Markus 14: 32-42
Met die destydse bosoorlog het ons dikwels dae aaneen in Ovamboland patrollie gestap. Laatmiddag het ons ’n tydelike basis ingerig, onsself vir die nag ingegrawe en seker gemaak die wagbeurte vir die nag is gereël. Elkeen moes ’n wagbeurt van minstens ’n uur hê. Daarna moes jy die volgende persoon wakker maak, en dit was elke nag se ritme. Menigmaal het ons soggens sonder ’n wagbeurt wakker geskrik. Iewers het iemand ingesluimer…
Seker daarom dat ek nog altyd met die driemanskap Petrus, Johannes en Jakobus simpatie gehad het. Daar is niks soos oë wat swaar van die vaak word nie. Dit was ook dieselfde driemanskap wat Jesus saamgeneem het na die berg van verheerliking. In Lukas 9: 28-36 word hierdie gebeure verhaal. Jesus was besig om te bid toe Moses en Elia aan Hom verskyn. Wat het die driemanskap gedoen? Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan (Luk 9: 32, AFR2020). Bid en wakkerbly was duidelik nie die dissipels se sterkpunte nie – selfs helder oordag was dit ’n worstelstryd.
Daardie nag in Getsemane was nog moeiliker. Die driemanskap het Jesus duidelik hoor en sien sê: My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak (Mark 14: 34, AFR2020). Die besige dae sedert die intog het sy tol geëis. Dalk het die Paasmaal van vroeër die aand die oë gouer swaar gemaak en laat toetrek. Jesus ervaar ’n intense worsteling waarvan sy smeekgebede getuig en wanneer Hy die dissipels opsoek, vind Hy hulle aan die slaap. Interessant dat Jesus toe vir Petrus as Simon aanspreek: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? (Mark 14: 37, AFR2020) Hierdie konfrontasie vind drie keer plaas, totdat die uur van Jesus se oorlewering plaasvind.
Sou ek en jy saam met die dissipels in Getsemane kon wakker bly? Ek wonder! Jesus toon gelukkig begrip: Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Mark 14: 38, AFR2020).
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege
