Eksodus 33: 12-23 (AFR2020); Johannes 2: 1-12
In die Epifanietyd val die klem op die verskyning en aardse optrede van die Seun van God. In hierdie tyd word dit algaande duideliker dat die Jesus van die krip ook die Jesus van die kruis en die leë graf is.
Die wynwonder word nie in opspraakwekkende taal beskryf nie. Al wat voor die oë van Jesus se moeder, waarskynlik sy dissipels en die kelners afspeel, is twee bevele: Maak die kanne vol water; en Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.
Deur hierdie eerste wonder het Jesus sy heerlikheid as Seun van God geopenbaar en op grond daarvan het sy dissipels tot geloof in Hom gekom. Daar lê ook iets dieper in Jesus se optrede as die blote wynwonder. Hy word hier bekend as die een wat tot die redding van die bruidegom en sy familie kom. Die sosiale skande van te min wyn op die bruilof is ’n belediging vir die gaste. Jesus red hulle egter van sosiale skande en isolasie. So word Hy in hierdie dissipelkring bekend as iemand wat tot die redding van sy vriende kom en iemand waarop hulle kan staatmaak.
Wat is u grootste nood voor God? Die evangelie leer ons dat ons grootste nood ons sonde is wat ons van God vervreem. Soos op die bruilof te Kana is Jesus Christus die enigste wat ons uit ons benarde posisie kan red: Hy neem ons sondeskuld op Hom. God het sy heerlikheid kom toon in Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here wat weer kom. Moses pleit in Eksodus 33: 18 (AFR2020) by God: Toon asseblief u heerlikheid aan my. In Johannes 2 staan geskrywe dat Christus sy heerlikheid geopenbaar het en dat sy dissipels in Hom geglo het.
Jesus Christus is die Bruidegom – soos genoem in onder meer Openbaring – en sy kerk is die bruid. Soos ’n bruid op haar bruidegom wag, so is ons oë gerig op die heerlikheid van die Christus en op sy koms. Die bruilof met hierdie Bruidegom bring langdurige, ewige, onberekenbare vreugde tot in ewigheid!
Ds André Thomas, Oos-Moot
