Matteus 3 en 4: 12-17 (AFR2020)

Met Epifaniefees word daar die belangrike vraag gevra: Wie is hierdie Jesus wat aan ons in Betlehem se stal bekend geword het en wat is sy boodskap aan ons?

Moderne mense is vandag op soek na ’n boodskap van God wat darem ’n bietjie sag op die oor val. Ek soek ’n boodskap van seën op my lewenspad, ’n woord wat my laat goed voel oor myself.

Jesus se eerste preek is verrassend. Hy paai nie mense nie. Sy eerste preek is: Bekeer julle, want die ryk waarvan God die Koning is, het aangebreek! Dit was ook Johannes die Doper se boodskap aan Israel. So daag die kerkmense van daardie tyd by Johannes op – die Fariseërs en die Sadduseërs. Johannes se boodskap was nie met ’n lagie versiersuiker bedek nie. Hy is op die man af en vra: Wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Hy stel dit nog feller: Moenie dink omdat julle afstammelinge van vader Abraham is, dat julle uitverkies is nie. Moenie dink omdat jy aan ’n bepaalde kerkgenootskap of bloedlyn behoort, dat dit jou sal red nie. Bekeer julle, want as God bloot afstammelinge van Abraham soek, is Hy by magte om uit hierdie klippe kinders te wek.

Met Jesus se doop het die hemel bokant Hom oopgegaan. Die Vader se stem uit die hemel bevestig Jesus se identiteit: Die baba Jesus is die Seun van God. Hy is Self God voor wie wyse manne, dissipels en heidene in aanbidding buig. Die hemel wat hier met die doop oopgaan, sal met Jesus se hemelvaart weer oopgaan met die belofte dat ons ook met sy wederkoms vir ewig die hemel sal smaak.

Wie is Jesus Christus? Hy is my enigste troos in lewe en in sterwe. Nie omdat Hy my aardse bestaan verbeter nie, maar omdat Hy as Verlosser in my plek staan voor die hoë God. Sy eerste preek spreek tot vandag toe tot ons, aangesien dit die wil van ons Vader is.

Ds André Thomas, Oos-Moot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap