Johannes 15: 18-27

In Johannes 15 praat Jesus met sy dissipels in sy afskeidstoespraak, waarin Hy die dissipels voorberei op sy sterwe aan die kruis en sy uiteindelike hemelvaart. In hierdie gedeelte van Johannes 15 waarsku Jesus die dissipels dat hulle gereed moet wees om deur die wêreld verwerp en gehaat te word. Die rede waarom Christus se volgelinge verwerp gaan word, is omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, maar aan God.

Ons sien regdeur die geskiedenis van die kerk se bestaan hoe gelowiges dikwels ongewild, gehaat en vervolg is. Dit maak ons baie keer moedeloos. Ons kyk deesdae vas in krimpende lidmaattalle, gemeentes wat sukkel en swak word, en dink daarom dat die kerk aan die kwyn is. Tog sien ons ook regdeur die geskiedenis dat die kerk in die geloof op haar sterkste is wanneer sy in die wêreld op haar swakste is. Dié tye wanneer die kerk haar taak met integriteit uitgevoer het, was die tye waarin sy vervolg is, die tye waarin sy kerk onder die kruis was.

Die aanslae teen die kerk sal voortduur. Maar wat is Jesus se raad in Johannes 15? Hoe moet sy volgelinge antwoord op die vervolging en haat en verwerping van die wêreld? Deur saam met die Heilige Gees te getuig oor Christus. Dit is steeds, en des te meer, die taak van die kerk in vandag se tyd: om te getuig van Christus se reddingswerk. Omdat ons sy Naam bely en Hom verkondig, sal ons vervolg word, gehaat word. Jesus is immers eerste gehaat en vervolg – tot en met sy dood aan die kruis. Daarom moet sy volgelinge, die kerk as liggaam van Christus, nie verwag om anders behandel te word as hul Hoof nie. Al sal die wêreld met haat antwoord op die kerk, mag die kerk nooit ophou getuig teenoor die wêreld nie. Want uiteindelik behoort ons nie aan die wêreld nie, maar aan God.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap