Openbaring 1: 1-5; 3: 14; 12: 11; 22: 6
Openbaring noem God die Seun die Geloofwaardige Getuie, die Ware Getuie, en elders bloot net Getuie. Dit is uniek aan Openbaring. In hoofstukke 2 en 3 leer ons wat God van die kerk verwag: getuienis. Johannes noem God die Seun die Geloofwaardige en Ware Getuie sodat ons dit wat Hy doen en sê absoluut kan glo en vertrou. Dit beteken dat ons nie net Jesus se getuienis oor wie en hoe God is en oor sy liefde en sy planne vir ons kan glo nie, maar Hom ook kan vertrou in dit wat Hy vir ons sê oor die wêreld, oor die lewe en oor die Bose.
As God die Seun ’n Getroue Getuie genoem word, wys dit vir seker na die prys wat Hy vir sy getroue getuienis betaal. Onbevreesde en konsekwente getuienis roep weerstand en aggressie op. Die Griekse woord wat vir getuie (martys) of getuienis (marturia) gebruik word, het dieselfde stamwoord as die woord martelaar. Vir God die Vader se Seun was dit waar en vir ons sal dit ook waar wees. As ons nou sy volgelinge word, word dieselfde van ons verwag. Ons behoort ook bereid te wees om martelare te wees vir die getuienis wat ons bring.
Richard Bauckham sê dat Johannes klem lê op God die Seun as ’n Getroue Getuie om Jesus nader aan ons te bring. Hierdie beskrywing van Jesus wil egter klem lê op sy menslikheid. Hoe Jesus opgetree en geleef het, het ons geleer hoe en wie God is. Ons getuienis moet mense nie van onsself leer nie, maar wel van God. Ons getuienis is verder nie net woorde nie, maar veral ook dade. Dikwels getuig ons dade in die wêreld baie sterker as ons woorde. Dade van liefde en omgee sal mense na God toe trek. In Openbaring 12: 11 lees ons dat die vrou (dit is die kerk, met ander woorde, ons) die draak oorwin het deur die bloed van die Lam waarvan hulle getuig het.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding