deur die lewe ontmoedig word.
Ons as gelowiges kan ook getuig: Ons God is hier! Jesus Christus se kruisdood en opstanding is die waarborg dat Hy as Immanuel in alle omstandighede by ons is. Dit beteken nie die afwesigheid van hartseer, swaarkry en moeilike uitdagings nie, maar is wel die waarborg dat niks ons van sy reddende liefde kan skei of ons uit sy genesende hand kan ruk nie. Deur sy inwonende Gees versterk Hy ons as ons swak is, tel Hy ons op as ons moeg is.
Hang jou skouers dalk vandag? Voel dit of jou knieë knak onder al die druk en uitdagings wat jy ervaar? Het die blommetuin van jou geestelike lewe in ’n dorre woestyn verander, omdat die lewe jou al te veel kere ontmoedig het? Hou moed! Wees sterk, moenie bang wees nie, want julle God is hier. Strome water sal uit jou woestyn bars!
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

23 September 2024 – Vandag is vol heilige oomblikke
Psalm 16
Om God se teenwoordigheid ten spyte van hierdie onstuimige wêreld te ervaar, was nog altyd vir die gelowige ’n belangrike saak. Tog soek ons dikwels God se teenwoordigheid slegs in groot gebeurtenisse of wonderwerke met asemrowende getuienisse, of selfs net tussen die vier mure van ’n kerkgebou. Dit, terwyl heilige oomblikke in God se teenwoordigheid oral, altyd en in enige omstandighede kan plaasvind en oorvloedige blydskap kan bring.
Sodra jou gebroke wêreld met God se genade en liefde in aanraking kom, is die gevolg daarvan altyd ’n heilige oomblik. Wanneer God se verhewe hoop, bystand en beskerming jou aardse swaarkry omhels, is die oomblik beslis heilig. Heilige oomblikke lê dus ook in die kleinste, alledaagse dinge wat ons so dikwels as vanselfsprekend ervaar of in die skepping rondom ons miskyk. Om jou oë in die oggend na ’n goeie nagrus te kan oopmaak, is ’n heilige oomblik. Om die glimlag op jou geliefdes se gesigte te aanskou, jou dagtaak te kan verrig en brood te hê om te eet, is alles heilige oomblikke. Psalm 16 getuig juis van die gevolge wanneer God se heiligheid en die mens se broosheid mekaar ontmoet. Die digter kom tot die besef dat elke oomblik in God se teenwoordigheid goed is en dat alles wat hy uit die Here se hand ontvang, vir hom mooi en kosbaar is.
Selfs in die donker van die nag is daar heilige oomblikke wanneer die digter bewus bly van God se volgehoue leiding en ontferming. Die feit dat hy in die dag van sy lewe van God se sorg kan getuig, maar ook in die nag die warmte van God se nabyheid kan aanvoel, bring die digter by ’n kragtige gevolgtrekking. Hy sê in vers 11: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.
Mag jou dag vol heilige oomblikke saam met jou Skepper wees. Soek daardie heilige oomblikke selfs in die nag, want dit is oral, altyd!
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

22 September 2024 – Nader, my God, tot U?
Jakobus 4: 7-10
Met die lees van hierdie gedeelte moet ons onthou dat die Jakobus-brief geskryf is aan ’n gemeenskap van, vermoedelik, Joodse Christene wat gely het aan geestelike onvolwassenheid. Hul woorde bely dalk dat Jesus Christus hul Here en Verlosser is, maar hul dade doen dit nog nie. Daarom moedig Jakobus hulle aan om hulle aan God te onderwerp. Die wonderlike is, hy gee aan hulle ’n belofte dat wanneer hulle tot God nader, God tot hulle sal nader.
Natuurlik hoor ons Paulus in ons gedagtes sê dat dit die Heilige Gees is wat ons lei om tot God te nader, maar dit is ook steeds ’n geloofskeuse wat ons moet neem. Indien ons God naby en teenwoordig in ons vreugdes en vrese wil beleef, moet ons tot God nader. Dit klink amper asof Jakobus hier ’n eenvoudige waarheid stel, waar gesê word dat almal wat hul rug op die Here draai, gaan sukkel om die Here se hand in hul lewe raak te sien. Maar almal wat na God draai, en hulself in verhouding met God deel maak van die koninkryk van God, gaan meer en meer beleef hoe God deel van hulle is. Hierdie gemeenskap het opgekyk na die welgesteldes, en Jakobus waarsku hulle daarteen. Welgesteldes maak vinnig staat op hul welstand, in stede van God, en fokus ook meerderwaardig op ander, in stede van nederig op God. Daarom noem Jakobus dat dit nie welstand is nie, maar God wat jou sal verhoog, indien jy nederig bly.
Miskien het ons ook al toegelaat dat ander dinge, plekke, gedagtes, begeertes of selfs mense ons harte besmet en sodoende ons ook hoogmoedig laat word. Dan is Jakobus se brief ook vir ons bedoel en pleit dit dat ons weer ons harte sal suiwer, en tot God sal nader. Want dan sal ons ’n merkwaardige eienskap van ons Skepper se verhouding met sy skepping beleef met God wat ons nader, verhoog en vervul terwyl ons bid: Nader, my God, by U.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

21 September 2024 – Jy in jou habitat en die habitat in jou
Genesis 1: 20-27
Daar is ’n teorie wat onlangs op sosiale media die rondte gedoen het, waar die skepping uit ’n ander hoek bespreek is. Die teorie meen dat seewesens vanuit die see vir die see geskep is deur die Here om daar ten volle te leef. So is die voëls ook geskep op die land om te leef op die land en te vlieg in die lug. Sou dit gebeur dat die seewesens uit hul habitat geneem word, en hulle byvoorbeeld op die land neergelê word, gaan hulle tot sterwe kom. So ook as voëls tot op die bodem van die waters geneem sou word. Die rede hiervoor is eenvoudig dat die skepsels van God geskep is om in hul habitat te leef en daar geseënd te wees.
Ons lees egter in Genesis dat die mens geskep is na die beeld van God, met die doel om as beeld van God ook te heers oor die visse, voëls, diere en die aarde. Die teorie lui dan dat die mens nie in ’n habitat geskep is nie, maar eerder dat ’n habitat in die mens geskep is. Die mens is geskep met ’n habitat wat die Here vul, wat uiteindelik die beeld van God uitstraal. Sou die mens deur hul keuses, geloof en toewyding daardie habitat laat vul met die Gees van God, sal hulle die volheid van die skepping kan uitleef soos wat God hulle geskep het om te doen. Sou hulle egter daardie habitat vul met iets anders, soos materialisme, selfsug, hebsug, ensomeer, beleef hulle ’n soortgelyke worsteling as die visse wat uit die waters gehaal word.
Dit bly nou maar net ’n teorie, maar een van die gedagtes wat ’n mens wel prikkel, is juis oor hierdie habitat binne-in ons. Vir wie en wat gee ons toegang om hierdie heilige ruimte in ons lewe te vul?
Mag ons opnuut besef dat God in ons leef sodat ons kan leef in God.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

20 September 2024 – Goeiemôre, my kind…
Psalm 19: 2-7
Soms is dit ’n werklik ontnugterende en besondere belewenis om deur die verskillende dele van ons land te beweeg. Elke stukkie van die skepping toon die sorg van God en die betrokkenheid van die mens. ’n Verskynsel wat wel deur die eeue mense se asems bly wegslaan, is die paar minute van ’n sonsopkoms en ’n sonsondergang se duur.
Wanneer ’n mens deur Psalm 19 lees, sien jy uit die staanspoor hoe die digter bely dat dit in die skepping is dat die woord van God duidelik word. Geluidloos word die majesteit van God oorverdowend aan die wêreld verkondig deur die prag van die natuur. Die digter personifiseer dan die sonsopkoms om die verkondigingselement van die natuur te staaf.
Ek deel nogal sy sentiment, maar ek sien die sonsopkoms, veral in ’n tyd soos hierdie, ook ’n bietjie anders as ’n vrolike bruidegom in die oggend. Dit wil soms voorkom of die sonsopkoms ontaard in ons Here wat soos ’n moeder haar kind met opregte liefde in die oggend ’n soen op die voorkop gee en sê: Môre, my kind; voordat hierdie dag met sy uitdagings begin, geniet hierdie stukkie van die hemel, en weet Ek is lief vir jou.
So ook kom die Here soos ’n moeder aan die einde van die dag weer met ’n voorkopsoen om vir haar lieflingkind te sê: Naand, my kind; hierdie dag is verby, en net soos wat ons die uitdagings van hierdie dag saam weerstaan het, sal Ek met jou wees deur die onbekende gevare van die nag. Geniet hierdie stukkie hemel en weet, jy is nie alleen nie.
Mag ons ook soos die digter van Psalm 19 die Here se teenwoordigheid in die skepping raaksien. Mag ons ook in iets so alledaags soos die sonsopkoms sien en hoor hoe die Here na ons toe kom met ’n liefdeskus en die woorde: Môre, my kind; geniet hierdie stukkie hemel en weet, vandag is jy nie alleen nie, Ek is lief vir jou.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

19 September 2024 – Kyk oor die mure
Job 38: 1-7
Een van die aardigste realiteite om onder die knie te kry, is hoe ’n tweejarige kind rou en treur asof die wêreld tot ’n einde gekom het as die suigstokkie, wat hy of sy al vir ’n uur lank vashou sonder om daaraan te suig, val en breek. ’n Mens sukkel om te verstaan hoekom enigiemand so onbedaarlik tekere sou gaan oor iets so klein soos ’n stokkielekker. Dit maak eers sin wanneer jy empaties begin agterkom dat daardie stokkielekker vir die kind op daardie punt wel sy of haar hele lewe was.
Soms wonder ’n mens of dit nie die geval ook hier in Job se verhaal is nie. Vir hom het sy hele wêreld in duie gestort en vir dae lank het hy en sy vriende geworstel en geredeneer oor hoekom dit gebeur het. Wanneer hy die Here daaroor uitdaag en vra, sien ons dat die Here geen antwoorde gee soos die duiwel of toets van geloof en toewyding nie. Die Here vat Job deur die skepping.
Die Here neem Job na ’n plek waar hy meer as sy wêreld en omstandighede raaksien en besef dat sy wêreld wat in duie gestort het, nooit sy wêreld was nie. Dit is ’n stukkie van die Here se skepping wat aan hom geleen word. Soos die Here na hierdie skepping, groter as wat Job kan begryp, omsien, so sien die Here ook nog altyd na Job om. Job se uitdagings, sy swaarkry en sy verdriet, is nie gering gemaak nie. Die grootheid van sy Skepper wat hom sterk deur alle uitdagings wat die gebroke wêreld kan bied, is net herbevestig.
Mag dit so wees dat wanneer ons voel asof die wêreld ons in hoeke indruk waar ons nie meer kan asemhaal nie, ons ook oor die mure van lyding die grootheid van God in die skepping sal raaksien en sal onthou wat Jesus ons in Matteus 28: 20 ook belowe: Ek is met julle tot in lengte van dae.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

18 September 2024 – Hoe lyk my prentjie?
Genesis 22: 6-12
Ons elkeen vorm ons eie beeld van God aan die hand van ons eie geloofservaring, maar ook deur dit wat ons lees, hoor en sien in die wêreld en by mense rondom ons. Hierdie beeld van God word daarom nie net een keer gevorm en laat staan nie, dit verander dikwels soos wat ons God leer ken en ontdek in die wyse waarop God aan ons geopenbaar word. Ons kan vir mekaar sê dat ons prentjie van God nooit klaar geskets word nie.
In hierdie teks van Genesis 22 lees ons die verhaal van Abraham wat vir Isak moes gaan offer. Dit is ’n gedeelte wat ons goed ken, en die gehoorsaamheid van Abraham gryp ’n mens aan. Maar watter invloed het hierdie verhaal op Abraham se Godsbeeld, en selfs ons eie Godsbeeld? Met God se ingrype in Abraham se offer en uitvoering van die opdrag, openbaar God aan Abraham ’n belangrike deel van hul verhouding. God wys vir Abraham dat hierdie verhouding nie gaan wees soos wat godsdiens elders werk nie. Hier word hul verhouding nie gebou op vrees nie, want God eis nie die lewe van Isak om voorspoed en seën aan Abraham te bewys nie.
Vir Abraham word ’n Godsbeeld nou geskep van God wat nie terugeis wat God uit genade gee nie. God verwag nie van Abraham om sy seun te offer soos wat in baie ander godsdienste van daardie tyd gedoen is nie. God is anders, en die beeld wat Abraham en sy nageslag van God het, moet daarom ook verander. Hulle gaan nie weer ’n godsdiens beoefen soos aan die ander kant van die Eufraat nie, hul verhouding met God is nou anders. So sien ons dan van Genesis tot Openbaring dat die beeld van God gegrond word in liefde. En sover daardie offerkultuur gaan, sien ons ook dat God nie van ons vra om ons kinders te offer nie, maar dat God ons so liefgehad het dat Hy sy unieke Seun gegee het (Joh 3: 16, AFR2020).
Miskien moet ons ook onsself weer vra: Hoe sien ek vir God?
Ds Schalk Zastron, Ermelo

17 September 2024 – Word jy deel van die wonderwerk?
1 Petrus 2: 1-3
Mense wat die voorreg het om deur die land, selfs die wêreld, te reis, word baie gou bewus van die grootheid van God se skepping. Dit is aangrypend om oor die berge en vlaktes te staar met die wete dat alles in die sorg van ons Skepper se hande lê. Wat ons egter deur die medici en wetenskap ontdek, is dat daar net soveel wonders en almag van God te siene is in die kleiner dele van die skepping ook. So ontdek ons selfs met ’n bietjie aandag die wonderwerke wat lê in alledaagse verskynsels.
Wanneer ons gaan lees oor borsvoeding soos wat Petrus dit hier beskryf, sien ons dit is niks anders nie as ’n wonderwerk en geskenk van God. Daarom is dit eintlik so besonders dat Petrus hier die verhouding wat ons met God bou, en die dors wat ons het na die wil van God, beskryf met ’n wonderwerk soos borsvoeding. ’n Wonderwerk waar ’n baba deur ’n moeder gevoed word met alles wat nodig is, en terselfdertyd word die band en verhouding tussen baba en moeder versterk. So is dit met die gelowige wat intensioneel tyd met die Woord van God deurbring.
’n Verdere interessante gedagte rondom ’n baba se voeding is dat dit ook elke vier ure moet gebeur. Dit is nie ’n weeklikse of maandelikse instelling nie. Hierdie dors is in die vroegoggend, laatoggend, vroegmiddag, laatmiddag, vroegaand en laataand. ’n Dors wat die heeltyd daar is en groter word.
Mag dit wees dat ons ook groei in geloof en ons geloofsverhouding deur te smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk.
Gebed
Dankie, Here, dat U ons liefhet soos ’n moeder haar baba. Laat ons so op ons beurt na U smag, soos ’n pasgebore baba, na suiwer geestelike melk. Amen.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

16 September 2024 – Jy kan maar Hallo sê!
1 Johannes 3: 18-24
Was jy ook op laerskool in ’n verhouding met iemand waar albei van julle so skaam was vir mekaar dat julle amper nie eens gepraat het nie? Vir my het dit so gebeur dat ek op ’n dag hierdie meisie op die skoolstoepe gewaar. Blitsvinnig het ek in ’n gang verdwyn sodat ek nie in daardie ongemaklike posisie sou beland waar ons moet gesels en mekaar in die oë kyk nie. Van ver af hoor ek haar toe roep: Jy kan maar “Hallo” sê!
In hierdie brief van Johannes roep hy die gelowiges op om nie in ’n verhouding soos daardie laerskoolverhouding met die Here te leef nie. Die Here het ons in hierdie pragtige skepping geplaas om in ’n egte, liefdevolle verhouding met God en ons naaste te leef. Dit beteken ons kan nie net hier en daar vir mekaar waai nie. Ons kan nie net met woorde liefhê nie, sê Johannes, ons moet met dade in waarheid mekaar liefhê. Met ander woorde, ons moet heelhartig met ons hele menswees liefhê, deur wat ons sê en wat ons doen. Dit is hoe ons van laerskoolverhouding na ’n ware liefdesverhouding kan oorgaan.
As kinders van God kan ons nie in die gange wegkruip en bloot vir die Here waai in die verbygaan nie. Die Skrif roep ons op om in ’n egte verhouding te wees. ’n Verhouding waar ons ons trots in ons sak steek, broos en weerloos voor die Here en ons naaste staan, en Hallo sê. ’n Verhouding waar mense van buite nie hoef te wonder of ons werklik in ’n verhouding met die Here is nie, maar sonder twyfel kan sien ons is onafskeidbaar van die Here.
Gebed
Here, ons Here, laat ons in verhouding met U leef deur in die Naam van Jesus Christus te glo en mekaar lief te hê volgens die gebod wat U aan ons gegee het. Amen.
Ds Schalk Zastron, Ermelo

27 September 2024 – Lentegroei
1 Petrus 2: 1-6
Lente word gewoonlik gesien as ’n tyd van ongekende groei, wanneer die natuur sy prag herstel, ná die koue aanslae wat die winter daarop agtergelaat het. Dit is ’n tyd wanneer die eerste tekens van nuwe lewe weer sigbaar word en die natuur met ’n rykdom van kleure versier word. Groei is egter nie net tot die natuur of spesifieke seisoen beperk nie. Die groeiproses vorm onlosmaaklik deel van ons totale menslike bestaan. Reeds voor geboorte is daar 40 weke se belangrike groei en ontwikkelling wat by ’n baba moet plaasvind, en dan is die regte voeding van onskatbare waarde. Dit stop nie daar nie, want vir baie jare daarna word hierdie groeipatroon voortgesit totdat ’n volwasse vlak uiteindelik bereik word, waarna dit stelselmatig weer begin afneem.
Petrus gebruik hierdie groeiproses van ’n baba as metafoor om die noodsaaklikheid van geestelike groei te verduidelik. Die groei na geloofsvolwassenheid mag nooit onderskat of verwaarloos word nie. Iets wat nie groei nie, stagneer, gaan agteruit en sterf op die ou einde. Daarom beklemtoon hy: Soos ’n pasgebore baba smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle kan opgroei. Die genade in Jesus, die kennis oor Jesus, gedrag soos Jesus en volgehoue betrokkenheid by Jesus, is die geestelike melk wat die gelowige sal help om te groei in die geloof, sterker te word in die vertroue en vrug vol liefde te dra.
Drink jy genoeg geestelike melk om in hierdie uitdagende tye suksesvol in die geloof te bly groei? Doen alles in jou vermoë om ook lentegroei in jou geloof te bring.
Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

15 September 2024 – Jesus het sy kerk lief
Openbaring 1: 12-20
In Openbaring spreek Jesus tot sy kerk om vir hulle hoop in hul omstandighede te bring. Hy wil hierdie boodskap vir sy kerk bring: Gelowiges hoef nie te vrees nie, want Christus is die Heer oor alle dinge en Hy verlaat sy kerk nooit. Gelowiges se omstandighede sal hulle nie oorheers met wanhoop nie, want Christus bied die uitkoms; Hy beskerm sy mense.
Jesus se teenwoordigheid kan by sy mense gevind word. Christus is nie ver weg van ons nie, Hy is hier saam met ons in ons onderskeie omstandighede. Jesus het vir ons sondes gesterf; om hierdie rede kan ons oortuig wees dat Hy ’n pad saam met sy kerk stap.
Die kerk het ook ’n verantwoordelikheid om God in die wêreld te verteenwoordig. Ons faal soms in hierdie plig weens ons menslike swakheid, maar dit beteken nie dat die kerk sonder God is nie. Deur Christus is God teenwoordig. Christus het die reg en die mag om te regeer, en daarom sal Hy bystand aan gelowiges bied. Jesus help ons om sy lig in die wêreld te laat skyn, te midde van die duisternis wat ons teëkom – niks kan Jesus se vlam blus nie. Jesus is die lig wat hoop bied wanneer tye so donker raak dat ons alle vorme van hoop verloor.
Daarom is die brief van Openbaring kragtig en vol hoop. Dit bied aan gelowiges die sekerheid dat Christus hul hoop is. Net omdat Hy vir ons sondes gesterf het en opgevaar het na die hemel, beteken nie dat Hy afwesig is nie – deur die Gees staan Hy ons by. Die hoop lê daarin dat ons nie alleen gelaat word nie; ons moet net ons oë oopmaak en Christus raaksien. Christus is altyd teenwoordig om hulp te verleen aan almal wat dit nodig kry, ons moet ons vertroue in Hom plaas en met sekerheid weet dat Hy die uitkoms sal bied. God is lief vir sy kerk, daarom sal Hy ons nooit verlaat nie – sy hulp is altyd beskikbaar.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

14 September 2024 – Jesus onderhou verhoudings
Hebreërs 1: 1-4
In die Ou Testament vind ons verskeie tekste waar God deur profete met mense praat. God gebruik mense om sy boodskap en wil aan ander bekend te maak. In die Nuwe Testament word die profeterol vervul deur Christus. Christus word aarde toe gestuur om God se redding vir die mens te bring; om vir ons sondes te sterf en die verhouding tussen ons en God te vernuwe.
Jesus se aardse bediening getuig van God se gesindheid en wil vir sy mense. Na Jesus se kruisdood en opstanding vaar Hy op om aan die regterhand van God die Vader te sit. Dit wil vir ons aandui dat Jesus die hoogste gesag het. Christus besit soveel mag en krag as God die Vader, want Hy is self ook God. Omdat Hy dieselfde gesag as God het, is Jesus ook die regeerder van die skepping. Christus onderhou mense se verhoudings met mekaar asook die mens se verhouding met God.
Deur die Gees lei Jesus ons in die handeling om ons naaste lief te hê, Hy lei ons ook verder in ons verhouding met God sodat ons ons vertroue in Hom kan plaas en God se wil kan uitvoer. Deur Christus se lyding en dood is dit moontlik vir gelowiges om geloof in God uit te oefen en om in ’n nuwe verhouding met God te tree; ’n verhouding waarin ons sondes vergewe word.
In elke verhouding waarin ons met mense is, is Jesus teenwoordig. Hy bied vir ons hulp en bystand in ons verhoudings om ander altyd hoër te plaas as onsself – dit is die voorbeeld waarvan sy lewe getuig. Christus het met sy gesag ’n weg gemaak en ander mense gedien, al was Hy ook God – ander mense was altyd belangriker, en daarom sterf Hy ook vir ons sondes. Hierdie voorbeeld, om ander te dien, moet ons nastreef, en Jesus sal ons in alle aspekte van hierdie taak lei. Jesus se liefde moet uit al ons handelinge voortspruit, die Gees sal ons hierin krag bied.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

13 September 2024 – Lig
Genesis 1: 1-5
Ons is baie bekend met Genesis 1, waar God alles in die heelal geskep het. Hierdie verhaal wil ons nie net vertel hoe dinge ontstaan het nie, maar ook dat God die Een is wat alles geskep het en tot vandag toe ook bly skep. Elke element van die skepping word vir ons in dié verhaal bekendgemaak. Die volgende vraag kom by my op wanneer daar oor die skepping nagedink word: Besef ons werklik wat God geskep het en die krag daarvan?
Die eerste ding wat God skep, is lig. Van die begin van God se skepping af, skep Hy vanaf stap een die belangrikste elemente wat sy skepping sal benodig. Lig is ’n vorm van energie wat deur die menslike oog waargeneem kan word, maar dit is ook soveel meer as dit. Lig bring verligting in donker tye. Lig bring vrede en beskerm in tye wanneer daar vrees is, byvoorbeeld wanneer ’n kind bang is vir die donker. Die lig word aangeskakel, en die kind voel gou weer veilig. Lig bring vir ons vrede en laat ons veilig voel.
Lig is ook ’n metafoor vir God se teenwoordigheid. Lig word met God geassosieer omdat Hy vir ons verligting en leiding bied sodat ons veilig kan voel en rigting kan hê in die lewe. God se lig skyn in ons lewe en bied vir ons die uitkoms. Nie net skep God lig nie, maar Hy is self ook lig. God bied beskerming en vrede soos lig vir ’n kind in donkerte vrede bring.
Elke oggend wanneer ons opstaan en die son sien opkom en lig die aarde verlig, getuig dit van God se teenwoordigheid in ons lewe. Hy is nie afwesig nie, Hy is altyd betrokke by sy skepping. Ons word op ’n daaglikse basis daaraan herinner deur natuurlike elemente soos ’n sonsopkoms. Selfs in die aande wanneer dit donker is, bied die maan vir ons lig. Waar ons ook al in die natuur kyk, is daar lig. Dit beklemtoon dat God nie afwesig is nie. Indien ons ooit daarin twyfel, kan ons bloot by ons venster uitkyk en God se lig in die wêreld sien.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

12 September 2024 – Om te leef vir Christus
Filippense 2: 12-18
Jesus Christus se kruisdood en opstanding is van die belangrikste gebeure in ons geloof. Nie net word ons sondes vergewe nie, maar ons tree in ’n nuwe verhouding met God deurdat sy genade ons sonde skoonwas. Jesus se aardse bestaan, wat oploop tot hierdie gebeure, wys vir ons die gesindheid wat Christus beoefen het om God se wil uit te leef. Sy leefwyse dien vir ons as ’n voorbeeld van hoe ons as gelowiges moet leef om God se wil na te streef.
Paulus doen alles in sy vermoë om Christus se voorbeeld na te streef. Hy leef vir die evangelie, hy plaas ander bo homself en streef daarna om Christus se liefde en genade aan ander bekend te maak. Hy poog altyd om ander te bemoedig in hul geloof en hy moedig hulle aan om vir Christus te leef. Paulus wy sy lewe ten volle aan Christus toe, maar kan dit slegs deur God se krag doen.
Die gemeente in Filippi voel ontmoedig omdat Paulus nie by hulle is nie. Paulus doen sulke goeie werk dat die gemeente ook goeie dade wil uitvoer, maar sonder Paulus voel hulle ontmoedig. Paulus bemoedig hulle deur aan te dui dat hulle altyd gehoorsaam is aan hom, en nou moet hulle ten volle gehoorsaam wees aan Christus. Hulle moet leef soos verlostes en die evangelie aan ander bekendmaak. God sal hulle bystaan in hierdie taak omdat Hy sy koninkryk wil laat groei. Mense wat God se werk verrig, word nooit verlaat nie – Paulus beklemtoon hierdie gedagte.
Só moet ons ook soos Paulus en die gemeente in Filippi leef vir Christus. Ons lewe moet verander en ons moet leef soos verlostes. Ons moet die evangelie na die wêreld neem en ander van Christus se wonderlike dade vertel. Ons hoef nie bekommerd te wees oor hierdie opdrag nie, want God vergesel ons met elke tree. Hy bied vir ons die krag om sy wil uit te leef. God se genade is altyd met ons, en daarom kan ons nie anders nie as om as verloste gelowiges te leef.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

11 September 2024 – Die Here is die uitkoms
Psalm 124
Psalm 124 herinner aan Psalm 23, waar die spreker aandui dat God sy hulp is, en sonder God sal die spreker kwesbaar wees. Psalm 124 besing die Here se lof vir sy goedheid teenoor die volk. Nadat Israel uit ballingskap teruggebring is, het God hulle steeds bygestaan. Israel dink terug aan God se goedheid, en die volk besef hulle sou in groter gevaar gewees het sonder God se beskerming en hulp. God red sy volk op ’n konstante basis uit gevaar. Indien God nie vir Israel red nie, sal hulle deur hul vyande vernietig word.
Die frase as … dan kom sterk in Psalm 124 voor. Hierdie frase beklemtoon die volgende gedagte: As God ons nie gehelp het nie, dan sou die volgende gebeur het… Dit dui daarop dat God se hulp uiteindelik die volk daarvan weerhou het om in die vyand se mag te val. Indien God nie help nie, sal die gelowige se lewe in duisternis verval. God is uiteindelik die Een wat red. Sonder Hom kan gelowiges nie in vreugde voortgaan nie. Hy is ons hulp en redding.
Die Psalm getuig van God se bystand deur die eeue. In elke stadium van die geskiedenis is die Here betrokke by sy skepping en skepsels. Soos Israel se toekoms, is ons toekoms en eie lewe nie in ons eie hande nie, maar in God se hande. Hy is die Een wat ’n toekoms moontlik maak. Sonder Hom verkeer gelowiges in totale kwesbaarheid.
Ons moet die Here prys vir sy goedheid en genade, want daarsonder sal ons verpletter word in die lewe. God se goedheid en guns kom elke dag opnuut voor in ons lewe en ons kan net in afhanklikheid voor Hom staan en dankie sê. Ons moet op ’n nuwe wyse diep nadink oor God se betrokkenheid in ons lewe. Hy laat ons nooit alleen nie. God vergesel ons in al ons omstandighede en Hy bied vir ons die uitkoms. Kom ons loof God, soos die spreker in Psalm 124, vir sy konstante liefde en bewaring wat ons nooit verlaat nie.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

10 September 2024 – Die skat van Goddelike bystand
2 Korintiërs 4: 7-12
Ons is Christus se dissipels. Christus se dissipels het die voorreg en verantwoordelikheid om Christus se evangelie te verkondig. Verkondiging is ’n belangrike element van ons Christelike geloof.
Paulus wil vir die gemeente in Korinte aandui dat hy die gesag het om die evangelie te verkondig. Die gelowiges in die gemeente het ook die gesag om God in die wêreld sigbaar te maak. Op hierdie wyse leef ons volgens God se wil.
Paulus gebruik die mooi beeld dat ons kleipotte is wat maklik breek. Ons is kleipotte wat deur God se hande uniek gevorm is om Hom in die wêreld te verteenwoordig. Die feit dat ons maklik kan breek, dui op ons menslike swakheid. In ons swakheid is dit maklik om die pad byster te raak, maar die enigste wyse hoe ons nie gaan breek nie, is deur God se krag, omdat Christus die skat is wat die kleipot bevat – Christus leef in ons hart. God se krag en bewaring is wat dit vir gelowiges moontlik maak om God se werk in die wêreld te verrig. Sonder God se bystand kan ons nie sy evangelie verkondig nie.
Paulus doen alles in sy vermoë om te leef vir die evangelie. Hy kry swaar vir die evangelie, maar God staan Hom elke oomblik by. Gelowiges kan hoop hê in hul lyding, want Christus is saam met ons in ons swaarkry, omdat Hy self lyding ervaar het. In vandag se wêreld kan dit moeilik wees om te doen wat reg is, maar God staan ons in goeie en slegte tye by. Hy is altyd daar om bystand en krag te bied vir sy skepsels.
Ons moet ons vertroue in God plaas en oortuig wees daarvan dat God altyd saam met ons in ons omstandighede is. Wanneer ons die evangelie uitleef en na ander bring, is God daar om bystand en krag te bied. God is teenwoordig in sy skepping deur ons by te staan waar ons sy werk in die wêreld verrig. Dit is die grootste skat wat ons kan besit.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

9 September 2024 – God se verbond
Genesis 9: 8-17
Noag was getrou aan God. God het hom beveel om ’n ark te bou en so het Noag gemaak. Noag word bewaar deur die vloed – hy en sy gesin is veilig aan die einde van die vloed. Aan die einde van die vloed sluit God ’n verbond met Noag en die skepping. God beloof dat Hy altyd by sy volk sal wees en altyd hulp sal bied; Hy sal altyd betrokke bly by sy skepping.
Hierdie is maar een van vele verhale waar God ’n verbond met sy volk sluit. Getrouheid is die sleutelwoord met God se verbond. God bly altyd getrou aan sy verbond en sy verbond het ook nie ’n eindtydperk nie – dit is ’n ewige verbond. Op hierdie wyse kan ons met sekerheid getuig dat God op ’n konstante basis betrokke is by sy skepping en skepsels. Hy bewaar ons en bied altyd bystand wanneer ons met verskeie situasies in die lewe gekonfronteer word. Ons is nooit alleen nie; God se verbond oortuig ons hiervan.
Die kenmerkende verskynsel met Noag se verbondsverhaal is die reënboog. Die reënboog is ’n fisiese teken van God se verbondsbelofte. Só word ons gereeld herinner aan God se belofte wanneer ons ’n reënboog aanskou. Die reënboog is ’n fisiese herinnering aan God se betrokkenheid. Die verbond dui verder aan dat ons in ’n verhouding met God staan. In hierdie verhouding is God altyd getrou. Maar gelowiges het die verantwoordelikheid om hul deel na te kom deur aan God gehoorsaam te wees – sodoende is ’n verbond tweeledig.
God se verbond is die wyse waarop Hy betrokke is in sy skepping. God se verbond bied die sekerheid en vrede dat Hy ook betrokke is in elke gelowige se lewe. Sy verbond verseker ons dat Hy ons nooit sal verlaat nie en aan ons die nodige krag bied vir ons omstandighede.
Mag God se verbond vir ons die vrede en sekerheid bied dat God konstant teenwoordig is in ons lewe. Ons word nooit alleen gelaat nie, God maak juis ’n belofte sodat ons dit altyd sal onthou.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo

8 September 2024 – ’n Plek van genesing
Openbaring 22: 2
Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
Openbaring word dikwels as ’n toekomsvoorspelling gelees, maar Openbaring is amper soos om die gordyne van ’n teater weg te trek en agter die skerms te kyk. Dit is nie bedoel vir eendag nie, maar bedoel om nou vir ons hoop te gee dat God besig is om alles nuut te maak en dat ons, deur Christus, toegang tot ware lewe het.
Wat interessant is om te sien, hier aan die einde van Openbaring, is dat die boom van die lewe nie net vir die mense in die nuwe stad bedoel is nie, maar dat die boom genesing bring vir die nasies.
Ons kan maklik dink dat God net oor Christene omgee en ons wil verwyder van die res van die wêreld. Maar God wou nog altyd die wêreld red, herstel bring vir die nasies, nie net vir die mense binne die stad nie.
Behoort die kerk net om te gee vir dié wat reeds deel is van die kerk? Of behoort die kerk juis die genesende krag van Christus na die nasies toe te vat, sodat hulle ook genesing kan beleef? Dit is interessant om te sien dat die nuwe stad in Openbaring twaalf poorte het, maar geen deure nie, juis om te sê dat enigiemand welkom is in God se teenwoordigheid. Hoe sal dit lyk as ons hierdie visie vandag in die kerk laat leef?
Gebed
Here, help ons om ook ’n plek te wees waar ander genesing kan kry en waar ons kan help om ’n gebroke wêreld te genees. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

7 September 2024 – Transformeer die wêreld
Lukas 13: 18 (AFR2020)
Daarop het Hy gesê: “Waaraan is die koninkryk van God gelyk, en waarmee sal Ek dit vergelyk? Dit is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ’n boom geword, en die voëls van die hemel het in sy takke kom nesmaak.”
Met watter koninkryke sou die koninkryk van God vandag vergelyk kon word? Hoe is God se koninkryk anders as vandag se koninkryke? Is ons as kerk meer soos die aardse koninkryke, of is ons ’n beeld van die koninkryk van God?
Wat die mosterdplant betref, is dit interessant om te sien dat die Joodse wette, die Midrash, verbied dat mosterd in ’n tuin geplant word, aangesien dit ’n gemengde saadtipe is. Om mosterd in jou tuin te plant, maak jou en jou gemeenskap onrein. Dit is ook beskou as ’n onkruid, omdat dit vinnig versprei en weer en weer opkom, al word die oorspronklike plant vernietig. ’n Mosterdplant is ook nie regtig ’n boom nie, maar nader aan ’n struik, met takke wat nie noodwendig sterk genoeg is vir voëls om in nes te maak nie. Maar Jesus sê spesifiek dat voëls in die boom kom nesmaak. Dit skep ’n tuiste vir voëls. Voëls was nie noodwendig positief geag nie, veral nie deur die Romeinse elite nie, aangesien voëls die oes van die omliggende gewasse vernietig het en dit beteken het dat Rome minder belasting uit die opbrengs van die oes kon eis.
God se koninkryk is anders as die koninkryke van die wêreld. Dit is ’n plek waar onrein en rein welkom is. Dit is iets wat nie uitgeroei of vernietig kan word nie, maar elke keer weer nuut opstaan. Dit is ’n koninkryk wat die sisteme of koninkryke wat mense onderdruk en uitbuit, stelselmatig afbreek.
Dit nooi ons om te vra: Hoe kan ons ook mosterdsaadjies plant en hierdie koninkryk vandag sigbaar maak?
Gebed
Here, laat u koninkryk kom, soos in die hemel, so ook op die aarde. Soos mosterdsaad wat in ’n tuin geplant word, mag U ons en ons wêreld transformeer om ’n plek te wees waar mense ’n tuiste vind en waar elkeen genoeg het. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

6 September 2024 – Nogtans sal ek jubel
Habakuk 3: 17-18
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
Habakuk erken die gebrokenheid van die wêreld. Alles lyk nie altyd net voorspoedig nie. Inteendeel, soms gebeur daar iets wat dit laat voel asof ons hele wêreld inmekaar val, waar dit voel of daar geen hoop meer is nie. Dit is maklik om verlore te raak in die hopeloosheid wat ons rondom ons sien. Ons lewe in ’n gebroke wêreld. Dit is die realiteit.
Maar vir Habakuk is dit nie die enigste realiteit nie. Daarom gee Habakuk vir ons ’n woord wat ons baie help. Nogtans. Die wêreld is ’n stukkende plek, maar nogtans… Die wêreld maak seer, maar nogtans… Ek het nie meer hoop in die toekoms nie, maar nogtans… Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
Mense hou van kla. Soms is ons reg om te kla oor die gebroke wêreld rondom ons. Maar vandag daag Habakuk my en jou uit om ’n woord by te voeg: Nogtans.
Gebed
Here, ons raak so maklik verlore in negatiwiteit. Maar nogtans kan ons op U vertrou. Help ons om altyd, onder alle omstandighede te juig in U. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

5 September 2024 – ’n Wêreld met genoeg
Miga 4: 4
Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê.
Miga nooi ons uit om te droom oor hoe die wêreld kan lyk. Die eerste drie hoofstukke van Miga begin met ’n aanklag teen die nasies oor al die onreg en kwaad en geweld wat mense teen mekaar beplan, wat die wêreld besoedel. In hoofstuk 4 sien ons ’n draaipunt, ’n visie van wat God vir die wêreld droom. Daar sien ons dat mense nie meer geweld teenoor mekaar beplan nie, maar dat elkeen genoeg sal hê, dat elkeen ongesteurd onder sy eie wingerd of vyeboom sal sit. Dit skep ook die beeld van ’n wêreld waarin elkeen tevrede is.
Wanneer is jy tevrede? Wanneer het jy genoeg? As jy rondom jou kyk, dink jy ons lewe in ’n wêreld van tevrede en genoeg?
In vers 3 kry ons die visie dat swaarde en spiese verander word in ploeë en snoeiskêre – van iets wat lewe neem tot iets wat lewe help onderhou. Dit is duidelik dat hierdie visie van Miga nog nie ’n realiteit is nie. Ons sien daagliks jaloesie, onvergenoegdheid, oorloë en geweld. Maar Miga nooi ons uit om op ’n praktiese manier lewe te gee, eerder as om lewe te neem.
Hoe sal dit lyk as ons iets van hierdie visie in Suid-Afrika laat leef? As ons help om die praktyke wat lewe neem, wat ongelykheid en ontevredenheid skep, te verander in iets wat lewe gee, wat werk na ’n wêreld waar elkeen genoeg het?
Gebed
Here, ons sukkel met woorde soos tevrede en genoeg. Ons voel meer tuis met woorde soos meer of nog. Daarom kyk ons so graag na wat ander het en dink ons ons het nie genoeg nie, of dat ons gelukkig is om meer te hê as ander. Maar U, Here, droom van ’n wêreld waar elkeen genoeg het. Help ons om saam met U te droom en hierdie droom ’n realiteit te maak. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

4 September 2024 – Keuses
Genesis 2: 9
Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.
Hierdie is ’n verhaal van ’n boom, van mense en van ’n keuse. Die keuse om vir onsself te vat van iets wat mooi en lekker lyk, maar op die ou end verwoesting en dood in die wêreld inbring, of om God te vertrou om vir ons op die regte tyd te gee wat ons nodig het.
Die keuse van Adam en Eva is ons elkeen se keuse. Verskillende verhale in die Bybel gryp terug na hierdie verhaal, met soortgelyke keuses wat gemaak word. Dink aan verhale soos Abraham wat moet kies of hy sy eie pad gaan volg en of hy God gaan vertrou met die lewe van sy seun. Of dink aan Jesus se versoeking in die woestyn.
Ons word elke dag met soortgelyke keuses gekonfronteer, van allerlei dinge wat vir ons lewe belowe, maar wat eintlik destruktief is. Ons word ook die keuse gegee of ons God gaan vertrou en die boom van die lewe kies. Spreuke 3: 18 sê om met wysheid te lewe, is om die bron van lewe te kies.
Hierdie keuse is nie altyd maklik of voor die hand liggend nie. Jesus wys vir ons die pad na die lewe is die pad van die kruis. Wat vir ons soos die pad na die dood lyk, is vir God die pad na ware lewe. Mag ons vandag kies om God te vertrou om ons op die pad na die lewe te lei, eerder as om ons hand uit te steek en self te vat wat vir ons soos lewe lyk.
Gebed
Here, dit is so maklik vir ons om verkeerde keuses te maak. Vergewe ons wanneer ons self wil kies wat vir ons goed is. Help ons om op U te vertrou om ons te lei op die pad na ware lewe. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

3 September 2024 – Dra vrug
Psalm 1: 3
Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
Die Psalmskrywer vergelyk iemand wat sy vreugde vind in die woord van die Here met ’n boom wat by waterstrome geplant is. Hier word die vergelyking gestel dat mense soos bome is. Die basiese vergelyking word al gemaak waar God bome skep wat vrug dra en mense skep wat vrugbaar is.
Kyk na die bome rondom jou en word stil rondom die gedagte dat ons as mense soos bome is. Hoe dink jy is mense soos bome? Die Psalmdigter sê dat iemand wat vreugde vind in die woord van die Here soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is, wat vrug dra op die regte tyd.
Hoe dink jy lyk so ’n persoon? Ken jy iemand wat jou aan hierdie beeld laat dink, of kan jy dink aan ’n tyd in jou lewe toe jy gevoel het hierdie beeld is vir jou waar?
Hierdie beeld vat ons terug na die tuin van Eden en herinner ons aan die boom van die lewe, wat langs ’n rivier geplant is en vrug dra wat lewe gee. Op ’n subtiele manier vergelyk die Psalmskrywer die Woord van die Here met die boom van die lewe. Wanneer ons vreugde vind in die Here se woord, is dit asof ons toegang kry tot die boom van die lewe. En nie net toegang kry nie, maar asof ons self soos ’n boom van lewe word, wat vrug dra vir ander om van te eet.
Wat beteken dit vir jou om soos ’n boom te wees wat by waterstrome geplant is, wat vrug dra op die regte tyd?
Gebed
Here, Skepper van die aarde en alles daarin, van bome en mense wat vrug dra: Here, help ons om vreugde te vind in u woord, sodat ons geplant kan wees in lewende waters, sodat ons kan vrug dra wat vir ander lewe gee, tot eer van u Naam. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

2 September 2024 – As ek u hemel aanskou
Psalm 8: 4-5
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
Die begrip “ruimte” wat ons gebruik, verwoord die idee dat die donker ruimtes bo die aarde leeg is. Die beelde van die teleskoop het dit verander, want buite die donkerte van ons eie sonnestelsel met sy enkele planete, het beelde van lig van miljoene ander sonnestelsels verrys.
Dink vandag saam met hierdie beeld, oor al die sonnestelsels, aan jou eie geloof in God as Skepper van die hemel en aarde en hoe ons vandag oor God se grootheid dink. Vergelyk dit met die grootheid van die wêreld se grootste koninkryke waarvan daar vandag miskien net klippe oorgebly het en waarvan die magtige heersers al lank vergete is. En dan hierdie groot gedagte.
Alhoewel daar soveel dinge is wat ons nie weet of kan sien nie, kom God se grootheid oor duisende jare in verwondering na ons toe. En terwyl ons in verwondering leef, breek diep geheimenisse oor die lewe van God na ons toe deur. As dit dus voel of jy iewers jouself in die lewe verloor het, of jy sukkel om sin te maak van wat alles om jou aan die gang is, gaan staan vanaand buite en kyk na die sterre van ons eie sonnestelsel en verwonder jou aan dit wat ook nog daarbuite lê – wat jy nie kan sien nie – en beleef hoe dieselfde Skepper van hemel en aarde aan jou die gawe van verwondering en lewe gegee het.
Gebed
Here, ek dank U vir hierdie aarde. O, Here, bewaar my daarvan dat ek aan die skoonheid van u skepping ooit so gewoond sal raak dat dit my nie meer roer nie. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos

1 September 2024 – Nader God en dien Hom met ’n opregte hart
Nehemia 9: 1-37
Ons lees vandag in Nehemia 9 oor die Israeliete wat hulle bekeer en hul sonde bely het. Hierdie gedeelte is ’n kragtige herinnering aan God wat alles geskep het en alles elke dag onderhou. Daarom word die Israeliete ook weer herinner dat God ’n God van liefde is en bereid is om te help en te vergewe wanneer gelowiges Hom nader en aan Hom gehoorsaam is.
Die Israeliete het ’n vasdag ingestel en ’n belydenis uitgespreek nadat hulle besef het hoe ver hulle van God afgedwaal het. Hul belydenis was nie net ’n formele handeling nie, dit het gepaard gegaan met diepe hartseer en berou. Hulle het die erns van hul sonde besef en hul harte was gebreek oor wat hulle verkeerd gedoen het. Dit was ook nie net ’n oomblik van berou nie, maar ’n lewensveranderende onderneming om van hul sonde af weg te draai en God te gehoorsaam.
Hierdie verhaal van bekering en berou is ook ’n herinnering aan ons eie lewe vandag. Laat ons daarom onthou dat God genadig is en ons sonde vergewe wanneer ons ons sonde bely en ons lewens verander om God te gehoorsaam. God is in sy skepping met ons besig, en deur sy Woord onthou ons dat Hy altyd getrou is en sy beloftes aan ons sal nakom. Daarom moet ons ons lewe aan God toewy en Hom prys en aanbid vir sy goedheid en genade teenoor ons.
Die Israeliete het hierdie belydenis uitgespreek omdat hulle besef het hoe getrou God, as Skepper en Onderhouer van die skepping, aan hulle was, selfs al het hulle Hom verlaat en teen Hom gesondig. Hy het hulle nie verlaat nie, maar hulle beskerm en gelei deur die woestyn en die ballingskap. Ons kan God, wat alles geskep het en alles elke dag onderhou, in ons lewe vertrou. Hy sal ons nooit verlaat nie, en Hy sal altyd daar wees om ons te help in tye van nood. Ons kan Hom vertrou om ons te lei en te beskerm deur die uitdagings van die lewe. Laat ons mekaar ondersteun en aanmoedig om nader aan God te kom, ons lewens te verander om Hom in alles gehoorsaam te wees, en Hom te dien met ’n opregte hart.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

31 Augustus 2024 – Leef in aanbidding en met dankbaarheid
Kolossense 1: 15-23
Paulus begin hierdie gedeelte deur ons te wys hoe God alles in die skepping gemaak het en hoe alles deur Hom bestaan. Die feit dat God alles in die skepping geskape het, beteken dat daar niks buite sy beheer is nie. Dit sluit alles in wat ons kan sien en alles wat ons nie kan sien nie. Hy is in beheer van alles wat in ons wêreld gebeur. Selfs in tye van onsekerheid en moeilikheid, kan ons gerus wees dat God aan die stuur is. Paulus sê dat Christus die beeld van God is, die eersgeborene van die hele skepping.
Dit beteken dat Christus die perfekte voorbeeld is, en omdat Hy die eersgeborene van die skepping is, is Hy ook die hoogste en belangrikste in die skepping. Paulus gaan verder deur te sê dat alles in die skepping deur Christus geskep is, sowel in die hemel as op die aarde, sigbaar en onsigbaar, magte en gesag, en alles wat bestaan. Dit het ’n praktiese implikasie vir ons lewens as gelowiges. Ons moet vra: Wat beteken dit vir ons lewens as Christene? Wat is ons rol in die skepping, en hoe kan ons ons lewe as Christene leef?
Paulus antwoord hierop deur te sê Christus is ook die hoof van die liggaam, die kerk. Dit beteken dat Christus nie net die skepping beheer nie, maar ook sy kerk op aarde. Hy is die hoof, en ons is die lede van sy liggaam. Daarom moet ons ons lewens leef in ooreenstemming met sy wil. Paulus maak dit duidelik deur te sê dat Christus die eerste is wat uit die dood opgestaan het, en dat Hy die verlossing vir ons bewerk het deur sy bloed aan die kruis.
Dit beteken dat ons gered is deur geloof in Christus alleen en dat Christus die enigste middelaar tussen God en die mens is. Dit beteken dat ons deur Christus alleen verlossing en ’n nuwe lewe ontvang waarin ons nuut en anders moet leef. Ons moenie bang wees vir die toekoms nie, maar ons vertroue plaas in God wat alles geskape het. Dit moet ons aanmoedig om ons geloof te versterk en ons lewens te leef in aanbidding en met dankbaarheid teenoor God vir ons verlossing in Jesus Christus.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

30 Augustus 2024 – God is magtig en in beheer van alles
Jeremia 31
Dit kan vir ons moeilik wees om te aanvaar dat ons nie alles in ons lewens beheer nie. Ons wil graag dink dat ons ons eie lot kan bepaal en dat ons alles kan bereik wat ons wil deur hard te werk en slim te wees. Jeremia 31 laat ons egter weer daarvan bewus word dat ons afhanklik is van God vir alles. Ons kan niks bereik sonder sy hulp en sy seën nie. Jeremia 31: 35 herinner ons aan die grootheid van God as die Skepper van alles wat bestaan. Hy het nie net die aarde gemaak nie, maar ook die son, die maan en die sterre, insluitend ons as mense. Dit herinner ons aan sy mag en sy alomteenwoordigheid, en ons moet Hom daarvoor aanbid en verheerlik.
Jeremia 31 gaan ook oor sy trouheid teenoor sy volk. God herinner sy volk dat Hy die Here van die leërskare is. Dit beteken dat Hy magtig is en dat Hy in beheer van alles is wat gebeur. Die feit dat God alles in die skepping geskape het, beteken dat daar niks buite sy beheer is nie. Dit is ’n bemoedigende boodskap vir ons as gelowiges vandag. Jeremia 31 is ’n kragtige herinnering aan God se almag, liefde en genade teenoor ons. In die wêreld wat so vol gevaar en onsekerheid is, kan ons op die Here van die leërskare vertrou om ons te beskerm en te versorg. Ons kan op Hom vertrou, selfs wanneer ons nie verstaan hoekom dinge gebeur nie.
Dit beteken om God, as die Skepper van alles wat bestaan, te vra vir leiding en beskerming in alles wat ons doen. Ons kan rustig wees in die wete dat God getrou aan sy beloftes is, en sy liefde vir ons is onvoorwaardelik. Hy sal ons beskerm en ons lei, en Hy sal sy wil vir ons bekend maak. Laat ons ons daarom nie laat afskrik deur die uitdagings van die lewe nie, maar laat ons vertroue in God hê en Hom aanbid en verheerlik vir sy grootheid as ons Skepper wat ons nooit verlaat nie. Mag ons hierdie waarheid in ons harte bewaar en ons daaraan toewy om ’n lewe van dankbaarheid te leef.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

29 Augustus 2024 – God sorg vir alles in die skepping
Psalm 104: 1-35
Die wêreld is ’n plek van verskeidenheid, van die diep see tot die hoogste bergpieke. Hierdie skepping van God herinner ons aan die grootsheid en almag van God, en dat sy krag en wysheid onmeetbaar is. Psalm 104 begin met ’n lofprysing aan God vir sy skepping en beskryf dan in detail die magtige krag van God wat die skepping beheer en alles in orde hou. Die Psalmdigter beskryf hoe God al die dinge in die skepping in sy hande hou en herinner ons dat dit God is wat elke dag vir alles sorg.
Die digter stel dit ook dat God nie net die skepping geskep het nie, maar dat Hy elke dag besig is om sy skepping voortdurend te vernuwe en te herskep. God is nie net die ontwerper en skepper van die skepping nie, Hy is ook die bewaarder en versorger van die skepping. God sorg vir alles en gee voedsel en beskutting teen die natuurelemente. Hierdie sorg herinner ons aan God se liefde vir die skepping, en die Psalmdigter verlang dat ons die skepping moet beskerm en bewaar. Daarom kan die digter sê: Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees! Ek wil my in die Here verbly (vers 34).
Die digter beskryf die verhouding tussen God en sy skepping en rig ’n uitnodiging aan ons om meer te leer oor die magtige krag van God in sy skepping. Ons is deel van die skepping en God sorg vir ons net soos Hy vir die diere en plante sorg. Daarom beskryf die digter die kern van die lewe van die diere en die mens op aarde as ’n gawe van God; ’n gawe wat ons nie verdien nie, maar wat ons in dankbaarheid moet ontvang. Dit dien vir ons as ’n bemoediging om te weet dat God vir alles in die skepping sorg en dat Hy ook vir ons as mense sorg. God is nie net ’n verre toeskouer nie, Hy is betrokke by elke aspek van ons lewens. Daarom kan ons ook soos die Psalmdigter sê: Ek wil die Here loof. Prys die Here! (vers35).
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

28 Augustus 2024 – Om God te loof en te aanbid
Psalm 95: 1-11
Psalm 95 is ’n kragtige lofsang aan God, die Skepper van die heelal. Die Psalmdigter begin met die uitnodiging om God met vreugde te nader en ons stemme te verhef in lof en dank. Die Psalmdigter vestig ook ons aandag op die grootsheid van God en die wonderlike dinge wat Hy gedoen het. God het die aarde geskep, die berge gevestig, die see gevorm en die diere van die veld en die lug geskep. Die digter herinner ons daaraan dat alles in die skepping van God is en dat ons Hom daarvoor moet loof en dank. Maar dan verander die toon van die Psalm en die digter praat oor die harde harte van die Israeliete, wat in die woestyn opstandig was teen God en nie aan God gehoorsaam wou wees nie.
Hierdie Psalm dien as ’n herinnering om nie die foute van die Israeliete te herhaal nie. Die Psalm roep ons op om die Here te loof en Hom te dank vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Dit is soms maklik om te vergeet hoe goed God vir ons is, veral wanneer ons deur moeilike tye gaan, maar die waarheid is dat Hy altyd vir ons sorg en ons nooit verlaat nie. Daarom herinner die Psalm ons aan die krag van God se woord. Hy het die aarde geskep deur sy woord, en deur sy woord kan Hy ook ons lewens verander.
Ons moet daarom aan God gehoorsaam wees met ’n opregte hart en ons aan Hom onderwerp deur Hom te volg en Hom te dien, sonder om te twyfel aan sy goedheid en sy liefde vir ons. Die Psalmdigter verduidelik dat as ons God met ons lewe en ons lewensomstandighede vertrou, ons vervul word met die vreugde en die vrede wat net God kan gee. Daarom nooi die digter ons uit om ons aan God te wy en Hom te dien, te volg en te aanbid met vreugde en dankbaarheid in ons lewe. Mag ons elke dag God loof met ons hele hart en Hom volg en dien met vreugde en dankbaarheid, sonder om te twyfel aan sy liefde en sy goedheid vir ons.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

27 Augustus – ’n Herinnering aan God se skepping en sy woord
Psalm 19: 1-15
Psalm 19 is ’n besondere lofsang wat ons herinner aan God se skepping en sy woord. Die Psalm begin met ’n lofprysing aan God se skepping met die woorde: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (vers 2). Hierdie woorde herinner ons daaraan dat God se heerlikheid en grootsheid sigbaar is in die skepping om ons. Die son, maan en sterre vertel van sy mag en wonderwerke, en die natuur herinner ons aan sy skeppende krag en liefde. Dit is ’n herinnering dat God alomteenwoordig is en dat sy krag en wysheid onmeetbaar is. Psalm 19 gaan ook verder as net ’n lofsang oor die skepping.
Die tweede deel van die Psalm beskryf die waarde van God se woord. God openbaar Hom aan die mens deur sy skepping en deur sy woord, wat aan die mens leiding bied. Die Psalmdigter sê: Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig (verse 8-9). Die Psalm herinner ons dat die woord van God waarde en betekenis aan ons lewens gee. Die krag van God se woord in die lewe van die mens gee nie net leiding nie, maar ook insig en wysheid.
Wat beteken hierdie Psalm vir ons vandag? Die boodskap is duidelik: Dit is ’n uitnodiging om ons te verwonder oor die grootsheid en almag van God. In ons tyd is dit maklik om vasgevang te raak in die druk van die lewe en te vergeet van die skepping en die alomteenwoordigheid van God, maar ons word herinner aan die wonderlike werk van God in die skepping, wat Hy aan ons toevertrou het. Dit is ’n roeping wat geldig is vir elke Christen, om ons te wy aan die bestudering van die Woord van God en om die Woord in ons daaglikse lewens toe te pas. Deur die Woord van God word ons gelei na die waarheid, word ons versterk in ons geloof, en word ons aangemoedig om te groei in ons verhouding met God.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

26 Augustus – Die grootsheid van God in die skepping
Psalm 8: 1-10
As ons na die skepping kyk, kan ons nie anders nie as om verbaas te wees oor die grootsheid en majesteit van God. Psalm 8 begin met ’n lofsang aan God: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (vers 2). Dit is ’n lofsang met ’n boodskap wat nie net in die tyd van die Psalmdigter geldig was nie, maar wat vandag nog net so geldig is. Ons leef in ’n wêreld waarin die impak van die mens op die skepping dikwels skrikwekkend is. Klimaatsverandering, uitputting van natuurlike hulpbronne, en afvalvermorsing, is net ’n paar voorbeelde van die skade wat die skepping aangebring word.
Die boodskap van Psalm 8 is ’n boodskap van hoop, met ’n uitnodiging. Die Psalm gaan van die grootsheid van God oor na die waarde van die mens. Dit sê: …wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (vers 5). Hierdie vers dui aan dat God omgee vir elke mens, selfs al is ons so klein en onbeduidend in vergelyking met die grootsheid van die skepping. Dit is ’n uitnodiging om ons te verwonder oor die grootsheid van God en sy skepping, om ons te herinner aan die waarde wat God aan elke mens gee en die verantwoordelikheid van heerskappy oor sy skepping.
Die Psalm sê: U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp… (verse 6-7). Psalm 8 herinner ons daaraan dat ons nie net geskape is deur God nie, maar dat ons vir Hom waardevol is. Ons moenie ons waarde vind in sukses en prestasie of wat ons doen of bereik nie, maar in wie ons is. As mense wat vir God waardevol is, al is ons klein, het ons die verantwoordelikheid om sy skepping te bewaar en te bestuur, en elke dag met ’n lofsang en dankbaarheid te leef volgens die waarde wat God aan ons gee.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

25 Augustus – Bartolomeusnag vandag
2 Korintiërs 9: 1-9
Ons kon die afgelope week besin oor die dood, en die lewe. In ons gons ’n instinktiewe energie om te oorleef. Vanaf ons eerste asem veg ons liggaam en ons bewussyn vir lewe en oorlewing. Die lewe bring op sy tyd gebeure op ons pad wat hierdie instink belemmer, en skielik moet ek kies om te veg of te vlug, te bestaan of te vergaan, om alles in ag te neem en bewustelik ’n lewensbesluit te maak.
Bartolomeusnag se slagting van Hugenote is ’n jaarlikse herinnering aan hoe die mens kies om te veg en te vlug. Deel saam met my ’n oomblik van bewuswording oor hierdie gebeure, en elke ander voorbeeld van hoe mense van hul vryheid om te kies wat met hulle gebeur, ontneem is. In kort noem ons dit trauma. Ons onthou, want hierdie soort gebeure – vandag nog – maak ons bewus van ons eie menslikheid, ons getuienis van vertroue in ons Herder, en die belangrike besluit om elke dag in die voetspore van Jesus te volg.
In kort (lees gerus weer die afgelope week se dagstukkies), het ek en jy vanmôre nuwe asem ontvang. In 2 Korintiërs 9: 1-9 word ons opnuut aangemoedig om met bereidwilligheid die taak, genadewerk van hulpverlening aan die heiliges, te voltooi met wat ons het. Wat het jy vanmôre tot jou beskikking om mee te leef? Dalk net nog een asem? Dalk oorvloed? Hoe kan jy vandag die lewe in sy volheid kies? Hoe kan jy die opdrag van Jesus uitvoer waar jy is? Hoe kan jy uit die oorvloed wat die Vader vir jou gee, ’n daadwerklike verskil maak in jou huis, jou huwelik, jou vriendekring, jou werkruimte, en jou geloofsgemeenskap?
Die lewe kom en gaan op sy tyd verby. Kies vandag weer lewe. Kies om die Woord wat lewe in Hom het, te laat skyn deur jou, want nie die dood of enige duisternis kan dit uitdoof nie.
’n Oomblik van herinnering aan elkeen wat nie kon kies wat met hulle gebeur nie.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

24 Augustus – Jou belangrikste besluit
Filippense 1 (teksvers vers 20) (AFR2020)
Ons apostel Paulus was self in ’n tweestryd gewikkel, of hy hier bly of na die hiernamaals gaan. Hy, en ons, weet nog dit kan net beter wees by ons Heer. Paulus se tweestryd laat besef ons ook weer in ons eie lewens hoe belangrik die besluit is oor hoe ons ons dood as waardevol kan inrig.
Met my dood, sou dit met baie woede en bitterheid wees, sal ek my familie en vriende agterlaat met verwarring, skuldgevoelens, skaamte en dalk magteloosheid. Ek besef dat ’n mens se dood, my dood, ’n effek gaan hê op die mense om my. Mense wat ek agterlaat, kan ek nou al versorg, maar sou ek nie die geleentheid gebruik nie, sal my dood dalk glad nie ’n gesonde effek op hulle hê nie.
Ek pleit nie vir ’n Carpe Diem oproep tot lewe nie; inteendeel, eerder om allereers die koninkryk van God te ontdek elke dag saam met die mense om my. Paulus sal sê …deur my lewe of deur my dood (vers 20). Só kan ek die Heer verheerlik deur my lewe en só kan mense om my …vordering maak en geloofsvreugde ervaar (vers 25).
Dit vra van my om uit dankbaarheid en in afhanklikheid te leef. Dit vra van my om gretig te wees om te vergewe en vergifnis te ontvang. Dat ek die hoop en vertroue in elkeen om my sigbaar sal maak sodat hulle ’n lewe van vreugde en vrede kan voortsit ná my dood. Dat my dood, maar meer, my lewe, hulle sal noop tot ’n vol lewe in Christus. Só ’n besluit is nou in my hande; soos Paulus, kan ek – en jy ook – vandag kies om só te leef.
In die uur van my dood kan ek waarlik ’n lewensveranderende effek op mense hê. Ek besef op ’n baie diep vlak dat doodgaan die belangrikste lewensbesluit is, as ek elke dag Christus as Opstanding en Lewe kies. Dit behels ’n keuse om ander óf met skuldgevoelens te bind, óf hulle met dankbaarheid vry te maak.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

23 Augustus – ’n Nuwe visie vir volwassenheid
Genesis 32 (AFR2020)
Belydenis van ’n volwassene: Ek sit alweer in die dieselfde ou stryd, met myself, elke keer as ek in ’n nuwe en onbekende milieu is. Ek ervaar ’n vorm van isolasie, ’n alleenheid in die gestoei teen die onbekende. ’n Teenkanting wat ek maar so alleen aanvoer teen ’n uitdaging, of ’n gebeurtenis in my lewe. Namate ek ouer word, raak ek die isolasie en die stryd gewoond, tog bly elke aantog pynlik.
Jakob in stryd, in worsteling met ’n man, word op die heup getref. ’n Stryd wat hy deurvoer tot dagbreek toe. Jakob, ’n man wat naamloos deur die laaste paar jare voor hierdie gestoei gedrentel het. Wie se naam al weerhou is, wat die naam van sy broer gebruik het om sy pa Isak te kul, wat vlug, wat weggeslaaf het oor jare heen. ’n Alleenheid in elke stryd.
Vir Jakob is die probleem nie om nog ’n antwoord te kry vir sy uitdaging nie (dat sy broer op pad is na hom met 400 man). Nee, vir Jakob het dit tyd geword om homself in die oë te staar. Homself te sien as onveranderd in sy hardkoppige (dalk lafhartige) karakter en ’n besluit tot nederigheid en oorgawe aan God te maak. Wanneer die man Jakob konfronteer met die vraag Wat is jou naam? (vers 27), kan Jakob vir die eerste keer met eerlikheid, kwesbaarheid, antwoord: Jakob. In een oomblik ontvang Jakob nie net ’n nuwe naam nie, maar ook betekenis. Hy gaan nie meer weghardloop nie. Hy gaan nie meer swig nie. In ’n oomblik van oorgawe aan God word Jakob erken vir wie hy is.
’n Nuwe visie vir volwassenheid: Ek vul my dae met waardevolle gesprekke, deurdagte besluite, in afhanklikheid van die Heer, my Lewendmaker, my Weg en my Waarheid. Die Heer is met my in my donkerste uur, ook in my verganklikheid, maar Hy is met my. Nou is ek nie méér in staat om my uitdagings te oorkom nie, maar eerder meer gewillig om my Here met my gestoei te vertrou.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

22 Augustus – ’n Muur met ’n deur in
Lukas 24: 36-49 (AFR2020)
Die dood, op sy tyd, is deel van ’n veel dieper gebeurtenis. Ons doen alles in ons vermoë om hierdie ongemaklike waarheid te vermy – dat ons lewens tot ’n einde gaan kom. Alles wat ons doen en sê, is ’n poging om die dood te vermy, die finaliteit te ontken. Tereg mag jy só die dood ervaar, en probeer vermy. Ons het nie meetbare kennis van hoe die lewe na dié lewe is nie, en die dood is die muur wat die lewe skei. Ons kan waarlik nie die omvang van die dood verstaan nie. Dit mag voel soos ’n muur waaroor ons nie kan loer nie.
In Christus se oorwinning verloor die dood sy angel, leer ons by die apostel Paulus. Wat vir ons tot nou toe onoorkombaar gelyk het, word nou ’n moontlikheid tot ’n ander lewe; wat tot nou toe na ’n goeie rede vir vrees gelyk het, blyk nou ’n rede vir hoop te wees. Die finaliteit van die dood (die muur) word in Christus vir ons oorkom (die opstanding en die lewe). Soos Jesus aan sy dissipels verskyn het, en hulle laat besef het Hy is waarlik die Here, so verskyn Hy ook aan my en jou vandag. Hy maak ook vandag jou verstand daarvoor oop.
Skielik kry die muur ’n deur. Waarna die deur lei, kan jy nie met sekerheid sê nie, maar iets verander in jou wanneer jy besef saam met Wie jy gaan wees. Jy begin anders dink oor Wie nou by jou is. Jou oortuiging oor wie jy is, in effek, verander wanneer die muur ’n deur kry. Jou oortuiging oor waarmee jy besig moet wees, verander wanneer die muur ’n deur kry. Skielik verander die toon van alles wat ons doen en sê drasties op ons pad na die deur toe.
Hy het die graf en dood oorwin.
Halleluja! Halleluja!
Sy lewe gee ons nuwe sin.
Halleluja! Halleluja!
(Gesang 402: 3)
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

21 Augustus – Om jou menslikheid in die oë te staar
1 Korintiërs 15: 54-58 (AFR2020)
Om bevriend te raak met die dood, my geliefde broer en suster, gee ook vir ons opnuut die geleentheid om te getuig dat ons almal ten volle vertrou op die Here ons God. Ons is deel van nageslagte van God se belofte en die voorouers van generasies wat nog ná ons die blye boodskap gaan bring. Ons is nie meer verdwaald in die vrees vir die dood nie; inteendeel, ons is bewus van hoe die dood ook vir ons ’n poort is wat na ’n nuwe lewe lei.
Die wêreld se daaglikse nuusberigte laat jou ook soms twyfel of daar nog enige hoop oor is om van te getuig. Met soveel om oor negatief te wees – persoonlike veiligheid, diensverskaffing, werksekuriteit – verloor jy dalk ook hoop dat die dood enigsins iets anders gaan bied.
Tog het Jesus hierdie weg vir ons oopgemaak. Ons kies dus om Jesus te volg, geen ander nie. Wanneer ons dan na Jesus se lewe kyk, soos die apostel Paulus, kan ons ook leer by Jesus. Wanneer Paulus dan vra, Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? doen ons dit in die herinnering dat ons mens is, en ons menslikheid is nie die somtotaal van ons bestaan nie.
Dit is ’n keuse, maar ’n moeilike keuse. Die gebeure om ons en ons eie paranoïese gedagtes wil ons graag verlei sodat ons vrees vir die dood ons gedagtes, woorde en dade beheer. Maar kan ons kies om bevriend te raak met ons roeping soos Jesus gedoen het? Ons kan kies om as God se geliefde kinders te lewe in solidariteit met alle mense, met vertroue op ons uiteindelike wins. Ons is nie gister se kinders nie, maar ons is ook nie God se enigste kinders nie. Inteendeel, ons is bewus van talle nageslagte, so baie soos die sterre in die hemel, waarvan ons deel is.
My liewe mens, wees standvastig en onwrikbaar … weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie (vers 58).
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

20 Augustus – Om die dood te bevriend
Psalm 23: 4 (AFR2020)
Kan jy oorweeg om die dood te bevriend? Dit behels nie noodwendig ’n gemaklikheid met die finaliteit van die lewe nie. Tog kan ’n element van bevriend wees met die dood vir jou ook rustigheid bring. ’n Versekering oor lewe. Dit is ook belangrik om bevriend te raak met alle fasette van jou lewe. Bevriend met jou drome, bevriend met jou ideale, bevriend met jou identiteit, jou bewuste, en met jou onbewuste self.
Beklemtoon vir ’n oomblik hoe belangrik dit is om in vrede te kan leef met wie jy is, met waarmee jy tans besig is. So ook met die dood. Om voluit te kan leef, vra dat ons as mens bewus raak en realisties is oor elke faset van ons lewens, ook die dood.
Ons vrese lê baie keer in die donker, in die onbekende. Ook van die dood. Dit is hier waar ons volwassenheid tot die lig kom wanneer ons juis ook die donker kant van ons storie in ons selfwees integreer. Dit het vir my baie sin gemaak, aangesien ek redelik vertroud is met my eie neiging, en dié van ander, om die pynlike kant van die lewe te vermy. Ek ontken of onderdruk dit wat pynlik is. Ek het ’n diep gevoel, wat moeilik is om te verwoord, dat as ons regtig met die dood bevriend sou wees, ons vry mense sou wees. Soveel van ons twyfel en huiwering, ambivalensies en onsekerhede, hou verband met ons diepgewortelde vrees vir die dood. Ons lewens kan aansienlik anders wees as ons met die dood as ’n bekende gas, in plaas van as ’n dreigende vreemdeling, verband kon hou.
Wanneer ek dan lees Dit is u staf en u stok wat my gerusstel, dan praat ek nie gevaar weg nie, ek ontken nie dat ek ook in die dal van doodskaduwee gaan beweeg nie. Eerder bevriend ek die realiteit, met die wete, my Heer is met my. Die Here is my herder.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

19 Augustus – Voorbereiding vir die dood
Johannes 11: 25-27 (AFR2020)
Sommige mense sê hulle is bang vir die dood. Dalk voel jy ook bang vir die dood? Party mense sê hulle is nie. Maar die meeste mense is nogal bang om dood te gaan.
Ons ervaar soms, of sien dalk, hoe die menswaardigheid van só ’n persoon stelselmatig verminder. Die stadige agteruitgang van gees en liggaam, die pyne van ’n groeiende kanker, die verwoestende gevolge van vigs. Ons ervaar dalk, of is bang daarvoor, om ’n las vir jou vriende te word en beheer oor jou bewegings te verloor. Om oor gepraat te word, of met halwe waarhede oor gepraat te word, om onlangse gebeure te vergeet en die name van geliefdes te vergeet – dit alles en nog baie meer is wat ons regtig vrees.
Dit is nie verbasend nie dat ons soms sê: Ek hoop nie dit hou lank nie. Of: Ek hoop ek sal deur ’n skielike hartaanval sterf en nie na ’n lang pynlike siekte nie. Maar, wat ons ook al dink of hoop, die manier waarop ons sal sterf, is onvoorspelbaar en ons bekommernisse daaroor eintlik vrugteloos. Ons kan ons wel voorberei vir die dood. Om onsself voor te berei vir ons dood, is ’n tree vorentoe na ’n vol lewe.
Die dood, soos Jesus daaroor praat, is daardie oomblik waarin totale nederlaag en totale oorwinning een is. Die kruis waaraan Jesus gesterf het, is die teken van hierdie eenheid van nederlaag en oorwinning. Ek is die opstanding en die lewe. Jesus sê: Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie (verse 25-26).
Vandag kan ek en jy opnuut hierdie vraag hoor, ook aan ons: Glo jy dit? Hierop ’n oortuigde antwoord: Ja. Ek kan in Christus voluit lewe, al weet ek ek sal op ’n dag sterf. My belydenis van vertroue is dan ook: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God (vers 27). Ek kies om vandag in u teenwoordigheid te leef.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone

18 Augustus – Ons as tempel van God
1 Korintiërs 3: 16-17 (AFR2020)
Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? (vers 16).
Die tempel in ou Israel was die hart van Israel se godsdienstige lewe. Eers was daar die tabernakel wat telkens opgeslaan en vervoer is. Jy kan vandag ’n lewensgrootte replika van die tabernakel by Timnapark in Israel besigtig (googleloer gerus). Dit was eers koning Salomo wat die eintlike tempel in Jerusalem op die tempelberg (Sion) gebou het. Hierdie eerste tempel is in 586 vC deur die Babiloniërs vernietig. ’n Tweede tempel is gebou, wat later deur Herodes heeltemal oorgebou is tot ’n asemrowende en manjifieke struktuur. Wanneer Paulus oor die gelowiges as tempel van God skryf (54 of 55 nC), het hy waarskynlik hierdie majestueuse tempel in gedagte.
Dit was elke Joodse gelowige se droom om ten minste eenmaal in sy of haar lewe die tempel te besoek. Dink maar aan die talle Psalms soos Psalm 84: My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here … Selfs ’n mossie vind ’n tuiste, en ’n swaeltjie haar nes… by u altare … daar waar ’n pelgrim verskyn voor God in Sion (verse 3, 4 en 8).
Paulus heg ’n diepere betekenis aan die tempel deur gelowiges as die tempel van God uit te beeld: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is nie? Voeg daarby dat die Gees van God in hierdie lewende tempel woon. 1 Petrus 2: 5 sê: … en laat julle as lewende klippe opbou tot ’n geestelike huis…
Ons elkeen is ’n lewende klip en saam word ons as tempel van God opgebou: ...want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle (1 Kor 3: 17). Ons is volgens 1 Petrus 2: 5 ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God aanneemlik is.
Die hele week se oordenkings het oor die bouwerk aan onsself as tempel van God gehandel. Kom ons wees ’n Geesvervulde tempel wat inspireer – ’n heenkome vir pelgrims wat op soek is na sin en betekenis.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

17 Augustus – So hittete
1 Korintiërs 3: 14-15 (AFR2020)
As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen (vers 15).
Ons werk in God se koninkryk en gemeente gaan volgens 1 Korintiërs 3: 13- 15 eendag ’n vuurtoets ondergaan. Dit herinner aan die Seun van die Mens in Openbaring 1: 14: Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vlammende vuur. Is dit met sy vlammende-vuur-oë dat Jesus ons gemeentelike bouwerk gaan beoordeel? Net in die volgende hoofstukke van Openbaring volg die skrywes aan die sewe gemeentes waarin hul werk beoordeel word.
Bouwerk wat in die vuurtoets behoue bly, sal beloon word, en diegene wie se werk verbrand, sal skade ly. Bedoel Paulus dat goeie werk met die hemel beloon gaan word en brouwerk met die hel se vuur? Nee, dit is nie die bedoeling hier nie. Goeie werk in gemeentes dra die vrug van die Heilige Gees en dit is daar vir almal om te sien en te waardeer – en groot genoeg beloning vir elkeen om te vier. Gemeentewerk wat deurspek is met partyskappe, onmin, woede, jaloesie, tweespalt, vyandskap en skeuring is soos die hout, gras en strooi wat aan die gulsige vlamme van die vuurtoets onderwerp word. Die werk verbrand tot as en roet en die medewerkers strompel bedroë met roetbesmeerde gesigte eenkant toe. Hul beloning is die roet deur die wind verwaai.
Al verbrand jou werk, word jy nogtans gered – maar soos deur vuur heen – uit die vlammevuur geruk. So hittete. Dit is soos ’n stout kind alleen tuis wat vir ’n brand in die huis verantwoordelik was. Die gewone uitgange word deur vlamme geblokkeer. Die kind staan op die tweede verdieping se stoep. Die vlamme lek, die hitte is oorweldigend en die rook belemmer sig. Dan hoor die kind die pa se stem: Spring my kind, ek sien jóú al sien jy my nie – ek sal jou vang. Die kind spring blindelings agter die pa se stem aan en land in veilige arms.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

16 Augustus – Die vuurtoets as gehaltetoets
1 Korintiërs 3: 12-15 (AFR2020)
…en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel… (vers 13).
Ek het eenkeer saam met vriende by water gekampeer. Rondom die water was daar die gewone gesig van tente en karavane. Die middag was loom en ons het rustig op ons kampstoele gesit en selfs weggedommel. Skielik was daar ’n rumoerige geskreeu aan die oorkant van die water. Tot ons skok het ons gesien hoe grys-swart rook by een van die karavane uitborrel. Mense het vervaard met elke hol ding wat hulle in die hande kon kry water gaan skep en desperaat probeer om die eerste lekkende vlamme te blus. Sekondes later was die vlamme oorweldigend en elkeen het van die hitte weggedeins. In ’n ommesientjie het net die basis en swartgebrande raamwerk van die karavaan oorgebly. Gelukkig was daar geen ongevalle nie – net die onthou van die verterende vuur wat in die magtelose toekykers se geheue ingebrand is.
Hout, gras of strooi is van die boumateriaal wat Paulus lys as verdagte materiaal wanneer die vuurtoets as gehaltetoets aangelê word. Hout word dikwels as klassieke afwerking binne geboue gebruik en vertoon pragtig. Die Egiptenaars van ouds het die Israeliete met strooi gestraf deur dit nie meer in die steenmaakproses te voorsien nie. Hulle moes by die harde werk, skielik al die nodige strooi ook gaan versamel. Feit is – hout, gras en strooi, en ook stene wat met klei en strooi gemaak is, kan selfs nie eens ’n matige vuur weerstaan nie.
’n Vinnige googleloer wys dat goud by ongeveer 1 064 °C smelt en by ongeveer 2 856 °C kook. Silwer se smeltpunt is 961,8 °C en ’n diamant as edelsteen het die hoogste smeltpunt van digby 4 000 °C. Silwer word vandag as minder edel teenoor goud en platinum beskou, maar in die 15de eeu was silwer meer waardevol as goud.
Geen wonder nie dat Paulus goud, silwer en edelstene as gehalteboumateriaal aanprys. God verwag gehaltewerk in sy gemeente as tempel – slegs ons allerbeste vir die Allerhoogste!
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

15 Augustus – Repaint! Repaint! And thin no more!
1 Korintiërs 3: 12 (AFR2020)
Of elkeen nou op die fondament bou met … hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word…
In die Engelse wêreld doen ’n kostelike grappie oor “Randy the painter” die rondte. ’n Gemeente besluit dat hul kerkgebou geverf moet word en win tenders in. Randy tender die laagste en kry die werk. Hy koop verf en uit die staanspoor verdun hy dit op ’n drastiese wyse. Hy vorder fluks met sy verdunde-verdagte-verfwerk en terwyl hy op ’n steier besig is, is daar skielik ’n oorweldigende donderslag. Die hemele open en die reën stort neer. Die verskrikte verwer verloor sy balans en val op die grond, vanwaar hy sien hoe die reën sy verdunde verf van die mure afwas. Synde ietwat van ’n gelowige, besef hy dat dit die oordeel van God is, en hy roep benoud na bo: Oh, God, forgive me; what should I do? Van bo kom toe ’n harde stem: Repaint! Repaint! And thin no more!
Hierdie grappie herinner aan bouwerk wat nie ’n grap is nie – swak boumateriaal waarna Paulus verwys waarmee daar op die Jesus-fondament gebou word. Hy begin op hiperboliese wyse met uitnemende boumateriaal, naamlik goud en silwer; dan kosbare stene; voordat hy met minderwaardige boumateriaal soos hout, gras of strooi eindig.
Soos daar met Jesus se gelykenis oor die fondament op rots of grond ’n stormtoets was, en Randy se verfwerk nie die watertoets kon weerstaan nie, praat Paulus van ’n vuurtoets waaraan die tempel-van-God-bouwerk getoets sal word. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel (vers 13).
1 Korintiërs 3: 10-23 handel oor gelowiges as die tempel van God. Die gemeenskap van gelowiges as gebou berus op die fondament Jesus Christus, en almal wat met watter vorm van “gemeentebou” ook al besig is, sal van hul bouwerk rekenskap moet gee. Die vurige aanslae wat partyskappe (vgl 1 Kor 3: 4-8) meebring, die “verdunning” van die evangelie met dwaalleringe, is die vuurtoets wat brouwerk blootlê.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

14 Augustus – Die regte fondament
1 Korintiërs 3: 11 (AFR2020)
Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus Christus.
Die skewe toring van Pisa, die bekende Italiaanse landmerk wat 3,9 m van die middelpunt suid leun, is aan almal bekend. Die bouwerk van die agtverdiepingtoring het in 1173 begin en tot by die tweede verdieping gevorder voordat hulle agtergekom het dat die grond aan die een kant effe begin sak het. Die bouwerk is gestaak en ’n honderd jaar later voortgesit. Gereelde opmeting van die toring het aangedui dat die toring 1,2 mm per jaar geskuif het. In 1987 is die toring as wêrelderfenisgebied verklaar.
In 1989 stort die kloktoring van die katedraal in Pavia, in die streek Lombardye, in duie en die owerhede van Pisa besluit dat ’n span ingenieurs die skewe toring moet stabiliseer. In 2008 is aangekondig dat die toring sodanig gestabiliseer is dat dit vir die eerste keer in die geskiedenis opgehou het om te beweeg. Volgens projeksies sou die toring nog vir 200 jaar stabiel wees. Dit ten spyt, is die 800 jaar oue toring steeds ’n skewe toring.
Kenners van die boubedryf kan jou ure lank besig hou oor hoe belangrik die regte fondasie vir ’n gebou is. In Jesus se gelykenis oor die regte fondasie gaan dit juis oor ’n fondament op die rotsbodem teenoor ’n huis wat net op grond gebou is. Beide bouwerke word aan ’n stormtoets onderwerp, en die huis op die rots bly staan.
Paulus het geen twyfel nie dat Jesus Christus die enigste fondament vir die kerk is en dat niemand ’n ander fondament kan lê nie. Hy wat homself as ’n wyse bouer beskou, is maar te goed bewus dat daar sogenaamde “wyses” is wat God se tempel – wat uit gelowiges bestaan – bedreig (lees verse 19 en 20 in dié verband). Sulke slinkse wyses wil graag aan die Christus-fondament torring. Die regte leer was deur die eeue vir die kerk belangrik. Die regte fondament is ononderhandelbaar – sonder dit sou die kerklike gelowige “gebou” al te veel ’n skewe (Pisa)toring gewees het.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

13 Augustus 2024 – Wyse grondwerk
1 Korintiërs 3: 10 (AFR2020)
Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos ’n bedrewe bouer ’n fondament gelê…
Enkele jare gelede besluit ons om ons badkamer aan die hoofslaapkamer oor te doen. Dit is vroeg in Desember en daar is nie baie tyd oor voor Kersfees nie. Ons druk deur, want ons is tuis en kan toesig hou. Ons kry toe iemand wat voorheen vir ons ligte messel- en pleisterwerk gedoen het en na ons mening min of meer vir die werk geskik is – ’n kontrakteur sou ons te duur uitwerk.
Die werk vorder redelik, maar gou blyk dit dat ons bouer se eintlike verpligtinge by sy werkgewer lê en dat ons bouwerk hoofsaaklik na-ure en oor naweke geskied. Dit ontaard in ’n stryd om tyd en kwaliteit. Kersfees kom en ons verwag ’n huis vol mense. Die projek word in die doodsnikke afgehandel en ek moet noodgedwonge nog die verfwerk doen. Ek sien die pleisterwerk vertoon sleg – trouens, dit lyk soos ’n mengsel van rekmerke en selluliet en ek dink by myself: Ek gaan dit met ’n paar lae verf mooi toeverf… Nodeloos om te sê, brouwerk kry jy nie toegeverf nie. Die goedkoop projek word ’n duur projek. Om die minste te sê, ’n soort fools-rush-projek.
Paulus kondig homself as ’n bedrewe bouer aan. Hy voeg ook by dat hy hierdie bedrewenheid vanweë God se genade het. Die woorde bedrewe bouer dra in die oorspronklike taal ook die betekenis van “wyse meesterbouer”. Paulus is die wyse meesterbouer wat die fondament van hierdie geestelike gebou gelê het sodat ander daarop kan bou.
Dit is nie bloot toevallig dat hy die konsep van wysheid hier inbring nie. In 1 Korintiërs 3: 1-9 is daar voorbeelde van groepvorming. Daar is sommige partye wat hulle by Paulus skaar en ander aan die kant van Apollos. Gelowiges as tempel van God kan nie op hierdie dwaasheid geskoei word nie. Die bouwerk gaan ’n verleentheid word. Die regte fondament is nodig – ’n fondament wat verseker dat toekomstige bouwerk ’n trotse projek sal wees.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

12 Augustus – Jou allerbeste bouwerk!
1 Korintiërs 3: 10-23 (AFR2020)
Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou (vers 10c).
’n Bouer, gevorderd in jare, wat eens vir ’n groot maatskappy gewerk het, het besluit om af te tree. Sy werkgewer was baie teleurgesteld omdat hierdie bouer nog altyd gehaltewerk gelewer het. Hy vra hom toe of hy nie, as ’n laaste en persoonlike guns, net nog een huis sal bou nie – ’n huis vir ’n baie spesiale persoon. Hoewel teësinnig, het hy tog ingestem, maar gou-gou kon ’n mens agterkom dat sy hart nie meer in sy werk was nie. Hy wou so gou moontlik klaarkry. Die afrondingswerk was slordig … selfs die boumateriaal was van swak gehalte. Dit was werklik teleurstellend om te sien op welke manier die ou man sy baie begaafde en toegewyde loopbaan afgesluit het – so halfhartig, so belangeloos, so slordig…
Met die projek afgehandel, het sy werkgewer hom nadergeroep om die huis te inspekteer. ’n Mens kon sien dat die werkgewer teleurgesteld was. Dit was nie hoe hy die bouer geken het nie. Hy hou toe die voordeursleutel van die huis na die ou man toe uit: Dit is my afskeidsgeskenk aan jou vir jare se gehaltewerk! Net jammer hierdie huis getuig nie daarvan nie!?
’n Mens kon die ou man met ’n veertjie omtik – as hy maar net geweet het dat hy eintlik besig was om sy eie huis te bou! Hy het sy kop in skaamte laat sak – almal het sy skande gesien!
In hierdie gedeelte van sy brief aan die Korintiërs fokus Paulus op gelowiges as tempel van God. Hy praat van ’n fondament waarop gebou moet word. Uiteraard is die fondament Jesus Christus en voornemende bouers aan hierdie geestelike tempel moet mooi let hoe hulle daarop bou. Op ’n manier kom ons “werkgewer”, Jesus Christus, by ons aanklop om vir sy “maatskappy” nog bouwerk te verrig. Die gesindheid waarmee ons hierdie opdrag aanvaar en die bouwerk uitvoer, is van allergrootste belang en vra ons allerbeste.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

12 Augustus 2024 – Jou allerbeste bouwerk!
1 Korintiërs 3: 10-23 (AFR2020)
Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou (vers 10c).
’n Bouer, gevorderd in jare, wat eens vir ’n groot maatskappy gewerk het, het besluit om af te tree. Sy werkgewer was baie teleurgesteld omdat hierdie bouer nog altyd gehaltewerk gelewer het. Hy vra hom toe of hy nie, as ’n laaste en persoonlike guns, net nog een huis sal bou nie – ’n huis vir ’n baie spesiale persoon. Hoewel teësinnig, het hy tog ingestem, maar gou-gou kon ’n mens agterkom dat sy hart nie meer in sy werk was nie. Hy wou so gou moontlik klaarkry. Die afrondingswerk was slordig … selfs die boumateriaal was van swak gehalte. Dit was werklik teleurstellend om te sien op welke manier die ou man sy baie begaafde en toegewyde loopbaan afgesluit het – so halfhartig, so belangeloos, so slordig…
Met die projek afgehandel, het sy werkgewer hom nadergeroep om die huis te inspekteer. ’n Mens kon sien dat die werkgewer teleurgesteld was. Dit was nie hoe hy die bouer geken het nie. Hy hou toe die voordeursleutel van die huis na die ou man toe uit: Dit is my afskeidsgeskenk aan jou vir jare se gehaltewerk! Net jammer hierdie huis getuig nie daarvan nie!?
’n Mens kon die ou man met ’n veertjie omtik – as hy maar net geweet het dat hy eintlik besig was om sy eie huis te bou! Hy het sy kop in skaamte laat sak – almal het sy skande gesien!
In hierdie gedeelte van sy brief aan die Korintiërs fokus Paulus op gelowiges as tempel van God. Hy praat van ’n fondament waarop gebou moet word. Uiteraard is die fondament Jesus Christus en voornemende bouers aan hierdie geestelike tempel moet mooi let hoe hulle daarop bou. Op ’n manier kom ons “werkgewer”, Jesus Christus, by ons aanklop om vir sy “maatskappy” nog bouwerk te verrig. Die gesindheid waarmee ons hierdie opdrag aanvaar en die bouwerk uitvoer, is van allergrootste belang en vra ons allerbeste.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege
11 Augustus 2024 – Die geloofsgemeenskap word na die wêreld gestuur
Johannes 3: 16
Die gerigtheid van die kerk is altyd na buite. Dit gaan om die gelowiges se opbou en geloofsgroei ter wille van die wêreld waarin ons kerk is. Dit gaan in die eerste instansie om die verheerliking van God deur die gelowiges se betrokkenheid by die gemeenskap rondom hulle. So help die geloofsgemeenskap mekaar om God beter in die wêreld te gaan verteenwoordig. Hoe anders sal die wêreld weet dat God hulle regtig intens liefhet? Hoe anders sal die wêreld die kruis- en opstandingsgebeure glo?
Hoe lyk so ’n geloofsgemeenskap dan? ’n Geloofsgemeenskap wat aan die wêreld verkondig en bewys dat God hulle liefhet, is ’n gemeenskap van lof en aanbidding; van waarheid in alle opsigte; wat oor ander mense besorg is en ’n helpende hand uitsteek. ’n Gemeenskap wat God se liefde vir die wêreld wys, is een wat self leef vanuit die hoop wat God in Christus gebring het, en daarom neem so ’n gemeenskap onderlinge aanspreeklikheid vir mekaar.
Mag elke gemeenskap van gelowiges biddend sing:
Mag elke gemeenskap van gelowiges biddend sing:
Stuur ons, Here, stuur ons Here, stuur ons, Here, in u Naam!
Gee ons krag, Heer, gee ons krag, Heer, gee ons krag, Heer, in u Naam!
Ons sal gaan, Heer, ons sal gaan, Heer, ons sal gaan, Heer, in u Naam!
(Gesang 533)
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
10 Augustus 2024 – Ons is meer as individue voor God
Eksodus 12
Die teks fokus op die volk van die Here as geloofsgemeenskap en op wat die boodskap van die pasga vir hulle as gemeenskap was. Die Joodse pasga was ’n gemeenskaps- en familiefees.
Die volk van die Here is hier in Egipte en hulle leef as slawe van die Egiptenaars. Hulle moet stene maak en hulle word gebruik om die werkers te wees in die farao se reeks indrukwekkende bouprojekte. God stuur Moses en Aäron om te onderhandel vir hul vryheid, maar die farao weier om van sy goedkoop arbeid ontslae te raak. Die Here stuur nege plae om die farao God se mag te wys en hom te oortuig om die Israeliete te laat gaan. Die farao skop egter vas, en God stuur nou die tiende plaag: Die eersgeborene van elke mens en dier in Egipte gaan sterf. Die God wat mag het oor lewe en dood is duidelik die sterkste God en het mag oor die Egiptiese gode, waarvan die farao as een gesien is. Die eintlike stryd hier is nie tussen Egipte en Israel nie, maar tussen die ware God en die farao en gode van Egipte.
In die lig van wat God hier in Egipte wil doen met die tiende plaag, word daar aan die mense van Israel deur Moses opdragte uitgereik. Die boodskap en opdragte, lees ons in vers 3, is vir die hele gemeente van Israel. Nie net vir sekere individue nie. Niemand word uitgesluit nie. Almal moet dieselfde opdragte uitvoer. Hier is geen vooraanstaande mense wat anders behandel word oor hulle geld en mag en invloed het nie. In Eksodus 12 word die eerste pasga gevier, en hierdie fees is so belangrik dat die maand waarin dit gevier word, nou die belangrikste en eerste maand van hul kalender moet word. Die jaar begin dus by die viering van wat God gedoen het deur hulle uit Egipte te bevry.
Die kruisdood en opstanding van Jesus Christus herinner ons daaraan dat ons nie alleen staan en leef voor God nie. Ons is deel van ’n geloofsgemeenskap wat saam met ons voor God staan. Sy dood en opstanding is nie net bedoel om individue te laat dink aan hul redding nie, maar ook aan dié van medegelowiges.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
9 Augustus 2024 – Geloofsgemeenskap is betrokkenheid in die gemeente
1 Korintiërs 12: 12-26
Die tyd waarin ons leef, word sterk gekenmerk deur die verskynsel dat die individu baie vryheid ontvang. Elke mens eien sigself dikwels die reg toe om te fokus op eie belange. Alles moet gebeur volgens die individu se smaak. Hierdie houding word ook in ons kerklike lewe ingedra, sodat kerklike meelewing ook aan hierdie maatstaf gemeet word. Dit lei meermale daartoe dat mense al minder lus het om amptelik lidmaat van ’n kerk of gemeente te word. Ook die belewenis van die gelowige se verhouding met die Here word ’n persoonlike saak waaroor elkeen vir hulself kan besluit.
Die belangrike vraag is dus: Wat maak jou betrokkenheid by ’n kerk of gemeente formeel? Is amptelike lidmaatskap die motivering sodat jy om daardie rede iewers “aansluit”? Of is daar iets anders?
Amptelike kerklike lidmaatskap kan nie die motiverende faktor vir betrokkenheid by ’n gemeente wees nie. Jy is dus nie betrokke by ’n gemeente omdat jy nou eenmaal daar ’n lidmaat is wie se besonderhede in ’n register opgeskryf is nie. Dit gaan ook nie om die voordele wat jy as lidmaat kan ontvang omdat jy lidmaat is nie. As dit die rede vir jou betrokkenheid is, is jou fokus op jouself gerig en selfsugtig.
Dit is belangrik om raak te sien dat die motivering vir kerklike of gemeentelike betrokkenheid voortvloei uit die feit dat jy saam met ander gelowiges aan God gebind is en daarom saam met hulle dieselfde stel kernwaardes tot eer van God najaag. Die fokus val nie op elkeen se eie belang nie, maar op die verheerliking van God en die opbou van die liggaam van Christus, deur elkeen se diensbaarheid aan mekaar en aan God. Die kerk is ’n gemeenskap wat onderling aan mekaar verantwoording verskuldig is.
In 1 Korintiërs 12 spel Paulus dit mooi uit as hy in vers 26 sê: As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Die gelowiges het die verantwoordelikheid om mekaar te hou aan die kernwaardes wat gesamentlik nagestreef word. Dit gaan immers om die eer van die gemeente se God wat op die spel is. Die kerk is gemeenskap en nie byeenkoms nie. Kerkwees gaan om meer as erediens. Dit gaan eerder om ’n gemeenskaplike lewenstyl vanuit die erediens.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

8 Augustus 2024 – Geloofsgemeenskap met mekaar
Filippense 2: 1-2
Gelowiges word deur die teks opgeroep om onderlinge liefde teenoor mekaar uit te leef. Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Met hierdie opmerking bedoel Paulus dat die teken van jou geloofsverbintenis aan God (wat volgens 1 Joh 4 liefde is) sigbaar word in jou liefdesverbintenis met ander gelowiges.
In Efesiërs 4: 15-16 gee Paulus ’n verdere motivering hiervoor deur te sê: Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. Daarmee word twee belangrike eienskappe beklemtoon: Aan die een kant is die geloofsgemeenskap ’n eenheid soos die mens se liggaam. Deur geloof in Christus is ons ook aan mekaar verbind soos wat elke liggaamsdeel op verskillende maniere aan mekaar verbind is. Al is die liggaam ’n eenheid, bestaan dit ook uit ’n verskeidenheid van ledemate. Die verskeidenheid is juis belangrik vir die korrekte funksionering van die liggaam as geheel. In die mate waarop elke liggaamsdeel korrek funksioneer, baat die liggaam as geheel ook daarby en kan die liggaam wees en doen wat van hom verwag word.
So gaan dit ook met die geloofsgemeenskap waarvan ek en jy deel is. Die gemeente (geloofsgemeenskap) groei en funksioneer al hoe beter wanneer elke gelowige wat deel vorm van die gemeente, hul diens lewer in en deur onderlinge liefde. Deur deel te vorm van die geloofsgemeenskap en gehoorsaam aan die Here jou diens te lewer, is dus nie ’n vrye keuse nie, maar deel van die wesensaard van kerkwees. Jy het ander mense nodig en hulle het jou nodig sodat almal saam in geloof kan groei en God al meer deur die geloofsgemeenskap verheerlik kan word.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

7 Augustus 2024 – God se liefde bind ons aan mekaar
Efesiërs 3: 14-19
Jy sal sekerlik met my saamstem dat goeie verhoudings met ander mense van kritieke belang is vir elkeen van ons. Is dit dan nie juis deur verhoudings met ander dat jy as mens jou vervulling in die lewe die beste beleef nie? Aan die ander kant is dit een van die slegste dinge in die lewe om eensaam te wees. Natuurlik is daar mense wat dit beter regkry as ander om alleen reg te kom, maar selfs sulke mense het van tyd tot tyd behoefte aan die nabyheid van ander mense. Hierdie afhanklik wees van en betrokke wees by die lewens van ander mense is eweneens waar vir die geloofsgemeenskap waarvan jy as gelowige deel is. Waar kom dit vandaan en wat beteken dit?
Die bron is gemeenskap met God. Wanneer Paulus vir die gelowiges in Efese bid, sê hy: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Die belangrikste is om raak te sien dat die geloofsgemeenskap sy oorsprong van God die Vader self ontvang het. Dit is dus nie deur die besluit van mense of die een of ander kerklike organisasie dat gelowiges aan ’n bepaalde geloofsgemeenskap moet behoort nie. Dit is ook nie ’n geval van net die gelowige wat kies om deel van die geloofsgemeenskap te wees wat dan wel deel daarvan is nie. Dit is ook nie so dat jy deel word van die geloofsgemeenskap deur amptelike lidmaatskap van die een of ander kerk of gemeente te kry nie. Nee, Paulus stel dit duidelik dat God die Vader direk daarvoor verantwoordelik is dat jy deel van ’n geloofsgemeenskap vorm. Die manier hoe God jou deel van die geloofsgemeenskap maak, hou verband met sy verkiesende genade en die feit dat Hy deur die werking van sy Gees in jou hart die geloof geplant het sodat jy die verlossing wat deur Jesus Christus bewerk is, deelagtig kan word. Dit is waarom hierdie gedeelte gelowiges oproep om gesamentlik te ontdek wat die volle inhoud van God se liefde is. Trouens, die volle omvang van God se liefde kan net verstaan word as jy dit onderling in verhouding met ander gelowiges ontdek.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

6 Augustus 2024 – Ek glo in die gemeenskap van die heiliges
Hebreërs 11: 1-2
Ons verhoudings met medegelowiges word gekenmerk deur die liefde van Christus. Dit maak van ons ’n heilige gemeenskap. Die volgende artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis beklemtoon die besonderse band wat medegelowiges bymekaar bring binne die gemeente: Ek glo aan … die gemeenskap van die heiliges.
In die Nuwe Testament word gelowiges ook “heiliges” genoem, veral in die gemeentes van Korinte, Efese en Kolosse. Sommige van hierdie gelowiges was egter alles behalwe heilig in hul optrede; maar hulle was heilig omdat hulle deel was van die kerk as die liggaam van Christus.
Die Nuwe Testament verwys ook na ’n groot wolk getuies (Heb 12: 1, AFR2020) wat bestaan uit mense van geloof wat ons omring terwyl ons die pad van geloof stap. Trouens, elke gemeenskap binne die Christelike tradisie het sy “heiliges”, saam met die talle sendelinge en martelare wat weens hul dade deur die eeue heen deur Christene vereer word.
Mag elke gelowige deur hierdie geloofshelde geïnspireer word om deel te wees van die Bybelse oproep om heilig te leef in navolging van Christus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12: 2). God het ons aangeneem as sy kinders. Deur die Heilige Gees versterk Hy ons in ons geloof sodat ons as heiliges getuies kan wees van sy liefde en vergifnis. Sodat ons seker kan wees van die dinge wat ons hoop en oortuig kan wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

5 Augustus 2024 – Die gemeenskap van gelowiges bring troos
Prediker 4: 9-12
Prediker sê in ons teksgedeelte dat die individu nie alleen kan oorleef nie. Die mens wat in ’n span saam met sy medegelowiges leef, sal sterker wees. So iemand verheerlik God en vind vertroosting.
Ter wille van fisiese en emosionele ondersteuning, oorlewing en veiligheid is mense op mekaar aangewese. Ons is so geskape – ons is geskape as wesens wat slegs in ’n groep saam met ander kan oorleef. Daarom gebruik Prediker die beeld van ’n driedubbele tou. ’n Driedubbele tou is tog sterker as ’n enkele tou. Ons leef egter in ’n tyd waarin die regte van individue meer gewig dra as die regte van ’n gemeenskap. So word die huwelik en die gesinslewe verswak en die gemeenskappe waarbinne ons leef, deur ’n gees van onbetrokkenheid, kritiek, skinder en om die eie voordeel te soek, gekenmerk.
Wanneer ’n mens alleen bid, word jy dikwels gou moedeloos. Maar as twee of drie saambid, kry jy die krag en geloofsmoed om aan te gaan.
Haal een kooltjie uit ’n vuur en kyk hoe gou dit doodgaan. Die kooltjie het ander kooltjies nodig om warm te bly. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig om te volhard. Ons het geloofsvriende nodig om mekaar te dra. Hulle kan vir my bid en ons kan vir mekaar omgee.
Jou bydrae kan ’n verskil maak aan jou geloofsfamilie se welsyn. Daar is duisende mense wat sukkel om hul swaar vrag probleme gedra te kry, en jy kan waarskynlik net genoeg krag byvoeg om hul probleem op te los. Deur jou emosionele ondersteuning kan jy iemand help met hul probleem.
Kom ons bid dat God ons eensgesind sal hou in ons verhoudings, in die gemeenskap en in die Kerk. Dit bring ware troos, want ’n driedubbele tou breek nie maklik nie.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

4 Augustus 2024 – Wees diensbaar
Markus 10: 35-45
Hierdie stukkie geskiedenis wat Markus met ons deel, klink so eie aan ons tyd. Almal soek altyd die beste vir hulself. Almal wil eerste wees, almal wil vinnig die boonste sport van die leer van sukses en erkenning bereik. Soms tot nadeel van die mense wat die naaste aan ons is. Ons vertrap mekaar, misbruik ons mag en gesag, net om eerste bo uit te kom. Ons laat nie die son skyn oor enige iemand as dit ons begeerte is om altyd eerste te wees nie, of as ons die ereplek wil hê nie.
As die ander dissipels hoor hoe voorbarig Jakobus en Johannes is, deur vir Jesus te vra dat wanneer Hy koning is hulle langs Hom kan sit, is hulle verontwaardig. Hoe durf die twee dit vra? Jesus roep almal nader en maan hulle om nie so te wees nie. Hy verduidelik dat baie nasies se leiers en regeerders baas speel en hul mag misbruik. Jesus spreek hulle direk aan in Markus 10: 43: Maar by julle moet dit nie so wees nie. Verder sê Hy elkeen wat binne die kring van dissipels wil groot word, moet ’n dienaar wees.
Ja, ek en jy ook. Jesus roep ons na sy binnekring as medegelowiges en leer ons om mekaar te dien. Dikwels wil ons net bedien word. Selfs in die kerk het ons soms die gesindheid dat die kerk ons moet bedien. God wil hê sy kerk moet ’n plek wees waar ons diensbaar is. Dat ons mekaar se behoeftes sal raaksien. Die karakter van die gemeenskap van gelowiges moet wees dié van diensbaarheid. Dat ons mekaar se voete sal was. Ons moet bereid wees om terug te staan sodat ander eerste mag wees.
Weer eens is Jesus vir ons hierin die voorbeeld. Hy het nie na die aarde gekom om bedien te word nie, maar om te dien. Hy het sy lewe gegee, as losprys. Doen vandag selfondersoek, en kyk rondom jou wie jy vandag kan bedien.
Here, ek wil vandag ’n glimlag op u gesig sit. Gee vir my hande wat help waar ek kan, tot u eer. Amen.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

3 Augustus 2024 – God pas sy kudde op
Psalm 23; Johannes 10: 1-21
Psalm 23 is seker die geliefste Psalm, die bekendste Psalm, die anker van baie gelowiges. Hierin vind ons troos, hoop en berusting. Hier word ons ingesluit in die kudde van God. Wanneer die Psalmdigter die prentjie skets van groen weivelde en waters waar rus is, wil ek my daar bevind. Veilig, versorg en beskerm deur die groot Herder.
Die metafoor van die Herder en kudde is alombekend oral in die Bybel. God en sy kinders. Elke gelowige is deel van God se kudde. Die kudde ken sy stem. God stel dit baie duidelik dat Hy vir ons lief is en vir ons omgee en ons wil versorg. God sonder nie sekere skape uit of gee vir hulle beter weiding nie. Almal is deel van hierdie één kudde. Hy sorg vir ons almal, elkeen is vir Hom besonders, uniek en spesiaal. Hy ken elkeen by die naam.
In die Evangelie volgens Johannes skryf die apostel die bekende Ek is-uitsprake van Jesus neer – onder andere in Johannes 10: 11: Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Hoe bevoorreg is ons as gelowiges – néé, medegelowiges – om deel te wees van Jesus se kudde! Ons is vir Hom so belangrik dat Hy sy lewe vir ons aflê. Dat Hy meer as een keer sê: Ek is die goeie herder. Hiermee bevestig Hy sy sorg en liefde vir elkeen wat in Hom glo en Hom ken.
Evangelieskrywers Lukas en Matteus deel met ons die gelykenis van die verlore skaap. Wanneer een afdwaal, los die herder die kudde agter en gaan soek na die een wat verlore geraak het. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ (Luk 15: 6).
God pas sy kudde op. Dit is belangrik dat ons as medegelowiges ons plek in die kudde van God sal vind. Dat ons opnuut kan besef hoe kosbaar elkeen van ons is. Dat ons ook na mekaar moet omsien binne die kudde.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

2 Augustus 2024 – Christus woon in ons harte
Efesiërs 3: 14-21
Paulus praat in hierdie brief met die gemeente in Efese as ’n familie. Hy bid vir hierdie familie, hy lê hulle voor die Vader se voete. Die familie is nie die soort waarmee ons bekend is nie. Dit is ’n familie oor grense. Jood en nie- Jood is welkom in dié familie. Verder is hierdie familie versprei en oorskry hulle die grense van hemel en aarde. Hierdie familie strek ook oor geslagte heen, ...deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid (vgl Ef 3: 21).
Wanneer Paulus hierdie gebed bid, is sy grootste begeerte dat hierdie familie van gelowiges met die volheid van God vervul sal wees. Hy bid vir ses dinge vir hierdie medegelowiges. Die eerste bede wat hy tot God rig, is vir innerlike krag. Hierdie krag kom natuurlik nie vanuit onsself nie. Dit is die Gees van God wat hierdie innerlike krag tot ons beskikking stel sodat ons hoop nie sal vervaag nie. ’n Volgende bede is vir geloof. Hy bid dat Christus deur geloof in ons harte sal woon en dat ons in die liefde van Christus gegrondves sal wees. Sodoende word Christus vir ons ’n werklikheid. Hy is nie meer iewers ver van ons nie, maar in ons harte ingeburger. Paulus brei sy gebed uit deur te bid dat geloof vrug sal dra, dat daar waarlik begrip sal wees van hoe wyd en ver en hoog én diep die liefde van Christus is.
Hiervoor het ons insig nodig. Christus se liefde is nie oppervlakkig of eendimensioneel nie. Kyk weer hoe Paulus dit beskryf. Hoe wyd, hoog, diep, ver, is sy liefde. Dit laat ’n mens dink aan ’n driedimensionele kubus. ’n Allesomvattende liefde. Die insig is egter nog nie genoeg nie, Paulus bid ook dat ons daardie liefde van Christus sal ervaar. Dat dit bo ons menslike begrip of verstand sal strek. Laastens bid Paulus dat ons vervul sal word met die volheid van God. ’n Gawe wat net van God afkomstig is. Geen mens kan dit vir ons gee nie.
Hierdie gebed behoort ons gebed te wees vir ons geestelike familie. Dat ons Jesus kan innooi in ons harte en ons lewens in. Dat ons daarmee die eer kan bring aan God, deur die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld waarin ons leef, tot in ewigheid.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos
1 Augustus 2024 – Implementeer koinonia in jou lewe
Johannes 13: 31-35
Christene het nie nodig om in een huis te woon om koinonia uit te leef nie. Koinonia is nie net ’n geselsie oor koffie na ’n erediens nie. Koinonia is die uitleef van Jesus se liefde wat in ons lewens moet verskyn. Net soos Jesus vir sy dissipels vertel het in Johannes 13: 34: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
As medegelowiges kan ons mekaar bedien met ons geestelike gawes. Geestelike gawes is maar een van die sleutels tot ware koinonia. Soos Petrus ook skryf in 1 Petrus 4: 10: As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. God gee hierdie gawes aan ons, daarom kan ons nie anders nie as om Hom en ander daarmee te dien.
Ons kan meer gasvry wees teenoor mekaar. Bied hulp aan waar nood is. Moenie wag om gevra te word nie. Gaan en gaan doen. Skep geleenthede waar medegelowiges saam kan wees rondom die Woord. Bid saam, leer saam, groei saam. Aanvaar mekaar se tekortkominge, niemand in die lewe is perfek nie. Indien ons verkeerd is, oordeel die verkeerde daad, nie die mens nie. Moedig mekaar altyd aan, sien om na mekaar se behoeftes.
Laat die werk van die Here altyd eerste voorkeur kry. Ons is so geneig om verskonings te maak vir waarom ons nie betrokke raak nie. Stel God en sy werk altyd eerste. Deur dit te doen, bring ons eer aan God en bou ons sy koninkryk uit. Ons word self ook geestelik daardeur verryk. Ons ervaar sy vrede, vreugde, harmonie en eensgesindheid saam met medegelowiges.
Jesus was vir ons die rolmodel vir hoe om te leef, Hy leer dit ook vir sy dissipels en laat dit vir ons na om verder te beoefen. Los die eie-ek en die selfgesentreerdheid, fokus op Jesus. Volg sy voorbeeld en implementeer koinonia in jou lewe. Die vrug daarvan sal jou verbaas. Dit sal vir jou tot seën wees.
Here, leer my om aan myself te sterf, dat ek kan leef tot u eer! Amen.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

31 Julie 2024 – Ons het mekaar nodig
1 Korintiërs 12: 12-31
Die hart van die evangelie lê daarin opgesluit dat Jesus die weg na ewige lewe is. As ons berou het en glo, sal ons die opdragte van God navolg. Volgens Matteus 22: 37-39 is die grootste gebod: Ons moet die Here ons God liefhê met ons hele hart en verstand en siel, maar ook ons naaste soos onsself. As ons iemand anders lief kan hê soos onsself, is dit ’n verbintenis, ’n eenword met die Liggaam van Christus.
Jy kan die tien gebooie perfek elke dag van jou lewe beoefen, maar as hierdie groot Gebod van God se liefde, ten eerste vir Hom en ook vir jou naaste, nie in jou lewe is nie, dan help dit niks jy onderhou die tien gebooie nie. Draai ons die prentjie om, dat jy wel die Here liefhet met jou hele hart, siel en verstand, jou naaste soos jouself, dan is die uitvoering van die tien gebooie van nature in jou lewe.
Daarom dat ons as navolgers van Christus mekaar ook so moet liefhê dat alles wat ons doen tot eer en verheerliking van God mag wees. Dat ons as lede van dieselfde Liggaam kan funksioneer tot sy eer. Medegelowiges dra mekaar se laste, en deel in mekaar se vreugdes.
Paulus skryf juis: Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. … Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan (1 Kor 12: 21-23, 27). Daar mag geen onderskeid in die Liggaam wees nie. Alle lede is gelyk en moet omsien na mekaar.
Jesus Christus, as hoof van die Liggaam, hou die lede bymekaar. Wanneer ons as ’n eenheid funksioneer, en mekaar se belange op die hart dra, sal die Liggaam gesond bly. Dan het ons saam met Christus die toegang tot die ewigheid. Afsonderlik benadeeel ons die Liggaam, want dan gaan dit nie oor die Liggaam nie, maar oor die een lid wat net op homself wil fokus. Saam is ons beter tot eer van God. Ons het mekaar inderdaad nodig as medegelowiges. Elkeen het sy eie genadegawes ontvang, laat ons dit tot sy eer gebruik.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

30 Julie 2024 – Meer as net vriendskap
Handelinge 2: 37-47
Koinonia (gemeenskap van gelowiges) in die Bybel, lê baie dieper as net vriendskap onder medegelowiges. Koinonia se bedoeling is ’n goddelike, heilige, intieme eenheid tussen medegelowiges. Dit sluit in ’n spirituele sowel as ’n geestelike eenheid, wat so ver gaan dat hulle alles met mekaar deel. Kos, besittings, geld, tyd, gebed. In die boek Handelinge is daar vir ons ’n sprekende voorbeeld van wat ware gemeenskap van gelowiges is en beteken.
In Handelinge 2 lees ons van Petrus en die ander dissipels wat deur die Heilige Gees vervul word. Die Jode wat die uitstorting van die Heilige Gees aanskou, is verslae, hulle staan en toekyk hoe die dissipels in tale spreek. Dit lyk vir die Jode asof die dissipels dronk is. Petrus verkondig die evangelie en op daardie dag het meer as 3 000 tot bekering gekom. Hulle was splinternuut in die Christelike geloof. Hulle het hulle laat doop. Ons lees: Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Hand 2: 42).
Die koinonia is nie eksklusief nie; dit is juis inklusief vir elkeen wat glo, vir elkeen wat bely dat Jesus die Here is. Dit is nie ’n eenmalige geleentheid nie, maar ’n voortdurende leefstyl wat my broer en suster in die geloof insluit. Dit gaan nie oor my eie belange nie, maar om die belang van my medegelowiges eerste te stel. Christenskap se intensie was nog nooit dat jy in afsondering jou geloof beoefen nie. Christus het die kerk, die gemeenskap van gelowiges, juis so ingestel en bestem dat Hy (Christus) die hoof is van ’n liggaam met vele liggaamsdele wat afhanklik is van mekaar. Elk met sy besonderse funksie. Die liggaam het elkeen nodig, in samewerking met die ander. Alleen, beteken ’n ledemaat of orgaan tog niks.
Dus is koinonia, die gemeenskap van gelowiges, nie bloot ’n vriendskap met iemand wat ek so nou en dan sien, dalk vertrou, of ’n paar aktiwiteite saam mee doen nie. Koinonia is ’n intense verhouding tussen medegelowiges om die werking van die “Liggaam van Christus” te bevorder, in noue samewerking, afhanklikheid en ondersteuning van mekaar. Sodat hierdie “Liggaam” tot eer van God mag wees.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

29 Julie 2024 – Familie of loseerder
Efesiërs 2: 11-22
Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Ef 2: 19).
Dit is tog almal se begeerte om deel te voel van ’n familie. Om mense te hê wat jou ondersteun, jou liefhet en ook na jou belange omsien. ’n Plek waar jy voel, hier is ek tuis. Dié is “my mense”.
’n Loseerder, aan die ander kant, het geen verbintenis nie. Dit is iemand wat tydelik ’n woonplek het. Sy enigste verpligting is om sy huur betyds te betaal en die huisreëls na te kom.
Nou kom Paulus en hy skryf vir die klein gemeentes daar in Asië. Hy maak nie onderskeid nie, hy is op die man af en skryf Jood en nie-Jood, almal, is een in Christus Jesus. Die skeidingsmuur is afgebreek, almal het toegang tot die Vader. Almal is nou deel van God se familie. Ons is nou nie meer loseerders (bywoners) nie, ons is nou familie (medeburgers) in die huisgesin van God.
Nou wat is die verskil? As ek ’n medeburger, ’n familielid in God se koninkryk is, het ek deel aan die liggaam van Christus. Ek het ’n verantwoordelikheid, ek dra die karaktereienskappe van iemand wat graag deel van ’n familie wil wees. Ek sien om na die welstand van my familie, ons leef in liefde met mekaar, ons beoefen saam die vrug van die Gees (Gal 5: 22), ons gebruik ons talente tot God se eer. Dit is ’n ewige verbintenis. Ek is nie net ’n loseerder of bywoner wat kom en gaan soos ek wil nie. Wat geen aanspreeklikheid het, of geen belange het nie.
In God se familie is daar nie “klieks” nie, jy betaal nie ’n “klubfooi” om te behoort nie. In God se huisgesin is ons medegelowiges, medeburgers, wat mekaar ondersteun, vergewe, aanmoedig, aanvaar, konfliksituasies uitwerk. In God se familie is daar onvoorwaardelike liefde vir mekaar. As een lid ly, ly al die ander lede saam, maar as een lid geëer word, is al die lede saam bly (vgl 1 Kor 12: 26).
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

28 Julie 2024 – Verlange na God
Psalms 42 en 43
Dit is deel van die lewe om te verlang. Ons weet wat dit beteken om te verlang: Dalk verlang jy na jou kinders – veral as hulle ver van die huis af is. Dalk verlang jy na geliefdes wat al oorlede is. Ons verlang na daardie mense wat op ’n tyd deel van ons lewens was, wat ons lewens verryk en gevul het, juis omdat ons hulle graag by ons sou wou hê. Dalk verlang ons na tyd wat verby is of verspeelde kanse. Hoe dit ook al sy, ons weet wat dit beteken om te verlang…
Maar wat van verlange na God? Smagting, hunkering, verlange na God se nabyheid? In hierdie tyd word ons bewus van ons verlange na God. Met al ons bestaande verlangens in die lewe, besef ons dat God ons middelpunt van verlange moet wees. Ons lees in Psalm 42: 2: Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Smagting na God se nabyheid. Om dan vir seker te weet: God is naby – nader as ooit, die Heilige Gees lewe in ons. Dan kan ons ook saam met die Psalmdigter in Psalm 43: 5 vryuit getuig: Ja, ek sal weer vir U ’n loflied sing. U is my helper en my God!
Daarom is ons gebed die woorde van Gesang 163: Soos ’n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U, o Heer. U alleen is my hartsverlange en ek bring aan U die eer. U alleen is my bron van krag; in U teenwoordigheid wil ek wag. U alleen is my hartsverlange en ek bring aan U die eer. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

27 Julie 2024 – Drie karakters…
Lukas 22: 47-53; 23: 13-25, 44-49
Barabbas het sy vryheid met ope arms ontvang. Sy geskenk van verlossing het hy aangegryp, dit nie probeer ontleed of probeer om daarvoor te betaal nie. Wat maak ons egter so dikwels met die verlossing deur genade wat ook aan ons gebied word? Want ook met óns is dit soos dit met Barabbas was: Ons sit in die tronk van sonde, in die tronk van verlorenheid, in die tronk van verdoemenis. Maar dan kom die boodskap: Jy kan gaan. Jy is vry.
Ook is ons dikwels in ons geloof alles behalwe die offisier, Malgus, wie se oor afgekap is. Wanneer ons in ’n krisis kom, wanneer ons wanhoop begin beleef, wanneer ons begin twyfel of daar uitkoms gaan wees, word ons so maklik vergeetagtig. Sou ons maar net soos Malgus maak en spreekwoordelik aan ons gesonde oor vat: terwyl ons terugdink aan al die kere toe ons ook krisisse beleef het en God ons uitgered het – hoe God ons behoue tot hier gebring het…
Wat het gemaak dat daardie Romeinse offisier bely het dat Jesus wat gesterf het, die Seun van God was? Heel waarskynlik het hy raakgesien dat Jesus, in sy donkerste uur van nood, in die diepste punt van sy lyding, nie sy gesig van sy Hemelse Vader weggedraai het nie. Inteendeel, dat Jesus, toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het, gesê het: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! Dalk is dít wat hierdie geharde soldaat geroer het. Die kalmte waarmee Jesus gely het. Daardie woorde aan die kruis wat nie van wanhoop en opstand teen God gespreek het nie. Daardie aanvaarding dat sy Hemelse Vader in beheer was: Vader, in u hande gee Ek my gees oor.
Is ons bereid om soos Barabbas eenvoudig te aanvaar dat ons vry mag uitgaan? Glo ons soos Malgus dat God ons werklik aangeraak het? Glo ons dat God ook in alle omstandighede by ons is? Of is ons nog presies dieselfde?
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

26 Julie 2024 – Wat is jou naam?
Markus 5: 1-20 (AFR2020)
Dit is eie aan die mens om iewers tuis te wil hoort – gebonde en veilig te wees. Dink maar net aan Maslow se hiërargie van behoeftes: Na die basiese behoeftes (kos, water, skuiling) kom die behoefte aan sekuriteit (veilig wees), en daarna kom die sosiale behoeftes (onder andere om deel van ’n groep te wees). Dit is inherent deel aan die mens om tuis te wil hoort. Ons gaan deur die lewe met ’n sekere identiteit in hierdie “tuishoort” van die lewe waarna ons streef: Wie is ek? Wat is my waardes en norme?
In hierdie verhaal van die man wat besete is en deur die dorp uitgestoot word sodat hy tussen die grafte moes woon, staan een ding soos ’n paal bo water – Jesus vra die naamlose man: Wat is jou naam? Die uitgeworpene, die onreine, die identiteitloses, die “ander” word gevra: Wat is jou naam? So gemarginaliseer en naamloos is hierdie man egter dat hy nie eens antwoord nie: My naam is Legioen, want ons is baie! kom die antwoord. Om hierdie man se verlorenheid te aksentueer, word gebruikgemaak van ’n naam wat die onderdrukkende Romeinse Ryk van die tyd beskryf. ’n Legioen was die grootste eenheid soldate wat ’n mens in die Romeinse leër kon kry – tot soveel as 6 000 soldate. ’n Militêre term vir ’n naam. Oorlog. Onvrede woed in hierdie man. En dan nog so oorweldigend – ons is baie.
Dan lees ons verder dat Jesus hierdie man bevry en hom ’n nuwe identiteit in God gee. Goddank dat óns bevry is.
Mag ons raaksien dat God in Christus ook na ons kom en vra: Wat is jou naam? Dat Christus ook vir ons kom haal van ’n doodse bestaan – as’t ware tussen die grafte wegvat – en ons ons ware identiteit in Christus gee. In die tyd waarin ook ons leef waar mense hul identiteit, hul naam verloor – oorweldig deur die stampe en stote van die lewe. En baie daarvan – legio – ’n militêre term vir ’n naam. Oorlog. Onvrede, hartseer, verlange, pyn, gesondheidsprobleme – legio voorbeelde ook in ons lewe…
Mag ons beleef hoe God binne sy wil en binne sy tyd bevry. Mag ons die voorbeeld van Christus navolg wat die “ander”, die naamlose, die identiteitloses, nadertrek. Mag ons getroue getuies wees gewoon deur ons lewe. Soos ons lees: Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het (vers 19).
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

25 Julie 2024 – Israel staan weer voor water…
Josua 3: 1-17
Na al die jare van Israel se omswerwinge deur die woestyn, staan hulle nou op die oewer van die Jordaanrivier om die beloofde land uiteindelik in besit te neem. Daar moes sekerlik in baie se gedagtes dieselfde prentjie afgespeel het as toe hulle op ’n keer voor die Rietsee gestaan het. In die loop van tyd het soveel dinge gebeur, en nou staan hulle weer voor water…
Op die oewer van die Jordaanrivier stap die priesters met die verbondsark eerste deur, en soos hul voetsole die water raak, het die water wat afgekom het van die rivier wat in vloed was, gaan staan. Die verbondsark is die simbool van God se teenwoordigheid. Die verbondsark is die eerste om deur die water te gaan, met die hele Israel wat volg. ’n Pragtige simbool: God lei hulle die beloofde land binne. God loop as’t ware voor.
Ons is nie veel anders nie as Israel van ouds, en soms swerf ons ook doelloos in die woestyn van ons bestaan rond – in sirkels. Soos ons goed weet, is ons lewenspad nie net mooi geplavei nie. Ook op jou lewenspad het jy al jou voet teen ’n klip gestamp, en weet jy dat die woestynsand van die lewe seer kan brand. Dalk het jy al soos Israel tot God gekla oor jou lot onder die felle son van die lewe. Dalk neem jy God kwalik en verlang jy terug na die vleispotte van Egipte.
Ons staan voor baie onbekende dinge in ons eie lewens. Kom ons gaan hierdie Jordaan deur met die wete dat God voor loop. Só word ons ook vandag opnuut herinner dat die God wat ons deur die Rietsee se verlede veilig en behoue tot hiér gebring het, dieselfde God is wat ons ook verder lei – die God wat jou nie alleen laat anderkant die walle van die Jordaanrivier en verder nie. Met dié wete kan ons die pad wat voorlê met vrymoedigheid en afwagting stap – want God loop voor. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

24 Julie 2024 – By jou put van moedeloosheid…
Johannes 4: 1-26
In die Bybelse tyd was dit die gebruik dat vroue water sou haal vir die huishouding, maar hulle sou nie alleen na hierdie putte gaan nie omdat dit gewoon gevaarlik is om vrou-alleen te gaan. Hier lees ons egter van ’n Samaritaanse vrou wat alleen kom water haal. Sy is alleen omdat die ander vroue van die dorp hulle nie met haar wou assosieer nie. Sy is nie deel van die aanvaarbare groep nie. Niemand wou dus iets met haar te doen hê nie.
Vanuit dié konteks is dit duidelik dat die Jode neergesien het op die Samaritane, en binne die groep van die Samaritane sien hulle weer neer op hierdie vrou. Sy is dus heelonder aan die sosiale ranglys. Sy is een van die hoofkarakters in die verhaal, maar tog is sy naamloos – identiteitloos. Hierdie put het haar gedurig daaraan herinner – ’n simbool van “alleen-water-moet-skep”.
Só sit ons ook elkeen by ons eie putte van die lewe. Maar dan, soos ons in die verhaal sien, wag die Here ook alreeds by ons “putte van die lewe”: ’n put van verlange, ’n put van hartseer, ’n put van pyn, ’n put van gesondheidsprobleme, ’n put van slegte verhoudings, ’n put van alleenheid. Wat ook al die put-van-moedeloosheid is wat jy tans ervaar…
Baie keer kom ons na die Here toe soos hierdie Samaritaanse vrou wat so alleen voel, en ons dink die beste is die tydelike dors wat geles moet word, soos sy nie weer by haar put-van-moedeloosheid die vernedering wou deurgaan om water op haar eie te haal nie. Maar wanneer ons toelaat dat God met ons in gespek tree by ons eie put, dan vind ons, ook soos hierdie vrou, dat Hy baie meer vir ons beplan as wat ons ooit sou kon dink.
Ja, hierdie vrou het ook weggestap met ’n kruik vol fisiese water. Die tydelike en fisiese word nie afgemaak as onbelangrik nie. Maar in die proses het sy ’n fontein van Lewende Water ontdek. Sy het met Jesus Christus in gesprek getree. Mag ons ook vandag by ons eie putte eerlik met God in gesprek tree. Wat is jou put van moedeloosheid?
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

23 Julie 2024 – In die donker van hopeloosheid, spruit die lig van hoop
Psalm 139: 13-15
Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op ’n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde (AFR 2020).
Dawid illustreer in hierdie bekende gebed die kontras tussen donker en lig. Hier bestaan pragtige woordspeling tussen figuurlike donkerte as die uitdagings in die lewe, soos hopeloosheid of uitsigloosheid. En dan woordspeling met letterlike donkerte soos wat Dawid beskryf as die donkerte diep in die moederskoot waar niemand kan sien nie. Natuurlik het die mense van die Bybelse tyd nie die gevorderde mediese wetenskap gehad van sonars om ’n baba voor geboorte te kon sien soos ons vandag nie – vir hulle was dit ’n onbekende (letterlik donker) wêreld van bestaan.
Interessant word melding gemaak dat God spesifiek die mens se “niere” geskape het. In die Ou Nabye Ooste is die mens se niere beskou as die setel van die emosies. Later lees mens in Psalm 139: 23 dat God die mens se “hart” ondersoek, waar dit weer in hul leefwêreld verstaan is as die setel van die mens se denke. Ons is terdeë bewus dat beskrywing van donkerte of lig in ons lewe deur ons denke en emosies waargeneem word – iets wat God “wonderbaarlik” geskape het.
Maar in hierdie donkerte spruit God se lig. In die donkerte van die moederskoot waar niemand kan sien nie, begin die wonder van lewe. Dan bely Dawid ook daarmee: In die donkerte van sy eie lewe, in die donkerte en uitdagings en skynbare hopeloosheid wat die lewe bring, kom God en Hy alleen kan lewe skep waar daar donkerte is. God alleen kan lig bring daar waar ons sou sê net donkerte heers.
Hierin lê ’n besonderse belydenis: God skep lig en lewe in die mens se donkere bestaan. Mag dit ook ons gebed en belydenis wees. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

22 Julie 2024 – Breek die mure af
Lukas 14: 15-24
In die eerste-eeuse Mediterreense milieu was die hou van maaltye ’n manier om met mense van dieselfde sosiale stand en klas geassosieer te word. Mense se sosiale status het bepaal watter groepe met mekaar assosieer.
Baie interessant wys die argeologie uit dat binne die stadsmure van Jerusalem die elite en die werkersklas fisies geïsoleer van mekaar was deur ’n muur wat die middestad van die res van die stad geskei het. In die middestad was gewoonlik die paleis, tempel en huise van die elite – dié met status en mag. Afgesien van die skeiding tussen die twee sosiale groepe binne die stad, was daar ’n derde groep mense wat gemarginaliseer is tot buite die stadsmure. Hulle was die agtergeblewenes, prostitute, bedelaars en melaatses. Dié waarmee niemand wil assosieer nie.
Nadat niemand van die welgestelde gaste by die gasheer se maaltyd opgedaag het nie, besluit hy dat hy die werkersklas wat in die res van die stad woon, sal nooi: dié in die strate en gangetjies van die stad (vers 21), asook die gemarginaliseerdes buite die stad in die paaie en lanings (vers 23) wat hom nie ’n ete kon teruggee soos hy vir hulle wil gee nie.
’n Maaltyd is alleen ’n feesmaal indien daar nie verpligtinge op die genooides geplaas word om dieselfde aan die gasheer te bewys nie. Die oproep is onvoorwaardelike liefde om aan iemand goedheid te bewys al kan die persoon ’n mens nie terugvergoed nie. ’n Maaltyd is alleen ’n feesmaal deur almal om jou tafel welkom te heet en nie net die gaste van ’n mens se eie kringe nie. Die oproep is dat ons as Kerk sal uitreik na dié in nood.
Verder is óns die genooides omdat die Here deur sy onvoorwaardelike liefde ons geroep het van die strate en gangetjies van ons doellose bestaan in sonde. Niemand word ontsien nie – ons word selfs genooi waar ons verder is soos van paaie en lanings. In hierdie gelykenis het Jesus aangedui dat alle “mure van skeiding” tussen mens en God afgebreek is en dat ons daardie “mure van skeiding” in ons verhouding met ons naastes ook moet afbreek. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam

21 Julie 2024 – Dankbaar in sy diens
Deuteronomium 18: 9‑22; Jeremia 1: 4‑8, 20: 7‑9
Die grootste wonder van die kerk is dat God mense gebruik om sy werk te doen. God het natuurlik nie nodig gehad om van mense gebruik te maak nie. Hy kon self regkom. Maar in sy groot liefde het Hy gekies om van mense gebruik te maak. Die feit dat die Here ’n mens roep om hom te gebruik in sy diens, kan ook een van die grootste versoekings wees waarvoor ’n mensekind te staan kan kom. Die versoeking is dan dat die mens in die kalklig begin staan en dat God in sy skaduwee moet gaan staan. Die briljante mens met al sy bekwaamhede staan dan op die voorgrond sodat jy God naderhand glad nie meer kan raaksien nie.
Dit is daarom veral op so ’n dag nodig dat ’n mensekind op sy knieë sal staan en soos Paulus sal vra: Here, wat wil U hê dat ek moet doen? In Deuteronomium 18 kry ons ’n aangrypende gedeelte waarin God se plan met ’n mensekind in sy kerk beskryf word as profetewerk. ’n Profeet is iemand wat altyd na God heenwys. ’n Profeet is daar om deur God in diens geneem te word.
Mag jy saam met my dankbaar in diens wees van die Lewende God. Mag geen kerklike politiek, tradisie, kultuur of menslike oortuiging jou verwyder nie van God se openbaring aan jou as profeet. Mag jy saam met my glo dat God die Waarmaker van sy woord is. Dat ons aan sy gesag onderdanig sal wees. Dat die Heilige Gees jou voorspraak sal wees, dat Hy aan diens sal wees van jou hart en jou mond. Mag jy saam met my te alle tye besef dat die grootste wonder van die kerk is dat God mense soos ek en jy gebruik om sy werk te doen.
Gebed
Abba Vader, wees ons genadig. Wees met ons in ons geringheid waar ons probeer om na u beeld te leef. Here, al kry ons dit nie altyd reg nie, weet ons u genade bedek ons foute en ons tekorte. Te min bely ons ons sonde, noem ons dit op die naam. Ja, Here, ons is te skaam en gans te trots om dit te doen. Maak dit vir ons makliker om u aangesig te soek, u vergifnis op te spoor, sodat ons minder na die varkhok terugkeer en meer na u heerlikheid soek. In Jesus Naam. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

20 Julie 2024 – Ek is God se kind
Romeine 6: 15-23
Om Christen te wees, beteken dat jy op God se woord antwoord. Ons praat nooit eerste nie. Ons antwoord maar net. Toe ons op ’n dag voor die preekstoel gestaan het en belydenis van geloof afgelê het, was dit ’n antwoord, nie ’n eerste woord nie. Mense verander dikwels die volgorde. Hulle wil hê dat jy jou eers moet bekeer, dat jy eerste moet praat, en dan antwoord God jou. Jy moet eers na God soek, en dan vind jy Hom. Maar die Bybel sê dit werk andersom: God praat eerste, dan antwoord ek Hom. Hy vind eerste vir my!
Daar was ’n tyd toe die mens met God kon praat, soos vriende. Maar toe het die mens sy vryheid misbruik. Toe het dinge tussen God en mens skeef geloop, en het God en mens van mekaar vervreem geraak. Toe het daar ’n wonder gebeur. God het weer met die mens begin praat. Hy het met liefdeswoorde met die mens begin praat. Hy het met die evangelie na die mens gekom. Hy het mensewoorde gepraat, verstaanbare woorde, ’n hele Bybel vol. En al wat Hy gesê het, was: Ek het jou nog steeds lief. Hy het nie ’n spul wetswoorde op ons kom aflaai nie. Hy het nie vir ons kom sê wat jy alles moet doen om in die hemel te kom nie. Nee, Hy het met liefdeswoorde met ons kom praat. En as jy hierdie liefdeswoorde van God glo, verander alles. Jy kry die hemel as geskenk. Jy word God se kind. En jy het dit nie eens verdien nie!
Gebed
Here, dankie vir u onvoorwaarlike liefde vir en deernis met ons. Deur die geskiedenis het U na ons omgesien en nie een oomblik geswyg nie. Here, ons vergeet so maklik wat U alles vir ons kom doen het en steeds doen. Ons vergeet so maklik dat U ons uit die woestyn gelei het na die beloofde land. So baie keer, Here, misbruik ons u goedheid. Ons verwag net gunsies en gawes, en kry mildelik uit u hand wat ons nie verdien nie. Here, snoei ons sodat ons weet U is voordurend besig om ons te vorm. Vorm ons sodat ons nog meer vrug kan dra vir die koninkryk. In Jesus Naam bid ons hierdie woorde. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

19 Julie 2024 – Dit begin by jouself
2 Korintiërs 4: 7
Die Woord beskryf ons as kleipotte wat maklik breek. Ons is geestelik, fisies en emosioneel breekbaar. Daarom moet ons onsself innerlik versorg, want ons dra God se kosbare skatte binne ons rond. Trouens, ons moet verstaan dat ons brose menslikheid eintlik een van die grootste kragte is wat ons het. As jy nie jou swakhede wegsteek nie maar dit wys, sal dit jou altyd dwing om op God te vertrou. James Hudson Taylor het gesê: All God’s giants have been weak people. Dit begin by jouself.
Die gedeelte sê vir ons duidelik dat ons krag opraak, maar dat ons kan bid en God se krag kan ontvang. Elkeen van ons loop die potensiële gevaar om uit te brand, elkeen van ons loop die potensiële gevaar om in ’n hoekie te gaan sit weens uitputting. Die gevaar is die onvoorspelbaarheid daarvan. Dat jy net op ’n dag kontak met jou gevoelens verloor het. Maar in en deur Christus is ons meer as oorwinnaars. Al lek jou kleipot kosbare water, het die fontein van Lewende Water nie opgedroog nie. Plaas jouself in die hand van die lewende God, laat Hom toe om jou lewe vol te maak.
Gebed
Onse God, God van die weduwee, die arme, die enkelouer, die vaderlose, God van almal. Here, ons kom vanoggend met eerbied en ontsag na U toe aan die begin van die nuwe dag. Here, ons het soveel op ons harte en in ons gedagtes. Die tyd waarin ons nou is, is onbekend en dit maak ons onseker, maar tog is ons bly om te kan uitsien na moontlike gebeure wat U vir ons beplan. Daarom rig ons ons gedagtes na U toe vanoggend, want dit is U en U alleen wat die sleutel het tot die lewe en die dood. Dit is U wat die krag, wysheid en insig vir ons gee. Dit is U wat die lewe vir ons moontlik maak. Here, U het ons al gelei deur diep waters, deur moeilike tye, en deur die goeie tye was die reënboogkleure helder, U is in alle omstandighede naby ons. Dankie, Here, dat ons kan uitsien na nog ’n dag saam met U, dat ons op u terme kan leef. Dankie vir u genade, dat U ons sondes skoon was, ons reinig en ons vlekloos laat. Help ons dat ons meer en meer soos U sal wees. In Jesus Naam bid ons hierdie gebed. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

18 Julie 2024 – Ek gee jou ’n nuwe naam
Jesaja 62: 1-5
Ons ervaar dikwels dat God onverstaanbaar is. Ons begryp dikwels nie God se werkwyse nie. En selfs die Bybel help ons nie baie met hierdie onverstaanbaarheid van God nie. Iemand het gesê die Bybel teken God as veelkantig, veelsydig, veelkleurig. Dit lyk of God soms in teëspraak met Homself is. Op sekere plekke in die Bybel word gesê dat Hy altyd dieselfde is, dus nie verander nie. Op ander plekke sê dit dat Hy wel verander. Soms sê die Bybel dat God geweldig magtig is; op ander plekke teken die Bybel Hom as weerloos, asof ’n mens Hom werklikwaar kan weerstaan. Soms sê die Bybel dat God hoog is; op ander plekke dat Hy laag is. Op baie plekke word gepraat van sy liefde; maar op net soveel plekke word gesê dat Hy regverdig is, dat Hy sonde haat en dit straf.
God is veelkleurig, verskriklik ruim. Al het God alle rede gehad om ons te vernietig, uit te delg, was sy liefde en sy deernis te groot. In die Skrifgedeelte word dit op ’n aangrypende manier verbeeld. Die beeld van ’n verstote, verlate vrou word gebruik om ons te teken. Hierdie vrou is ’n gevalle vrou, een met ’n reputasie, een wat haar naam weggegooi het. En nou is dit die wonder van hierdie gedeelte: Die vrou, met die reputasie, wat haar naam weggegooi het, kry ’n nuwe naam: Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie. Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet.” Die vrou met die reputasie word ’n gerespekteerde bruid, een wat gekoester word met die liefde van haar Bruidegom. Sy is volkome in sy hande, sy sorg.
Wat jou situasie ook al is, wat jou geheime seer ook al mag wees, hierdie is woorde wat troos: Al is jy in ’n situasie waarin jy beleef dat God weg is – of dit nou is as gevolg van die rampe en teëspoed wat jou tref, soos jou stukkende huwelik, jou bankrot besigheid, jou siek kind of die dood van ’n geliefde, en of jy ook al van God probeer weghardloop het en vir ’n tyd lank gedink het jy kry dit reg, al sit jy op die ashoop van jou stukkend gebreekte lewe, jy kan weet: Jy sal nêrens heen kan vlug nie, want God is nie weg nie en jy ook nie. Hy is nie weg nie, want Hy het jou lief. Hy het juis na jou gekom in Jesus. Met die beeld van hierdie gedeelte sê Hy ook vir jou: Jy is my bruid, al het jy jou naam wegggegooi. Ek gee jou ’n nuwe naam.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

17 Julie 2024 – Nie meer ver van God af nie
Efesiers 4: 19-22
Paulus skryf dat hierdie gemeenskap van gelowiges eens ver van God gelewe het, maar nou naby gekom het deur die bloed van Jesus. En in hierdie Skrifgedeelte gebruik Paulus verskillende beskrywings, naamlik medeburgers, huisgesin, gebou, tempel en geestelike huis, om die plekke te beskryf waarin God woon. Die kerk as liggaam van Christus is nou die beeld van God, die Imago Dei (Gen 1: 21). Dus het ek en jy as gelowiges ’n groot taak om na die beeld van God te lewe. As gemeenskap van gelowiges is dit noodsaaklik om so te lewe dat ons mense sal lei tot ’n ontmoeting met die lewende God. Laat ons meer vir mekaar bid vir bevryding en geestelike vernuwing. Gebede bring God en mens bymekaar!
Gebed
Hemelse Vader, ek weet hoe belangrik mense en verhoudings vir U is. Een van die grootste opdragte wat U vir ons gegee het, is om mekaar lief te hê. Dit is vir U aangenaam en is vir U goed. Heer, ek bid vir genesing in al die verhoudings in my lewe waar daar verwonding is. Waar vertroue verbreek is, mag die vertroue herstel word. Waar daar onversoenlikheid is, mag daar vergifnis kom. Mag daar oorvloedige liefde wees waar daar vroeër twyfel en wanhoop was. In sommige verhoudings is dit moeilik om u opdrag na te kom. Soms is dit byna onmoontlik om iemand lief te hê. Ek vra vir buitengewone krag in u Naam, sodat ek kan liefhê soos U van my vra. Deur u liefde en mag, help my om elke gebroke verhouding in my lewe te herstel. Ek bid vir groter welwillendheid, deernis en geduld met al die mense in my lewe. Seën my verhoudings – met my lewensmaat, my reisgenoot, vriend of vriendin, my kinders, my ouers, vriende en kollegas. Help my om bedagsaam en simpatiek te wees met elkeen wat my pad kruis. In Jesus se Naam. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

16 Julie 2024 – Leef loshande sonder die Here
Jakobus 4: 13-17
Ons ken almal daardie dapper oomblik. Daardie keer toe jy vir die eerste keer sonder hande ’n fiets gery het. Ek kan onthou hoe my broer vir my gelag het, toe ek probeer fietsry het sonder hande. Dit was die grootste uitdaging tussen ons maats om te kyk wie kan die eerste loshande fiets ry, en die vinnigste. Om loshande te probeer fiets ry, is ook wanneer jy die hardste val. Want jy en jou fiets gaan oor ’n ongelyke stuk pad of jou wiel tref ’n klip – dan is dit sulke tyd. Jy val jou nerf af.
Dit is wat die gelowiges waaroor Jakobus skryf, hier gedoen het. Hulle het begin om loshande sonder die Here te leef. Hulle het begin om van die Here ’n bespotting te maak. Afhanklikheid van die Here was nie meer in hul woordeskat nie. Jakobus konfronteer sonder om doekies om te draai die gelowiges wat die wêreld en hulself ’n rat voor die oë wil draai. Hul woorde en dade klop nie. Jy kan nie sê jy behoort aan die Here terwyl jou lewe prakties ’n nuttelose poging is nie.
In Jakobus 4: 13 staan daar geskryf: Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”
Dit klink na selfversekerde mense waaroor hier geskryf word. Mense wat die wil van die Here glad nie belangrik ag in hul lewe nie. “Afhanklikheid van die Here” is nie deel van hul woordeskat nie. Ons moet daarteen waak dat hierdie vermetelde onafhanklikheidsgevoel by ons ontstaan. Ons praat van “grootkop kry”. Dit gebeur gewoonlik wanneer mense sukses behaal en vergeet dat dit nie deur hul eie toedoen en goedheid gebeur het nie, maar deur God wat hulle genadig is. Dit is as ons grootkop kry dat ons met die Chopper-fiets loshande wil ry en al hoe vinniger en al hoe beter ry.
Plaas jou hand vandag nog in God se hand, moenie probeer om loshande sonder die Here te leef nie. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. Hou aan om die regte dinge te doen!
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

15 Julie 2024 – Plant of plunder jy?
2 Kronieke 34: 1-7; Galasiërs 4: 7; Efesiërs 5: 1
Ons het ’n woud vol bome geërf. Hoe lyk die woud wat jy geërf het? Party van ons sal sê: Ek is trots op die woud wat ek geërf het. Want hier staan pragtige bome van beginsels. Daar is bome van liefde, bome wat iets sê van dit wat ek by my ouers en voorouers geleer het. Daar is bome van gebed, vaste oortuigings, lewenswaarhede, beskerming, vergifnis, bystand en sorg.
Ander van ons se woud lyk dalk nie so goed nie. Want in ons woud staan bome van armoede, skande, verslawing, oneerlikheid, mishandeling en beginselloosheid. Die grond in ons woud is geplunder, oeste is afgehaal en niks is weer geplant nie. Dalk het jy grootgeword in ’n huis waar onverdraagsaamheid aan die orde van die dag was, en daarom kan jy ander wat nie soos jy is nie, glad nie verdra nie. Dalk veroorsaak jou woud meer pyn as inspirasie.
Josia erf ’n woud, ’n wankelrige troon en ’n glanslose kroon. Die tempel was in puin, die wetboek kon nêrens gevind word nie, en die volk het elke god aanbid wat hul hart begeer het. Maar aan die einde van Josia se regering van 31 jaar was die tempel herbou, die afgode vernietig, en die wet van God weer in ere herstel. Die ketting was gebreek, die woud weer teruggeëis. Josia se oupa, koning Manasse, het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Josia was ’n skamele agt jaar oud toe hy besluit het om te plant, toe hy besluit het dat hy sou doen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 22: 2). Maar Josia het ook meer gedoen, hy het deur die woud gestap wat hy geërf het en gaan soek na ’n boom wat navolgenswaardig was. Hy het die boom van sy oupa oorgeslaan en tot by die boom gestap met die naam Dawid, en besluit hy gaan soos Dawid wees.
’n Ganse geslag, ganse volk word gered en deur God begenadig op grond van die optrede van een man. Ons is kinders van die verlede, en ouers van die toekoms. Deel van ’n ketting met ’n klomp skakels, elkeen afhanklik van die verlede en saam verantwoordelik vir die toekoms. Plant of plunder jy? Maak seker jy plant bome onder wie se skaduwee jy nie eens gaan sit nie.
Gebed
Vader, U is die groot boom in die woud wat uitstaan bo die ander. Help ons om U uit te soek en na u beeld te leef. In Jesus Naam. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

14 Julie 2024 – Moenie die Gees bedroef nie
Efesiërs 4: 30
Wanneer bedroef ’n mens die Gees? Die skrywer van die Efesiër-brief gee vyf voorbeelde van hoe ons die Heilige Gees nie moet bedroef nie. In vers 25 sê hy gelowiges moet die leuen, valsheid, aflê en onder mekaar die waarheid praat. Waarom? Want ons is lede van dieselfde liggaam. Die Gees het ons aan mekaar verbind, ons is een met mekaar. As ons dus vals is teenoor mekaar, is ons eintlik vals teenoor die Gees. In vers 26 sê Paulus ons moenie kwaad word vir mekaar en dan so bly leef nie. Dit gee die duiwel vatkans. Daar moet ook nie bitterheid en woede wees nie. Wanneer ons mekaar so bedroef, bedroef ons God se Gees ook. In vers 28 sê hy ons moenie steel nie, maar werk sodat ons ook vir die armes kan gee. Die hoofrede hoekom ons moet werk, is sodat ons dié wat nood het, kan help en vir hulle kan sorg. Anders bedroef ons hulle. En waar dit gebeur, bedroef ons die Heilige Gees.
In vers 29 sê Paulus: Ons moenie vuil taal gebruik nie, maar taal wat goed en opbouend is, sodat dit ons hoorders ten goede kan kom. Goeie taal is taal wat ons naaste help, bevoordeel en opbou. Vuil taal is taal wat skade doen, ander skend en hulle bedroef. En daardeur bedroef ons ook die Gees. In vers 31 noem Paulus ’n hele klomp dinge wat onderlinge liefde bevorder. Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie. Moenie vloek of skel nie, moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Liefde teenoor mekaar moet die norm wees.
Die Heilige Gees bind ons aan mekaar. Daarom, as ons teenoor mekaar sondig, mekaar bedroef, dan sondig ons teen die bedoeling van God se Gees, en dan bedroef ons die Gees. Fokus daarom op die vrug van die Gees, en beleef elke dag die vrede en die vreugde wat so ’n lewe meebring.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

13 Julie 2024 – Hoe kan ek die Heilige Gees ervaar?
1 Korintiërs 12: 1-11
Baie mense wonder: Hoe kan ek die Heilige Gees ervaar? Ons bely die Heilige Gees is Here, wat lewend maak. Wat in die waarheid lei deur die Skrifte. Maar waar en hoe kom die Heilige Gees konkreet en prakties in my lewe? Wat doen die Gees iewers in die wêreld dat ons sy werking kan sien en beleef? Waar bring die Gees lewe in die dood wat ons omring?
Die antwoord wat ons in die Bybel en in die belydenis van Nicea kry, is: Die Heilige Gees vorm ’n kerk. Die Heilige Gees roep, trek, verlos, versoen, skep, beskerm, bewaar, vertroetel, versorg, vertroos en lei ’n kerk. Reeds in die Ou Testament lees ons die belangrikste rol van die Gees van God is om die Godsvolk op allerhande maniere te dien, te lei, te beskerm, en te versorg. Maar in die Ou Testament verneem ons ook reeds die beloftes dat alles eenmaal in heerlike vervulling sal gaan, anders sal word, nuut sal word, wanneer die Gees die Messias opwek; wanneer die Gees in rykdom en in oorvloed uitgestort word op almal, van kinders tot ou mense; en wanneer die Gees van die Nuwe Verbond op elkeen, groot en klein, se hart sal skrywe, sodat hulle waarlik God se volk sal wees. Só werk die Gees.
Hierdeur is die Gees se werking sigbaar in die wêreld. Vir almal wat gedink het die Heilige Gees is in die eerste plek aan hulself persoonlik gegee om te voel en te ervaar en te beleef, sê Paulus dat die Gees in die eerste plek aan die kerk gegee is, aan die liggaam van Christus. Paulus sê dat die bestaan van die gemeente die sigbare gevolg en vrug, die duidelikste bewys van die werk van die lewendmakende Gees van die waarheid is. As iemand saam met die kerk bely dat Jesus die Here is, gebeur dit slegs deur die Gees wat in ons woon. Die kerk is daar vir almal om te sien hoe die Gees werk.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

12 Julie 2024 – Hoekom is die kerk daar?
2 Korintiërs 3: 1-18
Paulus sê, die rede waarom daar ’n kerk is, is sodat die heerlikheid van Jesus Christus deur al die gelowiges, die gemeente en die kerk in die wêreld uitgestraal word. Daarvoor gebruik hy die volgende beelde: Die verligting wat in ons werk, moet in die wêreld uitstraal; die geur van die lewe waaraan ons deel gekry het, moet in die wêreld versprei word; die heerlikheid van Christus moet deur die gemeente sigbaar word in die wêreld.
Dit doen die Gees deur die gemeente. Maar hoe? Paulus sê dit werk soos ’n spieël (verse 17-18). Wanneer ’n mens na jou beeld in ’n spieël kyk en jy maak allerhande bewegings, sal jou beeld in die spieël jou bewegings terug reflekteer. Maar hier werk dit andersom. Wanneer ons die Skrifte lees, daarna luister, dit oordink, sien ons in die Skrifte die heerlike beeld van Christus. En terwyl ons dit doen, word óns verander, vernuwe, om al hoe meer soos die beeld van Christus te lyk, te word en te wees. Van heerlikheid tot heerlikheid. Stappie vir stappie. Elke keer weer en weer.
En so neem Christus gestalte aan in die wêreld. In ons. Só versprei Christus se heerlikheid in die wêreld. Deur ons. Só straal Christus se lof uit in die wêreld. Uit ons. En dit alles doen die Here, wat die Gees is en lewend maak. Dit is die eintlike werk van die Heilige Gees, want só word Jesus Christus verheerlik. En so maak die Heilige Gees ons ook lewend deur die waarheid, deur die Woord.
Daarsonder is ons dood. Ons het dit bo alles nodig, want die grootste oorsaak van ons doodsheid is juis ons dwaasheid, ons sonde, ons onsekerheid, ons verwarring en verdwaaldheid. Dis is daarom dat ons sonder ophou tot die Heilige Gees moet roep, die Here wat spreek deur die profete, deur die Woord, om ons so in die waarheid te lei en om ons so lewend te maak dat ons al meer verander na die heerlike beeld van Christus.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

11 Julie 2024 – Hoe werk die Gees? (2)
2 Timoteus 3: 14-17
Kom ons vra weer: Hóé lei die Gees-van-waarheid-en-kennis ’n mens? Hoe openbaar die Gees van God die geheimenisse van God aan ons? Hoe leer ken ons die wil van God deur die Gees? Hoe lei die Heilige Gees ons in die volle waarheid? Hoe oortuig Hy ons van sonde, geregtigheid en oordeel? Hoe maak Hy ons denke nuut?
Daar bestaan geen onduidelikheid oor hierdie vrae nie. Die Heilige Gees van waarheid praat met ons deur die Woord van God. Wat God deur die profete in die Ou Testament gesê het en deur die apostels in die Nuwe Testament verkondig het, kry ons in die Heilige Skrifte.
Die Heilige Gees inspireer, adem, blaas nuwe lewe deur die Heilige Skrifte, sodat Hy ons in die waarheid onderrig, dwaling bestry, verkeerdhede regstel en ’n regte lewenswyse kweek – ja, sodat Hy ons volkome toerus vir elke goeie werk. Die Heilige Gees het almal wat die Skrifte geskryf het, meegevoer om die Woord wat van God kom, te verkondig (2 Pet 1: 20-21). Wat doen die Heilige Gees dus? Die Gees het gespreek deur die profete… In die vroeë kerk, wanneer daar oor die Gees besin is, het hulle eenvoudig gesê: Die Heilige Gees is die Gees van openbaring deur die geïnspireerde Heilige Skrifte.
Die Heilige Gees openbaar nie aan ons die waarheid van God as menslike kennis en wysheid nie, en ook nie net in sekere dele van die Bybel nie, maar in die volheid van Gods Woord. Hoe werk die Gees? Die Heilige Gees spreek deur die Heilige Skrifte, deur die opgetekende leringe van die profete en die apostels. Daarom dank ons die Here vir sy Woord in ons eie taal. Die Gees skenk lewe, verkwik ons, deurdat die Gees van die waarheid deur die Heilige Skrifte God en sy heilsboodskap aan ons openbaar. Gesaghebbend, duidelik, betroubaar: geïnspireer. Die Heilige Skrifte is God se betroubare en gesaghebbende Woord, want so openbaar die Heilige Gees aan ons die geheimenisse van God se goeie nuus.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

10 Julie 2024 – Hoe werk die Gees? (1)
1 Korintiërs 2: 1-16
Wanneer ons bely dat die Heilige Gees Here is wat lewend maak teen alle doodsheid in, is die vraag: Hoe doen die Heilige Gees dit? Hoe skenk die Heilige Gees die nuwe lewe? Hoe ervaar ons dit? Waar, wanneer en hoe gebeur dit?
Ons glo dat die Heilige Gees die Gees van waarheid, van openbaring, van lering is. Die Heilige Gees wat Here is en lewend maak, is ook die Gees van waarheid. Die Gees roep mense op om te verkondig (Jes 61). Die Gees gee aan die profete hul woorde van openbaring, kennis, vermaning. Die Heilige Gees oortuig, lei in die waarheid en verkondig (Joh 16). In die laaste dae openbaar die Gees, in Christus, die geheimenis van God aan ons (Ef 3). Hy leer ons alles wat ons moet weet, Hy leer ons die waarheid en nie die leuen nie ( 1 Joh 2: 26-27). Hy gee aan ons wysheid en verlig die oë van ons hart (Ef 1). In 1 Korintiërs 2: 6-16 sê Paulus dat die Gees aan die apostels wysheid gee, sodat hulle dit dan weer aan ons almal kan verkondig.
Hierdie wysheid is nie van hierdie wêreld of van die heersers of die belangrike mense van hierdie wêreld nie. Dis die wysheid van God, die verborge wysheid wat bedek was. God het hierdie wysheid deur sy Gees geopenbaar vir dié wat Hom liefhet. Dit is hierdie wysheid, hierdie geheimenisse, wat Paulus en die ander apostels nou aan ons verkondig. En dan voeg Paulus by: nie met menslike geleerdheid of kennis nie, maar deur die woorde wat die Gees hulle leer. Sonder die Gees is dit onmoontlik om die geheimenisse van God te ken of te verstaan. Trouens, sonder die Gees lyk dit na dwaasheid. Maar mense wat deur die Gees gelei word, kan hierdie waarheid en hierdie lering beoordeel en waardeer. En dan sê Paulus: Ons wat hierdie boodskap aanneem en glo, ons het die Gees van Christus. Dit is ons enigste troos in lewe en in sterwe.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

9 Julie 2024 – Die Heilige Gees maak lewend (2)
Esegiël 37: 1-14
In hierdie gebeure sien ons iets van wat ons in die geloofsbelydenis van Nicea bely oor die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Die Here vra vir die profeet (vers 3): Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Dit is ’n vraag waarmee ’n mens telkens in jou lewe gekonfronteer word. Glo jy so iets is moontlik? Sou so iets vir die Here te wonderbaar wees? Sou so iets vir die Here onmoontlik wees?
As Christene bely ons dat die Heilige Gees as Here lewe kán en wíl gee. Maar in die alledaagse lewe wanneer ons te doen kry met die doodsheid in ons eie lewe en ervarings, twyfel ons dikwels. Dan antwoord ons ook soos die profeet: Nee, dit weet net U, Here my God. Mense glo baie keer meer in die dood as in die lewe. Die begrip dood word in die algemene spreektaal maklik gebruik om situasies van magteloosheid en hopeloosheid mee uit te druk. Wanneer mense voel daar is geen sin of vreugde in die lewe meer oor nie, sê hulle: Iets in my het doodgegaan.
Wanneer ’n huwelik of verhouding tot ’n einde kom, word gesê: Ons liefde vir mekaar is dood. Wanneer alles te veel word en ’n mens voel jy kan nie meer nie, sê ons: Ek is tot die dood toe moeg, vermoeid, afgemat, uitgeput. Die vrees vir môre, vir die toekoms, vir misdaad, laat mense wonder wat gaan van my, my gesin, ons almal word, en dan sê ons: Ons is doodbang. Die Bybel ken ook hierdie soort taal. Dood staan in die Bybel vir al die magte wat ons verslaaf, wat ons van alle hoop ontneem en ons kragte tap. Vasgevang in die duistere kringloop van al die situasies van doodsheid, het die Christelike kerk hierdie kragtige belydenis: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Die vraag is net: Glo ons dit regtig? Onthou, hiermee bely ons niks is vir die Here onmoontlik nie.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

8 Julie 2024 – Die Heilige Gees maak lewend (1)
2 Korintiërs 3: 1-18
Die Heilige Gees is die Gees van die lewende God (vers 3). Die Gees maak lewend (vers 6). Die Here is die Gees en die Gees is die Here (vers 17), en waar dié Here-wat-die-Gees-is (vers 18) werk, kom daar vryheid (vers 17), bekwaamheid (vers 6), en skitterende alles oortreffende blywende heerlikheid (verse 7-11). Dan word die sluier wat ons verstand bedek, weggeneem (verse 12-16) en maak die Gees ons lewend (vers 6). Dan skryf die Gees van die lewende God sy woord op die harte van mense sodat hulle lewende briewe van God word, vir almal om te sien en te lees (verse 1-6).
Dit is die Gees wat oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Dis Hy wat die werk en lewe van die Seun in die lewe van mense ’n werklikheid maak, dis Hy wat Christus verheerlik, wat Christus in ons lewend maak (Joh 14: 15-26; 15: 26-27; 16: 7-15; Hand 1: 4; 2: 33). Maar óók die Gees van Christus in dié sin dat Hy die Gees is wat Christus vervul het en deur Christus lewe gewek het.
Saam met die kerk van alle eeue bely ons dat die Heilige Gees God Self is, wat in krag en vrymag en genade lewe skenk te midde van barheid, droogte en doodsheid. Hierdie lewegewende werk van die Heilige Gees leer ons in die Bybel ken as drie besondere kragdade van God, naamlik: om iets uit niks te skep, om kinders te verwek waar dit menslik gesproke onmoontlik is, en om lewe te gee waar die dood heers. Hierdie drie motiewe word in die vernuwende, lewegewende werk van die Gees met mekaar verbind in die metafoor van wedergeboorte. Om hulle tot geloof te laat kom, om hulle deel te maak van die kerk, weder-baar die Gees, wat waai waar Hy wil, mense – op sy eie tyd en geheimenisvolle manier – sodat hulle op ’n dag besef dat hulle verander is, vernuwe is en tot geloof gebring is (Joh 3: 1-21).
Dr Christo van der Merwe, Emeritus

7 Julie 2024 – Om te doen wat Hy sê
Johannes 2: 1-12 (AFR2020)
Die bruilof in Kana was in die knyp – die wyn het opgeraak. Meer wyn was al wat die onthaal kon red. Ons lees in Johannes 2: 5 die woorde van Jesus se ma aan die kelners: Doen wat Hy ook al vir julle sê. En al wat Jesus vir die kelners sê, is: Maak die kanne vol water. Sonder teëstribbeling het hulle die kanne tot bo toe volgemaak. En hierdie woorde is seker die swaks bewaarde geheim vir ’n sinvolle lewe van alle tye: Doen wat Hy ook al vir julle sê.
Baie van ons probleme, ons ontevredenheid oor die lewe en ons vertraagde geestelike groei, kan toegeskryf word aan ons onwilligheid om ag te slaan op dít wat Hy vir ons sê. In plaas daarvan kom ons heeltyd in opstand daarteen. Maria se opdrag aan die kelners is baie duidelik: Doen wat Hy ook al vir julle sê.
Dalk soek jy ook naarstiglik na ’n oplossing vir ’n reuseprobleem waarmee jy te kampe het? Dalk begeer jy ’n gesonder verhouding met die Here? Dalk smag jy na die vermoë om uit te styg bo moeilike omstandighede of na nuwe geesdrif vir die lewe? Dalk wag jy vir ’n uitkoms uit ’n knyptangsituasie? Dalk wil jy net ’n bydrae maak om van die wêreld ’n beter plek te maak. Wel, hier is die sleutel: Doen wat Hy ook al vir julle sê.
As Hy sê: Volg My! (Joh 1: 43) – laat ons dit doen.
As Hy sê: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het (Joh 15: 12) – laat ons dit doen.
As Hy sê: Bid (Matt 6: 9) – laat ons dit doen.
As Hy sê: Verkondig die evangelie aan die hele mensdom (Mark 16: 15) – laat ons dit doen.
As Hy sê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … en jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt 22: 37-39) – laat ons dit doen.
Want wat op die spel is, is veel meer as ’n bietjie ekstra wyn op ’n huweliksonthaal…
Dr Johan van Staden, Sionspoort

6 Julie 2024 – God sien jou
Genesis 16: 1-16 (AFR2020)
Ek wil van geweet wees, Ma! Dié wanhopige kreet van die jonge Tiemie in PG du Plessis se klassieke Siener in die Suburbs laat ’n mens onwillekeurig dink aan Hagar – ’n vrou wat ook so graag van geweet wou wees, maar gevoel het niemand gee ’n snars vir haar om nie.
Sy was ’n Egiptiese meisie wat ver van haar eie land ’n slavin in diens van Sarai was. Omdat Sarai nie kon kinders hê nie, het sy gedink dit is ’n goeie plan om, volgens die gebruik van die tyd, vir Hagar as vrou aan Abram te gee sodat sy vir hom ’n kind kan gee. Maar toe Hagar agterkom sy is swanger, begin sy neersien op Sarai. Die gevolg is dat Sarai haar begin mishandel het, en Hagar vlug.
Langs die pad, by die fontein op pad na Sur, ontmoet die Engel van die Here haar en beveel haar om terug te gaan na Sarai en haar aan haar gesag te onderwerp. Die Engel belowe dat sy ’n groot nageslag gaan kry, en sy kry ook by die Engel ’n naam vir haar seun: Ismael. Dit beteken God hoor, want die Here het van haar mishandeling gehoor. Ons lees in Genesis 16: 13: Hagar het toe die naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. En so word sy bewus van El Roï, die Hebreeus vir: Die God wat my sien. Hagar het besef dat God van haar weet.
En dit herinner ons: God sien jou! Hy sien jou trane. Hy sien jou kwellinge, jou kommer, jou onsekerheid, jou wanhoop, jou pyn. God sien jou – maak nie saak hoe donker die nag vir jou geword het nie, God sien jou. Ongeag in watter woestyn jy jou bevind – God sien jou. Maak nie saak hoe diep die put is waarin jy beland het nie – God sien jou.
Wil jy ook van geweet wees? Weet jy wat? Daar is Iemand wat van jou weet, wat elke oomblik van elke dag aan jou dink. Hy sien jou! En in sy oë is jy baie spesiaal!
Dr Johan van Staden, Sionspoort

5 Julie 2024 – Wanneer almal jou afskryf…
2 Kronieke 13: 1-22 (AFR2020)
Almal hou nou maar eenmaal daarvan om te hoor van iemand wat teen alle verwagtinge in goed doen nadat almal hom of haar afgeskryf het.
Almal het Moses afgeskryf, almal behalwe God – die Egiptenare het dit behoorlik ontgeld. Almal het Gideon se 300 man afgeskryf, almal behalwe God – die Midianiete het dit behoorlik ontgeld. Almal het die blinde Simson afgeskryf, almal behalwe God – die Filistyne het dit behoorlik ontgeld. Almal het Dawid afgeskryf, almal behalwe God – die reus Goliat het dit behoorlik ontgeld.
In 2 Kronieke 13 lees ons van koning Abia van Juda wat oorlog maak teen die oormag van koning Jerobeam van Israel. Almal het Abia afgeskryf, almal behalwe God – Jerobeam en sy weermag het dit behoorlik ontgeld. Ons lees dan in vers 18: Die Israeliete is by dié geleentheid verneder, en die Judeërs het die oorhand gehad, omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, gesteun het.
Dalk voel jy ook soms of jy nie na waarde geskat word nie. Het iemand jou ook al te gou afgeskryf? Eintlik maak dit min saak, want die heel belangrikste is: God sal ons nooit afskryf nie. Hy dink jy is fenomenaal – en dit maak ’n reuseverskil. Dalk voel dit asof alles teen jou tel. Maar vir God tel jy – en dit maak ’n reuseverskil. Dalk voel dit of ’n oormag teen jou stelling inneem. Maar saam met God is jý die oormag – en dit maak ’n reuseverskil.
Maak nie saak hoe groot die agterstand is wat jy moet inhaal nie, ongeag wie en wat jy verloor het langs die pad, al is jy beseer, gewond, siek of oorweldig en al lyk die struikelblokke onoorkombaar, moenie jouself afskryf nie – want God het jou nog lank nie afgeskryf nie. God skryf jou nie af nie, Hy skryf jou aan – hoog aan! Hy het ’n plan en jy pas netjies in by daardie plan. Hy kan en wil en gaan ook groot dinge vir jou en deur jou doen. Wees gereed – en steun op Hom. Dit maak die verskil.
Dr Johan van Staden, Sionspoort

4 Julie 2024 – Om te onthou
1 Samuel 21: 1-9 (AFR2020)
Die wilde, aggressiewe kyk wat die Springbokslot sy teenstander gegee het, is oral in die media te sien. Maar dit lyk natuurlik net so erg omdat dit in stadige aksie gespeel word, of ’n foto ’n enkele greep daaruit vertoon. Speel dit teen normale spoed en jy kom agter dit was nie naastenby so erg nie.
Maar dit is mos presies wat ons gereeld doen. Ons laat toe dat iets wat eintlik gou moet oorwaai, vassteek in ons gemoed en geheue – ’n konfliksituasie, ’n teleurstelling, ’n nederlaag of ’n mislukking. Ons speel dit in stadige aksie oor en oor in ons koppe. Ons kyk weer en weer na die foto of skermskoot. Ons fokus so op die negatiewe dat ons in die proses vergeet van al die positiewe, die seëninge, die goeie, die uitkoms – ook en veral dít wat God in die verlede vir ons gedoen het.
Ons weet dat die jonge Dawid, teen alle verwagtinge in, Goliat met ’n rivierklippie neergevel het. Dawid, wat nie ’n swaard by hom gehad nie, het die reus toe met sy eie swaard doodgemaak.
Dawid is hierna natuurlik koning Saul se held – tot die koning bedreig deur hom begin voel en beplan om hom dood te maak. Hierdie gevaar laat Dawid vergeet dat God hom nog altyd beskerm het. Vreesbevange op vlug kom hy in Nob by die priester Agimeleg aan. Dawid vra vir Agimeleg in vers 8: U het nie dalk hier ’n vegspies of ’n swaard byderhand nie? Die priester antwoord dat Goliat se swaard waarmee Dawid hom doodgemaak het, daar is, toegedraai in ’n kledingstuk, en dat hy dit vir hom kan neem.
Hoe die swaard daar beland het, weet ons nie – maar Dawid antwoord: Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my (1 Sam 21: 9). God het Dawid met daardie swaard herinner dat hy geen geveg alleen veg nie.
Iewers is daar ook ’n swaard uit my en jou verlede. Kom óns dink ook aan God se beskerming en bystand in die verlede. Speel dít oor en oor in stadige aksie. Daardie herinnering sal ons deur enige donker diepte dra.
Dr Johan van Staden, Sionspoort

3 Julie 2024 – Agter wat kruip ons weg?
1 Samuel 10: 17-27 (AFR2020)
Al die mense van Israel is bymekaar waar Saul as koning aangewys word. Hulle kry hom egter nêrens nie. Hy kruip weg by die pakgoed (1 Sam 10: 22). Saul sien nie kans vir die groot taak en verantwoordelikheid nie.
Ons kruip ook soms weg, iewers by die pakgoed wat ons saamsleep deur die lewe. As gevolg van al die letsels weens jou seer, wys jy miskien vir die wêreld iets anders as wat jy regtig voel.
Kom ons kyk na ’n paar mense wat moontlik agter ongesonde gedrag wegkruip. Dalk herken jy hom of haar – dalk selfs in die spieël…
Daar is die knorpot: Niks stel hom of haar ooit tevrede nie. Hulle kla oor alles, is teleurgesteld in alles en almal, en hulle geniet dit om negatiewe kritiek te lewer.
Die aggressiewe een: Altyd humeurig – ’n drukkoker wat gedurig dreig om te ontplof.
Die boelie: Hulle maak dikwels seer omdat hulle seer het. Dis natuurlik ook ’n uiting van aggressie, al is dit soms meer subtiel in die vorm van afknou, kwets en ondergrawe.
Die skindertong: Hulle put plesier daaruit om lelike goed van ander te sê. Dit is nog ’n vorm van aggressie – passiewe aggressie. Wat steek hulle weg?
Die beterweter: Hulle is altyd reg en sal in elk geval nooit erken indien hulle verkeerd is nie.
En wat van die een wat jou altyd een voor wil wees? Wat hulle het (of gedoen het), is altyd beter as wat jy het (of gedoen het). Ja, selfs hul pyne en skete is erger as joune, en hul probleme groter.
Maar eintlik gee almal hierbo se optrede hulle weg – wat hulle doen, ontbloot die onvrede in hul harte, onvrede wat sal bly so lank as wat die gewig van die bagasie bly druk en skaaf.
En soos Saul agtergekom het: Jy kan nie vir God wegkruip nie! En ook nie vir jouself nie… Kom uit agter die pakgoed. Daar is hoop. Daar is balsem vir die wonde. Hou op wegkruip – en lewe eerlik. Dit is bevrydend!
Dr Johan van Staden, Sionspoort

2 Julie 2024 – Die naam wat heelmaak
Jesaja 8: 1-4 (AFR2020)
Dit is algemeen bekend dat ’n plaas in Noordwes, Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein, die langste pleknaam in Afrikaans het. Om vas te stel wat die langste persoonsnaam in Afrikaans is, is egter ’n haas onbegonne taak. Ons weet wel dat daar geen dispuut is oor die langste persoonsnaam in die Bybel nie. Ons lees in Jesaja 8: 1 van Maher-sjalal-gasj-baz, oftewel Vinnig-buit-spoedig-roof.
In die Bybel is name nie sommer onnadenkend of toevallig gegee nie – ook nie Vinnig-buit-spoedig-roof se naam nie. Hy was ’n seun van Jesaja, en sy naam verwys na sy pa se profesie oor die verwoesting van God se volk deur ander nasies. Hulle gaan Israel en Juda plunder, en spoedig op vlug slaan met hul buit.
Maar Jesaja het nog ’n seun gehad. Sy naam was Sjear-Jasjoeb, wat beteken ’n oorblyfsel sal terugkeer (Jes 7: 3). Maak nie saak hoeveel geplunder word nie, daar is altyd hoop en redding vir hulle wat getrou en standvastig in hul geloof bly.
En daardie hoop en redding kom vandag deur ’n ander naam: Jesus. Die naam Jesus is ’n Griekse verbuiging van ’n Hebreeuse woord wat beteken God red. Sy naam is nou verweef met sy identiteit as die Messias, dit beklemtoon sy rol as redder van die wêreld, en dit dui op ons enigste hoop in ’n wêreld wat wanhopig begin word.
Anders as Maher-sjalal-gasj-baz wat die versinnebeelding van vergrype, verwoesting en gebrokenheid is, staan die naam van Jesus vir barmhartigheid, heelmaak en herstel. Die naam Jesus is die naam wat weerklink daar waar die skerwe van stukkende lewens weer aanmekaargesit word. Dit is die naam wat troos vir troosteloses bring, krag vir swakkes, waardigheid vir verworpenes, ’n uitkoms vir hulle wat vasgeloop is en ’n toekoms vir hulle wat oortuig is die beste is reeds verby.
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig … en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader (Fil 2: 9-11).
Dr Johan van Staden, Sionspoort

1 Julie 2024 – Maar God…
Genesis 50: 15-21 (AFR2020)
Josef en sy broers se ontmoeting na hul pa Jakob se dood, is aangrypend. Sy broers het hom as ’n slaaf verkoop toe hy jonger was, maar Josef het hulle vergewe vir wat hulle aan hom gedoen het. In Genesis 50: 20 lees ons dat Josef vir sy broers sê: Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad…
En hier tref ons die heel mooiste twee woorde in Afrikaans aan: Maar God… Die verandering in die lotgevalle van God se kinders lê in daardie twee woorde opgesluit. In die woorde maar God vind ons die ommekeer van ons omstandighede, die ingryping van die Allerhoogste wanneer ons dit die nodigste het – onverwagse uitkomste op onverwagse oomblikke.
Wanneer Stefanus, wat deur die vroeë Christene as diaken aangewys is, die geskiedenis van Josef en sy broers in herinnering roep, sê hy: Omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom (Hand 7: 9).
Hier is nog enkele voorbeelde: Dawid, op vlug van Saul af, het in die berggebied van die woestyn Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie (1 Sam 23: 14). In Handelinge 13: 29-30 sê Paulus dat Jesus van die kruis afgehaal en begrawe is. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Ons lees ook in 2 Korinthiërs 7 dat Paulus en sy medewerkers verdrukking, aanslae en angs ervaar het. Dan lees ons in vers 6: Maar God … het ons bemoedig.
Só is dit ook in ons eie lewens. My lewe was besig om uitmekaar te val, maar God maak heel wat stukkend is. Ek het gedink dit is klaarpraat met my, maar God het geweet dit is nog lank nie verby nie. Ek was moeg en uitgeput, maar God het vir my krag gegee. Ek was vasgeloop, maar God het my bevry. Ek het verdwaal, maar God het my gevind. My hoop het begin vervaag, maar God bring nuwe hoop.
Dr Johan van Staden, Sionspoort

30 Junie 2024 – Die Heilige Gees gee gawes (2)
1 Petrus 4: 10; Efesiërs 4: 11; Romeine 12: 6-8; 1 Korintiërs 12: 1, 4-12, 14-20
Die uitstorting van die Heilige Gees oor alle gelowiges op daardie Pinksterdag het ingrypende gevolge gehad vir die ganse wêreld en al sy mense. Een van hierdie gevolge was dat gelowiges allerhande genadegawes ontvang het.
Hoor hierdie goeie nuus: Ek en jy en elke ander gelowige hét gawes en talente ontvang. ’n Gratis geskenk van God af, omdat Hy vir ons lief is. Dit is so vas en so seker soos dat die Heilige Gees in ons elkeen is en voortdurend aan die werk is. Hierdie gawes, so gewoon of buitengewoon as wat dit mag wees, moet deur ons ontdek en ontwikkel word, omdat dit spesifiek vir ons in ons uniekheid gegee is. Ons moet dit gebruik tot eer van God en in diens van mekaar. Dis nie net ’n as-jy-lus-voel-gawe nie, dis ’n opdrag, ’n roeping, want sonder jou en jou gawes kan die Liggaam van Christus, die kerk in die wêreld, nie werk soos wat dit moet nie.
Wat is jou Godgegewe gawes? Hoe leef jy dit uit? Hoe gebruik jy dit elke dag? Wys dit vir ander wie God is, en is dit ’n seëning vir ander?
Kom ons bid saam: Ons Genadige God, dankie dat U ons waardevol genoeg ag vir u gratis geskenke. Gee dat ons met die hulp en leiding van u Gees, hierdie gawes reg sal gebruik, soos U dit bedoel het. Gee dat ons ons gawes sal eien en sal gebruik op elke plek waar ons kom, tot eer van U en tot voordeel van ander. Amen.
Ontvang hierdie seën: Mag die vrede van ons Here, Jesus Christus, met jou wees – waarheen Hy jou ook al mag stuur. Mag Hy jou lei deur die wildernis en jou beskerm deur die storm. Mag Hy jou veilig tuisbring, met vreugde in jou hart.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

29 Junie 2024 – Die Heilige Gees gee gawes (1)
1 Petrus 4: 10; Efesiërs 4: 11; Romeine 12: 6-8; 1 Korintiërs 12: 1, 4-12, 14-20
Ons sien in ons tekste dat daar onder andere vyf belangrike aspekte is om van te weet oor die gawes wat die Heilige Gees aan ons gee:
Dis altyd tot eer van God. Indien dit tot eer van die self is, is dit nie ’n gawe van die Gees nie. Indien dit die oog na God en sy koninkryk rig, is dit ’n Godgegewe gawe. Maar as dit die oog elders rig, is dit van die wêreld.
Daar is ’n verskeidenheid gawes en elke gelowige kry dit. Daar is verskeie gawes, gewoon en buitengewoon, wat gebruik kan word tot eer van God. Selfs die mees algemene talent is ’n gawe van die Gees as dit tot eer van God aangewend word. En selfs die vreemdste en mees unieke gawe kan ook gebruik word om God te eer.
Dit moet altyd tot voordeel van mekaar gebruik word. Die doel van genadegawes is sodat dit ’n seën in die lewe van ander sal wees. As niemand anders daarby baat nie, is dit nie ’n genadegawe nie. Ons gawes is altyd in diens van mekaar en tot eer van God. As hierdie twee vereistes bevredig word, is die gawe van God af.
God kies wie kry wat. God ken jou beter as wat jy jouself ken. God kies vir jou unieke gawes wat net in jou unieke menswees en omstandighede kan floreer. Vertrou God se keuse vir jou en moet die gawe wat Hy spesifiek vir jou gee, nie onder ’n maatemmer wegsteek nie. Ontdek dit en leef dit tot eer van God en tot voordeel van mekaar.
Ons gawes is soos ’n liggaam. Watter ryk en verstaanbare beeld! Ons elkeen het gawes en talente ontvang en elkeen se gawes en talente het ’n onmisbare rol om te vervul. Indien jy nie jou gawe reg uitleef nie, kan die liggaam nie optimaal funksioneer nie. Mag dit nooit van ons gesê word nie.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

28 Junie 2024 – Die Heilige Gees deurdrenk ons
1 Korintiërs 12: 13; Romeine 8: 15-17
Ons lees in die Ou Testament dat die Gees wel by gelowiges was, maar slegs by spesifieke belangrike gelowiges. Konings en profete kon spog met die salwing van die Gees, maar die gewone gelowiges het nie deel aan hierdie salwing gehad nie. Op Pinksterdag verander alles. Die Gees kom nou ruim oor alle gelowiges as gratis geskenk van God, om ons hier op aarde by te staan tot die wederkoms aanbreek. Daar is menige teks wat iets hieroor sê.
In die tekste wat ons vandag gelees het, kry ons ’n wonderlike beeld – deurdrenk. Paulus praat hier spesifiek met die gelowiges in die gemeente van Korinte, maar hy praat ook met elke ander gelowige oor alle eeue heen as hy sê: Ons is almal van die een Gees deurdrenk (1 Kor 12: 13). Ons is almal… Hoor hierdie inklusiewe woorde. Ek en jy word by hierdie “ons” ingesluit. Eeue en eeue voordat ons ons eerste asemteug op hierdie aarde geneem het, was ons reeds by hierdie “ons” ingesluit. Voordat ons enigiets van ons kant af kon doen, is hierdie gratis geskenk reeds aan ons gegee. Aan “ons” elkeen. En nie net dit nie – nie net is die Gees ná Pinksterdag aan elke gelowige gegee nie. Die Gees maak ons ook kinders van God.
Dis die Gees wat maak dat ons God nie ’n veraf, onpersoonlike God is nie, maar so intiem persoonlik soos ’n Vader. Dis die Gees, wat aan elkeen van ons gegee is, wat ’n Vader-kind-verhouding moontlik maak. Is dit nie wonderlike nuus nie? Die Gees, wat aan elkeen van ons gegee is om nie net by ons te wees nie, maar “in” ons te wees, om ons te begelei, te help, te vorm, is ook die Gees wat ons tot kinders van God maak.
Dit alles is ook waar van jóú!
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

27 Junie 2024 – Die Heilige Gees maak ons braaf
Handelinge 4: 1-22
Vanoggend reis ons verder deur die Woord van God, op soek na leidrade oor die werk van die Heilige Gees ná Pinksterdag. Die dag toe die Gees oor die aarde uitgestort is.
Kort na Pinkster gaan Petrus en Johannes tempel toe om te bid. Daar kom hulle ’n verlamde bedelaar teë. Petrus beveel hom om in die Naam van Jesus op te staan en te loop, en die man is net daar genees. Petrus gee dan ’n reguit preek aan diegene wat as gevolg van die wonderwerk om hulle kom staan het. Hy sê drie belangrike dinge: dat mense gesondig het, dat God genadig is en die kans vir bekering aanbied, en dat as hulle nie bely en bekeer nie, daar negatiewe gevolge sal wees.
As Petrus hierdie verkondiging dan weer aan diegene wat hom gevange hou moet oorvertel, skroom hy nie en herhaal hierdie harde realiteit. Ons het dit in vanoggend se teksgedeelte duidelik gehoor. Hy praat met die selfvertroue wat die Heilige Gees in sy hart gelê het. Hy sê duidelik dat die genesing slegs deur hom, maar in werklikheid deur Jesus gedoen is. Petrus verkry ’n braafheid wat ’n mens se verstand te bowe gaan. Hierdie is die einste mense wat Jesus gekruisig het en wat Petrus nou net so maklik ook kan kruisig, en tog het Petrus die moed om die harde waarheid van Jesus te bly verkondig. Kan dit ook van jou gesê word?
Kom ons bid saam: Ons Opgestane Heer, ons vra vir dieselfde tipe braafheid as wat in Petrus se hart gelê het, sodat ons ook die waarheid van u Woord met selfvertroue kan verkondig, selfs in die aangesig van teenkanting en gevaar. Gebruik ons om moedig die volle evangelie uit te dra waar ook al ons kom. Amen.
Ontvang hierdie seën: Mag die vrede van ons Here, Jesus Christus, met jou wees – waarheen Hy jou ook al mag stuur. Mag Hy jou lei deur die wildernis en jou beskerm deur die storm. Mag Hy jou veilig tuisbring, met vreugde in jou hart.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

26 Junie 2024 – Die Heilige Gees is vir almal
Handelinge 2: 14-21
Op Pinksterdag staan Petrus op en verduidelik die ongewone gebeure deur die profesie in Joël 2 aan te haal: dat die Gees van God oor die ganse mensdom sal kom en almal profete sal maak.
Hierdie gedeelte maak meer sin as ’n mens verstaan wat gelowiges oor die Gees in terme van die ou verbond verstaan het. Daar is geglo dat enigeen wat onder die ou verbond gered is, deur die Heilige Gees nuutgemaak is en dus die Gees in hulle gehad het. Maar slegs sekere mense is deur die Heilige Gees gesalf as profete. Hierdie profete het spesiale toegang tot God gehad. Onder die ou verbond het mense nie die tipe vrye toegang gehad wat moontlik geword het toe Jesus hemel toe opgevaar het en ons op ’n besondere manier saam met Hom geneem het nie.
Moses was een van die profete van die ou verbond. In Numeri 11 lees ons dat Moses moeg word daarvoor om hierdie las alleen te dra. Om hierdie las te verlig, neem God die Gees, wat Hy vir Moses gegee het, en gee Hy dit aan 70 ander mans om Moses te help. Die Gees het oor hulle gekom wanneer hulle saam was en hulle het gevolglik geprofeteer.
Joël voorspel dan dat daar ’n groter Moses sal kom, wat in die hemel opgeneem sal word, en Hy sal onmiddellike toegang tot God se troon verkry. En hiermee saam sal alle mense ook toegang kry en alle mense sal profete word. Die Gees wat aan die groter Moses gegee sal word, sal gedeel word met al sy mense. Petrus meen dat hierdie voorspelde dag aangebreek het, dat van hierdie dag af vorentoe, alle gelowiges profete sal wees. Dat alle gelowiges die Heilige Gees ontvang het en gevolglik direkte toegang tot God het, dieselfde toegang wat destyds slegs vir sekeres beskore was.
Is dit nie ongelooflik gerusstellende en wonderlike nuus nie?
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

25 Junie 2024 – Lig en lig
Matteus 5: 14
Ons bevind ons tans in van die onsekerste tye wat die mensdom al ooit beleef het. Tydens onsekere tye kan ons gewoontlik nie wag om dit verby te kry nie, kan ons nie wag vir die lig om weer deur die donker onsekerheid te breek nie.
Jesus sê in ons teks nie julle moet die lig vir die wêreld wórd nie. Hy sê julle ís die lig vir die wêreld. Daar is nie ’n keuse om die lig te word nie, ons is reeds die lig want ons glo – daar is wel ’n keuse of ons die lig gaan wegsteek en of ons dit gaan laat skyn.
Die vroeë kerk het werklik hul lig in twee opsigte laat skyn: Hulle was die Lig in ’n donker wêreld; maar hulle het ook lig deur die lewe gereis, lig geleef; hulle het min dinge en ideologieë gehad wat hulle afgetrek, gebind en onbeweeglik gemaak het.
Hierdie tyd van die jaar, terwyl ons die werking van die Heilige Gees vier, moet elkeen van ons weer hoor dat ons die lig, wat die Heilige Gees in ons geplaas het en deur geloof moontlik maak, helder moet laat skyn in ’n donker wêreld, maar ook dat ons al die onnodige bagasie wat ons lewe donker, swaar en moeilik maak, moet afgooi, sodat ons ook ligter kan reis. Ons is die lig vir die wêreld, die duisternis kan dit nie uitdoof nie, maar soms is die grootste uitdaging om die duisternis te beveg, sonder om self donker te word (ds Jaco Strydom).
Lig skyn die helderste juis hoe donkerder dit is. Dis juis in die donkerste tye dat ons lig die helderste moet skyn, maar ook in elke ander moontlike tyd. Die vroeë kerk het dit reggekry om lig te wees en lig te leef in seker die donkerste tye in die kerk se geskiedenis. Hoe? Hulle het die basiese dinge reggekry: ’n lewe van gebed, eenvoud, gemeenskap, liefde en vergifnis. Mag dit van elkeen van ons ook waar wees.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

24 Junie 2024 – Die Heilige Gees en Lig
Handelinge 28: 30-31
Die Bybel is eers in die vierde eeu na Christus gefinaliseer. Die meeste gelowiges in die vroeë kerk het hul Christenskap sonder ’n Bybel reggekry. Die Christene uit die Jodedom sou dalk die Ou Testamentiese geskrifte geken het, maar die gelowiges uit die heidendom sou nie. Hulle sou uitsonderlik die Nuwe Testamentiese briewe kon lees. Die meeste van hulle moes maar staatmaak op die woorde en leefwyse van medegelowiges. Hulle het gekyk na wat die ander doen en dit self ook gedoen.
Op Pinksterdag is die Gees oor die mense uitgestort. Die Gees is Jesus se aardse teenwoordigheid, tydens Jesus se aardse afwesigheid (onbekend). Die Gees kom vul die gaping wat gelaat is na Jesus se hemelvaart. En met die koms van die Gees het iets verander, iets is in ons aan die brand gesteek, ’n lig – die Lig, met ’n hoofletter L, wat deur niks uitgedoof kan word nie, nie eens deur die dood nie. Dis die Gees wat die eerste gelowiges in staat gestel het om hierdie Lig in die wêreld te leef, dis die Gees wat óns ook inspireer en lei om beter en brawer te wees. Ons is dus nie alleen as ons die lig in ’n donker wêreld probeer wees nie.
Ons teks sluit af met hierdie een Griekse woord: akolutoos – “sonder verhindering”. Alhoewel Paulus ingeperk en fisies verhinder was, in donkerte vasgevang was, het die evangelie se lig deur hom steeds onverhinderd geskyn en wyer uitgekring, tot waar ons vandag hier sit. Selfs huisarres, selfs beperkings, kan die evangelie van Jesus nie beperk nie. Dis die werk van die Gees, dit was in Paulus en dit is in my en in jou.
Selfs ook wanneer ons ingeperk en vasgevang is en onsself in onsekerheid bevind, kan ons, móét ons daar waar ons is, die Lig van Christus met vrymoedigheid laat skyn. Die Gees van God brand soos ’n vuur in ons. Ons is die lig vir die wêreld – die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie!
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

23 Junie 2024 – God bo ons verstand
Romeine 12: 1-2
Medici is uitgesproke oor hoe ons liggame aanmekaar gesit is. Frases soos Jy is jou brein en Dit is in jou DNS word oor ons uitgespreek as ons op ’n sekere manier optree. Die meeste mense vererg hulle en sê dan: Dit is maar net hoe ek gemaak is. Hierdie uitroepe is net ’n skadu van wie jy is, maar definitief nie hoe jy gemaak is nie. In die fliek The Shack is Mac alewig kwaad vir God en wil hy niks van vrede of vreugde weet nie. God besluit dan om Mac op ’n reis te neem wat sy brein nooit sou kon opdroom nie. Al die dokters in die spreekkamer het gesê dat hy gedroom het en dat dit wat hy beleef het, onmoontlik was, maar God doen altyd die onmoontlike. Hy is immers God bo ons verstand.
In die weke wat na sy insident volg, is hy vreugdevol en so vol lewe dat sy vrou dit nie kan glo nie. Mac het ten spyte van die wêreld se kommentaar vas bly staan op sy waarheid. Hy het vas bly staan by sy belewenis met die Heilige Gees. God se Gees help ons, herinner ons aan waarheid, en neem ons ook op die ongelooflikste reise. Hierdie teks is vir my so besonders omdat ons aangemoedig word om nie soos die wêreld te wees. Moenie die leuens glo nie. Jy is nie jou brein nie. Jy is nie jou biologie nie. Jy is nie wie die wêreld sê jy is nie.
Elke dag word jy gebore met nuwe neurone in jou brein wat wag om ’n konneksie te maak en ’n impuls deur te voer. Elke dag het ons opnuut ’n keuse om vas te staan op God se beloftes, of deur die wêreld ingesluk te word. In Deuteronomium 30: 19-20 hoor ons hoe God ons elke dag voor die keuse stel. Bid en vra die Gees van God om jou te lei, want jy gaan nie altyd sterk genoeg wees om die keuse van lewe te kies nie.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

22 Junie 2024 – Brug na heelheid
Efesiërs 4: 22-24
As jy al ooit probeer het om jou lewe en gesondheid om te draai met die een of ander dieet, dan weet jy presies hoe dit voel om te kul. Jy weet hoe dit voel om so ver van jou doelwit te voel dat niks in die wêreld die gaping kan vul nie. Nou begin die monster van vrees in jou groei en die duiwel gebruik al jou swakpunte om jou te oortuig dat jy dit nooit sal maak nie. Ek het in ’n stadium ’n liedjie van Casting Crowns geluister waarin hulle sing dat die put waarin ons onsself gooi, nooit diep genoeg gaan wees om ons van God weg te steek nie.
So, waar laat dit ons? God het gesê Hy stuur vir ons ’n Helper. Hierdie Helper herinner ons nie net aan die waarheid nie, maar is die brug vanaf ons vrese na God se liefde en vergifnis. Die probleem is wel dat ons nie hierdie Brug vertrou nie. Dit is soos om aan ’n harnas van ’n zipline te hang en te vrees jy gaan val. In werklikheid gaan niks met jou gebeur nie, maar jou realiteit is jou vrees. Jou hele liggaam word oorheers deur die vrees en nie die geloof in die brug nie. Hoekom voel dit altyd asof die ergste met ons gaan gebeur? Hierdie gevoel gebeur wanneer ons staatmaak op ons valse vrese en nie op die brug wat die Heilige Gees vir ons bied nie. Hierdie ewige, stewige brug wat lei na ons God wat wag om jou met sy liefde en vergifnis te oorweldig!
Hou op bang wees! Lees hierdie teks en laat toe dat die Heilige Gees die leuens uitdoof en jou lei na die plek van vergifnis en liefde, onder God se vlerke.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

21 Junie 2024 – Omhelsing van hoop
Johannes 14: 15-17
Ons word elke dag gekonfronteer met uitdagings. Geweld, politiek, familie, werk en al ons verhoudings. Soms voel dit of hierdie lysie elke dag net langer word. Hierdie uitdagings kry ons onder. Dit maak ons kwaad, ons voel magteloos en gefrustreerd. Ons honger na geregtigheid groei soos ’n monster binne ons en draai ons fokus weg van die hoop, liefde en vreugde wat God elke dag so vrylik vir ons gee.
Die Heilige Gees word soms gesien as ’n gewete wat bo-oor jou hang en wag vir jou monster om uit te kom, maar die Heilige Gees is ons vriend wat langs ons stap. Sy sagte teenwoordigheid word soms met soet heuning vergelyk. Hierdie gevoel kan vergelyk word met die bymekaarkom van vriende wat mekaar jare laas gesien het, of ’n kind wat terugkom huis toe. Daardie kind wat terugkeer na sy ouerhuis, voel die oorweldigende liefde en warm omhelsing. In daardie oomblik weet hy, hy is tuis en veilig. Die Heilige Gees se teenwoordigheid maak alles reg, gee ons hoop en herstel in ons harte die leë gat. God het nie die Gees gestuur om ons te veroordeel nie. Daardie prys is reeds deur Jesus Christus betaal. God het die Heilige Gees gestuur om ons aan Jesus se waarheid en liefde te herinner. Hy is die ewigdurende dryfkrag wat ons laat opstaan en voortgaan. Hy sal ons nooit verlaat nie, en die beste is dat sy warm teenwoordigheid reg staan as ons wil breek.
Lees hierdie teks met die fokus op die Heilige Gees. Wie is die Heilige Gees? Wat sê Jesus vir ons? Die woorde van Jesus word elke dag vir ons lewend gemaak deur die Heilige Gees. Laat jouself toe om deur die Gees herinner te word, en luister hoe die Gees die woorde van Jesus Christus ook in jou lewend maak.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

20 Junie 2024 – Interne herstel
Romeine 8: 9-11
Nie een van ons maak iemand anders emosioneel seer met die uitsluitlike doel om skade te doen nie. Ons ongeduld, frustrasie, verdedigende optrede of woedeuitbarsting is nie optrede wat ons vir die dag gekies het nie, maar iets wat vloei vanuit ons eie emosionele seer. Hierdie seer kan gewortel wees in slegte verhoudings of selfs trauma. Partykeer kan hierdie seer so diep lê dat ons dink dat ons nooit daarvan sal kan herstel en genees nie. Ons het die dele van ons wat lief het, geduld het en vertrou, begrawe toe dit deur iemand anders se seer die doodshou toegedien is.
Ek wil graag voorstel dat een van die vele lense op hierdie teks interne genesing is. Dieselfde Gees wat Christus uit die dood opgewek het, woon in my en jou. Hierdie Gees van God het opwekkingskrag. Hierdie Gees kan dit wat dood en verlore is, opwek en red. Soveel van dit wat ons sien as sonde, is eintlik ’n hulpkreet om genesing en herstel te kry van die seer en ongemak wat ons elke dag beleef.
Die gawe van die Gees in ons is dat hierdie trauma, hierdie seer, kan genees. As hierdie Gees Jesus uit die dood kon opwek, kan dit vir seker ook my en jou wonderbaarlik genees van die seer in ons lewens wat ons so gereeld jaag en ons gedrag bepaal. Wat sou gebeur as ek en jy geleentheid gee vir hierdie Gees van God om die dele in ons wat liefde wys, geduld het, vrede bewerkstellig en ander seer en emosioneel gebroke mense bystaan, op te wek uit die dood? Dit gaan egter beteken dat ek en jy God moet toelaat in die stukkendste en mees gebroke dele van ons psiges en gedagtes. Ons sal die Gees moet toelaat in die plekke waar ons hierdie liefde, geduld en vertroue begrawe het.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

19 Junie 2024 – ’n Gebed namens my en jou
Romeine 8: 26-27
Dit is vir my altyd aangrypend hoe sensitief honde vir emosie kan wees. In tye toe ons huisgesin slegte nuus gekry het, is die honde al agter ons in die huis aan en op ons skote met die eerste kans wat hulle kry. In my kantoor het ons grootste vierpotige iemand gehoor huil, ingekom en haar kop heel empaties op die lidmaat se been laat rus. Was jy al so hartseer, angstig of verward dat jy nie geweet het waarvoor om te bid nie?
Hierdie is seker een van die gerusstellendste en vertroostendste tekste in die Bybel. God verwag nie van ons ’n hoë intellek of uitgebreide woordeskat in gebed nie. God vereis nie eens ons woorde nie. Die Gees is bereid om vir ons met versugtinge in te tree in ons swakheid. Dalk het jy die gawe om in tale te bid, of dalk sug jy net hard. Dit mag dalk wees dat jy nie eens weet wat om te doen, te sê of te dink nie. Ook hierin tree die Gees vir ons in. Hierdie is deel van die Gees se werk in en deur ons.
Hierdie teks is soos ’n vangnet wat my en jou verseker dat ons werklik maar net by God mag wees in ons oomblikke van groot swakheid. Dat die Gees presies weet wat ons benodig en dat God ook deeglik bewus sal wees daarvan. Dalk is dit soms goed om nie met ons woorde en gedagtes oor ons seer of rou in te meng nie, maar net toe te laat dat die Gees vir ons intree en namens ons bid tot God. Ontspan gerus in God se teenwoordigheid. Jy hoef nie al jou eendjies in ’n ry te hê voordat jy in God se arms inhardloop nie.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

18 Junie 2024 – Die stem
Johannes 16: 12-15
Een van Jesus se frases, Ek doen niks vanuit my eie nie. Alles wat Ek doen, doen Ek omdat Ek die Vader dit sien doen het, is die frase wat my nog die meeste aangryp. Jesus kom volledig as dienskneg, maar nie met sy oog op die mense soveel as op God nie. Wat Jesus doen en hoe Jesus dit doen, word alles bepaal deur die Vader en nie deur sy eie emosies of reaksies op ’n gegewe tydstip nie. Het jy al ooit gewonder hoe dit moet wees om God so na te volg? Deur die gawe van die Gees in ons elkeen het ek en jy ook daardie voorreg.
Ons verbintenis met God is ’n besonderse een. Ons word kinders genoem. Nie omdat ek en jy dit verdien nie, maar omdat ons die titel verkry het vanuit die prys wat Jesus deur genade betaal het. Maar, soos ons in die wêreld altyd reëls maak vir die uitsonderings, het ons begin neerkyk op mense wat sê: God het gesê…, want wie kan nou God se stem hoor? Te veel kere buit mense dit uit. Dan moet ons wel vra of Jesus dan nie gesê het dat sy skape sy stem ken nie? Is ons nie deel van God se kudde nie? Per definisie ken ek en jy dan ook God se stem.
Dit is so dat “God se stem” al heelwat gebruik is om mense uit te buit. Net soos wat leierskap nog elke dag gebruik word om mense uit te buit, en steeds stel ons elke dag leiers aan. God se stem in ons en deur ons word nie stil omdat iemand anders dit misbruik nie. Die Gees van die waarheid lei ons in waarheid en deel met ons wat die Vader sê. Dalk is dit nodig dat ek en jy weer leer om God se stem te onderskei en te vertrou, ten spyte van die wêreld se misbruik daarvan.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

17 Junie 2024 – ’n Deel van God in elkeen
1 Korintiërs 6: 19-20
Iemand maak eendag die opmerking dat ander se liggaam dalk ’n tempel is, maar dat sy eie liggaam meer lyk soos ’n opgeblaasde springkasteel. Op ’n meer ernstige noot is hierdie teks wat verwys na ons liggaam as tempel van die Gees juis in soveel gesprekke al misbruik om tatoeëermerke of ander gewoontes soos rook of selfs slegte eetgewoontes af te keur. Ironies genoeg kom om gaatjies in jou ore te skiet nooit in hierdie gesprekke op nie…
Die realiteit is egter dat hierdie teks iets veel meer ontsluit as om ons af te skrik van enige merke wat jy graag aan jou eie liggaam wil aanbring of ’n ongesonde gewoonte wat jy probeer afskud. Hierdie teks verklap iets van ’n stukkie van God in ons elkeen. Hierdie word, myns insiens, die basis van wanneer ons praat van die werking van die Heilige Gees, want die werking van die Gees is nie buite ons nie, maar eerder deur ons. Dit sluit my en jou fisiese liggaam in, nie net ons gebede en ons gedagtes nie, maar ook ons spiere en tendons.
In werklikheid roep hierdie teks ons op om in beweging kom. Dit roep ons op om betrokke te raak in God se koninkryk, fisies betrokke te raak – of dit beteken dat jy by ’n uitreikprogram van jou gemeente aansluit, en of dit slegs beteken dat jy vir mense wat dit nodig het fisies daar is. Sien dit dalk soos om ’n voorste sitplek te kry by die vertoning waar God mense se lewens aanraak en verander. Die vraag is net of jy bereid sal wees om aan die vertoning deel te neem wanneer die geleentheid daar is. En wanneer die geleentheid daar is, weet dat die Gees wat verandering bring reeds in jou is.
Ds Thomas Dreyer, Malelane

16 Junie 2024 – Die Gees staan ons in ons swakheid by
Romeine 8: 1-31
In die eerste gedeelte van Romeine 8 pleit Paulus weer dat gelowiges moet besef dat hulle nie meer slawe van hul sondige natuur is nie, maar lewend/nuut gemaak is deur die Gees van God. Gelowiges het die Gees van God ontvang, wat ons tot kinders van God gemaak het en wat ons tot God laat roep: Abba! Paulus sê hierdie Gees getuig saam met die Gees in ons dat ons kinders van God is. Dan hoor ons ook hierdie belofte dat ons erfgename is van God, erfgename saam met Christus, en omdat ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.
Ons kan met blye verwagting uitsien na hierdie heerlikheid. Hierdie wêreld is aan verganklikheid onderworpe. Elkeen van ons is daarvan bewus! Ons worstel elke dag met die gebrokenheid van hierdie wêreld. Die verganklikheid is sigbaar dáár waar ons self, of mense naby aan ons, worstel met siekte en dood. Net soos die skepping, sug ons ook oor die verganklikheid waaraan ons onderworpe is. Die Gees in ons wat ons as eerste gawe ontvang, pleit vir ons by God wanneer ons met hierdie “sug” voor God gaan staan. Hy tree vir ons in gebed in by God, voordat ons ons gedagtes in woorde uitgedruk het. God wat ons harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit volgens die wil van God.
Die Gees is ons Voorspraak, Trooster, Toeruster en Pleitbesorger. In hierdie gebroke wêreld is ons nie alleen nie, maar Hy is in ons. Wanneer jou woorde ontbreek omdat omstandighede jou wil oorweldig, rus met hierdie wete voor God. Hy ken jou hart. Niks kan jou van sy liefde skei nie! Onthou dat Hy jou uitverkies het en dat jy deel het aan die ewige heerlikheid wat alles by verre oortref.
Gebed
Here, om ons bly die skepping sug in die pyne van verwagting; uit die berge, bome, lug klink die krete van versmagting: Maak u aarde vry, o Heer, alles nuut, net tot U eer! Amen. (Gesang 593: 1)
Ds Manda le Roux, Weskus

15 Junie 2024 – Laat die Gees julle vervul
Efesiërs 5: 1-20
Paulus gebruik die baie bekende metafoor van lig teenoor duisternis om die Efesiërs te help om te onderskei wat reg en wat verkeerd is. Soos in Galasiërs 5, is hier ook ’n lys van dinge wat hoort by iemand wat in die duisternis leef. Hy skryf hier nie net vir die individu nie, maar ook vir ’n geloofsgemeenskap wat moet onderskei wat die wil van God is, en wat nie hoort by ’n gemeenskap van gelowiges nie.
Wat ons ook hier moet hoor, is dat wanneer die Gees in ons woon, ons lewens moet verander. Dit is dieselfde dringende woorde wat hy rig aan die gemeente in Korinte. In 1 Korintiërs 6: 19 (AFR2020) vra hy die vraag: Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?
In Efesiërs 5: 15 rig hy die waarskuwing: Wees baie versigtig hoe julle lewe – veral deur te wete te kom hoe die Here wil dat julle moet lewe. Vermy die verkeerde en laat die Gees julle vervul. Ons het die Gees nodig vir onderskeidingsvermoë en om ons vol te maak met dit wat hoort by die lig. Die Gees moet ons vorm om meer en meer die wil van God te soek en uit te voer. Die Gees moet sy vrug in ons laat groei sodat dit sigbaar kan word in ons lewens.
Ons moet vandag ook hierdie raad hoor en volg. Vermy dit wat jy weet teen die wil van die Here is. Maar dit alleen is nie goed nie. Laat die Gees jou vervul, en sing onder mekaar lofliedere en sing met jou hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Gebed
Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig.
(Gesang 308: 1)
Ds Manda le Roux, Weskus

14 Junie 2024 – Die vrug van God se Gees is in ons
Galasiërs 5: 13-26
In hierdie gedeelte stel Paulus twee verskillende lewenswyses teenoor mekaar: dit wat hoort by die ou mens, teenoor dit wat pas by iemand wat nuut gemaak is en wat hom deur die Gees laat lei. Hier lê ons geloofsverantwoordelikheid. Dit is hier waar ons geloofsgroei moet gebeur. Op verskeie plekke gebruik Paulus die voorbeeld van ophou met doen wat pas by die ou mens, en om in te oefen wat hoort by die nuwe mens. Prakties gestel: Ons moet die ou vuil klere uittrek en nuwe skoon klere aantrek. Hy gee ook hier ’n lys van dit wat deel is van iemand wat die keuse maak om hom deur sy sondige natuur te laat beheers, teenoor dit wat hoort by iemand wie se lewe deur die Gees beheers word. Hy sê hierdie praktyke staan lynreg teenoor mekaar.
Kyk weer na die lysie van die praktyke wat nie deel van jou lewe moet wees nie! Daarteenoor staan die vrug van die Gees en hierdie vrug is in ons, want God se Gees is in ons. Dit is: liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Hierdie vrug moet meer en meer sigbaar word in jou lewe. Die Bybel rig hierdie appèl op verskillende maniere aan ons: Rig jul denke op die dinge wat daarbo is. Laat God julle verander deur jul denke te vernuwe. Laat julle heeltemal vervul word met die Heilige Gees.
Dit vra van ons dat die ou mens moet sterf en agter ons moet lê. Dit vra van jou prysgawe en oorgawe aan God. Dalk om minder jy (ego) te wees, sodat God se Gees meer sigbaar kan word.
Bid dat God vir jou onderskeidingsvermoë sal gee, sodat jy kan sien waar om te verander. Bestudeer God se Woord om sy wil vir jou lewe te soek. Uit eie krag kan ons ook nie alles verander nie, maar met God se Gees wat ons versterk en dra, kan ons in die geloof meer en meer word wat Hy van ons vra.
Ds Manda le Roux, Weskus

13 Junie 2024 – God in ons en ons in Hom
1 Johannes 4: 7-21
Ons lees in verse 13-15: Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. … Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. Dit is duidelik uit God se Woord dat Hy in ons is en ons in Hom wanneer ons hierdie belydenis maak.
Johannes sê dat God sy liefde aan ons kom wys het deur die kruisdood van Jesus Christus. Dit is hoe werklike liefde lyk. Nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy vir ons het! Daarom roep die apostel van die liefde die lesers van sy brief op om ook hierdie liefde te gaan uitleef. Liefde is die toets of jy kennis van God en sy liefde het. Hy sê: God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hierdie liefde moet sigbaar word in jou verhoudings en jou manier van leef. Wanneer jy nie liefhet nie, het jy geen kennis van God nie. Paulus beskryf liefde as die gawe wat ewigheidswaarde het en die gawe wat al die ander gawes oortref, want daarsonder is hulle betekenisloos.
In 1 Johannes 2: 6 sê Johannes: Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. Jesus kom wys hoe God se liefde lyk. Hy verkondig dit, maar Hy leef dit ook uit. Hy wys dit ook aan hulle wat in hul samelewing verstoot is en wat met minagting behandel is. Uit liefde is Hy tot in die dood gehoorsaam aan God se wil. Hierdie gedeelte in 1 Johannes roep ons op om ook ons lewens te ondersoek en te meet aan die liefdesgebod. Laat Hy deur jou liefde sigbaar word.
Gebed
O Heer, help my om lief te hê – ander bo myself. Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien. Amen. (Gesang 284)
Ds Manda le Roux, Weskus

12 Junie 2024 – Deur die werking van die Gees
1 Korintiërs 12: 1-11
Paulus begin hierdie hoofstuk wat handel oor die gawes wat die Gees gee, met die opmerking wat ons op meer as een plek in die Woord lees: Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die werking van die Gees. Dit is hierdie Gees wat verskillende gawes aan elkeen afsonderlik gee.
Wanneer Jesus in Matteus 16: 15 vir sy dissipels vra wie hulle sê Hy is, doen Petrus die belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Dan sê Jesus dat hierdie belydenis nie deur ’n mens aan hom geopenbaar is nie, maar deur sy Vader wat in die hemel is.
Deur die werking van die Gees het jy seker ook hierdie belydenis gemaak. Saam met hierdie kragtige belydenis, kom ook die verantwoordelikheid om verder te getuig. Die Gees wat verskeie gawes uitdeel soos wat Hy wil, gee ook aan ons die krag om te getuig.
Net voor Jesus se hemelvaart sê Hy aan sy dissipels dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle sal kom en dat hulle sy getuies sal wees tot in die uithoeke van die wêreld. Dan lees ons in Handelinge 5 dat die apostels, nadat hulle deur ’n engel uit die tronk bevry is, voor die raad en leiers van die volk met krag getuig dat Jesus opgestaan het uit die dood. In vers 32 antwoord hulle dat hulle getuies hiervan is, hulle en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is. Deur hul getuienis het die Woord verder versprei en die getal gelowiges het geweldig toegeneem.
Reg deur die Woord lees ons dat mense belydenisse doen en getuienisse lewer deur die werking van God se Gees. Dawid sê in 2 Samuel 23: 2 (AFR2020): Die Gees van die Here spreek deur my, sy woord is op my tong. Die Gees versterk ons om te bely en te getuig. Bestudeer God se Woord sodat jy sy stem sal kan onderskei en sal getuig met krag.
Ds Manda le Roux, Weskus

11 Junie 2024 – Die Gees van waarheid lei ons in die hele waarheid
Johannes 16: 1-15
Nadat Jesus vir sy dissipels aan die begin van hoofstuk 14 gesê het dat hulle nie ontsteld moet wees oor sy weggaan nie, sê Hy in hoofstuk 16 vir hulle dat dit tot hul voordeel is dat Hy weggaan. Omdat Hy weggaan, gaan Hy die Voorspraak, die Heilige Gees, na hulle toe stuur. Hul droefheid sal in blydskap verander. Die Gees van die waarheid gaan hulle onderrig oor die hele waarheid. Deur die getuienis van die Gees sal die wêreld kan sien hoe sondig die wêreld is en dat die reg aan Jesus se kant is. Sonder die Gees, sê Jesus, is hulle nie in staat om ten volle te verstaan wat Hy alles vir hulle wil sê nie. Jesus leer hier dat die Gees oor Hom kom getuig en Hom kom verheerlik.
Dit is wat ons bely oor die Gees van God. Alleen deur sy werking kan ons tot die belydenis kom dat Jesus die Here is. Hy wek en versterk ons geloof. Omdat Hy die Gees van die waarheid is, en in ons is, lei Hy ons ook om te onderskei wat die waarheid is. In 1 Johannes 2: 20 sê Johannes vir sy lesers (gelowiges/kinders van God) dat hulle met die Gees gesalf is en daarom die waarheid ken. Die waarheid hier handel oor die belydenis dat Jesus werklik die Christus is. Die skrywer sê dan in vers 27 dat hulle niemand anders nodig het om hulle te leer nie, want dit wat hierdie Gees leer, is die volle waarheid.
Die Gees werk deur die Woord van God en salf ons met kennis en waarheid. Natuurlik sal ons nooit die volle werking van God kan verstaan nie, want ons menslike verstand kan nie die grootheid van God bedink nie, maar ons het hierdie kennis: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hė.
Dit is die hele waarheid wat sy Gees in jou hart geskryf het.
Ds Manda le Roux, Weskus

10 Junie 2024 – In hierdie donker wêreld is ons nie weeskinders nie
Johannes 14: 15-31
Jesus begin hierdie gesprek met sy dissipels in hoofstuk 14 met die woorde: Julle moet nie onsteld wees nie (vers 1). Hy het sy volgelinge so goed geken en Hy weet wat die impak van sy weggaan op hulle gaan wees. Wanneer ons hul vrae lees, sien ons iets van hul onbegrip. Hulle verstaan reeds nie hoekom Hy moet weggaan nie, hoe sou hulle die “weg”daarheen kan ken? Vir drie jaar volg hulle Hom. Hulle sien waartoe Hy by magte was om te kan doen en hulle het aandagtig geluister na sy prediking. Nou praat Hy van weggaan. Natuurlik was hulle onsteld, bang en onseker! Jesus weet dit, en sy gesprek met hulle is vol troos en beloftes: Hy gaan om plek gereed te maak. Hy stuur vir hulle ’n ander Voorspraak wat vir ewig by hulle sal wees. Hy sal hulle nie as weeskinders agterlaat nie. Hy lewe en hulle sal lewe. Sy vrede sal by hulle wees! Hulle moes hierdie versekering in hul omstandighede hoor en daaraan vashou.
Ons lees van die intieme band wat daar tussen Jesus, sy Vader en die Gees is. Jesus sê vir Filippus: Wie My sien, sien die Vader (vers 9). Hy sê ook wie Hom liefhet, sal sy woorde ter harte neem, en die Vader sal Hom ook liefhê en “Ons” sal na hom toe kom en by hom woon, Hy sal hulle nie as weeskinders agterlaat nie, hulle sal God se teenwoordigheid op ’n ander, duidelike manier beleef. Die gedeelte beskryf hoe groot God se ontfermende liefde vir sy kinders is. Hy los hulle nooit alleen nie. Deur sy Gees is Hy in hulle en hulle in Hom.
Vandag kan ons as gelowiges ook aan hierdie beloftes vashou. Wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan en worstel met verskeie vrae en onsekerheid, staan hierdie belofte vas: Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos weeskinders sonder ’n vader nie. Hy is in ons en ons in Hom. Sy ontfermende liefde sal ons altyd omsluit – in lewe en in sterwe. Hou daaraan vas.
Ds Manda le Roux, Weskus

9 Junie 2024 – Ons is nooit alleen
Psalm 143: 10
Hoeveel keer het jy al by ’n kruispad in die lewe gekom en gewonder waarheen nou? Of hoeveel keer was jy al in ’n situasie en het jy gewonder wat die regte ding is om te doen? Ons het sekerlik almal al soos die Psalmdigter van Psalm 143:10 vir God gevra: Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ’n gelyk pad lei.
Dit is een van die voorregte van om ’n kind van God te wees. Om deur God self geleer te word. Nie deur ’n leermeester of ’n aanlyn kursus nie, maar deur God self. Hy wil ons leer, Hy wil ons op die regte pad lei, want God weet waarmee Hy in elkeen van ons se lewe besig is. Hy weet wat Hy vir ons beplan het. Daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om ons te help.
Dit is God se geskenk aan ons – ons is nooit alleen nie. Ons hoef nie alleen deur moeilike tye te gaan of hartseer op ons eie te verwerk nie. Ons hoef nie in ’n konfliksituasie bang te wees nie, ook nie wanneer dit met ons moeilik of swaar gaan nie, want ons is nooit alleen nie.
Ons weet tog al hierdie dinge, maar vergeet dit soms en moet voortdurend daaraan herinner word. Wanneer daar weer ’n kruispad is of wanneer hartseer jou oorweldig of konflik jou bang maak, weet dat jy altyd Iemand aan jou sy het. Iemand wat jou daardeur sal help en lei.
Gebed
Here ons God, soms voel ons alleen. Mense verstaan nie ons swaarkry of hartseer nie. Vandag herinner U ons dat U altyd daar is. Leer ons, Heer, om u wil te doen, want U is my God! Laat u Gees ons op ’n gelykpad lei. Ons vra dit so onverdiend, maar alleen uit genade. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

8 Junie 2024 – God skryf in ons harte
Jeremia 31: 31-34:
Ons is baie keer skrikkerig, of dalk is huiwerig ’n beter woord om te gebruik, wanneer ons oor die Heilige Gees praat. Miskien is die ongemak deels omdat ons nie regtig die werking van die Heilige Gees ten volle verstaan nie, en andersyds omdat ons nie die Heilige Gees kan sien nie. Maar hierdie dinge verhinder glad nie die werking van die Gees of ons ervaring van die Gees nie.
Reeds in die Ou Testament was daar profete wat geweet het God gaan op ’n wonderlike manier ingryp in die mens se lewe – ook ons lewe. Ons sal nie meer onderworpe wees aan die wet wat op twee kliptafels geskrywe staan nie, maar aan die nuwe verbond van God. ’n Nuwe verbond wat deur God self in ons harte geskryf is en in ons gedagtes vasgelê word deur God self.
Maar hoe sou God in ons harte skryf? Met dieselfde hand wat ons lei, met dieselfde hand wat ons beskerm, met dieselfde hand wat ons troos, aanmoedig en bemoedig. Daardie hand is die Heilige Gees.
Daardie nuwe verbond wat in ons harte geskrywe is, is nie meer reëls en wette wat ons moet navolg nie, maar dit word deel van ons karakter omdat die grootste gebod liefde is. Liefde vir God, liefde vir onsself en liefde vir ons naaste. Wanneer ons hierdie liefde nastreef, leef ons – sonder dat ons dit agterkom – die ou verbond uit. Maar geliefdes, ons kan net hierdie hartsverandering ondergaan, ’n nuwe mens word, wanneer ons die Heilige Gees in ons harte toelaat.
Gebed
Here, dankie vir u teenwoordigheid in my lewe en al u liefde en genade wat ek so onverdiend ontvang. Lei ons deur u Gees om gehoorsame kinders te wees sodat U u doel volkome met ons kan bereik. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

7 Junie 2024 – Vernuwe deur die Gees
2 Korintiërs 3: 17-18
Die woord vryheid het deel geword van ons alledaagse woordeskat. Ons wil glo dat ons vry is, maar waarom lê die lyne van bekommernis so duidelik op ons gesigte geëts, hoekom is daar soveel skouers vooroor gebuig, en waar is die glinster in die oog heen?
Dit is tog met groot sekerheid dat ons kan sê dat elke gelowige ’n bevryde mens is. Daarom ken gelowiges – ons – die heerlikheid van God, want ons ervaar dit in ons eie lewe. Die sonde wat skeiding tussen ons en God gebring het, is versoen deur Jesus se bloed aan die kruis. Ons beleef God se genade en liefde daagliks. Wanneer ons die heerlikheid van God raaksien, werk die Heilige Gees in ons en vernuwe ons sodat ons daardie heerlikheid ook kan uitstraal. Die Heilige Gees vernuwe ons sodat al meer van Christus in ons sigbaar word.
Gelowiges het inderdaad rede om ons vryheid te vier. Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar waarom laat ons toe dat ons slawe van hierdie wêreld word? Waarom maak ons skatte hier bymekaar waar mot en roes dit verniel? Waarom laat ons toe dat hierdie wêreld ons lewensvreugde steel met haar soeke na geluk, sukses en voorspoed, terwyl ons dit alles reeds in Jesus Christus het?
Sien ander raak dat ons inderdaad vry is wanneer hulle na ons kyk, smag hulle ook om soos ons vry te wees en toe te laat dat die Heilige Gees hulle vernuwe?
Gebed
Here, ons dra almal ’n stuk bekommernis met ons saam; ons het elkeen ’n soeke na meer. In hierdie soeke, Here, raak ons baie keer verlore in die wêreld se dinge, en gaan u heerlikheid en teenwoordigheid ongesiens by ons verby. Vergewe ons, Here, en help ons om soos bevrydes te leef. Mense sonder die juk van sonde, die las van skuldgevoel, maar u bevryde kinders. Vernuwe en lei ons deur u Gees om waarlik u boodskappers te wees. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

6 Junie 2024 – Hoor ons sug
Romeine 8: 22-23
Het jy al opgelet hoeveel keer ’n dag jy sug? Watter woorde lê verskuil agter daardie sug? Is dit ’n sug van moedeloosheid of bekommernis wat so swaar op jou skouers rus? Of kan dit ook ’n sug van verligting wees? Baie mense meen, indien jy ’n Christen is, word jy gevrywaar van alle seerkry en swaarkry in die lewe. Tog is ’n kind van God se lewe ook vol swaarkry, en daarom sug ons baie keer.
Dit is egter nie net ons wat sug nie. Die skepping, medegelowiges en die Heilige Gees sug saam met ons. Ken jy dié uitdrukking? Waar daardie sug val, groei niks weer nie? Dit is nie waar nie, want elke sug wat ons gee, word gehoor en verhoor. Met die Heilige Gees wat in ons woon, kan God nie anders nie as om te hoor wanneer ons sug. Selfs daardie sugte wat ons nie in woorde kan beskryf nie, hoor God.
Die Heilige Gees hoor egter nie net ons gesug nie. Hy bring ons sugte na die Vader toe en pleit vir ons by God, en so word God bewus van ons swaarkry, seerkry en bekommernisse sonder dat ons dit sê.
Hierin lê vir ons nie net hoop nie, maar ook ’n stuk vertroosting. Vertroosting dat God sien en hoor wat in ons harte omgaan en wat ons werklike behoeftes is. Hoewel God nie altyd gee wat ons begeer nie, gee Hy wat ons nodig het. Voorsien Hy ons daaglikse brood.
Ons hoop is gewortel in die wete dat ons swaarkry en gebrokenheid net tydelik is, want God gaan sy kinders van die gebrokenheid van hierdie wêreld bevry wanneer Hy ons liggame eendag opwek en lewend maak. Hierdie verwagting is nie maar net ’n vae moontlikheid nie, maar ’n sekerheid vir elkeen wat bely dat Christus die Here is.
As ons weer sug, laat ons mooi dink oor wat ons eintlik met die sug wil sê: Dankie, Here, vir die hoop wat in ons harte leef; of verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

5 Junie 2024 – Kies die lewe
Galasiërs 5: 13-26
In die teks word gepraat oor die baie bekende vrug van die Gees. Anders gestel, die karaktereienskappe van ’n Christen. Wanneer die vrug van die Gees deel is van ons daaglikse lewe, is ons onbewustelik besig om die wet van Christus te onderhou. Deur liefde, geduld, nederigheid, nie grootpraterig te wees nie, is ons besig om goed aan ander te doen sonder dat ons dit agterkom, juis omdat dit ’n leefstyl geword het.
Deur die vrug van die Gees uit te leef, is nie te sê dat ons volmaak leef nie, maar eerder om ’n bewuste keuse te maak. ’n Keuse teen die sonde en ’n keuse om jou lewe deur die Heilige Gees te laat lei. Dit is juis hierdie eienskappe wat ons onderskei van die res van die wêreld. Die spreekwoord lui nie verniet nie: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
Ongelukkig gebeur dit dat ons soms toelaat dat ons lewe steeds onder beheer van ons sondige natuur staan. Dan word ons beheer deur afgodsdiens, vyandskap, haat, woede, rusie en skeuring – om maar net ’n paar te noem. Ons kan nie hierdie begeertes ignoreer of wegwens nie, omdat dit deel is van ons natuur.
Ons kan wel besluit om ’n lewe te leef wat deur die Gees beheer word – ons maak doelbewus ’n keuse om die praktyke van die sondige natuur te vermy. Dit is alleen moontlik wanneer ons daagliks vra vir God se leiding in ons lewe, deur die Heilige Gees.
Gebed
Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer. Gees van God wat lewend maak, vorm my tot u eer. Troos my, sterk my, leer my, lei my. Gees van God, vul my al meer – vorm my tot u eer (Ges 442: 2).
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

4 Junie 2024 – Kinders van God
Romeine 8: 12-17
Ons as gelowiges verwys gereeld na onsself as kinders van God, want ons is dit ook. Om God se kinders te wees, is ook ’n belydenis waarmee ons sê dat ons deur die Heilige Gees gelei word. Dit is immers die Heilige Gees wat ons tot kind van God maak.
Sien, die Heilige Gees skenk aan ons geloof, maar werk ook in ons en maak ons oë oop vir die verlossing wat God ons skenk. Dit is die Heilige Gees wat ons oortuig dat Christus ons, deur sy kruisiging en opstanding, sy kinders maak. Die Heilige Gees is Vader en Seun nie net by ons nie, maar ook in ons.
Tog is dit belangrik om gedurig te vra of ons handel en wandel ooreenstem met dit wat ons bely. Laat ons werklik toe dat die Heilige Gees ons lei? Dink en leef ons soos ’n kind van God? Met ander woorde: Beskik ons oor die geestelike wysheid om na die wil van God te vra? Word ons lewe gekenmerk deur nederigheid en diensbaarheid en word ons denke deur dankbaarheid gerig?
God se kinders behoort diensbaar te leef uit dankbaarheid en erkentlikheid vir God se liefde en genade in ons lewe. Ons hoef nie meer bang te wees vir straf en oordeel nie, want ons is bevry van wette wat ons slaafs moet volg om ons verlossing te verdien. Jesus Christus het ons vrygekoop aan die kruis. Ons is sy kinders alleen uit genade, maar is dít wat die wêreld raaksien wanneer hulle na ons kyk?
Mag die woorde van Gesang 440: 4 waar wees van ons lewe: Wie hul laat lei deur God se Gees, leer iets van Christen-wees – Hy leer ons bid, getuig en dien en liefhê sonder vrees.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

3 Junie 2024 – Die Heilige Gees in ons
Titus 3: 1-7
Die wêreld om ons verander vinnig en as ons iets geleer het die afgelope paar jaar, is dit hoe aanpasbaar ons is. Hoe ons saam met omstandighede verander en die nodige aanpassings maak. Tog is daar ’n deel van ons wat moeilik verander: ons geloofslewe. Ons leer vinnig om dinge op ’n ander manier te doen, maar waarom sukkel ons dan so om in ons geloof anders te dink en doen?
Uit Titus is dit duidelik dat dit nie net ons is wat met hierdie verandering sukkel nie, maar ook die gelowiges op Kreta. Hierdie jong gelowiges het leiding nodig gehad sodat hulle nie weer terugkeer na die lewe voor hul bekering nie.
Daarom dat Paulus met die woord herinner begin. Eers moet ons onthou wie ons eens was en dat die sondes van ander nie so ver van ons is soos ons graag wil glo nie. Ons was – en is soms steeds – kwaadpraterig, ongehoorsaam, kwaadwillig, jaloers en haatlik teenoor ander. Tog het God ons steeds lief. God verlos ons nie op grond van dit wat ons doen of nie doen nie, maar alleen deur genade.
Saam met die nuwe lewe wat Hy ons gee, het ons ook die Heilige Gees ontvang om ons aan te moedig, om ons krag, vreugde en vrede te gee en ons toe te rus met sy gawes. Met ons nuwe lewe en die Heilige Gees in ons, het ons geen rede tot grootpratery nie. Ons kan ook nie op onsself roem nie, want sonder God se genade sou ’n nuwe lewe nie moontlik gewees het nie. Daarom kan ons nie anders nie as om dankbaar, nederig en vriendelik te wees.
Daarom behoort Christene op ’n geloofwaardige manier God se genade in hierdie deurmekaar wêreld sigbaar te maak. Dit kan ons alleen doen wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lei.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

2 Junie 2024 – Aan tafel vir mekaar
Matteus 26: 26-35
Die bekende prediker Fred Craddock vertel ’n verhaal waarmee hy Nagmaal op ’n aangrypende wyse beskryf. Hy vertel hoe hy eenkeer in Kanada ’n lesing moes aanbied. Die koue het hulle daardie jaar onverwags betrap. Die sneeu was so erg dat die organiseerder hom laat weet het dat die seminaar afgestel is, maar net so om die draai van die hotel waar hy gebly het, was daar ’n restaurant wat oop was. Hy kan onthou dat hy glad nie voorbereid was vir die vreeslike koue nie. Hy het gesukkel om die hoteldeur oop te kry as gevolg van die sneeu. Net verby die bushalte af in die straat het hy die plekkie gekry wat nog oop was.
Toe hy instap, kon hy omtrent iemand van elke nasie sien. Al die rasse en tale was verteenwoordig. Hy het gelukkig in die besige plekkie ’n oop stoel gekry en gaan sit. ’n Kelner het nadergestaan. Wat gaan dit wees? Ons het net sop! het hy geblaf. Watter sop? vra Craddock. Sop, sop, het die kelner hom weer toegesnou. Dan is dit goed dat ek lus is vir sop. Craddock het geglimlag. ’n Rukkie later het die kelner sy sop gebring. Craddock sê hy het so afgekyk na die sop en hy kon nie bepaal watter tipe sop dit was nie. Dit was so ’n grys mengsel, en dit het nie na iets geruik nie, maar dit was goed genoeg om sy hande warm te maak.
Hy hoor die deur oopgaan en hy sien ’n meisie van die straat af inkom. Sy moes al ’n geruime tydjie op straat gewees het. Sy het gaan sit en die kelner het nadergestaan. Wat gaan dit wees? Sy antwoord: ’n Glas water, asseblief. Hy dring aan: Wat gaan jy eet? Sy sê: Net ’n glas water, asseblief. Ek het nie geld vir iets anders nie. Waarop hy toe reageer: As jy nie iets gaan eet nie, kan jy nie bly nie, daar is baie betalende kliënte.
Craddock vertel: So asof dit ingeoefen is, staan die hele restaurant se mense op, hy sê hy ook, hy weet nie hoekom nie, maar hy ook. En soos een man beweeg hulle na die deur. Ok! Ok! sê die kelner, ek sal vir haar sop bring… Nadat almal gaan sit het, vertel Craddock, het hy weer na sy sop gekyk. Iets was anders… dit het heerlik geruik! En het kleur gehad! En toe hy dit proe, smaak dit wonderlik, dit het vir hom amper soos wyn en brood geproe!
Dr Hein Delport, Swartkop

1 Junie 2024 – Wees ’n getuie
Handelinge 1: 1-8
Ek kan nie nou onthou wie my vertel het nie, maar dit het my hare regop laat staan. Sy vertel dat haar boetie nie meer kerk toe gaan nie en ook nie meer in God glo nie. Hoekom nie? Want toe hy op universiteit was, het hy by ’n dominee geloseer, en die dominee en sy vrou het verskriklik baklei. Hy het daar gesien hoe God se kinders optree.
Ongelukkig is dit so – mense leer Jesus en die kerk ken deur ons. Ons word geroep om getuies te wees. Dit is die opdrag in Handelinge 1: 8. Iemand het eenkeer gesê daar is vyf Evangelies: Matteus, Markus, Lukas, Johannes, en dan die een wat jy besig is om te skryf met jou lewe. Hoe lyk die Evangelie van Jesus Christus volgens my lewe?
Dr Ford vertel ’n verhaal van ’n verpleegster wat deur haar lewe letterlik honderde mense tot geloof gebring het in die hospitaalsaal waar sy altyd gewerk het. Eenkeer het iemand haar gevra om haar verhaal as ’n suster te vertel. Ek is nie ’n verpleegster nie, het sy geantwoord. Hoe dan nou? Jy het jou lewe lank in die hospitaal gewerk en altyd ander versorg. Nee, nee, jy het verkeerd verstaan, sê sy. Ek is nie ’n verpleegster nie, eerder ’n Christen vermom as ’n verpleegster. Jy sien, sy het haar prioriteite reg gehad. Ons is niks meer as dit nie! Ons is Christene vermom as onderwysers, prokureurs, dokters, verkoopsmense. As kinders is ons gedoop, maar intussen is ons volgemaak met die Heilige Gees.
Dalk is dit hoekom dit partykeer so moeilik is om ’n getuie te wees. In Handelinge 1: 6 en 7 was die dissipels soos in die verlede weer begaan oor ander dinge. Maar Jesus kom en trek ’n streep deur hierdie denke en sê vir hulle eenvoudig: Wees net ’n getuie! Dalk moet ons eerder vra hoe kan ek ’n getuie wees vir Christus? Dit begin nie noodwendig by die uithoeke van die wêreld nie. Dit is waar ons eindig. Begin vandag deur net ’n getuie te wees vir die mense rondom jou.
Dr Hein Delport, Swartkop

31 Mei 2024 – Die Gees – meer as ’n krag
Johannes 14: 15-31 (AFR2020)
Mense maak soms die fout om die Heilige Gees net as ’n mag of ’n krag te beskryf. Paulus skryf aan die Heilige Gees ’n verlossingswerk of karakter toe. Hy praat van die Gees wat skoonmaak en reinig. Ook weer karaktertrekke soos wat ons sou vind by ’n mens. Ook in die sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus, Lukas) word verwys na die profetiese karakter van die Gees.
Iemand skryf dat die grootste geskenk wat ’n gemeente kan ontvang, nie die krag van die Heilige Gees is nie, maar die Heilige Gees as Persoon. Die Heilige Gees is nie net ’n mag of ’n krag nie. En dit is wat die belofte van Jesus hier in Johannes 14 so besonders maak. Nêrens anders word die Heilige Gees beskryf soos Johannes die Gees beskryf in hoofstuk 14-16 en ook in 1 Johannes nie. Hier word die Heilige Gees nie as ’n mag beskryf nie, maar as ’n Persoon. Ek wil nie hê dat my kind slegs ’n baadjie aanhet nie, ek soek iemand wat my plek kan inneem as ek nie daar kan wees nie. Iemand in persoon teenwoordig!
Net vyf keer kom hierdie beskrywing in die Bybel na vore, en dit word net deur Johannes so beskryf. Parakleitos direk vertaal beteken “geroep om langs jou te staan en te help”. Met ander woorde, geroep om bystand te verleen. Party vertalings vertaal dit met Advokaat, ander met Trooster, en ander selfs Helper.
Die beloftes wat die Here vir ons gee, neem ons terug na hierdie dag – die dag toe die Here vir die dissipels gesê het julle sal nie weeskinders wees nie. En hierin lê die belofte opgesluit: Ek stuur nie net die mag van God nie, maar God self. In 1 Johannes beskryf Johannes vir Jesus as die Parakleet. En in Johannes 14: 16 praat Johannes van die allon parakleiton, die ander Parakleet. God is by ons! Die Gees van die Here is meer as net ’n krag! Dit is God self.
Dr Hein Delport, Swartkop

30 Mei 2024 – ’n Reflector-baadjie
Lukas 24: 49
Ons vind die dissipels baie bekommerd in hierdie gedeelte. Seker ook met reg, aangesien Jesus aankondig dat Hy nie meer by hulle gaan wees nie. Jesus praat oor hul vrese, met die belofte van die Heilige Gees.
Eenkeer het ’n gesin in ons gemeente geëmigreer na Switserland. Die ma was swanger met ’n tweeling, en haar man het reeds begin werk. Sy was bekommerd oor haar agtjarige dogtertjie. Die agentskap wat hul sake vir hulle gereël het, het haar die versekering gegee dat sy nie bekommerd hoef te wees nie. Maar wat as sy skool toe moet gaan? het die ma gevra. Nee wat, dit is nie ’n probleem nie, het die dame wat hulle gehelp het geantwoord. Ons reël ’n reflector-baadjie vir haar. ’n Reflector-baadjie? vra die ma onseker. Ja, in Switserland werk dit so: As iemand sien dat ’n kind met so ’n baadjie op die vervoerstelsel (die Trem) klim of na die skool toe stap, beteken dit die kind is sonder toesig en dat jy na die kind moet kyk asof dit jou eie kind is.
In Lukas 24 word die Heilige Gees op ’n soortgelyke wyse beskryf: dat die dissipels met die krag van die Heilige Gees toegerus sal word, aangetrek sal word. Die dissipels van Jesus ontvang die nabyheid van die Gees van die Here. Ons sal nooit alleen wees nie.
Wat is die belofte hier? Die Here sê: Ek sal in Persoon by jou wees. Nie net sal Ek by jou wees nie, maar die Doop dien as ’n reflector-baadjie om jou te herinner dat jy nooit alleen sal wees nie. Daar sal altyd ’n geloofsgemeenskap wees om jou by te staan en, nog meer, ’n fisiese Persoon in die Heilige Gees.
Wanneer die onsekerheid van die wêreld of die bekommernis oor eensaamheid ons soms oorweldig, kan ons vashou aan die idee dat die Gees van die Here ons omvou met sy teenwoordigheid. Luister weer na hierdie belofte van Jesus: En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur.
Dr Hein Delport, Swartkop

29 Mei 2024 – Eet saam!
Handelinge 2: 43-47
Lukas stel hier in sy eie tyd ’n model van die kerk voor. Die tyd is Pinkster! ’n Fees wat nie net die vroëe oes vier nie, maar ook God se openbaring aan die volk op die berg Sinai. Die apostels het gepreek, getuig van die opstanding en die kruisiging van Jesus. Ons hoor die boublokke: evangelisasie, volgelingskap, rentmeesterskap, lofprysing. Lukas voeg by dat hulle van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou het. Dit is amper asof die skrywer homself onderbreek in die middel van die ekklesiologiese kenmerke om te sê dat die mense in die kerk ook moes eet.
As iemand vandag vir my sou vra om ’n eenvoudige prentjie te teken van die kerk, sou ek waarskynlik ’n vierkantjie geteken het met ’n driehoek en ’n kruis bo-op. Maar wanneer Lukas die kerk teken, teken hy ’n kostafel. Meer nog, Jesus by die tafel. Jesus het so baie mense tydens die maaltyd geleer oor die kerk.
In die huis van Maria en Marta, so tussendeur die geklingel van potte en panne, het Hy oor die koninkryk gepraat. Toe hy eenkeer ’n gas was in ’n huis, het Hy die res van die gaste gewaarsku om nie aan die hoof van die tafel te wil sit nie. In ’n stadium was Hy by ’n feesmaal en het Hy die ander geleer watter tipe gaste hulle moet nooi. Hy het vertel van die feesmaal van die verlore seun. Tydens ’n maaltyd saam met sy vriende het Hy vertel van sy dood wat sou kom. Selfs na Jesus se dood het Jesus verskyn aan twee mense op pad na Emmaus. Dit was met die maaltyd dat hulle vir Jesus herken het.
Hoekom is dit vir Lukas so belangrik om die prentjie te teken van die kerk met die kerk wat alweer aan tafel sit? Want vir Lukas was die deel van kos die basiese definisie van wat dit beteken om kerk te wees. Wat is op die spel hier? Alles, volgens Lukas. Ons kan nie afgesonderd eet nie. Ons kan nie eenkant by ’n ander tafel eet nie. Dit is dan dat jy die kerk begin vernietig. Die kerk is ’n groep mense wat saam kan eet. Dit is waar die kerk bestaan!
Dr Hein Delport, Swartkop

28 Mei 2024 – ’n Lewensasem
Johannes 20: 19-23:
Het jy geweet dat daar in die Bybel twee vertellings van Pinkster is? Die bekende en amper oorverdowende verhaal in Handelinge 2 waar die Heilige Gees uitgestort word – Lukas se beskrywing in Handelinge is gebaseer op die vertelling in Eksodus 20. En dan vind ons die vertelling in Johannes 20 – dalk amper nog ’n groter en meer oorverdowende narratief as die een met vuur en rukwinde en aardbewings in Handelinge.
Die Johannes-vertelling van die Pinksterfeesviering was nogal stil. Johannes wou nie die bure pla nie, skryf ’n geleerde. Dit was in ’n huis in Jerusalem. Sommige van die dissipels was daar. Jesus is gekruisig en het gesterf, en nou is Hy weer lewendig. Die deur is gesluit. En die dissipels het onmiddellik bang geword, word daar vertel. Wat gaan van ons word? Alhoewel die deur nie oopgemaak is nie, was Jesus ewe skielilk daar. Vrede vir julle! En hulle kon nie eens ’n oog knip nie. Hulle was nie seker wie hier voor hulle was nie. Dan wys Jesus vir hulle sy hande se spykerwonde en die sy waar die spies deurboor het. Hulle herken Hom en hulle is bly: Dit is die Here! Jesus sê weer: Vrede vir julle! Dié keer is sy groet vir hulle ’n belangrike seën: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.
Dan gebeur iets eienaardig: Jesus blaas oor hulle. Dit is nie ’n natuurfrats of ’n rukwind nie, maar ’n menslike asemteug. ’n Menslike geblaas: Ontvang die Heilige Gees! Hierdie was óók Pinkster, maar in plaas daarvan om dit te beskryf teen die agtergrond van Eksodus 20, beskryf Johannes dit teen die agtergrond van Genesis 2: 7 – ’n nuwe skepping, ’n lewensasem.
Hulle was ’n deurmekaar spulletjie, maar Jesus het oor hulle geblaas en gesê: Ontvang die Heilige Gees! En hierdie bondetjie het kerk geword. Hulle het kerk geword wat God loof en prys en uitgaan en ander mense dien. Die wêreld kan na ons kyk en vra, wie is hierdie mense? Ons is mense oor wie God geblaas het. Die kerk ontvang die lewensasem van God.
Dr Hein Delport, Swartkop

27 Mei 2024 – Hoe weet ek my geloof is rêrig?
Handelinge 27: 18-38
Die Engelse skrywer AN Wilson beskryf die mensdom se soektog na God as the biggest wild-goose chase in history. ’n Tiener sê ’n ruk gelede vir my amper dieselfde ding: As ek net kon weet dat God rêrig is, sou die kerk en al die goed vir my reg gewees het, sê hy. Maar God was nog nooit vir my rêrig nie. Hoe weet julle God is rêrig? wil hy weet.
Ons reken gewoonlik dat ons bevestiging van die egtheid van ons geloof sal kry in oomblikke wanneer ons intens bewus word van God se nabyheid en grootheid. Maar dalk is die omgekeerde waar: Die egtheid van ons geloof het meer te doen met tye van verwarring. Ons ontdek hoe eg ons geloof is midde-in chaos en krisisse in ons lewe, wanneer ons wonder bo wonder beleef: My geloof hou.
In Handelinge 27 sien ons hierdie soort geloof in aksie. Ons lees van ’n skip wat uitvaar op die oop see. Dis ’n gevaarlike tyd om uit te vaar, maar hulle waag dit, want die wind waai reg. Dan, lees ons, bars die storm los. Die skip dreig om uitmekaar te breek. Die matrose probeer hul paniekerige bes om die skip te red. Eers gooi hulle vrag oorboord, dan die takelwerk. Niks help nie. Uiteindelik gooi hulle alle hoop ook oorboord. Dit lyk vir hulle of daar geen kans is dat hulle die storm sal oorleef nie.
God antwoord, nie deur die storm weg te neem nie, maar deur ’n woord van hoop wat Paulus met sy reisgenote kon deel: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. En ’n bietjie later sê Paulus: Ek glo vir God… Wanneer Paulus die daad by die woord voeg, is sy daad van hoop verskriklik eenvoudig: Hy dank God vir ’n stukkie brood, breek dit en begin eet, en gee vir almal om saam met hom te eet. Met sy gebed en sy brood getuig Paulus dat hy hoop op uitkoms, op die toekoms wat God belowe het.
Dit is rêrige geloof in ’n God wat rêrig is.
Dr Hein Delport, Swartkop

26 Mei 2024 – Drie-eenheid Sondag
Efesiërs 3: 14-21
Die leer van die Drie-eenheid word nie altyd verstaan nie. ’n Goeie beeld om te gebruik om dit te verduidelik, is deur te dink aan ’n man. By die huis is hierdie man ’n liefdevolle vader. By die werk is dieselfde man ’n pligsgetroue werknemer. En op die gholfbaan is dieselfde man weer ’n lojale vriend. Op die verskillende plekke het die man verskillende funksies.
Dit is waar dat die woord “Drie-eenheid” nie in die Bybel voorkom nie, maar as ons byvoorbeeld die gebed van Paulus in Efesiërs 3 lees, sien ons baie duidelik dat hy tot God Drie-enig bid.
Paulus begin sy gebed in die Naam van God die Skepper. Dit is die Vader se werk by uitstek. Paulus gaan dan verder en bid in vers 16 dat die Heilige Gees die gemeente sal versterk. Dit is juis die Gees wat ons lei en versterk in ons alledaagse lewens. Volgende bid Paulus in vers 18 dat ons die liefde van Christus sal ken. Dit is die liefde wat Jesus aan ons bewys het aan die kruis. Dit is Jesus se spesifieke werk binne die Drie-eenheid. Jesus is ons Verlosser.
Daar moet egter onmiddellik gesê word dat die verskillende werke nie eksklusief is tot spesifieke Persone nie. Die Bybel is daaroor duidelik dat al die Persone van die Drie-eenheid al die funksies verrig. Maar dit is nie nodig om vasgevang te raak in vrae oor hoe die verskillende Persone in mekaar pas nie. Ons moet fokus op wat die Persone in ons lewens doen.
Nadat Paulus gebid het tot elkeen van die Persone van die Drie-eenheid, sê hy in vers 19: …mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Hy stel dit inderwaarheid dat ons vervul moet word deur die Drie-enige God. Ons verstaan dalk nie altyd nie, maar ons sien God in die skepping, ons ervaar die liefde van Christus, en ons ken die troos van die Heilige Gees. Daarom kan ons net soos die apostel Paulus in vers 21 sê dat al die eer God toekom. Ons kan net in nederigheid voor die Drie-enige God kniel en Hom eer.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

25 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Ontsag en hoop
Jesaja 66: 5-11
Die gawe van die Gees wat ons vandag oordink, is ontsag en sy gepaardgaande deug, hoop.
Die letterlike vertaling van die sesde gawe van die Gees is die “Gees van die vrees van die Here”. Hierdie vrees van die Here is nie die vrees wat jy het vir ’n oppergesag wat jou straf nie. Dit is eerder erkenning van God se grootsheid en almag. Daarom dat die 2020-vertaling dit met “ontsag” vertaal het.
Jesaja 66 spreek die mense aan wat ontsag het vir die Here en sy Woord. Die Israeliete waaraan Jesaja 66 gerig is, was van oral af beleër deur allerlei moeilikhede. Hulle is as arbeiders weggevoer na Babilon toe. Hul stad Jerusalem is verwoes. En nog erger, die tempel is vernietig. Daar was “broers” wat die vrees van die Here verloor het. Want dit is moeilik om steeds die Here te eer as dit voel of alles verkeerd loop, of soos Psalm 137 sê: Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?
Daarom is dit belangrik om te besef dat die Christelike hoop nie ’n vorm van wensdenkery is nie. Dit word gebou op die beloftes van die Here. Daarom dat die boek Jesaja afgesluit word met ’n reeks hoopvolle orakels om dié wat steeds ontsag het vir die Here, te inspireer. En die sentrale metafoor wat hy kies, is ’n vrou wat geboorte skenk. Net soos wat ’n vrou wat deur die geboortepyne gaan noodwendig geboorte skenk, net so sal die Here Jerusalem weer in haar glorie herstel na al die pyn en ellende wat die volk moes deurgaan.
Dit is soms moeilik om ons ontsag vir die Here te behou. Ons voel baie keer dat ons geen beheer oor ons lewens het nie. Maar as ons die beloftes van die Here onthou – dat Hy ons uitkoms sal gee, dat ons by Hom veilig sal wees soos ’n baba wat geborsvoed word (vers 11) – dan kan ons die hoop behou. Want ons hoop is nie gebou op menslike vermoëns nie, maar op God en sy almag. ’n Almag wat by ons niks anders nie as ontsag en eerbied skep.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

24 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Kennis en selfbeheersing
1 Johannes 2: 1-6
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van kennis en sy gepaardgaande deug, selfbeheersing.
Die kennis waarna hier verwys word, is nie kennis van feite of formules nie. Dit is eerder die kennis om te onderskei tussen reg en verkeerd. Dit is morele kennis wat alleen spruit uit ons kennis van Christus (1 Joh 2: 3). Wanneer ons kennis van Christus groei, groei ons kennis van wat reg en verkeerd is.
Ongelukkig is die sonde in elkeen van ons. Die goeie wat ons wil doen, doen ons nie, maar die slegte wat ons nie wil doen nie, dit doen ons (Rom 7: 19). Daarom dat selfbeheersing so ’n belangrike deug is. Waarom, van al die vrugte van die Gees wat Paulus noem, is dit die laaste wat gelys word? Selfbeheersing is ons wat die rem aandraai. Wat net ’n bietjie hokaai om kans te gee vir die Gees om seker te maak dat ons met die kennis wat ons van Christus het, die regte morele oordeel kan vel.
Dit is die krisis spesifiek van ons tyd. Ons is baie maal oorhaastig en neem oorhaastige besluite. Ons samelewing dwing ons daartoe. Vinnige etes, vinnige kommunikasie, en bowenal vinnige rykdom, maak dat ons onmiddellike besluite moet neem. Baie maal sonder om die Gees kans te gee om te spreek, vir selfbeheersing om toe te tree sodat ons ’n korrekte oordeel kan vel.
Die Here Jesus het besef dat dit soms nodig is om rustig te word. Ons lees verskeie kere in die Evangelies dat Jesus Hom afgesonder het. Veral voor ’n groot besluit (Luk 6: 12-13) of gebeure (Luk 22: 39-44). Gun ons onsself die kans om rustig te word? Het ons die selfbeheersing om eers te wag voor ons besluite neem? Om kans te gee dat die Gees spreek en ons lei deur ons kennis van Christus. Of val ons in die ou laai van dit is nou of nooit?
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

23 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Krag en moed
2 Timoteus 2: 1-10
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van krag en sy gepaardgaande deug, moed.
Die krag waarvan daar hier gepraat word, is nie krag wat uit onsself kom nie. Dit is nie fisiese krag of vermoëns nie, maar eerder om versterk te word. Om krag te ontvang van buite af. Verder is dit nie passiewe krag soos ’n sterkman wat spiere bou net om spiere te hê nie. Dit is krag wat iets moet doen. Dit is die dinamiese krag van ’n soldaat, ’n atleet of ’n boer.
Die persone wat Paulus as voorbeelde van Geesvervuldes gebruik, is nie net mense wat besig is nie, maar ook mense wat moed het. Om ’n geveg aan te knoop, ’n resies aan te durf, of om saad in die grond te sit, vra moed. Dit vra geloof. Maar dit is nie altyd maklik om daardie moed aan die dag te lê nie. Soms word ons oorweldig deur die uitdagings van ons lewe. Soms word dit alles te veel.
Daarom dat die apostel vir Timoteus aanmoedig om iets baie belangrik te doen: om te onthou. Om te onthou dat Christus die Seun van Dawid is. Hy is die lank verwagte Messias wat kom om ons te verlos. Hy is uit die dood opgewek, en selfs die dood se bande is verbreek. Die laaste grens vir ons is ook oorgesteek.
As ons dit onthou: As ons onthou dat ons ’n Verlosser het wat ons ’n nuwe lewe gee; dat ons verlos is van ons lafhartigheid (2 Tim 2: 7); dan kan ons selfs te midde van die moeilikste omstandighede steeds moed hê. En kan ons die krag van God, die krag wat ons tot alles in staat stel, ontvang. Dan kan ons alle take, selfs die uitdagendste, soos ’n goeie soldaat, ’n atleet of ’n boer aandurf.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

22 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Leiding en verstandigheid
Eksodus 32: 1-14
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van leiding en sy gepaardgaande deug, verstandigheid.
Die gawe van leiding – of raad, soos Jesaja 11 dit noem – kan verwys óf na die raad en leiding wat ons van God ontvang, óf na die gawe om raad of leiding vir ander mense te gee. Die ironie van die saak is dat die twee baie keer bots. Ons sondige aard maak dat die leiding wat ons vir ander mense gee, nie die leiding is wat ons van God ontvang nie.
Eksodus 32 beeld hierdie dilemma uit. Moses is op die berg Sinai om die wet te ontvang. Maar Moses bly toe te lank weg. Die volk dring aan by Aäron dat hy vir hulle ’n beeld moet maak om te aanbid. Aäron maak toe die goue kalf en ironies genoeg, roep hy ’n fees uit vir die Here. Aäron het duidelik geglo dat hy die wil van die Here navolg. Dat die leiding wat hy aan die volk gee, die leiding is wat hy van God ontvang het. In werklikheid het Aäron in ’n kort tydjie die eerste drie gebooie verontagsaam wat hy net kort tevore (Eks 20) belowe het om na te kom.
Aäron probeer die volk lei. Hy voel hul ongeduld aan. Maar hy tree onverstandig op. Die verstandigheid waarvan gepraat word as die deug wat leiding versterk, is die verstandigheid wat baie maal (1 Tim 3 en Tit 1) as ’n karaktertrek van ’n ouderling weergegee word. Die letterlike betekenis van verstandig is om gesentreer te wees in God. Om nie toe te gee vir allerhande uitspattighede of ondeurdagte aksies nie, maar om balans in God te vind.
Wanneer ons gesentreer is in God, word geen wag vir ons te lank nie. Wanneer ons verstandigheid aan die dag lê, luister ons eers na die leiding wat God vir ons gee voordat ons dit sal durf waag om leiding en raad te bied aan ander.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

21 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Insig en geloof
Hebreërs 2: 5-18
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van insig en sy gepaardgaande deug, geloof.
Die Bybel praat oor insig hoofsaaklik op drie maniere. Eerstens om te kan onderskei tussen goed en kwaad. Tweedens om mense se motiverings te kan onderskei. En dan laastens, om insig te hê in dieper geestelike waarhede. Dit is van hierdie laaste manier dat Hebreërs 2 praat.
Insig kan ons egter alleen hê as ons geloof besit. Ateïste kan die Bybel van voor tot agter opsê, maar as die Gees nie geloof in hulle gewek het nie, kan daardie persone nie insig hê in die dieper geestelike waarhede wat die Woord bevat nie. Die letterlike vertaling van insig is om deur te kyk. Dit is soos om te kyk deur ’n lagie olie wat op water dryf. Dit is nie ’n oë-toeknyp of verbykyk nie, maar ’n deurkyk na die dieper waarheid.
Ons almal word soms moedeloos. Ons voel oorweldig deur allerlei uitdagings. Dan, sonder om dit te bedoel, word ons verstrengel in hierdie uitdagings. Kyk ons net vas teen die brutale realiteit. Dit was die gevaar wat die lesers van die Hebreër-brief ook in die gesig gestaar het. Hulle het geweet alles moes al aan die mens onderwerp gewees het. Maar nou sien hulle alles is nog nie onderwerp nie (vers 8). Dit is asof die realiteit van hul bestaan dreig om hulle te verswelg. Maar dan vestig die skrywer hul oë op iets anders. Hy laat hulle met geloofsoë insig kry in hul situasie: Maar ons sien Jesus… (vers 9).
En wat sien ons wanneer ons Christus sien? Vers 11 sê: Jesus [is] nie skaam om hulle sy broers te noem nie. Dit is die dieper geestelike waarheid wat ons deur die geloof kan insien. Christus het ons deel van God se gesin gemaak. Dit maak nie saak op watter manier ons bedreig word deur hierdie wêreld nie, God is ons Vader, en Hy staan gereed ons te help en te red. Ons moet net ons geloofsoë oopmaak en Christus sien.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

20 Mei 2024 – Die ses gawes van die Gees: Wysheid en barmhartigheid
Jesaja 11: 1-5; Jakobus 3: 13-18
In die week na die Pinksterfees is dit gepas om na te dink oor die werk van die Heilige Gees.
Van die minder bekende gawes van die Gees word vir ons uiteengesit in Jesaja 11: 1-5. Die gawes (of geeste, soos die Ou Vertaling sê) van wysheid, insig, leiding, krag, kennis en ontsag. Dit is die gawes wat ons hierdie week gaan bespreek.
Elkeen van die gawes gaan ook in die klassieke teologie gepaard met ’n deug. Die gawes van die Gees is soos ’n talent wat ons ontvang het. Die deugde oefen daardie talent in. Jy kan die grootste gholftalent in die wêreld ontvang het, maar as jy nie oefen nie, gaan jy nie ’n professionele speler word nie. Die beoefening van die deugde moedig die gawes van die Gees aan om al hoe meer sigbaar in ons lewens te word.
Die eerste gawe wat ons gaan bespreek, is wysheid en sy gepaardgaande deug, barmhartigheid. Groot gedeeltes van die Bybel – Spreuke en Prediker – word gewy aan die vraag: Wat is wysheid en hoe tree ons op met wysheid? Die belangrikste ding wat ons moet verstaan, is dat Bybelse wysheid gaan oor hoe om prakties in die wêreld te lewe. Dit is juis hierdie praktiese wysheid wat die Gees aan ons skenk. Hoe lyk hierdie wysheid? Jakobus 3: 13 maak dit duidelik: Dit is sagmoedig (vgl die 2020-vertaling). Sagmoedigheid is iets wat spruit uit die besef van wie God is, en ook wie ons is. God is groot en almagtig. Tog het Hy ons sondaarmense lief. En hierdie sagmoedige wysheid bring jou in die regte verhouding met God en word gebruik om vrede te maak (Jak 3: 18, AFR1983). Of in die woorde van Christus: Liefde vir God en liefde vir jou naaste.
Wanneer ons die liefdesgebod nakom en barmhartig is, oefen ons hierdie sagmoedige wysheid in. Dit rig ons lewe om op ’n praktiese manier in hierdie wêreld om te gaan. Nederig, want ons weet ons is sondig. En vergewensgesind, want ons weet die persoon voor ons verdien net soveel barmhartigheid as wat ons reeds van die Here ontvang het.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico

19 Mei 2024 (Pinksterfees) – Met Pinkster kom aksie
Handelinge 2: 1-4, 32-39
Soos Hy belowe het, het God sy Gees uitgestort op die dag van die Pinksterfees. Onder leiding van die Gees van God, soos in die geval van Esegiël, verkondig Petrus die opgestane Heer. Hy lewe en dié wat in Hom glo, sal lewe. Deur die Gees het ongeveer 3 000 mense die getuienis aangehoor en aanvaar.
Petrus staan op en preek in Jerusalem. Hy getuig aan mense oor die waarheid van die Here Jesus. Vanoggend in die erediens sal ons herinner word aan hierdie Pinkstergebeure. Maar wat vra dit van ons? Ons volg die voorbeeld deur toewyding aan God en sy Woord. Ons woon eredienste by en lees gereeld die Bybel, en doen Bybelstudie. Wanneer gelowiges bymekaar is, word daardie eenheid in die erediens gevier. Alles tot eer van die Here! Daardie onderlinge omgee vir mekaar word gekenmerk deur liefde en onderlinge eenheid. Dit vra aksie. Ons leef en betoon naasteliefde teenoor mekaar en ander. God is vir ons en God se genade is so groot vir almal.
Die eerste gemeente waarvan Handelinge vertel, was uniek. Maar só is elke geloofsgemeente. Waarop fokus ons as geloofsgemeentes? Dink terug aan Esegiël se opset waarna ons die afgelope dae gekyk het. Deur die Gees van God besef ons: Waar nie lewe was nie, is nou lewe. Hoekom? Omdat iemand die woord verkondig het en God deur sy Gees hierdie woord op vrugbare grond laat val het.
Laat ons opnuut die Woord wat in ons moedertaal beskikbaar is, lees en liefhê. Leer ken die inhoud daarvan, beleef sy grootheid. Leef die woord deur die uitleef van sy liefde teenoor ander. Onthou, die Gees is aan die werk!
O Heilige Gees, o heilige God, laat ons al meer gehoorsaam word.
Gee ons meer liefde vir u Woord – ons almal wat aan God behoort,
o Heilige Gees, o heilige God.
O Heilige Gees, o heilige God, laat leef ons uit die groot gebod.
Maak ons in liefde eensgesind, lojaal, steeds aan mekaar verbind,
o Heilige Gees, o heilige God.
(Gesang 434: 2-3)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

18 Mei 2024 – Kry lewe, dit is verniet
Esegiël 37: 1-14 (14)
Toe ek ’n kind was, het my pa altyd vir ons gesê: Kry lewe jong, jy kry dit verniet! Dan moes ons beweeg en tot aksie oorgaan. So met Pinkster en by herinnering aan die dooie bene in die vallei van Esegiël, word ons ook herinner aan God wat lewe gee deur sy Woord en Gees.
Esegiël se verhaal herinner ons in ons radeloosheid dat dit by God anders is, al het ons nie meer raad nie. God het raad vir die tye en omstandighede waarin ons leef. Sommige aspekte van die hernuwing wat ter sprake was in Esegiël se verhaal, het eers in vervulling gegaan in die tyd van Jesus Christus. Die terugkoms en vestiging van die volk van Juda was genoegsame bewys van die konkrete vervulling van die belofte van God.
Esegiël se prediking het geleentheid geskep vir ’n verwagting en bereidwilligheid om na die woord van God te luister. Die Gees bring die gelowiges in beweging. Hy praat met mense (preek) en hulle praat met God (gebed). Esegiël inspireer ’n mens om naby die Here te leef. Om so in gesprek met Hom te tree dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van die dinge wat God besig is om te doen. Sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.
Die Gees van God bly wonderbaar voortdurend inspireer –
dat ons met Hom en met mekaar in liefde kan verkeer.
Die Heil’ge Gees gee uit die skat deur Christus self verdien –
sy liefde, blydskap, vrede, guns kom Hy aan ons voorsien.
Wie hul laat lei deur God se Gees, leer iets van Christen-wees –
Hy leer ons bid, getuig en dien en liefhê sonder vrees.
(Gesang 440: 2-4)
U sien, God gee lewe deur sy Woord en Gees. Daar waar sy Woord verkondig word en waar sy Gees hierdie Woord op mense se harte laat val, daar kom lewe. Hierdie lewe gee God, dis verniet! Leef en werk en verheerlik Hom!
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

17 Mei 2024 – Dooie bene kry lewe
Esegiël 37: 1-14 (AFR2020)
Dikwels ontspoor ons oor dinge wat met ons gebeur. Doodsheid en ’n gevoel van nutteloosheid en moedeloosheid oorweldig ’n mens. Esegiël beleef ’n soortgelyke situasie. Behalwe dat die volk in ballingskap was, weg van hul land en die tempel, moes hulle elke dag oordele van God aanhoor. Tot op ’n dag!
Esegiël beleef die visioen van doodsbeendere. Daardie visioen bring die ommekeer, ook vir hom wat self moedeloos was. Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. Die belofte van God dat die volk Israel – uit die doodsbestaan in die vreemde – verlos en na hul eie land teruggebring sal word. Daar word ook die eenheid van 12 stamme belowe. Hierdie profesie het in vervulling gegaan met die terugkeer van die ballinge in 538 vC, soos Esra en Nehemia vertel. Maar hierdie belofte van God se Gees is vir altyd en almal bedoel.
Jesus het op ’n soortgelyke wyse as in Esegiël verwys na die lewe wat Hy bring vir dooies. Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe (Joh 5: 25).
As ons die gebeure saamvat: Die volk was dood, vir hul gevoel was God weg. Toe kom God en gebruik sy profeet wat sy woord verkondig. Daar word tot God gebid om sy Gees weer uit te stort. Daar kom lewe in die volk wat besef dat die Here God is. Dat Hy wel in beheer is en dat Hy lewe gee. God gee lewe deur sy woord en Gees. Daar waar sy woord verkondig word en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val, kom daar lewe.
God se Gees doen soveel – leer ons God vertrou;
leer ons om te luister en op Hom te bou.
Kom ons sê vir elkeen: Bid tot God die Heer,
dat Hy ons sy Gees gee – dat Hy ons sal leer.
(Gesang 443: 4-5)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

16 Mei 2024 – Die Heilige Gees, vervulling van sy belofte
Johannes 14: 8-17 (AFR2020)
’n Belofte is ’n belofte en God bly konsekwent. Die uitstorting van die Heilige Gees is die vervulling van Christus se belofte aan sy dissipels. Soos Hy beloof het: En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet gee. Sy koms beteken dat daar ’n totaal nuwe verhouding tussen God en sy kinders geskep is. Johannes 14 leer ons dat dié Parakleet die Gees van waarheid is. Hy kom van God en Hy is bekend met wat God wil. Hierdie Gees sal in gelowiges wees en by hulle woon. Op grond van die verhouding tussen Jesus en die gelowiges, sal hulle die Gees ken.
Die Heilige Gees kom bly en woon in die dissipels. Hoe groot is die troos wat God deur die Parakleet aan sy kinders gee! In die ure van benoudheid is dit die Gees van God wat ons die sekerheid van die sorg en bystand van die Here gee. Die koms van die Christus is ’n fase van hoop en blydskap. Wanneer Jesus daarvan praat dat Hy na die Vader gaan, praat Hy van die mag as sy triomferende wat heengaan, teenoor die nag van verskrikking wat vir Hom voorlê (14: 18). Hy vertroos hulle egter: Ek laat julle nie soos weeskinders agter nie.
Die Gees van die waarheid, Hy sal die toekoms verkondig (môre) en gelowiges van hul kindskap verseker (nou).
Hoe onderskei ’n mens tussen die getuienis van die Gees en dié van ons eie gees van sondaar wees? Die mens se gees voer jou weg van God en Christus af. Die boodskap van die Heilige Gees verskerp die fokus op wie Christus eintlik is!
O Gees van Vader en van Seun, ons voorspraak, leidsman, krag en steun,
U, vul ons diepste hartsverlange, U kom ons in die waarheid lei,
U leer ons bid, kom by ons bly – U loof ons met ons lofgesange!
Wil steeds die goeie in ons werk, bewaar, vermeerder en versterk.
U maak die Skrifte vir ons oop; bekeerdes, deur die Gees gedoop,
ontvang met blydskap skuldvergewing.
(Gesang 431: 1-2)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

15 Mei 2024 – Watter betekenis heg ons aan Pinksterfees?
Levitikus 23: 3-4, 15-21
Pinksterdag was ’n belangrike Joodse feesdag waartydens die Israeliete die eerste opbrengs van hul oeste aan die Here gaan wy het. Die eerste graanhalms is as beweegoffer aan God geoffer. Vir Israel het dit beteken die land en sy oes is die vervulling van die beloftes van God aan die aartsvaders, van die heilbelofte. Die vreugde van die oes is ten diepste die aanvaarding van die geestelike heil, die koms van God se koninkryk.
Na die vernietiging van die tempel in 70 nC het die fokus verskuif na die vernuwing van die verbond wat God met die volk by Sinai gesluit het. Die Pinkstersfees het altyd plaasgevind op die 50ste dag, na die eerste Sondag wat direk op die Joodse Pasga gevolg het (Lev 23: 15-16). Dié Pinksterdagfees was aanvanklik ’n landboufees.
Dit was op ’n keer tydens hierdie fees dat Lukas die gebeure beskryf in Handelinge 2: 1. Dit waarop vir eeue gewag is, word vervul, deur die uitstorting van die Heilige Gees op hierdie eerste Christelike Pinksterdag. Dit word toe die fees van aanvaarding, die vervulling van die Ou Testamentiese Pinksterfees, in die Pinksterfees van die Nuwe Testament.
Na Paasfees, wat beteken Pinkster? Wat maak ons met die gawe van God wat Hy in Christus vir ons gee? Die aanvaarding van die heilsbelofte van God vier ons met God se eie bevestiging, dat Christus ons met Hom verenig het. Hy het vir ons geword: die wysheid wat van God kom, die Voorspraak, die heiliging en die verlossing (1 Kor 1: 30). Alleen só word Pinkster ’n fees! Die Pinksterfees is die fees van ons aanvaarding van God se gawe, naamlik die Heilige Gees. Die fees van God se aanvaarding van ons daaglikse lewe waarin ons beleef en verstaan dat ons van Hom afhanklik is. Die fees van aanvaarding van alles deur almal tot eer van God.
O Heil’ge Gees, aan U die eer;
U, met die Seun en Vader, Héér –
één, enig God, waaragtig!
Op Pinkster ryklik uitgestort
laat U ons God se kinders word –
sy volle heil deelagtig!
(Gesang 432: 1)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

14 Mei 2024 – Wat glo jy van die Heilige Gees?
Johannes 14: 15-19, 23b-29 (AFR2020); Heidelbergse Kategismus Sondag 20, Vraag 53
Ek glo dat Hy saam met die Vader en Seun ware en ewige God is. Hy is ook aan my gegee sodat Hy my deur ’n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly. Watter troos in hierdie tye!
Ons ontmoet Jesus in gesprek met sy dissipels. Tot nou toe (vóór sy kruisiging, opstanding en hemelvaart) is Jesus vir hulle ’n veilige toevlugsoord. Maar Hy gaan weg en berei hulle daarop voor. Sy voorsorg is dat Hy sal sorg vir ’n ander Parakleet, die Heilige Gees, om by hulle te wees. Van hierdie Parakleet word hulle wonderlike dinge beloof. Hy sal vir ewig by hulle wees en hulle in alle waarheid lei. Hy is die Gees van waarheid. Hulle sou Hom ken omdat Hy in hulle sal bly en in hulle sal wees. Jesus kom weer na hulle toe.
Christus gee ’n kykie op die opstandingsgebeure. Wie die Gees van God het, het gemeenskap met God. Hierdie dissipels kry ’n nuwe blik op die Jesus wat hulle volg. Ja, wat dit sal beteken om Jesus te verheerlik, namate die Parakleet ’n groter plek in die hart en lewe van gelowiges verkry.
Die uitstorting van die Heilige Gees is die vervulling van Christus se belofte aan sy dissipels. Hy het belowe: Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet gee… Die uitstorting van die Heilige Gees is dan die eerste vrug van die voorbidding van Christus vir sy broers en susters op aarde. ’n Voorbidding wat tot vandag toe aanhou en sal voortgaan totdat die nuwe hemel en aarde gekom het.
O God, ons wil U altyddeur in Christus as ons Vader eer,
en deur die leiding van u Gees, wil ons aan U gehoorsaam wees.
U gee aan ons u Gees as pand; Hy help ons, lei ons aan die hand.
Hy maak vir ons die Skrifte oop, laat groei in ons geloof en hoop.
(Gesang 448: 1 en 4)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

13 Mei 2024 – Les jou dors met hierdie lewende water
Johannes 7: 37-39 (AFR2020)
Met die oorwinning van Paasfees en Hemelvaart nog vars in die geheue, is die verlange ná en verwagting van die Heilige Gees nog ietwat gedemp. Ons teksgedeelte speel af in Jerusalem, maar Jesus is by die Loofhuttefees, een van die drie groot feeste wat elke Jood moes bywoon. Sy broers het voorgestel dat Hy saamgaan, dan kon Hy ’n bietjie meer publisiteit en erkening kry vir dit waarmee Hy besig is. Onthou, hulle het nie geglo in die dinge waarmee Jesus besig was nie.
Jesus het later op sy eie na die fees gegaan. Daar, op die laaste dag van die fees, sluit Hy in sy preek aan by die waterseremonie van die fees. Dit is die gedeelte waar die priester water uitgiet op die altaar. Die water was simbolies van God se voorsiening en sorg in die woestyn, asook van die Gees wat Hy in die laaste dae aan sy volk sou gee. Daar is geglo dat in die laaste dae ’n stroom water uit die tempelrots sou kom wat deur die hele wêreld gaan vloei. Hierdie water gaan oral lewe bring.
Jesus sê: As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hy sê vir hulle dat diegene wat drink van die water wat Hy gee, self bronne van hierdie water sal word. Hier bied Jesus die lewende water aan wat dors les en die bron van ewige lewe is. Jesus praat van lewegewende water en die Gees wat dié wat in Hom glo, binnekort sou ontvang.
Die Loofhuttefees vier God se teenwoordigheid by en voorsiening vir Israel in die wildernis. In Jesus het die Woord vlees geword. God het gekom en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou (Joh 1: 14). Jesus kon nie in die vlees bly nie. Hy stuur sy Gees om vir altyd by sy dissipels te wees.
Oor hierdie belofte praat Hy by die Loofhuttefees, en dié Paasfees lê voor.
Ds Kathleen Smith, Kaapstad

12 Mei 2024 (Sewende Sondag van die Opstanding) – Wees ’n spieëlbeeld van Jesus Christus
2 Korintiërs 3: 18
Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land? Ons ken die sprokie, maar die lewe is nie eintlik ’n sprokie nie. Daar is dinge wat ons sien, maar nie kan insien en verstaan nie. Vandag kyk ons na die simboliek van spieëls in die Bybel.
Mense moes maar meestal waterweerkaatsings gebruik om hulself te sien in die Bybelse tyd. Spieëls was skaars en is gemaak van brons, koper of silwer wat blink gevryf is.
Drie keer in die Nuwe Testament word spieëls simbolies gebruik. Eerstens is daar Paulus wat die aardse en hemelse kennis en begrip so kontrasteer: Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is (1 Kor 13: 12). So dof as wat die spieëls se beeld daardie tyd was, wat maar net ’n gedeeltelike weerkaatsing was, so min verstaan ons hoekom sekere dinge in ons gebroke wêreld gebeur; maar eendag sal ons saam met God die stukkies van die legkaart inpas om die volle prentjie te sien.
Tweedens lees ons in Jakobus 1: 23-24 dat iemand wat die Bybelse woord net aanhoor, maar nie doen wat dit sê nie, soos ’n persoon is wat sy gesig in die spieël sien en dadelik vergeet hoe hy gelyk het. Hy sê die Bybel moet ons gedrag en lewenshouding verander, anders beteken dit dat ons lees sonder om op te let wat dit vir ons wil sê.
Derdens sê Paulus in 2 Korintiërs 3: 18 dat ons almal die heerlikheid van die Here weerspieël, omdat ons al meer verander om aan Christus se beeld gelyk te word. Hulle wat na ons kyk, moet in ons manier van praat en doen Jesus Christus se beeld in ons sien. Dis soos die maan wat iets van die son se lig weerkaats. Mag God se woord en die Here se genade jou lewe so aanraak en die Heilige Gees jou so vervul dat jy Jesus Christus se beeld in jou alledaagse optrede weerspieël.
Ds Louw van der Linde, Evander

11 Mei 2024 – Die lied geïnspireer deur skeepsvaart
Psalm 107: 26-32
Here, my bootjie is so klein en u see is groot… So begin die bekende Breton-vissermansgebed. Ons lewe voel soms soos ’n bootjie op die wye oseaan. Onder vroeë Christene was die beeld van die boot populêr. Bote is deur die wind of roeispane aangedryf. Dis gebruik vir visvang, handeldryf en reistogte.
Storms op die see was algemeen bekend (1 Kon 22: 49; Jona 1; 2 Kor 11: 25-26). Jesus het die storm stilgemaak toe Hy en die dissipels uitgevaar het op die see (Mark 4: 35-41). Bote of skepe is gesien as simbole van beskutting. Die grootste voorbeeld hiervan is Noag se ark waardeur hy en sy familie gered is (Gen 6-8,) en die kleine Moses wat in ’n mandjie op die Nyl gespaar is (Eks 2).
Christene het ook die boot as simbool op grafte gebruik. Dit was ’n teken dat die persoon wat gesterf het, uitgevaar het na die ewige heerlikheid by God die Vader. Selfs in ons kerkgeboue word die middelste deel van ’n kerk “die skip” genoem.
Jakobus gebruik die klein roer wat ’n groot skip stuur as beeld van die tong se groot mag (Jak 3: 4-5). Paulus sê dat mense wat nie werklik diepte in hul geestelike lewe het nie, soos bote op die see is wat deur die winde van dwaalleer heen en weer geslinger word (Ef 4: 14).
Een van mooiste gedeeltes in die Bybel wat getuig van God se sorg, is Psalm 107. Veral van vers 27 af word die beeld van skepe gebruik. Jy kan in jou geestesoog sien hoe die bekwame seemanne magteloos probeer vaar op die stormsee, totdat hulle smekend vir God om hulp vra en God hul gebed verhoor en die storm stilmaak.
John Newton was ’n ateïs en sy lewe was vervalle toe hy in Maart 1748 op die stormsee op ’n sinkende skip sy laaste uitweg by God gesoek het. God het geantwoord. Die storm het bedaar, Newton het God deur die storm leer ken en hy het die lied Amazing Grace geskryf. Ons lewensboot gaan deur storms, maar met God op ons lewensboot is daar veiligheid en hoop.
Ds Louw van der Linde, Evander

10 Mei 2024 – Varke en honde
Markus 7: 27-28
’n Heerlike stukkie spek met ontbyt is nie te versmaai nie. Vir die tipiese Jood is dit ongelukkig nie beskore nie. Varke en varkvleis moes vermy word (Lev 11: 7; Deut 14: 8). Dis onheilig in hul oë.
Met ’n vark in die verhaal beklemtoon Jesus die verlore seun se vernedering toe hy in ’n ver land varke moes gaan oppas (Luk 15). Ook toe Jesus duiwels uitgedryf het uit ’n besetene, vlug die bose geeste in die varke in en die varke vlug die see in (Matt 8; Mark 5).
Varke en honde is as onrein beskou en word onder andere ook saam in beeldspraak gebruik. Petrus praat van Christenbekeerlinge wat God se wil leer ken het en weer verval in hul ou weë deur te sê: Van hulle is die spreekwoorde waar: “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe” en: “’n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.” (2 Pet 2: 22).
Jesus sê ook: Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie … en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie… (Matt 7: 6). Die heidene is deur die Jode honde genoem. Dis vreemd vir ons wat honde as troeteldiere liefhet.
Jesus sê vir die Siro-Fenisiese vrou wat hulp vra: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” (Mark 7: 27-28). Eintlik het Jesus waarskynlik juis die vrou gebruik om die Jode te beskaam. Die Jode het immers die brood van die lewe ontvang en tog het baie van hulle dit verwerp, terwyl die heidene (die hondjies) dit gretig aangryp.
Ons, wat nie Jode is nie, kry nie net krummels of oorskiet nie, maar die volle evangelieboodskap en die volheid van God se genade in Jesus Christus. Met dankbaarheid ontvang ons dit en kan ons dit deel.
Ds Louw van der Linde, Evander

9 Mei 2024 (Hemelvaart) – God is ook in die donker wolk
Handelinge 1: 9; Eksodus 20: 21
Wolke met al hul verskillende vorms fassineer ons. Die helderblou lug kan in ’n paar ure gevul word met reënwolke. Dis ’n wonder van Bo. Wolke het letterlike en simboliese betekenis in die Bybel. God se teenwoordigheid word in die Bybel dikwels so beskryf. Hy het sy volk deur ’n wolkkolom verseker dat Hy by hulle is en hulle lei (Eks 13: 21-22). Toe die Egiptenaars hulle agtervolg het, het die wolkkolom tussen hulle en die Egiptenaars ingeskuif (Eks 14: 20). Dit het hulle verseker dat God hulle beskerm teen hul vyande.
By Sinai het God in ’n dik wolk na Moses gekom, en toe Moses die berg opgaan, het die wolk die berg vir 40 dae oordek terwyl hy op die berg was om die wet van God te ontvang (Eks 19).
Kan jy sien hoe belangrik wolke was om God se volk te verseker dat Hy by hulle is? Net so kry ons in die Nuwe Testament talle soortgelyke beskrywings rondom Jesus. Op die berg van verheerliking (Matt 17) het ’n helderligte wolk die berg oordek terwyl ’n stem uit die wolk sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom! (Matt 17: 5, AFR33/53).
Jesus sê vir Kajafas:Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel (Matt 26: 64, AFR1983). In Handelinge 1: 9 (AFR1983) word Jesus se hemelvaart so beskryf: …is Hy opgeneem terwyl hulle (sy dissipels) dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Jesus se hemelvaart word vandag wêreldwyd gevier. Ons leef met die verwagting van sy wederkoms en weet ons het ’n ewige hemelse lewe. In die tussentyd leef ons met die wete dat Hy by ons is tot die voleinding van die wêreld.
Moses het God in ’n brandende doringbos en op baie plekke ontmoet, maar op ’n keer moes hy God in ’n pikswart, donker wolk ontmoet (Eks 20: 21). As jy nou deur ’n donker tyd gaan, onthou: God is by jou en lei jou elke tree terug na die lig.
Ds Louw van der Linde, Evander

8 Mei 2024 – Die opstanding van die koringkorrel
1 Korintiërs 15: 35-49
Dood en liefde is twee vlerke wat mense van die aarde af na die hemel vervoer. Hierdie aanhaling van ’n anonieme persoon het my laat nadink. Vlerke beteken bevryding.
Elizabeth Kübler-Ross het navorsing gedoen oor sterwensbegeleiding en gehelp met die stigting van die hospiesbeweging wêreldwyd, wat veral sterwende kankerpasiënte bystaan in die sterwensproses in hul laaste lewensdae op aarde. Sy vertel dat duisende Joodse gevangenes in die konsentrasiekampe vlinders teen die mure geteken het. Hierdie vlinders het vir hulle simboliese betekenis gehad.
Pavel Friedman het ook so as Joodse gevangene deur die draadheining gekyk na ’n vlinder. Kort voor hy as jong man gesterf het, het hy ’n gedig oor ’n vlinder geskryf wat getuig van sy verlange na bevryding. Hierdie bevryding word gesimboliseer deur ’n metamorfose wat plaasvind wanneer ’n papie die kokon agterlaat en ’n vlinder dan “gebore” word.
Vir ons beskryf die koringkorrel in die Bybel iets daarvan. Die beeld van koring word uiteenlopend gebruik met verskeie betekenisse. Gaan lees maar Johannes 12: 24; Matteus 3: 12; Matteus 13: 24-30; Openbaring 14: 14-16; ensovoorts. Vandag kyk ons net na 1 Korintiërs 15 waar Paulus die opstandingsliggaam verduidelik in terme van ’n koringkorrel wat gesaai word. Soos die koringkorrel sterf om gestalte te gee aan ’n koringaar, is dit met ons sterflike liggame. Ons sterf in swakheid, maar word in krag opgewek. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike, verheerlikte liggaam (1 Kor 15: 42-44).
Hoe ons gaan lyk na hierdie aardse lewe, bly bo ons begrip. My oupa het altyd in sy tafelgebed gesê: Here, voed en versterk tog hierdie nietige en bouvallige liggame van ons… My ouers se liggame was verswak toe hulle gesterf het, maar hulle het deur Christus ná hierdie aardse lewe verheerlikte liggame. Dit geld vir ons almal wat in Christus sterf. Soos die papie agterbly wanneer die skoenlapper wegvlieg, gebeur dit wanneer ons sterf. Izak de Villiers skryf: Die siel kry vlerke. Die koringkorrel word ’n koringaar; ons “bouvallige” liggame word verheerlikte liggame.
Ds Louw van der Linde, Evander

7 Mei 2024 – Die beeld van brood
Johannes 6: 41-59
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet… So praat die Here met Adam in Genesis 3: 19 (AFR33/53). Brood is vir talle mense stapelvoedsel. Om ’n stukkie brood te kan eet, beteken vir mense oorlewing. Jesus leer ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood (Matt 6: 11). Daardeur verwys Hy met “brood” na ons noodsaaklike behoeftes. Die manna in die woestyn was vir Israel hierdie “brood” uit die hemel wat God daagliks voorsien het (Eks 16).
In Johannes 6 lees ons dat Jesus sê Hy is die brood wat lewe gee. As jy van hierdie brood eet, sal jy nooit weer honger word nie. Aardse brood voed jou aardse liggaam, maar Hy voed ons geestelike lewe. Daarom het Hy ook voor sy kruisiging met brood en wyn die Nagmaal ingestel as teken dat Hy sy liggaam vir ons laat breek het. Om saam brood te breek, getuig van gemeenskaplikheid. Vriende en familie kuier rondom ’n tafel terwyl hulle eet en brood breek. So bind Jesus ons saam. Die gedagte van brood wat uit ’n klomp koringare saamgemaal word, beklemtoon die verskeidenheid wat om ’n tafel saam brood breek.
Dorothee Sölle het ’n bundel opstelle geskryf met in Engels die titel Death by Bread Alone. Sy gebruik die uitdrukking “brood” om te verwys na ons gejaag na aardse dinge wat ons as noodsaaklik begin beskou het, maar uiteindelik net ’n gejaag na ydele behoeftes is. Hierdie gejaag ontneem jou daarvan om die werklike vreugde van die lewe te smaak.
Vra jouself, wat is werklik “broodnodig”? Jaag ons nie soms na ydele dinge, terwyl ons die manna miskyk wat God daagliks op ons lewensreis aan ons skenk nie? Niemand kan sonder brood lewe nie. Daarom moet die kerk bly uitreik na mense in nood, maar nie net fisiese honger nie. Of soos Petrus vir Jesus gesê het: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee (Joh 6: 68, AFR1983). God voed ons vandag nog met fisiese en geestelike brood.
Ds Louw van der Linde, Evander

6 Mei 2024 – Die visplakker op jou motor se buffer
Markus 1: 16-20 (AFR2020)
’n Prentjie sê soms meer as ’n duisend woorde. Ons gebruik daagliks simbole en beelde om te kommunikeer. Dink aan padtekens, advertensies en emoji’s wat deur prentjies en simbole boodskappe oordra. Christene het Bybelse simbole wat oor die jare ontwikkel het, soos die herder, die kudde, die anker, brood, sleutels, ensovoorts. Die volgende paar dae gaan ons nadink oor simbole in die Bybel.
Die vis is die heel oudste simbool onder Christene. Vroeë Christene is vervolg vanweë hul geloof. Deur geheime kommunikasie het hulle hul geloofsoortuiging gedeel. Een manier was om met die toon in die grond ’n vissie te teken. So het die ander persoon, as hy of sy ’n Christen was, die visprentjie se betekenis verstaan. Jesus se dissipels was vissers, maar Hy het hulle vissers van mense gemaak, soos ons in Markus 1: 17 lees: Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.
In kunswerke met Christelike betekenis word vis en brood dikwels saam uitgebeeld. Ons dink hier ook aan die seuntjie met sy vissies en broodjies, en die wonder van die kosvermeerdering.
Die Griekse woord vir vis is ICHTHUS, wat ook ’n akroniem vir Christene was, met die Griekse betekenis Iesus Christos Theou Uios Soter of in Afrikaans vertaal Jesus Christus is die Seun van God en Hy is die Redder.
Ons kan deesdae vreesloos ons geloof bely. Jy hoef nie versigtig met jou toon ’n vissie te teken nie. Talle mense het visprentjies op hul buffers. Daardeur deel hulle met trots dat hulle navolgers van Jesus Christus is. Kom ons leef die kentekens. As jy op jou motor se buffer ’n vissie het, laat jou bestuursgedrag dan iets van jou Christenskap vertoon.
Ds Louw van der Linde, Evander

5 Mei 2024 (Sesde Sondag van die Opstanding) – Nou het ons ’n lewende hoop
1 Petrus 1: 3-9
Ons almal het dit met mekaar gemeen dat ons ’n behoefte het aan hoop. Juis daarom is dit so dat daar by die meeste van ons ’n ingeboude sensor is wat fyn ingestel is vir enige spoor van hoop. Ons soek silwer randjies om donker wolke. Maar as jy een oggend wakker word en besef vandag gaan nie mooier as gister wees nie, verander alles. Dit is dan dat ’n mens behoefte begin kry aan ’n ander soort hoop, ’n hoop wat God alleen kan gee.
In die oorspronklike Grieks sê die skrywer eintlik dat ons “weergebore” moet word tot die lewende hoop (1 Pet 1: 3). Die hoop wat God gee en waarvan die apostel Petrus getuig, is nie iets wat ons van nature het of by geboorte ontvang nie. Dit is ’n hoop waarin jy weer gebore moet word.
Petrus skryf hierdie woorde aan die lydende kerk in Klein-Asiê, wat hy in vers 1 vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon, noem. Hul situasie was menslik gesproke uitsigloos. Christene is deur ’n vyandige staat en deur die gewone burgers van die samelewing vervolg. Aan sulke mense skryf Petrus, daar is hoop omdat Jesus uit die graf opgestaan het. Christelike hoop is opstandingshoop. Daarom is dit vir ons so kosbaar om in hierdie dae juis die opstanding van die Here te herdenk. Vandag is reeds die sesde Sondag van die Opstanding.
Die hoop waarvan Petrus getuig, is gevestig op iets objektief, iets buite ons, naamlik die historiese gegewenheid van die opstanding van Jesus Christus. Dit is nie afhanklik van ons nukke of grille, optimisme of pessimisme nie. Dis gegrond op die leë graf, gegrond op die heilsdaad van God op Paasmôre! In ’n tyd waarin ons wêreld dreig om in ’n grondelose hopeloosheid te verval, word die kritieke belang van hierdie boodskap juis onderstreep en moet die kerk van Jesus Christus dit met oortuiging in die wêreld stel.
Gebed
Here, dankie vir die vaste hoop waaraan ons kan vashou omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

4 Mei 2024 – ’n Heroriëntasie in die geloof
Psalm 124: 1-8
In ons geloofsvlug ervaar ons iets soortgelyk aan wat Psalm 124 verwoord, naamlik heroriëntasie. Die digter kyk naamlik na ’n veelbewoë stuk geskiedenis van Israel en verklaar: As die Here ons nie gehelp het nie… Wat die presiese aard van die bedreiging was toe Israel aangeval is, weet ons nie. Dit word met behulp van twee veelseggende beelde beskryf: ’n watermassa wat Israel wou verswelg, en ’n voëltjie wat in die wip van ’n voëlvanger gevang is.
Die Psalm verwoord ervarings wat gelowiges deur die eeue heen gehad het. lndividue beleef dit dat hulle deur verskillende fases van geloofsontwikkeling gelei word, dat hulle vanuit ’n naïewe geloof deur krisisse heen tot ’n dieper, volwasse geloof gebring word. Dit is dan dat dit belangrik word om uit die ervaringe van gelowiges deur die eeue heen te weet: God sal ons bokant die stormwolke uitbring; Hy sal ons uit die watermassa uithaal; Hy sal ons bevry uit die wip waarin ons vasgevang sit, sodat ons weer ons vlerke hoog kan sprei.
En hierdie proses wat in Psalm 124 beskrywe word, hierdie heroriëntasie in die geloof, is nie ’n eenmalige proses nie. Dit gebeur herhaaldelik in die lewens van gelowiges. Dit is alles deel van die “geloofsgimnastiek”, van die inoefening van die geloof volgens die skrywer van die Hebreër-brief.
Dan weet ons ook natuurlik verder, die siklusse van geloofsvorming waarin ons almal is, herhaal nou wel regdeur ons lewe, maar is nie ewigdurend nie. Eenmaal sal die finale heroriëntasie plaasvind. Alles sal herskep word. Die God wat hemel en aarde gemaak het en in sy trou nooit die werke van sy hande laat vaar nie, sal ook die nuwe hemel en aarde laat aanbreek. Die waarborg daarvoor is Jesus Christus self. Hy het Homself uit die hemelse orde en heerlikheid in die wanorde van ons wêreld gestort om die finale herskepping te bewerk.
Gebed
Here, dankie dat ek my na elke geloofskrisis of terugslag deur u krag telkens kan heroriënteer in die geloof. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

3 Mei 2024 – As die wind daaroor waai…
Psalm 103: 8-22
Augustusmaand waai die wind hier in ons wêreld. Dit is ’n stofwind en maak die lug baie keer rooibruin. Ou Israel het veral een tipe wind geken: die woestynwind of die seroko. Dit was ’n doodswind. Dit het letterlik alles verskroei en wanneer daardie woestynwind in Palestina gewaai het, het elkeen presies geweet wat dit beteken as mense sê: Vandag hier, môre weg.
En dit is die agtergrond van Psalm 103 se beeld van die veldblom. Palestina is hoofsaaklik ’n woestynland, maar in die dorre woestyn gebeur daar ’n wonder, een maal ’n jaar – ’n klein saadjie wat onverwags ’n bietjie vogtigheid van êrens kry en ontkiem. En die groen plantjie beur deur die dorre aarde, bars vars en nuut oop op die harde woestyngrond. Die stingel word ’n knoppie, die knoppie ’n blom, ’n heldergeel blom. Maar die heel eerste keer as die seroko behoorlik waai, is dit verby met daardie wonderblommetjie.
Die digter van Psalm 103 gebruik hierdie beeld as hy oor die kortstondigheid van die lewe nadink. Hy stel in wese enkele sake oor die lewe van die mens. Eerstens spring niemand die einde van die aardse lewe vry nie, die doodswind waai vroeër of later. Verder is niemand windbestand nie, en God keer ook nie noodwendig altyd die winde weg nie. Een saak staan egter vas: God is oneindig groter as die sterkste wind wat waai. Ons eindbestemming word nie bepaal deur die koers van die woestynwind nie, maar deur die wil en almag van God. Dit maak nie saak hoe die wind ons keer op keer van koers af dwing nie – God hou die eindpunt in sy hand.
Baie insiggewend is die woordkeuse wat die digter in vers 17 gebruik om die liefde van die Here te beskryf, veral teen die agtergrond van die strekking van die Psalm waarin tydelikheid en verganklikheid sterk teenwoordig is. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte… Geen doodswind of enige vernietigende krag kan standhou nie teen die ewige liefde van God wat aan sy kinders die ewige lewe gee.
Gebed
Here, dankie dat u liefde vir my selfs sterker is as my eie verganklikheid. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

2 Mei 2024 – Die gevaar van vormgodsdiens
Psalm 95: 1-11
Psalm 95 is die inhoud van ’n aangrypende erediens. Sensitief en dogmaties korrek het die prediker die gemeente voorgegaan. Sy preek het gehandel oor die uniekheid van God as Skepper en Herskepper van Israel. ’n Mens sou aan die einde van so ’n erediens ’n Halleluja! verwag. Maar dan eindig die Psalm nie daar nie. Skielik is daar ’n radikale verandering in die trant van die Psalm. As julle vandag maar na Hom wou luister: Moenie hardkoppig wees nie… Waarom die vreemde wending in die Psalm?
Die erediens was pragtig, maar die Here het dit teen wat na die erediens gebeur. Die gebeure by Massa en Meriba word in herinnering geroep. Daar het die volk die Here ook aanbid en was daarna aan Hom ongehoorsaam. God het dit teen vormgodsdiens. Om net in naam ’n gelowige te wees, maar nie van harte nie. Om Sondag vroom te wees, maar in die week ’n lewe te lei wat nie daarmee ooreenstem nie. Jesus verwys self daarna. Hy beskryf dit as om gereeld Here! Here! te sê, maar nie die wil te doen van die Vader wat in die hemel is nie. Dit is om te hoor dat jy jou naaste moet liefhê, en dan te vra: Ja, maar wie is my naaste? Kom ons definieer “naaste”. Kom ons teoretiseer daaroor.
Tussen die teorie en die praktyk van die uitlewing van ons geloof vind daar dikwels ’n kortsluiting plaas. Ons leef in twee wêrelde: die Sondagwêreld wat sê Jy moet jou naaste liefhe soos jouself en die weekwêreld waarin ons leef volgens die beginsel Ek moet myself liefhê bo alles…
Hoe werk ’n mens die vormgodsdiens teë? Deur klein en nederig in die Here te wees, deur alleen maar ’n beroep te doen op God se genade vir jou, en dan jouself oop te stel vir die wonderlike en kragtige werking van sy Heilige Gees in en deur jou.
Gebed
Here, help my om dit waarin ek glo en wat ek bely, ook elke dag in my lewe te illustreer wanneer ek deur die krag van u Gees u wil doen. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

1 Mei 2024 – Om rus te vind te midde van die onrus
Psalm 62: 1-13
Almal het soms ’n behoefte aan rus, stilte en kalmte. In Psalm 62 is daar vyf verwysings wat soos ’n refrein deur die Psalm loop, dat daar net by God rus te vinde is. Die insiggewende van hierdie verwysings is dat die skrywer aantoon dat die rus wat by God te vinde is, rus is te midde van die onrus, woelinge en chaos wat ons wêreld kenmerk.
Die Psalm begin met die belydenis, Net by God vind ek rus…, en volg dit dan op met ’n uitroep, ’n kreet waarin hy sy lyding beskrywe en homself beskryf as ’n bouvallige muur. Daarna egter weer dadelik dieselfde belydenis waarmee die Psalm begin het: Net by God vind ek rus… Te midde van die realiteit van die lewe se uitdagings, staan die rus by God vas.
Tydens ’n kompetisie waarin skilders gevra is om ’n voorstelling van vrede te maak, het die volgende skildery die kompetisie gewen. ’n Waterval is uitgebeeld met donker wolke wat dreig om enige oomblik van bo af weerligstrale los te laat. ’n Boompie het skuins uit ’n rots gegroei en het op die een of ander wonderbaarlike wyse die krag van die waterstroom weerstaan. Een van die takke het uitgesteek en in die mik daarvan, enkele sentimeters van die stortvloed verwyder, was ’n voëlnessie met ’n voëltjie daarin wat houtgerus op haar eiers gesit het. Dit is vrede. Kalmte langs die stortvloed.
Hoe vind ons die rus in ons storms? Psalm 62 getuig: Draai weg van al die gewaande, aardse bronne van rus en vrede. Die psalmis eindig die Psalm soos hy dit begin het: …dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou…
Gebed
Here, leer my dat ek te midde van al die onrus van hierdie lewe, net by U ware rus en vrede kan vind. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

30 April 2024 – Die waarde van verlange
Psalm 42: 1-12
Verlang ons nog na God? Is daar werklik by ons nog die hunkering, die verlange na God se nabyheid, God se bystand, na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid?
In die vroeë kerk is daar, net soos daar Paassondag en Pinkstersondag was, in die kerklike jaar voorsiening gemaak vir ’n “Verlangsondag”. Op dié dag het die kerk hulle probeer indink in die oomblikke, die paar dae na Jesus se hemelvaart, toe die dissipels die onsekerheid van sy afwesigheid ervaar het. Psalm 42 is dan altyd op daardie Sondag gelees. ’n Psalm waarin ’n mens byna die intense verlange in elke strofe kan aanvoel, veral in die dramatiese beeld van ’n wildsbok wat smag na waterstrome.
Ons leef egter nie in ’n verlangwêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeerwêreld. Die ingesteldheid van die kerkvader Augustinus, my hart bly onrustig totdat dit rus vind in God, is in ons tyd iets vreemds. Ons ervaar dalk wel nog dieselfde onrus, die hunkering, die soeke – maar ons het die voorwerp daarvan verplaas; dit is nie meer God nie, maar dit wat ons self daar kan stel. In plaas daarvan dat ons in ’n verlang-en-opsoek-wêreld leef, leef ons in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Ons word maklik onbetrokke en afsydig. Die treurigste verskynsel van ons tyd is ons ongeërgdheid, ons traak-my-nieagtigheid. In die Middeleeue het die kerk dit askedia genoem – die belangeloosheid teenoor God en ander mense.
Miskien kan ons weer nadink oor ’n “Verlangsondag”, maar daarmee saam ook raaksien dat die Sondag net ná “Verlangsondag” Pinkstersondag is. Die Heilige Gees het juis gekom om ons verlange te versadig, om ons leegheid en diepste hunkering te stil. Deur sy Gees kom woon God onder ons, maar kom bind Hy ons ook aan mekaar.
Gebed
Here, ek verlang na u teenwoordigheid en vrede. Kom stil my verlange weer deur die wonderlike werking van u Gees in my. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

29 April 2024 – Deel van die grootse geheel
Psalm 8: 1-10
Die Psalmdigter se gewaarwording, as hy onder die indruk kom van die grootsheid van God se skeppingswerk, is dat hyself tog maar ’n verbygaande spikkel is. Die grootse geheel, die onmeetlike grootheid van God, laat my in perspektief verklein. En wanneer ek myself so klein sien, dan word ek bewus van my totale afhanklikheid van die groter geheel en van die grote God in wie se teenwoordigheid ek leef. Dan word ek minder belangrik. Dan draai die wêreld nie net om my klein lewe en sy geskarrel nie. Dan word ek hoogstens een van die skepsels van die lewende God.
En dis eers as die Psalmdigter sy eie kleinheid besef, en weet dat hy maar ’n verbygaande gebeurtenis in die heelal is, dat hy ook ’n verdere gewaarwording het: Here, hoe wonderlik is dit dat U my hier gewil het. Dat ek hier voor U, o God, mens kan wees. Wie is ek tog dat U aan my sou dink? lemand wat hierdie gewaarwording het, is ook makliker geneig om te verstaan dat ander wat in elke opsig van my kan verskil, ook deel van God se groter geheel kan wees. Soos Gamaliël wat in Handelinge 5 aan sy kollegas in die Joodse Raad wat op die gevare van die Christene wys, die raad gee: Laat staan hulle. As wat hulle verkondig van God is, sal dit bly. As dit nie van God is nie, sal dit vanself tot niet gaan. Miskien is ook hulle deel van God se groter geheel. En hoe reg was hy nie!
In ’n toneel uit ’n roman van Timmermans staan een van sy karakters teen ’n boom en leun met sy hande in sy sakke. Hy staar met vreugde na die spel van die sonstrale deur die blare. Daar kom iemand verby wat haastig op pad iewers heen is en wat vra: Wat doen jy? En hy antwoord: Ek is. Ek is net besig om te wees. Ken ons nog iets daarvan om dit bloot te geniet dat ons is, van die vreugde dat God ons die lewe gegun het?
Gebed
Here, dankie dat U aan my gedink het en my die lewe gun. Help my om te verstaan dat ander ook deel is van u groter geheel. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

28 April 2024 (Vyfde Sondag van die Opstanding) – Dankbaar en diensbaar
Kolossense 3: 12-17
Kolossense 3: 12-17 hou vir ons ’n breë strategie voor met ses beginsels wat ons in ons eie situasie so moet toepas dat ons die Here daardeur dien. Die eerste beginsel is vergifnis en genade: Hoekom iemand vergewe wat jou kwaad aandoen? Want dit is wat Christus met ons kom doen het. Haat en vasklou aan die kwaad van die verlede is soos kettings wat jou vasbind en terughou. Maak jou los daarvan deur te vergewe en genadig te wees, want dis hoe jy heel word en vorentoe beweeg.
Die tweede beginsel is liefde. Dit is God se liefde vir mense wat ons moet aanspoor en motiveer tot liefdevolle diens in Jesus se Naam. Om lief te hê, is om aan ander waarde toe te ken en hulle menswaardig te behandel. Die derde beginsel is vrede – God se vrede wat ons tot rus bring al verander ons omstandighede nie. Ons moet leer om vrede te maak met dit wat ons nie kan verander nie, en ons aandag bepaal by dit wat ons ten goede kan verander en waar ons ’n positiewe invloed kan hê.
Die vierde beginsel is ’n belangrike een: Dankbaar-wees, bly ons grootste motiveerder. Wees dankbaar in jou lewe en sien hoe dit jou gesindheid, jou uitkyk en jou motivering verander. Begin by die klein dingetjies waarvoor ’n mens dankbaar kan wees. As jy sukkel om dit reg te kry, maak ’n lysie. Kyk ’n slag weg van jou bekommernisse en verheug jou in die mooi dinge wat jy om jou raaksien.
Die laaste twee beginsels gaan hand aan hand: om die Bybel as Woord van God te koester en te ontgin, en om te onthou dat jy een van Jesus se gestuurdes is. Ons moet ons hele lewe – al die fasette daarvan – onder Jesus se heerskappy stel en onsself instel om elke dag so te leef.
Gebruik hierdie strategie as ’n vertrekpunt: Konsentreer op een van die beginsels op ’n slag, en sodra jy voel dat jy dit beter toepas, beweeg na die volgende een. Vra die Gees om insig en volharding en ervaar dat dit moontlik is om te groei in insig en toewyding.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

27 April 2024 – God gee meer as wat ons besef
Efesiërs 3: 14-21
’n Mens kan jou indink hoe Paulus se insig dat die evangelie vir alle mense bedoel is, skokgolwe deur sy wêreld gestuur het. Die Jode was geskok en ontnugter. Hul groot kampvegter het skielik sy storie heeltemal verander. Hoe kan Paulus dink dat heidene saam met die Jode deel kan wees van God se familie! Die mense van Efese was geskok, want hoe kan enigeen sê dat daar ’n groter God is as Efese se lieflinggodin Artemis? Die bekende wêreld van daardie tyd was so oortuig van Artemis se mag dat talle heersers hul geld en skatte in haar tempel gaan bewaar het.
Paulus verwonder hom aan twee dinge in sy gebed: hoe diep en wyd die omvang van God se genade en liefde vir mense is; en hoeveel mense ingesluit word by God se familie. Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat die rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word.
Om iets van hierdie grootte, diepte en wydte van Christus se liefde vir ons te verstaan, wil ek ’n moderne beeld gebruik. Die Hubble-teleskoop het in Oktober 2010 ’n uitsonderlike foto geneem van die geboorte van ’n ster in ’n sterrestelsel 68 miljoen ligjare hiervandaan. Ons kan ons verwonder aan die perkelose grootheid van ons heelal, maar kan ons dit werklik verstaan?
En dan kom Paulus se woorde na ons toe: Hoe kan ons ooit verstaan dat God vir ons meer gee as wat ons kan dink of bid? God gee krag om sy wil elke dag te kan doen. God gee geloof sodat ons elke dag voluit en moedig kan leef. God gee ons liefde sodat ons liefde het om weg te gee aan elkeen wat oor ons pad kom.
Bid daarvoor, en wanneer God jou seën met sy gawes, moenie bang wees om dit te gaan deel met ander nie.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

26 April 2024 – Kyk ’n slag anders na lyding
1 Petrus 3: 13-22
Kom ons praat vandag eerlik met mekaar oor verlies en lyding. Die oomblik wanneer ons eerlik is oor wat ons ervaar en wat ons oorweldig, kan die Heilige Gees ons begelei om dit te verwerk; kan die Gees ons lei om iemand langs ons wat worstel, beter te verstaan en te kan help. Ons het ’n keuse vandag: om onsself aan die negatiewe oor te gee, of om deur die inspirasie van die Gees die positiewe in ons lewens te ontdek en te groei in dieper insig.
1 Petrus 3 bring ’n verrassende en inspirerende antwoord vanuit die betekenis van die kruis van die Here in ons lewens. Dis die ander manier van kyk wat ons moet aanleer. Dis die nuwe lens wat jy moet opsit wat jou uitkyk op die lewe verander. Hier word daar aan ons ’n baie ernstige lewensvraag gevra: Wie het die seggenskap oor jou lewe wanneer jy swaarkry, kwaad aangedoen word of onregverdig behandel word? Laat jy toe dat negatiewe gebeure of mense jou gedagtes so oorheers dat dit jou lewe, jou gedagtes en jou menswees oorneem? Hier word ons aangespoor om in sulke omstandighede die seggenskap en die inspraak in ons lewe aan Christus te gee.
Jesus Christus het selfs in sy lyding vir ons ’n voorbeeld gestel deurdat Hy onskuldig gely het ter wille van ander. Sy lyding bring vir ons lewe, bevryding en vrede. Ons moet verstaan dat ons die Here ook dien selfs wanneer ons ly. Verder het ons die inspirerende voorbeeld van die gelowiges met wie hierdie brief eerste gepraat het. Gelowiges wat as gevolg van hul status as vlugtelinge sosiale druk, miskenning en vervolging beleef het. As hulle kon kies om getrou te bly aan Christus en te bly getuig en leef tot eer van hul Here, hoekom ons nie ook nie?
Die wêreld sal vrae hieroor stel aan gelowiges: Hoe kry julle dit reg om so hoopvol te leef in lyding? Christus is ons lewe en ons hoop – in sy voetspore sal ons juig en ween, oorwin en struikel, en nogtans sal ons Hom eer en loof.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

25 April 2024 – Tweede kanse
Hosea 11: 1-11
’n Bekende Ou Testamentikus beskryf Israel hier as verslaaf aan die sonde. Dit kom oor ’n lang tyd van ontrou wees aan die Here. In Hosea 11 vind daar ’n gesprek tussen God as Vader en Israel as aangenome kind plaas. God het hulle uitgekies en geduldig oor jare met hulle gewerk. Hosea beskryf God se liefde en geduld vir sy kind. Maar telkens word God se toenadering en sorg beantwoord met diegene wat hul rug op God draai en ander gode gaan dien.
Dan kom die ernstigste klag teen hulle: Hulle weier om hulle te bekeer en terug te gaan na hul Vader toe. Hulle kies elke keer hierdie ontroue lewenstyl en hulle weier eenvoudig om God te eer. En dan kom die verrassende en onverstaanbare wending: In verse 8 tot 11 is daar skielik ’n ander stemtoon – een van liefde en sorg. In hierdie gedeelte sien ons die wonderlike, onverstaanbare genade van God. Genade wat heeltemal niks te doene het met iets wat Israel of ons kan verdien nie.
Jesus Christus is God se onverstaanbare genade en ons tweede kans. Jesus Christus is God se liefde wat nooit opgee en finaal vernietig nie. Hy neem dit op Hom om sy sondaarkind weer op te tel. En ons kan weet dat God nou nog so is. Dat sy genade groter is as wat ons verwag; vir onsself, maar ook vir ander mense. Dat Hy nie mense straf om hulle te vernietig nie, maar dat Hy sy mense op sy inisiatief na Hom terugbring. So ’n God kan ons mos dien en loof.
Hoeveel onverdiende genade het ek en jy nie al in ons lewe ontvang nie? Hoeveel keer het ek en jy nie al nog ’n kans gekry wat ons nie verdien nie? Hoeveel keer moes ek en jy nie al bely het nie dat God die moeilike oomblikke in ons lewens gebruik om ons nader aan Hom te bring? Ons lewens is vol onverdiende genade en tweede kanse! Gaan leef dankbaar en vol blydskap!
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

24 April 2024 – ’n Nuwe familiefoto
1 Petrus 1: 13-25
Ek onthou dat ek as kind op ’n dag ander kinders ontmoet het buite ’n huis waar ons gaan kuier het. Ons is in die huis in om die huismense te groet. Een van hulle was ’n kwaai ou oom. Hy het my nie bang gemaak nie, want ek het veilig gevoel met my pa net daar. Buite was die kinders verstom dat ons kinders in die huis ingegaan het. Hulle was te bang vir hul oupa om in die huis in te gaan.
Later in my lewe het ek besef hoe jou ervaring van pa-figure ’n mens se persepsie van God die Vader vorm. ’n Mens dra onbewustelik daardie ervaring oor: ’n warm verhouding na ’n warm ervaring van God; ’n verhouding van vrees dra oor na ’n gevoel van afstand en vrees vir God. Indien die vaderbeeld ’n struikelblok in ’n mens se verhouding met God veroorsaak, is daar soveel ander beelde in die Bybel waarmee jy jou kan vereenselwig en wat jou verhouding met God kan versterk.
Ons moet ook besef dat ’n ervaring van ’n aardse pa-figuur ver te kort skiet by wat die Bybel bedoel God ons Vader is. Ons het ’n nuwe identiteit – ons is deel van God se familie. In 1 Petrus is ons positiewe identiteit dat ons kinders is van God ons Vader, in Jesus Christus. Die prominente tema van die brief is kindskap: die tuiste wat gelowiges vind in die familie waarvan God ons Vader is!
Ons leef as God se kinders vandag en elke dag. Dit beteken dat jou lewe soveel hoop het. Hoop omdat jy God ken en weet wat Hy al in die verlede vir jou gedoen het. Hoop omdat jy op God se familiefoto verskyn en altyd daarop sal wees. Eerbied en ontsag vir God beteken dat ons prakties leef soos God wil hê ons moet leef. Liefde is die praktiese uitlewing van hierdie eerbied. As daar meer is wat God as Vader aanroep, beteken dit dat ons broers en susters het. En ons liefde vir ons medemens moet selfloos in diens van ons Vader wees.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

23 April 2024 – Flink om te luister, stadig om te praat
Jakobus 3: 1-12
Kom ons begin vandag nie by die mens en ons onvermoë om ons tonge te beheer nie. Kom ons begin vandag by die krag van God se Woord. Die Woord wat geskep het aan die begin en lewe tot stand bring. Die Woord wat Israel gelei het deur sy profete na die beloofde land en verder. Die Woord wat mens geword het en waardeur God die nuwe begin geskep het. God is Woord, en dis vandag nog net so kragtig en lewend soos toe. Hy herskep steeds elke dag deur sy Woord mense se lewens.
Jakobus raak baie prakties as hy met gelowiges praat. Sy boodskap is deurgaans dat ons moet leef wat ons glo. Die grootste misverstande oor Christene in ons wêreld is juis omdat wat ons bely en wat ons doen nie altyd bymekaar uitkom nie; dat ons op Sondag een ding bely, maar in die week is daar niks daarvan in ons lewenswyse te sien nie.
Woorde kan ’n positiewe uitwerking hê, soos ’n stang in ’n perd se bek wat hom in die regte rigting stuur. Dit kan ook baie negatief en vernietigend wees, soos ’n klein vuurtjie wat ’n groot en skadelike brand kan veroorsaak. Jakobus gee ons baie goeie raad: Wees flink om te luister en stadig om te praat.
Die goeie nuus is dat die Gees gekom het om ook ons tonge en woorde te gebruik om lewe te spreek, eerder as dood. Om heel te maak en lig te bring, eerder as donkerte. Met die tong kan ons mense se hartseer verlig, ons kan bemoedig en nuwe lewensmoontlikhede oopmaak. Jou woorde het die krag om die lig in mense se lewe te bring. Konsentreer op al die positiewe in jou lewe, vul jou denke met dankbare gedagtes, en beveg die neiging om oor te gee aan die negatiewe en die donkerte in jou lewe. Jy het die krag van God tot jou beskikking – leef voluit daarin.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

22 April 2024 – Staan op en gaan huis toe!
Markus 2: 1-12
In Kapernaum is Jesus besig om die mense in ’n huis te leer. Die huis is propvol mense, hulle staan by die deure uit. Vier mense kom aangeloop met ’n verlamde man op ’n mat en hulle kan nie by die deure inkom nie. So klim hulle op die dak en maak ’n gat tussen die riete en modder deur om die man by Jesus te kry. Toe Jesus die geloof van die vier manne sien, sê Hy vir die verlamde man dat sy sonde vergewe is. Onthou dat die godsdienstige denke van die tyd siekte, gebrek of enige abnormale gesien het as straf van God op ’n familie. Jesus verlos hom van daardie stigma, en dan van sy gebrek.
Jesus spreek God se vergifnis oor die man uit. Natuurlik mag Hy, want Hy is God se Gestuurde na ons. Die godsdiensleiers wil hê die man moet die regte reinheidsrituele volg: ’n besoek aan die priester en die regte offer wat gebring word. Jesus wat sê dat die man se sonde vergewe is, klink vir hulle soos godslastering – iets waaroor God alleen kan besluit. Dis juis hierdie aanklag wat uiteindelik lei tot Jesus se skuldigbevinding en kruisiging. Jesus verklaar eers die man se sonde as vergewe, en dan genees Hy hom. Jesus bewys sy mag om mense geestelik, emosioneel en fisies te herstel. Hy is Immanuel – God met ons. En die eer gaan aan God!
Jesus kom om alles wat ons van God skei af te breek, of dit nou sonde is wat ons weghou van God af, of mure wat ons self opbou wat ons weghou van God af. Hy gaan oor al die grense heen wat hulle en ons stel, omdat mense baie belangriker is as wat mensgemaakte reëls of mag of geld of enigiets anders ooit kan wees. Jesus is gestuur om mense te kom herstel, te bevry van die las van sonde en skuld, en om vir ons almal die lewe te gee wat Hy in oorvloed aan ons wil gee.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

21 April 2024 (Vierde Sondag van die Opstanding) (Biddag vir die Gesaaides / Dankdag vir die Oes) – Stille Vennoot
Spreuke 25: 2
Een van die grootste klagtes wat by gelowiges voorkom, is die Here se stilte. Talle gelowiges het al gewonder hoekom die Here nie hul gebede beantwoord nie. ’n Ander weergawe van hierdie vraag is: Hoekom hoor ek nie die Here nie? Is die Here dan ons stille Vennoot?
Ons hoor iets van hierdie worsteling met die Here se stilte ook in die Spreukeboek (vgl Spr 25: 2). Selfs vir ’n antieke skrywer soos die digter van Spreuke, was die Here se stilte kenmerkend. Hoekom pla die Here se stilte ons so baie?
Ons lewe in ’n woordgesentreerde kultuur. Dit is vir ons fassinerend wanneer iemand met woorde kan toor om die mooiste toesprake, preke, gedigte of stories saam te stel. Ons praat selfs van die Bybel as die Woord van God. Alles gaan vir ons om die woord. Selfs die filmbedryf, wat ’n maatstaf is van populêre kultuur, wys vir ons die verwondering uit wat ons met woorde het: Daar was aanvanklik “stilfilms”, maar dit het nie lank geduur vir woorde om by films gevoeg te word nie.
Is daar dalk ’n ander rede vir die stilte? Kan ons regtig die Here in ons aardse (en beperkte) woorde en taal saamvat? Baie gelowiges glo dat hulle kan. Ons is geneig om ’n prentjie van die Here te skets met ons woorde en dan te glo dat dit die volle misterie van wie God is, saamgevat het. Die oomblik wanneer ons glo dat ons die somtotaal van die Here in ons woorde saamgevat het, sit ons egter eintlik nie meer met die Here nie, maar met ’n afgod. Die Here is soveel groter as wat ons met ons taal en woorde kan bedink of beskryf.
Die Here se stilte is, daarom, moontlik nie ’n vakuum wat ons met woorde moet probeer vul nie, maar eerder ’n vakuum waarin ons – in stilte – moet intree. Ons vind dalk die Here, juis in die stilte, op nuwe en fassinerende maniere in ons lewens aan die werk!
Ds Steve Oxton, Wapadrant

20 April 2024 – Word wakker
Johannes 1: 5
In die Britse komediefilm Shaun of the Dead (2004) is die hoofkarakter ’n mislukte verkoopsman wie se lewe nie regtig rigting kry nie. ’n Mens sou kon redeneer dat hierdie man ’n doellose bestaan voer en dat hy ’n toeskouer van sy lewe geword het wat, stukkie vir stukkie, by hom verbygaan. Shaun is salig onbewus van wat in die wêreld rondom hom aangaan. In een toneel staan hy op en stap winkel toe, maar hy is onbewus van die Zombies wat rondom hom Londen oorval het. Hy stap by die winkel in, neem ’n roomys uit die vrieskas uit, sit die geld op die kassier se toonbank neer en stap weer terug huis toe, sonder om die Zombies in die strate te gewaar. Die Zombies was op daardie oomblik meer wakker en bewus as wat hy was.
Die film spreek op ’n komiese wyse tot ons menslike kondisie. In Christus se opstanding vier ons die Lig wat die donker oorwin het, maar sien ons nog hierdie Lig raak? Sien ons nog die Lig van Christus raak wat oral rondom ons skyn, of het die donker vir ons net te donker geword? Die evangelie het oral rondom ons hande en voete. Daar gebeur daagliks mooi dinge met mense wat andersins moedeloos sou gewees het. Sien ons dit nog raak, of loop ons soos Shaun rond, salig onbewus van die Lig wat in baie donker hoeke skyn?
Hoe kan ons die Lig sien? ’n Lied wat ons graag in die kerk sing, kan ons hiermee help: Ontwaak jy wat slaap (Ges 481). Dalk begin dit by die bewustelike keuse van waarna ons kyk? Dit begin by die keuse om wakker te word en op die uitkyk te wees vir daardie Lig.
Ons mag moontlik nie die Lig in ons gemaksones raaksien nie. Dit mag dalk van ons vra om die donker plekke bewustelik te gaan opsoek en Christus se handewerk daarin raak te sien. Mag ons bid vir nuwe oë om dié Lig raak te sien!
Ds Steve Oxton, Wapadrant

19 April 2024 – Wond
Johannes 4: 1-38
Ons het almal daardie gedeelte, hier diep in ons binneste, wat ons vir die res van die wêreld weggesteek hou. Ons wil nie noodwendig ’n lig daarop skyn nie, want dalk is dit iets waaroor ons skaam is. Ons is moontlik bang dat die lig se glans die seer net nog seerder sal maak. Ons kan hierdie gedeelte van ons binneste ’n wond noem.
Hierdie wonde gee vir ons ’n vreemde energie. Dit bring ons in beweging, want ons glo ons moet voortdurend ons waarde vir die wêreld wys. Die ander moontlikheid is dat ons so hard probeer om die wêreld te oortuig dat ons wonde nie bestaan nie. Ons soek moontlik ook maniere om hierdie wonde te genees deur die liefde en aanvaarding van ander op te soek.
Is dit nie wat met die Samaritaanse vrou by die put gebeur het nie? Hoekom gaan sy om 12:00 (op die hitte van die dag) put toe om water te skep, terwyl die ander vroue van die dorp dit waarskynlik in die koel vroegoggend gedoen het? Ons weet sy het reeds vyf mans gehad, maar hoekom, weet ons nie. Waarskynlik was sy die slagoffer van die wette en gebruike van haar tyd. In kort kan ons aflei dat die vrou ’n wond saam met haar dra. Miskien wou sy die skindertonge van die dorp vryspring deur op die warmste tyd van die dag water te gaan skep?
Dit werk nie vir haar uit nie, want sy ontmoet Jesus by die put, en Hy bied vir haar lewende water aan wat haar dors vir ewig sal les. Wanneer sy van die water soek wat Jesus vir haar aanbied, raak Hy die wond waarmee sy geloop het direk aan: Jesus vra na haar man.
Dalk is dit toe al die tyd nie die put wat ons dors kan les nie, maar eerder die wete dat ons geliefd is en in genade deur die Here aangeneem is. Dit vertroos, dra en genees ons. Mag dit vir elkeen van ons so wees!
Ds Steve Oxton, Wapadrant

18 April 2024 – Dit wat al dood is…
Lukas 7: 11-17
Elkeen van ons kan stories vertel van tye toe ons geglo het dat sekere aspekte van ons lewens dood is. Daar was al in elkeen van ons se lewens tye wanneer ons voorraadopname van ons lewens gemaak het, en gewonder het of ons nie maar eerder sekere aspekte van ons lewens moet begrawe nie. Daardie aspekte kan baie dinge wees: Dit kan ons hoop, ons drome, ons ideale, ons strewes, ons roeping of ons passies wees.
In Lukas 7 vertel die evangelis vir ons ’n verhaal van ’n weduwee wat haar enigste seun aan die dood afgestaan het. Jesus, sy dissipels en ’n menigte mense is by die ingang van die dorpie Nain bymekaar en aanskou hoe die liggaam van die oorlede seun die dorp op ’n draagbaar uitgedra word. Die moeder van hierdie seun huil. Ons verstaan dalk nie vandag die diepte van haar seer nie. In die deur mans gedomineerde wêreld waarin sy haarself bevind, het sy nie net haar seun verloor nie, maar ook alle hoop op toekomstige sorg en steun. Haar lewe het skielik donker geword.
Jesus sien die weduwee raak en kry haar innig jammer. Ons sukkel om die emosie te vertaal wat Jesus op daardie oomblik ervaar het. Die innige jammerte wat Jesus hier beleef, suggereer iets van ’n draai van die ingewande. Jesus se ingewande draai as’t ware van die innige jammerte wat Hy ervaar. Jesus voel nie net jammer nie, maar raak ook die draagbaar aan, en die seun lewe weer. Dit wat reeds op ’n draagbaar uit die dorp uitgedra is, omdat almal geglo het dat die seun lankal al dood is, word in die hande van Jesus weer lewendig.
Ek wil nie eenvoudige antwoorde gee op al daardie dinge wat ons reeds op die draagbaar neergelê het, omdat ons geglo het dit lankal reeds dood is nie, maar dalk is daardie dinge nie dood nie? In die hande van die Here is daar dalk tog lewe in daardie bene wat ons glo lankal reeds droog is?
Ds Steve Oxton, Wapadrant

17 April 2024 – Leerbaarheid en nederigheid
Lukas 13: 1-5
In die inleiding tot sy kommentaar op die Psalms skryf Johannes Calvyn (1509-1564) van sy eie bekering teen die agtergrond van sy regstudies, wat hy in daardie stadium aangepak het. Calvyn beskryf sy bekering as ’n “skielike bekering tot leerbaarheid” of ’n conversio ad docelitam. Wat het Calvyn met die woord “leerbaarheid” bedoel?
Die lewe is vol alwetende, gearriveerde mense, nie waar nie? Ons hoor dikwels hoe mense sê: Jy kan my niks leer van… en dan gaan hulle aan om vir jou te vertel van die dinge waarvan jy hulle, sogenaamd, niks kan leer nie. Dis dikwels ook die geval wanneer ons uitsprake maak oor die Here en sy werking in ons wêreld. Dit getuig van ’n selfversekerde, alwetende en gearriveerde houding. Indien ons dit nog ’n stap verder neem, kan ons dit selfs ’n arrogante houding noem.
In Lukas 13 is Jesus en sy volgelinge in die midde van twee reusagtige tragedies in en om Jerusalem. Pilatus het pas ’n groep Galileërs laat doodmaak, waar hulle besig was om hul offers aan die Here te bring. Die toring van Siloam het ook omgeval en 18 mense is in die proses oorlede. Wie se skuld is dit dat hierdie swaarkry oor mense se pad gekom het? Dit wil voorkom asof die mense van die omgewing dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit die Galileërs en 18 slagoffers van die toring se eie skuld is dat hierdie leed hulle getref het. Jesus reageer hewig daarteen. Dis asof Jesus die arrogante alwetendheid van die mense in die omgewing aanvat. Kan ons die Here se weë ten volle verstaan?
Nee, nie een van ons kan die Here in sy totaliteit begryp nie. Die Here is baie groter as die skemas wat ons in ons koppe het oor die Here se werking in mense se lewens. Dalk is ’n bekering tot leerbaarheid onder andere ook ’n bekering tot nederigheid. Alles wat ons oor die Here kan sê, is voorlopig, feilbaar en tydelik, omdat ons feilbare mense is. Mag ons dit in nederigheid onthou wanneer ons namens die Here praat.
Ds Steve Oxton, Wapadrant

16 April 2024 – Skaakmat!
Klaagliedere 3
Ene Paul Morphy vertel in ’n stadium die anekdote van ’n skildery wat in die Louvre in Parys gehang het. Die skildery se naam was Die Skaakspeler en dis in 1831 deur Moritz Retzsch geskilder. In hierdie skildery is die Bose en die mens in ’n skaakspel gewikkel. Die heersende wysheid van die dag het bepaal dat die Bose besig is om die mens ore aan te sit in hierdie skaakspel. ’n Skaakmeester het, blykbaar, op ’n keer lank na hierdie skildery gestaan en kyk; en het toe hard uitgeroep: Dis nie skaakmat vir die mens nie! Die koning het nog ’n skuif oor! Voel ons nie ook soms asof ons skaakmat in ons lewens bereik het nie?
In Klaagliedere 3 hoor ons dat dieselfde sentiment deur die digter uitgespreek word. Die digter beleef ’n uiters moeilike tyd in sy of haar lewe. Dis immers waaroor Klaagliedere gaan: die klaagliedere van ’n persoon wat deur onmoontlike situasies in die lewe gaan. Die digter vertel vir ’n volle twee hoofstukke van al die hartseer, swaarkry en wanhoop wat hy of sy ervaar. Dit bereik ’n hoogtepunt in Klaagliedere 3: 18-19, wanneer die digter dink dat dit skaakmat is met sy of haar hoop op die Here.
Skielik begin die toon egter van vers 21 af heeltemal verander. Die digter erken dat die liefde van die Here gesorg het dat dit toe nie skaakmat vir hom of haar was nie. Dis asof die digter sê: Ek het al die tyd gedink dat ek skaakmat bereik het, maar daar is tog een skuif oor. Die Koning het daardie skuif gemaak.
Staar jy jouself vas in jou eie doodloopstraat? Voel dit vir jou asof dit skaakmat is met jou hoop op die Here? Mag ons onthou dat, wanneer dit vir ons voel asof daar niks meer skuiwe vir ons oor is nie, die Koning steeds skuiwe kan maak. Dis allermins skaakmat vir ons!
Ds Steve Oxton, Wapadrant

15 April 2024 – Altitude en Gratitude
Filippense 2: 6-8
Op die roete, naby my huis, waar ek gereeld gaan stap, is daar twee huise wat altyd my aandag trek. Die huise het albei name en hulle is reg oorkant mekaar in die straat geleë. Die een huis se naam is Altitude en die ander huis se naam is Gratitude. Ek het lank gewonder wat altitude en gratitude (oftewel hoogte en dankbaarheid) met mekaar te doen het.
’n Mens sou kon redeneer dat ’n bepaalde hoogte in jou lewe – ’n bepaalde afstand van jou alledaagse perspektief – vir jou nuwe dankbaarheid kan bring. In so ’n geval sou ’n sekere altitude vir jou gratitude kan bring. Aan die ander kant kan ’n mens redeneer dat dankbaarheid ’n nuwe perspektief in jou lewe veroorsaak. Dit kan jou ’n nuwe hoogte in jou lewe laat bereik, vanwaar jy met nuwe oë na die lewe kan kyk.
Paulus gee egter vir ons ’n ander moontlikheid. Paulus herinner die gemeente in Filippi dat die Here, Jesus Christus, nie gekies het om aan sy afstand van mense (sy “hoogte”) vas te klou nie, maar het Homself “leeg gemaak” deur ’n dienende gestalte aan te neem en aan ons gelyk te word. In die teologie noem ons hierdie proses inkarnasie. In Jesus Christus het God Immanuel (God met ons) kom word. Ons loop in die voetspore van die Een wat Homself nie op ’n afstand van ons gehou het nie, maar intens betrokke kom word het in mense se lewens.
’n Bepaalde hoogte of verwydering van ons alledaagse lewe bring ons, daarom, nie noodwendig by dankbaarheid uit nie. Is ware vreugde nie daarin te vind om af te kom van ons spreekwoordelike berge af, en in die morsigheid van mense se lewens betrokke te raak nie? Mag ons van ons eie hoogtes afklim en besig raak op die grondvlak van mense se alledaagse lewens. Dis dalk waar dankbaarheid te vind is.
Ds Steve Oxton, Wapadrant

15 April 2024 – Altitude en Gratitude
Filippense 2: 6-8
Op die roete, naby my huis, waar ek gereeld gaan stap, is daar twee huise wat altyd my aandag trek. Die huise het albei name en hulle is reg oorkant mekaar in die straat geleë. Die een huis se naam is Altitude en die ander huis se naam is Gratitude. Ek het lank gewonder wat altitude en gratitude (oftewel hoogte en dankbaarheid) met mekaar te doen het.
’n Mens sou kon redeneer dat ’n bepaalde hoogte in jou lewe – ’n bepaalde afstand van jou alledaagse perspektief – vir jou nuwe dankbaarheid kan bring. In so ’n geval sou ’n sekere altitude vir jou gratitude kan bring. Aan die ander kant kan ’n mens redeneer dat dankbaarheid ’n nuwe perspektief in jou lewe veroorsaak. Dit kan jou ’n nuwe hoogte in jou lewe laat bereik, vanwaar jy met nuwe oë na die lewe kan kyk.
Paulus gee egter vir ons ’n ander moontlikheid. Paulus herinner die gemeente in Filippi dat die Here, Jesus Christus, nie gekies het om aan sy afstand van mense (sy “hoogte”) vas te klou nie, maar het Homself “leeg gemaak” deur ’n dienende gestalte aan te neem en aan ons gelyk te word. In die teologie noem ons hierdie proses inkarnasie. In Jesus Christus het God Immanuel (God met ons) kom word. Ons loop in die voetspore van die Een wat Homself nie op ’n afstand van ons gehou het nie, maar intens betrokke kom word het in mense se lewens.
’n Bepaalde hoogte of verwydering van ons alledaagse lewe bring ons, daarom, nie noodwendig by dankbaarheid uit nie. Is ware vreugde nie daarin te vind om af te kom van ons spreekwoordelike berge af, en in die morsigheid van mense se lewens betrokke te raak nie? Mag ons van ons eie hoogtes afklim en besig raak op die grondvlak van mense se alledaagse lewens. Dis dalk waar dankbaarheid te vind is.
Ds Steve Oxton, Wapadrant

14 April 2024 (Derde Sondag van die Opstanding) – Wie staan voor jou deur?
Openbaring 3: 14-21
Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy ’n einde kom maak aan die mag en heerskappy van sonde. Hy het die oorwinning behaal oor die sonde wat die lewens van mense verwoes het en steeds poog om dit te verwoes.
Ons lees in Openbaring 3 van die brief aan die gemeente in Laodisea en hoedat Jesus vir die gemeente sê dat Hy voor die deur staan en aan die deur klop. Hierdie gemeente, wat gedink het dat hulle baie ryk is en alles het wat nodig is, moet in die brief verneem dat Jesus voor hul deur staan en klop. Hy wat die dood oorwin het, staan voor hul deur en Hy klop. Ten spyte van wie hulle is en wat in hul lewe gebeur, staan Christus voor hul deur met ’n doel. Hy wil inkom en saam met hulle ’n feesmaal hou. ’n Feesmaal van genade en liefde, van redding en saligheid wat wag om te begin.
Voor die deur staan Christus en aan die ander kant van die deur staan ons. Hy klop en ons moet oopmaak. Hy wil inkom en ’n feesmaal laat begin, en ons moet oopmaak. Gaan ons oopmaak? Hoe lank gaan ons wag voordat ons oopmaak? Gaan Hy nog daar wees as ons oopmaak?
Wie klop aan jou deur en wat gaan gebeur as jy oopmaak? Indien die sonde klop, moet ons nie oopmaak nie. Ons hoef nie die sonde in ons lewe toe te laat nie. Die sonde is oorwin. Die Opgestane Christus klop en Hy bring die lewe, en dit in oorvloed. Wanneer Christus aan jou deur klop, mag jy nie stilstaan nie, jy mag nie huiwer om oop te maak nie. Maak die deur oop. Wees egter ook versigtig vir die vreemde klop wat ook wil inkom en verwoesting wil saai. Hoor die klop van die Opgestane Here. Hoor die klop van lewe en hoop. Hoor die klop van ’n feesmaal.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas
