Markus 16: 1-8
Jesus het gesterf en is begrawe. Daar is groot eenstemmigheid onder geleerdes, van die grootste vrydenkers tot die mees konserwatiewes, oor die feit dat Jesus se graf die Sondagoggend ná sy kruisiging leeg was. ’n Paar ander verduidelikings of teorieë vir die leë graf, is dat die dissipels na die verkeerde graf gegaan het, of die dissipels het die lyk gesteel, of Jesus was nie werklik dood nie.
Die gegewens in die Evangelies help ons om ’n ingeligte keuse te maak oor wat die beste verduideliking is vir die leë graf. Die Evangelies gee spesifieke inligting oor die plek waar Jesus begrawe is – in die rotsgraf van Josef van Arimatea (Matt 27: 57; Mark 15: 43; Luk 23: 50; Joh 19: 38). Daarom is dit moeilik om te glo dat Jesus se dissipels na die verkeerde graf gegaan het en toe hulle nie sy liggaam kon kry nie, gedink het dat Hy opgestaan het. Verder sou die Joodse owerhede tog die regte graf (met die lyk daarin) uitgewys het as die dissipels na die verkeerde graf gegaan het.
Twee stukkies inligting uit die Evangelies maak dit ongeloofwaardig om te glo dat Jesus se dissipels sy liggaam gaan steel het. Dit was die gebruik om grafte met ’n groot klip toe te maak (Matt 27: 60), want dit het die graf verseël en sou nie maklik verwyder kon word nie, aangesien dit baie swaar was. Verder is daar besluit om ’n wag voor Jesus se graf te plaas om te verseker dat niks met die lyk gebeur nie (Matt 27: 66). Hierdie wag sou sy werk goed doen. Hy sou dit met sy lewe oppas, want sou daar iets met die liggaam gebeur, soos dat dit gesteel word, sou hierdie wag met sy lewe daarvoor betaal.
Ten spyte van al die voorsorg wat getref is, is die graf op die Sondagoggend leeg. Dis eenvoudig moeilik om te verduidelik hoe ’n liggaam uit ’n graf wat goed toegemaak en selfs goed bewaak was, sommer net kon verdwyn. Daarom dat die Joodse Raad gerugte versprei het dat Jesus se liggaam gesteel is (Matt 28: 13).
Ds Juanita du Preez, Pierneef
