Sondag 14 Junie – Ons Trooster
Johannes 14: 15-26
Johannes skrywe dat God uit liefde vir die wêreld handel. Hy stuur sy Seun om die wêreld uit die greep van verlorendheid te red. God het gereeld mense na sy volk gestuur: Moses, die rigters, priesters, konings, profete, apostels. Met die Christus was dit egter anders. Jesus is die unieke (enigste) Seun van God (Joh 1: 14). Daar bestaan ’n unieke verhouding tussen die Seun en die Vader. Die Christus en die Vader is Een. Jesus Christus is nie maar net in die gang van mensegeskiedenis geskep nie, maar bestaan van ewigheid tot ewigheid. Hy is nie net een met God nie; Hy is Self ook God.
Johannes beskrywe die Christus as Woord van God. God stuur Hom om die Vader bekend te maak. Dít is die wil van die Vader wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan (Joh 6: 39). Van nature glo ons nie God se goeie nuus nie. Ons wil eerder ons eie redder wees. Van nature glo ons nie in die goeie God wat Christus as Gawe aan ons skenk nie.
Die Bybel leer ons dat die Heilige Gees die Goddelike Persoon is wat die verlossingswerk van die Christus neem en in die harte en lewens van gelowiges inbring. God die Heilige Gees is die Een wat die verlossingswerk van die Christus deur die loop van al die eeue, weer teenwoordig stel en tot eiendom maak van elke gelowige.
Jesus sê: Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Joh 14: 25-26, AFR33).
Die Gees as Trooster. Wanneer ons in sak en as sit oor die stukkendheid van ons sondige bestaan, troos die Gees ons dat in die Christus daar vergewing van sondes en die gawe van nuwe lewe is.
Die belangrikste gawe van die Heilige Gees is die gawe van geloof in Jesus Christus, ons Here.
Ds André Thomas, Oos-Moot
Maandag 8 Junie – Om altyd reg te wil wees, kom teen ’n prys!
Matteus 5: 1-12 Ons het gister begin lees aan Jesus se bergprediking en gesien dat dit vandag nog relevant is. Vandag kyk ons na nog ’n alledaagse probleem en wat ons daaroor by Jesus kan leer. In vers 6 lees ons dat ons honger en dors moet wees na dit wat reg is. As...
Sondag 7 Junie – Jesus kom sit vandag voor my en Hy wil my ook leer
Matteus 5: 1-12 In hierdie tyd van die kerklike jaar fokus ons op die werk van die Heilige Gees. Daarom gaan ons vir ’n paar dae kyk hoe die Gees my in geloof kan help met alledaagse en gewone probleme. Matteus 5-7 is Jesus se bergrede, dit is sy belangrikste preek....
Saterdag 6 Junie – My prentjie van God: God as deurlopende Openbaring
Johannes 16: 5-15 Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. (Joh 16: 12). Jesus sê vir sy dissipels dat Hy binnekort van hulle af weggaan – en dat dit eintlik tot hulle voordeel is. Want eers dan wanneer die Gees van waarheid kom,...
Vrydag 5 Junie –My prentjie van God: God as eenheid en verbondenheid
Johannes 17: 1-26 …sodat almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U... (Joh 17: 21). In hierdie aangrypende gebed van Jesus – net voor sy arrestasie – vra Hy nie vir mag, oorwinning of selfs beskerming nie. Hy bid vir eenheid. Nie net vir sy dissipels...
Donderdag 4 Junie – My prentjie van God: God as onverwagse gas
Lukas 24: 13-35 Toe gaan hulle oë oop en hulle het Hom herken... (Luk 24: 31). Twee teleurgestelde dissipels stap kop onderstebo op die pad na Emmaus. Alles waarop hulle gehoop het, het verbrokkel – Jesus is dood, die droom is verby. En toe, op daardie gewone stofpad,...
Woensdag 3 Junie – My prentjie van God: God as Lyer
Jesaja 53: 1-5 Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding… (Jes 53: 5). In ons moderne kultuur word lyding dikwels as iets gesien wat vermy moet word – iets wat ons so vinnig as moontlik moet regmaak of wegwens. Ons neem pynstillers, gebruik vermyding of...