Psalm 139

Die wete dat God teenwoordig is in ons daaglikse werk, ons loopbane, gesinslewe en verhoudings, is ’n bron van krag en vertroosting. Op ’n dag moes ek aan jong kinders die inhoud van Psalm 139 verduidelik, en ek het die boekie The Runaway Bunny deur Margaret Wise Brown gebruik om dit te doen.

Die storie gaan min of meer soos volg: Eenkeer was daar ’n hasie wat wou weghardloop van sy ma. Hy sê toe vir sy ma: “Ek beplan om weg te hardloop.” “Wel, as jy dit sou doen,” het sy ma geantwoord, “sal ek agter jou aan hardloop, want jy is my klein hasie.” “As jy agter my aanhardloop,” sê die hasie, “sal ek ’n vis in ’n stroom word en ek sal van jou af weg swem.” “As jy ’n vis in ’n stroom word,” sê sy ma, “sal ek ’n visserman word en ek sal jou vang.” “As jy ’n visserman word,” sê die hasie, “sal ek myself verander in ’n rots op ’n hoë berg.” “As jy ’n rots op ’n hoë berg word,” sê sy ma, “sal ek ’n bergklimmer word, en ek sal klim tot waar jy is en ek sal jou vind.”

Die storie gaan in dieselfde trant voort met die hasie wat op verskeie maniere wil weghardloop en sy ma wat elke keer sê sy sal alles doen wat nodig is om hom te vind. Aan die einde oortuig sy ma hom dan dat waarheen hy ook al wil weghardloop, sy daar gaan wees, want, het sy gesê: “Jy hoort by my, en ek by jou. Jy kan gewoon nie my aan teenwoordigheid ontsnap nie. “

Psalm 139 verseker ons ook dat daar geen ruimte is waar God ons nie sal vind nie. In die woorde van ’n ou kerklike seënbede: Die Here is binne in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees. Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou. Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid. Amen.

Ds Mariët Robbertze, Kempten