Markus 14: 12-26

Jesus het in sy Godheid ’n klomp dinge net geweet. Hy het geweet dat hierdie dae in Jerusalem sy dood sou beteken, dat Judas Hom sou verraai en dat Petrus Hom sou verloën. Daar is ook twee ander Jesus-het-geweet-geleenthede wat in die Heilige Week afspeel wat my fassineer, soos die twee dissipels wat Hy voor sy intog stuur om vir Hom ’n donkievul as rydier te gaan haal. Hy het hulle voorberei waarheen om te gaan, dat daar ’n vasgemaakte donkievul gaan wees en wat om aan die eienaars te sê as die donkie sienderoë losgemaak en weggelei word. Jesus het verder geweet dat hierdie jong dier, wat nog nooit ’n mens op sy rug gehad het nie, spreekwoordelik so mak soos ’n lammetjie sou wees.

Die ander Jesus-het-geweet-geleentheid was die verkryging van ’n geskikte vertrek vir die Paasmaaltyd. Op die dissipels se navrae oor waar die Pasga geëet gaan word, stuur Hy twee dissipels die stad in met ’n opdrag om op spesifieke dinge te let. In die stad sou hulle ’n man sien wat ’n waterkruik dra. Dit is betekenisvol, want gewoonlik was dit die jongmeisies wat waterkruike gedra het. Jesus wil geen twyfel by die twee dissipels laat nie. Die kruikdraende man sou beslis raakgesien en gevolg word tot waar hy sou ingaan. Daar sou hulle die eienaar van die huis raakloop wat op sy beurt sou instem dat Die Leermeester en sy dissipels in die groot bokamer die Pasga kon eet. Die twee dissipels kon daar voorbereidings vir die Pasga tref. Dit is nogal ’n groot opgaaf wat binne die bestek van die oorblywende ure van die dag afgehandel moes word. Hulle sou ’n Paaslam moes bekom wat volgens die gebruiklike voorskrifte voorberei moes word. Daar moes brood wees en fasiliteite om voete te was, terwyl die meublement reggeskuif moes word om die dertien stuks te akkommodeer.

Die spreekwoordelike tafel was gedek en teen die aand het hulle vir die ete aangeleun. Jesus het toe al geweet dat sy kerk al hierdie gebeure jaarliks sou herdenk.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap