Filippense 1: 20-21
Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos ook nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
Wat sou dit beteken om toegewyd aan God te leef? Godsdienstige toewyding het altyd die manier om ons skuldig te laat voel omdat ons nie by die kerk, gebed en studie van die Bybel uitkom soos wat ons moet nie. In vandag se teksgedeelte kry ons ’n besondere perspektief op hoe ’n toegewyde lewe lyk.
Dit is nie ’n taak of opdrag nie, maar ’n vrymoedigheid wat die Here in ons kom wakker maak om God deur ons hele lewe te verheerlik. Dit begin met die ontdekking of die besef dat God ons met baie spesifieke gawes en vermoëns geseën het. Toewyding is nie iets waartoe ons gedwing word nie, dit is iets wat die Heilige Gees spontaan in ons na vore bring en wat ons aanspoor om deel van die kerk te wil wees en ons in gebed en studie te wil verdiep.
Hoe is die Heilige Gees besig om in hierdie tyd hierdie vrymoedigheid in jou los te maak? Op watter pad wil die Here jou in hierdie nuwe jaar neem?
Gebed
Here, met vandag se sonsopkoms bid ek dat U my sal seën met die wysheid en krag om u wil te ken en te doen sodat ek saans met sononder vreugdevol kan gaan rus in die wete dat ek op die dag wat verby is ten volle geleef het. Inspireer my vandag om met die vrymoedigheid wat u Gees in my bring te leef, en elke oomblik van hierdie dag as ’n gawe uit u hand te sien. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
