Filippense 4: 2-9

Filippense 4 is waarskynlik een van die bekendste en mooiste tekste in die Bybel wat handel oor blydskap. Dit is tog jammer dat spanning binne die gemeente hierdie vreugde en blydskap steel. Euodia en Sintige is in onvrede met mekaar. Daarom vermaan Paulus die twee vroue dat die bediening skade lei as gevolg van hul onmin met mekaar.

Dalk het ons almal hier teen die einde van die jaar iets nodig om ons weer ’n bietjie krag te gee. Om ook ons lewe en verhoudings weer op dreef te kry. Ons word deur die teks gevra om in alle omstandighede met vreugde en blydskap te leef. Of dit nou goed gaan en of ons swaarkry, ons moet die heeltyd bly wees in die Here. Hoekom moet ons bly wees? Want die Here se tweede koms is naby! Ons kan nie maar leef, dink en doen soos ons dit goed vind nie. Ons moet leef met die wete dat die Here naby is. Dít moet die deurslag gee ten opsigte van elke ding wat ’n Christen is, dink, sê en doen. Daardie wete dat Jesus naby is, moet soos ’n vuur in my daaglikse lewe brand. Jesus se tweede koms gee my moed om voort te gaan, en dit bied troos midde-in ons lyding.

Paulus skryf hierdie woorde terwyl hy in die tronk opgesluit is. Nogtans is Paulus bly in die Here, want die Here is naby. En hierdie teenwoordigheid van die Here behoort ook elkeen se gedrag teenoor mekaar te bepaal. Die vraag is: Bepaal die Here se nabyheid ook ons denke, woorde en dade?

Deur gebed en danksegging kom daar weer krag in ons lewe om met vreugde te leef. Die Here word so weer toegelaat om totale beheer oor jou lewe te verkry, en jy kan Hom met jou lewe vertrou. Gebed help jou om jou denke doelbewus met goeie en opbouende gedagtes te vul. Gedagtes wat geloofwaardig, prysenswaardig en inspirerend is. Wanneer ons hierdie dinge noukeurig navolg, gaan ons vreugde en blydskap deur die teenwoordigheid van God se vrede beleef.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos