Die afgelope weke het die Covid-19 krisis ons land en ons kerke getref. Pres Cyril Ramaphosa het verskeie noodmaatreëls aangekondig waarby almal in die land moet hou, om sodoende die verspreiding van die virus te bekamp en lewensverlies tot ’n minimum te beperk. In hierdie tyd het ons eie Kerk en verskeie ander kerke se bestuur bymekaar gekom om riglyne vir gemeentes te bied. (Hierdie artikel is geskryf voor die afkondiging van die inperkingsmaatreëls.)
Die Kommissie van die AKV het in ’n herderlike skrywe baie goeie riglyne en aanbevelings gemaak, maar die besluit by kerkrade gelaat oor presies wat elke gemeente in hul eie konteks gaan doen. In die tyd na die skrywe het ek Facebook en ons ring se WhatsApp-groep dopgehou om te sien hoe gemeentes die aanbevelings interpreteer en aanwend in hul eie konteks. Uit verskeie gemeentes en individue se reaksies daarop, het twee tendense uitgestaan: (1) Baie gemeentes het ’n eendimensionele kerkbegrip. (2) Baie gemeentes is banger vir tegnologie as vir die Covid-19-virus.
Oor die eerste punt sal ek myself nie te veel uitspreek nie. Ek sal wel noem dat te veel mense nog “kerkwees” koppel aan aktiwiteite wat by die kerkgebou plaasvind. Dit alles terwyl die Kommissie van die AKV oor die afgelope paar jaar juis daadwerklike pogings aanwend om predikante en kerkrade se koppe oop te maak vir nuwe maniere van “kerkwees” wat nie noodwendig gekoppel is aan ’n fisiese gebou of die aktiwiteite daar nie. Ds Hannes Janse van Rensburg was veral aktief op die gebied en is meer bekwaam om hieroor uit te brei.
Die eerste punt loop dan oor in die tweede. Tegnologie bied tans van die beste opsies om in hierdie moeilike tyd steeds medegelowiges met mekaar te verbind en by te staan en steeds verantwoordelik op te tree. Talle gemeentelede en kerkrade skiet egter hierdie voorstel af nog voor die sin voltooi is. Ons is so bang dat die Kerk tot stilstand gaan kom as daar nie meer fisiese eredienste, Bybelstudie, jeugaksies, ensovoorts, plaasvind nie, dat ons bereid is om onsself, ons families en medegelowiges in gevaar te stel. Talle gemeentelede sal egter na ’n afwesige Sondag of vakansie “spog” oor hoe hulle ten minste kon “kerk luister” met RSG se eredienste wat uitgesaai is of die talle eredienste wat Sondae op televisie verskyn. Ons kan egter nie tegnologie buite die kerk ten volle omhels en so ook ander gemeentes wat dit gebruik wanneer dit ons pas, maar nie dieselfde aanvaarding daarvoor toon in ons eie gemeentes nie. Veral nou wanneer omstandighede ons dwing om anders te dink.
Die kerk soos ons dit vandag ken, is nie die enigste manier van “kerkwees” nie. Oor die eeue na Christus se kruisiging en opstanding moes gelowiges telkemale aanpas by uitdagende omstandighede, en nou moet ons nuut dink oor hoe ons ons opdrag om kerk te wees, in hierdie wêreld gaan uitleef. Soos Martin Luther die tegnologie van die drukpers gebruik het en probeer het om die Woord van God in die mense se taal en in elkeen se hande te plaas, so kan ons nou deur middel van die internet probeer om ’n erediens in elke persoon se hande te sit, met die hulp van selfone, YouTube, op ons Kerk se webblad, ensovoorts.