Matteus 9: 27-31 (AFR2020)
Tydens Epifanie kyk ons na die lewe van Jesus en die impak daarvan. Hier in Matteus 9 is ons in die hart van Jesus se bediening onder die mense. Ons lees van preke, gesprekke, genesing en wonderwerke wat alles dui op Jesus as die Messias en die Seun van God.
Die twee blindes sit in ’n unieke situasie bymekaar. Hulle moes gehoor het wat rondom hulle aan die gebeur was, en besef het dat dit Jesus is wat in hul midde is. In daardie oomblik het hulle ’n keuse gehad vir wat hulle moes doen: Gaan hulle volg en roep, of gaan hulle die geleentheid laat verbygaan? Hulle het gekies om die Here nederig te nader en die geleentheid aan te gryp.
Jesus se eerste vraag aan hulle klink baie aardig: Glo julle dat Ek dit kan doen? Op hierdie manier dwing Hy die twee om ’n besluit te neem tussen geloof en twyfel in die Seun van God. Met genade en krag van God het Jesus hulle aangeraak, maar weereens word die klem op geloof geplaas met die woorde: Laat met julle gebeur soos julle glo. Soms is ’n mens nogal skrikkerig oor daardie woorde in jou eie lewe. Wat sou met jou gebeur as die Here dié woorde oor jou uitspreek? Wat glo ek en jy oor die bekwaamheid van Christus in ons lewe? Glo ons werklik dat Christus in staat is om dit waarop ons hoop, in ons lewe te laat gebeur?
Ons ken die uitdrukking goed dat niemand so blind is soos die een wat nie wil sien nie. Mag ons daarom soos die blindes die geleenthede wat die Here ons bied, raaksien en aangryp. Maar mag ons ook geloofsvertroue hê in die vermoë van God om God te wees in ons lewe.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
