1 Tessalonisense 5: 17

Gebed is baie soos asemhaal. Paulus sê: Bid sonder ophou; bid gedurig.

Beteken dit dat ons die heeltyd moet rondloop met ons koppe gebuig en oë toe? Beslis nie! Net soos ons die meeste van die tyd nie eens bewus is van die feit dat ons asemhaal nie, net so wil God hê moet ons bewus wees van sy teenwoordigheid by ons. Dan is dit vir ons natuurlik om regdeur die dag met Hom te kommunikeer.

Het jy al van alveoli gehoor? Alveoli is klein sakkies op die oppervlak van jou longe wat die suurstof wat jy inasem, absorbeer. Jy het 600 miljoen van hierdie klein sakkies wat suurstof vang op pad na jou bloedsomloop.  Maar daar is ’n uitdaging. Alveoli kan net suurstof inbring tot die mate wat hulle loslaat. Dit is ’n uitdaging omdat ons lewenstyle (besige skedules, baie stres, min oefening) beteken dat ons nie diep uitasem nie. Dus sit gister se koolsuurgas (CO2) dikwels in die onderste helfte van ons longe vas. Dit is giftig. Verstaan jy die metafoor? Ons moet leer om uit te asem – elke dag.

Ja, daar sal beslis tye wees wanneer ons bewustelik moet stop en ons geestelike asem moet vang, maar gebed is beslis ook iets wat ons kan doen terwyl ons met ons daaglikse dinge besig is. Ons kan met God vanaf ons ontwaking praat, totdat ons ons koppe op die kussing neerlê, en Hom vra om ons te beskerm en ons te bewaar terwyl ons slaap. Gebed is nie beperk deur ruimte of tyd nie.

Wanneer ons asemhaal, neem ons suurstof in en blaas koolstofdioksied uit. Deur asem te haal, maak ons eintlik ons liggame skoon! Net soos asemhaal ons fisiese liggame kan reinig, kan gebed dit ook vir ons geestelike lewens doen. Wees vandag baie bewus van jou asemhaling en laat dit jou gedurig daaraan herinner dat die Here baie naby aan jou is.

Gebed

Here, dankie vir die wonderlike belofte wat U gemaak het, dat U gekom het om vir ons die lewe te gee. En dít in oorvloed. Amen.

Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Share via
Copy link
Powered by Social Snap