Filippense 4: 4
Paulus skryf: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Hoekom het Paulus hom herhaal? Omdat vreugde die brandstof is waarop ons funksioneer en as ons dit nie dophou nie, kan ons tot stilstand kom. Dit beteken dat jy gereeld jou brandstofmeter moet nagaan om seker te maak dat jy nie in negatiwiteit en vertwyfeling verval nie. Hierdie gedeelte wat Paulus skryf, is juis so kragtig omdat hy dit vanuit ’n tronksel doen. Jou bron van vreugde word nie gevind in veranderlikes soos jou omstandighede nie.
In die Bybel verteenwoordig wyn vreugde. Christus se eerste wonderwerk was inderwaarheid om water in wyn te verander – die beste wat hulle nog geproe het. Jesus is ’n verskaffer van vreugde en wanneer jy naby aan Hom leef en in ’n intieme verhouding met Hom bly, sal jy sy vreugde – ongeag jou omstandighede – ervaar.
Hy het in Johannes 15: 11 gesê: Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dink vir ’n oomblik hieroor: Hoe kan jy glo jou sondes is vergewe, dat God jou lei en beskerm en dat jy hemel toe gaan, terwyl dit lyk asof jy met ’n emmer asyn gedoop is? Paulus het soveel vreugde in die tronk uitgestraal dat sy tronkbewaarders vir Christus gewen is, en daar ’n kerk in die keiser se paleis ontstaan het (sien Fil 4: 22). Mense word altyd meer deur jou houding as deur jou teologie beïnvloed. Wanneer hulle sien hoe vreugdevol jy in moeilike tye is, sal hulle heel waarskynlik begin wonder wat jou geheim is en dink: Ek het dit wat daardie persoon het, nodig! Hulle word dan meer ontvanklik vir die waarheid.
Die vreugde wat hierdie wêreld bied, is net ’n reaksie op omstandighede, terwyl die vreugde wat uit ’n lewe met Jesus spruit, jou bo omstandighede uitlig. Leef opnuut magneties en maak seker dat jou vreugde ander op ’n aansteeklike wyse nader aan God trek.
Ds Janine Fourie, Wonderboom-Suid / Pretoria
