Deuteronomium 11: 8-21
Word ons verhouding met die Here op belange of liefde gebou? Kom ons toets onsself. Waarom dien ons die Here? Waarom maak ons opofferings om sy kerk in stand te hou? Dink ons dalk omdat ons gehoorsaam is en die Here dien, moet dit met ons goed gaan? As ons so redeneer, word ons verhouding met die Here op belange gebou. Ek dien die Here sodat ek iets daaruit kan kry. Die Here stel nie in so ’n verhouding belang nie. Die bestes onder ons se gehoorsaamheid en diens is in elk geval onvolmaak terwyl God volmaak is. As ons voorspoed by God verdien moet word, sal dit nooit weer met ons goed gaan nie.
Ons gehoorsaamheid en diens kan nie verdien dat ons hemel toe gaan nie en dit kan ook nie vir ons die Here se seën verdien nie. In Jesus Christus het ons juis geleer dat ons verhouding met God op liefde gebou is. Liefde wat eerste by Hom begin, maar liefde wat ons ook met hart en siel teenoor Hom moet uitlewe. ’n Ware liefdesverhouding kan nie op belange gebou word nie. Dit is waar vir ons verhoudings met mekaar en ook vir ons verhouding met die Here. Ware liefde gee alles. God het sy alles vir ons gegee. Om God lief te hê, is om Hom ook met alles te dien. Moses stel dit so mooi in Deuteronomium 11. Dit is sigbaar in jou handewerk en in jou dinkwerk. Dit is sigbaar wanneer jy by jou huis is en wanneer jy op pad is. Dit is sigbaar wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan. Dit is sigbaar in die lewe van ’n huisgesin en in die lewe van ’n gemeenskap wat die Here dien. Dit is sigbaar soos ’n merk wat niemand kan miskyk nie.
Gebed
Here, ek het U lief met hart en siel en al my krag. Werk deur u Gees in my sodat my hele lewe altyd van hierdie liefde sal getuig. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid
