Jeremia 2: 11-19

Dalk weet jy hoe dit voel wanneer jy baie moeite en tyd in ’n verhouding met iemand belê, maar dan op die ou einde vergeet hulle van jou of erken nie eens dat jy soveel vir hulle gedoen het nie. Dit is wat in Jeremia 2 gebeur. Die Here vra of Israel van Hom vergeet het. Hy het hulle uit slawerny in Egipte gered en teen talle ander aanslae op die pad na en in die beloofde land beskerm. En steeds vergeet Israel van hul God. Soos in die geval van ’n spaarwiel, onthou hulle eers van die Here wanneer hulle diep in die moeilikheid is. 

Ons maak ook baie kere so. Ons vergeet heeltemal van die Here wanneer dit goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, dán onthou ons ewe skielik van Hom. Ons vra meer gereeld vir sy bystand as wat ons dankie sê daarvoor.

Israel het só van die Here vergeet dat hul eerste instink was om vir hul vyande, die Egiptenare – wat hulle dekades vantevore as slawe aangehou het – om hulp te vra. Hulle het God se Lewende Water verwerp en eerder die gebarste opgaarputte van onderdrukkers gekies. Daardie tipe hulp kom altyd teen ’n prys: Wees onderdanig en aanbid hul afgode. Dit was die koste waartoe die Israeliete heel tevrede ingestem het. Hierdie plan het vir hulle sleg uitgedraai en die Babiloniërs het hulle in ballingskap gevange geneem. Toe eers besef hulle dat hulle al die tyd vir God nodig gehad het.

God is die Lewende Water wat nooit sy kinders vergeet nie. Dit is hoekom Jesus Christus gekom het om die mensdom van die groot vergeet te red. Dit is waarvan sy liefde getuig. Wat so verbasend is van hierdie groot liefde, is dat dit nie verwag dat ons moet terugbetaal nie. Ons kan in elk geval nie. Jesus Christus is die Lewende Water waarsonder ons nie kan lewe nie. Onthou om Hom altyd te onthou.

Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Share via
Copy link
Powered by Social Snap