Die afgelope klompie jaar was daar ’n beduidende afname in die getal voornemende studente wat vir teologiese studies inskryf. Die redes vir hierdie tendens hou baie van ons uit die slaap.

Op die keper beskou, sou jongmense kon redeneer dat daar nie juis beroepsekerheid in die bediening bestaan nie, veral as ’n mens bereken hoeveel voltydse werkruimtes na deeltydse werkruimtes afgeskaal is. Dit mag ook wees dat die algemene diskoers in die Kerk ’n negatiwiteit kenmerk wanneer dit by die werk van ’n predikant kom. Tog gesels ek jaarliks met eerstejaarstudente oor hul roeping en staan telkens verstom dat hulle, ten spyte van finansiële onsekerheid, steeds tot die bediening geroepe voel.

In Blitspos van 8 Oktober 2020 skryf dr Rudy Denton, voorsitter van die Kuratorium, dat daar gedurende die volgende vyf jaar ongeveer 42 predikante gaan emeriteer. Daar is tans 17 studente wat in die volgende jare beroepbaar gestel kan word, wat die Kerk teen 2025 met ’n beduidende tekort aan predikante laat.

Wat 2021 betref, is daar tans een kandidaat wat van voorneme is om te kom studeer. Daar is twee ouer kandidate wat elk in ’n beroep staan, maar tog aanlyn sou wou studeer. Daar is tans nie so ’n opsie nie, tensy hulle die roete van die diploma soos hieronder beskryf, wil volg. Mag dit wees dat meer die roepstem sal hoor en vir studie kom aanmeld. Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes (Luk 10: 2). Kom ons doen voorbidding en bid dat God arbeiders sal voorsien.

Ons is waarskynlik weer op pad na die situasie vroeg in die 1900’s toe talle gemeentes danksy die goeie werk van ouderlinge in stand gehou is en getallegewys selfs floreer het. Die Diploma in Bediening wat SkillsPro in vennootskap met die NHKA aanbied en waarin die NHKA ’n 60%-aandeel het, kom soos manna uit die hemel om lidmate en ampsdraers toe te rus vir hul bediening in gemeentes. In gemeentes sonder predikante kan hierdie met-’n-diploma-toegeruste-leiers ’n waardevolle rol vervul deur toe te sien dat basiese bediening steeds kan geskied.

Ek voorsien dat in die toekoms die professioneel gekwalifiseerde predikante (ses jaar en meer opleiding) ’n aantal gemeentes onder hulle sal hê en veral sal fokus op toerusting, spesialistake en die bediening van die sakramente. Die gewone bediening sal merendeels op die skouers van gemeenteleiers rus – veral diegene wat in ’n redelike mate teologiese toerusting ontvang het of diegene met sonderlinge (buitengewone) gawes. Hierdie leiers kan ’n soort ordening as gemeentebedienaars ondergaan wat hulle in staat stel om die weeklikse bediening in stand te hou en sporadies (afhangende van die aantal gemeentes toevertrou) besoek van die professionele predikant ontvang wat byvoorbeeld sakramente kom bedien. Die diploma kan verseker dat klein gemeentes veerkragtig, selfs in die mees afgeleë gebiede, en selfstandig bly voortbestaan.

Die diploma is by al die tersaaklike owerheidsinstansies as NQF Vlak 6 geakkrediteer en beslaan 379 krediete. Dit word deeltyds oor ’n periode van vyf jaar aangebied, die lesings is aanlyn, en sporadiese kontaksessies word in die kurrikulum ingebou. Die volgende modules word aangebied: Ou en Nuwe Testamentiese Teologie; Sistematiese Teologie; Praktiese Bediening; Leierskap in Bediening; Internskap (Praktiese Werk & Geïntegreerde Onderrig); Navorsingsmetodiek; Rekenaarvaardigheid; Fasilitering; Jeugwerk; Kommunikasie in Bediening; en Pastorale Begeleiding.

Wie sal baat by die Diploma in Bediening? Onafhanklike kerke wat nie eie teologiese opleiding het nie; lekepredikers binne verskeie kerke; selgroepleiers en ouderlinge, kategete en lidmate in gemeentes; jong volwassenes wat ’n beroep in die bediening wil betree; deeltydse studente wat voltyds in ’n beroep staan; en studente wat nie kwalifiseer om vir ’n Vlak 7-graad in Teologie aan ’n universiteit in te skryf nie. Kontak ds Bouwer Serfontein by 082 339 7854 vir meer inligting.

Studente word gevorm om die volgende bedieninge uit te voer: Onderrig die Bybel in ’n kerklike omgewing; bedien die wyer gemeenskap; verrig ’n leiersrol in die kerklike omgewing; bevorder, ontwikkel en evalueer leierskap binne ’n geloofsgemeenskap; kommunikeer die Christelike geloof binne konteks; bedien tieners en jong volwassenes; bedien kinders; versorg lidmate geestelik; fasiliteer Christelik-pastorale bediening aan individue en gemeenskappe en evalueer die effektiwiteit daarvan; en speel ’n moreel opbouende rol deur menswaardigheids- en Christelike norme binne kontekste toe te pas en besluitneming daarbinne te fasiliteer.

Ingeskrewe student oudl Rudolf Koekemoer (25) van Vanderbijlpark-Oos skryf soos volg oor sy eerste jaar: “Ek het in kontak gekom met ds Bouwer Serfontein om deel te word van hierdie opleiding. Die feit dat dit deeltyds is, maak dit vir my maklik om na werk klas by te woon. Ek het nuwe vriendskappe gemaak met mense na wie ek opkyk, en dit gee my die gevoel dat ek behoort. Die inhoud van die vakke is besonder goed voorberei en dra groot waarde. Vrae wat ek al jare lank opgekrop het, is beantwoord. Om deur die Bybel te werk in ’n meer akademiese omgewing, help om die Bybel in sy diepste vorme te verstaan.

Ek het die samesyn van kontaksessies geniet, maar die koronavirus het veroorsaak dat ons nie meer by ons ‘klaskamer’ kon uitkom nie. Zoom word toe die ‘nuwe normaal’, en is tot nou toe steeds die manier waarop ons kontaksessies het. Dit werk lekker en ek sien elke keer uit na die volgende les!

As jy betrokke wil raak, moenie huiwer nie. Dit is ’n wonderlike leerervaring en dit is iets wat jy altyd saam met jou sal kan dra. Ek sal dit vir altyd koester aangesien dit beslis my lewe verryk! My ‘skat in die saailand’.”

(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die HTK)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap