1 Petrus 1: 17-25
Ons het pas gelees hoe duur ons losgekoop is vanuit ’n sinnelose bestaan en dat ons daarom vreemdelinge in die wêreld is. Ons het die opdrag ontvang dat ons met eerbied voor God moet lewe omdat ons Hom nou as Vader aanroep. Ons is in verwondering oor hoe Hy reeds voor die skepping van die wêreld al beplan het om ons deur sy Seun, die volmaakte Paaslam, te red. Deurdat ons hierdie dinge hoor, daaroor praat en dit oordink, word ons opnuut gereinig. Die waarheid reinig ons, want die waarheid is die Persoon van Jesus Christus, en dit is juis deur Hom en tot Hom dat ons skoongewas word soos die wit wol wat agterbly van ’n nuutgeskeerde lam. Het u al ooit, wanneer u hierdie waarheid hoor, ’n warm gevoel in u hart gekry? Wanneer die geloofsbelydenis in die kerk voorgehou word, iemand oor die Here praat of wanneer u die Bybel lees? Dit is ons gees wat gevoed word met die brood van die ewige lewe.
Ons hoor ook dat ons mekaar nou werklik kan liefhê, want ons weet nou eers wat liefde is. Liefde is juis geopenbaar in die Messias se volmaakte liefdesdaad om sy lewe vir ons af te lê terwyl ons dit geensins verdien nie. Wanneer ons Hom ken en liefhet, kan ons nie anders nie as om liefde uit te leef teenoor ander. Ons ontvang ook die opdrag dat ons mekaar van harte en vurig moet liefhê. Dit beteken ons liefde vir al ons medegelowiges moet passievol wees.
Verder word bevestig dat ons wedergebore is en bestem is vir die ewigheid. Dit is juis deur die Lewende Woord van God, Jesus Christus, dat ons herskep word. God gee aan ons die geskrewe woord wat die Lewende Woord aan ons openbaar. Die een maak die ander bekend. Ons moet daarom geen geleentheid laat verbygaan nie om hierdie evangelie in te neem en hierdie blye boodskap in te drink.
Gesang 308 – Neem my lewe, laat dit, Heer…
Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad
