Johannes 5: 1-18
In dié gedeelte lees ons van die genesing van die siek man by die bad van Betesda. Betesda beteken huis van genade of barmhartigheid, maar, soos wat Johannes dit skets, was hierdie bad eintlik meer ’n bad van genadelose ellende. Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes (Joh 5: 2). Tussen al daardie mense sien Jesus ’n man wat al 38 jaar siek was, en Hy genees hom. Dit alles gebeur op ’n sabbatdag. Ná die genesing maak Jesus Hom uit die voete, net om later met dieselfde man in die tempel ’n gesprek te voer.
Wat wil Johannes hê moet ons sien? Hy wys vir ons iets van Jesus se alwetendheid, sy deernis, sy medelye, sy mag, sy soewereiniteit, sy krag en sy heerlikheid – dat Hy die Seun van God is. Ja, Jesus is Skepper en Heerser van die ganse heelal en as sodanig heel en genees Hy. Die feit dat Jesus die man in die tempel opsoek en vir hom sê Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie (Joh 5: 14), bevestig dat dit vir Jesus om baie meer as bloot liggaamlike genesing gaan. Jesus sê as’t ware: Ek het jou genees sodat jy heilig en onberispelik kan wees, sodat jy kan ophou om kwaad te doen. Sien jy dit? Hou op sondig. Ek genees op meer as een manier. Ek bied nie net genesing vir fisiese siektes nie, maar Ek spesialiseer in geestelike genesing. Deur My te volg, ontvang jy soveel meer as fisiese genesing. Jy ontvang vergifnis, versoening met God, die gawe van die ewige lewe. Jy ontvang My, Jesus, die Christus. Moenie van My af wegdraai na ’n lewe van sonde nie.
Sien jy dit? Ken jy Jesus só? As dié Een wat jou ken, as dié Een wat medelye en deernis met jou het, as dié Een wat oor jou liggaam en siel heers, as dié Een wat sy reddende en genesende krag oorvloedig en onverdiend oor jou uitgestort het, sodat jy heilig en onberispelik voor Hom sal leef?
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
