Lukas 15: 11-32

Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!” (Luk 15: 17-18).

Uit die karakters in die gelykenis van die verlore seun, kan ons met albei broers identifiseer. Soos die jongste seun, volg ons baie keer ons eie wil eerder as God se wil. Ons dink die pad wat ons wil loop, is beter as God se pad. Hardkoppig in ons sonde, moet ons keer op keer eers by ’n punt van totale verlorenheid kom voor ons besef dat ons God nodig het. Ja, dit is eers by daardie punt van inkeer, die punt waar ons vergaan van die honger en besef dat niks van hierdie wêreld dié honger kan stil nie, dat daar ’n omkeer, ’n terugkeer na God kan wees.

Maar ongelukkig kom nie alle gelowiges by daardie punt nie. Nee, soos die oudste broer, hou ons ons beter as skuldbelydenis en sonde-erkenning. Soos die oudste seun, word ons kwaad wanneer dinge nie volgens mý wil gebeur nie. Dieselfde uitkoms wat vir die jongste seun gegeld het, geld ook vir die oudste seun. Wat die twee broers gemeen het, is dat hulle albei vanuit selfsug optree; vanuit ongehoorsaamheid; en vanuit hul eie wil. Net soos ons ook maar in ons geloof, in ons verhoudings met mense en in die kerk dikwels optree uit selfsug, ongehoorsaamheid en eie wil.

Gelukkig vir ons hardloop God se Vader-liefde ons in Jesus Christus tegemoet, sy Vader-arms in genade uitgestrek na elke verlore kind. Mag ons ons sondige-self verloor in die diepte van Christus se lyding. Mag ons ons verloste-self vind in die diepte van God se liefde en genade. Mag ons in hierdie Lydenstyd opnuut die inkeer, omkeer en terugkeer na God beleef.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap