Efesiërs 3: 14-21; Matteus 6: 5-13
Kom ons bid…
Hoe behoort ek te bid? Jy sal verbaas wees waarop jy gaan afkom as jy ’n soektog op die internet gaan doen. Moenie hierdie doen nie, maar doen daardie. Nie sit nie, nie staan nie, nie lê nie. Nie met jou oë oop nie. Sit jou hand op die Bybel, slaan jou oë op na die berge. Daar is letterlik duisende opinies oor wat nou eintlik die regte manier van bid behoort te wees.
Gebed is ’n besondere geleentheid om met God in gesprek te tree. Enige tyd, enige plek. Dit is tog voor die hand liggend dat jy nie agter die stuur van jou motor jou oë gaan sluit om met God te praat terwyl daar oral verkeer op die pad is en jy moet konsentreer om jouself en ander veilig te hou nie. Maar dit beteken nie dat dit nie ’n geleentheid is om met God in gesprek te tree nie. Bid vir jouself, jou medepadgebruikers, die gesin in die voertuig langs jou en die bedelaar op die straathoek.
Ons praat met God kom vanuit verskeie plekke en behoeftes in ons lewe. Soms wil ons net dankbaarheid deel, ander kere het ons ’n saak wat vir ons baie swaar op die hart lê en soek ons na leiding en uitkoms daaroor. Gebed is egter soveel meer as die woorde wat sê: Nood leer bid. Jou tyd saam met God en jou gesprek met Hom, moet nie net plaasvind wanneer die storms woed nie, dit moet juis opklink in jou lewe wanneer jou dankbaarheid ook gehoor en gedeel moet word.
Die krag van gebed lê nie in mooi woorde of perfekte sinne nie. Dit gaan nie oor die wie of die waar nie, maar dit lê in die hand van Hom wat hierdie gebed aanhoor en daartoe in staat is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.
Leer ons bid, Heer, sonder al die vrae –
Vader, wat U wil, is goed.
Help ons net om hierdie dag te dra
met ’n vredevol’ gemoed.
(VONKK 167: 3)
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal
