7 Oktober 2024 – God het ’n kerk vir jou

Efesiërs 2: 19-22

Die instandhouding en ontwikkeling van handelsmerke het ’n belangrike komponent van die moderne kultuur en ekonomie geword. Vir baie mense is “kerk” een van daardie woorde wat ’n ernstige handelsmerkprobleem het. En ek verstaan dit, maar terselfdertyd is hierdie hele “kerkding” eintlik God se idee.

So, wat doen ons daarmee? Deesdae doen al meer mense die sogenaamde church hopping. Daar word naarstiglik na ’n kerk gesoek wat hul behoeftes bevredig en by hulle “pas”. Alles kom onder die vergrootglas. Die styl van aanbiddingsliedere, die ouderdom en sosio-ekonomiese demografie, die prediker … allerlei dinge kom in die spel terwyl ons die een kerk teen die volgende opweeg.

Maar ek wonder hoe eerlik ons met die sogenaamde “kerksoekery” is. Is ons so ernstig daaroor dat ons ons denke, ons vooroordele, ons gemaksugtigheid, ons kleinserigheid en baie meer in gebed voor God uitworstel? Is gehoorsaamheid aan God en die verheerliking van sy Naam ons diepste begeerte? In plaas daarvan om na ’n ander kerk te begin soek, is jy bereid om God te vra om jou te begelei om die liefde wat jy moet gee, aan die regte mense – die mense wat liefde nodig het – te gee? Is jy bereid om met alles wat jy het by God te pleit om jou te wys waar die kerk iemand nodig het wat oor dié gawes beskik wat jy ontvang het?

 Miskien is jy juis nou besig om daar buite na ’n kerk te soek. Dis onnodig. Weet dít: Jy behoort aan God se familie. Die gelowiges is soos ’n gebou wat God besit. Daardie gebou is gebou op die fondament wat die apostels en profete voorberei het. Christus Jesus self is die belangrikste klip in daardie gebou, en Hy laat die gebou groei en dit word ’n heilige tempel in die Here. In Christus word jy saam met sy ander mense ’n geestelike gebou waar God deur sy Gees woon. God het vir jou ’n kerk. Daar waar Hy reeds met jou besig is.

Gebed

Here, dankie dat U deur u Gees in my woon en dat ek deel van u kerk mag wees.

Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

6 Oktober 2024 – Verwondering en ontsag vir God en sy werke

Prediker 11 en 9: 1-10 (AFR2020)

Ons het hierdie week stilgestaan by verwondering en ontsag vir God, asook by sy werke in die skepping en met ons (sy kerk). Die wysheidsboeke fokus veral op die aard van die wêreld en God wat dit geskep het en beheer. Dit vra vrae oor waar die mens inpas in God se orde en hoe die mens behoort op te tree binne die Goddelike skepping.

Prediker probeer uitvind hoe dinge werk en of daar ’n voorspelbare patroon is. Telkens kom hy tot die besef dat die mens nie in staat is om die orde te onderskei nie. Dit is vir hom duidelik dat die tradisionele leerstelling van beloning en straf vir die goeie en die goddelose klaarblyklik nie werk nie.

Prediker 11 wys daarop dat mense nie in staat is om te voorspel hoe hul lewe gaan uitloop en of hul dade produktief sal wees nie. Alhoewel die mens nie die weer kan beheer nie en van God se werke minder verstaan as hoe lewensgees in ’n ongebore baba geplaas word, moet die mens aanhou werk en vreugde vind in hul arbeid, want dit is ook ’n gawe van God.

Prediker 9 wys daarop dat die dood die groot gelykmaker is. Elke organisme is onderhewig aan die dood. Dit sny deur alle kategorieë van moraliteit, stand en wese. Wat dan aan mense oorgelaat word, is om hul arbeid te geniet terwyl hulle lewe. Prediker gee ’n uitdruklike opdrag om die lewe aan te gryp. Hy noem die eenvoudigste dinge van die lewe – eet, drink, aantrek, liefhê – en sê dat selfs dit ’n gawe van God is. Werk is ook ’n geskenk van God, daarom behoort ons te doen wat binne ons vermoë is.

Wysheid beklemtoon dat God in beheer is, dat sy werke georden is, maar dat die mens te beperk is om dit te weet of te verstaan. In ons begrensdheid is om God te eer, beter as enige menslike vaardighede. Die onmag om ons lewe te beheer, gaan oor in verwondering oor en ontsag vir God – bokant ons begrip en verstand – tóg skenk Hy aan ons die lewe om te geniet.

Gesang 502

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

5 Oktober 2024 – Wysheid is deel van God se misterie

Job 28 (Spreuke 8) (AFR2020)

Die hoofstuk is ’n gedig oor wysheid, net voor die gedeelte waarin Job homself probeer regverdig. Dit is interessant om te sien hoeveel ooreenkomste daar met Spreuke 8 is.

Die gedig begin (1-11) met ’n bewondering vir mense se vermoëns – die vindingrykheid waarmee hulle in staat is om metale uit die aarde te ontgin en water op te dam. Die mens is in staat om die aardkors wat nie aan voëls bekend is of deur diere betree is nie, binne te dring en minerale en gesteentes te vind. Die mens is in staat om lig te gee waar daar donkerte is.

Na die gedeelte oor ontginnings en ontdekkings, word die vraag gevra waar wysheid gevind kan word (12). ’n Sterflike mens ken nie die waarde daarvan nie en dit is nie te vind nie, selfs nie deur ontginnings of wetenskaplike uitvindings nie. Wysheid is nie eens geografies geleë nie, nóg op land, nóg op see, want dit is nie ’n voorwerp nie (13-14). Geen een van die skatte wat deur mense ontgin kan word, kan wysheid omsluit of van genoeg waarde wees om dit mee te koop nie (15-19). Nie eens goud vanaf Ofir nie. Die ligging van Ofir is onbekend. Dit word dikwels in die Bybel genoem as die bron van goud (1 Kon 9: 28; 22: 49; 2 Kron 8: 18; Ps 45: 10) en ook van fyn hout en edelgesteentes (1 Kon 10: 11; 2 Kron 9: 10).

In vers 20 word baie dieselfde vraag gevra as in vers 12. Nou word gevra waar kom wysheid vandaan. Dit is verborge vir alle lewende wesens, en selfs die dood of die onderwêreld het net gehoor daarvan. Net God ken wysheid en die oorsprong daarvan. Hy het selfs daarmee geskep (vgl Spr 8: 22-30). Hy het dit geskep en vir die mens gesê ontsag vir Hom is wysheid. Dit herinner ons aan die gedagte in Spreuke (1: 7; 8: 13; 9: 10). Wysheid is deel van God se misterie en daarom sal die mens dit nooit volledig kan begryp nie. Dit is in wese die erkenning van menslike begrensdheid en afhanklikheid. Wysheid is om gemaklik te lewe binne die misterie van God.

Psalm 104: 13-15

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

4 Oktober 2024 – Wysheid as die knap vrou

Spreuke 31: 10-31 (AFR2020)

’n Duidelike definisie of beskrywing van wat wysheid is, bly ons ontwyk. In Spreuke 1-9 het ons gesien hoe wysheid en haar teenoorgestelde (dwaasheid) as vroue verpersonifiseer is.

In die laaste gedeelte van die boek word hierdie metafoor ’n bietjie anders gebruik. In die ander tekste waar die positiewe vroulike metafoor gebruik is, het die abstrakte konsep van wysheid menslike eienskappe gekry. In hierdie gedeelte word die vrou slegs as vrou genoem, op dieselfde manier as wat Vrou Dwaasheid as die ander of die vreemde vrou genoem word (Spr 2: 16; 5: 3, 20; 6: 24; 7: 5; 9: 13), nogtans met genoeg metafore om die verband te trek.

Spreuke 31: 10-24 beskryf met praktiese voorbeelde die positiewe bydrae wat hierdie vrou in haar man se lewe maak. Die laaste verse (25-31) beskryf ook haar waarde, maar voeg enkele kenmerke by wat deel vorm van haar identiteit: Sy trek haarself met krag en waardigheid aan en hoef nie bekommerd te wees oor die toekoms nie (31: 25); sy leer wysheid met ’n vriendelike tong (31: 26); sy is nie lui nie (31: 27); haar seuns en man staan op om haar te eer (31: 28); sy onderskei haar van die ander (31: 29); sy moet geprys word omdat sy die Here vrees (31: 30); sy moet die vrugte van haar werk ontvang, wat haar erkenning sal gee in die openbare vergaderarea (hekke) (31: 31).

Spreuke 31: 30 is die hoogtepunt van hierdie gedeelte waarin die sleuteldeug van hierdie vrou genoem word – “ontsag vir die Here” – net soos dit die beginpunt van wysheid is (1: 7; 9: 10) sowel as die toppunt (2: 5; 3: 7). Die metafoor omarm dus die boek Spreuke en deel ook die kern van wysheid, naamlik “ontsag vir God”. Wanneer iets bokant ’n mens se begrip is, is ons geneig om in metafore te praat. Omdat wysheid by God begin, sal ons altyd tekortskiet in ons beskrywing daarvan. Hierdie metafoor word as ’n samevattende afsluiting vir die boek gebruik en beklemtoon die waarde wat wysheid (ontsag vir God) in ’n mens se lewe kan hê.

Gesang 506: 2-3

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

3 Oktober 2024 – Wysheid of dwaasheid

Spreuke 9 en 3 (AFR2020)

In ons lewe word ons so baie keer voor keuses gestel. Spreuke is dié boek in die Bybel wat ons bewus maak van keuses – wyse keuses teenoor dwase keuses. In Spreuke 9 word die twee teenpole uitgebeeld met die metafoor van ’n vrou.

Vrou Wysheid (9: 1-6) het ’n huis met sewe pilare gebou, ’n feesmaal voorberei, en sy is invloedryk met diensmeisies wat sy uitstuur om haar gaste te roep. Vrou Dwaasheid word teenoor haar gestel (9: 13-18). Sy is ’n luidrugtige en onbesonne mens wat by haar deur sit en roep na almal wat verbygaan. Die oproep is dieselfde (9: 4 en 9: 16), maar hul boodskap verskil. Wysheid bied verversings aan, maar gee ook instruksies oor hoe om met insig te lewe (9: 6-12). Dwaasheid bied geen fisiese verversings aan nie, maar verwys wel na gesteelde water en brood wat in die geheim geëet word. Persone wat swig voor haar verleiding, ondervind teëspoed (9: 18), teenoor die beter uitweg van wysheid (9: 11-12). Die kern van die hoofstuk vind ons in die middel van wysheid se instruksies (9: 10). Die refrein van Spreuke: Wysheid begin by ontsag vir God.

Ons is nie in staat om uit ons eie vermoëns wyse besluite te neem nie. Spreuke 3: 5-6 maak dit duidelik: Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Vers 7 maak dit nog duideliker – ons moenie wys wees in ons eie oë nie. As ons wys is in ons eie oë, gee ons toe aan die eie-ek, die ego, wat God uitsluit. Nee, ons hoor weer die Spreuke-refrein in die res van die vers: Jy moet ontsag hê vir die Here. Alleen wanneer ons leef vanuit ons verhouding met God, put ons uit sy wysheid wat meer werd is as al die skatte in die wêreld (Spr 3: 13-15).

Wysheid is lewe (3: 16-18), God het selfs daarmee geskep (3: 19-20; Spr 8), en wanneer ons só in afhanklikheid voor God lewe, het ons geen bekommernis nie (3: 21-26). Hy is by ons, ons leef uit sy genade en Hy lei ons om wyse besluit te neem.

Psalm 125

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

 

2 Oktober 2024 – Wysheid is ’n gawe van God

Spreuke 2 (AFR2020)

Dié hoofstuk sluit aan by die eerste hoofstuk deur weer te verwys na die kern van wysheid – ontsag vir God. Dit verwys ook na die teenoorgestelde, naamlik dwaasheid. Dwaasheid word uitgebeeld as verleiding (Spr 1: 8-19 en 2: 12-15) en selfs as ’n verleidelike vrou (2: 16-19). Die twee aspekte word in kontras teenoor mekaar gestel deur die voordele van wysheid teen die nadele van dwaasheid af te speel.

Die belangrikste gedeelte in hierdie hoofstuk is verse 5-6. Daarin word gesê dat wysheid ’n gawe van God is. Dit is nie iets wat die mens kan aanleer of verwerf nie, maar die mens kan dit by God vind, deur voortdurend te soek daarna en jou hart daarop te rig. God gee wysheid; wysheid gee insig in ontsag vir God.

Ons het gister gesien dat ontsag vir God neerkom op eerbied en verwondering wat slegs moontlik is binne ’n verhouding met God. Ontsag is ’n spontane reaksie op God se genade en God se werk in gelowiges se lewens. ’n Verhouding wat gewortel is in erkentlikheid en geanker is in God se genade, is ontsag vir God.

Wanneer ons in so ’n verhouding is, met ons oë gerig op God en diep bewus van ons afhanklikheid, wil ons nie anders nie as om ons weë te rig na God se wil. Dan getuig ons dade en optrede van ’n verhouding met God. Dan leef ons anders as die wêreld, nie sodat ons gered kan word nie, maar omdat ons reeds gered is. Omdat ons leef uit God se genade, daarom getuig ons dade van God se liefde.

God se genade rig ons dade. God se liefde dring ons tot liefde vir ons medemens; so word God se werk in die kerk en in die wêreld sigbaar. Ons word sy ligdraers, ons verteenwoordig God se hande en voete in die wêreld.

Ons wil U wy ons hele lewe, U volg waar U ons ook mag lei –

aan U, o Here, hoog, verhewe, en aan u diens steeds toegewy.

Spreek deur ons woorde, rig ons dade; Voleinder, gee dat deur u krag

die heerlik’ werk van Gods genade in ons volbring word dag na dag!

(Gesang 504: 5)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

1 Oktober 2024 – Ontsag vir God

Spreuke 1: 1-7 (AFR2020)

In die kerklike kalender begin ons vandag om oor God se werk in die kerk te dink. Ons kan nie oor God se werk en sy bemoeienis met die kerk (ons) praat, anders as om by God te begin nie. Spreuke 1: 7 sê dan ook dat kennis begin by “ontsag vir die Here”. Die Hebreeuse term yirat Yahweh word verskillend vertaal. Dit word soms vertaal as “vrees vir die Here”, maar hierdie vrees moenie verstaan word as bangwees nie. Dit sluit alle aspekte in wat neerkom daarop om die Here te dien: ontsag, respek, eerbied, aanbidding, verwondering, nederige afhanklikheid, erkentlikheid. Om ontsag vir God te hê, is die kern van wysheid. Hierdie refrein herhaal deur die Spreukeboek (2: 5; 8: 13; 10: 27; 14: 27; 15: 16, 33; 19: 23; 22: 4; 31: 30). Dit word as die leuse (motto) van die boek beskou.

Om God te ag met die verwondering en ontsag wat Hom toekom, is die kern van wysheid, maar óók die oudste beskrywing van wat godsdiens behels. Die omvang van wysheid is dus godsdienstig. Dit is gesetel in die geloof en begin by God. Ontsag vir God is daardie verwondering oor en bewondering vir God wat ’n mens spontaan tot aanbidding dring. Dit is erkentlikheid – om dankbaar te wees en God se hand in ons lewens raak te sien en te erken. Dit beteken om God eerste te stel en nederig ons afhanklikheid te erken.

God se betrokkenheid by en bemoeienis met elkeen van ons individueel, maar ook met ons binne geloofsgemeenskappe, dring ons spontaan tot aanbidding en erkenning. Wanneer ons God se hand in ons lewens en in ons Kerk raaksien, kan ons nie anders nie as om in nederige afhanklikheid voor Hom te kniel. Die erkentlikheid vloei uit in ons handelinge sodat ons medewerkers word in God se koninkryk.

Laat ons met ontsag Hom noem, in ons lied die Here roem.

 Luisterryk, vol majesteit is sy groot barmhartigheid.

Al sy dade word onthou; Hy’s standvastig in sy trou.

 Hy’s op trou en reg gesteld. Wat Hy voorskryf, sal bly geld.

Aan Hom bly sy volk verbind. Wysheid is by Hom te vind.

 Laat ons met ontsag Hom noem, in ons lied die Here roem.

(Psalm 111: 2 en 4)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

 

Share via