Romeine 6
God het ons nie net vrygespreek nie, maar ook ons status verander: van sondaar na kind van God. Ongelukkig is daar steeds mense wat meen dat ons, as kinders van God, nou kan doen wat ons wil, want ons sonde is reeds vergewe.
Paulus doen in Romeine 6 ’n beroep op ons – die kerk – om op te hou leef volgens ons werklikheid (sondige natuur), maar eerder te leef volgens ons status as God se kinders. Waarom is dit vir ons so moeilik om af te sien van ons sondige natuur? Paulus vra dat ons anders oor onsself sal nadink. Ons gedagtes bepaal immers ons lewe, ons aksies, dit wat ons hande, voete en monde doen.
Ons moet daarom nie meer aan onsself dink as sondaars nie, maar as mense vir wie Christus gesterf het. Dit is in hierdie oomblik dat ons gedagtes so verander dat ons nie meer met ons een voet in die wêreld staan en met die ander in die koninkryk van God probeer staan nie. Ons moet dood wees vir die sonde en leef vir Christus.
Kan ons met groot eerlikheid as individue, maar ook as kerk, sê dat ons werklik dood is vir die sonde? Leef ons werklik vir God? Is dit sigbaar in ons hande en voete en hoorbaar in die woorde wat ons sê? In Efesiërs 4: 23-24 staan daar: Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
Mag die wêreld, wanneer hulle na die kerk kyk, God raaksien en nie verdeeldheid, twis en eiebelang nie.
Gebed
Here, dankie dat U ons sonde vergewe het en ons u kinders genoem mag word. Verander ons harte en gedagtes sodat ons u hande en voete kan wees en sodat mense u liefde kan ervaar. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes