Matteus 7: 24-29

Wat interessant is van die huis wat op die sand gebou is, is dat die woord wat in die oorsponklike taal gebruik is, vertaal kan word met ’n droë rivierloop. Dit wil sê, die dwase mens gaan bou sy huis op sand in ’n droë rivierloop. Wanneer die storm uiteindelik kom, is daar vir hom geen uitkoms nie. Die rivierwater sou noodwendig sy huis te pletter slaan. Die verstandige man se huis sou bly staan, want sy huis was op rots gebou. Jesus se lering bring ons voor ’n bepaalde keuse van watter een van die fondamente ons in ons lewens wil hê.

Wanneer ons hierdie gedeelte lees, dink ons gewoonlik aan die storms van die lewe. Hierdie is een van die invalshoeke wat ons kan hê en dit kan ons baie help om beter keuses in die lewe te maak. Met hierdie gedeelte en die res van die bergpredikasie wil Jesus kom wys hoe God se wil, sy wet, prakties in mense se lewens moet lyk. Geloof is meer as die nakom van ’n wet. Ons kan nie sê dat ons glo, maar dan nie probeer om die dinge te doen wat God van ons verwag nie. Geloof gaan oor ’n verhouding.

Hoe lyk die fondamente van jou lewe? Hoe stewig was jou lewenshuis toe storms jou getref het? Kon jy staande bly, het jy vertroue en hoop gehad? Daar is dinge wat na ons toe gegooi gaan word en ons huisies gaan laat bewe. Ons het geen beheer daaroor nie. Maar God bly in beheer! Vertrou op Hom.

Die keuses en die invloed wat jy gaan hê, gaan oor hoe stewig jy jou fondament maak. Jou geloofsverhouding met God kan vir jou die fondament gee wat standvastigheid, warmte en sekuriteit bied. Die Heilige Gees is die bouer van jou fondament, maar jy moet verantwoordelikheid neem vir die kwaliteit van die boumateriaal. Jou omgang met God se Woord, die tyd wat jy in gebed saam met Hom verkeer, gaan die kwaliteit van jou fondament beïnvloed. Wees verstandig!

Ds Manda le Roux, Weskus