Johannes 20: 11-18
Soms ervaar ons geen vreugde nie. Daar kan verskeie redes daarvoor wees. Dalk het ons groot teleurstellings ervaar, of ander dinge het gebeur. Soms is ons so vasgevang in ons hartseer, soos Maria, dat ons niks anders raaksien as ons hartseer nie.
Maria Magdalena het vroeg die Sondagoggend saam met die ander vroue na Jesus se graf gegaan om die laaste liefdesdiens aan Hom te bewys. Die graf was leeg. Nadat die ander vertrek het, het Maria by die graf gebly staan en gehuil. Sy huil omdat sy nie weet waar Jesus is nie.
Jesus vra dan vir haar: ‘Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?’ Sy het gedink dit is die tuinier, en sê toe vir Hom: ‘Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.’ Jesus sê vir haar: ‘Maria!’ (Joh 20: 15 en 16a, AFR2020).
Meteens het sy besef dat dit Jesus is en Hom aangespreek as haar Leermeester. Haar hartseer het verander in vreugde en sy het Jesus vasgehou. Hy sê egter vir haar dat sy Hom nie langer moet vashou nie. Hy gaan na sy Vader, wat ook hul Vader is, sy God wat ook hul God is.
Jesus stuur dan vir Maria met ’n opdrag om te gaan vertel dat Hy leef en wat Hy vir haar gesê het. Hulle sal voortaan weet waar Jesus is. Maria het haar opdrag uitgevoer en vertel dat sy die Here gesien het.
Maria se hartseer het in vreugde verander. Noudat sy weet dat die Here Jesus leef, dat sy ’n opdrag het en weet wat om te doen, het dit haar begrip gegee. Sy het ’n opdrag en ’n roeping, daarom kon sy uit haar hartseer opstaan. Ook vir ons het die opstanding van Jesus groot betekenis, naamlik om te weet dat Hy leef!
Mag ons met vreugde lewe en ook ons opdrag uitvoer daar waar die Here ons geplaas het en waarheen die Here ons ook al stuur.
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus
